Читать книгу Louisa du Toit Omnibus 6 - Louisa du Toit - Страница 5
Оглавление2
“Darem weer eindelik iets vir die oog in jou personeel,” sê Barbara Paulter. Sy laat dit soos ’n aantyging klink.
“Haar aansoek was die beste,” antwoord Louis argumentsonthalwe. Om net stil te bly, is nie eties nie. Nie in ’n huwelik waar woorde deurslaggewend vir voortgang geword het nie. Elke woord wat hulle tot mekaar spreek, is ’n kapstok waaraan jy verborge betekenis kan ophang.
Bowendien was mejuffrou Petronella Jacomina Schoon se aansoek wel die beste. Dit was goed genoeg om geraam en uitgestal te word, afgesien van die inhoud van die getuigskrifte. Dis ’n jammerte dat sy redelik gou sal trou en haar aandag sal moet verdeel tussen huis en onderwys. Dit wil sê, ás sy voortgaan met skoolhou. Die onderwysdepartement is maar vol stipulasies.
Hy voel darem ’n bietjie gekrenk. Hy moes ingelig gewees het dat sy op die punt is om verloof te raak toe hy haar die eerste keer gesien het. Maar vir haar was dit ook moeilik. Sy kon dit tog nie uit die bloute aan hom noem nie, en hy kon nie vra nie.
Seker ook te veel verwag dat sy los sal loop. Sy is ’n oulike meisie, hoewel sy ietwat angsvallig kan raak. Verstaanbaar, in die lig van haar stipte presiesheid en die nuwe groot verantwoordelikheid. Haar ernstige oë wys dat sy nie ’n joller is nie. Tog, ten spyte van die ligte spanning, het sy ’n diepliggende gemak en selfvertroue wat selfs deur die ongemak van hulle onderhoud nie heeltemal ondermyn kon word nie.
Sy voel seker nie lekker omdat hy haar laat roep het nie . . . veral oor die rede daarvoor. Maar hy moes tog weet, verskoon hy sy optrede. Op ’n manier troos dit hom dat sy nie halsoorkop verlief is nie. Sy het van haar verlowing, verloofde en aanstaande huwelik gepraat soos oor ’n klasregister of die koshuisspyskaart.
Hy was veral bly toe sy aansoek doen om in die koshuis te woon, omdat die meeste juffrouens die pligte ontsien ondanks die goedkoper inwoning. Nou weet hy ook waarom sy dit gedoen het: bloot ter wille van besparing. Sy wil natuurlik uitset bymekaarmaak. As sy nou pas klaar is met haar studie, en haar ma is ’n weduwee, sal sy sekerlik die sente moet omdraai. Hiermee, dus, vervloei Louis Paulter se droom dat hy eindelik ’n jong onderwyseres gevind het wat vanweë ’n passie vir die jeug en opvoeding tussen die skoolkinders wil woon.
“ ’n Geluk, nogal, dat juis haar aansoek die beste was,” sê Barbara. “Die hoof het tog ’n baie sterk sê. As hy iemand op sy personeel wil hê, kry hy wel sy sin. Kyk maar hoe die hoofde daarin slaag om bekwame getroude dames te behou.”
“As jy so sê,” probeer Louis die saak neutraal beklink. Hy weet wat Barbara alles met hierdie laaste opmerking wou sê. Kyk, bedoel sy eintlik, ek gaan ’n baie sterk oog op jou hou. Ek weet jy hou van ’n mooi vrou, anders sou jy nie met my getrou het nie. Stommerik, as jy liewer met ’n valetjie getrou het, was jy ’n beter proposisie as met my, wat weet hoe om jou dop te hou. Jy sal my nooit daarvan afkry dat jy ’n oog vir vroue het nie, Louis Paulter. Daarvoor was jy te lank gewoond om jou lyf weer jongkêrel te hou nadat jy jou eerste vrou begrawe het. En ek weet jy bedink dit altyd of die en daardie vrou nie dalk beter sou vaar om jou kind groot te maak nie, anders as die flerrie Barbara Bain wat nie bereid was nie.
“Ek moet gaan,” sê Louis.
“Lafaard,” merk Barbara op.
