Читать книгу Louisa du Toit Omnibus 6 - Louisa du Toit - Страница 10
Оглавление7
Dis ’n ander Rina wat vir Petro skakel; iemand wat nie skroom om hulp te vra nie, en so aangenaam soos jy kan begeer. Vir die eerste keer kan Petro verstaan hoedat haar broer sinnigheid in haar kon gekry het.
“Petro, ek weet Danie Momberg pes my, maar sal hy nie sy motor vir my leen om uit te ry Sentour toe nie?” wil sy weet. “Of as hy my net tot daar kan vat, sal ek wel op ’n manier terugkom. Ek het altyd vriende se motors geleen, maar ek begin nou skaam kry. En ek het nie geld vir ’n taxi nie, jong. Sê vir Danie Momberg ek sal op julle troue sing net wat hy versoek.”
“Dis gevaarlik. Hy kan iets versoek soos: ‘Hier kom die bruid, groot, vet en wyd.’”
Rina lag. “Dit sal net hy wees. Sal jy hom vra, Petro? Ek moet nou gereeld daar kom, jong. Ek moet die perde leer ken. Ek sal tydens die verfilming dikwels in die saal moet wees.”
“Rina, sê my, het jy al vir Marius laat weet? As dit tog darem lyk of jy hom in die saak ken, sal hy ook al in sy skik wees. Dis nie ’n kwessie van toestemming vra nie, jy weet wat ek bedoel. “
“Ek het vir hom daarvan geskryf . Maar jy weet dit duur weke voor die briewe daar kom, en dan kyk die sensors ook eers of dit nie iets is wat die stomme troep kan ontstel nie. Ek spook nog om verlof by die werk te kry, daar is so baie dinge.”
“Ek sal sommer nou vir Danie bel. As hy net in ’n goeie bui is, is ons saak reg.”
Danie is toe nie. Of so nie, is dit ’n soort koppigheid wat hy wil volhou ten opsigte van “daai vroumens”.
“Ek is nie lus nie,” lui sy antwoord.
“Ag, Danie, jy sal sien hoe het hierdie bietjie erkenning haar verander. Sy is so gaaf, ek kan dit nie glo nie, en dis ook nie aangeplak nie. Hoekom vat jy nie boeke saam en gaan sit en swot daar in die vrye natuur op Sentour nie, dan bring jy haar sommer terug.”
“Jy weet, Petrus, jy kan nie eintlik daarop roem dat jy my soos die ewige minnaar laat voel nie. Ek dag jy skakel my net om te sê ek is die lig van jou lewe en die sout in jou sop. En wat moet ek hoor? Ek moet daardie slang van ’n skoonsuster van jou aankarwei na haar brandsiek perde toe. Wie is sy eintlik, Liz Taylor?”
“Asseblief, Danie, ek staan op hete kole, die kinders moet ingaan vir studie. Sal jy nou?”
“Ek wed jy sou graag wou weet,” sê Danie Momberg, en hy sit die gehoorbuis neer. Met grasie. Dit laat hom stukke beter voel. Laat haar nou maar skarrel en haar skoonsus terugskakel en sê: “Nou weet ek glad nie, Rina, jy moet maar uitkyk of hy kom.” Hy is natuurlik van plan om te gaan, maar sonder om sy bene van haas te breek.
Waarom sal hy Petro iets weier? As hulle verhouding gestagneer het tot siellose, verarmde gunsies, dorre uitstappies na sy ma se huis, na ’n vlooifliek, ’n uitrit in sy kewer waartydens Petro besluit oor die graad en intensiteit van hulle vryery? ’n Mens leef na wat jy het. As Petro hom ’n guns vra, sal hy dit vir haar doen, want dis anders as wanneer sy ma hom ’n guns vra. Sy ma vra dit om hom in beweging te bring. Petro vra dit net as sy waarlik nie anders kan nie, of as dit om die heil van ander gaan.
Hy waardeer haar besorgdheid oor daai vroumens. Petro veg altyd vir die veronregte. Sy is ’n mens wat instinktief soek na die oorsaak agter die gedrag. Sy is ’n juweel, en hy verdien haar nie. ’n Vergewende, begrypende mens, beslis nie bang om ’n standpunt te stel nie, maar net wanneer sy heilig oortuig is van die grondigheid daarvan.
