Читать книгу Die dinge van ’n kind - Marita van der Vyver - Страница 5
Jy sal fun hê langs die pad
ОглавлениеToe ek opkyk, staan sy in die deur, met twee tasse soos doodkiste onder haar arms en ’n begrafniswolk op haar gesig.
“Hier’s ek weer, hier’s ek weer, voor die donnerse koshuisdeur,” sê sy in ’n seunstem en skop die een tas dat hy oor die kaal vloer skuif en onder die oorkantse bed tot stilstand stamp.
Ek is so verbouereerd dat ek skoon vergeet om die trane van my wange af te vee. Sy laat val die ander tas met ’n swaar slag op die vloer en sak op die bed neer, op die naat van haar rug, met skoene en al. Nie die voorgeskrewe veterskoene nie, maar die mooier, verbode soort met ’n bandjie oor die voet. Sy vou haar arms agter haar kop, sugtend, en staar na die plafon.
“My naam is Dalena,” sê sy sonder om na my te kyk. “Ek’s jou kamermaat en ek’s net so disgusted met hierdie hool soos jy, so huil maar lustig voort.”
“Ek’s Mart,” snuif ek en vee vinnig oor my oë. “Jammer, ek’s nie gewoond …” ’n Vae gebaar om alles – die kaal koshuiskamer, die tralies voor die venster, die onbekende bome buite in die tuin, die sweterige bedompigheid so vroeg in die oggend – in te sluit. “Ek’s nie gewoond hieraan nie.”
“Toe maar, ek ook nie.” Sy draai haar kop skuins en glimlag vir my oor haar elmboog, met die wydste mond wat ek nog gesien het. “En ek sit al drie jaar hier.”
’n Snaakse kleur oë. Grysgroen. Of groengrys? Atletiese bene, dun enkels en knieë, behoorlike kurwes om die kuite. Gespierde dye onder ’n skoolrok wat tot by haar broekrek opgeskuif het.
Sy dra ook nie die voorgeskrewe groot, grys skoolbroek nie.
“In die koshuis?”
“Jip. Maar ek het gescheme ek gaan dié jaar wegkom. Ek het my pa ’n gat in die kop gepraat om my by die LO-juffrou op die dorp te laat bly. Sy’s nice, sy sou my baie meer toegelaat het as dié plek. Ek het my pa oortuig dat ek van nou af my skoolwerk ‘ernstig wil opneem’. vir hom gesê ek wil mik vir ’n paar A’s in matriek, maar ek kry nie genoeg kans om te swot in die koshuis nie. En hy’t daarvoor geval. Maar toe’t die juffrou ongelukkig ’n dish van ’n broer … en toe vang my pa ons gister saam in die stort …”
“Jy en …” Ek kan my ore nie glo nie. “Jy en die dish?”
“Jip.”
“Kaal?”
Sy kyk na my asof ek verstandelik vertraag is.
“Hou jý jou klere aan as jy stort?”
Lank gelede, onthou ek, het Simon só ’n albaster gehad, so groen en so grys en so amper deurskynend helder soos haar oë. As die lig op ’n sekere manier daarop geval het, was daar geel vlekkies ook in die groen.
“En tóé?”
“Toe’s daar ’n moerse scene en ek word onterf – nie vir die eerste keer nie – en hier’s ek terug in die koshuis!”
En ek het gedog plattelandse kinders is onskuldig.
“Die ergste van alles is dat ek nie eens my ou kamer kan terugkry nie! Dis klaar aan iemand anders uitgedeel!”
Toe die ontbytklok onverwags skril begin lui, spring ek dadelik van die bed af op, maar sy bly net daar lê. Uitgestrek. “Nou moet ek saam met jou in hierdie simpel kamer slaap. Jy’t seker agtergekom dis die een reg onder die klok. Niemand anders wil dit hê nie, dis dié dat hulle dit vir die nuwe kinders gee.”
Sy swaai haar bene vloer toe en sit op die rand van die bed, arms wyd aan weerskante van haar lyf, palms ondertoe, soos tenttoue om haar regop te hou, terwyl sy my van kop tot tone bekyk. Ek voel of ek voor ’n skoolhoof staan. Maar dan glimlag sy, ’n glimlag wat soos ’n lang, lieflike brug oor haar gesig span, waarlik van oor tot oor.
