Читать книгу Louisa du Toit Omnibus 6 - Louisa du Toit - Страница 8

Оглавление

5

Die nuus versprei soos ’n veldbrand en bereik ook Petro Schoon se ore. “Mevrou” gaan weer in ’n rolprent speel. Sy moet daarvoor leer perdry en sy gaan nou elke middag uit na die perdeplaas.

En vir dié wat miskien nog nie daarvan kennis geneem het nie, spreek dit duidelik genoeg uit die feit dat sy so baie aande in haar ryklere kom eet.

Louis het vir Petro gevra om vir hom ’n paar spreuke te bring vir gebruik in die skoolblad wat later vanjaar uitgegee word. Sy het dit volgens hom nog nie gebring nie en deur die interkom roep hy na haar.

Sy voel altyd ’n gek om te antwoord op die spookstem wat vanuit die muur kom.

“Meneer Paulter?” antwoord-vra sy en maak dreigende oë vir die dogters wat wil giggel. ’n Paar seuns, daarenteen, verpes haar deur hulle arms te vou en haar uitdrukkingloos aan te staar.

“Daardie spreuke. U het dit nog nie vir my gebring nie.”

“Ek het, meneer. U was nie in die kantoor nie, ek het dit op die lessenaar neergesit.”

“Kom oortuig my asseblief.”

Petro voel verneder, want sy stem was bot. Sy weet nie hoe sy dit het nie, maar dis asof hy haar die laaste tyd vermy. Dit maak haar bitter ongelukkig. Dis natuurlik omdat sy so dikwels saans uitgaan. Sy moes dit voorsien het.

Sy beveel die kinders om aan te gaan en loop die trap af na sy kantoor toe.

“Ek het dit hier neergesit,” sê sy toe sy voor die oorlaaide lessenaar staan. Normaalweg is hy georden en netjies, maar vandag is hy skynbaar in ’n onordelike spitsgolf vasgevang.

“Ek het oral gekyk,” sê hy, maar klink reeds nie so seker van sy saak noudat sy in gloeiende oortuiging voor hom staan nie.

Sy kyk ’n rukkie lank sake deur om haar te oriënteer. Dan steek sy haar hande uit, lig ’n pak getikte metrieke folio’s op en haal die vel met spreuke daaronder te voorskyn.

Hy lyk so effens verdwaas. “Nou hoe kon ek dit misgekyk het?” vra hy hom af.

“Iemand het per ongeluk die folio’s daarop neergesit, en dis dieselfde grootte,” onthef sy hom van skuld.

“Nee,” sê hy, “Dis geen verskoning nie. Ek het sleg gesoek.” Hy maak ’n beweging asof hy sy kop in sy hande wil laat sak, maar bedink hom. Tog behou sy die indruk dat hy wou krummel. “Vlees en bloed kan dit ook nie altyd hou nie,” erken hy, sonder om reguit na haar te kyk. Sy onthou hoe hulle oë daardie aand van haar aankoms ontmoet het, en is dankbaar dat hy dit nog nooit probeer herhaal het nie.

Ook nou skram hulle oë veilig van mekaar af weg. “U werk te hard,” sê sy. Dis nugterweet nie ’n geval van witvoetjie soek nie. Dis ’n klipharde feit dat hy absoluut nooit ontspan nie, buiten die kere wanneer hy in die namiddag ’n draai by die sportterrein maak.

“Die arbeid waarin ons ’n lus het, heel die pyn,” kwoteer hy tot sy eie skrik. Hy sit meteens meer regop en probeer ’n houding van formaliteit aanslaan. “Dis maar net ’n Oosterse spreuk.”

“Dalk moet ons dit hier byskryf,” help sy hom die situasie red. “Maar dis seker te ernstig vir ’n skoolblad.” Sy het egter ’n sterk genoeg glimp deur die skreef in sy borswering gekry om te kan verstaan dat hy sy eie pyn moet hê.

“Hoe hou ’n mens op om te hard te werk? Retoriese vraag, juffrou, ek soek nie ’n antwoord daarop nie.”

