Читать книгу Hartklop Omnibus 2 - Malene Breytenbach - Страница 11

8

Оглавление

Daardie aand kan Mila nie vinnig genoeg ná die voorgeboorteklas die paartjies by die deur uitboender nie. Sy antwoord hul vrae so geduldig moontlik en groet almal vriendelik, maar innerlik kners sy op haar tande en wens dat almal net hul ry wil kry. Sy is gewoond daaraan om met min slaap klaar te kom, maar wat te erg is, is darem te erg! Vanaand móét sy net verlore slaap inhaal sodat haar arme verflenterde senuwees kans kry om te herstel. Sy het dae laas in haar dagboek geskryf, en vanaand sal dit wéér nie kan gebeur voor slapenstyd nie.

Vir die honderdste maal vandat sy daar ingetrek het, voel Mila dankbaar dat sy so naby die hospitaal bly. Sy is so gedaan dat sy ’n gevaar agter die stuur van haar motor is; sy sukkel om helder te dink. As die huis meer as vyf minute ver was, sou sy vanaand bang wees om op pad in te dommel.

Die nadeel van haar gerieflike meenthuiskompleks is natuurlik dat daar ’n hele paar van haar kollegas op die perseel bly. Nie dat Mila dit ooit vantevore as ’n nadeel beskou het nie; dit het eers een geword toe Derek Reynders langs haar ingetrek het. Sy dink terug aan hul eerste stormagtige ontmoeting. Dan laat sy haar geheue teruggly oor die nag toe hy ewe sorgsaam vir haar ’n hoesmengsel aangedra het. Haar voorkop tintel by die blote gedagte aan die soen wat hy met daardie heerlike lippe daarop geplant het. Ai, as hy nét nie die een was wat haar eenheid wou sluit nie. Dan sou dit nie so ’n probleem wees dat sy halsoorkop verlief op hom gaan staan en raak het nie …

Mila trek haar asem skerp in. ’n Koorsagtige gloed stoot in haar op, so vuurwarm dat sy versigtigheid na die maan stuur en haar motorvensters afdraai vir die koel verkwikking van die naglug. Ek is verlief op Derek Reynders, besef sy, en haar hart ruk pynlik in haar borskas. Ek is verlief op ’n man wat vasbeslote is om alles waarvoor ek gewerk het te vernietig. Wat meer omgee vir die hospitaal se finansies as vir enigiets anders …

Mila is skielik woedend, vir haarself en vir Derek-blerrie-Reynders! Hoe kon sy so simpel wees om op só ’n man verlief te staan en raak? Het sy ’n masochistiese streep wat haar vir mans laat val wat haar hart aan flarde gaan ruk? Ja, sy het gedink hy’s gorgeous toe sy hom die eerste keer daar voor haar deur ontmoet het. Maar sy het tog van die begin af geweet dat hy ’n arrogante buffel is wat heeltemal te aantreklik vir sy eie beswil is! Wat op aarde is haar verskoning? Net ’n paar dae later het sy uitgevind dat hy nie net sy neus in haar sake wil steek nie, hy wil haar sommer professioneel bedonder ook! En het sy toe haar verstand begin gebruik en van die man weggebly? Nee, sy het nie!Vanoggend val sy toe sommer soos ’n lovesick puppy in sy sterk arms sodat hy haar traantjies kan afvee. Mens sou sweer sy is een van daardie patetiese meisies wat ouens met die holrug geryde damsel-in-distress slenter probeer aankeer. Wat moet die man van haar dink?!

Nie dat hy onskuldig is nie. Allermins! Hy hou aan om haar aandag af te trek van wie hy eintlik is: ’n ongeneeslike geldwolf. As hy nie besig is om haar met tuisgemaakte verkouebrousels te probeer sag maak nie, dan slaan hy haar voete onder haar uit met sy bedside manner. Sy wens hy wil nie so verdeksels gááf wees nie! Dis vir haar onmoontlik om op sy verdoemende karakterfoute te konsentreer as hy haar met soveel kwesbaarheid in daai hemelse oë aankyk. O, sy is ’n stupid vroumens! Dis natuurlik ’n truuk wat hy aangeleer het omdat dit so goed op die skoner geslag werk. Hoe kón sy so onnosel wees om vir hom te val? Mens sou sweer sy is nog sweet-sixteen-and-never-been-kissed, nie ’n siniese geskeide vrou wat al haar les op die harde manier geleer het nie.

