Читать книгу Rooiborslaksman - Marinda van Zyl - Страница 9

3

Оглавление

November 1864

Liesbet trek die velkombers oor haar kop om Catharina se skel stem uit te doof, net om dit weer af te gooi, want die hitte maak haar benoud. Sy hou niks van die kliphuisie waarin hulle nou bly nie. Met net die voorhuis en twee slaapkamers hoor ’n mens alles wat in die huis aangaan. Andries en Eduard het die huis gebou, want sy en Catharina weet nie hoe om matjies te vleg en matjieshuise op te slaan nie. Sy kan ook nie in die wa gaan slaap nie, want dit is nou Eduard se blyplek. Hy kom nooit in die huis nie, sit sommer teen die wawiel en eet. Sy suig verwoed aan haar duim om die knop in haar keel weg te kry. Catharina het sweerlik vergeet sy verjaar môre. Dan is sy elf. Ma Trien het altyd vir haar ’n nuwe rok vir haar verjaarsdag gemaak. Noudat haar rokke bolangs te klein raak, het sy rêrig ’n nuwe een nodig, maar Catharina doen nie meer naaldwerk nie. Te besig om oor alles te kla.

Die stemme word sagter en sy wil net insluimer toe Catharina skree: “Nooit as te nimmer! Liesbet bly net hier. Ek het my ma belowe ek sal na haar kyk. En hoe gaan ek sonder haar klaarkom? Sy’s my voete as ek nie vinnig oor die weg kan kom nie.”

Andries paai: “Sagter tog net, sy gaan wakker word. Hulle sal mos goed vir haar sorg. Dis vir ons almal se beswil.”

“Twak! Hulle soek net ’n kinderoppasser. Ek sal dit môre self vir hulle loop sê.”

“Asseblief tog nie, Catharina. Sonder meneer Weber se ondersteuning gaan oom Frederik die kapteinskap by my afvat.”

Liesbet druk haar ore toe. Sy het genoeg gehoor. Andries wil haar nie meer hier hê nie. Net môre gaan sy vir Timo vra om riete te sny sodat sy kan matjies vleg vir haar eie matjieshuis. Dan hoef sy nie meer in Andries se kliphuis te bly nie, maar kan nog altyd vir Catharina help. Tevrede met die plan om haar eie slaapplek te kry, raak sy duim in die mond aan die slaap.

Maar in die daglig is die plan nie so maklik uitvoerbaar nie. Liesbet gooi die riet moedeloos neer. Timo het vir haar ’n yslike bondel riete gebring, maar sy is moeg gesukkel om die eerste een in eweredige repe te skeur en haar vingers brand klaar soos vuur. Sy sal nooit genoeg hê om een matjie te vleg nie, wat nog te sê vir ’n hele matjieshuis.

Sy weet nie wat aangaan toe Timo die water in hardloop en tussen die riete platval nie.

“Kruip weg! Hy’t ’n roer,” roep hy benoud.

Dis oom Frederik wat fluitend naderkom. Liesbet sit roerloos en hoop hy sal haar nie gewaar nie.

“Wat maak jy hier so alleen by die fontein, Klein Liesbet?”

Hy lyk glad nie kwaai nie en Liesbet wys na die bondel riete. “Ek wil matjies vleg vir ’n matjieshuis, oom Frederik.” Sy onthou verskrik hoe hy op Andries geskree het hy is nie ’n oom nie, maar kaptein Vlermuis. “Skuus, ek bedoel, kaptein Vlermuis.”

Dit laat hom lag. “Jy’s ’n verstandige Lambert, Klein Liesbet, maar hoekom wil jy ’n matjieshuis hê as julle ’n lekker kliphuis het? My vrou kerm weer aanmekaar ek moet vir haar ’n kliphuis bou.” Hy hurk langs haar en tel die paar repies riet op. “Ek onthou nog hoe my oumagrootjie vir Oupagrootjie uitgetrap het oor hy op ’n plek kom bly het waar nie regte matjiesgoed groei nie en sy met die riete moes sukkel. Weet jy darem hoe om matjies te vleg?”

