Читать книгу Louisa du Toit Omnibus 6 - Louisa du Toit - Страница 6
Оглавление3
Danie Momberg se motto is taamlik eenvoudig en, vir hom, nie moeilik om na te volg nie. Dit heet eenvoudig: “Moenie wharrie nie”. So sê hy dit, en so skryf hy dit ook wanneer nodig: wharrie. Hy dra hom dus nie dood aan sleurwerk, drukte en aspirasies nie. Hy hou nie van vinnige besluite nie. Hy wil elke probleem tydsaam bepeins, en die maklikste oplossing aanwend. Hy het ’n hekel aan die ewige wedywering, professioneel of hoe ook al. Hy beskou dit as ’n bose kringloop, amper soos die siklus van sy ma se medisyne: sy neem iets vir haar hart, en dit tas haar maag aan, sodat sy iets vir die maag moet neem wat haar dan weer kopseer gee. Die pille wat sy vir die kopseer neem, tas haar hart aan.
Dis hoe dit gaan.
Soms ervaar Danie ’n soort lewensvermoeienis. Nie moegheid nie, want hy werk nooit so hard dat hy uitgeput raak nie, behalwe ’n bevlieging af en toe, wat genadiglik nooit te lank duur nie. Bedeeld met ’n goeie verstand, het hy nooit nodig om hom dood te leer nie. Dat hy met nagraadse studie besig is, is op sigself ’n soort uitstel van die werklikheid van die arbeidsmark.
As jy eers tot die kommersiële wêreld toetree (want alles gaan tog maar om geld, reken hy), is jy waaragtig niks anders as die laphaas met die honde op jou hakke nie.
Hy sou graag, as hy sy sin kan kry, vryskutskrywer word, maar tot dusver het sy pennevrugte almal teruggekeer huis toe, kompleet soos goeie posduiwe. Nie dat dit hom hewig teleurstel nie; na ’n enkele deurlees van die begeleidende kritiekbrief (Jammer, ons vind dit nie geskik vir plasing nie; te filosofies; te duister; weet nie watter boodskap u eintlik wil oordra nie; altyd dieselfde ou storie) smyt hy dit eenkant neer. Mense maak hom so moeg, hulle maak hom skoon lam.
So lê Danie dan lam-lam in sy kamer na die plafon en staar toe sy ma inkom. Hy het sy ma lief, maar sy pla hom. Sy het ’n idee dat hy net soos sy pa is, en hy het ’n idee dat sy reg is. En verder het hy ’n sterk idee dat sy nooit in haar lewe sy pa verstaan het nie. Sy pa was nie lui nie, hy was net buikvol. Hy het sy vrou goed genoeg nagelaat, maar Betta wil werksaamheid sién om dit te glo.
“Ek dag jy leer.” As Betta Momberg hierdie woorde een keer gesê het, het sy dit duisend keer gesê.
“Ek léér nie, Ma, ek doen navorsing en werkstukke. Vir honneurs, ingeval Ma nie weet nie.”
“Ek sien jou nooit juis werk nie. ’n Mens kan nie net so rondlê nie.”
“Ek lê nie rond nie. Ek dink.”
“En as jy dink, moet jy mos op jou rug staan. Ek ken daardie storie.”
“H’m. Pa was seker ook so,” som Danie ongeraak op.
“Juistement. Die gras moet gesny kom, en die krane lek, en die latrine hou aan met spoel as ’n mens hom afgedruk het. En my kamerlig bly dood. Saans moet ek ’n kers aansteek of ek moet in die sitkamer sit en hekel. Hoeveel keer het ek jou gevra om ’n inskroefgloeilamp vir my te koop, maar nee. Ons sit met tien bajonette.”