So was dit toe sy hom inwaaier oor sy idee om volgende jaar sy M.A. voltyds te doen. Hy het daaroor nagedink en moes besluit dat sy reg is in haar teenstand. As hy haar nog wil hê, deurgaan met die trouery, moet hy vestig. Hy moet ’n pos plaaslik soek, of naby dan. Hulle moet geskikte huisvesting kry, iets wat darem meer sal wees as net ’n beskerming teen die elemente. ’n Plek waar hulle kan leef, bemin, doen wat hulle wil.
Dit staan nou vas by hom, en hy bestudeer die onderwysgaset noukeurig. Daar is ’n soort finale wete by hom, veel meer as ’n aanvoeling, dat hy op die punt kan staan om Petro te verloor. Hulle verhouding moes in die laaste drie maande meer groeipyne deurstaan as in al die vorige jare saam. Miskien omdat trou en huis opsit nie meer ’n ver en veilige droom is nie, maar werklikheid. Dit spreek nie slegs meer van kant en tulle, liefdesnagte en maanskyn nie, maar bra hard ook van vuil skottelgoed, knypende finansies, afgeloopte skoene.
Sy skimpe op Paulter gaan nie soseer om die mens nie, as om die simbool. Wanneer hy homself onder die soeklig neem, vind hy niks vleiends nie: ’n slapjan wat nie veel van mense hou nie, wat net werk wanneer hy daarvoor lus is, wat sy meisie nie altyd fyn behandel nie en nog minder sy ma. Om die waarheid te sê, hy loop gevaar om ’n kruis vir enige vroumens te word.
Hy bewonder Petro omdat sy weet wat sy waag, en nogtans vir Danie Momberg bly aanhang. Sy sou beter af wees met ’n soort man soos Paulter, ernstig en vasberade. Hy onthou die man soos hy hom enkele kere gesien het: die blik wat nie ontwyk nie omdat dit niks het om te verbloem nie, wat eerder by magte is om swakhede in ander oop te vlek sonder om te verdoem.
Hy het ontsag vir die man se brein, vir sy greep op mense, vir sy bereidwilligheid om verantwoordelikheid te neem. Die skool is hoog aangeskrewe sonder dat dit ’n slawekamp is. Dit spreek nie vanself nie. Hy wat Danie is, wil om der dood nie oor ’n spul ander pedante aangestel wees nie. En om ’n spul moedswillige kinders te láát werk, vervul hom met verdere afgryse. Nee, as hy hoed gedra het, sou hy dit vir Paulter afgehaal het.
Dus dink hy meermale met ’n gevoel van swaar verlies hy kan Petro se bewondering vir Paulter begryp. Dis nie dat hy bang is hy sal haar letterlik aan die man verloor nie. Dis immers ver buite die kwessie. Paulter is ’n getroude man. Nie dat Danie ’n hoë dunk het van die vroumens nie wat, bid jou aan, ’n paar jaar terug met groot ophef aangekondig is as Suid-Afrika se Raquel Welch en toe gespeel het soos in ’n skoolkonsert. Daarby ’n gevestigde man met aansien en veel om te verloor, een wat gewoond is aan die bewondering van skoolmeisies, proefstudente en onderwyseressies.
Maar Danie Momberg is bang dat, deur die daaglikse verkeer saam met so ’n man, Petro kan begin nadink. Dat sy nuwe maatstawwe kan verwag, nuwe teleurstellings beleef . . . dat, ja, haar oë kan oopgaan vir ou Daantjie. Op die ou end begin sy visioene sien, en probeer sy hom druk om ook ’n hoofskap na te strewe: “Soos meneer Paulter destyds, onthou jy, ou man, hy was maar in sy dertigs en toe is hy al hoof by JC Vos.”
