Читать книгу Rooiborslaksman - Marinda van Zyl - Страница 14

8

Оглавление

Desember 1865

Die handelaar en die sendeling se huise dans in die hittegolwe en in die kameeldoringboom skree die sonbesies oorverdowend. Liesbet sukkel om haar oë oop te hou terwyl sy die verlate Gobabis deur die voorkamervenster bekyk. Sy stamp haar kop teen die vensterruit soos die vaak haar oorval. Pennina snork ongesteurd voort met haar kop op die kombuistafel. Dis al die tweede dag wat hulle angstig wag vir Catharina se baba om gebore te word. Liesbet vee haar gesig met ’n nat waslap af. Iets moet sy doen om wakker te bly. Sy weet dis dom om in dié hitte fontein toe te gaan, maar dit is waarskynlik die enigste kans wat sy vandag sal kry. Catharina sal wel vir Pennina wakker skree as die pyne haar weer oorval.

Die warm sand brand dwarsdeur haar velskoene en sy lê oop na die naaste soetdoringboom by die fontein. Timo is oopmond aan die slaap met sy rug teen die stam. Die natgeleide akkers het reeds kors gevorm. Ten spyte van die ongenadige hitte bly Timo op sy pos om ongewenste besoekers met klippe te verwilder. Hy glo, soos Andries, die sendeling wat nou al amper nege maande weg is, sal terugkom.

Sal sy Timo met ’n klippie gooi om hom skrik te maak? Liewer nie. Netnou spat hy haar nat, dan baklei Catharina weer daaroor.

Vandat daar ’n baba aan die kom is, is Catharina nog kwaaier en skel aanmekaar op Andries wat niks anders doen as pleitbriewe skryf vir meneer Weber nie. Oom Frederik maak nou of hy die kaptein is en hiet en gebied almal in die raadsvergaderings. Maar die briefskrywery help niks nie. Oom Jan kom elke keer alleen van Hoachanas af terug, want meneer Weber weier om sy vrou en kind se lewe in gevaar te stel.

Liesbet is bly daaroor, want sy stem saam met Catharina. ’n Sendeling wat hulle aan die Herero’s wou uitlewer, moet liewer nie weer sy voete hier sit nie. Tog verlang sy soms na Fritzie en die lekker Kersfees wat sy by hulle gehad het. Hierdie Kersfees sal daar nie lekkers of askoek wees nie. Daar is niks in meneer Krapohl se winkel oor nie en hier kom ook nie ander handelaars nie. Andries wil nie by meneer Duncan gaan koop nie, want hy dink die handelaar knoei saam met oom Frederik. Sodra dit reën, kan hulle Hoachanas toe gaan, het hy belowe. Maar nou is dit nog net twee dae tot Kersfees en dit het nog nie ’n druppel gereën nie.

Voor sy die rietbos ingaan, trek Liesbet haar skoene uit. Sy volg die paadjie tussen die riete deur om haar voete in die waterpoel by die fontein te gaan afkoel. Iets wat op haar skouer beweeg, laat haar versteen. Sy kyk in ’n slang vas voor sy gillend in die water spring. Toe sy tot verhaal kom, staan Timo laggend met ’n slangetjie in die hand.

“Hoe’s jy dan bang vir ’n sweepslangetjie?” terg hy terwyl die slang teen sy arm opseil.

Dis te veel vir Liesbet. Sy bars in trane uit.

Timo sit die slang neer en plas die water in. “Toemaar, Liesbetjie, moenie so huil nie. Ek wou jou net ’n bietjie terg.”

“Jy’s ’n pestilensie. Ek kom nooit weer fontein toe nie. Catharina gaan verskriklik kwaad wees oor my nat rok.” Sy probeer hom wegdruk, maar hy hou haar vas.

Met die gestoei verloor Timo sy balans en albei beland in die water. Toe sy regop kom, lag hy nie meer nie en sy oë is stip op haar borskas. Sy kyk af, sien verskrik hoe die rok aan haar borsies kleef en val weer plat in die water.

“Liesbet!” hoor sy Thiri roep. “Die baba kom!”

Timo gee dadelik pad en Liesbet probeer tevergeefs haar rok uitdroog.

“Wat het jy oorgekom?” vra Thiri toe sy by die fontein kom.

“My voet het gegly.”

“Jy jok. Ek het vir Timo sien weghardloop. Trek uit jou rok. Aan jou lyf gaan ons dit nie uitgedroog kry nie.”

Liesbet klappertand ten spyte van die hitte. “Catharina gaan my verskriklik skel.”

Thiri lag. “Sy weet nie jy’s nie by die huis nie. Sy roep net vir Andries, maar hy’s weg veld toe.”

Hulle hoor al die baba skree teen die tyd wat hulle verby die kerk draf.

Liesbet gaan trek gou ’n droë rok aan voor sy by Catharina se kamer inloer.

“Kom vat en draai haar toe.” Pennina druk ’n bloedbesmeerde lyfie in Liesbet se hande. “Ek sukkel nog om die ander een uit te kry.”

Dit voel vir Liesbet soos ure wat sy met die skreeuende meisietjie in haar arms by die kombuistafel sit voor Pennina met ’n toegedraaide bondeltjie uit die kamer kom en dit in die houtkas sit. “Kom vat die baba, my arms word moeg,” soebat Liesbet.