Een erge oomblik dink Danie dat sy van regte bajonette praat, die soort waarmee vroue hulle seuns kan doodsteek. Dan snap hy, en werk in sy kop uit. “Dis nou die vierde keer,” antwoord hy op die enigste vraag wat in die loop van die lang verwyt voorgekom het. Hy besluit terstond om iets aan al die sake te doen. In haar kamer sal hy ’n muurlampie met ’n verlengdraad aanlê, want dis ’n ou huis met min muurproppe. Die krane sal hy stywer gaan toedraai en die latrine se hefboompie sal hy ’n bietjie wikkel. Die gras is ’n kruis. Vir die ou wat grasperke uitgedink het, moes daar ’n vreeslike straf gewees het. Soos om ’n hele grasperk met ’n skeermeslemmetjie af te sny, week na week. Dit sou die vent uit sy sotterny verlos het.
Danie Momberg is nie lui nie. Werk kan soms ’n furie by hom word. Dit bou op soos ’n langsame siklus, en bars uit. Dan moet niemand naby hom kom nie. As Betta sulke tye kom staan en raad gee, sorg hy sommer ongemerk dat sy ’n skoot grond of water in die gesig kry. Sy kon nog nooit bo twyfel vasstel of dit opsetlik geskied nie, en blaas veiligheidshalwe die aftog.
Tydens hierdie werkuitbarstings ruim Danie dan nie alleen sy kamer van hoek tot kant op nie, maar hy spit, plant en skoffel, verf en timmer, ry ysterwarewinkel toe om lysies goed te koop. Boonop sit hy snags tot laat en studeer. Wanneer hierdie tekens aan Betta se horison begin verskyn, raak sy opgeruimd en loop heeldag en neurie. En hou intussen duim vas dat die brander nie breek en strand alvorens die werk klaar is nie. Aan die ander kant het sy dan niks om oor te neul nie, en sy mis die gebruiklike bron van irritasie.
Gewoonlik breek die brander wel ontydig, sodat sy dan self met tou en kitsgom en kleeflint moet inspring om noodreddingswerk te doen. ’n Los geut moet dan maar in die wind klap, roosbome moet half gesnoei staan en los vloerteëls moet onder jou skoensool bly wikkel.
Maar die werkgier het hom lank laas voorgedoen. Dwarsdeur die vakansie het Danie “gedink”. En noudat sy meisie skoolhou en hy ’n nuwe roetine moet aankweek wat haar betref, is dit of hy ’n bietjie van koers af is.
“Ek verwonder my dat Petro Schoon jou nog nie gelos het nie,” deel Betta Momberg nou haar gedagtes met haar seun. “ ’n Man wat so kan niksdoen, dis ’n kruis vir ’n vrou.”
“Los tog nou maar vir Petro, Ma. Sy verstaan my baie beter as wat Ma ooit vir Pa verstaan het, of vir my.”
Geen moeder hou daarvan om so iets te hoor nie. “Sy’s net te gewoond aan jou om nog dinge raak te sien,” betaal sy hom terug.
“H’m. Kan wees,” stem hy saam, net om van haar ontslae te raak. Nie dat hy heeltemal van opinie verskil nie. Hy en Petro is wel baie gewoond aan mekaar. Ontstellend gewoond. Hulle het nooit ander maatstawwe gehad as net mekaar nie. ’n Paar keer het hy ander meisies probeer uitneem, maar dit het hopeloos te veel inspanning geverg. Hy moes “oe” en “aa” en bek trek, en hy het vir Petro so gemis dat hy haar laataand opgesoek het na afloop van die eerste afspraak. Sy het saam met hom pepermente gekou en hom na die liefdesavontuurtjie uitgevra, selfs verbeteringe aan die hand gedoen toe hy moes bely dat dit nie geslaag was nie.
Dis vir hom die grootste enkele oase in sy lewe: dat hy volkome homself by Petro kan wees. Sy is nie die neulerige soort vroumens wat sy ma is nie. As sy byvoorbeeld moes wees soos daardie kyfbek van ’n Rina, die vrou van haar broer Marius, sou hy haar lankal in haar peetjie gestuur het. Daardie vrou se mond gaan hy nog toestop.
Danie rys orent. Nou gaan stort, besluit hy, en dit lê soos ’n berg voor hom. Nie om daar in te kom nie, maar om weer daar uit te kom.
