Читать книгу Louisa du Toit Omnibus 6 - Louisa du Toit - Страница 9

Оглавление

6

“Gaaf van jou om my te kom opsoek,” se Stacey Vaughan en sy blik ondersoek vir Barbara met ’n sonderlinge, ontledende dringendheid.

Hulle staan nog in die portaal, waarheen Ontvangs hom ontbied het.

“Ag, ek lees toe in ons ou plaaslike bladjie dat jy hier is om sake deur te kyk, en dat jy in die King’s tuis is. Nietemin, ek sou jou darem sekerlik tussen Sentour se perde raakgeloop het. Ek . . . ek gaan gereeld daar ry, weet jy?” Sy hou hom fyn dop, maar hy verraai niks. Dis net die vreemde, gelaaide blik wat oor haar bly dwaal.

“Stacey, het jy geweet dat ek nog hier woon?” probeer sy vanuit ’n ander front. Volgens haar beraming moes hy haar reeds na sy kamer genooi het.

“Natuurlik,” antwoord hy amper te geredelik. “En dit bly vir my ’n raaisel dat jy nog met die latswaaier getroud is. Het jy hom lief?”

“Hoe sal ek sê?” Haar mond plooi in ’n siniese glimlag. “Hy is goed vir my, maar jy weet tog: eenmaal ’n kunstenaar, altyd een. Om nou in ’n koshuis te moet sit en luister na klagtes oor meisiekinders se vuil wasgoed, en oor kos en lawaai, whau.” Sy waai haar kastig koel met twee wapperende wit hande, tuit haar mond.

Hy vat haar na die ruim sitkamer. “Is jy nog so besluiteloos oor jou drankies?” vra hy argeloos toe ’n kelner langs hulle verskyn. “Is dit nou ’n droë martini, of G&T, of Bloody Mary, of port met suurlemoen?”

“Vanaand drink ek wat jy drink. Ons moet weer op dieselfde golflengte kom.” Sy onthou met ’n tikkie ongemak dat sy elke keer ’n nuwe keuse gehad het, spesifiek nadat sy ’n ander vrou iets interessants of uitdagends hoor bestel het. Ja, sy wou vir Stacey daarmee beïndruk, en is dit ’n sonde?

“Whisky on the rocks vir ons albei,” bestel hy.

Sy voel dat dit alreeds vordering is om ou gedeelde herinneringe op te roep. “Wat was jou teorie nou weer? Hoekom vat jy nooit soda by nie?”

“Nie teorie nie, feit. Maak jou nie so gou dronk nie. Dis eintlik heel eenvoudig: hoe minder water daarin, hoe langer duur dit voor die alkohol jou bloedstroom bereik.”

“En waarom sou jy langer sober wou bly?” tart sy hom toe die ysblokkies in hulle glase klingel.

“Ek staan aan die begin van ’n groot opdrag, engel. Ek moet nugter bly en hard werk. En ek soek talent, groot talent.”

Die plesier sprei oor haar gesig. Tot dusver was sy ontsenu deur sy bekwame en saaklike manier van doen. Sy kon kwalik die ou Stacey Vaughan herken, die joller wat daarvan hou om uit die tuig te breek wanneer die geleentheid hom ook al voordoen. Maar, nou ja, hy is deesdae sy eie baas en moet sy eie klok lui as die kop van die opkomende Floreat Produksies.

Sy wonder hoeveel hy onthou . . . van hulle twee tydens die verfilming van Wilde Jasmyn. Omtrent ’n jaar gelede het sy van sy egskeiding in ’n koerant gelees, net ’n beriggie.

“En jou huweliksbootjie het toe gestrand?” sê-vra sy. “Wat was eintlik die moeilikheid?” Sy het die vrou gesien toe dié vanuit Johannesburg vir Stacey in Londen gaan kuier het tydens die verfilming van ’n deel van die prent. ’n Vaal ou mensie, geen glans hoegenaamd nie. Dit was vir Barbara Bain onbegryplik dat hy hom aan so ’n kleurlose persoon kon bind, en boonop vir haar, Barbara, links laat terwyl sy vrou in Londen is. Dit was louter genoegdoening om agterna weer saam met hom die kat in die donker te knyp.