Hy is, volgens haar. As sy rusie soek, hou sy nie op voordat sy dit gekry het nie. Mense kies verskillende uitlaatkleppe vir hulle frustrasie. As dit ’n skoolkind is, kan hy hom skuldig maak aan wangedrag of witvoetjiesoekery, diefstal of opstand teen gesag. ’n Grootmens tob, of eet, of koop, of verhuis van een plek na ’n ander. Barbara het die weg van rusie gekies.
Ek kan nie nou met haar argumenteer nie, dink Louis in die noute. Ek sal laat wees vir die beheerraadsvergadering, en in elk geval loop ons met elke rusie die risiko van kinders wat hier naby drentel en afluister. Sappig, nè. Ou Long-play en sy vrou het ’n herrie gehad. Daai vuurvonk, hoor, en hy so ewe sedig . . . weet darem nie. Meneer Denysch se vrou was anders, regte ou moedertjie, altyd die kinders ingenooi vir koek en koeldrank as hulle kom serenade. Al was dit nou in die middel van die nag. Maar hierdie een sal jou uit die grond uit loop, met die swaai van haar heupe omstamp en laat lê. Tensy jy in ’n groep om haar drom en haar bewonder.
“Barbara, ek dink nie ek is ’n lafaard as ek rusie probeer vermy nie. Ek dink ek is ’n held, ’n dekselse groot held, vir wie ’n monument gebou moet word. Maar ek vra jou een ding: verstaan asseblief dat ek hierdie eerste weke onder groot stremming sal werk. Hier’s nuwe mense op my personeel, nuwe kinders, en nuwe ouers wat elkeen dink sy eier is die witste. Ek vra nie jou ondersteuning nie. Ek het aanvaar dat jy my nooit ’n titsel ondersteuning sal gee nie, omdat jy in opstand is teen my en alles waarvoor ek staan. Ek vra net genoeg begrip om my ten minste uit te los. Gaan jou gang, solank jy net nie ’n spektakel van jouself maak nie. Maar gun my genoeg ruimte om te lewe en te werk.”
“Sê my net op bladsy hoeveel van die doktorale kandidaat se tesis staan hierdie woorde, dan gaan ek dit self verder nalees terwyl hy besig is met sy noodsaaklike, onmisbare diens.”
“Bly daaroor liewer stil. Moet my nie daaraan herinner dat my tesis vir jou ’n geslote boek is nie. Ander mans se vroue tik dit vir hulle, gaan neem vir hulle boeke uit, gee raad . . .”
“Maar ek het net ’n mooi lyfie en gesiggie, liefling, jy vergeet – en niks tussen die ore nie,” koer Barbara bitter. “Jy vergeet ek is ’n kanarietjie wat jy in hierdie koutjie aanhou net om te sing en mooi veertjies te hê.”
“Sing. As jy tog maar wou sing. Dan sou ek weer kon lag.”
“Foei tog. Dis ek wat veroorsaak dat jy nie meer lag nie. Dis ek wat daardie lelike ou plooi op jou voorkop maak, of hoe? Omdat ek anders durf wees as die vrome vroue wat my voorgegaan het by hierdie onaantasbare institusie. Ou tannie Vos, en mamma Denysch. Omdat ek ’n hunkering na die kalklig durf hê, want dis mos uit die bose.”
“Die aktrise wat nooit was nie,” sê Louis en hy besef met vretende beskaming dat hy beheer verloor het. Die donkerte het in hom opgekom, dit wat hy meer as Barbara se buie vrees. “As jy ooit weer in ’n rolprent sou optree, sal dit wees om die rol van die fleur-af moeder met plooitjies om die oë te speel. As . . . as. Maar jy is nog nie weer gevra nie, dis die ding.”
“Omdat ek uit sirkulasie is. Omdat ek in Paulter se hokkie my naels sit en versorg, week in en week uit.”
Op ’n manier het hulle tog aangeleer om in lae, onderdrukte stemme rusie te maak. Maar vernietigend, soos die buikgrom van die aardbewing wat onder die oppervlak hele kontinente verplaas maar na bo slegs die barste wys.