Danie skud sy kop teenoor homself toe hy voor Rina Schoon se lelike woonstel stilhou. Die gebou is plat en van verdonkerde rooisteen met kaal sementstoepies rondom. Binne, onthou hy darem, het daai vroumens haar woonstel heeltemal leefbaar gemaak. Sy is nogal van stand, die geitjie, jy kan dit sien. Nie sommer klaterrykdom waaraan sy gewoond is nie, want sy kry selfs sonder geld iets reg. Sies tog, ook maar swaar om jou trots te versoen met die blapse in jou lewe.
Soos Petro voorspel het, wag daar ’n verrassing op Danie. Rina is so gaaf soos wat jy kan kry. Sy het vir klein Hennie op die arm, wil weet of oom Danie omgee as hy saamgaan. “Hy geniet dit so op die plaas tussen die perde, weet jy, dat ek hom spesiaal gaan haal by die bewaarskool as ek afkry by die werk . . .”
“Is jy dan lief vir hom?” vra Danie opreg verbaas. Hy het ’n soort onlogiese gedagte gehad dat die kind vir haar ’n belemmering is, dat hy nie net onbeplan nie maar ook ongewens gekom het om haar lewe deurmekaar te krap.
Sy lag vir hom. “Natuurlik, Danie Momberg, wat makeer jou?”
Hy het nog altyd gedink: as ’n mens daai vroumens net aan die lag kan kry. Nou lag sy en dit gee haar ’n gul voorkoms. Sy het ’n wye mond, goeie tande, lagkreukels langs die mondhoeke – anders as Petro se stil, diep glimlag. Nou nie dat die twee eintlik te vergelyk is nie. Dis soos bergbrand en bergstroom, en moenie vra wie is wie nie.
Hy verkyk hom totaal aan die laggende vroumens met die donker, kort kapsel wat woerts in die wind staan, en die sonbruin besproete vel.
“Wat kyk jy, Danie Momberg?” vra sy.
“Kyk sommer, jy ’n filmster, wragtig.”
“Jy sal jou woorde nog sluk, jong. Ek het altyd geweet, ek het dit altyd gevoel, maar die kans wou nooit kom nie. My dramaprof het destyds groot dinge vir my voorspel . . .”
“En toe bederf jy dit met ’n los en vas vryerasie,” meen hy met ’n neuslaggie. “Daar is tog al iets soos die Pil, kon jy dit nie gebruik het nie?”
“Ek is seker jy kan nie praat nie, Danie Momberg,” sê sy, maar sonder die gewone venyn. Sy trek ’n gestreepte laphoedjie oor Hennie se kop en gee hom aan vir Danie terwyl sy vensters toemaak en gordyne dig trek. “Hoe lank gaan jy en Petro al uit? Ek ken mos die storie, man. Eers sal dit net bo die klere bly, en dan . . .”
“Bly stil,” sê Danie Momberg. “Petro is nie jý nie.” Hy voel ontwy, blootgestel. Maar ook vervul met ’n stuwing wat donkerder as sy ergernis is.
“Bestuur jy,” beveel hy buite. “Ek ken nie die pad nie en ek hou nie van bekbestuurders nie.”
Eintlik sien hy daarteen op om deur die verkeer te skeer en te skuur. Hy sal liewer die kind vashou. Die kleintjie se lyf is mollig en tog stewig. Klein passievrug, dink Danie Momberg met ’n soort deernis. Kan ook nie help nie, hy het nie gevra daarvoor nie. Dis goed sy is lief vir hom. Hy voel ’n sonderlinge band met die mensie. Vir sy ma se kleinkinders het hy nie wafferse gevoel nie, en hy word nogal verkwalik omdat hy hulle nooit optel en troetel as daar gekuier word nie.
“Vertel my die storie van jou groot sukses,” versoek Danie toe hulle die ergste verkeer agterlaat. Sy bestuur goed, en met die lugtigheid van iemand wat eerder aan ’n sportmodel gewoond was voor sy dit alles ontsê is. Petro sê Rina se mense is geslagte al voorste mense. Haar ouers het ’n wynplaas met ’n Franse naam en ’n stoetery. Oupa was ’n senator (nou nie dat Danie reken dis paradyslik nie) en ’n tante ’n Kaapse prima donna voordat haar skildklier verwyder en haar stem bederf is.