Tot Louis Paulter op die toneel verskyn het. Sy wou enersyds vir Stacey vermaak met die mooi donker vreemdeling, en andersyds was sy regtig verlief op Louis. Hy het haar in ’n ander kategorie geplaas. Sy het intellektueel by hom gevoel.

“Jý was die moeilikheid,” sê Stacey niksseggend.

“Wie, ek?” Sy veins onskuld, maar voel die ou tinteling van oorwinning. Hoe droog is haar lewe saam met Louis Paulter eintlik!

“Ja. ’n Paar maande ná Londen kuier ou Fritz een aand by ons aan huis . . . jy onthou hom, kameraman. Word toe dronk en praat te veel. Van my en jou, in Londen. Nie dat sy nie vermoed het nie, nè? Maar om dit ronduit te hoor. Dit was die begin van die einde.”

“Maar ek was seker nie die enigste een nie?” Nie dat sy skuldig voel nie, inteendeel. Sy voel uitgesoek.

“Nee, maar voorheen kon sy niks bewys nie. Jy was die eerste vrou wat warm op die toneel was, en jy het ook nie juis probeer wegsteek dat ek en jy . . . wel . . .”

“Wil jy sê ek speel nie goed genoeg toneel nie?”

“Laat ons sê jy het my my huwelik gekos,” sê hy in ’n plat stem. “Sy is weer getroud, met ’n tandarts. Hulle kom glo goed klaar. Hy flenter nie rond nie.”

“Hoe saai, sies tog. Ek hoop jy dink dat dit die prys werd was?” giggel Barbara. Sy roer haar skouers in die rooi katpak. “Louis het nooit oor my en jou uitgevra nie, maar ek dink hy het sy vermoedens.”

“Die prys werd?” Dis duidelik dat hy by die eerste deel van haar opmerking vasgesteek het. Hy kyk weer op daardie vreemde, half emosielose manier na haar. “Ek kon nog nooit besluit nie, weet jy?”

“Onvoltooide eksperiment?” vra Barbara.

“H’m. Maar hoe gaan ’n mens voort met so ’n eksperiment as jy hier op die uithoek sit, Barbara? Hoe lyk dit, sluit jy nie weer ’n bietjie by die filmgroep aan nie?”

Sy tintel van plesier. “Wel, ’n veranderinkie kan my goed doen. So ’n soort vakansie. Louis kan tog niks daarteen hê nie.”

“Dalk ’n láng vakansie?” vul Stacey veelseggend aan. “As my kontinuïteitsmeisie, sal ons sê.”

Sy weet nie of hy dit figuurlik bedoel nie . . . ’n langtermynverhouding? Bedags op die stel in die vroulike hoofrol, snags in sy arms? Dis goed as hy dit so wil hê, en dit gee vir haar ’n lekker hefboom om hom te manipuleer. “Kom ons begin by die begin: die prent wat jy hier kom skiet. Ek was jou Isobel in Wilde Jasmyn. Hoe lyk dit met Laura Traut? Is dit dalk wat jy in gedagte het?”

Hy hou sy kop demonstratief skeef en bekyk haar van hoek tot kant: “Dalk nie presies nie. Ietsie anders, miskien, vir eers, om net weer jou litte los te kry?”

Sy voel bitter teleurgestel in die onmiddellike besef dat die hoofrol voor haar neus weggeraap kan word. “Ek het spesiaal leer perdry, weet jy, Stacey? En in die sangtonele gebruik jy mos net iemand anders se stem . . .” Dit klink of sy smeek.

“Jy is te mollig en sag vir Laura Traut,” sê Stacey. “Die eise wat die draaiboek aan die rol stel, kan jou breek, engel.”

Sy kyk na hom, in die war of sy onpeilbare erns eintlik ’n soort spel is. “Ek kán speel! Ek sál dit speel,” probeer sy hom oortuig.

“Ek soek nie een wat dit kan speel nie. Ek soek een wat dit ís. En so ene het na my toe aangeloop gekom, kan jy maar sê, die oomblik toe ek hier aanland. Ek wou nog by die dramadepartement van die universiteit gaan rondkyk, maar jy weet die goedjies is so jonk. Ek glo soos ou Van Gogh, jy kan nie ’n gesig gebruik wat nog nie kommer geken het nie. Kyk, as dit ’n soort horse opera was – verskoon die sinspeling – sou ek jou gevat net, maar jy het nie daardie honger, roofvoëlagtige mentaliteit wat Laura Traut moet hê nie. Hierdie Rina Schoon is sowaar reëlreguit na my toe gestuur. Toe ek die plaashek binnekom, ry sy juis so op ’n afstand verby, en toe lyk dit of sy deel van daardie manjifieke perd is: jy weet, die sentour met die mensbolyf en die . . .”