“Goed, Barbara, ek weet jy hou dit teen my dat ek jou uit jou lewensbaan gedwing het, soos jy glo. Dis terselfdertyd ’n gerieflike verskoning omdat jy op jou gebied nie bo uitgekom het nie. Maar onthou dat ek ter wille van jou ook sukkel om in my baan te bly. Ek het lewenslank nog ’n hunkering na ’n intellektuele soort lewe.” Ou, grys biblioteke vol boeke, dink hy weeïg. Gerypte filosofieë wat saam met denkende vriende uitgepluis word.
“En die dom poppie is die blok aan jou been.”
“Jý sê dit,” bevestig hy onverskillig.
“Die dom poppie wat jy uitgekies het tussen al die geleerde vriendinne wat jou omring het met hulle swak versorgde hare en hulle koekerige klere.”
“Jy maak twee foute. Jy is nie dom nie. Net onintellektueel, en voorkoms en kleredrag het níks daarmee te doen nie. Verder, ek het jou nie soseer uitgekies nie. Jy het jou flikkers vir my gegooi toe ek reeds ’n jaar alleen was. Jy het jou as ’n vars bries voorgedoen.”
“En jy was te ‘ordentlik’ om te gryp wat ek jou aanbied. Nee, dit moes mos ’n trouery wees. ’n Stukkie papier wat elke drang moet edel maak. As jy my dan net om een rede getrou het, moet jy tevrede wees met die asse na die vlam.”
“Die vlam het nie uitgebrand nie. Die feit dat ons nog rusie kan maak, en ongelukkig voel daarna, gee vir my nog baie hoop vir ons huwelik, Barbara.” Met dankbaarheid vind hy dat die redelikheid terugkeer. Hy pleit feitlik om begrip . . . dat hulle gedagtes tog mag saamwoon soos hulle liggame. “As ons ’n bietjie meer in mekaar probeer belang stel. As jy kans sou sien dat my kind hierheen kom. Jy sal vir hom lief raak. Ek vra nie wonderwerke nie, net ’n klein bietjie geluk.”
“Nou het jý weer twee foute gemaak, Louis. Eerstens, ek voel nie ongelukkig na ’n rusie met jou nie. Dit verskaf my helse genot. Ek wens ek kon jou bloed op die vloer sien, dit sou vir my meer beteken as ’n paar keer saam met jou in die bed. En wat het ek aan ’n ander vrou se kind? As ek self nie een wil hê nie? Goed, ek is gewillig dat hy van nou af kom kuier. Dit sal al die tonge lekker aan die gang sit wat nie eers geweet het jy het ’n bloedjie iewers nie. Maar jý versorg hom dan, verstaan. Hy’s nou al ’n bietjie groter, ek het alle hoop dat hy nie meer op my mat sal dinges nie.”
Hy het ’n idee dat sy eerder die viesliker woord wou gebruik, hy het dit reeds in haar keel sien vorm. Louis Paulter voel ’n blindheid voor sy oë kom. Hy weet dat as hy nou skietgee, hy haar ’n stamp sal gee. Eintlik is hy kwaad genoeg om haar te verwurg.
“Ek wens jy kan jou eie gesig nou sien. Dis verwronge van woede. Toe, slaan my, jy wil mos lankal,” tart sy hom.
Maar net so gou vergaan die intense wrewel. Hy voel flou en bewerig. “Ek is nie ’n vroueslaner nie,” verklaar hy kort. Hy het ’n afsku van geweld, en hy het ’n vaste reël om nie aan ’n kind te raak as hy kwaad is nie, ook nie uit toegeneentheid nie. Dieselfde geld sy personeel.
“Hoe jammer. Hulle sê dis so lekker om op te maak na jou man jou geslaan het.”
“Hou op, Barbara, moenie my selfbeheersing oorskat nie.”
“Ek wonder net wie van die beheerraad dit vanaand sal glo dat dieselfde man wat so verstandig in hulle midde is, soveel woede op sy gesig kan hê.”
“Dalk moet ek jou aan hulle toevertrou. Dan sal hulle saamstem jy moet van voor af opgevoed word.”