“ ’n Mens moet darem net die lyn kan trek tussen hard werk en slaaf wees,” probeer sy die ongemaklike openbaring doodpraat. Daar is vir haar geen enkele rede om langer hier in sy kantoor te vertoef nie; hy het immers gevind waarna hy gesoek het. Tog voel dit logies dat sy nie meteens sal loop nie. Dis asof sy hom skielik en onverklaarbaar op ’n oop vlakte gebring het, en haar nou verantwoordelik voel om hom deur ’n begrypende woord teen blootstelling te dek.

“Ek is die jongste hoof in die area. En ek moes tog ontdek dat die ondervinding van die jare ’n groot rol speel. Geesdrif en kunde is nie genoeg nie. Ek kan nie anders as hard werk nie, Petro.”

Hy het haar op die naam genoem.

En hy het dit nie agtergekom nie . . . of te laat.

Haar nugtere verstand tree na vore: “Is daardie spreuke genoeg, meneer?”

“Ekskuus? Dankie, ja. Dankie. Maar daar is net nog iets anders vir die jaarblad. Hier is ’n lysie van winkels wat as borge opgetree het. Ons moet hulle op ’n manier in die blad adverteer, maar ek wou dit interessanter maak as net: Koop by Brown & Kie. Jy verstaan?”

“Ja, meneer. Ek sal kyk.”

Sy is al by die deur met die lysie toe hy byvoeg: “Ek wil darem net dit sê, juffrou Schoon. Dis gaaf om iets in jou hande te los. Jy is ’n jong onderwyseres, maar jy staan jou plek vol.”

Sy lyk beskeie verras. “Dankie, meneer.” Sy sê niks meer daaroor nie. Hoe sal sy hom tog te kenne kan gee dat sy die aanmoediging bitter nodig het? Die werk is ’n berg, veral die nasienwerk, en sy voel dat sy figuurlik daaronder steier. En die atmosfeer in die personeelkamer is nie altyd van die beste nie. Daar is ’n onderlinge gees van naywer en kritiek. Uitslae word te koorsagtig benader. Vir die jongeres in die personeel is daar dikwels ’n koue rug in plaas van ’n warm aangesig.

Louis Paulter is voortreflik in sy werk, besef Petro. Maar hy meng te min met die personeel. Hy, wat immers ’n ruim gees het, behoort die kleinlikhede te kan aanvoel en uitskakel. Of is dit omdat hy persoonlike probleme het, soos hy netnou bykans bely het, dat hy nie ’n groter kalmte kan laat deurwerk na die res van die personeel nie? Hy behoort tog die leier, die toonaangewer te wees.

Pyn, het hy gesê. Die arbeid heel die pyn. Later sal hy spyt wees omdat hy dit gesê het. Ook dat hy haar op die naam genoem het. Dalk is hy reeds spyt oor sy onprofessionele optrede. Want daar bly maar ’n harde neut van ongemak tussen hulle, wat nie deur woorde oopgekraak kan word om die pit bloot te lê nie. Selfs sy lofprysing was nie warm en onvoorwaardelik nie. Sy voel nietemin dat sy iets moet doen of sê om dit te beantwoord. “Geluk ook met mevrou, ek hoor sy gaan speel in die TV-prent wat hulle hier kom skiet.”

“Luister,” sê hy, asof hy juis koorsig gewag het op ’n geleentheid om dit te bespreek, “ek is bevrees die skooldogters hardloop daarmee weg. Laat tog asseblief die wete versprei dat dit nog nie seker is nie. Sy en die regisseur ken mekaar, en ons dink maar . . . Sy wou buitendien lankal leer perdry, dis nie juis net daaroor . . .”

Sy verduideliking strand, en sy wens sy kon dit vir hom makliker maak. Want hy weet net so goed soos sy dat Barbara self die opwindende praatjies versprei. Dis asof Barbara ’n breë, veilige voorbrand rondom haar aan die maak is. Sy, Petro, is beslis nie van plan om die wete te versprei dat alles nog gissings is nie. Sy wil by die doen en late van die Paulters, sover dit hul private lewe aangaan, liefs nie betrokke raak nie. Sy moet saam met die man werk, en sy wil nie vir haar onnodige stremming op die hals haal nie.