“Waaraan het jy dan vir my gedink?” onderbreek Barbara hom skerp. Schoon, Schoon . . . tog nie Petro Schoon nie, maar familie?

Stacey Vaughan vou sy hand oor hare. Sy vingers was liggies om die whiskyglas geklem, en daarom is sy hand se binnekant onverwags koud . . . vyandig? “Daar’s ’n ander rol, Laura Traut se man se vorige vrou . . . net jy daardie.”

Tweede viool, dink sy vies. Dan was Louis reg toe hy gesê het haar volgende rol sal een wees van die vrou met die plooitjies om die oë. Sy byt liggies op haar tande om haar teleurstelling nie te verraai nie. Bedelaars kan nie kies nie. ’n Wrok teenoor Louis kom opnuut in haar op. Dis omdat sy uit sirkulasie geraak het.

Twee jaar terug het sy gedink ’n huwelik sal goeie reklame wees, juis in die tyd toe die rolprent vrygestel word. Sy sou langer in die nuus bly. Berigte oor haar huislike lewe. Verslaggewers sou kom onderhoude voer om te berig watter tipe huis sy inrig, wat haar geliefkoosde resep, haar skoonheidsroetine is.

Hoe min het daarvan gekom . . . nie eers ’n eie huis nie, toe Louis instem dat hy en sy by die koshuis inwoon. Louis wat ’n tonnelbestaan voer tussen werk, eet, slaap en werk. Sy’s vergeet en begrawe. Liewer dan maar weer begin en vat wat Stacey aan te bied het. Die teleurstelling bly egter in haar pols: Laura Traut, die rustelose gees, die ontstellende mens wat bestaande ordes omverwerp wanneer sy naby kom, wat geluk vernietig en tog almal verslaaf wat met haar in aanraking kom, perde inkluis. O, hoe sou sy die rol geniet, hoe sou sy wegbreek uit haar saai bestaan.

Destyds, met Wilde Jasmyn, het ’n resensent gesê sy het te goed gespeel. Dit was gemeen, en sy het gevoel Stacey kon haar beter daarteen beskerm het. Maar hy het self goed deurgeloop.

Eintlik moet sy bly wees dat hy haar hoegenaamd weer wil gebruik. Sy sal hom wys. Sy sal haar pad na roem oopveg. Die skoolkinders sal saamdrom by die kennisgewingbord, waar die sekretaresse uitknipsels oor haar sukses sal opplak.

Haar man is ’n skoolhoof, en sy bied hom haar volle ondersteuning, daarom wil sy net vryskutaktrise bly, sal daar geskryf staan. Skoolhoof se vrou speel pad oop na harte van mense . . .

“Ek stel belang in die rol waarvan jy praat, Stacey. Ek wil jou nie teleurstel nie.”

“Hartlik dank.” Hy buig half oordrewe en ledig sy glas. “Kom vir die filmtoetse na my ateljee in Johannesburg, dan wys ek jou sommer hoe ons in daardie sogenaamde Sodom gaste kan laat tuis voel.”

Hy lyk sjarmant en smaakvol, suksesvol. Wonderlik hoe hy kon vorder vanaf die “genius of the place”, soos hy homself genoem het, met hare in die wind, slap lippe om ’n sigaret en hande in die verweerde broeksakke, tot hierdie beeld van ’n sakeman wat weet wat hy wil hê, en tog nog kunstenaar bly met die onrus in sy blik. Sy kan trouens die onrus in sy oë nie so helder onthou as wat sy dit vanaand waarneem nie. Dis asof sy blik langs haar, agter haar, bo haar, soek na ’n ander dimensie, ’n ander verskynsel, ’n ander figuur.