“So effentjies, ja. Tant Berta van oom Jan het vir my en Catharina bietjie touwys gemaak nog voor Andries die kliphuis gebou het, maar nou is ons kwaad vir haar oor sy sê my ma was ’n geitjie en sy het Catharina se been afgesny. Dis ’n liegstorie, want Catharina se been het mos afgeval toe die slang haar gepik het. Of hoe, Oom?”

“Ai, meisiekind, die waarheid lê anders op elkeen se tong. Weet jy wat kouevuur is?”

Liesbet kyk verbaas na hom. Hoe kan vuur koud wees? “Dis seker as die kole al koud is.”

“Dis ’n seerplek wat vrot en al groter en groter word. Niks maak dit gesond nie. Catharina se been het vrot geword van die pofadder se gif. Jou ma het maar net die dooie stuk been losgesny sodat dit kon afval, anders het Catharina doodgegaan. Jou ma was ’n baie dapper vrou wat nie met haar laat mors het nie. Dis sommer net ’n spul jaloerse vroumense wat haar ’n geitjie noem.”

Die eelte op oom Frederik se hande wat hare in syne toevou, bring herinneringe aan Ou Pappa en die trane loop sonder dat sy wil.

Hy staan dadelik op, vroetel in sy sak en hou ’n knipmes na haar toe uit. “Dè, met ’n lekker skerp mes sal dit makliker gaan.”

By die huis gekom, is Catharina omgekrap. “Waar loop jy rond, Liesbet? Jy weet ek kan nie sonder jou klaarkom nie.”

“Groente gaan haal by Timo.” Sy sit die aartappels, wortels en tamaties op die tafel neer. Daar is nog nie vuur in die kookkaggel gemaak nie. Vandag eet hulle weer taai vleis.

Catharina gryp haar kruk en sukkel klak-doef, klak-doef na hulle slaapkamer toe en terug. Sy plak die munte op die tafel voor Liesbet neer. “Gaan koop vir ons suiker en koffie by meneer Krapohl. Ons eet vandag net oorskietaskoek. Andries en Eduard is Twass toe. Pleks hy vir my luister en die beestrop Gobabis toe bring sodat hy meer by die huis kan wees.”

“Goed, ousus. Kan ek maar lekkers koop as daar ’n geldjie oor is?”

Nou lag Catharina se oë saam met haar mond. “Moenie alles opeet voor jy by die huis is nie. Ek is ook lus vir ’n soetigheid.”

Liesbet moet by die Webers se huis verby op pad na die winkel.

Maar die sendeling kom by die deur uit en daar is nie vir haar wegkomkans nie. “Goeiedag, Liesbet, jy kom asof gestuur. Ek was juis van plan om vir Catharina vandag oor jou te kom spreek.”

O gonna, meneer Weber gaan raas oor sy vir Timo uit die werk hou en nie skool toe kom nie. Tog nie, want hy lig haar ken met sy voorvinger sodat sy na hom moet opkyk. “Hoe sal jy daarvan hou om hier by ons te kom bly? Dan kan my vrou jou ’n behoorlike opvoeding gee.”

Sy glip onder sy hand uit en skud haar kop heftig. “Ek kan nie. Catharina het my nodig. Ek gaan juis nou koffie en suiker koop.”

Meneer Weber glimlag nie meer nie. “Jy is nog ’n kind vir wie daar gesorg moet word, nie omgekeerd nie. Ek sal vir Pennina vra om een van haar dogters as huishulp vir Catharina te stuur.”

Dis goeie nuus vir Liesbet. Pennina is Timo se ma. As sy suster vir Catharina kom help, kan sy by die fontein matjies vleg en by hom kuier. Vir meneer Weber gee sy ’n ander rede: “Ja, dan sal Catharina genoeg tyd hê om my met lees en skryf te help. Sy was baie slim in die skool.”

“O, dit weet ek alte goed, maar ’n meisie het ook leiding en opvoeding nodig. Andries en Catharina is hopeloos te jonk om geskikte ouers vir jou te wees.”