Paulter is duidelik nie in sy skik met sy vrou se planne nie. Waarom tog nie? Dis duidelik dat sy in die huidige opset baie moeilik inpas. Sy leef in ’n verbeeldingswêreld, met ’n spul skooldogters wat vir haar erewag staan. Tog behoort Paulter bly te wees as Barbara iets vind wat haar stimuleer. Dis tog op sigself ’n skeppende kuns. As vry-skut-aktrise sal sy nog ’n goeie vrou vir hom kan wees; beter selfs, omdat sy minder gefrustreerd sal wees.

“Wel, die perdry bied intussen vir haar gesonde ontspanning,” beklink Petro die gesprek so neutraal moontlik.

“Ja,” sê hy. Net dit: ja. ’n Klein, digte dekseltjie op ’n ronde, swart loergaatjie.

Dit is soos ek gevrees het, dink Petro toe sy van hom af weggaan. Hy is klaar spyt omdat hy my insae in sy gemoed gegee het.

In die dae wat volg, vind sy bevestiging daarvoor. Hy vermy haar sterker as voorheen. Wanneer hy haastig die personeelkamer binnekom om afkondigings te doen, kyk hy na almal buiten na haar. Slegs een keer sê hy, nadat hy ’n nuwe werkindeling verduidelik het: “Nou dink ek nie een van u kan nog kla nie. Net juffrou Schoon trek op die oomblik ’n bietjie swaar, maar sy bly nog voor.”

“Voorbly is nie die woord nie,” kla Petro by Danie toe sy hom daarvan vertel. “Ek hardloop dat my hakskene teen my agterkop klap. Al die nasienwerk, die reuseklasse. En daarby het ek nog die grootste registerklas van almal.”

“Dis baie goed vir ’n warmbloedige jong dingetjie soos jy,” verseker Danie haar ongevoelig terwyl hulle in winkelvensters loop en kyk. Selfs nou voel sy dat sy dit nie kan bekostig nie. Sy het die vragte werk skoon op haar brein. Sy ys om dit vir Danie te sê, maar sy kan nie nou meer ’n paar aande per week uitgaan nie.

“Dit hou jou uit die versoeking,” onderrig Danie haar verder. “Bly besig. Dis mos die raad wat die traantantes altyd in die rubrieke gee.”

“En wat doen ons altemit met jou, leeglêer?”

“Laat dit aan my ma oor. Sy het weer ’n hele paar krane gesaboteer om vir my werk te maak.”

“Van jou ma gepraat, ons was lank laas daar.”

“Ja wat. Sy krap jou net om. As ons daar was, raak jy heeltemal abstrak.”

“Ek was nie bewus daarvan nie,” verdedig sy.

“Ek was. Jy moet seker dink ek het geen aanvoeling meer vir jou, net omdat ek aan jou gewoond is nie.”

“Nee, ek het nie so gedink nie. Dis net dat ons aanvoeling vir mekaar eintlik al instinktief is, reken ek. Maar, Danie, jy weet ek en jou ma het nog nooit moeilikheid gehad nie.”

“Het ek gesê julle het moeilikheid gehad?”

“Nee, maar ek moet weet as ek in my optrede teenoor haar aanstoot gegee het.”

“Jy het nie. Sy is maar net behep met seks, en ek reken ons moet haar vergewe.”

“Danie, dis werklik nie mooi om dit van jou moeder te sê nie.”

“Dankie, tietser. In elk geval: ek sien nie meer kans om so aan te karring nie. Hoeveel jare dien ek nou al as uitlaatklep vir haar. Danie dit, Danie dat, Danie blikskottel. Ek gaan ander blyplek soek. Soos sake nou staan, het ek en jy wragtie nie eers vryplek nie, soos Rina sal sê.”