Dit ontstem haar vaagweg. Dit lyk of hy ’n spook verwag. Sy beskou hom tersluiks, ten volle daarvan bewus dat sy nie vanaand tot hom kan deurdring nie. Hy het nie meer die lang hare wat ’n paar jaar terug hoogmode was nie, maar ’n modern versorgde, wipperige kapsel en ’n pak klere met ’n oopnekhemp. Hy word nou veel makliker aanvaar in rolprent- en televisiekringe en wil skynbaar sy nuwe beeld regverdig. Destyds was die kritiek teen hom heftig en soms giftig. Iemand het gesê hy kon, vir al wat die moeite en koste om buiteland toe te gaan vir ’n deel van die verfilming werd was, net sowel agtergrondprojeksies of selfs dioramas van Londen gebruik het.

Dit het hom hewig ontstel. O, hy was die ewige orator, ’n advokaat uit die beste balie. Nou is hy veel meer ongestoord, waarskynlik op grond van die sukses wat hy sedertdien behaal het.

Dis duidelik dat hy op ’n harde manier moes leer en taamlik ru aarde toe moes kom. Ewe duidelik is dit dat sy begaafdheid hom deurgedra het. Maar sy voel nog die onrus in hom spoel, vooruitreikend soos brekende branders op ’n verre strand.

Sy kyk hom in die oë, sonder ontwyking. Probeer ’n woordelose boodskap oordra. Sy sal vannag by hom in sy hotelkamer bly as hy maar net sy ooglid roer. Herinneringe word lewend in haar. As Louis Paulter nie tussenbeide gekom het nie, dink sy spytig. Daardie vaal vroutjie van Stacey sou nie die ergste belemmering gewees het nie. Alles sou anders kon gebeur het. Ofskoon hulle nie lank in Londen was nie (weens finansiële oorwegings moes daar onder hoë druk gewerk en klaargekry word), was dit lank genoeg om ’n verstandhouding te bewerkstellig.

Gedurende werktyd was hulle afsydig genoeg, maar tussenin was daar die nagte soos rooiryp granate. Het Louis werklik tussenin gekom? wonder Barbara met die terugkerende ademloosheid van daardie tyd. Of het ek hom aangegryp as ’n teensimbool? ’n Kwessie van natuurlike balans? Wou ek voorkom dat dit vanself uitbrand tussen my en Stacey, en wou ek laasgenoemde die genoegdoening ontsê?

“Weet jy wat dink ek nou?” vra Barbara. “Ons moes drie jaar gelede, daardie dag op die Teems, vir Louis voorgestel het aan jou Winnie.”

“Nee,” weerlê hy sonder aarseling. “Ek sou haar eerder vir myself wou hou. Mense verstaan nie, behalwe dié wat haar van nader geken het. Ek was verslaaf aan haar. Sy was ’n poel van rus, iets en iemand om na huis toe te kom na elke omswerwing van die gees en die vlees. Maar sy wou dit nie so hê nie. Sy wou my hê sonder die omswerwinge, sien?”

Die erkenning van Winnie se belangrikheid in sy bestaan krap Barbara om. Die dwalende blik draal steeds rondom haar, sodat sy met ongemak besef: dis na Winnie wat hy soek. Hy kon vir Winnie nog nie afsweer nie.

Oomblikke lank wou sy haar vanaand verbeel dat sy weer heeltemal deurbreek tot Stacey Vaughan, maar nou twyfel sy. En tog, hy het haar nie weggestuur en ontmoedig nie. Sy moet daarop bou. Hy is haar enigste skakel met ’n soort lewe en toekoms wat andersins, saam met Louis, vir haar volkome ontoeganklik sal bly.

“Dan maak ons dit ’n afspraak. By jou ateljee?” soek sy bevestiging.

“Hoe nou? Ja, o ja. So gou jy kan kom, enige dag, enige tyd. Hier is my kaartjie. Vra net vir die baas, reg? Wat ’n bestiering dat ons paaie weer gekruis het, engel. Ons . . . e . . . sal ek maar sê ons rekening is nog nie afgesluit nie?”

Hy knipoog vir haar, en glimlag met ’n nuwe soort glimlag wat hy het: dit raak net die een helfte van sy gesig, asof die ander helfte tydens skok of ’n ligte aanval buite aksie gestel is.

Hulle drankies is klaar en hy teken die strokie sonder om te vra of sy nog iets wil drink. Hy kon haar ten minste vir ete genooi het, maar hy swyg.