’n Lawaai wat by meneer Krapohl se winkel uitbreek, laat die sendeling inderhaas padgee daarheen. Liesbet kyk hom verslae agterna. Hoe kan hulle haar van Catharina af wil wegvat? Weet hulle nie hoe verskriklik seer dit is as jou ma nie meer daar is nie? Catharina is al wat sy het. Sy wil sommer in ’n bondeltjie gaan sit en huil, maar die vooruitsig om lekkers te kry laat haar agter die sendeling aandraf.

Die ooms by meneer Krapohl se winkel is baie kwaad. Almal praat tegelyk en Liesbet kan nie mooi uitmaak wat hulle sê nie, tot een skree: “Jy’s ’n verdomde skelm! Jy vra ons meer as dubbel die prys wat jy vir goed in Walvisbaai betaal.”

Meneer Weber steek sy hande op asof hy in die kerk preek. “Bedaar nou, mense. ’n Handelaar het tog die reg om ’n wins te maak om vir sy vrou en kinders te sorg.”

“Nie woekerwins nie,” sê oom Jan, terwyl hy ’n speenkalf aan ’n riem naderlei. “Ek het in Walvisbaai opgeskryf wat goed daar kos. Hy buit ons uit.”

Oom Frederik laat ook van hom hoor: “Toe, Webertjie, wat sê jy nou? Volgens jou is Jan Lambert ’n eerbare man. Hy sal mos nie hier staan en lieg nie.” Hy lyk baie in sy skik met homself, seker oor die ander ooms luidkeels saamstem.

Veral met dié dat oom Kort Lambert ook ’n stuiwertjie in die armbeurs gooi. “Dis wat ek ook agtergekom het toe ek laas jaar saam met Meneer Walvisbaai toe was.”

Meneer Krapohl blaas op soos ’n brulpadda. “Ek het die reg om vir my goedere te vra wat ek dink dit werd is. Dit kos my baie geld om dit in Walvisbaai te gaan haal.”

Nou is oom Jan ook vies. “Jy jok, meneer Krapohl. Ons het sonder betaling saamgegaan om jou teen die Witboois en die Herero’s te beskerm. Die gras en die water gee die Here vir jou verniet en jy betaal jou wadrywer ’n paar pennies.”

Meneer Weber hou weer sy hande omhoog. “’n Handelaar het die reg om die waarde van sy goedere te bepaal.”

“Dan het ek mos ook die reg om te besluit wat ek vir my kalf wil hê,” hou oom Jan vol. “Gee vir my tien sjielings se meel, suiker, koffie, tabak en kruit vir my roer.”

Meneer Krapohl word al hoe rooier. “Nou praat jy onsin. ’n Uitgegroeide bees kos een pond. ’n Speenkalf kan nie die helfte werd wees nie. Ek sal jou vyf sjielings se kosware gee vir die kalf.”

“Dis diefstal,” sê oom Kort Lambert. “Op Walvisbaai het jy ’n volle twee pond vir elke bees gekry.”

“Skoert!” Meneer Krapohl klap die luik van sy winkel toe.

Die ooms loop vloekend weg toe meneer Krapohl nie weer die luik oopmaak of uit die winkel kom nie. Liesbet bly verslae staan. Catharina gaan raas as sy met leë hande by die huis kom. En sy was so lus vir ’n lekkertjie.

Meneer Weber klop hard aan die luik. “Maak oop, Engelbert. Liesbet wil iets koop.”

Die luik gaan dadelik oop.

Liesbet moet op haar tone staan om die twee emmertjies aan te gee. “Koffie, suiker en lekkers, asseblief, Oom.”

“Het jy geld of kom dit op die koopboek?”

Liesbet hou haar hand uit sodat hy die ses pennies kan vat.

“Het jou suster gesê jy mag lekkers koop?”

“Ja, Oom. Dis my verjaarsdag vandag. Ek is nou elf.”

“Sowaar?” Meneer Weber kyk haar op en af. “Ek dag jy is so om en by agt.”

