Читать книгу Louisa du Toit Omnibus 6 - Louisa du Toit - Страница 4

Оглавление

1

’n Oulike pakkie wat ek gekoop het om op my eerste skoolhoudag aan te trek, dink Petro Schoon terwyl sy die sagte materiaal met salmkleur blomme op die strykplank neerlê. Goed genoeg, om die waarheid te sê, vir ’n reisrok na afloop van die troue.

Haar en Danie se troue.

Die gedagte laat haar opnuut in die noute voel. Wat sal die skoolhoof doen as hy moet uitvind dat ’n verloofde meisie op sy personeel aangestel is? ’n Oorval kry, dis maar klaar. Toe sy teen die einde van verlede jaar vir kennismaking gekom het, was haar vingers nog kaal. En toe sy laat vanmiddag haar intrek hier in die meisieskoshuis neem, het sy beslis gesorg dat haar linkerhand buite sig is toe meneer Paulter haar in die gang groet.

Hy en sy vrou is koshuisouers hier. ’n Blootgestelde posisie vir hom, so tussen die skooldogters. Maar hulle is glo gesmeek om uit te help. Dalk sou hulle in die seunskoshuis meer blootgestel wees, dink Petro met ’n innerlike glimlaggie, want mevrou Paulter is ’n entjie mens wat jong manlike hormone in die hoogte sou kon jaag.

As Paulter van haar verlowing hoor, sal hy gewis nie vriendelik voel oor die suspisie dat hy spoedig weer met ’n vakature kan sit nie. Al die hoofde is versigtig vir studentemeisies wat ’n pos soek net om naby die kêrel te wees. Wel, dit hang alles af. As Danie einde vanjaar klaarmaak en hy ook ’n pos iewers hier rond kry, is hulle koppe deur. Sy hoef dan nie haar dienste by JC Vos op te sê nie.

Petro voel vreemd, om die minste te sê. Die koshuis is nog redelik stil aangesien die onderwysers vroeër as die kinders inval. Sy het die afgelope twee uur in haar nuwe klaskamer deurgebring en sy voel bedruk. Die vertrek is, soos die res van die geboue, kil en grys. En dit in die somer; in die winter sal dit ’n yskas wees. Maar nou ja, dis ’n skool met status, en status moet dan seker vergoed vir die somberheid.

Tradisie en spinnerakke, het Danie dit opgesom toe sy die aanstelling kry. Dis volgens hom al wat JC Vos aan die gang hou. Nie dat dit heeltemal waar is nie. Hierdie skool is bekend vanweë sy uitslae. Dit vervul haar met ’n tikkie trots om te weet dat sy hieraan waardig sal wees. Sy is nie om dowe neute aangestel nie. Sy ken haar vermoëns en sy brand om weg te spring. Na vier jaar op universiteit voel sy soos ’n geroskamde stalperd. Stalmerrie, sal Danie sê as sy hom die kans gee.

Terwyl Petro die romp se lissies netjies op ’n hanger skik, kom ’n groot, blonde meisie met atletiese kuite deur die gang aangestap. “Naand,” sê sy. “Weet jy hoe lyk juffrou Schoon?”

“Ja, ek weet,” antwoord Petro heel ernstig.

“Waarvandaan kom jy?”

“Ek is maar hier van die omgewing.”

“Van watter skool af, bedoel ek?”

“Jy wil my ontgroen, nie waar nie,” snap Petro. “Dan’s dit neusie verby, jong, want ek is juffrou Schoon.”

Die meisie bloos en lag. “Ekskuus tog, hoekom het juffrou my nie gesê nie?”

“Jy’t my nie gevra nie. Jy wou weet of ek weet hoe sy lyk, en jy kan wed ek weet.”

“Haai, juffrou. Ekskuus tog. En die blink klippie? Dié sien ek nou eers.”

“Ons adverteer dit maar nie,” versoek Petro indirek.

“Nie dat dit stil sal bly nie. O ja, meneer Paulter wil vir juffrou sien, hoor. Maar rêrig, juffrou lyk net soos ’n skoolmeisie. Sal juffrou dan ’n mens kan leer?”

“Ek was darem studente-assistent,” antwoord Petro koelerig . . . nie om te spog nie, maar haar aansien moet sy van die begin af vestig. “Waar kry ek vir meneer Paulter? Die koshuis is vir my nog ’n doolhof.”