Met gemengde gevoelens ry Barbara Paulter terug koshuis toe. Verydeling en opwinding veg om die botoon. As sy Stacey Vaughan net kon peil, net kon weet presies wat in sy gemoed omgaan.

Die koshuisatmosfeer slaan haar soos ’n ou, halfdroë vadoek in die gesig. Altyd ’n kosreuk, al spuit ’n mens ook ’n hele flessie van die duurste lugverfrisser in die woonstel leeg. Sy verbeel haar ook dat sy altyd die skooldogters kan ruik, hulle blou springjurke, die goedkoop toiletmiddels. Bid jou aan, Louis vertel haar nou die aand so ewe ongeërg dat die nuwe onderwyseres ’n middel gebruik wat Blanche ook gebruik het. Was hy naïef, of bloot onskuldig, of bedoelend?

Hierdie lewe het haar lank laas so keelvol laat voel as juis vanaand in haar toestand van onseker opwinding. Stilte heers in die barre gange. Die daglange, popelende lewe gaan gedemp voort agter geslote bruin kamerdeure. Dis die tyd voor ligte-uit.

Die woonstel se badkamerdeur is toe. Sy vermoed dat dit Louis is, en klop aan. Die krane se gespoel breek af, en die helder meisiestem van Petro Schoon antwoord: “Nou-nou klaar . . .”

Indringer, dink Barbara wrokkig. Jy en jou gespuis. Op ’n ingewing praat sy teen die geslote deur: “Ek wil graag met jou praat, net hierna.”

“Goed, mevrou.”

Die gedienstigheid kalmeer Barbara so effentjies. Louis het gesê dat hy laat sal werk in die skoolkantoor. Dis op grond daarvan dat sy haar vry gevoel het om Stacey Vaughan te ontmoet. En om nou vir Petro Schoon voor stok te kry.

Sy het nie veel om te sê nie. Maar dit moet vernietigend wees.

Dis slegs minute voordat die meisie, in syerige paisley-kamerjas, aan die halfoop deur van die woonstel tik.

“Kom binne,” sê Barbara formeel.

“Mevrou wou my sien?” Beleef wel, maar nie gedienstig soos ek netnou gedink het nie, besef Barbara.

“Ja. Rina Schoon . . . familie van jou?”

“My skoonsuster, mevrou.”

“Wie is die mens . . . wat doen sy?”

“Sy werk tans in ’n kantoor by die munisipaliteit.”

“En haar man?”

“My broer? Besig met diensplig.”

“Met ander woorde, sy is eintlik niemand en van nêrens.”

Dit lyk asof daar staal kom in die blik van die meisie met die heuningblonde voorkoms, die eweredige tande en die diep mondhoeke. “Ek neem aan u ondervraging staan in verband met die filmrol wat sy gekry het,” sê Petro Schoon reguit.

“Jy is volkome reg. En ek het ’n vermoede dat die kinkel in die kabel hier van jou kant af gekom het. Jy het geweet wat aangaan. Jy het via my van die film gehoor en met die kennis na haar toe gehardloop, nie waar nie? Om vir julle hele familie ’n slaggie te slaan?”

Die meisie glimlag, sonder hoon, maar ook sonder ontwyking: “U het dit nie juis stil gehou nie, het u? As elke skooldogter daarmee rondgeloop het?”

Barbara was nie hierdie uitgesprokenheid te wagte nie. Louis se oogappel op die personeel, sy weet dit intuïtief. Sy kon Petro Schoon van die eerste oomblik af nie verdra nie. “Jy versterk my vermoede dat jy uit jou pad gegaan het om my die rol te laat misloop,” beskuldig sy.

“Mevrou is heeltemal verkeerd. Ek was baie verbaas toe ek by Rina hoor wat gebeur het. Wat haar betref: u beweer sy is niemand en van nêrens. Ek kan u anders inlig. Sy het ’n hele paar geslagte fyn kultuur agter haar, waarby die uitvoerende kunste ingesluit is. Sy het self drama geswot, en sy kan sing. Goed ook. Maar ek sal nie daaroor uitwei nie omdat sy nie daarmee te koop loop nie.”

“Wel, wel, wat het ons hier?” probeer Barbara herstel van haar verbasing oor die meisie se durf. “ ’n Reklame-agent vir ’n munisipale klerkie?”

“Dis soos u dit wil laat klink. Gaan dan maar voort, die skooldogters is honger vir sensasie.”