Liesbet koes weg toe hy sy hand uitsteek, bang hy gaan haar mond soos ’n skaap s’n ooprek om te kyk hoe oud sy is. Maar sy staan weer nader toe hy vir meneer Krapohl sê: “Hoe lyk dit Engelbert, dan kan sy seker ’n ekstra suigstokkie kry?”

Sy sit die stokkielekker by die mes in haar voorskootsak. Dit gaan sy nie met Catharina deel nie, want die hand vol lekkers wat meneer Krapohl in papier toedraai, is meer as wat sy verwag het. Ook die emmertjies met koffie en suiker is voller as gewoonlik. “Baie dankie, Meneer.” Sy bedank hom al sê Catharina mens sê nie dankie vir iets waarvoor jy betaal nie.

Toe sy wegloop, hoor sy die handelaar sê: “Gelukkig aard Liesbet na haar goedige ou vader en nie na die feeks van ’n ma nie. Dis net jammer sy’s onder die vlerk van die suster wat nog erger is as die ma.”

“Gelukkig nie meer vir lank nie. Kaptein Andries het ingestem Liesbet kan by ons kom woon.”

Die sendeling se antwoord laat Liesbet wegvlieg asof ’n by haar gesteek het. Van nou af moet sy uit sy pad bly. Hulle sal haar moet vang en vasmaak om haar in daardie huis te kry.

“Wat hol jy so?” wil Catharina weet, maar wag nie vir ’n antwoord toe sy die pak lekkers sien nie. “Wat het oor meneer Krapohl se lewer geloop om jou soveel lekkers te gee?”

“Ek het hom gesê ek verjaar. Jy kan maar saameet. Net Andries kry niks nie.”

Catharina vou die lekkers weer toe ná sy twee uitgesoek het. “Gaan bêre dit in jou kamer. Dan kan jy dit deel met wie jy wil.”

Liesbet steek in die kamerdeur vas. Op haar bed lê ’n splinternuwe rok. “Ek het gedink jy’t vergeet,” sê sy terwyl sy Catharina gaan omhels.

“Hoe sal ek nou my enigste sussie se verjaarsdag vergeet? Ek het daaraan gewerk wanneer jy by die fontein is. Jou rondlêery saam met Timo sal moet end kry. Dit gaan die sendeling net ’n stok gee om ons mee te slaan, want jy word nou ’n groot meisie.”

Dié aand lê sy weer styf agter Catharina se rug, soos daardie tyd wat hulle nog saam in die matjieshuis gebly het. Sy wens sy word môre wakker van haar ma se stem wat dreig om hulle uit die bed te boender.

Maar in die oggend is dit die koue kalkklipmuur wat haar begroet toe Catharina haar wakker skud. “Gaan kyk wie is so vroeg by die deur.”

Sy maak die deur op ’n skrefie oop, terwyl sy bid dit moet tog net nie die sendeling wees nie.

Pennina stoot haar onwillige dogter by die deur in. “Dis Thiri. Sy kom werk.”

Catharina spring op een been nader. “Wat gaan nou aan?”

Liesbet verdwyn in haar kamer, gooi vinnig die nuwe rok oor haar kop, klim deur die venster en hardloop fontein toe. Sy gaan nie soos ’n tortelduif in Timo se wip sit en wag vir die sendeling om haar te kom haal nie.

By die fontein kom sy agter sy het nie haar voorskoot aan nie. Sonder die mes sien sy ook nie kans om die riete te bewerk nie. Timo lei die groente nat. Sy draai om voor hy haar gewaar, bang hy gaan haar nuwe rok vuilmors as hy haar kamstig per ongeluk natspat.

Van ver af hoor sy vir Catharina skel.

Thiri is in trane waar sy in die hoek van die voorkamer probeer skuil terwyl Catharina klappe uitdeel.

Liesbet kry vir Catharina aan die arm beet. “Moenie, ousus, asseblief.”

“Sy’s dom verby!” skree Catharina. “Ek kan nie so sukkel nie. Waar was jy en dit boonop met jou nuwe rok aan?”