“Dis allereers kompensasie vir my,” vertel Rina asof sy Danie se gedagtes op sy gesig kon volg. “Jy weet, my ouers probeer steeds weer kontak maak, probeer knaend uitvind of ek nie swaarkry nie. En hoe verlang ek na hulle, hoe begeer ek om my kind te wys. Maar oor my dooie liggaam sal ek hulle my kind se klerelaai laat sien, of my versoolde skoene. Jy weet, Marius dra op die oomblik omtrent genoeg by om melk en brood te koop. Maar nou lyk my vooruitsigte anders. Nou gaan hulle my skielik een aand op die kassie sien, en ek gaan wees waar ek hoort.”
“Jy klink seker van jou saak.”
“Ek is. Waarvoor leef ’n mens, Danie Momberg, as daar nie dinge is waarvan jy verseker is nie?”
“Vra ek jou,” stem hy onwillig saam. Hy voel nog nie hy kan sonder voorbehoud met haar saamstem nie, daarvoor het hy haar te lank gelaak. “En Marius?”
“As hy terugkom, moet ons hier weg. Johannesburg, verkieslik. As ek iets bereik, wil ek naby die bron wees.”
“En as Marius nie in jou sukses belangstel nie?”
“Hy moet. Hy sal. Hy aanbid my . . . eintlik.”
“H’m.” Dit kan enigiets beteken.
“Danie Momberg, ek is deur ’n sieldodende tydperk in my lewe. Ek wil hierdie jaar nooit oorhê nie, voordat Marius verlede jaar Julie weg is vir sy basiese opleiding. As ek ooit eendag terugdink aan daardie skemer woonstel en sopperige maalvleis en vaal vloerteëls, sal ek nie wil terughardloop nie, daarvan verseker ek jou.”
Hulle is by die plaas. Sonder om te baklei, dink hy ietwat verbaas. En hy vind die atmosfeer ontspannend; welig beblaarde bome, grasdakgeboue, geriewe vir perdespring. Die pragtige perde beweeg soos koningsgoed, die ene spier onder versorgde velle. Die naaste wat Danie nog aan ’n perd was, is aan die Clydesdales wat die vuilgoedwa getrek het toe hy nog ’n seuntjie was.
Kan ’n man ooit volkome wees as hy nog nie ’n perd beheer het nie? wonder Danie die eerste keer in sy lewe. Reken, dat hy nou vanmiddag so ’n gevoel moet kry. Die geskiedenis van die wêreld is deurweef met die bestaan van die perd.
“Jy weet, ek sit en dink terwyl ek vanmiddag vir jou wag,” lê Danie aan Rina uit toe hulle skemeraand terugry, “ ’n man is mos nie ’n man as hy nie ’n perd ken nie.”
“Marius het vir my gesê daar waar hy is, gebruik hulle nou weer perde. Die troepe hou die saals in die nag langs hulle bed. Goed versorg. Dis hulle trots.”
“Ek kan dit glo. In oorlogvoering, en dus in die geskiedenis van die wêreld, het die perd ’n beslissende rol gespeel. Kyk nou, in ons eie verre volksverlede was ’n man nie gereken as hy nie ’n vrou, ’n perd, ’n hond en ’n roer gehad het nie. Ek het nie een daarvan nie. Maar nou ja, ek is nie ’n man nie, net ’n muis.”
“Jy het die wêreld van die brein betree,” lag sy, fris van vars lug en geluk. “Waar bly ons vroue dan, sonder seeppot en suurdeeg en bollas?”
“Julle makeer niks nie. Ons hou van julle.”
“En jy sê dit vir my, Danie Momberg?” Sy stamp aan hom. Dis hy wat terug bestuur. Die kind slaap op haar skoot. “Dankie dat jy die hele tyd vir my gewag het.”
“Plesier is myne. Ek sal jou weer vat. Ek het een van my taaiste bronne onder die knie gekry, kon tot dusver net tot by die voorwoord vorder. Ek dink dis die vars lug. Ek ly mos aan dowwekop, weet jy.”