“Ek sal saamstap en vir juffrou wys,” bied die meisie aan. Sy is duidelik gretig om vir haar blaps te vergoed. Eintlik ook nie so ’n groot blaps nie, dink Petro vergewend. Hulle verskil maar so drie, vier jaar in ouderdom.

“Waar was juffrou op skool voor universiteit?” vra die skooldogter.

“Arkadia.”

“Sowaar. Dan’s ons mos vyande. Vir wie gaan juffrou skree met interskole?”

“Ek gaan nie skree nie. Ek is ’n lady.”

Hulle lag, en Petro voel meteens minder vreemd. Sy hou van die meisiekind. So sal hier baie ander wees van wie sy hou. Sy moet net moed hou. Die blote feit dat sy meneer Paulter streng en afsydig vind, is geen maatstaf vir geluk of ongeluk hier nie.

Charlene Winters bied aan om die gestrykte tweestukkie na Petro se kamer te neem nadat sy haar begelei het na die woonstel van die hoof, wat ook koshuisvader is.

Die voordeur van die woonstel staan oop en Petro sien hom van agter af waar hy diep ingedagte by die sydeur staan en uitkyk. Iets in die toneel gryp haar aan met ’n sterk onmiddellikheid. Sy hande is in sy broeksakke. Die donker hare teen sy agterkop is ruig, maar netjies. Sy skouers is breed, ietwat aan die vlesige kant, maar op hierdie oomblik onbewustelik weerloos.

Die indruk duur enkele oomblikke. Dan hoor Paulter die beweging buite die woonstel, en hy draai om. “Kom binne, juffrou,” sê hy neutraal.

“Dankie, meneer.”

Petro voel op hierdie oomblik niks meer as ’n skoolmeisie nie. Ek is bang vir hom, erken sy bedug. Van die eerste keer toe sy hom gesien het, het hy ’n ontsettende huiwering in haar wakker gemaak. As sy hom net een keer kan sien lag, sal sy weet hy is ’n gewone mens vir wie sy nie bang hoef te wees nie. Maar die glimlag wat om sy lippe plooi, raak nie sy oë aan nie. Nie dat sy oë koud is nie, dis net gereserveerd, onwillig om te verraai wat in die skedel of hart aangaan.

“Sit, juffrou.”

“Dankie, meneer.”

Dis pynlik, besluit sy. Sy was lank laas so ongemaklik in iemand se teenwoordigheid. Die joos weet hoe hy met skoolkinders onderhandel, tensy hy vir hulle ’n ander soort masker het wat hy gerieflik opsit. Tog, hy verdien seker hierdie pos. Akademies is hy glo voortreflik, was ’n cum laude-student, was met ’n studiebeurs oorsee, werk nou aan sy doktorsgraad.

Getroud.

Sy vrou het in ’n Suid-Afrikaanse rolprent gespeel, was tóé die vonds van die eeu, maar sedertdien het ’n mens niks weer van haar gehoor nie. Dis ongeveer al wat Petro van hulle af weet. O ja, en dat dit sy tweede vrou is. Eerste een glo baie jonk dood. Geen kinders nie, glo sy. Die huidige mevrou Paulter wil seker nie haar postuur bederf nie, dink Petro met ’n tikkie nydigheid wat eerlikwaar nie bestaansreg het nie. Mevrou Paulter was gewoon vriendelik toe hulle vroeër vandag ontmoet het.

“Is u al ’n bietjie tuis?” verneem Paulter.

“Kwalik . . . maar ek ken mos darem die omgewing.”

“Dis reg. U het gesê u het plaaslik skoolgegaan en studeer. Woon u mense nog hier?”

“Net my broer, hy is getroud en doen op die oomblik diensplig. My ma het weduwee geword en het getrek om naby my oudste suster te wees.”

“Ek sien.”

Sy wonder of sy te veel uitgeblaker het. Sy het meer vertel as wat hy gevra het. En selfs dit het hy sekerlik net uit beleefdheid gevra, nie om werklik te weet nie.

“Het u al ’n bietjie in u klaskamer rondgekyk?”

“Ja. Ek was baie bly om in die muurkas studienotas te vind vir ’n paar van die voorgeskrewe boeke. Dit sal my aan die gang kan sit.”