Eintlik moet dit haar nie verbaas nie, dink Mila wrang. Haar keuse van mans het nog altyd veel te wense oorgelaat. Dis kompleet of die geskiedenis hom herhaal met Derek: Sy’s weer by ’n kruispad waar sy moet kies tussen haar beroep en haar liefdeslewe. Sy moes uit die fiasko van ’n huwelik met Stefan geleer het dat ’n privaat vroedvrou teen wil en dank met haar werk getroud móét wees. Derek stel nou wel nie ’n ultimatum aan haar soos Stefan gedoen het nie – verdomp, sy weet nie eens of hy iets vir haar voel nie – maar die dilemma is eintlik presies dieselfde. Die boodskap wat die heelal aan haar stuur, is hard en duidelik: Vergeet van die liefde en konsentreer op jou werk. Doen jouself ’n guns en kry dit in jou muisnes-deurtrekte kop, Mila Mouton!

Mila bestuur in rekordtyd huis toe. In die week is die strate stil ná nege. Boonop vermoed sy dat haar onverwagse ontdekking haar so ontstel het dat haar voet dalk ’n bietjie swaar op die petrolpedaal gerus het. Met die intrapslag skink sy vir haar ’n glasie witwyn. Sy was nog altyd doodbang om alleen te drink – om soos haar pa aan alkohol verslaaf te raak – maar vanaand oortuig sy haarself maklik dat sy ietsie verdien om haar te help ontspan. Sy lê vir ’n halfuur in ’n skuimbad en klouter dan in die bed, tog te dankbaar dat sy Melissa vanaand by haar ma laat slaap het. Sy prewel ’n vurige smeekgebed dat die slaap vinnig moet kom en dat niemand vannag moet kraam nie. Vannag moet sy ’n ononderbroke ruskans kry. Dalk kan sy môre helderder dink en voel sy sommer beter oor die chaos in haar professionele én liefdeslewe …

Dit voel asof Mila net ingedut het toe sy ’n gehamer aan haar voordeur hoor. Haar ooglede klou aan mekaar asof hulle met Super Glue vasgeplak is; sy kry hulle met die beste wil in die wêreld nie oop nie. Sy strompel dronkerig na die kas om haar japon uit te haal en sien verbaas dat die son reeds helder skyn. Het sy regtig so lank geslaap?

Sy knip haar oë teen die verblindende lig toe sy die voordeur oopmaak. Derek staan voor haar deur, opvreetbaar aantreklik in sy draf broekie en lyk-ek-nie-sterk-nie-T-hemp wat sy gespierde boarms perfek vertoon. Gisteraand se onverwagte bewuswording dryf lui na die oppervlak van haar slaapbenewelde brein, en voordat Mila haar kan keer, grinnik sy soos ’n idioot vir die man.

“Goeiemôre.Wat bring jou so vroeg na my deur?” Mila skrik haar dood vir die loom koketterigheid in haar stem, veral toe sy halfpad deur die sin besef dat daar iets met Derek se gesigsuitdrukking skort. Sy trek haar oë op skrefies en beskou hom vir ’n oomblik aandagtig. Sy het al haar dae om te konsentreer, want as dit nie sy welgevormde bobene is wat haar aandag aftrek nie, is dit die subtiele manlike reuk wat aan hom kleef. Skuldig asem sy dit bietjie dieper in en probeer dan weer om die uitdrukking in Derek se baby blues te lees. Maar voordat sy dit kan eien, spring hy haar voor. Die woede in sy stem maak enige verdere interpretasie onnodig.

“Nee, Mila, ek’s bevrees dis nié ’n goeie môre nie. Dit wás ’n goeie môre toe ek heerlik vars opgestaan het en reggemaak het om te gaan draf. Dit was ’n goeie môre toe ek my voordeur oopgesluit en die voëls buite hoor sing het. Maar toe wag hierdie koerant vir my in my poshokkie, en nou is dit allesbehalwe ’n goeie môre!”

Verbaas neem Mila die koerantjie by Derek en kyk fronsend na die plek waar hy toornig met sy wysvinger tik. Sy is te ydel om teenoor hom te erken dat sy nie te waffers sonder haar kontaklense kan sien nie, en dat haar oë buitendien nie vanoggend wil fokus nie. Sy bring die koerant nader aan haar gesig en sien dit is ’n eksemplaar van die Wilgeklower, die plaaslike koerantjie wat weekliks gratis by elke woning in Wilgekloof afgelewer word. En wat dan gretig van voor tot agter gelees word omdat dit al die plaaslike skindernuus bevat. Mila het geen idee wat daarin kan staan om Derek so te ontstel nie.

Haar oë gly oor die dik swart letters. Dit voel asof iemand ’n emmer koue water in haar gesig uitskiet toe die hoofopskrif in fokus kom. Met groeiende paniek lees sy die sensasionele titel: Winsjagter-kinderarts het mes in vir vroueregte. Liesel se artikel! Saam met drie volkleurfoto’s van die geboorte-eenheid beslaan die berig byna die hele voorblad. Mila se mond is eensklaps kurkdroog en sy sluk moeisaam voordat sy verder lees.

