Читать книгу Die dinge van ’n kind - Marita van der Vyver - Страница 10
ОглавлениеLonden
8 Augustus I992
Liewe kind
Al wat ek jou vandag kan gee, is ’n klein koerantberiggie. Hoe ouer ek word, hoe groter word die gapings in my woordeskat. Ek het gedog die teenoorgestelde sou gebeur: dat ek op die ou end alles sou kon sê wat gesê kan word, as ek net aanhou oefen.
Ek het gedog om woorde op papier vas te pen sou wees soos om vis te vang. Hoe groter die ervaring, hoe groter die vangs. Nou weet ek dis nie noodwendig waar nie. Dit kan gebeur dat jou visnet deur die jare verslete en vol gate word, dat jy nie meer die moeite doen om dit heel te maak nie omdat jy nie meer omgee as die klein vissies wegkom nie – net die heel grootstes is nog vir jou ’n uitdaging.
Daar is ’n paar dinge wat ek probeer sê, net ’n paar, maar omdat ek so sukkel om die regte woorde te vang, glip al die ander deesdae deur my vingers. Ek was nog nooit goed met small talk nie, ek was nog altyd ’n fiasko met ’n skemerkelkie in die hand tussen mense wat ek nie behoorlik ken nie, maar deesdae sukkel ek selfs om met my vriende te praat. As ek nog van vriende kan praat.
Seker dié dat ek ’n groeiende behoefte het aan hierdie briewe, om dinge met jou te deel wat ek met niemand anders kan deel nie, al is dit net een maal ’n maand. (Of is dit net omdat ek oor my tienerjare begin skryf het dat ek nou weer ’n tienderjarige behoefte ontwikkel het om ’n soort dagboek te hê?)
Heimwee. Dis die woord waarna ek in my vorige brief gesoek het. Heim soos in die Duitse Heimat, wee soos in weemoed. Hier is ’n storietjie, onlangs in ’n Afrikaanse koerant opgespoor, oor heimwee.
Afrikaans? Ja, noudat dit nie meer nodig is om my kop in skaamte te laat hang oor ek uit daardie vervloekte land kom nie, waag ek dit soms om by South Africa House aan Trafalgar Square in te stap, waar ek deur ou koerante en tydskrifte blaai op soek na – wat? Geloof? Hoop? Liefde? Wat ek vind, gewoonlik, is wantroue, wanhoop en haat.
Maar soms is daar darem iets wat ek nie in die plaaslike pers raakgesien het nie. Of miskien het ek net so gewoond geraak daaraan om die spasies tussen die reëls in Suid-Afrikaanse koerante te lees dat ek nie meer die reëls self in Britse koerante kan lees nie.
Londen. – Wat maak ’n mens as jou hart in die verre vreemde met ’n punt na jou geboorteland in Afrika trek? Jy bou vir jou ’n modderhuis in die agterplaas.
(’n Modderhuis! het ek gedink. En gretig verder gelees.)
Dis presies wat mev. Desiree Ntolo, oorspronklik van die Kameroen, gedoen het – tot die ergernis van haar bure en die stadsraad van Dagenham, ’n nywerheidsbuurt oos van Londen, wat haar nou aangesê het om die bousel binne sewe dae af te breek. Mev. Ntolo het daardie modderhut eiehandig gebou.
(Hóé? wou ek weet. Hoe bou ’n mens ’n modderhut?)
Sy het met ’n pik en graaf grond, klippe en gruis in haar tuin uitgegrawe, water op die grond gegooi en daarna stroke modder met haar voete uitgetrap. Sy gaan gewis nie die hut in die agterplaas van haar meenthuis afbreek nie, sê sy. “Die modderhuis is in niemand se pad nie. Hulle moet my regte ook in ag neem. As ek nie kan teruggaan Kameroen toe nie, wil ek ten minste iets hê wat my daaraan herinner.”
(Kan jy raai wie se kant kies ék?)
Liefde
M.