“Dis goed,” bevind hy hoflik. “U voorganger het dit seker bestel voor sy weg is.”

“Ja. Sy het alles baie netjies nagelaat, ek sal net graag ’n bietjie kleur teen die mure wou aanbring. Plakkate en so; ek het al bymekaar gemaak.”

“Doen dit gerus,” sê hy, maar nie bruisend van entoesiasme nie. Dis eerder asof hy moeg word vir die niksseggendheid en ter sake wil kom.

Ek het weer eens meer vertel as wat hy gevra het, besef Petro. Het hy dalk tog geheime kwaliteite, die vermoë om meer uit jou te kry, sonder inspanning, as wat jy bereid was om te gee? As wat jy jou selfs voorgeneem het?

“Ek wil eintlik weet, juffrou Schoon . . . ek het verneem dat u verloof is. Baie geluk. Maar dit het my ietwat dronkgeslaan. Ek wil graag nou reeds die toekoms met u bespreek. Ek is baie gesteld op kontinuïteit, maar met die damesgeslag is dit helaas ’n kom en gaan. Hulle trou so gou en begin nog gouer met ’n gesin.”

“Wel, iemand moet tog skoolkinders voorsien aan die skole,” sê Petro gevat. Die stukkie parmantigheid was uit voordat sy kon keer. Gelukkig beskou hy dit skynbaar as ’n poging tot ’n grappie, want hy glimlag skewerig.

“Ook waar,” gee hy toe. Maar dis blote woorde. Sy weet dat hy in wese baie vies en omgekrap moet wees. Sy het dit immers voorsien en gevrees. Dis dan ook maar beter dat dit gou gebeur het, anders was daar net stremming. Sy is ten minste bly dat hy nie onbeheers teenoor haar uitbars nie.

Net so asof ek ’n oortreder is, dink sy veronreg. Omdat ek Danie se ring dra, en asof ek nie lank genoeg daarvoor gewag het nie. Ek is tog van plan om my werk te doen, eerlik en hard, hetsy voor of na my troue.

“Vergewe my as ek op private vlak oortree, juffrou. Maar kan ek weet of u al vaste trouplanne het? Wat ek bedoel, is: gaan u my dalk in die helfte van die jaar in die steek laat en weggaan?”

“Nee, o nee,” verseker sy hom haastig. “Die plan was op die vroegste die einde van die jaar. En dan, as hy ’n pos hier rond kan kry, sal ons hier bly woon en kan ek aangaan met skoolhou. Hy woon ook hier,” voeg sy onnodig by.

“Dankie tog,” sê hy, en dis die eerste keer wat sy kan hoor hy bedoel regtig wat hy sê. “Ek het slapelose nagte gehad, juffrou, nadat iemand my gesê het u is verloof.”

“Dis nie ’n geheim nie. Ek dra my ring.” Sy maak nou seker dat hy dit kan sien. “Ons is regtig nie haastig nie, meneer.” Die verligting laat haar weer eens meer praat as waarvoor sy beraam het. “Ons is al veertien jaar lank gekys, u sien. Dit maak amper nie meer saak, nog ’n jaar of wat nie.”

“Veertien jaar?” vra hy ongelowig. “Dan moet dit amper van haasbek-stadium af wees, of hoe?” Hy grinnik, weer sonder dat dit aan sy oë raak. Maar sy voel nietemin so effe bespotlik.

“Sit so drie jaar by,” korrigeer sy asof dit sal help om die prentjie te verander.

“Dit fassineer my,” erken Paulter, steeds met die grinnik. “Wat dóén twee haasbekkies met mekaar?”

Petro besluit dat die speletjie ver genoeg gegaan het. “Ons ken mekaar deur en deur. Ons het die veertien jaar daarvoor gebruik, meneer Paulter,” sê sy, nie koel nie, maar beslis ook nie onderdanig nie. “Ek kan u verseker dat hierdie verlowing nie op sand gebou is nie.”

Hy antwoord nie. Hy swyg inteendeel sprekend, terwyl ’n skaars merkbare gloed oor sy hele gesig sprei. Met skrik wat te laat kom, besef Petro dat sy iets verkeerds gesê het. Instinktief weet sy dat hy haar woorde op hom van toepassing gemaak het, dat sy ’n voortvarende vinger op ’n wond gelê het. Wat meer is: hy verdink haar seker daarvan dat sy dinge omtrent hom uitgevis het.