“Onsin. Petro het baie respek vir jou intelligensie. Terloops, Danie, ek wil vir Petro iets vra. Maar dis so ’n groot guns, ek huiwer eintlik. Ek weet sy is moeg en sy verdien hierdie kort vakansie wat kom . . . maar, jong, wat doen ek met Hennie as ek Johannesburg toe moet gaan vir die hele affêre? Jy weet, niks is nog amptelik nie, ek moet vir filmtoetse en ander dinge na Floreat se ateljees gaan. Dink jy Petro sal dalk in my woonstel kom bly en vir Hennie oppas? Ek sal my oë toemaak as sy nog iemand kry om vir háár op te pas.”
“Petro hoef nie opgepas te word nie. Dis ’n guns om in haar lewe toegelaat te word, as jy van guns wil praat.” Hy sluit vir haar oop, omdat die slapende kind haar arms vol lê.
“Moet hy nou so vuil en honger gaan slaap?” vervolg hy toe sy vir Hennie in sy kamertjie gaan neerlê.
“Ja, wat. Maak ek hom wakker, tjank hy net. Hy het koekies gesit en eet, ek vee net sy mond en hande in sy slaap af.”
“Nou ja,” sê Danie en staan in die middel van die sitkamer. Noudat die lyne verskemer is en die lig nog nie aangeskakel nie, lyk die vertrek strelend. ’n Oord, nie net ’n plek nie. Hy onthou die middag toe hy haar huis toe gebring het, ná Marius se koms.
“Jy hoef nog nie te gaan nie. Eet hier.” Sy knip die staanlamp aan. “Jy het my grootliks gehelp vanmiddag, en my nie eers sleggesê soos voorheen nie.”
“Voorheen was jy mos g’n mens nie. Jy sê ook nie meer vandag aaneen vir my Danie Momberg nie. Ek dank u wel.”
“Klink amper vir my of ons vriende geword net. Wat sal Petro tog bly wees.”
“Ja, sy wou later nie meer dat ek saamkom hierheen nie.”
Hy kyk hoe sy kosmaak. Die kombuis is so klein dat sy selfs haar kookgedeelte hier in die woonkamer moes inrig. “My dae van degies en sousies,” beklemtoon sy as sy ’n blikkie sampioensop inroer by die vis. “Die spyskaart hou vanaand op by die vis, Danie. Jammer. Later nooi ek jou vir die beesfilet met vars sampioene.”
“Laat ek die roosterbrood maak,” bied hy aan toe sy daarmee begin. “Dan kom jy dalk by die tee uit. Jy weet dit nie, maar ek vat ’n koppie tee sowel voor as na ete.”
“Dan moet ek die groter teepot uithaal.” Sy vra met haar rug na hom: “Jy is nie dalk haastig na Petro toe nie?”
“Studiediens.”
“Klink moordend.”
“Dit is. Die stomme kjênt lyk soos ’n gees.”
“Ek het gesien sy word maer. Sy lyk kompleet soos een wat pas verlief geraak het.”
“Ek dink nie sy is te gelukkig op die oomblik nie. Miesies Paulter het haar mos een aand ingeklim, daardie selfde tyd toe die man van Floreat hier was om talent te soek. Sy beskuldig toe vir Petro dat sy gekonkel het; dat sy vir jou van die rol vertel het.”
“Maar sy is laf. Vaughan het vir my gesê dis vir hom ’n turksvy hoe om by haar verby te kom. Hy het gesê hulle ken mekaar van daardie flopfilm af. Dink wat jy wil. Maar hy dink sy is dalk geskik om Coralie te speel, dis nou my man se voormalige vrou. So ’n bietjie verwelk en histeries, natuurlik. Dit klink vir my asof sy in die rol sal pas. Hy, dis nou Vaughan, het ’n obsessie oor nuwe gesigte en nuwe talent, maar hy sê hy is versigtig om vorige sterre nie net stil van die toneel te laat verdwyn nie. Hy sê fliekgangers en kykers gaan hulle vertroue in die oordeel van die talentjagters verloor.”
