Читать книгу Louisa du Toit Omnibus 6 - Louisa du Toit - Страница 7
Оглавление4
Dis Charlene Winters wat haar kom roep: “ ’n Vreeslike fab ou, juffrou. Maar dis nie juffrou se verloofde nie. Hy het ’n uniform aan.”
Petro vermoed onmiddellik dat dit Marius is. Met sterk blydskap loop sy sitkamer toe. Sy het hom nie naastenby verwag nie, het net van Rina verstaan dat hy “bos toe” moet gaan.
“So ’n paar dae menslikheidverlof voor ek opgaan,” deel haar broer haar mee nadat hulle gegroet en sy haar verbasing uitgespreek het. “Rina se klaagbriewe sal my nog van my verstand af laat raak.”
Petro het nie vir hom ’n antwoord nie. As Rina se briewe soos haar woorde moet wees, elkeen op vergelding gemik . . . Sy laat haar blik oor Marius dwaal. Hy lyk forser, bruiner. Maar op die oomblik ook verkreukeld, verslae en moeg.
“Was jy al by Rina?”
“Ek het nie ’n sleutel nie. Sy is natuurlik nog nie terug van die werk af nie.”
“Wat jy wel kan doen, is om solank vir Hennie by die bewaarskool te gaan kry. Jong, hy is darem nou alte vermaaklik. So ’n ruk terug het ek en Danie een aand by hom gebly, maar jy moet hoor hoe praat hy al.”
“Wat sê hy?” wil Marius gretig weet.
“Ag, ’n mens verstaan net hier en daar ’n woordjie. Tussenin sê hy elke keer: ‘Oppas, oppas.’”
“Dis Rina wat praat,” sê Marius tussen wrewel en hunkering.
“Weet Rina jy kom?”
“Nee wat, daar was nie tyd om tyding deur te kry nie.”
“Dalk moes jy haar darem net gebel het.”
“Kos geld, man, Petro. En ek is wat geld betref kronies in die knyp. Dis ook ’n vernedering vir ’n man as hy so min huis toe kan stuur. As ek nou opgaan bos toe, kry ek darem ekstra. Danger pay.”
“Ja, dis gaaf,” sê Petro, wat hom op hierdie oomblik verskriklik jammer kry. Hy is so groot gebou, lenig en fiks, mooi van gesig . . . maar sy weet dat hy geen leeuehart in hom omdra nie. Sy man kan hy nie staan nie, nog minder kan hy vir sy regte veg sonder om grond te verloor. Hy het geen dwingende persoonlikheid nie en sy leierseienskappe is naastenby nul. Rina sit vierkantig op sy kop.
Daarby vermoed Petro dat hy sedert sy troue ook ’n gevoel van minderwaardigheid ontwikkel het teenoor Rina, wat ryk ouers het en hom elke oomblik daaraan herinner. Dat Rina se mense in hierdie tyd ook nie iets vir haar doen nie, skep die indruk dat haar keuse hulle nooit geval het nie. Dalk is Rina te trots om hulle hulp te vra, of dalk reken hulle sy moet slaap op die bed wat sy vir haarself opgemaak het.
“Marius, wag net ’n rukkie hier vir my, ek gaan gou vir ons koffie soek,” beveel Petro. In der waarheid wil sy, benewens koffie soek, gou vir Danie bel.
Dis gelukkig hy wat antwoord.
“Danie, jong, doen my ’n guns, dringend.”
“Natuurlik. Jy weet mos jy kan net sê: ‘Spring, vreksel’ en dan breek ek my bene.”
“Loop, man. Luister, Marius het onverwags hier aangekom en ek is bang hy kan vir Rina by die woonstel gaan inwag. Jy weet dis gedurig ’n op- en aflaaiery. Ek wil nie hê hy moet hom dalk in ’n ander man vasloop nie.”
“Ek volg die strekking van jou woorde. Nou moet ék haar by die werk gaan haal?”
“Asseblief. Hy is nie met eie vervoer hier nie, jy weet mos hulle moes die motor verkoop.”
“H’m. Het mos uitmekaar geval, dan nie?”
“Sal jy, Danie, asseblief?”
“Jy weet ek kan die mens nie uitstaan nie.”
“Sy’s nie sleg nie, regtig. Maar afgesien daarvan, wag net teen toemaaktyd vir haar voor die munisipale kantoor, sal jy?”