“Weggekruip vir die sendeling. Hulle gaan my kom haal, want Andries het gesê ek moet daar gaan bly.”

Catharina blaas soos ’n gans. “Die verraaier. Ek het hom gesê jy gaan nêrens nie. Laat die sendeling dit net waag om sy voete in hierdie huis te sit. Andries is te bang om sy man te staan, nou soek hy witvoetjie by die sendeling sodat hý vir oom Frederik op sy plek moet sit.”

Liesbet steur haar nie verder aan Catharina se tirade nie. “Kom,” sê sy vir Thiri. “Ek sal jou mooi wys hoe Catharina die werk gedoen wil hê.”

Die huis is skoon en die pot vleis is al lustig aan die kook toe manstemme buite opklink. Dis oom Jan en die ander raadslede. Hulle kom staan die voorhuis ongenooid vol en wil weet wanneer kaptein Andries terug sal wees. Daar moet dringend vergadering gehou word, want meneer Krapohl weier om weer sy winkel oop te maak tot elkeen wat hom beledig het om verskoning gevra het.

Catharina haal haar skouers op. “Een of ander tyd vandag, maar as daar iets skort by Twass dalk eers môre.”

“So lank kan ons nie wag nie,” sê oom Kort Lambert. “Jan, dis tyd om Krapohl ’n les te leer. Jy as onderkaptein kan mos besluite neem wanneer die kaptein nie hier is nie. Met jou toestemming breek ons nou die winkel oop en vat wat ons nodig het. Jonas kan as magistraat opskryf wat hy dink elke ding werd is, asook hoeveel elkeen van ons skuld.”

Daar word luidrugtig saamgestem, maar oom Jan skud sy kop. “En wat maak ons as meneer Krapohl sy dreigement uitvoer en na ’n ander plek toe trek? Die reisende handelaars is nog sku vir Gobabis oor hulle bang is om pokkies aan te steek.”

Gelukkig kom ’n kind vir Jonas roep, want sy pa soek hom dringend. Die ander verkas agter hom aan.

Die geklap van perdepote laat Catharina, wat by die venster sit, uitroep: “Andries-hulle is hier!”

Liesbet kan maar net haar kop skud. Grootmense sal sy nooit verstaan nie. Een oomblik kyf Catharina oor Andries nie sy man staan nie, maar nou glimlag sy asof sy ’n emmertjie vol lekkers gekry het.

Liesbet glip weg kamer toe, gooi ’n paar lekkers in haar voorskootsak, klim deur die venster en nael fontein toe.

Timo se glimlag is amper so groot soos Catharina s’n oor die lekker wat sy vir hom gee.

Vandag moet sy die hoop riete takel. Versigtig sny sy groefies in die riet om net die buitenste, sagte bas af te trek. Sny haarself amper raak van skrik, want iemand kom skreeuend van die rivier se kant af aangehardloop. Al wat sy kan uitmaak, is: “Wa aflaai, wa aflaai.”

“Die Vlermuise maak mense aan bome vas en laai goed van die wa af,” verduidelik Timo.

Maar hy doen niks nie.

“Gaan roep vir kaptein Andries. Hardloop!” gil Liesbet voor sy self rivier toe hardloop.

Sy huiwer net ’n oomblik voor sy die droë rivierbedding oorsteek. Hier tussen die kalkklippe het die pofadder geskuil wat vir Catharina gepik het. Die gehuil van ’n kind laat haar vergeet van haar vrees. Op die geluid af kry sy hom waar hy met ’n stuk bont lap aan ’n boom vasgemaak is. Die dubbelknoop is te styf vasgetrek. Die mes wat sy uithaal, laat die seun se rooigehuilde oë rek van vrees. Vinnig druk sy die stokkielekker, wat sy in haar voorskootsak bêre om net af en toe spaarsamig aan te suig, in sy mond. “Sjuut,” beduie sy met haar vinger op die lippe. “Ek gaan jou losmaak.” Verder weg drom mense om ’n wa saam en sy wil nie hier betrap word nie. Die oomblik wat die seun se arms los is, gryp hy die mes uit haar hand en hol tot by ’n ander boom. Nou eers sien sy die vrou wat daar vasgemaak is. Dié ruk haar kop heen en weer, maar die stuk lap in haar mond verhoed dat sy ’n geluid uitkry. Toe sy los is, hardloop ma en seun die bosse in sonder om haar mes terug te gee.