“Jy kan nie nou ’n eie blyplek bekostig nie, jong. Ons kan die geld beter gebruik. Ons moet meubels kry. Ons is ten slotte nie grotbewoners wat op stompe en klippe en olifantskedels kan sit nie. Hoekom hou jy nie nog uit nie? Ons weet nie waar ons volgende jaar sal wees nie.”

“Ons sal volgende jaar net hier wees, liewe kind. Ek gaan my meestersgraad voltyds doen. Die deeltydse storie werk nie vir my nie, ek wil dit binne tien maande klaarmaak.”

Sy dink eers dat hy ’n grappie maak, maar een blik na sy gesig oortuig haar van sy erns. “En wat moet dit beteken?” vra sy ontnugter. Sy sien reeds weer hulle toekomsplanne wankel. “Dink jy ek sal alleen die pot aan die kook kan hou? Onthou, ek betaal nog af aan ’n studielening. Die meeste studente doen hulle nagraads deeltyds.” Soos Paulter, dink sy, maar sê dit wyslik nie.

“Toe maar, ek sal dit binne een jaar kafdraf.”

“Teen die tempo wat jy met jou honneurs aankarring?”

“Honneurs is tog ’n kommapunt, ek moet aangaan.”

“So het ek ook gedink, ja, maar nie voltyds nie. Jy sal ’n betalende werk moet kry.”

“Vat dit of los dit,” merk hy sonder wrewel op.

“Nee dankie, Daantjie. Dit lyk my jy probeer wegbly uit die strop, dis wat dit is. Ek weier om te trou as daar nie ’n vaste en voldoende inkomste is nie. Ek weet nie of hulle my dalk op tydelike personeel gaan plaas nie, dan moet ek padgee as daar ’n beurshouerstudent vir my pos aansoek doen.”

“Dan moet jy ’n miljoenêr soek. Geen salaris is deesdae meer voldoende nie.”

“Moenie uit die argument probeer wegkom nie. Ek was onder die indruk jy begin werk soek. Waarom het jy my nie van jou nuutste plan vertel nie?”

“Hier vertel ek jou mos nou.”

“Ook maar net. Werklik, Danie, ek kan nie in hierdie stadium en op hierdie ouderdom bekostig om deur jou in die donker gehou te word nie.”

“Jy bedoel vasgehou te word nie? Dan jok jy mos.”

“Ek is nie lus vir grappies nie,” sê sy boos. “Jy wou nog nooit ernstig oor die toekoms praat nie, Danie Momberg. Jy het altyd ’n systappie. Wat is nou wat aangaande ons troue die end van die jaar?”

“Ons lewe spaarsaam, dis al. En nee, nié by my ma in die huis nie, ingeval dit jou vrees is. Ons sal ’n kamer kry. Wel, twee kamers. Honderde vroue sou die grond uit dankbaarheid soen as hulle mans ’n bietjie akademies wou raak. Hulle sou potte skrop om dit vir hom moontlik te maak.”

“Maar voltyds? Jy sit hier in die skaduwee van die universiteit. Probeer dan in die omgewing werk kry. Ek sal bly wees, dan kan ek aanhou by JC Vos.”

“En langer in die teenwoordigheid van jou ridder Long-play verkeer.”

“Jy moet werklik ophou met daardie kinderagtigheid. Is dit nie genoeg dat jy daardie keer voor jou ma moes sê ek is verlief op die man nie?”

Sy is sommer vuurwarm. Sy het partykeer lus en kry Danie Momberg aan sy breë, slap skouers beet en skud en skud hom.

“Wel, wil jy stry?” wil hy weet met sy loom, swaar ergernis wat nooit regtig woede word nie. “Ek kan mos agterkom hoe hy in alles jou maatstaf is. Hy swot ook buitemuurs, nie waar nie?”

“Ja, sy doktoraal. Maar dit het niks, niks met ons te doen nie, buiten dat dit illustreer dat dit moontlik is. En ek kan jou verseker dat sy vrou nie potte skrop ter wille van hom nie. Sy stel net in haar gesig belang, en in die filmrol wat sy wil hê.”

“Dus, volgens jou is hy veronreg. Die volgende stap is dat hy teen jou sagte boesem huil en vertel dat sy vrou hom nie verstaan nie.”

