Читать книгу Rooiborslaksman - Marinda van Zyl - Страница 12

6

Оглавление

Februarie 1865

Sonder om sy oë oop te maak klap Frederik na die vlieg wat hom teister. Drieka se gesmoorde laggie verdryf die slaap. Dis dié klein klits wat sy bolip met ’n grashalm kielie. Hy gryp haar handjie en maak of hy dit wil afkou.

“Pappa, staan op, ek’s honger.”

Die son skyn reeds by die matjieshuis in. Mina se gekreun, saam met die vreemde soet reuk wat aan haar kleef, het hom laas nag uit die slaap gehou. Hy sou wat wou gee om te weet wat in die brousels is wat Koekoes vir Mina injaag en aan haar geswelde bene smeer. Dit help in elk geval niks nie, dis so duidelik soos daglig. “Gaan vra vir Koekoes kos. Ma slaap nog.”

“Koekoes wil nie praat nie en Jonas sê ek moet skoert en die seunskinders het die potte leeggekrap voor hulle bees toe is.”

Uit die wakis haal hy ’n stuk droë biltong en gee dit ’n paar houe met die agterkant van die byl om die sening maklik te kan lostrek. “Dè, eet dit op en drink jou magie vol water.”

Koekoes sit kruisbeen by die uitgebrande vuur en staar na die doringboom, reageer nie toe hy groet nie. Wat de hel gaan nou aan? Hy het al stories gehoor, maar haar nog nie self só gesien nie. Selfs dagga kan mens nie in so ’n beswyming bring nie. Hy skop liggies teen haar been.

“Los haar, Pa.” Jonas lei sy opgesaalde perd nader. “Haar ma het gewaarsku mens mag glad nie met haar praat of aan haar raak as sy só is nie. Sy klim uit haar lyf, loop rond op plekke en sien dinge waarvan ons nie weet nie. As mens haar pla, kom sy dalk nie weer terug nie.”

Frederik staan ’n paar treë terug. “En jy trou met haar welwetende sy is van die bose besete.”

“Sy’s ’n goeie mens, Pa. Sy sal niemand kwaad aandoen nie en het al baie mense gesond gemaak.”

“Maar jou ma kry sy nie gesond nie.”

Dit lyk of Jonas iets wil sê, maar hom bedink.

“Sê jou sê, Jonas.”

“Koekoes sê dis beter om nie te weet wat agter die duin wag nie. Maar nou moet Pa my verskoon. Die Raad sit vandag. Meneer Schmidt het goed aangesterk en volgens Andries wil hy toestemming vra om op Gobabis te bly.”

Frederik voel lus om sy seun onder die klippe te steek terwyl hy wegry. Die lamsakke in die Raad gaan dit wragtig toelaat. Hy het nie, soos Koekoes, nodig om uit sy lyf te klim om te weet wat gaan gebeur nie. Voor hulle hul oë uitvee, neem die handelaars en hulle trawante Gobabis oor.

“Ek het ’n groot swerm van hulle gesien.” Koekoes wys na die rooiborslaksman in die soetdoringboom wat ’n spartelende akkedissie aan ’n doring ryg.

“Is dit die dagga wat praat? Laksmanne swerm nie.”

Koekoes laat haar nie van stryk bring nie. “Eers was hulle op die grond, wriemelend soos voetgangersprinkane wat alles in hulle pad opvreet. Met die opvlieg het dit gelyk soos ’n rooi wolk, die hele lug vol. Toe hulle oor my vlieg, was hulle so groot soos volstruise en die klap van hulle swart vlerke soos ’n stormwind. Elkeen het ’n spartelende mens in sy bek gehad.”

Frederik probeer die rilling wat teen sy ruggraat afgly, besweer deur spottend te vra: “Kon jy darem iemand herken?”

Koekoes kyk dwarsdeur hom en hy loer onwillekeurig oor sy skouer. Maar daar is niks behalwe die gewone geskarrel van vrouens en kinders besig met oggendtake nie.

“Ek het nie meer raad nie, Pa. Dalk kan die sendeling Ma help.”