Sy voel soos ’n betrapte skoolkind. Hy kry homself egter onder beheer en sê formeel: “Dit sal vir eers al wees, dankie. Ek is verlig oor wat ek verneem het. Ek vertrou dus dat ons u diens nog geruime tyd sal hê.” Hy kry ’n skewe glimlag: “Die ring kan dalk help dat die senior skoolseuns nie by die juffrou probeer aanlê nie.”

Sy glimlag ook maar effens. Wat anders kan sy doen of sê?

“En ek wil net sê . . . e . . . u moet u nie te veilig ag in ’n lang verhouding nie.”

Sy kyk hom vraend aan, volkome in die duister oor wat hy bedoel.

“Ek het my seker onduidelik uitgedruk. Wat ek eintlik bedoel, is: hoe langer mens aanhou, hoe meer het jy om te verloor. Moet dus ook nie onnodig lank uitstel nie.”

Dis half teenstrydige raad, en verwarrend. Sy weet nie wat hy beoog nie, of hy vader-vader probeer speel, onnodig filosofies probeer wees om haar te beïndruk, en of hy besig is om te bely. Laasgenoemde seker nie. As hy verkleur het toe daar van oorhaastigheid gepraat is, kan hy sekerlik nie ook aan uitstel skuldig wees nie.

Sy antwoord hom nie, omdat sy in alle eerlikheid nie weet watter soort reaksie hy verlang nie. Daarom kyk sy net na hom, en dis die eerste keer dat hulle oë werklik ontmoet. Sy vind dit ontstellend. Dis asof hy ’n onuitspreekbare boodskap aan haar wil oorsein, iets wat in verband staan met die lewe in sy omvattendheid.

Sy oë is bruinswart, rond en diep, diep. Oë om in te verdrink.

Verward skeur sy haar blik van syne weg. “Dan sal meneer my eers verskoon?”

“U wou nie eers ’n koppie tee drink nie?”

“Nee, dankie. Dis amper tyd vir aandete.”

Meteens is mevrou Paulter van iewers uit die woonstel by hulle. Agterdeur, seker. Sy moes tennis gespeel het, want sy het ’n kort tennisrokkie aan. As ek ’n man was, het ek verstik in my eie hartklop, dink Petro as sy vlugtig bewus word van die geronde liggaam in die skraps rokkie. Aktrise, vir seker. Die voorkoms is daarna; miskien het die speeltalent te kort geskiet, want die enkele rol is nie opgevolg deur ander nie.

“Barbara, jy het juffrou Schoon ontmoet?”

“Ja. Jy het seker vergeet. Jy het ons self vanmiddag aan mekaar voorgestel. Verskoon maar vir Louis, juffrou Schoon. Hy het ’n tradisie om te handhaaf. Jy weet mos, die verstrooide geleerde wat die eier soen en sy vrou op die kop klop.”

Petro glimlag effens, net baie effens, om nie kant te kies nie. Louis Paulter (dus is sy naam Louis) sal haar beslis nie bedank as sy uitbars van die lag oor sy vrou se grappie nie. Daarby was die mooi vrou se stemtoon net te bedoelend om onskadelik te wees. Daar was iets van seermaak in die lug . . . en van seerkry.

Al vind sy hom nie, al verstaan sy hom nie, al gewaar sy in haar ’n weerstand teen sy donker afsydigheid, moet Petro erken dat haar simpatie in hierdie situasie by die man lê wat voortaan haar baas sal wees.

Nie baas in sy eie huis nie, som sy op. Verskoon maar vir “Louis”, het die vrou gesê. So asof sy wou beklemtoon: hy is nou nie eintlik “meneer” nie, onthou. Hy is regtig nie so waffers as wat julle dink nie.

“Net nog een ding, juffrou Schoon,” sê Louis Paulter, en hy laat geen ongeduld of gramskap met sy vrou blyk nie. “Die vorige inwonende juffrou het nie daarvan gehou om saam met die meisies ’n badkamer te gebruik nie.”

“Ek sou ook nie,” sê Barbara Paulter en trek haar gesig effens vies. Nou word dit duidelik dat haar gesigvel reeds fyn plooitjies het.