Hy voel moeg en verneder tot in sy siel. Nie oor wat hy gedoen het nie, maar oor wat hy sou kon doen. Dit was hittete, of hy het haar ten minste gestamp dat sy steier. Wat ’n beskaming vir die mens, dat sy lagie ordentlikheid so dun is. Vir enige mens, maar veral vir hom wat leiding, koers moet gee. Hy kan hierdie dubbele lewe nie veel langer volhou nie. Soggens sedeprekies in die saal, dieselfde aand sondigheid en haat tussen die mure van sy blyplek.
En die wete dat sy kind soos ’n weggooiding by familie moet grootword omdat Barbara nie vir hom kans sien nie. Sy het gelieg. Sy het hom voor die troue beloof dat sy glo daar “sal nie haakplek wees nie”. Agterna moes hy besef, met pyn en skok, wat sy werklik bedoel het: sy glo nie daar sal haakplek wees as Jacobie maar by sy oom en tante aanbly nie . . . hy’t immers aan hulle gewoond geraak solank sy pa met die studiereis oorsee was.
Hy moes vinnig kies tussen sy kind en sy nuwe huwelik. Hy het besluit dat hy haar mettertyd sal oorhaal, dat hy haar nie onnodig sal verwyt nie, haar langs die weg van liefde sal oorreed. Sy sal Jacobie leer liefkry in die tye wat hy kom kuier.
Skaap. O, skaap wat hy was.
Hy trek die woonsteldeur agter hom toe, sag en tog hard, soos die toemaak van ’n doodkisdeksel. Wat haar betref, is dit in orde. Sy sal nog ’n ruk in woede sied, dan ’n skuimbad gaan neem, haar naels poleer en die res van die aand voor die televisie verwyl. Sy maak nie na buite amok nie. Om die waarheid te sê, sy pla niemand nie. Nie uit bedagsaamheid teenoor haar man nie, maar bloot omdat sy nie genoeg vir die samelewing omgee om enigsins betrokke te wees nie.
Dis ek wat moet gaan voorgee, dink Louis terwyl hy met trae voete na die skoolkantoor beweeg. Vader, ek het vergeet van iets soos vars lug en sterre, besef hy met ’n soort skok toe hy buite kom. Daar is ’n geur op die lug, die geur van skeppingsgenade wat nog nie uitgewis is ondanks al die verharding en ongenade tussen mense nie. Al die besoedeling van die natuur en gees.
Nie langer so aangaan nie, pols dit dof in sy onderbewussyn terwyl hy saaklik en bekwaam met skoolsake besig is. Hy is so geskool in pligsbesef dat die welsyn van hierdie opvoedingsinrigting feitlik instink geword het. Maar nie veel langer nie, dink hy. Nog een jaar volhou, dan bedank as daar geen wending in sy huwelik kom nie.
Daar is nie ’n ander weg nie. Selfs al breek hy sy trougelofte en skei van Barbara, is sy loopbaan in elk geval geknou en sy legger gebrandmerk. Dit kan nie so aangaan nie. Die gedagtes, malend soos vlermuise in ’n benouende grot, grens aan desperaatheid. Dit sal móét beter gaan tussen hom en Barbara, of heeltemal slegter. Net liefde kan staties bly, nie haat nie. Liefde is soos ’n ster wat in sy eie gloed bly, haat soos ’n vuur wat steeds nuwe brandhout soek om te verteer.
Toe Louis terugkom in die koshuis, is dit laat en stil. Die bedenkinge wat enkele ure verminder het terwyl sy aandag elders toegespits was, keer in vlae terug. Ek moet daardie woonstel binnestap in die volle wete dat ek my hand teen my vrou wou lig, dink Louis Paulter, die hoof van JC Vos. En in die volle wete dat sy my kind versmaai en uit haar (én my) lewe sluit.
Dis egter nie teen Barbara dat hy hom allereers vasloop nie. Dis die nuwe onderwyseres wat, geklee in ’n lang kamerjas, uit die badkamer kom. Dis asof sy terugdeins toe sy hom gewaar. Sy het hom sekerlik nie juis nou hier verwag nie. Hy beplan om hoflik verby te stap maar, omdat dit vir albei ’n ongemaklike situasie is, besluit sy skynbaar om verskoning te vra vir haar teenwoordigheid.