Liesbet se aandag word afgetrek deur Andries wat skree: “Hou dadelik op!” Hy kom te perd deur die droë rivier gejaag dat die kalkklippe spat. “Wat de duiwel gaan hier aan, oom Frederik?”

“Hou jou hier uit, kortgat!” skree oom Frederik terug. “Vra liewer vir Krapohl met watse konkelry hý besig is.”

Koes-koes agter bosse gaan Liesbet nader. Oopgebreekte kiste staan langs die wa. Klere en ander goed lê die wêreld vol. Onder die wa soebat ’n man om hulp, want sy arms is aan die as vasgemaak.

“Ag nee, magtig, oom Frederik,” raas Andries. “Maak dadelik die man los en laai al die goed terug op die wa. Julle kla aanmekaar oor handelaars skelm in die nag verby Gobabis trek op pad Ngamimeer toe en nou behandel julle die een wat hier kom so sleg.”

“Jy sal ’n ander deuntjie sing as jy weet wie dié mense is en hoe Krapohl agter jou rug knoei. Gaan aan met die aflaaiery,” beveel oom Frederik die mans wat nog op die wa is en hulle gehoorsaam dadelik.

Liesbet se keel trek toe oor Andries wat sy geweer uithaal. Die oomblik wat die geweerskoot weergalm, smyt van die mans neer wat in hulle hande is en laat spaander.

“Wat de moer dink jy doen jy om op ons te skiet?” tier oom Frederik wat self ’n paar treë teruggestaan het.

“Die eerste skoot was in die lug,” waarsku Andries. “Die tweede een is vir wie ook al weer iets van die wa aflaai, want só het my pa en my oupa my nie grootgemaak nie. Jonas, jy as magistraat sal toesien dat die mense en die wa veilig by meneer Krapohl se huis kom. Daarna kan hy en die handelaar hulle saak voor die Raad kom stel.”

Oom Frederik slaan die vooros met die rysweep terwyl Andries nog praat. Die span osse stu vorentoe. Die man onder die wa skreeu, want hy word saamgesleep.

Jonas gryp die vooros aan die horing. “Hokaai, hokaai!” Toe die osse stilstaan, waag hy sowaar om met oom Frederik te raas: “Pa moet liewer padgee voor hier vandag lelike moeilikheid kom. As magistraat kan ek nie vir Pa kant kies as Pa sulke dinge doen nie.”

Eers lyk dit of oom Frederik vir Jonas ook met die sweep wil bykom, maar toe spoeg hy op die grond en gluur vir sy seun. “Verraaier, jy en daai kortgat gaan hierdie dag nog berou. En ek soek jou nie langer op my werf nie.” Toe klim hy op sy perd en gee die arme dier ’n hou dat hy op sy agterpote steier en hom amper afsmyt.

Die gille van die man onder die wa het die vrou en kind te voorskyn laat kom. Albei huil nou jammerlik. Andries kruip self onder die wa in om die rieme los te maak.

Liesbet waag dit nader om haar mes terug te kry, maar Andries gewaar haar die oomblik wat hy onder die wa uitkom en roep haar. O gonna, nou is sy in die moeilikheid.

Maar Andries glimlag en vryf oor haar hare. “Dit was slim van jou om Timo te stuur om my te roep. Oupa sou trots wees op jou. Stap saam met my huis toe, want ek wil jou ’n groot guns vra.”

Liesbet stap gedwee saam, want sy weet wat hy wil vra. Sy sal maar instem om by die Webers te gaan bly, want dis al manier om naby genoeg aan daardie seun te kom dat sy haar mes kan terugkry.

Rooiborslaksman

Подняться наверх