Toe hy eers aan die stort is, kan hy nie klaarkry nie. Hy laat die koue water eindeloos oor hom spoel asof dit alle ergernisse kan weg was . . . tot sy ma hard klop en oor die waterverbruik maan. En die afdroëry is altyd ’n kwessie. Jy dink jy is oral droog, en jy trek aan, en dan steek jou hemp teen ’n klam rug vas, veral as jy dit oor jou kop trek sonder om die knope los te maak. Knope is ’n ander onnodige uitvindsel.
Maar hy moet darem vars wees as hy na Petro toe gaan. Hy weier om slonsig te raak net oor hy aan haar gewoond is. Sy besnuffel hom graag as hy lekker ruik. Maar die nuwe omstandighede maak haar afgetrokke. Dis vir hom ook ’n aanpassing. Hy was gewoond om by haar studentekoshuis net ’n klippie teen die ruit te gooi om haar aandag te trek. Nou moet hy altyd in die motor sit en wag tot sy eindelik deur die venster kyk. Voordeur toe gaan hy nie, die meisiekinders krioel en is nuuskierig.
Dis vanaand Charlene Winters wat vir Petro inlig dat Danie in sy motor wag. Die meisiekind is nogal ’n betroubare brandwag, en volwasse genoeg om nie op loop te sit as sy ’n man sien nie. Sy het self ’n “groot” kêrel.
“As ons nog veertien jaar uitgaan, sal ek seker nog veertien jaar soos ’n straatvrou by jou moet kom inklim,” verwyt Petro skadeloos toe sy langs Danie in die diep kussing van die kewer neersink. Sy voel gedaan, afgemat. Agt periodes met groot klasse, daarna buitemuurs, toesig en nasienwerk. Sy vervies haar selfs ’n bietjie vir sy rustigheid.
“Korrek. Ek sal dit net dertien maak om jou te troos,” beloof Danie. “Nee, ongelukkige getal. Sê twaalf.”
“Dan is ek vier en dertig.”
“Maak dit vyf en dertig, vir ’n ronde getal. Dit gee ons weer dertien. Kom ons beklink dit met twaalf en ’n half. Sal ons die bod toeslaan?”
“Ag, man. Hou op strooi praat. Ek is moeg. Ek sou liewer in my kamer wou bly en gaan slaap. Dit voel vir my of ek nooit weer in my lewe uitgeslaap sal kom nie.”
“Slaap maar teen my skouer. Moet net nie op my hemp kwyl nie.”
Sy laat rus inderdaad haar kop teen sy skouer. Dis so bekend soos ’n nagtelike kussing teen haar wang. Die reuk van sy hare, sy vel, sy asem, is ’n kwessie van assimilasie. Sy begeer soms dat hy net een keer weer heeltemal vreemd vir haar kan wees, sodat sy hom van nuuts af kan beleef. Soos toe hy die skoolseuntjie was aan wie sy haar kon verkyk: soms uit sy vel, ’n voorbok by die spel, soms ingedagte met ’n dik boek op die skoolstoep. Tot die dag toe sy, gekneus deur ’n misverstand op die speelgrond, langs hom uitgespoel het en hy vir haar ’n toffie aangebied het.
“Dit was taaitoffie,” sê hy hardop nadat sy ’n wyle slegs die lui roering van sy skouer, soos hy bestuur, onder haar wang gevoel het. “En ek moes dit met ’n haasbek probeer kou.”
“Dit was sagte toffie,” weerlê hy.
“Danie Momberg, ek sal jou tot die dag van my dood wed dit was taaitoffie. Of sê dan tot die dag van my troue, dit kom op dieselfde neer.”
“Nou ja, ek kan ook nie dink dat ek as tjokkertjie geld sou hê vir sagte toffies nie.” Hy dink ’n tydjie na. “Weet jy, noudat ek daaroor dink, ek moes al vreeslik baie op jou uitgegee het. Kan nie nou meer kop uittrek nie.”
“Beslis nie, dan moet jy my uitbetaal vir die deel van die verloofring wat ek vir jou geleen het.”
“Dankie dat jy my herinner. Ek vat jou huis toe, my ma het darem vanmiddag opgehou broei en begin verwyt. Dan is sy ten minste onderhandelbaar.”