Vroedvrou Mila Mouton het reeds honderde vroue se geboortedrome laat waar word in die knus Aktiewe Geboorte-eenheid by Protea Moeder-en-Kind Hospitaal. Hierdie eenheid – die enigste van sy soort in Wilgekloof – spog met ’n koningsgrootte dubbelbed sowel as ’n bad vir watergeboortes. In skerp kontras met die kliniese kraamkamers van die meeste hospitale, bied die eenheid ’n huislike atmosfeer waar vroue met waardigheid geboorte kan skenk.Terselfdertyd is dieselfde hoë standaard van mediese sorg wat in die res van die hospitaal geld, tot hul beskikking.Volgens Mouton is ’n emosioneel bevredigende kraamproses die geboortereg van elke vrou en baba – ’n reg wat nou bedreig word deur die gierige winsbejag van hospitaalbestuur en aandeelhouers.

Dokter Derek Reynders, die hospitaal se nuwe hoof van pediatrie, maak geen geheim van sy voorneme om die deure van die Aktiewe Geboorte-eenheid vir ewig te sluit nie. Reynders besit ’n stewige aandeel in die Protea-groep en dit steek hom dwars in die krop dat die eenheid spasie beset wat op ’n “meer winsgewende” manier benut kan word.Volgens die Wilgeklower se bronne was dokter Reynders se kommentaar op die aantyging dat sy besluit vroue gaan benadeel, die volgende: “Dit gaan nie vir my om die bevordering van vroueregte nie, maar om wat die beste vir die hospitaal as geheel is.” Reynders dink ongetwyfeld ook oor wat die beste vir sy eie sak en dié van sy mede-aandeelhouers is.

Suster Mila Mouton voel egter anders:“Elke vrou in Wilgekloof wat ’n natuurlike geboorte in die volste sin van die woord wil hê, sal voortaan voor een van twee keuses gestel word: Óf sy sal tydens haar swangerskap en kraam die ongerief moet trotseer om na een van die Pretoriase of Johannesburgse geboorte-eenhede te ry, óf sy sal teen wil en dank tuis moet kraam.”

Hoewel tuisgeboorte vir sommige ma’s ’n veilige en bevredigende opsie is, is dit nie almal se koppie tee nie. Baie vroue voel meer gerus as hulle weet dat mediese hulp byderhand is ingeval iets verkeerd loop, en gemoedsrus is ’n sleutelelement van ’n suksesvolle geboorte. ’n Aktiewe geboorte-eenheid bied ’n wonderlike alternatief vir vroue wie se swangerskap nie laerisiko genoeg is vir tuisgeboorte nie, maar ook nie so riskant is dat hulle ’n keisersnit of instrumentverlossing nodig het nie. Dit lyk egter asof hierdie alternatief nie meer lank vir vroue in Wilgekloof beskikbaar gaan wees nie. Hierdie geval bewys weer dat privaat gesondheidsorg nie wentel om die behoeftes van die pasiënt nie, maar eerder om die ekonomiese gewin van die beleggers.

Hoe verder Mila lees, hoe vieser word sy. Wie dink Derek Reynders miskien is hy om haar douvoordag in so ’n beduiwelde bui te kom opklop? Dis nie asof enigiets in die berig onwaar is nie! Liesel se feite is een honderd persent korrek, hoewel die artikel miskien nie ’n toonbeeld van objektiewe verslaggewing is nie.

Mila ruk haar donker kop op en gluur boosaardig na Derek.

“Ek’s jammer dat die berig jou goeie môre bederf het, dokter Reynders. Die waarheid het die nare gewoonte om dit te doen. Ek weet rêrig nie waarom jy so verbaas lyk nie. Het jy miskien gedink dat ek die enigste een is wat omgee dat jy die Aktiewe Geboorte-eenheid wil sluit? Dat dit net my lieflingsprojekkie is, dat ek oorreageer? Ek hoop die berig kry dit in jou halsstarrige kop dat jy besig is om iets te vernietig wat ’n noemenswaardige verskil maak in ons gemeenskap as gehéél. Ek maak ’n verskil met daardie eenheid, Derek, een baba op ’n slag! Ek sien dat die enigste verskil wat jy begryp ’n finansiële een is, maar miskien is dit tyd dat jy jou oë oopmaak vir die feit dat die lewe uit meer bestaan as jou bankbalans!”

“En miskien, Mila Mouton, is dit tyd dat jy jóú oë oopmaak en raaksien dat die kastige verskil wat jy maak window dressing is in vergelyking met wat ek met die eenheid wil doen.”