“Vat haar vir haar ma. Sy moet eers drink. Dan moet jy haar was.”

Bang sy sal die baba laat val, skuifel Liesbet voetjie vir voetjie kamer toe. “Jy’t ’n meisiekind vir Kersfees gekry.”

Die kleintjie suig gretig toe Catharina haar aan die bors sit. “Waar’s die ander een?”

Die skokbesef dring stadig tot Liesbet deur. Dit was die toegedraaide bondeltjie wat Pennina in die houtkas gesit het. Sy hardloop uit die kamer sonder om te antwoord. “Catharina wil die ander baba hê.”

Pennina se oë blink van die trane. “Hy was klaar dood toe hy uitgekom het.”

“Gaan sê haar, asseblief. Ek kan nie,” pleit Liesbet, maar Pennina skud haar kop en trek die voordeur agter haar toe.

Liesbet kyk radeloos rond vir hulp. As hulle ma tog net hier was. Sy sou geweet het wat om te doen. Dis of haar ma van iewers af met haar praat. Dit oorweldig haar, die onthou van hoe moeilik sy haar ouers se dood aanvaar het omdat sy nie vir oulaas kon groet nie. Catharina moet kans kry om totsiens te sê. Liesbet haal die bondeltjie uit die houtkas en vou die flennie-

doek oop. Sy neusie is plat soos Andries s’n, maar hy het Catharina se geel hare en hy is amper die helfte kleiner as die meisietjie.

Die meisietjie suig nog lustig aan die bors.

Catharina se gesig straal toe Liesbet sê dit is ’n seuntjie. “Lyk my hy is stil en rustig soos sy pappa. Katrien kan haar magie vol drink solank hy nog slaap.”

“Hy slaap nie … hy’s dood,” pers Liesbet die woorde uit. “Ek het gedink jy sal wil sien hoe hy lyk en afskeid neem.”

Dit lyk nie of Catharina begryp wat sy sê nie, want sy klap op die bed. “Kom sit hom hier langs my neer. Hy sal wel wakker word as sy magie eers vol is.”

Andries en Eduard se stemme buite klink vir Liesbet soos ’n engelekoor. Sy sit die baba op die bed neer en hardloop uit.

Aan Andries se gesig kan sy sien hy weet reeds. Pennina moes hom laat haal het. Sy omhels hom. “Werk sag met my ousus. Sy dink die seuntjie leef nog.”

Die kerk is die enigste plek waar sy nou alleen kan wees. In die voorste bank het sy altyd langs Ou Pappa gesit. Sy verbeel haar sy ruik nog sy pyprook. Haar keel trek toe van jammerte vir Catharina, maar die trane wil nie kom om die seer minder te maak nie. Terug huis toe wil sy nie, want sy is self te stukkend om die regte trooswoorde te vind.

Eduard kry haar. “Catharina soek jou.”

“Verstaan sy al die seuntjie is dood?” vra Liesbet sonder om na hom te kyk terwyl hy langs haar kom sit.

“Ja, tant Berta het hom kom haal. Dis beter as hy vandag nog begrawe word.”

Toe Eduard haar styf teen hom aantrek en oor haar hare streel, soos Ou Pappa altyd gemaak het, kom die huil uiteindelik vry. Hy sus haar soos ’n baba tot daar net af en toe ’n droë snik ontsnap. Sy wens sy kon nog ’n rukkie by hom skuil, maar plig roep.

“Ek moet vir Andries gaan help om ’n kissie aanmekaar te timmer en Catharina het jou nodig.”

Sy kry Catharina aan die slaap. Haar natgeswete hare klou aan haar slape en voorkop. Daar is traanstrepe op haar wange. Wat het haar arme ousus gesondig om soveel swaar te moet verduur? Die meisietjie kriewel en knies langs haar. Versigtig tel Liesbet haar op.

Catharina se oë vlieg oop. “Los my kind.”

“Ek moet haar was en kleertjies aantrek.”

“Ek sal self.” Maar Catharina se been gee mee toe sy probeer opstaan en sy sak terug op die bed.

“Ek sal mooi versigtig werk met haar,” beloof Liesbet. “Jy moet slaap en sterk word. Mamma sou wou gehad het ek moet jou help.”

“Ek gaan haar na Mamma vernoem. Sy is Katrien.”

Weke later kan Liesbet haarself skop oor haar spontane belofte. Kort-kort roep Catharina haar om die baba te kom vat. Sy verstaan Catharina kan nie die baba en die kruk gelyktydig vashou nie, of heeldag in die bed bly lê nie, maar sy word mos ook moeg. En sy brand om ’n slag tuin toe te gaan om met Timo te gesels.

Die dag toe Andries die skommelstoel wat hy en Eduard gemaak het in die voorkamer neersit, vergewe Liesbet hom alles wat hy voorheen verkeerd gedoen het. Hy help vir Catharina tot by die stoel. Sy wieg ’n paar keer heen en weer daarop voor sy haar arms uithou vir die baba. “Katrien sal baie hiervan hou.”

Rooiborslaksman

Подняться наверх