Hy luister meer as wat hy aan die gesprek deelneem. Petro was reg, Rina is skoon ’n ander mens. Hy kon voorheen nie gou genoeg van haar af wegkom nie, nou laat hy hom hier hou deur haar sprankelende woorde, haar huislike bewegings, haar bekwaamheid om te weet van die weg van ’n man by ’n vrou.
Sy het haar rymondering gaan uittrek en het nou ’n langbroek en kleefbloese aan. Normaalweg laat haar lengte en skraalheid jou aanvaar dat sy nie te mooi gebou is nie, maar hy sien dat sy genoeg van alles op die regte plekke het.
Hulle maak klaar om aan te sit. Sy haal witwyn uit die klein yskas se deur. “Weet nie of dit jou smaak is nie, maar dis nogal verouderd. Nog by my pa gekry,” sê sy .
“Ek is mos ’n swak drinker,” vertel hy haar. “Petro het my darem al so aanvaar. Rook nie, drink nie, dans nie. Maar nie van goedheid nie, sommer van luiheid.”
“Rook nie, drink nie, dans nie,” eggo Rina. “Jy is nie dalk een wat lieg nie?” Sy lag hom uit.
“Toe maar, ek sal ’n snaps neem, dit gee ’n bietjie meer lyf aan jou spyskaart.”
Moes liewer nie, besef hy later as die wyn uit Rina se pa se kelder na sy kop en bene gaan. Sy bloed vloei soos lou staal deur sy are. Hy het nog nooit weerstand teen alkohol gehad nie, daarom dat hy dit liewer links laat.
Rina ruim op. Toe sy oor hom buk om sy bord weg te neem, sien hy duidelik dat sy niks onder die kleefhemp aanhet nie. “Was jy in die bondel toe die feministe hulle bra’s verbrand het?” vra hy roekeloos.
“Jy is opmerksaam,” sê sy gedemp. Iewers tussen nou en netnou het sy opgehou met lag.
“Dis nie harde werk nie,” verseker hy haar en laat sy blik luier. Dan: “Verlang jy na Marius?”
“Die ellendeling. Die laaste tyd droom ek snags sy lyf is by my, en as ek wakker word, is ek alleen.” Sy sprei ’n vadoekie oor die vuil skottelgoed in die klein opwasbak. Maar sy is steeds naby hom, en hy mis geen woord van wat sy sê nie. “En dis nog twee maande voor hy kom,” vervolg sy. “Ek is nou by jou, Danie. Ek kry net ’n pleistertjie in die kamer vir my vinger. Moes dit vanmiddag gesny het, ek weet nie waar nie.” Die laaste woorde klink gedemp vanuit die kamer waarin sy verdwyn het.
Toe sy omkyk van die bedkassie waar sy gekniel het, staan Danie Momberg in die deur van die intiem wanordelike kamer.
“Laat ek sien . . . jou vinger,” sê hy. Hy leun lig teen die kosyn. Sy oë is smal, donkergroen skywe.
“Kom kyk dan,” sê sy.
Charlene Winters tik teen die halfoop deur. Petro trek dit van binne af heeltemal oop.
“Voordeur vir my?” vra sy, wetend.
“Ja. Juffrou se verloofde.”
Maar die reeds volwasse skoolmeisie draai nie onmiddellik weg nie. In gewone klere kon sy as een van die personeel aangesien word. “Juffrou, daar is iets wat ek baie lankal vir juffrou wou vra, maar ek het nog nie die moed gehad nie.”
“Vra is vry, Charlene.” Petro swaai ’n ligte trui oor haar skouers, want die aande word reeds koel.
“Sal juffrou nie snaaks dink nie?”
“Wel, as ek snaaks dink, beloof ek om dit nie te laat blyk nie.”
“Haai, juffrou.” Smal oë, steil, kortgeknipte hare, maar aantreklik op ’n atletiese manier. Sterk skouers en kuite. Charlene skop liggies in verleentheid teen die vloer. “Juffrou, daardie broer van juffrou wat laas hier was, kom hy die een of ander tyd weer?”