Sy stem is gevaarlik sag, die vel om sy lippe spierwit. “Wat help dit ’n kind om in die romantiese lig van laventelkerse gebore te word met Juanita wat in die agtergrond gospel koer as die nodige hulp nie beskikbaar gaan wees as hy twee jaar later in ’n swembad val nie? As hy deur ’n krimineel geskiet word en in ongevalle voor sy ma se oë doodbloei omdat die dokter wat hom behandel nie genoeg kennis het om met kinders te werk nie? Jy mag dalk dink dat jy die enigste een is wat ’n verskil maak en dat jy te edel is om deur geldelike gewin gemotiveer te word, Mila, maar as jy net vir een oomblik daai mooi koppie van jou gebruik, sal jy besef dat jy besig is om onredelik en kortsigtig op te tree.Vader, ek het nie besef jy is so naïef en so … so … selfgesentreerd nie! Die verskil wat jy met jou eenheid maak, is ’n gehalteverskil; die verskil wat ek wil maak, is die een tussen lewe en dood. Jy is self ’n ma, Mila, wat is vir jou die belangrikste? ’n Romantiese geboorte of bekwame mediese hulp die dag as jou kind in doodsgevaar verkeer?”

Mila is nog besig om haar asem terug te kry ná sy lae hou toe Derek omvlieg en by die trappies af draf. Sy wil hom terugroep, wil hom keer voordat hy met lang atletiese hale uit haar lewe uit draf, maar sy kan haar nie sover kry nie. Sy staar hom net soos Lot se vrou agterna: stom, verwese en bitter alleen.

Dis eers toe Mila die berig ’n tweede maal noukeurig deurlees dat sy dit raaksien.Vanoggend drink sy ’n koppie kruie-tee met heuning in plaas van haar gebruiklike koffie in die hoop om haar bewende hande in bedwang te kry. Miskien kalmeer die kamille haar sodat sy haar gedagtes kan orden en meer objektief na Liesel se artikel kan kyk.

Sy bestudeer weer die opspraakwekkende opskrif en voel hoe haar binnegoed ineenkrimp oor die lasterlike wyse waarop dit Derek uitbeeld. G’n wonder hy was letterlik bleek van woede nie! Dan sien Mila die fyndrukfrase onder die opskrif: Sien ook berig op bl. 5. Sy het dit netnou gemis. Nou blaai sy met ’n mengsel van nuuskierigheid en afgryse verder.

Dit neem haar ’n minuut of wat om die beriggie in die skinderkolom op te spoor. Nietemin is elke woord so giftig en skadelik vir Derek se reputasie as die hoofberig, dalk selfs ’n bietjie erger. Sy kan haarself beslis ook nie meer verontskuldig deur aan te voer dat elke woord die waarheid is nie. Hierdie berig is grootliks op aantygings gebaseer, nie op feite nie. Nee, Liesel skaats gewis op dun ys met hierdie ene, dink sy bekommerd.

Watter geraamtes skuil in dokter Derek Reynders se kas?

Derek Reynders, ’n aantreklike enkelloper, het op 1 November die betrekking aanvaar by Protea Moeder-en-Kind as hoof van pediatrie. Dadelik het ’n storm rondom sy kop losgebars toe hy sy besluit aangekondig het om die bekende Aktiewe Geboorte-eenheid te sluit. Volgens hom maak die eenheid nie genoeg geld nie en wil hy die spasie omskep in ’n meer winsgewende pediatriese trauma-eenheid.Wat sou hierdie gebore Kapenaar laat besluit het om homself skielik te ontwortel? Is daar dalk iets in sy verlede waarvoor dokter Reynders vlug? Volgens vertroulike inligting is daar ’n verdagte gaping in Reynders se diensrekord. Vir ’n volle drie jaar was hy nie by die Mediese Raad geregistreer nie.Waar was hy, en waarom het hy nie gepraktiseer nie? Maak die bestuur van PMK nie dalk wolf skaapwagter deur hierdie geheimsinnige man met die wankelende finansies van een van die oudste hospitale in Wilgekloof te vertrou nie?

Die res van die dag is Mila soos ’n dwalende gees. Derek se woorde van vanoggend wil haar nie laat los nie, en elke keer as sy aan hul konfrontasie of aan Liesel se berigte dink, brand haar wange opnuut van skaamte. Sy sien pasiënte by die eenheid en weet nie wat om te antwoord op hul bekommerde vrae oor waar hulle dan nou gaan kraam as die eenheid moet toemaak nie.Werktuiglik luister sy na hartkloppies en meet sy swanger buike met haar blou maatband – sy glimlag selfs met haar pasiënte as die situasie dit vereis – maar binne-in voel sy doods te midde van al die nuwe lewe.

Laatmiddag oorreed Melissa vir Mila om die eende te gaan voer by die dam naby hul huis. Gewoonlik geniet sy dit amper net soveel soos haar dogtertjie om stukkies brood ver oor die water te gooi en na die veelkleurige swemvoëls se opgewonde gekwaak te luister. Maar vandag voel sy afgestomp en verwyder van alles en almal rondom haar: van die gras onder haar voete, die gladde visse wat broodkrummels voor die eende wegraap, van haar uitgelate dogtertjie met haar blonde bokstertjies. Dis asof Derek haar hart uitgeruk het met sy fel woorde, asof daar net ’n dop van haar oorgebly het.