“Oukei, omdat dit jy is wat vra. Maar onder protes.”
“Dankie. Marius sal seker voetslaan soontoe, dan kan hy vir Hennie sommer by die bewaarskool kry. Sê vir haar so.”
“Ek gaan nie met haar praat nie. Ek sal net gebare maak. Omineuse gebare.”
Maar hy moet toe praat, anders sou Rina nie geweet het om langs hom in te klim nie.
“Het jy dan nou besluit om beter betrekkinge met Petro se spul familie te handhaaf?” wil Rina weet toe sy eindelik snap dat hy haar kom haal het.
“Ek het darem nog ’n gewete.” Hy bestuur met sy pinkies en kyk skuinsweg na haar gekruiste enkels. Sy het die langste enkels wat hy nog aan ’n vroumens gesien het. Haar kuite begin eers hoog op. As sy sit, maak haar enkels ’n boog wat in alledaagse taal seker as sierlik beskryf sou kon word. Maar Danie Momberg voel effens afgestoot daardeur. Hy is te gewoond aan Petro se enkels, fyn en beskeie. Petro se proporsies pas net mooi in op die kussing van sy kewer, soos in die kring van sy arms.
Sowaar, dink Danie, dis rêrig asof sy deur die jare na my liggaam gebeeldhou is, sy, Petro. Holte vir kurwe, en andersom.
“Toe, laat ek nou maar hoor wat jou storie is,” eis Rina toe hulle op pad is.
“Jou woonstel het afgebrand, en daar is besluit om my vooruit te stuur om die nuus taktvol aan jou oor te dra.”
“Dis nie waar nie, Danie Momberg.” Maar sy kyk tog onrustig na hom.
Hy haal sy skouers op. “Hulle het my nie gevra om jou te oortuig nie, net om die nuus mee te deel.”
“Nou is ek sowaar in die middel van die wêreld,” erken die vrou. Sy is nogal aanvaarbaar as sy dronkgeslaan is, dink Danie. Dit versag die lyne van haar gesig. Sy het ’n liggeel, somerse broekpak aan en haar toonnaels in die oop sandale is geverf met ’n lak wat die kleur van dooie bloed is. Ook haar vingernaels, dieselfde kleur. Tot sy verbasing sien hy dat haar hande nie stil is nie. Altyd ’n betroubare barometer, iemand se hande. ’n Mens kan jou nog so koel voordoen, maar die hande verklik altyd. Sy vroetel boonop aan haar naels.
“Sjaddap. Ek gril as iemand met sy naels bodder.”
“Hel, ek is bly jy is nie my man nie.”
“Ek ook. Eindelik stem ons oor iets saam.”
“Dan liewer die maaifoedie van ’n Marius. Ek en jy sou binne ’n week geskei het.”
“Vals. Ek sou in honderd jaar nie met jou getrou het nie.”
“Gestel ek was die enigste vrou op die aarde?”
“Dan het ek jou met aarde en al opgeblaas.”
“En jy dan?” Dit lyk waaragtig of sy dit begin geniet.
“Ek? Whau, dis ’n probleem. Ek sou maar in ’n erdvarkgat duik en my ore toedruk.”
Sy lag, kort en hard. ’n Mens hoor nie klokkies lui as sy lag nie, nóg die gekabbel van ’n bergstroompie, nóg die gekoer van duifies. Die lag, meer as enigiets anders, begin dit by hom tuisbring dat sy ’n vreugdelose innerlike het. Van nature, of deur omstandighede?
“Kom nou, Danie Momberg. My woonstel het nie gebrand nie, het dit? En daar is ook nie fout met my man of kind nie, dan sou jy meer sensitief gewees het.”
Sy noem hom altyd Danie Momberg. Waarom, weet nugter. Miskien wil sy dit onderstreep dat daar nie vertroulikheid tussen hulle is nie. Hy durf tog nie aanvaar dat sy hom deur haar protesterende toon probeer naderlok nie. Nee, hy wil ten slotte glo dat dit bloot katterig bedoel is.
“Natuurlik het jou woonstel nie gebrand nie. Maar dis nie te sê dat jy uiteindelik die vuur gaan vryspring nie, hoor.”
“Ek sal uitkyk vir jou as ek eendag daar aanland,” sê sy sarkasties.