“Ja, oor twee maande,” antwoord Petro begrypend, en jammer oor die teleurstelling wat sy moet aandoen. Sy oorweeg dit eers om onskuld te veins, om iets te vra soos: “Wou jy dalk ’n brief saam met hom vir iemand stuur?” Dan besluit sy dat die meisie geregtig is op ’n volwasse antwoord. “En as hy kom . . . Charlene, ek is bevrees daar is ’n vrou en kind wat op sy terugkoms wag.”
“Oooo . . . dis wat ek eintlik wou weet, juffrou. Gedink daar moet al iemand in sy lewe wees.” Haar stem klink stomp van teleurstelling. Dan oorwin haar blymoedige geaardheid, en die smal oë gaan heeltemal toe vanweë ’n glimlag. “Ek het nogal droompies oor hom gedroom. As juffrou hom weer sien, sê vir hom hy het ’n hart gebreek. Maar moet my nie vir hom wys nie, netnou los hy sy vrou en volg my tot aan die eindes van die aarde.”
Petro lag saam, bly om te weet dat daar altyd mense sal wees wat oorwin. “Maar ek dag dan jy het ’n groot kêrel,” fluister-vra sy as hulle deur die gang stap. By sommige personeellede is ’n “groot kêrel” ’n stigma waar dit ’n skooldogter aangaan.
“Aag, juffrou, ek weet nie. Ek wil mos nog eers gaan leer en hy wil nie so lank wag nie. Hy wil trou sodra ek uit die matriekeksamenkamer stap.”
“Ek wil my nie uitgee vir een met raad nie, maar agtien is darem bitter jonk. En jy is so begaafd, jong. Ek wil jou laaste opstel vir die landwye wedstryd inskryf. Ek weet ’n opstelwedstryd is afgesaag, maar baie skrywers het al so ontpop. Ek wil dit nog net vir meneer Paulter gee om te lees, maar hy is so besig.”
En nou het ek seker weer ’n fout gemaak om van mister Paulter te praat waar mister Momberg dit kan hoor, dink Petro. Maar as Danie gehoor het, het hy in elk geval nie kommentaar te lewer nie.
“Jy laat my deesdae altevol soos ’n lady voel as jy my by die voordeur kom haal,” prys sy hom toe hulle wegstap.
“Ja wat, die eerste keer was die ergste. Jy het my baie laat nadink toe jy sê ek laat jou soos ’n straatvrou inklim.”
“Ek sê mos nog altyd daar is ’n gentleman diep in jou, Daantjie.”
Sy wens sy kan reeds by hom inhaak om net sy warmte te voel, maar dis te na aan die koshuis. Sy motor staan buite die hoofhek. Sy voel ’n besondere behoefte aan die sekerheid wat hy kan gee. Sy is so verward, stommel rond in ’n skemerland van gewaarwordinge wat sy nie kan deurgrond en uitsorteer nie.
Louis Paulter, en die dinge wat hy vir haar gesê het toe hy haar alleen in die studiesaal aangetref het daardie aand. Sy moes dit kon ontken, maar sy het nie een woord van ontkenning in haar binneste kon vind nie.
Sy moes ligweg kon glimlag om hom gelyk te gee dat dit niks ernstigs is nie. Die spiere van haar mond was egter stram, soos ou leer. En haar oë het glansloos gevoel, sonder vog. Sy het gewonder wat sal gebeur as sy dit knip, en dit splinter. Wat sou hy doen? Eintlik was haar gedagtes totaal onlogies.
Ten slotte het sy gesê ja, en dankie. En weggestap met die vrag boeke soos ’n eseltjie. Wat het hy gedink toe hy haar rugkant sien? Pateties? Was hy ernstig oor wat hy gesê het, of het hy haar in mededoë probeer oortuig dat dit haar nie die moeite sal loon om op hom verlief te raak nie?
Danie maak selfs die motordeur vir haar oop. Sy sou andersins omstap om te bestuur, maar sy het, snaaks genoeg, vandag die aanvoeling dat sy hom ernstig moet opneem. Daar hang ’n vreemde gelaaidheid in die atmosfeer. Kom dit van hom, van haar, of van hulle albei?
“Dankie dat jy toe gister vir Rina gevat het,” sê sy toe hulle ry.