Vrydagoggend verslaap Mila liederlik. Sy moes die wekker op haar selfoon per ongeluk deur die slaap doodgedruk het. Ook geen wonder nie, want haar nag was weer rusteloos. Derek se gesig het by haar bly spook. Heelnag was sy besig met sy sterk asof-uit-klip-gebeitelde gelaatstrekke, met die diep kuiltjie in sy ken wat die forse beeld so aantreklik versag … Soms het sy vreeslik baklei met hom, net om hom weer en weer te hoor sê dat sy selfgesentreerd en naïef is. Ander kere was die nagmerries van ’n heel ander aard: vuurwarm vrydrome waaruit sy natgesweet en met hortende asemstote wakker geskrik het. Dan was haar begeerte na hom ’n kloppende pyn in haar onderlyf. Hierdie drome was so verleidelik werklik dat Mila ná ’n besonder stomende een verward oor haar gesig gevryf het omdat sy nog sy ruwe swart stoppelbaard daarop kon voel krap.

Toe haar selfoon om halfagt lui, raak die klank daarvan eers verstrengel in die fantasiewêreld van haar droom. Sy en Derek is saam by ’n keisersnit waar hulle skielik nie hul hande van mekaar kan afhou nie. Ten spyte van al die ander mense in die teater neem Derek haar kop ru tussen sy hande. Hy soen haar met soveel passie dat haar ore daarvan tuit; sy kan amper nie staande bly nie … Dan skreeu die baba en Mila probeer haarself willoos uit sy omhelsing losmaak. Maar hy wil haar nie laat gaan nie en die baba hou aan skreeu. Skielik sê die kleintjie met ’n blikkerige stem “Lise-Marie”. Mila besef dat dit geen baba is wat sy hoor huil nie. Dis haar simpel selfoon wat haar probeer vertel dat Lise-Marie haar soek! Derek het haar nie regtig gesoen nie. ’n Donker mistroostigheid sak oor haar neer terwyl sy blindweg op die bedkassie rondtas vir haar foon.

“Mila, hallo?” antwoord sy vaak.

“Mila?” Lise-Marie klink ongeduldig.“Waar’s jy? Moet tog net nie vir my sê jy slaap nog nie?”

“Uhm, nee, ek is wakker,” jok Mila en frons bysiende na haar horlosie. Dêmmit, Melissa gaan weer laat wees vir skool! Haar kleuterskooljuffrou het ’n manier om Mila soos ’n uiters onverantwoordelike ouer te laat voel elke keer as sy laat is met die op- of aflaaiery. Duidelik het die poppie nie ’n idee hoe onvoorspelbaar ’n vroedvrou se lewe is nie! Sy’t self nog nie kinders nie.

“Waar is jy?” vra Lise-Marie weer.

“Uhm, nog by die huis. Maar ek gaan nou amper ry.” Mila probeer so verskonend moontlik klink.

“Het jy vergeet dat ons ’n afspraak met die Van der Merwes het? Die mense het al die pad van Phalaborwa af gekom om ons ’n laaste keer te kom sien voor die geboorte. Jy’s laat, Mila.”

Mila slaan haar hand verskrik oor haar mond. Sy het heeltemal van die onmoontlik vroeë afspraak vergeet waartoe sy ’n paar weke gelede ingestem het.

“Vrek, Lise-Marie, dit het my totaal en al ontgaan! Ek’s nog in my pajamas en ek moet eers my kind gaan aflaai. Dink jy jy sal hulle kan besig hou tot ek kom? Vat hulle miskien maar op ’n hospitaaltoer en neem hulle kafeteria toe vir ietsie. Ek sal met jou regmaak.”

Die doula sug hoorbaar. “Jy’t nou nie die maklikste kliënte gekies om ’n disappearing act op te trek nie, vriendin. Maar ek sal kyk wat ek kan doen. Miskien kan ek solank vir hulle my borsvoedingpreek afsteek, dit sal jou so ’n uurtjie grasie gee. Kry net jou gat in rat en kom so vinnig as jy kan. Hier’s ’n ander surprise ook vir jou.”

“Wat bedoel jy?” Mila is nie seker of sy van die geheimsinnige klank in Lise-Marie se stem hou nie.

“Wait and see,” antwoord Lise-Marie enigmaties. “En ry versigtig! As die spietkops jou vanmôre vang met al daai outstanding fines van jou sluit hulle jou summier in die tjoekie toe. En dan sit ek hier met die gebakte pere.”