“Ek weet presies wat haar woorde was toe sy begin verwyt het: jy lê op jou rug, die krane lek, jy’s nes jou pa.”
Hy kreun. “Daar het jy my nou so pas verwyt.”
Sy byt hom aan die oor. En in ’n plotselinge opwelling van liefde knibbel sy teen die wang langs ken toe.
“Wag. Ek flankeer nie as ek bestuur nie, juffrou.” Maar sy los hand sluit warm om haar knie.
Petro ken die huis van die Mombergs. Hier woon hulle reeds al die jare. In hierdie tuin het sy en Marius, as buurkinders, aanvanklik saam met Danie en die ander ouer Mombergies wegkruipertjie en bal gespeel. Op hierdie voorstoep, agter die rankplant, het sy en Danie in hoërskooltyd begin handjies hou, soen en druk. “Voor dit was ons vriendskap platonies,” spot Danie altyd deftig.
Tog is daar die afgelope weke, sedert sy begin skoolhou het, vir Petro ’n vreemde tint aan alle bekende dinge. Dis asof sy half uitgeskuif is uit die warm kring van die vertroude. En waar vriendelikheid nie dik loop nie, vermoed sy argwaan.
Soos met Betta Momberg vanaand. Sy ken tant Betta tog. Om die eerlike waarheid te sê, tant Betta was nog altyd meer partydig vir haar as vir Danie, wat haar eie kind is. In ’n woordewisseling kies sy altyd Petro se kant. Miskien reken sy dat sy haar eie mense nie te hoog moet opblaas nie, omdat hulle dan in haar gesig kan afblaas. In elk geval is sy van die soort wat haar huismense steeds as teenstanders beskou.
Vanaand wil-wil Petro haar die teendeel verbeel. Sy voel iewers vandaan ’n kouetjie, wat veroorsaak dat sy in stilte aan haar tee teug. Sy hou nie van sakkies-tee wat onmiddellik geskink is nie, maar kon dit nog nooit oor haar hart kry om dit vir Betta te sê nie. Blaartee moet na vier minute geskink word, sakkies-tee moet langer staan, en een keer geroer word, dink sy nou half broeiend, opstandig. Dit voel opeens of sy die verslapte gesigvel, die ontevrede oë, die moesie teen die ken van Betta Momberg nie langer kan verduur nie. En die tee word vir haar ’n simbool van hierdie nuwe, onbegryplike onverdraagsaamheid in haar.
Sy hou nie van my nie, dink Petro. Die gedagte skok, maar bring ook duidelikheid. Gewoonte maak nie noodwendig toegeneentheid nie. Dat sy altyd kant gekies het vir my in ’n rusie, was bloot ’n wapen teen Danie, deur wie sy verder met haar heengegane man wou twis. Nie slegs het dié haar in sy lewensdag teleurgestel nie, hy het boonop die vermetelheid gehad om haar gemaklik vooruit te gaan.
Vader, help . . . Petro druk die teekoppie dat haar kneukels pyn. Waarom sien en beleef sy vanaand anders? Begin sy dan nou eers op ’n volwasse wyse waarneem, of het haar nuwe selfstandigheid haar bloot krities gemaak? Of is dit maar net die bietjie afstand wat perspektief gebring het?
’n Stroom verwyte teenoor die vrou kom in haar op, verwyte waarvan sy die bestaan vroeër nie eers vermoed het nie. Betta se ewige pogings om uit te vind of sy en Danie nie te warm vry nie. Haar manier om ’n vertrek vinnig, speurend binne te kom wanneer hulle twee daarin is. Is die deur toe, sal sy net vinnig klop en onmiddellik oopmaak. En koop sy ’n koerant, haal sy graag vir hulle die skrikwekkende passasies aan wat rondom ongeoorloofde seks afspeel.
“Jy’s so stil, Petro,” sê Betta nou en hou haar hekelwerk teen die lig. Sy hekel om ’n mens sat te maak.
“Los haar, Ma. Sy’s verlief op die baas.”
Betta vat die aas. “Die baas?”
“Ja. Hy maak langspeelplate.”