Sy is nie op haar mond geval nie. Hy is maar bly. Die oomblik wat hulle ophou skoor, sal hulle in ’n ongemaklike swye verval, dit weet hy. Enersyds omdat hulle mekaar nog nie naastenby gepeil het nie, andersyds omdat hy ’n hopelose geselser is. Hoe gelukkig dat hy nie meer met Petro hoef te gesels nie. Met haar kan hy práát.
Hy weet hoe ’n soort lewe hy en Petro saam sal hê. Stillerig, genoegsaam, hy die koerant-pantoffel-soort, sy die spook-en-spartel-ene wat hom goedig verwyt as sy, moeg gedraf, ’n oomblik op sy knie kom sit en asemskep.
Hulle sal min uitgaan, ontslae raak van drellerige vriende wat ongevraag kom kuier en te lank sit. As een van hulle ’n rukkie lank weg moes wees, sal daar met die intrapslag na die maat gesoek word. En om mekaar te vind, sal elke keer wees om weer heel te word.
“Kan ons my kind gaan oplaai?” vra Rina.
“Jou kind is al gehaal.”
“Ha-ha-ha. Nou weet ek. Sapraais, hè?”
“Ek weet van niks.”
“Maar dit ís Marius?” dring sy aan.
“Ek het hom nie gesien nie.”
“Ag, jy is tog ’n drup. As dit dan hy is, waarom moes jy my kom haal? Ek hét mos ’n geleentheid.”
“Juistement.”
“Ag, foei tog. Is dit die hele ding? Marius moenie sien ek klim uit ’n ander ou se kar nie. Jy en Petro is darem bitterlik naïef. Ek sal nie verbaas wees as julle nog aan Krismisvader en die ooievaar glo nie.”
“Moet tog net nie dink jy het alleenreg op die feite van die lewe net omdat jy ’n hengse eiedunk het nie.”
Nou het hy haar eindelik kwaad. “Ek sal jou nie ’n bees noem nie, want jy is ’n buffel, Danie Momberg,” sê sy. Sy het nie ’n goeie manier van verkleur nie. Dit bring vlekke oor haar gesig. “Eiedunk. Wie kan ’n eiedunk hê met ’n soort lewe soos myne?”
“Dis die beste ding wat jy kon oorkom, dat jy hand uit die mou moet steek. Dit gaan jou eindelik mens maak.”
“En hoeveel weet jy miskien van my af? Het die liewe Petro my met jou bespreek?”
“Nie nodig nie. Wat jy is, roep hard genoeg. Iemand wat aan so baie aandag gewoond was dat sy nou daarsonder krepeer.”
“Jy sal maak dat ek moord pleeg, Danie Momberg. As ek die kans kry, sal ek jou iets aandoen, dis maar klaar.”
Hy roer sy duime. “En goed met kwaad vergelde, nè. Toe, verwyder jouself.”
Sy klim woes uit die motor nadat hy voor die woonstel stilgehou het. Op die stoepmuurtjie sit Marius met sy kind en speel. Toe hy vir Rina sien, wip hy rats bo-oor die muurtjie en snel haar tegemoet. Voordat hy wegtrek, het Danie net nog tyd om te sien hoe die fors, sonbruin man sy arms oopmaak. Hy hou verder die indruk oor dat daardie arm tevergeefs geopen het, omdat die vrou nie gewilliglik daarin gestap het nie. Maar later in die aand sal hy sy vrou wel sagmaak.
Die beeld bly spook by hom. Die breë, gretige borskas van Marius Schoon, die amper kinderlike vreugde op die aantreklike mansgesig met die kuiltjie in die ken . . . teken van ’n minnaar, het hy iewers gelees.
Maar koppig ontoegeeflik het die ruglyn van die vrou gebly.
Die kind was iewers om hulle, die klein krulkop-passievrug wat volgens alle aanduidinge ’n glipsie was.
’n Sonderlinge weemoed, ’n aartsverlange, oormeester vir Danie Momberg. Dis asof hy Petro nog nooit beter verstaan het as juis nou nie, en asof hy haar nooit minder kon ontbeer as juis nou nie. Blindweg ry hy koshuis toe, al weet hy dat sy vandag toesigdiens het. Dalk kan hy haar ’n enkele kwartiertjie sien.