“Wat besiel jou, mansmens? Soek jy nou werklik skoor?”

“Ek is maar net nie blind nie. En ek ken jou te goed. Te goed, Petrus. Waarom is jy so anders van die begin van die jaar af? Jy is glad nie meer dieselfde mens nie. Jy’s so buierig en bedons, ek kan niks met jou uitrig nie. En altyd te moeg vir my, of jy het te veel werk. Ek moet bedel vir ’n uur van jou aandag.”

“Wys net hoeveel aanvoeling jy vir my probleme het,” snik sy in halwe wrewel, halwe verdriet. “Jy wil dit maar aaneen geringskat as ek by jou kla. En kyk waarmee kom jy glad vorendag. Ek en meneer Paulter.”

“Ek het gesê ek is nie blind nie,” herhaal hy dwarskoppig. “En wanneer jy eendag terugdink aan my woorde, onthou dan om te erken dat ou Daantjie Momberg nie volkome onnosel was nie.”

Blind van verontwaardiging swaai sy weg van die verligte winkelvenster waarin daar, van alle dinge, onaantreklike ysterware uitgestal is, en steek die straat oor. Al is dit hoe ver koshuis toe, sy sal met haar voete loop.

Hy laat haar wegkom.

Maar voordat sy een blok ver is, luier die kewer langs haar. Sy maak of sy nie hoor of sien nie en hou haar pas vol. Hy bly langs haar voortry, staan-staan, tartend.

Oplaas besef sy dat hy besig is om ’n gek van haar te maak. Sy ruk die linkerdeur oop en klim in, stomend van woede. “Die duiwel ry jou as jy hierdie onsin loop en versprei,” dreig sy. “Ek skaam my dood as meneer Paulter van jou teorieë moet hoor. Jy is te dikwels ledig, ek stem saam met jou ma. Sit kastig by jou boeke, maar jy sit en slaap daar. En dink nonsens uit.”

“Nog iets?” vra hy met lui geduld.

“Moet in hemelsnaam nie so vreeslik geduldig klink nie. Jy’s selfs te verdomp lui en traak-my-nieagtig vir die eise van ’n rusie.”

“Ek glo maar net nie daaraan om ’n vlieg met ’n voor-hamer dood te slaan nie.”

“Dan is ek nou seker die vlieg. Toe maar, ek sal nie verder oor jou neus loop nie. Genoeg is genoeg. Dè.”

Sy spook om die ring van haar vinger af te kry. Hy hou teen die straatkant stil en met ’n lag vou hy haar hande toe met syne sodat sy haar pogings om die ring te verwyder moet staak. “Sien jy? Klaar vasgegroei, die ou op-skuld-ringetjie. Of so nie het jy net nie hard genoeg probeer om dit af te kry nie.”

Hy soen haar aaneen en aaneen, totdat haar snikkerige woede begin swig.

“Asem,” versoek sy met ’n snak.

“Weet jy wat?” vra Danie.

“Wat?”

“Jy het jou oë toegemaak toe ek jou soen.”

“Verbasend.” Sy kan nog nie uit haar vel klim van vriendelikheid nie.

“En weet jy hoekom?”

“Nee.”

“Jy het gebid vir meer.”

“Ai, Danie.” Sy weet nie wat om te doen nie. Onder die oppervlakte, so voel dit vir haar, het dinge onherroeplik verander. Sy voel nie meer daardie veilige koestering van hulle verhouding soos vroeër nie. Daar is eerder ’n spanning aan die opbou, die spanning wat alle onvolmaakte dinge aankleef.

“En hoor hier, Petrus: daardie ring het ek nie vir jou gegee om met elke rusietjie van jou vinger af te probeer pluk nie. Dis goedkoop, verstaan.”

“Die ring?”

“Die dreigement. Die ring ook, maar toe maar.”

Afgekoel sit sy langs hom. En nou het ons nog nie uitsluitsel gekry oor volgende jaar nie, besef sy misnoeg. Hy is so oorrompelend, jy kan net nie vir hom kwaad bly nie.

