Читать книгу Rooiborslaksman - Marinda van Zyl - Страница 10

4

Оглавление

November 1864

Frederik sluk sy woede toe die perd hom byna afsmyt. Niemand sal ’n kaptein volg wat nie eens ’n perd kan beheer nie. Die dag wat ’n groot triomf moes wees en die Gobabissers oortuig sy kapteinskap gaan vir hulle welvaart bring, het in ’n nagmerrie ontaard. In plaas van ’n wa gelaai met skietgoed en negosieware wat hy onder sy volgelinge sou uitdeel, kry hy huisraad, grawe, pikke, ’n ploeg, aartappelmoere en druiwestokke. Dis familie van Krapohl wat hier kom boer. En Andries is te dom om te weet wat reg onder sy neus aan die gang is; dan vat Jonas wragtigwaar nog sy kant. As een familie toegelaat word om hier te vestig gaan ander volg en binnekort is Gobabis net ’n dorp vir wit mense soos Otjimbingwe, waar die Herero’s nie meer welkom op hulle voorvaders se grond is nie. Dis nou in sý hande om te sorg dit gebeur nie op Gobabis nie.

Sy woede bedaar terwyl hy sy werf nader en sy jongste aangehardloop kom. Toe sy drie jaar gelede gebore is, het hy nie gedink ’n meisiekind sal so in sy hart kan kruip nie. Vandag is hy dankbaar oor Mina se besluit om weg te doen met die Bybelse name en die kind na hom te vernoem.

Daardie dag moes hy sy oor teen haar mond hou om te hoor wat Mina sê: “Ek sien reeds die poorte van die hemel. Belowe my jy sal nie die meisietjie waarvoor ek so lank gebid het aan die genade van ander oorlaat nie.”

Hy kon nie anders as om plegtig te belowe nie. Toe sê sy: “Ons doop haar Frederika, sodat jy nie jou belofte sal vergeet nie.” Mina is toe nie dood nie, maar het ook nooit volkome herstel nie, daarom was hy genoodsaak om meer aandag aan Drieka as aan sy seuns te gee.

Frederik spring van die perd af, raap vir Drieka op en gooi haar in die lug dat sy kraai van plesier. “Waar’s Mamma?” vra hy nadat hy haar veilig op die grond neergesit het en hy nie vir Mina by die kookskerm gewaar nie. Toe Drieka na die matjieshuis wys, buk hy by die deur in. Mina se bene is tot dubbel hulle grootte geswel. Sy kreun in haar slaap terwyl hy saggies oor haar bene streel, maar word nie wakker nie. Miskien moet hy soos die sendeling en die Lamberts vir Mina ook ’n Bergdamaravrou kry om haar las ligter te maak. Mina was sy ma se keuse vir hom as vrou. Ná een-en-twintig jaar is hy sy ma steeds dankbaar daarvoor. Mina se bruin duikeroë en wulpse lyf het sy bloed met die eerste oogopslag laat bruis, maar dis haar sagtheid wat sy hart gesteel het. Hy kan hom nie ’n lewe indink sonder Mina nie.

Buite gekom, sien hy Drieka sit rustig en speel. Hy tel haar in die saal, wat haar opgewonde laat hande klap, voor hy die perd na Jonas se matjieshuis lei. Dit was vir hom en Mina ’n groot skok toe hulle ses maande gelede uitgevind het Jonas het getrou terwyl hulle nie hier was nie.

Koekoes kom uit die kookskerm toe hy haar naam roep.

“Dag, Pa.” Sy hou haar arms na Drieka uit. “Kom, jy moenie vir Pa pla as hy werk nie.”

Frederik haal sy argwaan teenoor Jonas op Koekoes uit: “Los haar, sy pla my nie. Ek het jou kom sê om solank te pak, want vanaand moet jy en Jonas van my werf af wees.”

Sy antwoord nie. Kyk net na hom met daardie oë wat voel asof sy dwarsdeur hom kyk. Wat het Jonas tog besiel om met ’n halfbloed-Boesman te trou? Hy wonder of sy pa, die heilige hoofouderling, geweet het van die brousels wat Koekoes gedurig aan die maak is, want dit was glo hy wat die sendeling oortuig het om Jonas en Koekoes te trou. “Hoor jy my? As julle môre nog op my werf is, gaan my sambok die praatwerk doen.”