“H’m. Hoe het jy geweet? Ek het gesê ek sal sien, of so iets.”
“Ek ken jou mos. Jy wil dit net nie erken nie, Danie Momberg, maar jy is eintlik ’n goeie mens.”
Hy reageer nie daarop nie, kry net ’n plukkie om die mondhoek, wat sy vertolk as erkenning eerder as sinisme. “Ek vat jou ’n bietjie na die oumens toe, hè?”
“Ja, gerus. Sy sal later dink ek wil nie meer daar kom nie, en dis nie so nie.” Al het sy nie spesifiek vanaand vir Betta Momberg lus nie, plig is plig.
“Herfs is in die lug,” sê Danie. “Kyk hoe val die eerste blare.”
Dit behoort vir haar vreemd te wees dat hy oor sake van die natuur gesels, want normaalweg bestempel hy dit as geselskap soek. Waarom sal jy praat oor dinge wat vanself spreek, is sy opvatting.
Tog ervaar sy dit vanaand nie as vreemd nie. Dis of die swaar ondertoon noodsaaklik is, soos vir ’n duikelaar-pop om regop te kan bly. En of die swaarheid van haar of van Danie is, kan sy weer eens nie besluit nie.
Nie nodig nie. Hulle ken mekaar al so lank dat hulle dikwels niks hoef te praat, dinge hoef te ontleed nie. Sy geniet maar net die rit in die swaar, volryp herfsaand.
“Al planne vir die April-vakansie, Petrus?” wil hy weet toe hulle sy ma se huis nader deur die stiller strate waar kinders in sylanings speel.
“Ek dink nie ek moet na my ma toe gaan nie. Dit kos geld en ek het baie werk om af te handel. Sal julle vir my ’n plekkie hier hê?”
“Natuurlik. Maar Rina wou eintlik hê ek moet voorbrand maak en vra of jy nie in haar woonstel wil bly en ’n ogie oor Hennie hou nie. Sy moet Johannesburg toe.”
“Ek kan daaroor dink. As ek haar kan help, dan moet ek. Terloops, mevrou Paulter is ’n rukkie ná die TV-ou hier weg. Vir ’n onbepaalde tyd in verband met werk, is daar gesê vir diegene wat wou weet.” Of nie wou weet nie, voeg sy amper by.
“Klink vir my na ’n ontmoeting met iemand,” sê Danie. “Hy, die Vaughan, het glo vir Rina gesê hy en mevrou Paulter ken mekaar goed.”
“Bra onversigtig van hom. Ek wil in elk geval nie graag glo dat sy en haar man huweliksprobleme het nie. Ek dink sy is maar net ’n bietjie te jolig vir hom, dis al.”
“Nadat sy jou ingewaaier het, het ek nie veel tyd vir haar oor nie,” besluit Danie. “As ek voor haar te staan kom, sal ek vir haar sê: ‘Ekskuus, jy staan in my pad. Moet ek bo-oor jou loop, of dwarsdeur?’ En dan sal ek in elk geval bo-oor haar loop.”
Maar ek het jou nie alles vertel nie, dink Petro met ’n gloeiing soos van koors, diep agter in haar oë. Ek het jou nie vertel dat sy my beskuldig het met haar man nie. En dat hy na my toe gekom het nie, Danie, en iets gesê het soos: ‘Miskien, juffrou, as ons in ’n ander tyd, ’n ander situasie, ontmoet het . . .’ Ek het die eerste keer ’n geheim vir jou en ek wil jou gesig in my hande hou en nie meer geheime vir jou hê nie, behalwe hierdie enkele een. Laat my met hierdie een diep in my bewaar, liewe Danie . . .
Half verskrik kyk sy na Danie. Gestel hy het haar gedagtes gelees? Hy ken haar so deur en deur.
Maar sy aandag is op die oomblik nie by haar nie. Sy hande, nadat hy die motor afgeskakel het onder die prieel met verbruinde blare, rus doods op die stuurwiel. En hy staar in die niet, asof hy niks gewaar nie.
Sy merk duidelik dat sy blik nêrens vasheg nie, dat dit transendentaal vertoef buite enige bereik.