Dalk was hy reg toe hy ’n tydjie gelede voorgestel het dat hulle in Junie moet trou. Hier sit hulle, en sy het nie eers ’n plekkie waar sy hom kan binnenooi en vir hom ’n koppie tee maak nie. Geen wonder hulle raak so gefrustreerd dat hulle in mekaar se kele wil afklim nie.

En sy móét vir hom sê dat hy minder gereeld moet kom. Sy moet, maar kan nie. Hulle is vanaand te skrynerig vir mekaar. Sy kan nie nog sout daarin vryf nie.

Sy kom nêrens anders meer nie. Was weke laas by Rina, en dié sal haar beslis kwalik neem. Sy voel mos die Schoons het haar in allerlei ellendes gedompel en hulle toe onttrek. Die kort besoek van Marius voordat hy operasionele gebied toe is, het alles skynbaar net nog meer gespanne gemaak.

Toe Petro en Danie hom gaan groet die aand voordat hy weg is, kon jy die atmosfeer met ’n mes sny. Sy moes haar vererg vir haar broer wat, groot en gesond en sonbruin, soos ’n vis op droë grond in sy eie woonplek lyk. Terselfdertyd, met ’n soort nuwe volwassenheid, moes sy besef dat daar nie ’n eenvoudige pad tussen man en vrou is nie.

“Hy moet haar net ’n week vir my gee,” het Danie met die terugry gebrom.

“Ag, wat sal jy tog kan doen? Sy lewe in ’n wrok, en dis ’n dood vir ’n huwelik.”

“Gits, ’n mens sou sê sy het geen aandeel gehad in die kleintjie wat hulle oorval het nie. Maar sy is ’n bedorwe brokkie, dis wat sy is. Verbeel jou, Marius mag nie die kind vir oulaas vashou nie, dis die bloedjie se slaaptyd.”

“En Marius is dikmond omdat daardie ou met die muissnorretjie vir Rina werk toe opgelaai het.”

“Wat wil hy anders hê, hy het self dan nie ’n ryding nie.”

“Jy erken dus dat my broer nie so onskuldig is in die vervreemding nie. Hy wil voorregte opeis, maar nie aan sy pligte herinner word nie.”

“Natuurlik is hy ’n slapkous. Maar sy is ’n geitjie, en ek kies ’n slapkous bo ’n geitjie.”

“Danie, ek kan my soms in haar plek indink. Sy was haar ouers se liefling, nou is sy van hulle ook vervreem. Hulle wou mos die kind hou sodat sy nie met Marius hoef te trou nie. Toe weet sy van beter . . . dalk ook maar uit koppigheid.”

“As ek na hulle twee kyk, verstaan ek jou beter, Petrus. Hulle is ’n baie sprekende les van te veel te vroeg, voor hulle gereed was daarvoor. Bly maar kophou, hoor. As jy dit enduit regkry, gee ek jou ’n vierplaatstoof as trougeskenk.”

“Dis duidelik hulle vertrou mekaar net sover hulle mekaar met die oog kan sien.”

“En met rede, dink ek.”

“Ek weet darem nie of Marius . . .”

“Ou dier, ek wil eers jou broer se vlerkies sien voor ek glo hy is ’n engeltjie. Maar toe maar, sy vrou se horinkies hoef ek nie te sien voor ek glo sy is ’n duiwel nie.”

Nietemin voel Petro dat sy Rina nie as ’n verantwoordelikheid durf afskryf nie. Die waarheid is die waarheid: ter wille van Marius Schoon het Rina van haar eie, welvarende familie vervreem geraak, en ’n mens kan haar nie bloot aan haar lot oorlaat en lekker kry omdat sy maai wat sy gesaai het nie. Dat sy ’n trotse, koppige geaardheid het, is gewis. Maar Petro is self ’n vrou en voel ’n soort weerloosheid diep onder die oppervlakte by haar skoonsuster aan, ’n hunkering na begrip.