“Ek hoop nie ek pla nie.” Dis geykte woorde, maar hy kry die indruk dat sy dit bedoel.
“Glad nie. Ek kom nou eers tuis. Ek het mos gesê jy moet . . . “
“Ek was wel by die ander badkamers, maar ek is jammer, ek is nie vol fiemies nie, maar iemand daar gebruik ’n seep of velmiddel met ’n aardige reuk.”
“Dalk karbolseep,” lag hy kort. “Dis ’n ou klagte; die laaste twee juffrouens het al daaroor gekla, dus moet die aandadige al amper in matriek wees. Hou net moed.”
Sy staan steeds ’n bietjie verleë, sodat hy besef: my lag was nie een van pret nie. In sy eie ore weerklink dit ’n bietjie ru. Of rou. ’n Kreet om verligting.
“Nag, meneer.”
“Nag, juffrou Schoon. As jy goeie gebruik van die badkamer gemaak het, is jy op hierdie oomblik jou naam waardig.”
“Ek sal maar altyd grappies oor my naam moet hoor, totdat ek dit verander,” reageer sy lankmoedig.
Hiermee, terwyl sy wegstap, het sy seker gemaak dat ek van haar verlowing onthou, dink Louis. Sy wil my seker kondisioneer sodat ek, ingeval sy dalk skielik bedank, haar ’n mooi kombuisbak namens die skool sal gee, in plaas van haar te verwyt.
Hy ondervind die drang om te kyk of sy die badkamer wel sindelik nagelaat het. Skoolmeester, beskuldig hy homself toe hy binnestap om sy hande te was. Of bloot nuuskierig? Om ’n blik op ’n ander vrouelewe te kry, enigiemand anders as Barbara? Op die boonste trappie staan hy ’n oomblik lank en afkyk. Daar adem ’n vreemdheid hom tegemoet, maar terselfdertyd ’n ontwykende geur wat hom innerlik ontstel. Iets bekends, half vergete. ’n Geur kan jou verder terugvat as klank of selfs beeld.
Nou weet hy. Dis ’n handeroom, die reuk daarvan gemeng met die stoom wat deur die warm water vrygestel is. En dis ’n handeroom wat ook deur Blanche gebruik is. Die naam daarvan het hy nooit geweet nie, omdat hy dit nie nodig geag het om uit te vind nie, hy kon dit bloot geniet. Een aand, dit was koud en reënerig winters, was hulle op die punt om uit te gaan. Sy het by die kamervenster uitgeleun. “Toegetrek van oos tot wes,” het sy die weer opgesom. Omdat sy na buite geleun het, het haar stem ver geklink, ruimtelik. En sy was besig om die room in haar hande te vrywe, stadig en strelend. Naby haar het die infrarooi verwarmer gegloei. Hy het die lig reeds afgeskakel en by die deur op haar gewag. Maar omdat sy nie onmiddellik na hom gekom het nie, het hy na haar by die venster gegaan. Daar was die geur, en die warmte. En die wete dat die kind wat sy in haar dra, van hom is. Hy het haar vasgehou, sag en lank.
Hy skeur hom los van die herinnering. Waters wat verby is. En dis tog net ’n kosmetiekmiddel op die mark, wat stellig deur duisende vroue gebruik word. Daar was nie geld vir eksklusiewe rome nie. Sentimenteel van hom om meegevoer te raak.
Hy maak die voordeur van die woonstel saggies oop. Die lyne van werklikheid is weggewis deurdat die ligte binne reeds afgeskakel is. Slegs terreinligte laat van buite ’n bietjie lig deur die gordyne syfer. Ek en Barbara moes lankal weg uit die koshuis, besluit hy vir die soveelste maal. Maar hulle het so gesoebat dat ek nog ’n jaar inwoon. Ons hoort nie hier nie. Om ouers te speel vir die kinders van ander mense, terwyl daar vir my eie kind nie plek in ons lewe is nie. Daar is bitter min mense wat selfs weet dat hy ’n kind het. Flouweg kon hy nog steeds teenoor dié wat weet, die klimaat aanvoer: dat dit vir Jacobie beter is diep in die binneland. Dis nie heeltemal onwaar nie. Die kind het borsprobleme, maar dis nie bevestig dat dit klimaties van aard is nie.