“Maar hoe dan nou? Petro hou tog skool.”
“Ag, Danie,” vermaan Petro vies. “Wat besiel jou tog om van die man te praat?”
“Weet jy dan nie? Hy’t ’n reputasie dat al die proefies op hom verlief raak.”
“Ek’s nie ’n proefie nie. Heiden, Danie, jy’s nes ’n ouvrou, weet van alles.”
Te laat besef Petro dat die vergelyking kwetsend kon wees. Betta pers inderdaad haar lippe saam en buig broeiend oor haar breiwerk.
“Ellendeling,” verwyt Petro as hulle alleen kom in Danie se kamer, waar hy veronderstel is om vanaand te studeer. “Jy het my gedryf totdat ek my mond verbypraat. Tot ek jou ’n ouvrou genoem het – ek kon sien jou ma vererg haar bloedig vir my.”
“Sy het net die waarheid gehoor. En sy moet maar weer goed word.” Hy stoot die deur met sy voet toe.
Sy maak dit onmiddellik weer op ’n skreef oop. “Jy weet jou ma hou nie daarvan dat ons agter toe deure is nie.” Sy praat gedemp. Hulle het hulle dit aangeleer om gedemp te praat, murmelend.
“Hel, ek is siek en sat vir my ma dit en my ma dat. En die laaste tyd is dit nog die nuuskierige koshuisdogters ook. Ek kan jou nooit en nêrens behoorlik vry nie.”
“Vry. Jy laat dit so grof klink.”
“Nou’s ek natuurlik ’n vleeslike bees.”
“Dis nie wat ek gesê het nie. Jy is eintlik baie konsidererend.”
“Maar ek is net ’n man, oukei? Ek wag al lank, en ek sal nog wag, maar dit word nie vir my makliker nie.”
“Vir my ook nie, en jy weet dit.”
Hy sak by sy lessenaar neer met sy kop in sy hande, en haar hart bloei vir hom. Vir hulle. Net twee gewone jong mense wat lief is vir mekaar en wat besluit het om nie saam te slaap voor hulle trou nie. Maar die pad word steil.
“Op die ou end vat ’n ander vent jou nog onder my neus weg,” verwyt hy onlogies. “Op ’n skinkbord. Hel, as ek net daaraan dink.” Wanneer hy hom vervies, is dit ’n lui, swaar ergernis waaraan hy hom oorgee. Nie snydend, skeurend nie. Dis nie in sy aard om te kwets of gekwets te word nie. Ou Danie is ou Danie is ou Danie, wat nie wil wharrie nie.
Sonder dat hy dit sê, weet sy dat hy aan Louis Paulter dink. Woorde van dié donker, somber man skiet haar te binne. Hy’t iets gesê soos dat jy meer kan verloor hoe langer jy aanhou. Daar moet iets van waar wees. Haar en Danie se verhouding hou al hopeloos te lank aan, dit is besig om suur te word.
Sy het nie vanaand krag vir die gewone stryd, om die drang van hulle liggame te weerstaan nie. Om net-net duskant die grens te hou en, goeiste weet, ook nie heeltemal nie. Sy voel so anders, ontstig en onrustig. Nuwe verantwoordelikhede weeg op haar skouers, ’n vol program, vrees vir ontoereikendheid. Wanneer daar ’n sportoefening, detensieklas of personeelvergadering is waarby sy betrokke is, is sy rasend bang dat sy dit kan vergeet. Afgesien van haar afspraakboekie, plak sy oral in haar kamer notas op om haar te herinner.
“Moet ek jou sê wat?” vra Danie terwyl hy norserig en sonder enige skynbare doel tussen sy boeke begin vroetel. “Jy het ’n hengse fout gemaak om koshuis toe te gaan. Jy kon ’n kamer gekry het. Moet ek jou nog sê waarom jy dit gedoen het? Dis om veiliger van mý te wees.”
“Dis nie waar nie, Danie, en jy weet dit. Dis om te bespaar . . . vir óns. Vir ’n eie plekkie. En hou op om voor te gee dat dit vir my makliker as vir jou is. Maar jy is reg in die sin dat die koshuis ons bietjie privaatheid nog verder inkort. Dit grief my ook, die loerende meisiekinders, heeltemal manverskrik.”
