Читать книгу Hartklop Omnibus 2 - Malene Breytenbach - Страница 8

5

Оглавление

Mila is net besig om Leila se naam in die geboorteregister te skryf toe die spreekkamerfoon lui. Sy antwoord dadelik, bang dat dit slegte nuus oor Sunet is. Maar dit is Sharleen Niewoudt, die hospitaalbestuurder se persoonlike assistent.

“Aa, Mila, ek’s bly om jou in die hande te kry! Leon het gevra dat jy vanoggend ’n draai kom maak indien enigsins moontlik. Dis redelik dringend.”

Mila voel hoe haar maag op ’n knop trek. Sy kan nie onthou dat sy al ooit só na die bestuurder se kantoor ontbied is nie. Kan dit wees dat Leon Swiegers haar oor laasnag se dramas voor stok wil kry? Het dokter Myburgh dalk sy kritiek verder gevat en haar van nalatigheid aangekla? Sy probeer haar stem so normaal moontlik hou.

“Weet jy waarmee dit verband hou, Sharleen?”

“Nee, jong, ongelukkig nie. Hy’t my net vanoggend toe hy hier instap gevra om jou so gou moontlik in die hande te kry. Jy klink moeg, Mila, het julle laasnag ’n bevalling gehad?”

“Ons het,” sug Mila. “’n Moeilike geval. Ek voel soos ’n opgewarmde lyk en lyk ook nie veel beter nie. Moet Leon my vandag sien? Kan ek nie maar môreoggend eerste ding ’n draai kom maak nie? Minstens gaan ek dan nie soos ’n voëlverskrikker lyk nie.”

“Jammer, man,” maak Sharleen simpatiek verskoning. “Maar jy weet mos hoe dit is. Die baas het gepraat.”

“Nou maar goed. Ek maak net my papierwerk klaar, dan stap ek oor. Sien jou nou-nou.”

Sharleen neem Mila sonder versuim deur na Leon Swiegers se kantoor. Hy staan op uit sy swart leerstoel en beduie vir Mila om oorkant hom te gaan sit.

“Môre, suster Mouton. Dankie dat u gekom het. Ek verneem by Sharleen dat u heelnag besig was met ’n bevalling?”

Mila kyk verward na die hospitaalbestuurder. Soos gewoonlik kan ’n mens hom deur ’n ring trek: van sy gejelde swart borselkop tot sy noutoon-ontwerperskoene. Hoewel party vroue hom ongetwyfeld as aantreklik beskou, vind Mila hom effens grillerig. Hy is vir haar net te … glad. Miskien is sy bevooroordeeld, maar Mila het die man nog nooit vertrou nie.Vanoggend maak hy haar ekstra senuweeagtig. As Sharleen hom ingelig het dat sy laasnag by ’n bevalling was, beteken dit dat hy haar nie oor Sunet se komplikasies oor die vingers wil tik nie. Waarom is sy dan hier?

“Uhm, ja, ons was heelnag besig met ’n mamma.”

“Dan sal ek u nie lank hou nie, suster.”

Mila wonder of sy haar verbeel en of die man ongemaklik lyk. Hy maak langsaam keel skoon.

“Ek neem aan dat u al in die gange gehoor het dat die hospitaal finansiële probleme ondervind? Dat sekere veranderings in die pyplyn is?”

Mila maak ’n ontwykende geluid wat sy hoop nie as ja óf nee geïnterpreteer kan word nie. Natuurlik het sy van die probleme gehoor. Wie het nie? Dit het begin toe twee ander hospitale in nabygeleë voorstede in die afgelope jaar kraamsale geopen het. Protea Moeder-en-Kind is ’n uitstekende hospitaal, maar dit is ongelukkig in ’n ouer deel van die stad – naby die middestad – wat die meeste mense weens misdaadvrese vermy. Veral snags, wanneer babas gewoonlik gebore word.

Mila weet dat van haar kollegas vir hul poste vrees. Sy self was nog nooit bekommerd nie. Die hospitaal betaal haar immers nie ’n salaris nie. Sy huur die geboorte-eenheid se perseel en haar pasiënte betaal haar direk. Sy verstaan dus glad nie waarop Leon Swiegers afstuur nie en hou hom afwagtend dop.