“Die meeste meisies is baie sindelik, maar tog is daar soms ringe in die bad. Nie vingerringe nie,” sê die man en dis duidelik dat hy sy vrou met bedoeling teregwys. “Dit staan u dus vry om ons badkamer te deel. Dis nie heeltemal in die woonstel nie. Net hier buite die deur links.”

“Dis gaaf van u, maar is dit regtig nodig?” vra Petro huiwerend. Dis na die vrou met die rooibruin harevloed wat sy kyk. As dié nie die aanbod ondersteun nie . . .

“Doen dit,” sê Barbara half afwesig, asof sowel die besoekster as die onderwerp haar reeds verveel. Sy het ’n ligte, skuiwende blik wat nêrens fikseer of vasheg nie.

“Dankie dan. Miskien sal ek. Soms.” Hierdie voorbehoud moet daar darem wees, dat sy mag oor haar eie bewegings en besluite het.

Sy knik na die man en sy vrou en stap by die oop voordeur uit. Naby haar lui die etensklok. Daar het reeds ’n paar meisies gearriveer wat, soos Charlene Winters, van ver met die trein kom en hulle na ’n spoorwegrooster moes skik.

Die ete verloop gesellig met die koshuispersoneel wat ongewoon gaaf is teenoor die paar kinders, en sommer saam met hulle by een tafel aansit. Barbara Paulter het nie kom eet nie. Op ’n dieet, glo. Haar man het laat ingekom en hom weer vroeg verskoon. Op ’n manier is die atmosfeer nie so los in sy teenwoordigheid nie.

Terug in haar klein kamer, loer Petro aaneen deur die venster om te sien wanneer Danie met sy kewer in die skemerende straat stilhou. Hulle is so gewoond daaraan om mekaar letterlik elke aand van hulle lewe te sien, dat hulle nie maklik daarmee sal kan breek nie. Die aande wat sy toesigdiens het, sal dit maar moeilik gaan.

Dis ’n ongelooflike hoogsomeraand, met die digbeblaarde akkerbome ’n filter waardeur die laaste lig op die teerstrate sif. Iewers in die lug is die reuk van kanferfoelie sodat Petro half versteld die wierook daarvan in haar longe trek. Sy was lank laas so gevoelig, so opgeskerp vir indrukke en gevoelens.

Dis seker omdat sy in ’n vreemde omgewing is.

Want vreemd is dit wel, al het sy en Danie as studenteverliefdes male sonder tal verby hierdie rooibruin geboue gestap. Toe was dit sommer net geboue, ’n stuk agtergrond vir belangriker voorgrondgebeure. Studentejolyt, toetse, seminare, dinees, huisdanse. Nog later was JC Vos, in die diplomajaar, ’n verskrikkingsoord vir jong proefstudente omdat dié skool bekend is vir sy dissipline en resultate.

En nou is ek pens en pootjies hierin, dink Petro op dieselfde oomblik dat sy vir Danie in die systraat sien stilhou. Hy bly agter die stuurwiel sit, sy gesig met ’n koerant bedek. Die gemaklike vabond, dink Petro sonder wrewel terwyl sy die luike toetrek. Die beweging trek sy aandag, sodat hy in haar rigting kyk. Hy beduie met die kop dat sy moet kom.

Toe sy langs hom inklim, frommelvou hy die koerant op. “Naand, juffrou,” groet hy en skakel die motor aan.

“Naand. Wat kou jy? Gee vir my ook.” Alles is soos altyd, en sy voel sommer hoe die spanning uit haar wegtrek.

“As jy kan kry, kan jy maar vat.”

Sy vind dit in die baadjiesak naaste aan haar, wetende dat dit juis so geplaas is. En dat hy spesiaal die pepermente met die sagte binnekante gekoop het omdat hy weet sy hou daarvan. Maar hy sal nooit erken dat hy iets vir haar gerief of onthalwe doen nie. Wat dit betref, behandel hy haar maar so half en half soos die skoolmeisie wat hy vir hom grootgemaak het.

Gehul in pepermentgeur, sit hulle langs mekaar en die genoegdoening van die bekende vou om Petro.

“En toe, het hulle al vasgestel dat jy ’n dooie verlies vir die onderwys is?” vra hy en toeter vir ’n voetganger.

“Ek wens jy wil die toeter laat staan en jou motor betaal. Ja, ek is al ingeroep. Gehoor van die stukkie glas wat jy op skuld gekoop het vir ’n diamant.”