Dié ou meisiekind moet ek hou, dink hy koorsagtig, asof daar plotseling ’n bedreiging vir hulle samehorigheid ontstaan het. Daar sal maar alte maklik iemand anders kom om haar weg te raap as hy haar deur sy vingers laat glip. Reken, of ’n finalejaar-tokkelok nie eenkeer na hom gekom en hom vermaan het dat hy Petro ’n vrye keuse ontsê deur haar so vas te hou nie.
“Man, Petro het klaar gekies,” het hy ongeduldig uitgelê.
“Maar jy skynbaar nog nie. Jy het twee keer iemand anders uitgeneem, en dis net waarvan ek weet. Jy sien, ek kan verdeeldheid tussen julle twee bring as ek wil, maar dis nie my aard nie.”
“Nou verstaan ek: sodra ek skietgee, wil jy naderstaan.”
Dit was raak. Die outjie was ongemaklik, maar volhardend. “Ek stel belang in haar, ja. Baie. Ek kan haar uitvra, maar ek is nie ’n rugsteker nie. Ek wou eintlik maar net vir jou sê: As jy nie werklik meer belangstel nie, moenie ander verhinder nie.”
Toe kyk Danie die man reg in die oë. “Ek stel werklik nog belang, my ou.”
Daar was die pyn van teleurstelling in die gawe oë. “Dan is dit tot daarnatoe,” het hy gemompel, en Danie se deernis was gemeng met die ewige oorwinnaarsgloed van die manlike spesie.
Danie kon daardie episode nog nooit vergeet nie. Die onderonsie het plaasgevind in ’n studentekafee, en iets van die atmosfeer het bly naleef: die swaar koffiegeur wat laag oor die tafels hang, die klingeling van die geldlaai, die tokkelok se blik: sagbruin, gepynig. Hy moes tog waardering voel. Die outjie kon bloot probeer het om vir Petro af te vry, maar hy het nie.
En ten slotte moes hy eintlik dankbaar voel omdat die teleurgestelde man sy oë ’n slag oopgemaak het vir die werklikheid: hy kon Petro verloor. Dit het hom genoop om haar nie langer as net nog ’n faset van sy lewe te beskou nie. ’n Rukkie het hy selfs deure vir haar oopgemaak en haar met stolas gehelp, aan die regte kant op straat langs haar geloop, by die koshuis se voordeur aangemeld as hy haar wil hê. Maar hy het spoedig daarmee opgehou toe dit net vreemdigheid tussen hulle bring. Om die waarheid te sê, Petro het een aand kortliks opgemerk: “Daantjie, as jy nie ophou om jou soos ’n gentleman te gedra nie, sal ek ’n bietjie op jou bedrywighede ingaan. Lyk my jy het ’n gewete aan jou. En ’n baie skuldige een daarby, as jy my vra. Het jy weer deur die draad gewei?”
“Ag, ek het maar net besluit dat jy so ongemerk ’n lady geword het.”
“Sekerlik nie deur jóú toedoen nie. Goed, jy mag my dan soos ’n lady behandel, maar asseblief nie so opsigtelik nie. Kyk of jy jou nuwe goeie maniere so ongemerk tussen die slegte oues kan inwerk.”
Danie is verplig om vanmiddag by die skoolkoshuis se voordeur aan te meld. Petro verwag hom nie teen halfses in die middag nie en hy sal sit en biltong word as hy in die motor probeer wag dat sy hom moet raaksien.
Toe sy eindelik kom, is sy ’n bietjie verwaaid en uitasem.
“Jy moet maar net sê as jy nie tyd vir my het nie.”
“Daarvoor ken ek jou te goed, Danie Momberg. Sê ek wel so iets, dan kom jy weer glad nie.”
“Ek bly nie lank nie. Wou maar net ’n rukkie aankom.”
“Kom ons glip ’n oomblik by die sitkamer in. Dit gaan maar op ’n drafstap as ek toesig het, jong. Van die môre af, ek moet kyk dat almal opstaan en nie weer gaan lê nie, en saans laat moet ek kyk dat almal gaan lê en nie weer opstaan nie.”
“Engel met die septer. Ek kom net verslag doen, ek het jou mislike skoonsuster huis toe gevat.”
“Dankie.”
“En sommer seker gemaak dat sy nooit weer haar voete in my kar sit nie.”
“Dit glo ek wel. Julle is erg onsmaaklik as julle by mekaar is. Julle moet mekaar nog net insluk en verteer.”
“Sal haar maar heel-heel moet insluk, anders breek ek al my tande op haar.”
“Het jy net daaroor gekom? Ek het werk, jong.”
