Читать книгу Rooiborslaksman - Marinda van Zyl - Страница 11

5

Оглавление

Desember 1864

Liesbet skrik wakker. Haar hare sit soos Absalom s’n aan die doringbos vas. Sy klap vies na Fritzie se hand; dis al weer hy wat haar hare trek. Die son skyn reeds by die kamervenster in. Ná drie weke is sy nog nie gewoond om op ’n koedoevel op die vloer te slaap nie en het vanmôre verslaap. Die eerste aand was sy te verskrik om mevrou Weber reg te help toe sy sê: “Julle slaap mos nie op beddens nie. Jy kan hier tussen die twee bedjies op die sagte vel lê, dan sal jy dadelik wakker word as Fritzie wil rondloop, want hy pla ons snags.”

Haastig trek sy vir Fritzie aan en kam sy hare.

Pennina is alleen in die kombuis. “Mevrou is langsaan toe om te help met baas Schmidt, want sy rug is glo weer erg seer.”

Liesbet sug moedeloos. Solank die oom siek bly, sal die seun seker nie buite kom speel nie. Syself het ook nie tyd om rond te loop nie. Soggens moet sy nou skool toe en smiddags vir Fritzie oppas. Vir Catharina sien sy net Sondae. Andries het al ’n paar keer kom gesels wanneer sy met Fritzie in die koelte van die doringboom speel. Hy was baie bly om te hoor die Schmidts kom op Gobabis bly. Oom Frederik was ook eenkeer hier terwyl die sendeling na sy veepos toe was. Hy wil hê sy moet vir hom ’n sakdoek van meneer Krapohl in die hande kry. Gelukkig het hy nie sy mes teruggevra nie. Nog nie. Hy gaan seker baie kwaad wees as hy uitvind sy het dit verloor.

Liesbet smeer solank vir haar en Fritzie brood. Dis nie die askoek waaraan sy gewoond is nie, want mevrou Weber bak dit in ’n pan in ’n ysteroond.

Mevrou Weber pluk speels aan Liesbet se vlegsel voor sy by die tafel aansit: “Jy is werklikwaar ’n staatmaker. Wil jy vandag by die huis bly en my help Kerskoekies bak?”

“Baie graag, Mevrou,” stem sy dadelik in al weet sy nie wat Kerskoekies is nie, want skoolgaan is nie vir haar lekker nie. Al die goed wat meneer Weber vir hulle leer, het sy klaar by haar ma geleer en hy slaan die seuns as hulle nie reg antwoord nie of te lelik skryf.

“Hierdie jaar is ons genoeg mense bymekaar om ’n egte Duitse Kersfees te hou,” gesels Mevrou terwyl sy die bestanddele op die witgeskropte kombuistafel uitpak. “As meneer Schmidt nie kan loop nie, dra ons hom met bed en al hierheen. Dan kan jy en Otto maats maak. Ek dink julle is omtrent ewe oud.”

“Maar ek kan nie Duits praat nie,” kla Liesbet hardop; sy besef nou sy weet nie hoe om haar mes terug te vra nie.

“Dan is dit tyd dat ek jou leer. Wat is die eerste woord wat jy wil weet?”

“Mes.”

Daar is ’n keep tussen mevrou Weber se wenkbroue. “Hoekom juis dit; daar is tog baie ander belangriker woorde?”

Liesbet voel soos ’n voëltjie wat deur ’n slang vasgekeer is, want die kwaai oë pen haar vas. Toe Fritzie die laaste krummeltjies van sy sny brood met die vinger van sy bordjie af oppik, weet sy wat om te sê.

“Ek wou vir Fritzie gevra het om die mes aan te gee toe ek die brood moes smeer.”

“Natuurlik,” glimlag Mevrou weer. “Jy wil praktiese woorde leer om jou huistake te vergemaklik. Jy moet sê: ‘Geben Sie mir das Messer, Bitte.’ Herhaal dit.”

Ná ’n paar keer se oorsê, is Mevrou tevrede.

Die koekbakkery is vir Liesbet groot pret. Mevrou maak die deeg aan en rol dit plat uit. Daarna is dit haar werk om boompies en mannetjies uit te druk en vir die mannetjies oë en monde te gee met neute en blink balletjies voor Mevrou dit in ’n pan pak en in die oond druk.