“Hoe durf jy so met my praat? Vergeet jy dat jy ’n ondergeskikte is?”

Petro Schoon glimlag. So half droewig, asof in mededoë. Die afwesigheid van nydigheid vertoorn Barbara nog die meeste. Sy glo tog nie dat dit eg kan wees nie. Die meisie het ferm stellings gemaak, maar sonder katterigheid. Haar stem het heeltyd daardie singende, gedrae kwaliteit behou asof sy met digterlike werk besig is.

“Sal u my nou verskoon as daar niks anders is nie?”

“Ja,” sê Barbara buite haarself, “daar is iets anders. Jy moet asseblief ophou skaapoë vir meneer Paulter maak.” Noudat dit uit is, kan sy haarself nie keer nie. “Jy dink ek kom dit nie agter nie. Hoe jy vir hom wierook in die badkamer strooi, en alte gou is om kastig ’n saak met hom te bespreek, en hoe jy hom aan die koshuisdogters uitveil. ‘Meisies, ons sal eers vir meneer moet vra.’ En hoe jy aan tafel net gedurig sit en kyk of hy nie sout en peper nodig het nie. Sies tog.”

Die openlike smaling moes tref. Petro Schoon word deurskynend bleek. “Mevrou, ek is verloof,” sê sy amper onhoorbaar sag.

“En daarom veilig?”

“Vir sommige vroue beteken so ’n verbintenis nogal iets,” antwoord Petro ewe sag. “Maar ek wil liewer niks verder sê nie. Ek hoop u kan u persoonlike probleme uitsorteer.” Sy swaai om en loop blindweg die woonstel uit.

En dan besef Petro dat daar ’n toestand is, verby skok, waar niks verder eintlik saak maak nie. Die feit dat Louis Paulter net buite die halfoop woonsteldeur staan en luister, dat hy naastenby alles moes gehoor het, kan nie veel tot haar ontsetting bydra nie. Dis net asof sy dink, heeltemal objektief en rasioneel: Beter so, dan weet hy ook, want ek sal tog nooit weer op my gemak naby hom kan wees nie.

Louis Paulter gaan die woonstel binne en druk die deur agter hom toe. Hy voel skielik oud, en wag vergeefs op die woede wat hom volgens die eis van die oomblik moet laat reageer.

“Jy weet tog ek sal enige oomblik inkom, en nogtans lyk dit of jy wou hê ek moet luister.”

“Net om jou te wys dat ek nie ’n duiwel vir jou witbroodjie omgee nie,” antwoord Barbara. “Sy en haar gespuis.”

“Dus gaan jy nie die rol kry nie. En jy wou wraak neem. Dis jammer dat juffrou Schoon die naaste slagoffer was.”

“Ja, so bitter jammer. Wil jy haar nie gaan troos nie? Sy is mos weerloser as jou vrou. ’n Mens sou nooit dink dat sy in staat sou wees om agteraf te konkel nie.”

“Dit werk nie so nie, Barbara, en jy weet dit tog. Die beste een wen.” Hy hou sy stem laag. Dis laat in die aand, die koshuis het verstil, en die klanke van ’n rusie sal ver dra.

“Dis net baie jammer vir jou, Louis Paulter. Nou sal jou kind nie hierheen kom nie. Dit was die voorwaarde.”

“Nee, jy maak ’n fout. Die voorwaarde was nie dat jy die rol kry nie. Die voorwaarde was dat ek nie in jou pad sal staan nie. En ek het nie. Ek het so ver uit jou pad gaan staan dat jy besig is om ’n yslike gek van jouself te maak.”

“Ek gaan tog wel ’n rol in die film hê, Louis. Wat jy met jou kind doen, is jou saak. Ek kan jou nie verhinder om hom te bring nie. Maar jy verwag sekerlik nie dat ek vir hom ’n tere moedertjie sal wees nie.”

“Dit verwag ek buitendien nie. Maar hy kan koshuiskos eet, en toesig sal hier genoeg wees. Die tyd is verby dat ek my kind sal ontbeer om ’n voos huwelik te probeer red.”

“Ek sê mos, doen soos jy wil. Dalk sal juffrou Schoon hom vir jou oppas.”

“Ja, dit het jy ook nog op my gelê, dat ek haar namens jou om verskoning sal moet vra.”