“Om die hospitaal te help om hierdie finansiële uitdagings die hoof te bied,” verduidelik hy, “het die raad besluit om ’n mediese spesialis aan te stel wat ook ’n sake-agtergrond het.”

Swiegers kyk na Mila en sy knik om te wys dat sy volg.

“Hierdie spesialis, dokter Reynders, is ons nuwe hoof van pediatrie, sowel as die persoon wie se leiding die raad gaan volg rakende sakebesluite. Dokter Reynders het gister hier by ons begin en het reeds ’n omvattende sakeplan opgestel.Van die veranderings wat hy daarvolgens wil maak is nogal taamlik … uhm … radikaal.”

As die man tog net tot ’n punt wil kom, dink Mila geïrriteerd. Sy’s gedaan na liggaam en gees en kan nie dink wat hierdie onderwerp met haar te make kan hê nie.

“Dit klink gewigtig, meneer Swiegers.”

“Daar’s nie ’n maklike manier om dit te sê nie, suster Mouton. Dokter Reynders beplan om al die afdelings te sluit wat nie na wense presteer nie, en om die fondse eerder in ’n pediatriese trauma-eenheid te kanaliseer. Dit spyt my, maar die geboorte-eenheid is een van die teikenafdelings vir hierdie afskaling.”

Mila voel asof iemand haar ’n vuishou in die maag gegee het. Haar eenheid … sluit? Dit kan nie wees nie! “Meneer Swiegers,” begin sy beslis, “ek weet nie wat u en hierdie dokter Reynders bedoel met ‘nie na wense presteer nie’. Die Aktiewe Geboorte-eenheid is een van die hospitaal se trekpleisters! Die fasiliteit is die enigste van sy soort in Wilgekloof. Pasiënte kom van ver af om hier te kraam! Net verlede week het ons ’n paartjie van Lephalale hier gehad. Desember kom ’n vrou al die pad van Phalaborwa af. Dit maak absoluut geen sin om die eenheid te sluit nie!”

“Suster Mouton, ek verstaan dat u ontsteld is oor dokter Reynders se besluit. Dis waar dat pasiënte van feitlik oral kom om u fasiliteit te gebruik. Maar die feit bly staan dat die eenheid net ses tot agt bevallings per maand hanteer. Die klein hoeveelheid kontantvloei wat u eenheid inbring, regverdig nie die spasie wat dit beslaan nie. Ek verstaan dat u geheg is aan u kliniek, maar ’n hospitaal is ’n besigheid soos enige ander. Op die ou end gaan dit oor rand en sent.”

“Hoe kan u dit so stel, meneer Swiegers? Ek verstaan dat die hospitaal ’n wins moet maak, maar u kan tog nie dink dat die geboortes wat hier plaasvind net besigheid is nie? Ons werk met mense – met gesinne wat in ’n kwesbare maar vreugdevolle lewenstadium is. U kan tog nie ontken dat ons besigheid ’n groot emosionele komponent het nie? Babas word hier gebore! Die oomblik as ons nie meer omgee oor gesinne se emosionele ervaring nie, het ons klaar verloor. Die eenheid maak ’n verskil in mense se lewens. Dit kán nie sluit nie!”

Swiegers se stem is simpatiek. “Ek is werklik jammer, suster Mouton. U het baie energie en geesdrif in die geboorte-eenheid belê. U moet asseblief nie dink dat PMK Hospitaal u net so opsy wil stoot nie. Ons is bewus van u voortreflike kwalifikasies en ervaring. Ons wil graag vir u ’n pos aanbied as eenheidsbestuurder van die kraamsaal.”

Mila kan nie gló dat hulle haar met so ’n simpel aanbod wil probeer omkoop nie. Eenheidsbestuurder! Sy lewe vir persoonlike kontak met haar pasiënte. Die dag as sy op admin moet fokus, kan hulle haar maar begrawe!

“Dankie, meneer Swiegers, maar ek is seker dit sal nie nodig wees nie. Ek vermoed dokter Reynders verstaan maar net nie watter uitstekende publisiteit die geboorte-eenheid vir PMK bring nie. Verskeie artikels oor die eenheid het al in die voorste babatydskrifte verskyn. As u my sê waar ek hom te siene kan kry, verduidelik ek graag die situasie aan hom.”