Mila gee ’n skuldige laggie. Sy troos haarself oudergewoonte daaraan dat sy so vinnig ry omdat sy gedurig haastig op pad is na geboortes, maar sy vermoed tog dat sy eintlik maar doodeenvoudig ’n spoedvraat is wat verkeerskaartjies sou versamel ongeag haar beroep. Vir die honderdste maal onderneem sy om voortaan stadiger te ry. Van môre af … Vandag is sy laat!

Mila vlieg vervaard deur die stort. Sy pluk haar gunsteling jeans en ’n poeierblou toppie aan en kies ’n paar Crocs – die skreeulelike dog gemaklike skoene wat Lise-Marie spottend “official birth-business footwear” noem. Vanoggend is daar nie tyd vir hare droogblaas of vir die ligte grimering wat sy gewoonlik werk toe dra nie. Sy vang haar styl hare in ’n knip agter haar kop vas en sit ’n smeersel lipstiffie aan om die ergste vaalheid te verjaag. Natuurlik beland die meeste daarvan op haar voortande en mors dit kosbare sekondes om af te vee. Ai toggie, dink sy ergerlik, hoe meer haas, hoe minder spoed!

Vir Melissa maak sy so sagkens moontlik wakker. Die kind verpes dit om soggens aangejaag te word; hoe meer Mila aan haar karring om op te skud, hoe meer steek sy soos ’n halsstarrige muil vas.Vanoggend wil sy opsluit ’n wollerige pienk sweetpakkie met bloedrooi waterstewels aantrek – in die somerhitte! Mila wil eers haar voet neersit, maar besluit dan dat sy nie vanoggend die energie het om te stry nie. Sy gee dus maar gedwee in en pak skelmpies ’n ekstra kortbroek, T-hempie en sandale in haar dogtertjie se rugsak. Laat haar juffrou haar maar probeer oortuig om dit aan te trek.

Die verkeer is moordend. Melissa se kleuterskool is nie op haar pad hospitaal toe nie; hulle moet ’n ompad deur ’n besonder besige deel van die stad ry. Dis so ’n goeie skooltjie dat Mila gewoonlik heel gewillig die opoffering maak.Vanoggend verwens sy haar egter oor haar kieskeurigheid. As sy Melissa sommer in die hospitaal se dagsorgsentrum gesit het, was sy nou al daar.

Teen die tyd dat sy Melissa afgelaai en die juffrou se toorn getrotseer het, is meer as ’n uur verby vandat Lise-Marie gebel het. Mila hoop maar dat sy die paartjie kon paai met ’n lekker koppie koffie en muffins.Veral hoop sy naarstiglik dat die res van die dag nie so holderstebolder gaan wees soos die begin nie.

In die hospitaal se parkeerterrein trap Mila verbaas rem. Daar is altyd meer as genoeg stilhouplek onder die groot ou bome voor haar eenheid. Wat op aarde gaan vandag aan? Karre staan soos sardiens langs mekaar ingeryg; daar is nie plek vir ’n muis nie! Vies maak sy ’n U-draai en gaan hou voor die hoofhospitaal stil. Nou moet sy haar swaar mandjie al die pad dra.

Sy stap flink maar ingedagte om die draai in die rigting van die Aktiewe Geboorte-eenheid. Wat is die pasiënt van Phalaborwa se naam nou weer? Name is gewoonlik Mila se sterk punt, maar skielik kan sy net onthou dat die man Hannes heet. Die lieflike kunstenares met die vlamrooi hare se naam is skoonveld.

Mila loop só koponderstebo en peins dat sy byna bo-op hulle is toe sy die eerste keer van hulle bewus raak. Sy snak na haar asem toe sy sien hoeveel van hulle daar is en probeer verbete teen die trane veg wat oombliklik in haar oë opwel.Vervlaks, sy kan nie al weer wil huil nie! Sy begin nou ’n gewoonte daarvan maak. Tog is die gesig so uitsonderlik dat sy haarself nie kan keer nie.Voor die ingang van die eenheid staan ’n groep van bykans ’n honderd mense. Die oorgrote meerderheid is vroue, maar ’n hele paar van hulle word deur mans vergesel. Net waar mens kyk, sien jy babas: op hul ma’s se heupe, in drasakke teen hul lywe, in stootkarretjies, in karstoeltjies. ’n Paar van die volwassenes het peuters of ouer kinders aan die hand. Die meeste gesigte is wit, maar daar is ’n groep swart vroue ook.

Mila tel vier van haar Indiërpasiënte en sy herken Hiromi se dierbare ronde Japannese gesiggie in die skare.