“Asseblief nie namens my nie. Sy het net gehoor wat sy lankal moes.”

“Sy is die enigste Afrikaans-leerkrag. Bedank sy en gaan hier weg, sit ek in die sop. En dit sal jou skuld wees, Barbara.”

“Kontinuïteit, nie waar nie?” sê sy soet. “Dan moet jy weer in ’n nuwe een se ogies leer kyk. En daarvan gepraat: Stacey bied my kontinuïteitswerk aan. Dis vir my om daaroor te besluit.”

Met ’n skrik wat diep slaan, moet Louis erken dat hy haar op hierdie oomblik haat. Is daar ooit nog liefde? Of was daar ooit? Hoe ver en diep lê sy skuld in hierdie toestand? Het hy, wat hom ’n opvoeder waan, gereken dat hy hierdie vrou sal kan verstaan en vervul? Of het hy hom maar net laat lei op ’n weg van algemene bekoring?

Dit tog nie. Hy was so seker dat hulle mekaar sou aanvul. Hy met sy swaar erns, sy met haar ligter aanslag. Hy kon haar toe nie ontbeer nie. Sy het die donkerheid in hom besweer, daardie ingebore melancholie wat hom met so ’n swart greep kon beetkry.

Nou besef hy dat hy aan natuurlike depressie gely het na Blanche se dood en die verwydering van Jacobie. En hy het te gou die bekende omgewing verlaat. Die spreekwoord sê mos jy moenie te gou van ’n graf af weggaan nie. In die vreemde het hy die waarheid daarvan ervaar sonder om dit te kon definieer. Barbara was iets om aan vas te gryp, ’n warm, lewende miskenning van die leed. ’n Herinnering aan die agtergelate.

Hy weet nie meer wat hy die meeste gevrees het nie: die koudheid van die vreemde, of die vooruitsig om terug te keer na die leegheid van ’n bekende bestaan. Barbara was ’n verweer teen albei.

Hoe wens hy dat hy haar weer kon beleef soos in die nuwe varsheid van hulle verbintenis. Sy het op die kruin van erkenning en glans gevaar. Haar foto het gepryk by alle kaartjieslokette oor die land heen. Hulle huwelik het publisiteit geniet. Na ’n paar maande het die insinking begin kom namate sy doodgeswyg is.

Onvergenoegdheid . . . sy aanstelling by JC Vos, en haar onwil om in ’n vorm gegiet te word, om aan ’n vooropgestelde beeld te voldoen. Sy het skynbaar besluit om passief te wees. Niks negatiefs te doen, maar ook niks positiefs nie.

Wat sy egter vanaand gedoen het, grens aan die onvergeeflike. Hoe Petro Schoon in die woonstel beland het, is vir hom nie duidelik nie: of sy ingevra is deur Barbara, en of sy op haar eie gegaan het. Hy weet net dat, toe hy nog aankom, hy reeds die kenmerkende geur van Blanche se handeroom gekry het, en geweet het dat die meisie weer na ’n lang tyd die badkamer gebruik het. Die volgende wat hy gehoor het, was stemme.

Barbara s’n: dat Petro gekonkel het. ’n Ondergeskikte is. En, die ergste: dat sy skaapoë maak vir hom, Louis. Wierook strooi . . . allerlei absurde aantygings. Sy voete was aan die vloer vasgenael. Hy was ook vervul met ’n vreemde soort trots, dat die meisie nie in trane of histeriese ontkenning uitgebars het nie. Haar beheersing was so volkome, so salwend. Hy kon nie elke woord van haar hoor nie, maar hy kon agterkom dat sy meester van die situasie was.

Nou sit hy met die skrynende wete in sy hart dat hy teen sy vrou kant kies in die saak. En dat hy by die meisie verskoning moet maak. Dit lê soos ’n berg voor hom, maar ook soos ’n vuur in hom.

Hy wil haar nie spesiaal ontbied nie. Die vorige keer toe hy dit gedoen het, het dit op sy eie kop teruggekom. Nie net het hy hom onbekwaam betoon om die inhoud van sy lessenaar te ken nie, maar hy het hoogs onprofessioneel opgetree, selfs vermoeienis gebieg. Haar op die naam genoem. Hy het sekere reëls vir homself gestel, soos om teen familiariteit te waak. Om ’n voornaam hoogstens te gebruik wanneer daar waarlik informeel verkeer word. As hy ’n ouer man was, sou hy miskien nie so streng daarop gelet het nie. Maar nou, jonk in sy posisie, wil hy waak teen ’n beeld van gawe onnie wat saam met ’n ieder en ’n elk in die baan probeer draf.