“Aan wie se tafel sit jy?”
Ek verwonder my so aan die glimlag dat ek die matriekmeisie se naam vergeet.
“Sy’t … vreeslike groot tieties.”
“O, Laurika. Saam met daai spul koeke? Nee, jislaaik, dáár moet jy wegkom!” Wanneer sy ernstig na jou kyk, is haar gesig niks besonders nie. Behalwe miskien die kleur van haar oë. “Wil jy saam met mý sit. ”
Ek kan net my kop gretig knik.
“Stick with me, baby.” Sodra sy glimlag, soos nou, kry sy die soort gesig wat jy in ’n skare sal opmerk. “Ek kan nie belowe dat ek jou famous sal maak nie. Maar jy sal fun hê langs die pad.”
Dis hoe ek Dalena van Vuuren leer ken het. Daarna sou niks ooit weer dieselfde wees nie.
Van ek die vorige dag daar afgelaai is, het ek gevoel soos ’n wilde dier wat vir die eerste keer in ’n dieretuin toegesluit is. Later het ek besef dat ’n Afrikaanse skoolkoshuis op ’n konserwatiewe plattelandse dorp inderdaad as ’n soort dieretuin beskryf kan word. Daar was tralies voor die vensters, om inwoners binne te hou en buitestanders buite. Daar was voedingstye en besoektye en slaaptye. Daar was selfs hoktye wanneer inwoners hulle soos diere gedra het.
Afgryslik, het ek gedink toe ek die koshuiskamer die eerste keer sien.
Grys kombers op ’n grys ysterbed, vaalgrys linoleumvloer en witgrys klerekas. Leeg, met ’n muwwe reuk as jy die deur oopmaak. Die reuk van verlore drome, het ek met amper-sestienjarige digterlikheid gedink. Eintlik maar net die reuk van kos wat oud geword het, het ek later besef, van koek en beskuit en ander eetgoed wat agter klere weggesteek en in stilte verslind is.
Selfs die mure was vaal eerder as wit. En kaal, kaal, kaal. Nêrens ’n plakkaat of ’n portret of ’n poskaart nie, nie eens ’n gaatjie waar ’n spyker voorheen ingekap was of ’n kolletjie waar kleeflint die verf afgetrek het nie.
’n Goedkoop houttafel, grys van ouderdom, voor die venster. En sifdraad teen die muskiete. En tralies agter die sifdraad, al was die kamer op die tweede verdieping.
Ek het op die bed neergesak en na my knieë onder my nuwe grys skoolrok gestaar asof hulle aan iemand anders behoort. Goudbruin bene ná ’n vakansie by die see.
My ma het ’n sug onderdruk en op die ander bed in die kamer gaan sit. Ek wou nie na haar kyk nie, bang dat ek sou begin huil. Of erger, dat sý sou begin huil.
“Net drie dae,” het sy in ’n yl, onbekende stem gesê, “dan’s dit naweek.”
Ek het weggekyk, deur die sifdraad voor die venster, na die oranje vlamme wat buite in ’n boom brand. Ek het die boom nie geken nie. Waar ek vandaan kom, gedra bome hulle waardig, groen in die somer, strak in die winter. Eikebome, wilgerbome, vyebome. Nie uitspattig pienk en pers en oranje soos die frangipani en die jakaranda en die boom-met-die-vlamme in hierdie warm, koorsige wêreld nie.
Maar nou het ons in die Laeveld kom woon oor my pa ’n spul geld met een van sy schemes gemaak het en vir die eerste keer ’n klein plasie kon bekostig. Oor hy wil speel hy’s ’n boer, al is hy eintlik ’n prokureur. Omdat hy te veel cowboy-flieks gesien het, soos my ma gemompel het toe sy van dié plan hoor. Omdat hy hom verbeel hy’s ’n pionier in die Wilde Weste.
Die idee is dat my ma die piesangplasie sal behartig terwyl my pa saam met ’n paar vennote ’n soort gesondheidsplaas in die omgewing ontwikkel. ’n Plek waar ryk mense kan kom kuier as hulle wil ophou rook of drink, of gewig wil verloor, of sommer net van skete en kwale ontslae wil raak. Belaglik, as jy my vra, soos al my pa se schemes. Om van grootmense te verwag om ’n klomp geld te betaal om in ’n glamorous konsentrasiekamp te bly! Om ’n bak blare vir middagete te kry en drie keer ’n dag liggaamsoefeninge te doen!