En die plakkate! Waar sou die vroue aan soveel slim slagspreuke kom? Mila wens sy kon ’n pen en notaboek gryp en van die sêgoed neerskryf; sy’s bang sy vergeet dit later. ’n Hele paar plakkate verkondig die bekende tong-in-die-kies slagspreuk: Babies are born, pizzas are delivered, maar die meeste van die boodskappe fokus op die idee dat geboorte ’n normale proses is en nie ’n siekte nie. Een plakkaat lui: Hou hospitaalbeddens vir siekes – gee geboorte in die ABU. Mila glimlag oor hierdie Amerikaanse afkorting wat talle van die plakkate gebruik: ABU vir Active Birth Unit. Salomien, ’n lang donkerkop wat ál vier haar babas by Mila gehad het, se plakkaat gil in netjiese rooi letters: MIDWIVES FOR BIRTH! DOCTORS FOR DISEASE!

Trots besef Mila dat heelwat van die plakkate daarop gemik is om die diens wat vroedvroue lewer te prys. Melanie, ’n Duitse vrou wie se baba Mila in Januarie by haar huis gevang het, swaai ’n plakkaat wat lui: Savety first: choose a midwive birth. Die spelfoute in haar opreg bedoelde boodskap vermurwe Mila se hart net verder. Tania en haar suster, Larissa, hou onderskeidelik plakkate vas wat lui: Midwives empower women en Midwives help people out.

Tania se tweede baba en Larissa se eersteling is amper ewe oud; Mila het die tweetjies in dieselfde week gevang. Sy glimlag toe sy sien hoe groot albei pienkvoete intussen geword het.

Die slagspreuke wat Mila die diepste tref, is die eenvoudiges. ’n Hele paar pasiënte se plakkate verkondig: We love the ABU. Op sommige pronk foto’s van die klein mensies wat Mila in haar geboorte-eenheid verwelkom het. Liesel – klaarblyklik die voorbok van hierdie vreemde protesoptog – staan half eenkant met haar stertswaaiende swart labrador-gidshond. Haar slagspreuk is kort en kragtig: Save our ABU.

Toe Mila bewoë naderstap, word ’n see van liefdevolle vrouehande na haar uitgestrek. Binne sekondes verswelg die groep haar heeltemal. Sy laat haarself willoos van die een omhelsing na die volgende stuur. Deur haar trane plant sy soentjies op die kwylbekkies wat vir haar uitgehou word, streel sy oor die een sysagte wangetjie na die ander. Sy is vaagweg bewus daarvan dat talle briefies in haar hande gestop word. Die vroue fluister bemoedigende woorde in haar oor en hul mans klop haar vriendelik op die skouer.

Dit word vir Mila die hoogtepunt van haar loopbaan, hierdie huldeblyk wat soveel van haar ou pasiënte aan haar betoon. Die liefde waarmee die groep haar omvou, is soos salf vir Mila se stukkende hart, en terselfdertyd steek dit ’n flou vlammetjie van hoop in haar binneste aan. Haar werk sal voortgaan, besef sy effe weemoedig. As sy dan die geboorte-eenheid moet verloor, sal dit nie die einde wees nie.Teleurstellend, ja; frustrerend, beslis. Maar nogtans nie die einde nie. Solank as wat vroue babas in die wêreld bring, sal daar altyd behoefte aan vroedvroue wees. Haar beroep is honderde eeue oud en sal nie sommerso verdwyn nie. Terwyl haar hart nog klop en haar hande sterk genoeg is om babas te vang, sal sy aanhou om haar verskil te maak – een baba op ’n slag. Miskien is dit ’n nederige verskil in vergelyking met die dramatiese reddingspogings wat Derek met sy trauma-eenheid beoog, maar sy weier om verskoning daarvoor te maak, weier om dit ondergeskik te stel aan enigiets. Wie weet watter verreikende gevolge dit vir ’n samelewing kan hê as meer babas in ’n liefdevolle omgewing met hierdie aardse werklikheid kennis maak? Natuurlik is trauma-eenhede broodnodig, maar dit beteken nie dat haar werk “window dressing” is nie. Nee, besluit Mila beslis, en sy lig haar ken trots op, wat sy doen, het ewigheidswaarde. En as Derek dan nou die deur by PMK in haar gesig toeklap, soos haar ma dit stel, dan sal sy soek vir daardie venster.Vaderland, sy is ’n vroedvrou! Sy sal hom wys van watter stoffasie sy gemaak is. Hy moenie verwag sy gaan net omrol en dood speel nie. Dis nog lank nie verby nie …

Derek Reynders staan armsgevou by die venster van die hospitaalbestuurder se kantoor en uitkyk. Leon Swiegers het hom dadelik na sy kantoor ontbied toe die PR-beampte die nuus van die protesoptog gebring het. Blykbaar beplan die spulletjie om twaalfuur ’n petisie met meer as vyfhonderd handtekeninge aan die hospitaalbestuurder te kom oorhandig. Wie sou kon raai dat daar soveel mense is wat so sterk oor die saak voel?