By haar universiteitskoshuis was daar ook nie plek vir privaat wees nie, maar hulle is ten minste nie so beloer nie. “Danie,” pleit sy en staan langs hom, druk haar lyf teen syne vas, “moet my nie verwyt nie. Ons is aan dieselfde kant.”
“Ek word so moeg van alles,” bely hy verwese. “Partykeer dink ek, kom ons gaan die naweek stad toe en boek in by ’n hotel. Teen die see. Net ons. Diep-in is ons tog reeds getroud. Lankal. Ten diepste gekompromitteer.”
“Ek weet nie of ek jou sal keer nie,” antwoord sy eerlik. “Dis net . . .”
“. . . praatjies wat by die skool kan uitkom,” spring hy haar voor. “By jou kosbare Paulter.”
“Sjt,” maan sy, want sy stem het harder geraak. Sy staan weg van hom af. “Soek jy nou regtig skoor? Wil jy hê dat ons uitmaak, net oor jou ongegronde suspisies?”
“Nee, Petrus.” Hy noem haar so as hy haar wil teregwys. “Jy weet flippen goed ek kan nie sonder jou klaarkom nie. En ek weet net so goed jy is nie ’n loslyf nie. Maar, herder, jy is soos ’n ryp vrug. As ek jou nie pluk nie . . . Ek haat die gedagte dat iemand anders dit kan doen.”
“Ek behoort aan jou, Danie. Dink jy dat ék maklik sonder jóú sal kan klaarkom?”
Hy draai skuins en laat haar liggies op sy knie sit, gereed om op te spring as sy ma die gebruiklike koekeloer-tee bring. “Hoekom moet ons eers end van die jaar trou? Wat van oor ses maande? In die wintervakansie?”
“Ek kan nie, Danie. Jy weet hoe onseker is ’n getroude vrou se pos. Ja, die wet gaan glo verander, maar dit het nog nie.”
“So belaglik. Jy dood nie as jy gaan trou nie. Jy is nog dieselfde mens, wat met jou werk kan aangaan.”
“Buitendien, dit was al swaar genoeg toe meneer Paulter uitvind van die end van die jaar. Nog vroeër . . . nee, Danie. Ek skaam my dood.”
“Skaam,” sê hy smalend en stoot haar weg sodat hy kan opstaan. Sy hande omklem die vensterbank terwyl hy met sy rug na haar staan. Maar sy weet instinktief dat hy niks daar buite waarneem nie, dat sy blik volkome na binne gekeer is. “Jou maatstawwe darem. Skaam. Wie is vervlakste Paulter? Hy sit met ’n seksbom in sy bed, hy sal oor ander mense niks kan sê nie.”
“Hulle is ’n ordentlik getroude paar, Danie. Ek kry nie die indruk dat hy ’n wellusteling is nie.”
“En ek? Is ek dan?”
“Ek het dit nie gesê nie.” Sy voel so magteloos.
“Kyk na ons,” praat Danie die skemer agtertuin in. “Ons lewe snel verby. Binnekort is ek ’n impotente oubasie wat op die stoep sit en rokkies nakyk, en jy ’n steriele hekelaar soos my ma.”
Sy moet nou lag, want Danie kan snaaks wees sonder dat hy dit bedoel. “Ek is twee-en-twintig, Danie. As ek met jou begin saamslaap het op veertien . . . sestien . . . agtien, wat dan? Hoe sou jou ‘ryp vrug’ in hierdie stadium gelyk het? En op die ou end het jy my dalk soos ’n warm patat gelos, en watter man sou so ’n stuk oorskiet wou hê?”
“So, nou is ek die soort wat ’n meisie eers voos sal vry en dan wegsmyt. Oepsie, daar het ek weer die woord ‘vry’ gebruik. Askies, tietser.”
“Ek dink dié gesprek rek nou te lank uit.” Gewoonlik bespreek hulle nie eintlik hierdie kruit-en-vuurtema nie.