En danksy dié fantastiese idee het ek nou, op die ouderdom van amper sestien, vir die eerste keer in my lewe in ’n koshuiskamer gesit. ’n Paar jaar vroeër, toe ek nog Maasdorp-boeke gelees het, sou ek nie omgegee het nie. Daar was ’n tyd, nie te lank gelede nie, toe skelm middernagfeeste en lawwe kussinggevegte vir my lekkerder as die wildste partytjie in die donkerste garage geklink het. Daar was ’n tyd toe ek blikke vol gekookte kondensmelk kon leeg lek sonder om ’n oomblik bekommerd te wees dat ek nie meer in my jeans sou pas nie.
Nou het ek te oud gevoel.
“Nou ja, ek moet seker gaan.” My ma se gesig was blink gesweet. Dit was ook háár eerste kennismaking met die grysheid van ’n koshuiskamer. Sy het na my gekyk asof sy my nooit weer sou sien nie. “Jou pa sit in die warm kar en wag.”
Hy wou mos hier kom woon, het ek gedink.
“Sal jy regkom met die uitpakkery?”
Sy het na die nuwe nylontas op die vloer gekyk. Grys – asof ons ’n voorgevoel gehad het toe ons dit die vorige week gekoop het – met die handvatsel en afwerking so uitspattig oranjerooi soos die blomme in die onbekende boom.
“Ja, natuurlik. Ma kan maar gaan.”
Sy het opgestaan en my vasgedruk, vlugtig, bang vir ’n uitbarsting van emosie. Sy het soos altyd geruik, na babapoeier en sigaretrook en die sieksoet haarsproei (For Firm Hold) wat haar hare aan ’n mens se vingers laat vassit, maar haar reuk het met die vreemde reuke van die kamer gemeng – muwwe kos, ontsmettingsmiddel, Peaceful Sleep teen die muskiete – en ek het my kop weggetrek omdat ek naar geword het. Sy het gedog dis omdat ek haar nie wou soen nie.
Eers toe sy uit die kamer is, het ek gehuil.
Jare later het sy my vertel dat sy ook gehuil het, heelpad huis toe. Terwyl my pa haar probeer oortuig dat ek spangees en gehoorsaamheid en goeie tafelmaniere in die koshuis sou aanleer – en al die ander ordentlike dinge waaraan sy vier kinders volgens hom ernstig te kort geskiet het.
“Dis wat gebeur as jy kinders op die moderne manier wil grootmaak,” het hy haar beskuldig, nie vir die eerste keer nie. “Uit dokter Stock se boeke!”
“Spock,” het Ma gesug.
“Jy weet goed wat ek bedoel. Ek het jou al baie gesê, Marlene, moenie by mý kom huil as hulle eendag drop-outs of dwelmslawe word nie.”
My vakansie langs die see het soos iets uit die verre verlede gevoel. Ek kon nie eens onthou watter kleur Niek se oë was nie.
Bruin, natuurlik, het ek in ’n vlaag van paniek gedink, maar hóé bruin? Bruin soos bitter sjokolade of bruin soos melkkoffie of bruin soos gemmerbrood of … Ek was honger, het ek besef, en gewonder of koshuiskos rêrig so sleg sou wees soos almal sê.
Die bed oorkant my was leeg, die lakens en kussingsloop vuilwit met die uitgewaste letters T.O.D.T.E.D.T.O.D.T.E.D.T.O.D … in ’n eindelose ry as enigste versiering. “Ons hou altyd een of twee beddens oop,” het die koshuismoeder verduidelik. “Daar is altyd nuwelinge wat ’n dag of twee laat kom.” Haar stem het soos ’n slaghuissaag deur murg en been gesny. Ek het gehoop die nuweling vir wie dié bed bestem was, sou op pad hierheen in ’n motorongeluk beland. Ek wou nie aan die slaap raak langs ’n kind wat ek van g’n kant af ken nie.