“Nee, ek wou jou nog iets kom vertel. So ’n jaar of wat gelede kom ’n tokkelok mos een aand na my toe, vra of ek jou nie wil los sodat hy jou kan kry nie. Toe sê ek nee.”
“En vanaand kom jy aankondig dat jy van plan verander het?” wil sy onbewoë weet.
“Nee, ek wou jou net kom sê, ek staan by my besluit.”
“Mooi-mooi. En tata, hoor, die spul moet gaan eet en hoor hoe raas hulle. Netnou kry ek die skuld.”
“Sukkel Long-play met jou?”
“Hoërskoolkinders gee byname, nie grootmense nie, Danie.”
“O, jy keer vir hom. Het hy al teen jou skouer gehuil?”
“Hoekom sou hy, man?”
“Dis tog bekend dat sy skone vrou vir hom een te veel is.”
“Dan het dit nog niks te doen met jou en my nie. Laat waai, sien jou môreaand.”
En daarmee is sy weg. Hy kan glo dat sy moet gaan, want toe die deur van die sitkamer oopgaan, spoel ’n roesemoes hulle tegemoet, dit lag en gil en roep. Hy kry ’n blik op die spul meisiekinders waar hulle voor die eetsaal bondel en hulle nekke verrek om hom te sien.
Op die breë buitetrap loop hy hom trompop vas teen Louis Paulter, wat van die skool se kant af kom. Hulle knik net vinnig vir mekaar.
Louis Paulter het ’n geheue soos ’n olifant, een van sy beste kwalifikasies. Sommer vroeg in die jaar ken hy elke nuwe skoolkind se naam. Hy onthou hierdie man se gesig . . . het hom al in die universiteitsbiblioteek gesien. Hulle het by aangrensende kataloguslaaitjies gestaan en indekskaartjies bestudeer. Moet Petro Schoon se verloofde wees, anders wat soek hy hier? Die een wat al veertien jaar lank haar hart in pand hou. Hy ry ’n kewer, Louis het al vir juffrou Schoon langs hom gesien inklim terwyl hy self soos ’n lord bly sit, gesig verskuil, houding ontspanne.
Dan is dit nou hy.
Taamlik argeloos, slenterklere, hare tot teen die kraag. Maar treffende oë, wat van onder half gesakte boonste ooglede na jou kyk. Groen, die oë, so ’n soort rookgroengrys. Verdere besonderhede hou Louis Paulter nie oor nie, daarvoor was die oomblik van aanskoue te kort. Maar ’n indruk bly hom by van ongeërgde selfversekerdheid, ’n “Ek is ek en newwermaaind wie jy is”-houding.
’n Meisie sal dit seker bekoorlik kan vind, dink Paulter. Maar tog is Petro Schoon so fyn en gevoelig . . . as ’n lewenslange verbintenis met hierdie ou maar net nie haar senuwees opkoffie nie. Sy is angsvallig stiptelik, byna nerveus, en sal altyd agter hierdie man moet aandraf om los punte op te knoop, dinge vir hom te onthou.
Aan die einde van die jaar, het sy gesê. En: “Ons is nie haastig nie.” Dit gee haar darem nog ’n paar los maande. Maar hoe loop sy gedagtes dan nou? Asof dit ’n straf is wat sy tegemoet gaan? Dit sal net jammer wees as hulle hiervandaan verkas. Die meisie het wondere verrig in die tydjie dat sy hier is. Sy het daarin geslaag om te breek deur die verstarring wat taalonderrig kan wees. Sy het iets lewends wakker gemaak, ’n skeppingsdrang by die meer begaafdes en minstens belangstelling by die minder begaafdes. Soos hy reeds kon vasstel, is sy kalm en rustig wanneer sy met letterkunde besig is. Dan wyk die effense gejaagdheid, die stres wat ’n plooitjie tussen haar oë bring.