Leon Swiegers voel nie gelukkig oor hoe hierdie onderhoud verloop het nie. Hy was geensins voorbereid op die moontlikheid dat Mila Mouton teen die besluit gaan veg nie. Natuurlik het hy verwag dat sy ontsteld sou wees. Hy het geglo dat sy dalk selfs ’n paar trane sou stort. Tog het hy gedink dat sy rede sou insien en gevlei sou voel oor hul aanbod. Sekerlik is eenheidsbestuurder ’n statusverhoging bó privaat vroedvrou, wat alle ure van die dag en nag op roep is? Nou ja, hy het Reynders gewaarsku dat sy besluite ’n paar personeellede lelik gaan omkrap. Hy wat Leon Swiegers is, gaan hom beslis nie teen hierdie rissiepit se toorn beskerm nie. Laat die man haar maar sélf probeer paai. Hy is immers die een wat besluit het om haar eenheid te sluit.

“Dokter Reynders se spreekkamer is nog nie gereed nie. Hy sien vandag pasiënte in die sessiekamers, suster Mouton.”

Woedend storm Mila by die hospitaalbestuurder se kantoor uit. Sy drafstap in die gang af en spring twee-twee by die trappe op in haar drif om by die man te kom wat haar droom so genadeloos wil verpletter. Haar droom en die geboortedrome van soveel vroue! Wie dink hy is hy om sulke besluite te neem oor ’n geboorte-eenheid wat hy nog nie eens met ’n oog gesien het nie?

Op die derde verdieping pluk Mila die deur van die sessiekamers oop. Haar hart mis ’n slag. Derek! Haar buurman staan aan die oorkant van die kamer, so dropdead gorgeous soos gewoonlik. Hy leun nonchalant teen die toonbank tussen hom en die blonde jong dingetjie wat as ontvangsdame in die sessiekamers werk en wat nou met onverbloemde bewondering na hom staar. Hy lyk só onweerstaanbaar – so gesofistikeerd – in sy wit doktersjas dat Mila maar te goed verstaan hoekom die ontvangsdame lyk of sy enige oomblik gaan begin kwyl.

Derek se gesig verhelder toe hy Mila sien. Sy glimlag is warm en ’n oomblik lank is Mila verheug om hom te sien. Sy gee nie eens om dat sy uitgeput en verwaarloos voel ná die lang nag nie, sy is net so dankbaar om ná die laaste stresvolle paar uur in sy omgee-oë te kyk. Weer wens sy dat sy in sy gespierde arms kon gaan skuil, dat hy haar teen sy breë bors wou vashou en troos en dat hy alles weer sou regmaak.

“Derek! Dat ons mekaar nou hier moet raakloop! Wat maak jy hier, buurman?”

Die ontvangsdametjie lyk asof sy lus het om Mila se oë een vir een met haar lang rooi naels uit te krap. Sy is duidelik nie gretig om hierdie aantreklike vangs met enigiemand te deel nie. Sy probeer gou haar posisie konsolideer deur haar nuutgevonde kennis oor Derek ten toon te stel.

“Dis dokter Derek Reynders, suster Mouton,” sê sy stroperig. “Ons nuwe hoof van pediatrie.”

Dokter Derek Reynders? Die mure van die sessiekamer begin om Mila draai en die tapyt swem onder haar voete. Dokter Reynders is haar buurman? Derek wil haar geboorte-eenheid toemaak?

Derek merk dadelik haar ontsteltenis op. Hy kry haar aan die elmboog beet en stuur haar na die naaste spreekkamer. Dan maak hy die deur agter hulle toe.

“Mila?” Sy stem is besorg en ’n bekommerde frons huiwer op sy voorkop. “Is daar fout?”

“Ek kom nou net van Leon Swiegers af, dokter Reynders,” sê Mila met ongebreidelde sarkasme. “Hy het my meegedeel dat jy beplan om my eenheid toe te maak. Dat dit nie genoeg geld na jou sin maak nie?”