Die klok het so skril gelui dat ek verskrik na die kamerdeur toe gehardloop het. Buite in die gang, bokant die deur, het iets gehang wat soos ’n fietsklokkie vir ’n reus gelyk het – ’n opskepbak van vlekvrye staal wat ’n onbeskryflike geraas maak. Van al die kamers in die lang, lang gang het ek die een reg onder die klok gekry. Ek het die deur toegedruk en in trane uitgebars.
Dit was die aandeteklok, die eerste van baie klokke wat ek in my nuwe lewe as koshuiskind sou leer ken.
Die eetsaal was vir my selfs leliker as die slaapkamer. Om elke lang tafel het agt meisies op harde houtstoele met hoë rugleunings gesit. Terwyl die koshuismoeder bid, het party met oop oë na ’n bak bruinbrood in die middel van die tafel gestaar, gesigte gespanne soos atlete wat wag om weg te spring. Die oomblik toe die saagstem “Amen” sê, het almal gelyk na die bak gegryp.
Daar was twaalf snye brood in die bak, het ek later besef, wat beteken dat net die vier vinnigste eters ’n tweede sny kon kry.
Dis selfs erger as wat ek verwag het, het ek gedink, terwyl die meisie langs my ’n stuk brood in groot, gulsige happe afsluk en haar hand uitskiet vir ’n volgende sny. Dis soos iets wat Charles Dickens geskryf het!
Aan die bopunt van elke tafel het ’n matriekmeisie gesit wat eerste kans kry om kos te skep. Daarna word die staalskottels heen en weer oor die tafel aangegee, totdat dit oplaas aan die onderpunt uitkom, waar die verloorders sit. Die ongewildes, die lelikes, die dommes, die nuwes, soos ek. Teen die tyd dat ek die oorskiet uitgeskep het, was die matriekmeisie se bord al amper leeg geëet.
Aandete was pap en wors en ’n sous van gebakte tamaties. Waar ek vandaan kom, eet jy soggens pap, met melk en suiker en ’n klont botter. En selfs soggens is ek nie mal oor pap nie.
Die matriekmeisie aan die bopunt van die tafel het soos ’n klein dogtertjie gelyk, met ’n knopneusie en hare wat in boksterte hoog bo haar ore vasgemaak is. Totdat jy haar borste opmerk – twee majestueuse bergpieke wat alles in die omgewing oorskadu. Ek het onbeskaamd daarna gestaar.
Dalk is hierdie omgewing so vrugbaar dat nie net die plante vinniger as op ander plekke groei nie. Dalk is die mense ook almal beter bedeel? Ek het my sewe tafelmaats bekyk. Hulle het natuurlik nie almal groot borste gehad nie, maar die een langs my se grypende hande was amper so groot soos my pa s’n. En die een oorkant haar se vlegsel was so lank en so dik soos ’n laerskoolkind se arm.
“Wat het jy gesê is jou naam?” vra die een met die ongelooflike vlegsel toe sy agterkom ek kyk na haar.
“Mart.” Die pap het soos wondergom aan my tande vasgesit. “Mart Vermaak.”
Nou kyk al sewe na my. Waar kom jy vandaan? In watter skool was jy? Ken jy vir … Maar so skielik soos die sarsie vrae begin het, vergeet hulle weer van my. Sewe koppe draai weg van my af. Sewe stemme gesels geesdriftig oor die afgelope vakansie.
Ek het na die gebakte tamatieskille in my bord gestaar – so grillerig soos melkskilfers in ’n koppie koflie – en probeer onthou presies hoe dit klink as ’n brander oor ’n rots breek.
Nog ’n vaal teëlvloer in die badkamer, twee rye vuilwit wasbakke oorkant mekaar, twee rye toilette en baddens agter toe deure, en ’n paar oop storte aan die verste muur. Wat het van al die kleure in die wêreld geword? Selfs die meisies om my het kleurloos gelyk, vuilwit in hulle somernagrokke, asof ek na ’n oorbeligte foto kyk.
Ek het my tande geborsel en aan my vakansie gedink. Die reuk van sonbrandolie probeer oproep, die gekerm van meeue wat deur die wind weggewaai word, die taai gevoel van sand teen ’n nat lyf. Enigiets om van hierdie onwerklike werklikheid weg te kom.
