Читать книгу Die dinge van ’n kind - Marita van der Vyver - Страница 12
ОглавлениеLonden
30 September 1992
Liewe kind
Imagine, sing John Lennon oor die radio, hier in my skraal Londense huis met ’n voordeur wat op ’n sypaadjie oopmaak en ’n agtertuin kleiner as ’n Britse pondnoot. Verbeel jou daar’s nie ’n hemel nie.
Ek hoor die musiek van die sewentigerjare word weer gewild. En die modes steek oral op straat kop uit. Is niks dan meer bestand teen die irrasionele mag van nostalgie nie?
In Angola word daar vandag ’n verkiesing gehou wat alles kan verander. Dalk sal daar eindelik ’n einde kom aan die oorlog wat die land al dekades lank verskeur. Aan die ander kant, dalk sal niks verander nie. Dalk sal dinge selfs erger word. Hoe ondenkbaar dit ook al klink.
Dis maklik as jy probeer, sing John Lennon. Ek het my seun vandag aan hom voorgestel. Waarom weet ek nie, maar dit was die een beeld in Madame Tussaud se beroemde waspaleis wat sy amper-driejarige verbeelding aangegryp het. Miskien het hy sy ma se nostalgie aangevoel (hier’s ons al weer by die vervloekte nostalgie) toe sy daar voor die vier jong mans staan, met hulle donker dweilkoppe en dun dassies en enerse baadjies so netjies toegeknoop. Of ’n nostalgie wat diep uit die kollektiewe onderbewussyn van ’n hele geslag kom?
“And here we have John Lennon,” het ek gesê, en nooit by die ander drie Beatles uitgekom nie, want my seun het sy hande uitgesteek om John Lennon om die bene te gryp. “But you’re not allowed to touch him.”
Hy wóú aan hom vat. Ek het hom probeer wegtrek, maar hy het begin skreeu. Ek het om my rondgekyk, nêrens ’n veiligheidswag gesien nie, en hom toe toegelaat om een keer vinnig, met ’n vuil hand, aan John Lennon se been te vat.
Dit was nie goed genoeg nie. Hy’t so geskreeu dat ek ons uitstappie net daar moes kortknip, nog voordat ons behoorlik na Madonna of Michael Jackson kon kyk. Wat tog ook gepas was, het ek myself in die moltrein op pad huis toe getroos. My smaak vir popmusiek het nooit juis verder as Desember I980 ontwikkel nie. Daardie dag toe John Lennon deur een van sy berserkte bewonderaars doodgeskiet is, het ek gewéét die sewentigerjare is werklik verby. The day the music died.
Die grootste gevaar in Angola, lees ek in die koerant, is dat Unita of die MPLA sal weier om die uitslag van die verkiesing te aanvaar. Dan sal die burgeroorlog en die bloedvergieting voortgaan. Totdat daar nie meer burgers oor is om te baklei nie? Totdat daar nie meer bloed oor is om te vloei nie? The most likely candidate for such a tactic is Unita, which kept guerrilla operations going year after year with massive logistical and military support from Pretoria.
Pierre was toe reg. Hy het die irriterende gewoonte gehad om gewoonlik reg te wees. Nou wonder ek net of hy sou kon voorspel hoe lank Suid-Afrikaners nog vir ’n vrye verkiesing moet wag.
Verbeel jou, my liewe kind. Verbeel jou!
M.