Hy draai terug na haar toe, blaas vermoeid sy asem uit. Sy skouers is slap onder die verweerde denimhemp. “Soms,” sê hy, “word ek so moeg daarvan om ek te wees, ’n hele lewe lank. Dis om van gek te word. Daar’s net een deel van my wat ek kan verdra, en dis jy. Vader weet, jy is al deel van my. En ek weet nie waarom voel ek skielik so bang nie, die afgelope tyd. Vir amputasie. Doodbloei.”
Sy druk haar vas teen hom, voorkop tot dy. “Ek is nie van plan om my van jou te laat amputeer nie, Danie.”
“Waarom voel alles dan so verskriklik vreemd?”
“Voel jy ook so? Ek dag dis net ek. Dis die nuutheid. Die studentelewe is so ’n kokon. Ek wens jy kan weet hoe blootgestel ek deesdae voel. As ek jou sien stilhou, wil ek sommer deur die dak na jou toe klim.”
Hy buig oor haar, vou haar toe.
“O, my liefling. Danie, druk my harder, maak my seer, dat ons kiets kan kom, as jy reken ons is nie kiets nie.”
Teekoppies.
Betta Momberg in aantog. Vinnige uiteenspat, onwennige blaaiery, en Danie wat hardop in ’n dreunstem sê: “Sub sole nihil perfectum, het Plato gesê in die jaar 100 na Christus toe hy sy toespraak oor opvoedkunde in die Colosseum in Rome lewer.”
“Ja, toe, leer,” sê Betta Momberg tevrede nadat sy die kamer vlugtig deurskou het, met ’n spesifieke blik in die rigting van die kreukellose bedsprei. “Leer, dat jy van my nek af kan kom.” Sy sit die skinkbord op die lessenaar neer. “En ek sien jy’t ook werk gebring, Petro.”
“Nasienwerk, tannie. Opstelle.”
“Dis goed. Doen maar julle werk. Ek sien juis in die koerant . . .” Sy rammel die gure nuusberig af en loop.
“Plato was ’n Griek,” fluister Petro toe hulle weer alleen is. “En hy was ’n filosoof, nie ’n opvoedkundige nie.”
“Nou onthou ek. En hy’t afgeklop in 347 voor Christus. Ek wonder of ek ooit vir die regte kursus ingeskryf het. G’n wonder ek kry nie punte nie, net kantlynkritiek.”
“Ek dink ook jy leer jou skoon suf,” spot sy. “So kan vlees en bloed nie aangaan nie. Los nou die boeke, dan gaan ry ons ’n entjie.”
“Ja, dalk kry ek die geleentheid om op my toeter te lê. Dit laat my altyd beter voel.”
So ken sy hom, so wil sy hom hê: die ongeërgde, onbekommerde Danie. Die rol van donkerdriftige pas nie by hom nie. Gee dit liewer aan iemand soos . . . wel, Paulter dan. Dié is uitgeknip vir vermoeienis, oorladenheid.
Sy wonder wat Paulter dink van haar gedurige uitganery saans. Net die aande wat sy studiediens moet doen, bly sy in die koshuis. Hy moet tog seker glo dat soveel rondlopery nie met werk akkordeer nie, want onlangs het hy haar, sommer in ’n koshuisgang, voorgekeer, so asof daar nie ander plek en geleentheid is om skoolwerk te bespreek nie. Miskien het die kwessie lank reeds swaar op hom gerus, sodat hy dit terstond wou afhandel toe hy haar sien.
“Juffrou Schoon,” het hy gesê , “u sal maar moet aanstoot met die paar letterkunde-leerlinge. Ek is bevrees hulle het verlede jaar slegs twee boeke gedek.”
“Ek is reeds besig met ’n tweede,” het sy hom effens gesteurd meegedeel.
“Sowaar. Dan is ek bly u is ’n vinnige werker. Ek betwyfel nie die kwaliteit van die onderrig nie, ek was net bang vir die tydsfaktor.”
“Dan kan u maar gerus wees.”
Nou, agterna, het sy die ongemaklike gevoel dat haar woorde aan die kil kant was.