Ons sou so baie vir mekaar kon beteken het, dink Petro meermale. My eie mense is ver, net soos hare. Sy het sekerlik probleme waaraan sy graag lug sou wou gee. Sy ly ’n lewe van meet en pas waaraan sy nooit gewoond was nie. Sy voel verbitterd en veronreg. As sy tog maar wou uitpraat, sou dit help. ’n Mens moet dit in elk geval bewonder dat sy nie los en vas kla en bieg, nie sover Petro kan agterkom nie. Daardie hooghou van die kop is skynbaar ingebore.

Ek sou haar ook as ’n vriendin verwelkom, dink Petro. As sy my net wou vertrou. Ek soek ook raad.

Want raadop is sy deesdae, verterend ongelukkig omdat sy en Danie nie meer by mekaar kan wees sonder om van mekaar te verskil en vies uiteen te gaan nie. Dis net asof hy nie werklik wil verstaan dat sy nie meer ’n sorgvrye student is nie, dat sy nuwe sorge en laste het en dat sy simpatie nodig het.

En daar is die ontwakende vermoede in haar hart dat hy hom doelbewus daarvan afsluit, dat hy die bestaan daarvan wil ontken omdat hy nie gemoeid wil wees met onbehaaglikhede en ongerief nie. Dis nie dat sy met hom fout wil vind nie; dis net dat ’n minder bekende kant van sy persoonlikheid finaal tot haar begin deurdring. Sy sal eendag maar alle onaangenaamhede self probeer hanteer, dit van hom af weghou. Dis mos sy leuse om nie te wharrie nie.

Die gedagte wat sy oor Rina en Marius koester, dring hom ook nou op wat haar eie verhouding betref: daar is geen eenvoudige weg tussen man en vrou nie. Spanning en pyn sal daar altyd wees, maar die kuns is om dit te kan verwerk. Slaag iemand ooit volkome daarin?

As iemand opgewasse kan wees om spanning te verwerk, moet dit immers Louis Paulter wees, hy wat ’n gevorderde student in sielkunde is. Dikwels egter merk sy ’n kommerkeep tussen sy oë, sien sy hoe hy aan tafel kos in sy mond sit sonder dat hy behae daarin het of die smaak laat registreer.

Sy wens sy kon dinge vir hom ligter maak. Sy is nie blind vir die feit dat daar veel meer op sy skouers neerkom as wat enige mens in staat is om alleen te dra nie. En daarby het sy die indruk dat sy vrou nie by hom staan nie.

Hierdie gevoelens hou Petro egter vir haarself. Dis vir haar ontstellend dat Danie na al die jare jaloers begin raak. En daarvoor kies hy vir Paulter uit. Waarom? Daar is immers ander, jonger onderwysers op die personeel wat hy as ’n bedreiging kan beskou as hy ’n sondaar soek. Sy bid dat Paulter nooit moet uitvind van hierdie aanklag nie. Sy sal hom nooit weer in die oë kan kyk nie.

Sy probeer dan ook uit die pad van hom en sy vrou bly waar dit nie om skoolwerk of toesigdiens gaan nie. Om die waarheid te sê, sy gebruik die aangebode badkamer so min moontlik. Sy deel maar met die dogters, ondanks die aardige reuk van karbolseep of wat ook al. Sy trotseer dit liewer as dat sy so intiem met die Paulters moet deel. Daardie eerste keer wat sy haar buite die badkamerdeur in Paulter vasgeloop het, bly haar op ’n hinderlike manier by, so asof iets in verband daarmee nie afgehandel is nie. Iets bly nog nawerk, in die lug hang, roepend om opklaring. Was dit ’n aanspraak, ’n atmosfeer, ’n aanvoeling, en van wie het dit uitgegaan?

As jy eendag terugdink, moenie sê dat ou Danie heeltemal onnosel was nie, het Danie tydens hulle jongste meningsverskil gesê. Dit ontstel haar. Daar was so ’n donker ondertoon in sy voorspelling. Sy kry dit nie uit haar gemoed verban nie.