’n Huis kry, dink Louis terwyl hy nog binne die geslote voordeur bly staan voordat hy dieper die woonstel in beweeg om noodwendig bewus te word van Barbara se asemhaling. Daar sal wel ander koshuisouers te vinde wees as daar hard genoeg gesoek word. Hy en Barbara moet in die dorp in ’n huis gaan bly. Op ’n groot erf, met die huis soos ’n vuurhoutjiedosie in die middel om die kwarantyn te verseker. Dig toegegroei. Daar is nog woonbuurtes waar sulke groot erwe te vinde is, mits jy bereid is om die huis te restoureer. Maar dan moet hy koop, en hy weet nie hoe lank hy hier gaan bly, met Barbara wat so ontevrede en rusteloos is nie.
Hier word hy toegespin deur die ewige vrees dat die onmin aan die lig kan kom. Hy wens hy kon die woonstel elektrifiseer, ’n kennisgewing in rooi aanbring: Bly weg. Gevaarlike insinkings en uitbarstings. Hoeveel keer moes hy warm woorde wegsluk wanneer daar ’n klop aan die deur kom, ’n rusie onvoltooid afbreek sodat dit maar innerlik verder gis.
Hy beweeg versigtig sodat hy hom nie teen iets stamp en vir Barbara wakker maak nie. Hier is hy nou by die divan. Hy sou haar vanaand gestamp het dat sy hierteen val, onthou hy met skrik. Dit lyk ver terug, en gans onmoontlik.
Tog kan hy hom voorstel hoe sy sou geval het, die ledemate uiteen soos dié van ’n pop teen ’n heining geslinger, die kantjies van die tennisbroekie onder die kort rokkie, die ruie, rooibruin hareweelde oor die kameelkleurige bekleedsel gesprei. Die blote gedagte verskrik hom, hang ’n prentjie van die waarheid voor hom op, en ook van groot vertwyfeling. Hy weet nie of hy gekom het by die einde van ’n lang oorsaak, of by die begin van ’n lang gevolg nie.
En nou moet hy na sy vrou toe gaan, en hy het nie die krag nie. Dit voel nie of hy haar nog in teerheid kan aanraak nie. Tog het die huwelik hom bo alles geleer wat ’n huwelik is: ’n staat waarin ook die onvergeeflike vergewe kan word. Hy stoot sy skoene van sy voete af, toon teen hakskeen, en loop op sy kouse slaapkamer toe. Maar in die onseker lig stel hy vas dat sy nie daar is nie.
Sy het ook haar kussing gevat.
Hy weet bo twyfel dat sy in die klein spaarkamer slaap, maar hy gaan hom nie daarvan vergewis nie. So kan hy die ergste realiteit uitskakel en ten minste hierdie nag tegemoet gaan in ’n soort tussenstaat van wysmaak.
Hy kan hom verbeel, ja, dat alles nog nie tussen hom en Barbara gegroei het net om weer te vergaan nie. Hy kan hom verbeel dis die vroeë dae voor hulle verbintenis, toe hy haar op ’n boot op die Teems ontmoet het. Saam met die res van die rolprentgroep het sy vir ’n dagreis van ontspanning weggebreek.
“Ek breek ook weg,” het hy haar vertel. “Ek was gister by ’n konferensie in Cambridge, en vandag het ek oop. Môre vertrek ek van Londen af huis toe.”
Daar was, seldsaam, sonskyn. En groen, die ongelooflike somergroen. Hy het haar die aand besoek by die hotel waar die groep tuis was. Daar was ’n onbeskryflike branding in hom, maar die tyd was teen hom.
Eers terug in Suid-Afrika het hy haar met drif en spoed opgesoek.
Hulle is getroud. Hy het dit sien kom, en niks probeer doen om dit te verhinder nie.
Nou, vanaand, lê hulle reeds weg van mekaar soos verspoelde dryfhoutstukke.