Читать книгу Die dinge van ’n kind - Marita van der Vyver - Страница 6

Оглавление

Londen

16 Junie 1992

Liewe kind

Jy het pas sestien geword, het ek vandag besef. So oud soos ek was, daardie dag toe die foto in die Pretoriase dieretuin geneem is.

Ek het dit gaan uitgrawe – die enigste foto wat ek van ons al vier het – nadat ek my seun met Roald Dahl se grillerigste gediggies aan die slaap gelees het. Nee, dit maak hom blykbaar nie bang nie. Hoe wreder, hoe wyer glimlag hy. My onskuldige, bloeddorstige seuntjie.

Hy weet nie wat die datum is, of wat dit beteken nie. In die koel groen land waar sy pa se voorvaders honger gely het, word dit Bloomsday genoem, deur lesers wat weet wie Leopold Bloom was. In die bloedige warm land waar sy ma se voorvaders gejag en geplunder het – waar politiek nog altyd belangriker geag is as boeke – word dit om ander redes onthou. Hy weet nie van die kinders wat dood is, of van die kind wat kort voor daardie dag gebore is nie.

En nou sit ek hier en staar na ’n foto van vier vreeslike wit tieners op ’n geel grasperk, ’n hok met ape op die agtergrond. Die seuns se hare is stomp gesny, hulle lywe lomp in army-uniforms. Die meisies is uitgedos volgens die modebladsye van die Afrikaanse Sarie en die Amerikaanse Seventeen. Een dra ’n halterneksmok van denimmateriaal wat wyd om haar heupe uitklok bo-oor jeans wat selfs wyer om haar hoë kurksole hang, soos ’n outydse laag-op-laag-troukoek wat in denim toegedraai is. Die ander een se hare is onder ’n kopdoek weggesteek, haar lyf onder ’n voorskootrok van laslap-materiaal, asof sy ’n huishulp se uitrusting vir die geleentheid geleen het. ’n Rykmanskind in armmansklere.

Ek wens ek het my tienerjare in ’n eleganter tydperk deurgebring!

Ek het my voorgeneem dat ek nooit oor my jeugjare gaan skryf nie. Wat kan jy sê oor die jare sewentig – behalwe dat jy wens jy was nie daar nie? Die jare sestig het hippies en seks voortgebring, die jare tagtig yuppies en geld, maar die jare sewentig? Wat kan jy sê oor platformskoene en langbroeke met belaglike wye pype, David Bowie se versnipperde haarstyl, John Travolta se diskodanse en Abba se musiek?

Dit was waarskynlik die verganklikste dekade in die geskiedenis van die wêreld. Weggooimodes, weggooidanse, weggooimusiek. En weggooilewens, in die warm land waar ek grootgeword het. Wit seuns wat op die grens geskiet is, vir volk en vaderland. Swart skoolkinders wat in townships geskiet is, vir ’n ander volk en dieselfde vaderland.

Maar ek het toe tog daaroor begin skryf, teen my eie beterwete. Dis nie wat ek wil vertel nie, dis wat ek móét vertel.

Ek sou die storie graag aan jou wou opdra, as ek dit ooit eendag klaarkry. Maar ek weet nie eens wat jou naam is nie.

Geluk met jou verjaardag, my naamlose kind. Ek hoop jou sewentiende lewensjaar is mooier as wat myne was.

M.

Die dinge van ’n kind

Подняться наверх