Hy het meer as een geleentheid gehad om haar metode van onderrig te beluister; deur ’n klasbesoek, deur die interkom, deur ’n snapsie luister in die verbyloop. Sy het ’n rustigheid wat tot kalmte dwing, ’n selfvertroue wat oortuig omdat sy allereers self die stof verwerk het, ’n sangerigheid in haar stem wat haar voordrag uitstekend maak. ’n Week of wat gelede het hy by haar oop klasdeur verbygestap. Voordat die kinders hom kon gewaar en begin skuifel, was hy reeds buite sig. Maar hy het haar ’n enkele sin hoor voorlees of aanhaal. Dalk wou sy ’n taalbeginsel toelig, hoe sal hy weet? Hy weet net dat die poëtiese woorde in sy kop bly draai het, sodat hy dit gaan neerskryf het voordat hy dit dalk vergeet. ’n Enkele sin, uit ’n vir hom onbekende Nederlandse bron: Maar het is nog lang eer de lente begint. Sedertdien is dit ’n dwanghandeling, om die woorde soos ’n magiese inkantasie in te rig na die maat van sy voetstappe: Maar het is nog lang eer de lente begint . . .
Dit word ’n obsessie om te weet waaruit sy gelees het, en wat daarop volg. Daar groei ’n seldsame betowering uit die eenvoudige woorde. Daarby was haar stem so rustig en sangerig. Hy vermoed dat hierdie stilte en rustigheid haar eintlike aard is, dat die alledaagse lewe haar fyn siel misbruik.
Wat hy in daardie oogwenk opgemerk het, is dat sy die leerlinge in die holte van haar hand het; selfs die seuns, wat maklik kan gekskeer met iets soos letterkunde. Gedigte, sang, waar hulle ook al hanswors kan speel. Sy is ’n towenaar, hierdie Petro Schoon.
Ek raak nou belaglik, betig Louis Paulter homself toe hy in die verlate woonstel sy baadjie aantrek. Laat my meevoer deur ’n juffroutjie se voorlees van ’n sinnetjie. Vir wat dink hy so aaneen oor die meisie? Hy is immers nie ’n rokjagter nie, en nie seksueel gefrustreerd nie. Om met hom rusie te maak, hits eerder vir Barbara op as wat dit haar inhibeer.
Maar dit wys net hoe laat dit tussen hom en Barbara geword het. Uitvlug soek in drome, dis die werk van ’n adolessente skoolseun.
Dis net daardie diepgesetelde, onontwortelbare hunkering na die intellektuele lewe, na dit wat die basiese verbysteek. Om iemand op ’n blywender vlak te vind as net voedsel, vervulling van die vlees, verdraagsaamheid in die daaglikse roetine. So was dit met hom en Blanche, maar hulle tyd saam was so kort. Vir sy magistergraad het hy langs haar sterfbed gesit en werk. As hy terugdink aan daardie tyd, is dit asof sy liggaam voelbaar swaar van leed word. Ja, dis hoe hy destyds gevoel het: die volkome polsing van leed, asof dit saam met die bloedstroom sirkuleer. Elke sel van hom het aangetas gevoel, asof die kankerspruitsels wat in haar woeker, terselfdertyd in hom is.
Op die ou end was hulle net vier jaar getroud voordat sy dood is. As hy maar geweet het, sou hulle vroeër getrou het. Daarom het hy elke woord bedoel wat hy vir Petro Schoon na haar aankoms gesê het: dat ’n mens meer het om te verloor, hoe langer jy wag. En dat sy nie onnodig moet uitstel nie. Hy wou eers op die been kom, het ’n paar jaar skoolgehou voor hulle getroud is. En toe, op nege-en-twintig, was hy ’n wewenaar met ’n kind van agtien maande.
Hy is nou in sy vroeë dertigs, maar voel asof hy alles gesien en beleef het. Smart kan jou baie gouer ryp maak as vreugde, dis nie altemit nie. Swaarryp, voldrae. Wat ’n ramp dat hy en Barbara nie kan stryk nie. Genade, hy het nie lus vir hierdie koue oorlog met sporadiese uitbarstings nie. Dis soos hiënas by aas: byt, tjank en vlug – om net weer nader te kom en te sluiploer op ’n gaping.
Barbara moet daarvan hou; sy beroem haar op ’n kunstenaarstemperament. Maar hy soek immers vastigheid in sy huwelik. ’n Rekenaar, dink hy, sou ons nooit by mekaar uitgebring het nie. Maar juis omdat hulle mekaar nie deur ’n lewelose metaalprogram ontmoet het nie, moet hy glo in die doel en sin van hulle verbintenis.