Derek verbleek merkbaar toe begrip soos giftige motreën oor hom neersak. Mila se Aktiewe Geboorte-eenheid? Hy het nie besef … Sy staan so weerloos en verslae hier voor hom dat hy wens hy kon haar in sy arms neem en haar belowe dat alles gaan uitwerk. Wens hy kon die tyd terugdraai en daardie deel van sy sakeplan ongedaan maak … Dan neem sy gesonde verstand die leisels ferm by sy hart terug.

“Ek is jammer, Mila. Dis niks persoonliks nie – dis besigheid. Ek is gehuur om te help bepaal wat die beste pad vorentoe vir die hospitaal is. En jou eenheid beset waardevolle spasie sonder om werklik ’n wins te maak.”

“Niks persoonliks nie? Miskien nie vir jou nie, Derek Reynders! Vir my is dit so persoonlik as wat maar kan kom! Dis my eenheid daardie, ek het my hart en siel daarin gestort. Tussen daardie vier mure is die herinneringe van dosyne natuurlike geboortes – veilige en bemagtigende geboortes wat vroue nêrens anders in Wilgekloof sou kon beleef nie. Nie net my herinneringe nie, dokter, die herinneringe van al die ma’s en pa’s wie se babas daar gebore is. Die eenheid behoort nie net aan my nie – dit behoort aan al daardie pasiënte.Weet jy hoe uniek die diens is wat ons daar lewer? Privaat hospitale in Wilgekloof het ’n keisersnitsyfer van tagtig tot negentig persent! Tagtig tot negentig persent, in vergelyking met my eenheid se veertien persent! Dis ’n veilige hawe vir vroue wat graag hul babas so natuurlik as moontlik in die lewe wil bring.Waarheen moet hulle gaan as jy die eenheid sluit?”

“Dis seker tog nie die enigste eenheid van hierdie soort in Wilgekloof nie?”

“Die énigste, dokter Reynders. Daar is wel ’n paar in Pretoria en Johannesburg, maar watter vrou wat moet kraam het nou lus om ’n uur of twee in ’n kar te sit om soontoe te ry – veral met die verkeer? Met ’n eerste baba is dit miskien nog haalbaar, maar wat van volgende geboortes, wat vinnig is? Dis tog elke vrou se reg om haar baba te kry in ’n atmosfeer wat rustig en veilig is!”

“Mila, ek is jammer, regtig, ek is. Maar jy moet besef dat dit nie vir my gaan om waarheen ’n handjie vol vroue gaan om geboorte te skenk nie. Dit gaan nie vir my om die bevordering van vroueregte nie, maar om wat die beste vir die hospitaal as geheel is. En die beste is om die eenheid te sluit sodat die spasie benut kan word vir meer produktiewe doeleindes.”

Nou kook Mila se bloed behoorlik.

“Jy bedoel vir meer geld, Derek Reynders! Dis al waaroor dit gaan, nè! Onse aarde, maar was ek verkeerd oor jou! Dankie dat jy my oë vandag vir my oopgemaak het. Ek het jou opgesom as iemand wat omgee – jy’t my ’n rat voor die oë gedraai met jou kastige kommer oor Melissa. Nou besef ek wat dit was. Jy het my probeer sag maak sodat ek sonder baklei my eenheid moes opgee! Eintlik is jy net so harteloos soos Leon Swiegers. Hy’s net eerliker as jy – mens weet darem waar jy met hom staan.”

“Mila, asseblief, ek het eerlikwaar nie geweet dis jóú eenheid nie. Ek …”

“Ag, spaar jou leuens vir die pops met die bokkie-oë by ontvangs, Derek. Ek gaan nie daarvoor val nie. Ek wil net hê jy moet weet dat ek nie sommerso gaan opgee nie. Iemand moet opstaan vir vroue se reg om ’n keuse te maak oor hoe en waar hulle geboorte gee – opstaan teen bullebakke soos jy wat net aan geld kan dink, vir wie niks heilig is nie! Sien jy kans vir ’n oorlog, dokter Reynders? Want dis presies wat jy gaan kry!”

Skielik is Derek net so kwaad soos Mila. Sy ysblou oë vat vlam en ’n spiertjie spring gevaarlik in sy wang. Hy tree vorentoe en kyk meewarig af na haar.