“Magtig. Ingeroep? Wie? Long-play?”

“Wat?”

“Long-play, man. Jou baas. Dis sy bynaam.”

“Meneer Paulter? Hoekom? Is hy langdradig?” Aan die waarheid van die stelling twyfel sy nie. Danie weet so min of meer alles wat op die aarde aangaan. In elke sel van die samelewing het hy ’n pêl wat hom op hoogte hou.

“Dink self.”

“O, LP. Louis Paulter. Ek verstaan.”

“Hm. Die adjunk is Seven-single.”

Sy bars uit van die lag. “Ag, Danie. Waarheen gaan ons?”

“Ek is nie bra lus vir my ma se huis nie. Sy is weer befoeterd, ’n mens kan nie naby haar kom nie.”

“Ai, toggie. Kom ons maak dan ’n draai by Rina. Marius sal mos nou enige tyd grens toe gaan. Dalk het sy iets gehoor.”

“Ai tog, daai stuk geitjie. Nou toe dan maar.”

Hulle hou net buite die woonstel van Petro se skoonsuster stil. Dis nie ’n wafferse kompleks of selfs buurt nie. Marius en Rina kan tans nie beter bekostig nie. Tot oormaat van ramp betaal die eenmanfirma waar Marius gewerk het, hom nie tydens sy diensplig nie. As Marius tog ook maar, soos Danie, sy diensplig onmiddellik na matriek gedoen het, dan het hy nie nou met soveel probleme gesit nie.

Ondeurdagtheid, dink Petro. Na haar pa se dood was almal dit eens dat hulle vir Marius uitstel van diensplig moet vra, sodat hy hulle ma kan bystaan. Toe trap hy en Rina op die piesangskil, en dis ’n trouery en kindgrootmakery voor hulle hulle oë kan uitvee. Nou lol dinge maar.

Toe hulle voetstappe op die sementstoepie skraap, kom Rina juis na buite. ’n Oomblik is die twee besoekers uit die veld geslaan, want sy het ’n aandrok aan. Sy is ’n lang, mooierige vrou; mooier veral noudat sy swaarder as gewoonlik gegrimeer is.

“Hei, Rina, ons kom vir jou kuier. Gaan jy uit?” vra Petro.

“Moet gaan sing, ja.”

“Kan ons jou gaan aflaai? Wie bly by ou Hennie?”

“Iemand kom my oplaai, dankie. En Hennie slaap al. Ek sluit net toe. Ek gaan nie die hele aand wegbly nie, skaars ’n uur.”

“Jy kan g’n die kind alleen los nie,” sê Danie met die growwerige stemtoon waarmee hy haar altyd aanspreek. “Marius draai jou nek om.”

“Marius,” sê die lang vrou in die groen aandrok smalend, “kan nie voorskryf nie, jong. Hy verdedig die land, ek hou die pot aan die kook.”

“Ons sal by Hennie bly,” sê Petro gou. Sy ken Rina se haastige humeur reeds terdeë en Danie is nie ’n man wat ’n dominerende vrou kan verdra nie. Daarvan kry hy genoeg tuis by sy ma.

“Nou ja, bly dan as julle vryplek soek,” sê Rina.

“Jou bek moet ’n hangslot kry, vroumens,” sê Danie galsterig.

“Ag los tog, julle. Gaan jy, Rina. Ons sal hier bly.” Maar terwyl sy praat, weet Petro reeds dat die aand – die aand waarop sy peil getrek het om haar deur die meedoënlose vreemdheid van ’n nuwe begin te help loods, tot mislukking gedoem is. Danie sal heelaand dikmond wees as hulle hier vasgekeer moet sit.

Sy het hom nog nie eers gesê dat sy eerskomende Sondag nie soos gebruiklik saam met hom en sy ma kan kerk toe gaan en daarna by hulle eet nie. Sy moet die rye koshuismeisies kerk toe vergesel, en sy weet by voorbaat hulle sal allerlei kanse waag omdat sy jonk en nuut is, en in die kerk sit en ogies maak vir al wat ’n seun is. Sy is ook op ete-toesig.

Meer hartstogtelik as ooit voorheen, verlang sy na ’n eie plekkie vir haar en Danie, waar hulle eindelik nie meer soos twee trekvoëls op ’n tak sal wees nie.

Louisa du Toit Omnibus 6

Подняться наверх