Onwillekeurig dwaal sy blik na Mila waar sy half eenkant tussen ’n kleiner groepie vroue staan. Sy gesels geanimeerd, haar fyn hande beduie entoesiasties. Sy is in haar element tussen hierdie groep oudpasiënte en geniet dit om die middelpunt van aandag te wees. Derek neem haar dit glad nie kwalik nie. Sy’t ’n indrukwekkende gevolg. Toe sy oorlog verklaar het, het hy geen idee gehad dat sy soveel gewillige troepe tot haar beskikking het nie!

Hy wens hy kon kwaad wees oor die verleentheid waarin Mila hom en die res van die bestuur stel. Hy sukkel egter vanoggend om sy vuurtjie van verontregting hoog genoeg aan te blaas. Hoe meer hy van die vroumens sien, dink Derek wrang, hoe meer bewonder – erger nog – begeer hy haar. Hy was nog altyd aangetrokke tot sterk vroue, en Mila is ongetwyfeld die sterkste, mees onafhanklike een wat hy nog teëgekom het. Tog is sy geen hardegat feminis nie. Sy is ’n toonbeeld van vroulikheid. Hy het immers haar weerlose sy gesien ná die drama met haar bipolêre pasiënt. Sy het hom naby haar toegelaat, daardie dag, haar wapenrusting tydelik laat sak sodat hy die warm en ruimhartige vrou daaronder beter kon leer ken.Vanoggend se optog bevestig sy vermoede: Mila is so gewild en geliefd onder haar pasiënte as wat sy bekwaam is. Hy is by verre nie die enigste een wat deur haar bekoor is nie …

Natuurlik maak sy die wêreld vir hom vuurwarm vandat hy in Wilgekloof is. Tog kan hy homself nie so ver kry om dit teen haar te hou nie. Eintlik gee dit hom net meer respek vir haar. Hy verstaan dat sy soos ’n wafferse wraakgodin optree uit pure passie vir haar werk. Vir haar roeping, soos Heleen dit gestel het. En hy wat Derek is, is geen vreemdeling vir passie nie. Hy was nog nooit een van die dokters wat dit kon regkry om onaangeraak deur sy pasiënte te bly nie. Selfs toe hy nog ’n mediese student was, was dit sy grootste swakheid: Hy raak hopeloos te betrokke by mense se lief en leed. As pediater kom hierdie onvermoë om hom los te maak van sy pasiëntjies en hul ouers hom dikwels duur te staan. Tog sou hy dit nie anders wou hê nie; vir hom is sy grootste swakheid tegelykertyd sy heel beste eienskap …

Nee, dis juis hierdie vurige streep van Mila wat hy so onweerstaanbaar vind. Dit maak haar uniek en opwindend, laat haar kop en skouers uitstaan bo al die vroue met wie hy al te doen gehad het. Sou sy so driftig tussen die lakens optree soos wanneer sy haar kind of haar geboorte-eenheid probeer beskerm, wonder Derek skuldig.

Leon Swiegers onderbreek sy mymering grimmig.

“Jy kan nie sê ek het jou nie gewaarsku nie, Derek. Ek het van die begin af geweet jy soek moeilikheid met daardie geboorte-eenheid. Heeltemal te veel estrogeen in die omtrek …”

“Jy hét gewaarsku dat ek op tone gaan trap, Leon, maar ek glo nie een van ons het besef hoe hard die eienares van daardie kleinserige toontjies gaan terugskop nie.”

“Dit kan jy weer sê, Reynders! Ons sal vanmiddag hierdie kaboedel vroumense met handskoene moet aanpak. Hoe meer diplomaties ons hulle benader, hoe beter. Ek weet en jy weet dat jou trauma-eenheid ’n voldonge feit is, dat die hospitaal dwaas sou wees om dit nie te implementeer nie, maar ons mag nie uit die oog verloor dat dit ons pasiënte is wat daar buite betoog nie. Dis belangrik dat ons hulle nie met ons optrede verder van PMK vervreem nie. Hulle is ons brood en botter. Ons aandeelhouers se wins – my en jou wins, Derek – hang van hulle af.”

Al weer die verdomde w-woord, dink Derek geïrriteerd. Hoe is dit dat alles in sy lewe skielik in terme van wins en verlies uitgedruk moet word? Verbeel hy hom of is die grense tussen sy persoonlike en professionele lewe skielik besig om te vervaag? Hy is immers die een wat Mila gewaarsku het dat sy dinge nie so persoonlik moet opneem nie. Is hy nie miskien besig om dieselfde fout te maak nie? Meer nog: Gaan hy gedwing word om ’n verpletterende persoonlike verlies te ly bloot ter wille van professionele gewin?

Hartklop Omnibus 2

Подняться наверх