Tussendeur prop Mevrou haar kop vol met vreemde woorde. Teen die aand is die sinnetjie al vergete, maar “Messer” bly darem vassteek.

Sy gaan slaap omhul van die geur van kaneel en gemmer en voel vir die eerste keer tuis by die Webers.

Die dag voor Kersfees word Timo veld toe gestuur om ’n soetdoringtak af te kap en in ’n balie te plant. Dis lekker om die boompie met kerse en sterre van blinkpapier te versier. Liesbet kan nie wag dat dit aand moet word nie.

Vroegaand bad sy vir Fritzie en trek vir hom sy wit broek en hemp met ’n rooi strikdassie aan. Mevrou het vir haar ook ’n spierwit rok, rooi haarlinte en sakdoekies present gegee. Hulle moet in die kamer bly tot die gaste hier is, het Mevrou gesê, want hulle moet netjies wees en ’n goeie indruk maak.

Liesbet versteen toe sy met Fritzie aan die hand die voorhuis ingaan en die vrou opspring, iets skree en met die vinger na haar wys, terwyl sy aanmekaar praat.

Mevrou Weber kom kniel by Liesbet. “Hoekom het jy ons nooit vertel dis jy wat hulle gehelp het nie?”

Voor sy kan antwoord, sê meneer Krapohl: “Ons sal vir jou ’n groot geskenk gee. Wat jy graag wil hê.”

Liesbet gryp die kans aan: “Ek wil teruggaan huis toe. Ek verlang na Catharina.”

Mevrou gee haar weer die kwaai kyk: “Jy kan môre die hele dag daar gaan kuier. Ek sal vir julle lekker kos saamgee, maar jou huis is nou hier by ons.”

“Daar moet tog iets wees wat jou hart begeer?” dring meneer Krapohl aan.

“’n Sakdoek. ’n Lekker grote soos wat Oom het.”

Mevrou Weber tuit haar mond dat ’n wit kring wys. “Moenie verspot wees nie. Ek het mos vir jou mooi kantsakdoekies gegee.”

“Ek gaan vir Catharina een van hulle gee, maar ek het nie ’n geskenk vir Andries nie,” spring die leuen sommer vanself uit.

Meneer Krapohl vryf sy hande ingenome. “Dis ’n maklike wens om te vervul. My moeder stuur elke Kersfees ’n pak. Andries kan met graagte daarvan kry. Ek kry dit nou dadelik.”

Liesbet glimlag verlig oor die leuen se goeie nadraai.

Die seun wat ingewurm tussen sy ma en pa sit, se naam is Otto, hoor sy. Toe sy na hom kyk, glimlag hy ook en sy skep moed. Miskien gee hy uit sy eie die mes terug. Sy huppel agterna toe Mevrou opstaan om eetgoed te gaan haal en Otto se ma hom met die elmboog aanpor om te gaan help. Sy wag tot Mevrou uit die kombuis is voor sy haar hand na hom uithou: “Messer. Mein Messer.”

Hy raap ’n bord soetkoekies op en skud sy kop verwoed: “Nein, nein!”

Toe hy haar probeer systap, gryp sy hom aan die arm en die koekies spat oor die vloer. Hy plak die leë bord op die tafel neer en verdwyn met ’n volgepakte een by die deur uit. Inderhaas pak sy die koekies terug. As Mevrou hiervan moet weet, is sy in groot moeilikheid.

Otto sit reeds weer tussen sy pa en ma asof hy die onskuld vanself is. Die klein pes, hom sal sy nog ’n les leer. Sy hou die bord koekies vir sy ma en pa en toe vir hom tot hy een vat.

Saam met die sakdoek bring meneer Krapohl nog ’n geskenk vir Andries. ’n Sakhorlosie soos die een wat hyself het. “Die kaptein verdien ’n ordentlike geskenk ná sy manhaftige optrede om meneer Schmidt te red.”

Liesbet gaan bêre dadelik die horlosie en sakdoek in die kamer by haar ander geskenkies. Die sakdoek is spierwit met E.K. in die een hoek geborduur. Die krulletjies laat haar dink aan die wit engeltjies in die Kersboom. G’n wonder oom Frederik wil ook graag een hê nie.

Rooiborslaksman

Подняться наверх