“Lyk my jy is nie die enigste een wie se eerste indruk foutief was nie, suster Mouton. Ek het jou beslis nie as ’n aartsfeminis opgesom nie. Dom van my, ek moes geweet het dat enige vroedvrou in privaat praktyk ’n feministiese streep sou hê. Dis jóú oorlog. Dis jy wat kies om emosies hierby in te sleep. Vir my is dit nie persoonlik nie – dis net besigheid. Baklei gerus as jy lus het, maar moenie by my kom huil as jy seerkry nie. Ek waarsku jou: Hospitaalbestuur is harde realiteit, ver verwyder van jou touchy-feely wêreld. Jy is nie opgewasse vir hierdie oorlog nie!”

Vir ’n oomblik staar Mila die arrogante man woordeloos aan. Dan tol sy op haar hak om en storm by die deur uit. Sy skiet ’n giftige blik na die ontvangsdame wat haar agterna gaap soos ’n sterwende goudvis. Eers toe sy by haar motor kom, besef sy dat trane agter haar ooglede brand.Vies vee sy hulle weg met die agterkant van ’n bewende hand. Dit maak haar so woedend dat sy altyd wil tjank nes sy kwaad is vir ’n gesagsfiguur! Dis die verdomde onregverdigheid wat haar laat huil – nie regtig ontsteltenis nie. Sy sit haar kar in trurat en ry versigtig by die parkeerplek uit. Die laaste ding wat sy nou nodig het, is om ’n ander kar te stamp.

Teen die tyd dat Mila by die hospitaalhek uitry, het ’n plan reeds in haar kop begin gestalte aanneem. Sy’t Derek gewaarsku dat sy nie sonder teenstand haar eenheid gaan opgee nie – en teenstand gaan hy kry! So hy wil haar ’n aartsfeminis noem? Sy sal hom wys hoe een lyk! Hy gaan nog die dag berou toe hy sy gierige oë op haar eenheid gerig het, daarvoor sal sy sorg!

Een van die vele voordele van haar werk, dink Mila selfvoldaan toe sy haar tuis voor die rekenaar gaan neerplak, is dat sy met soveel mense uit soveel verskillende velde in kontak kom. Maak nie saak wát sy nodig het nie, sy ken altyd iemand wat kan help. Boonop is haar pasiënte en hul lewensmaats gewoonlik so dankbaar oor haar bekwame bystand dat hulle maar te bly is om vir haar iets in ruil te doen.

Mila blaai deur haar telefoonboekie tot by Liesel Basson se nommer. Liesel is ’n suksesvolle vryskutjoernalis met talle bekroonde artikels op haar kerfstok. Mila het haar eerste baba so twee jaar gelede by haar huis net buite Wilgekloof gevang. Wat Liesel se sukses in so ’n mededingende bedryf uitsonderlik maak, is die feit dat sy amper heeltemal blind is en met ’n gidshond oor die weg kom. Sy tik haar stories op ’n braille-sleutelbord en het ’n rekenaarprogram wat tekste vir haar lees. Dis juis weens haar swak sig dat Liesel tuis wou kraam, in die omgewing wat vir haar die bekendste is. Ná klein Dylan se geboorte het Liesel verskeie artikels vir babatydskrifte geskryf. Mila twyfel geensins dat Liesel sal belangstel in wat sy te vertel het nie.

Derek kan die hele Dinsdag lank die konfrontasie met Mila nie uit sy gedagtes kry nie. Haar fynbesnede gesiggie doem kort-kort voor hom op. Sy gedagtes tower haar donker kykers op, smeulend van woede en verontregting. Hy kon nie help om haar te bewonder nie: Hy het nog altyd gehou van sterk vroue wat presies weet wat hulle wil hê. Haar passie vir haar werk stook die vuur van sy begeerte vir haar – die begeerte wat in hom gebrand het vanaf hul heel eerste ontmoeting. Tog is hy net so bewus van die weerlose trek wat tydens hul gesprek om haar mond gespeel het, ’n kwesbaarheid wat haar net nog meer onweerstaanbaar gemaak het. Sy is vir hom ’n enigma, hierdie vrou van kontraste. Hoe wens hy nie dat hulle onder ander omstandighede ontmoet het nie …

Hartklop Omnibus 2

Подняться наверх