Frederik kan sy geluk nie glo nie. Dalk kry hy kans om met Liesbet te praat sonder om agterdog te wek. “Ek gaan sommer nou dadelik.”

“Hy moet vir Ma kom bid,” stuit Koekoes hom in sy spore.

“Se moer. Ek soek hom nie op my werf nie.”

Koekoes praat voort asof sy hom nie gehoor het nie. “Sommer vir Pa ook. Ek het vir Pa, Jonas en kaptein Andries in die laksmanne se bekke gesien.”

Frederik jaag die twee myl na Gobabis af asof die duiwel op sy spoor is. By die Webers klop hy tevergeefs aan die voordeur en loop skoorvoetend na die agterdeur. Liesbet speel met Fritzie onder die doringboom. “Waar’s die mense?”

Liesbet lyk bly om hom te sien. “Mevrou gee skool vandag en Meneer is raadsaal toe. Sal Oom ’n ogie oor Fritzie hou?” Sy hardloop huis toe voor hy kan antwoord.

Frederik hou die seuntjie op ’n afstand dop. Hy wil nie daarvan beskuldig word dat hy die kind kwaad wou aandoen nie.

Liesbet is binne minute terug. Kyk rond voor sy teen hom kom staan en fluister: “Ek het die sakdoek op die vensterbank gesit. Oom moet dit gou-gou gaan vat voor iemand anders dit sien.”

Met die sakdoek veilig in die saalsak wik en weeg Frederik of hy moet wag tot die sendeling of sy vrou huis toe kom. Al dink hy Koekoes het die storie oor die rooiborslaksmanne uit haar duim gesuig, stuur die uitdrukking in haar oë steeds koue rillings deur hom. Hy lag hardop toe hy besef hy het ’n goeie verskoning om te gaan uitvind wat in die raadsitting geknoei word.

In die raadsaal se deur huiwer hy. Die klomp om die raadstafel lyk heeltemal te gesellig na sy sin. Die spul verraaiers. Frederik geniet die skok op Andries se gesig toe dié hom gewaar. “Toemaar, Andries. Ek kom nie die kapteinskap opeis nie. Nog nie. Ek het dringend medisyne nodig vir my vrou.”

Meneer Weber is dadelik op sy voete. “Verskoon my, asseblief. Kaptein Andries, sal jy vir meneer Schmidt huis toe help?”

Schmidt kom half orent en vuur Duitse woorde soos geweerskote af. Die sendeling antwoord paaiend, maar dit lyk asof dit Schmidt nog kwater maak, want hy skree agter hulle aan toe meneer Weber sy hoed opsit en uitloop.

Buite vra die sendeling uit na Mina se siekte voor hy sy mening gee. “Dit klink na water. Dit kan gevaarlik wees as dit oor die hart stoot. Haarlemmerdruppels behoort die water af te dryf. So tien druppels in ’n bietjie water soggens.”

Frederik onderdruk die onverwagte skuldgevoel. Sy plan is mos nie teen die sendeling gemik nie. Hy wil net die handelaars hier weg hê. “Ek is Meneer innig dankbaar vir die medisyne. Dis erg om my Mina so te sien swaarkry.”

“Dis my Christelike plig om almal te help. Ek kan Mina nie straf vir jou wandade nie, al is dit moeilik vir meneer Schmidt om dit te begryp.”

Op pad terug haal Jonas hom in en trap hom uit: “Pa behoort Pa te skaam om Ma as verskoning te gebruik om die raadsitting te kom ontwrig.”

Skaamkwaad oor hy uitgevang is, gaan Frederik tot aanval oor: “Moenie vir jou rammetjie-uitnek met my hou nie. Ek sou my voete nie daar gesit het as Koekoes my nie gestuur het om medisyne te kry nie.”

“Ek glo dit nie. Koekoes het my dan vanoggend gewaarsku Ma is op haar laaste. Sy wil nie gesond word nie. Sy wil net hemel toe.”