Koekoes glimlag. “Dit sal lekker wees om op Gobabis te bly, dan kan ons elke Sondag kerk toe gaan, maar ek sal vir Drieka moet saamvat. Ma se bene is nou so erg geswel, sy kan skaars tussen die huis en die kookskerm loop.”

Vir ’n paar oomblikke is Frederik spraakloos. Om so uitoorlê te word het hy nie voorsien nie. “Ek sal self na Drieka kyk tot ek vir Ma hulp kan kry.” Met sy voet in die stiebeuel gee hy opdrag. “Sê vir Ma ek vat Drieka saam Eendoorn toe. Ek moet voorraad by Robert Duncan gaan kry.”

Drieka kraai van plesier toe hy sy arm om haar sit en op ’n stywe galop wegtrek sonder om ag te slaan op wat Koekoes agterna skree. Maar die vrolikheid duur nie lank nie, want Drieka kla sy moet bossies toe. Skaars weer op dreef, toe is sy dors en die waterbottel is leeg. Die keel wat sy opsit, oortuig hom kind oppas is nie vir hom nie en hy draai terug werf toe. ’n Entjie van Koekoes se matjieshuis laai hy Drieka af. Hy moet opskud, want Robert Duncan sou verlede week al teruggekom het met ’n vrag handelsware. Ná die bloutjie wat hy vanoggend geloop het, is sy hoop nou op Duncan gevestig vir genoeg skietgoed om sy plan in werking te stel. Duncan is met ’n Witbooi getroud, daarom vertrou hy hom ten volle. Die enigste goeie ding wat kaptein Amraal ooit gedoen het, was om Eendoorn vir Duncan te gee.

Drieka se geskreeu laat hom sy perd ompluk. Sy sit op die grond met een voet in die lug en kerm. Slangpik, is Frederik se eerste skrikgedagte. Hy jaag nader, maar dis ’n duiwelsklou wat aan haar voet vassit. “Waar kom dié gemors vandaan?” trap hy Koekoes uit. “Dit groei mos nie hier langs die rivier nie.”

“Gister in die sandveld loop optel om aftreksel vir Ma se bene te maak.” Koekoes gryp Drieka se hand om te keer dat sy die saad lostrek. “Nee, hoe meer jy sukkel om dit los te kry, hoe dieper sny die doringhakies. Maak jou ogies toe, dan vertel ek ’n storie terwyl jou pappa die kloue een vir een met sy skerp mes afsny en saggies uittrek.”

Dit laat Drieka nog harder huil.

Verleë om te erken hy het sy mes vir Liesbet weggegee, reageer Frederik bars: “Ons Vlermuise is taai mense. Ek pluk die ding sommer met een ruk uit.”

“Het Pa al gesien hoe lyk ’n dier se bek van ’n gespartel om uit daardie kloue te kom?”

“Natuurlik, ek maak maar net ’n grappie om haar aandag af te trek.” Frederik voel in sy sakke. “Ek moes my mes verloor het. Kry jy gou vir ons een.”

Koekoes kom terug met ’n mes en ’n beker. “Drink die suikerwatertjies,” kry sy vir Drieka stil. Nie lank nie of Drieka se koppie knik en Koekoes laat haar op die sand omkantel. “Nou kan Pa maar begin, sy sal niks voel nie.”

“Wat het jy vir haar ingegee?”

“Een van my heksebrousels.”

Met die laaste doringhakie van die duiwelsklou uitgetrek, is daar net enkele bloedmerkies op Drieka se voet. “Ek sal dit ’n paar keer met aalwynsap was en oor ’n dag of twee sal sy weer lekker kan rondhol. Sy sal vannag hier by ons moet slaap.”

“Dan maak ons maar so.” Frederik weet wanneer hy ’n skermutseling verloor het en die pad moet vat.

Rooiborslaksman

Подняться наверх