Ondanks oplaaiende werk voor die kort herfsvakansie, knyp Petro ’n tydjie af om na Rina toe te gaan. Dis nie te ver om te stap nie, en sy beplan om terug te wees voor aandete . . . en Danie.

Die vinnige stappie in die bros aandlug van vroegherfs doen haar goed. In hierdie tyd is alles suiwerder, konkreter. Dis nie soos die kortstondige bloeityd van herfs nie. Die swaar, goudryp voldraenheid van die natuur is selfs tussen beton en teer voelbaar. Blare kraak uiteen onder haar vinnige voetsole. ’n Weemoed wat buite beskrywing lê, omvou haar. Sy ondervind die sonderlinge drang om te huil en te huil, nie van verdriet nie, maar wel vanweë ’n besef van die onomstootlikheid van dinge. Elkeen spook en spartel, jaag sy eie heil na; maar op die ou end besef jy dat jy heeltyd besig was om uit ’n bestemde baan te beur.

Rina is al tuis met klein Hennie wanneer Petro daar aankom. Tot laasgenoemde se verbasing is haar skoonsuster sonderling vriendelik en opgeruimd, wat weer Petro se vermoede bevestig dat ’n mens die vrou net beter moet leer ken om haar te verstaan.

Sy versoek Petro om vir Hennie te bad solank sy vir hom aandkossies maak. Die atmosfeer raak heel huislik. Petro moet erken dat Rina weet hoe om ’n woonplek interessant te maak. Sy het ’n moderne, kleurvolle aanslag in haar tuisteskepping. Jy kan sien dat sy ’n bietjie anders as die doodgewone grootgeword het. ’n Bossie naeltjieblomme in ’n vasie sprei ’n hemelse geur deur die beknopte woonplekkie, terwyl droë roosblare, in ’n piouterbak gemeng, bydra tot die geur wat eie is aan Rina.

Marius moet haar behou, dink Petro met pyn in die keel. Daar kan vir hulle ’n wonderlike lewe wag. As hulle net eers die gedwonge skeiding agter die rug kan kry en padgee uit hierdie benouende woonstelkompleks waar jy die bure se kleintjies kan hoor skree, ’n reuk van kookkos in jou neusgate kry en skril vrouestemme hoor.

“Het jy goeie nuus gehad?” vra Petro toe sy begin besef dat Rina se goeie bui ’n stootjie van buite moes gehad het.

“Of ek goeie nuus gehad het?” eggo Rina met ’n lag. Sy het ’n skerp profiel, wye mond, honger, soekende oë. Hande wat lyk of dit iets wil aangryp wat haar ontwyk. “Ek gaan vir ons naam maak, jong,” vervolg sy. “Een van die dae sal julle dalk trots kan wees op my; dan sal ek nie net meer die feeks wees wat skande oor julle huis gebring het nie.”

“Jy weet dis nie waar nie, Rina. Dis nie hoe ons jou sien nie. As dit die rol is wat jy vir jou uitgesoek het, kan jy nie sê dat óns jou so sien nie.”

“Jy’s warmpatat, hoor. ’n Rol. Ek sal jou maar vertel. Jy weet mos ek gaan elke Saterdag perdry, dan vat ek vir Hennie saam. Hy moet perde leer ken, sy oupa is ’n ryk boer en dalk erf hy nog iets daarvan as sy moeder eers vergewe is.”

“En toe?” vra Petro. Maar terwyl Rina nog praat, begin sy reeds met verbluffende helderheid weet wat haar skoonsuster wil sê. Maar sy luister verder asof sy niks vermoed nie.

“Nee, verlede Saterdag ontmoet ek toe iemand daar. Eintlik het hy die eienaar gevra om my aan hom voor te stel. Toe hy boonop hoor ek het ’n bietjie drama geswot en ek kan ’n paar note sing en nog perdry ook . . .”

“Die ou wat die film kom maak?” vra Petro, en dink vlugtig aan Barbara Paulter.

Sy kry sterker as voorheen die gevoel dat bane vir jou bestem is waarteen jy tevergeefs met jou eie kragte beur.

Louisa du Toit Omnibus 6

Подняться наверх