Die geweeklaag wat by die werf opklink, knip die argument kort. Mina is dood, besef Frederik toe hy die samedromming by haar matjieshuis sien. Die gedruis in sy ore klink soos die vlerkgeklap van ’n magdom rooiborslaksmanne. Hy haal die botteltjie medisyne uit sy sak en druk dit in Jonas se hand. “Gaan gee dit vir meneer Weber terug. Die geld kan hy maar hou vir die kerk. En reël dat jou ma ’n ordentlike begrafnis uit die kerk kry.”

Twee maande is verby sedert Mina se afsterwe. Dit het Frederik ’n goeie verskoning gegee om die routyd met ’n fees af te sluit. Daar is genoeg skaap geslag, want almal, ook die honde, moes hulle trommeldik eet en die brandewyn is ruim geskink.

Frederik gooi nog ’n stomp op die vuur. Die werf is nou doodstil, nie eens ’n hond blaf nie. In die noordooste flits die weerlig. Dit lyk of die natuur vannag sy bondgenoot gaan wees. Die reën is nog ’n paar uur weg, want hy hoor geen rammeling nie. Hy staan dadelik op toe ’n kiewiet skree asof dit van die nes verwilder is. Met sy geweer in die hand en ’n stuk nat biltong in ’n sak vind hy maklik sy weg in die lig van die halfmaan na waar Robert Duncan se perderuiters wag.

Frederik lei die groep eers weer suidwaarts op hulle spore terug voor hulle die rivier oorsteek en weswaarts hou tot hy gerus is niemand op sy werf sal die hoefslae hoor nie. Die vreemde perd spring met ’n vaart weg toe hy hom in die lieste kap. Naby die Bergdamara-stat laat hulle die perde stap. Alhoewel kaptein Apollo van die Bergdamaras hom op hoogte hou van die kom en gaan van handelaars, vertrou hy hom nie ten volle nie.

Die veepos waarheen hy mik, is ’n paar myl noordwes van Gobabis. Dit is in Herero-gebied, daarom verwag hy nie die veewagters sal op hulle hoede wees nie.

Toe hy die flikkering van ’n kampvuur gewaar, bring Frederik sy groep tot stilstand. “Geen skote mag geskiet word nie. Oorrompel die veewagters so stil as moontlik. Stop die lap wat ek gegee het in hulle monde en maak hulle deeglik met rieme vas.”

Die geblaf van ’n hond laat hulle vries. Frederik tjank soos ’n jakkals. ’n Stem by die vuur maak die hond stil. Frederik gee die teken vir sy handlangers om uit te sprei. Indien die veewagters ondersoek kom instel, moet hulle van agter betrek word.

Die reën is nou vinnig in aantog, want elke weerligstraal word deur ’n donderslag gevolg. Gelukkig het die donderwolk nog nie die maan ingehaal nie; hulle kan met gemak beweeg. Maar die rigting waaruit die hond geblaf het, beteken die noordoostewind dra hulle reuk direk na die veewagters toe. Hy sal die hond moet stilkry. Uit die saalsak haal hy die nat biltong en tjank weer ’n paar keer soos ’n jakkals tot die hond blaffend aangestorm kom. Die hond steek grommend vas. Frederik gooi die biltong vir hom. Toe hy dit gryp, storm Frederik. Sy geweerkolf tref die dier skuins teen die kop en ruk hom van balans af. Voor die hond tot verhaal kan kom, het hy sy mes uit. Een steek in die hart is genoeg. Hy vee sy mes skoon met Krapohl se sakdoek en druk dit onder die dooie dier in. Sy plan was om die sakdoek by die kraal aan ’n doringtak te haak, maar nou is hy seker die Herero’s sal dit kry en tot die gevolgtrekking kom Gobabis se wit mense sit agter die rooftog.

Volgens sy spioene is die nuwe kaptein, Kanangati, jonk en gretig om sy gesag af te dwing. Anders as die vorige kaptein, is hy nie ingekruip by die Lamberts nie. Hy is ’n perdeby wat plek soek om te steek en Frederik Vlermuis gaan seker maak hy steek op die regte plek.

Rooiborslaksman

Подняться наверх