Aan tafel bemerk hy by Barbara ’n ongekende popeling van opwinding. Sy is bedagsaam, gee vir almal aan die personeeltafel botter, sout en brood aan. Daar is iets wat hom eindeloos dankbaar stem: dat Barbara gewild is by die dogters, of by die oorgrote meerderheid dan. Sy is vir hulle ’n heldin, ’n onbereikbare simbool wat in ’n waas van romanse gehul is. Hulle kan dit nie glo as sy hulle by haar private heiligdom binnenooi en hulle vergas op foto’s, knipsels en vertellings aangaande haar sogenaamde filmloopbaan nie.
Hy, Louis, laat dit daar. Die dogters gedy onder hierdie gemoedelikheid, en Barbara gedy onder die bewondering van die onvolwasse brigade. Dis insiggewend dat sommige van die ouer meisies soos Charlene Winters, die hoofprefek, nie veel aan Barbara het nie. Hierdie enkeles behandel haar met terughoudende beleefdheid, maar gaan eerder na die kos- of linnematrone as hulle ’n probleem het.
Na afloop van die aandete stap Louis saam met Barbara deur die gange terug woonstel toe. Dis steeds ’n golf van opwinding wat haar beheer, sodat sy buitengewoon vriendelik met hom gesels.
“Gaan jy vanaand uit?” wil sy weet.
“Ek moet ’n bietjie by die skool gaan werk. Jy . . . jy kan saamgaan,” bied hy huiwerig aan. Daar was tog tye, reg in die begin, wat sy saans by hom in sy kantoor deurgebring het. Net, dit het nie lank geduur nie. Hy kon sien hoedat die beklemming in haar opwerk sodat sy later sekerlik sou kon skreeu. Vir haar is lewe vibrato. Vibrato, ja . . . die toon moet etlike kere per sekonde tussen nou grense verander. Hy onthou die term nog van die bietjie musiekonderrig waartoe sy ma hom gedwing het.
Barbara kan nie verstaan dat die liggaam van ’n mens beweegloos kan bly terwyl die brein gevoed word deur slegs die kanaal van die sintuie nie.
Sy antwoord nie op sy uitnodiging nie. Dit kan wees dat dit kwalik by haar geregistreer het. “Ek wil jou iets wys,” sê sy in plaas daarvan.
Hy kyk na die fliek- en TV-rubriek van ’n tydskrif wat sy voor hom oopvou. Hy is nie van plan om dit deur te lees nie, maar vir haar onthalwe laat hy tog sy blik vinnig oor die reëls gly. Toe hy die naam Stacey Vaughan raaksien, kriewel sy nekvel meteens. Dis die man wat regisseur was van die rolprent waarin Barbara opgetree het. Hy wat Louis is, kon nog nooit vasstel wat die presiese verhouding tussen Barbara en Vaughan was nie. Hy het nog steeds die hinderlike idee dat daar ’n romanse was wat onderbreek is toe die ernstige skoolmeester tussenbeide tree.
Nou lees hy, terwyl Barbara hom ondersoekend dophou, dat Vaughan in opdrag ’n TV-film gaan maak. Hierdie dramaproduksie (’n emosionele stuk met ’n tragiese einde) sal afspeel op ’n perdeteelplaas wat deur een van die kameramanne ontdek is in sy soeke na ’n geskikte terrein.
“Dis hier,” sê Louis verbaas. “Die perdeplaas hier buite.”
“Lees verder,” spoor sy hom aan.
Hy lees hardop: “Stacey Vaughan wil nog nie die sluier lig oor die kandidate wat hy in gedagte het, veral vir die rol van Laura Traut nie. Hy wil egter graag nuwe gesigte bekend stel en sou ’n paar ’natuurlike’ spelers van die omgewing self verkies.”
Meteens lê Barbara se hele gedagtegang voor hom oop. “En jy reken dat hy jou in gedagte het?” vra hy sonder die drif van meelewing. Sy stem klink trouens stram.
Sy gryp die boek voor hom weg. Hy besef dat die dun skeidslyn tussen vriendelikheid en ongeduld deur sy stemtoon neergehaal is. “Ek weet wat jy wil sê, hoor. Jy reken Stacey sou my al genader het as hy my wou hê. Dan sê ek nou vir jou: hy sal nog. En jy sal nie in my pad staan nie, Louis Paulter.”
“Nee,” sê Louis, en ’n listigheid ontwaak in hom. “Ek sal nie in jou pad staan nie. Op voorwaarde dat my kind vir goed na ons toe kom.”
Sy knik en glimlag.
Maar haar geredelikheid bly hom hinderlik navolg.