Maar al wat ek kon ruik, was die Clearasil wat die meisie langs my aan haar puisies smeer. Terwyl sy met oopmond-konsentrasie na haarself in die spieël staar, heeltemal onbewus daarvan dat ek haar dophou. Al wat ek kon hoor, was water wat uit wasbakkrane en stortkrane stroom. As ek my oë toemaak, kon ek my dalk verbeel dis branders.
Toe ek my oë toemaak, het ek die skerp skuimsmaak van tandepasta op my tong geproe, en skielik onthou dat Niek se mond na pepermente en tabak gesmaak het, met so ’n effense souterigheid agterna.
’n Klok het gelui – nóg een – en almal het uit die badkamer geskarrel soos kokkerotte wanneer ’n lig in ’n donker vertrek aangeskakel word. Ek het ook in ’n kokkerot verander.
In my nuwe slaapkamer het my uitgepakte kleretas en my leë skoolrugsak op die bed gelê. Bo-op die tas was ’n paar stukke gekreukelde koerantpapier waarin ek ’n koffiebeker en ’n porseleinpoppie en ’n paar ander patetiese ornamente toegedraai het om my aan die huis te herinner. Ek het op die bed gaan sit en een van die koerantberigte begin lees omdat ek nie geweet het wat anders om te doen tot die volgende klok lui nie.
Ons vyande moet weet dat elkeen wat ons aan die grens afgee, ons hegter bind aan ons land, Suid-Afrika. Die Minister van Polisie, mnr. Jimmy Kruger, op die begrafnis van ’n jong konstabel wat in Rhodesië doodgeskiet is.
Ek het die koerantpapier opgefrommel en ’n snippermandjie gesoek. Onder die tafel het ’n draadmandjie gestaan. Grys, natuurlik.
Toe ek buitentoe kyk, deur die sifdraad en die tralies, het die onbekende boom steeds in oranje vlamme gestaan. Honderde tongetjies vuur het helder aan die skemer gelek. Verder agtertoe het ’n oranje bougainvillea oor die draadheining rondom die koshuistuin gestort. En vlak voor die venster het ’n groen struik so hoog soos ’n boom gegroei, met groot wit blomme wat soos omgekeerde kreukelpapierkelke aan die takke hang. Ek het gewonder of dit die kelke was wat so hartseer ruik.
Ek moes wegdraai van die venster omdat my oë wéér begin brand het van die trane.
Toe sit en staar ek maar na die kaal muur voor my en vryf ingedagte oor die growwe seilmateriaal van my rugsak. ’n Vuilerige kakiekleurige rugsak waarop vriende se name en verspotte boodskappe met verskillende kleure viltpenne geskryf is. Ek het afgekyk en my asem skerp ingetrek. Langs my op die bed het iets gelê wat soos ’n hopie gemorste sout lyk. Versigtig, omdat dit veel, veel kosbaarder as sout was, het ek dit in my palm probeer bymekaarskraap.
Ek het die seesand heen en weer uit een hand in die ander gestrooi terwyl my vakansie soos ’n fliek in my kop draai. Eintlik baie beter as ’n fliek, want ek kon selfs die sonbrandolie ruik.
Ek het die rugsak as strandsak gebruik, elke oggend my handdoek en boek en donkerbril en beursie daarin gepak voordat ek vir Niek gaan soek het. Moenie agter hom aanloop nie, het my ma aanmekaar gewaarsku, soos ma’s mos maar altyd waarsku. Maar ek het nie agter hom aangeloop nie. Ek het gesorg dat ek op die regte tyd op die regte plek was. Daar’s ’n verskil.
Ek het die weer en die branders leer lees. Dis wat jy doen as jy simpel genoeg is om op ’n branderplankryer verlief te raak. Ek het geweet wanneer ek hom wáár kon kry.
Hy het meer in die branders as in mý belang gestel, moes ek op die ou end erken. Maar hy het darem meer in mý as in enige ander meisie belang gestel.
Toe die ligte-uit-klok lui, het ek eindelik die kleur van sy oë onthou. Soos daardie klam blasies aan seebamboesslange, daardie blasies wat so ’n sagte plofgeluid maak wanneer hulle stukkend gedruk word.