Die geleentheid om teenoor Petro Schoon verskoning te maak, doen hom heel natuurlik voor toe hy haar na afloop van die aandstudie in die leë studiesaal aantref waar sy met nasienwerk sit. Toe hy inkom, kyk sy op. Dit lyk of sy haar boeke wil byeenraap en vlug, maar hy beduie dat sy moet bly sit. Hy besef hoe sy ongemerk ’n belaaide, gekwelde mensie hier by hulle geword het. Sy lyk diep ongelukkig, en heeltemal verstaanbaar ook.

“Bly sit, juffrou,” sê hy en staan oorkant die klein bruin departementele tafel. “Ek weet daar bestaan nie woorde voor nie, maar ek wil verskoning maak vir wat gisteraand gebeur het. My vrou het uit teleurstelling gehandel. Ek ken haar. Sy het nie naastenby alles bedoel nie. Maar as sy gedwarsboom raak, en dis seker menslik, dan byt sy al in die rondte, en wee die een wat naaste aan haar is.”

Petro antwoord: “Op ’n manier voel ék verantwoordelik vir wat gesê is. Ek weet nie hoeveel u gehoor het nie, maar ek wil eerlik weet: is ek dalk voorbarig in my optrede teenoor u? Ek is jonk; help my reg, asseblief. Ek erken dat ek veel in die lewe te leer het.”

“Ek sê jou tog dit was sommer ’n blinde aanval.”

“As dit so ’n blinde aanval was, as dit sonder rede was . . .” Sy kyk hulpeloos na hom op, en hy sien hoe swaar die woorde haar val, “waarom kom my verloofde dan met dieselfde soort beskuldigings?”

Ontnugter kyk Louis Paulter haar aan. Hy swyg lank, en keer die gedagtes om en om in sy gemoed; op ’n afstand, soos met ’n langtandvurk. Uiteindelik praat hy. “Miskien sal dit help om te erken dat ons bewus is van mekaar,” sê hy gedemp.

Sy kyk op haar hande. Hy sien die ring met die steen, net soos hy dit duidelik waargeneem het die oggend toe sy die getikte velle papier op sy lessenaar gehanteer het. Omdat sy niks sê nie, praat hy weer. “As ons daarby gekom het om dit te erken, kan ons daaraan werk. Dis ’n valse opvatting dat iets sal verdwyn as daar nie oor gepraat word nie.”

Sy lyk gepynig. “Ek is lief vir Danie,” sê sy, en raak die ring aan. “Hy is meer as my kêrel. Hy is vir my ’n manier van lewe.”

“Dieselfde met my en Barbara. Dat daar wilde lote uitspruit, wil nie sê dat ons mekaar nie meer liefhet nie. Maar as ek en jy in ’n ander tyd, ’n ander situasie, ontmoet het . . . verstaan? Dit is nie so dat jy net met één mens gelukkig kan wees nie. Ek glo wel dat elke mens ’n sielsmaat het, maar dan het jy ook jou lewensmaat, en dis die een aan wie jy jou toewy of behoort toe te wy.” Hy preek nie net vir haar nie, maar ook vir homself.

Sy knik. Haar mondhoeke roer.

“Dalk was ons onnatuurlik in ons optrede teenoor mekaar. Oorversigtig. Terwyl dit eintlik net ’n geval is dat ons as geesgenote ’n aanvoeling vir mekaar het. Ons moet ontspan, Petro.” Hy praat te veel, en hy weet dit. Die ewige onnie.

“Ja,” sê sy. Maar haar vingers strengel styf ineen. Dan: “Dankie, meneer Paulter. Ek moet gaan, hoor . . . hoor hoe raas die meisies.” Dis ’n sluk wat haar die sin laat opbreek het.

Toe sy van hom af wegstap met die stapel boeke in die arm, is dit vir hom reeds onmoontlik om te glo dat hy die moed gehad het om daaroor te praat.

Louisa du Toit Omnibus 6

Подняться наверх