Читать книгу Die dinge van ’n kind - Marita van der Vyver - Страница 11

Hoe sal ons weet wie se kant om te kies?

Оглавление

“En nou gaan Suid-Afrika ook uiteindelik TV kry,” grinnik Simon agter die stuurwiel van Pa se nuwe Kombi. “Ons sal ons begin verbeel ons lewe in ’n beskaafde land!”

“Ja, ek hoor hulle begin volgende maand met toetsuitsendings in Johannesburg.” Ek staar deur die ruit. Ek is moeg daarvan om heeldag net groen te sien. Dis veronderstel om herfs te wees, maar in hierdie streek steur die plante hulle skynbaar nie aan seisoene nie. “Hier in die grammadoelas sal ons dit natuurlik nog nie kan opvang nie.”

In die Kaap sal die bome nou hulle blare begin verloor, die wingerde oranje word, die weer elke dag ’n bietjie koeler. Hier is dit altyd warm, warm en groen. So warm en so groen dat jy daarvan kan kots. Ons ry verby ’n klomp van die brandende bome wat ook in die koshuistuin groei. Aan die takke hang lang bruin saadpeule soos Kersversierings in die verkeerde seisoen. Flambojant, het Pa gesê toe ek hom vra wat die boom genoem word. Nee, ek bedoel nie hoe lýk die boom nie, het ek gesê, ek wil weet wat sy naam is. Flambojant, het Pa weer gesê, ’n flambojante flambojant – soos ’n koue koue of ’n seer seer.

“Wat dink jy van die Kombi?” vra ek.

My broer se boarm bult elke keer as hy van rat verander. Die spiere op sy arms is vir my so nuut soos die motor. Dis hoekom diensplig ’n goeie ding is, sê Ma. Dit verander seuns in mans. Dit verander hulle ook op ander maniere, het ek die afgelope naweek besluit.

“Wat’s die idee?” Simon skakel die motorradio aan, trek sy gesig toe hy Boeremusiek hoor en skakel dit dadelik weer af. “’n Kombi is ’n great kar vir ’n surfer. Maar as Pa ’n boer wil wees, hoekom koop hy nie ’n bakkie of ’n four wheel drive nie?”

“Jy weet tog Pa wil nie rêig ’n boer wees nie, Simon! Hy hou daarvan om op ’n plaas te woon, maar jy verwag tog nie dat hy ’n boer se werk moet doen nie?”

“Nou maar wie moet dit dan doen?”

“Wie dink jy?”

“Ma?” Simon skud sy kop. “Eendag gaan sy hom nog los.”

Ek skud ook my kop. “Ek dink nie so nie.”

My pa het die kar kamtig vir my ma gekoop – die bossie sleutels soos ’n verloofring aan haar oorhandig, stralend oor sy eie vrygewigheid – sodat sy piesangs na die plaasstalletjies in die omgewing kan karwei. En dan kan hy dit soms oor ’n naweek by haar “leen”, het hy voorgestel, om ’n paar vriende na ’n rugbywedstryd in die stad te vervoer. Meer prakties as ’n bakkie, nie waar nie?

My ma het gesê as hy prakties wou wees, kon hy eerder vir haar ’n nuwe wasmasjien gekoop het. Maar my ma se geliefde liedjie is daardie een wat Shirley Bassey altyd so hartstogtelik sing: I love you, hate you, love you, hate you … Elke keer as Ma dit oor die radio hoor, sing sy net so hartstogtelik saam, al sukkel sy gewoonlik om die wysie te hou.

“En nou vir iets heeltemal anders.” Simon haal ’n kasset uit sy jeans se sak, glimlag asof hy ’n haas uit ’n hoed getoor het, en druk dit in die kassetspeler. “Jesus Christ Superstar!”

“Maar dis mos …” Ek sluk om die skok uit my stem te hou, probeer so wêreldwys soos my kamermaat klink. “Is dit dan nie verbied nie?”

“Alles wat lekker is in die land, is óf verbied óf sonde.” Hy klink beslis anders as voorheen, besluit ek. “Een van Pierre se pêlle het dit uit LM ingesmokkel.”

Ek luister in stilte na die onbekende musiek en wonder of dié Pierre, wat ek binnekort gaan ontmoet, nie besig is om my broer te veel te beïnvloed nie. Maar ek sal dit nie sê nie. Ek wil nie soos my ma klink nie.

“Nogal nie sleg nie,” mompel ek toe ek sien Simon kyk so skuins na my.

Ek is nie juis gretig om my broer se nuwe vriend te ontmoet nie. Hy klink vir my soos die soort ou wat te oud vir sy ouderdom is, en sulke ouens laat my altyd stotter en stamel en soos ’n idioot in standerd drie optree. Maar hulle het albei vir ’n paar dae huis toe gekom, vir die eerste keer in drie maande, en Simon wou vanmiddag by Pierre gaan kuier. En ek moet erken ek was gevlei toe hy my vra om saam met hom Swartstroom toe te ry.

“Pierre het ook al ’n hele paar flieks gesien wat hier verbied is,” sê Simon terwyl hy sy vingers op maat van die musiek op die stuurwiel tik.

“Vuil flieks?”

“Nee, man, goed soos Hair … Clockwork Orange … Last Tango in Paris …”

“Ek hoor dis vieslik,” sê ek voordat ek myself kan keer.

“Wat?”

“Daai Tango-een,” sê ek. “Een van die ouens in my klas het dit in LM gesien. Hy sê hy het hom amper dood gegril. Daar’s so ’n toneel waar die man botter aan die vrou se stert smeer …”

Simon bars uit van die lag.

“Wat?” Ek kyk deur die ruit aan my linkerkant sodat hy nie kan sien hoe bloos ek nie.

“Weet jy dat Pa jare gelede Lady Chatterley’s Lover gelees het?” Simon skud sy kop, sy vingers nou stil op die stuurwiel. “En al wat hy onthou, is ’n toneel waar die lovers blykbaar daisies in mekaar se poepolle steek.”

“Wat probeer jy sê?”

Simon wag tot die einde van die snit voordat hy antwoord: “Pierre sê Last Tango in Paris is ’n briljante fliek.”

Pierre is beslis ’n pervert, besluit ek. Terwyl ek al hoe ongemakliker voel oor die ontmoeting wat voorlê. Die teerpad gooi wye draaie verby ’n uitgestrekte blou meer en digte denneboomplantasies Waar sonstrale lang ligstrepe deur die skaduwees trek. Ek kan my maklik verbeel ons ry deur Kanada, of iewers in ’n ander land, iewers waar ’n mens in ’n motor na Jesus Christ Superstar mag luister.

Hy’s tall and dark, maar nou nie wat ek handsome sal noem nie. Te maer, dink ek, te ernstig, met hol wange en swart oë wat te diep in hulle kasse wegkruip. Dis my eerste indruk.

Sy kamer is buite in die tuin, waar hy sy musiek hard kan speel sonder om sy ma te irriteer, sê hy. Die mure is donkerblou geverf, amper swartblou, en die gordyne is toegetrek. Jy sou nooit vermoed dat die son buite skyn nie. Ek sit verveeld op sy bed en staar na die blou gloeilamp wat bo ’n boekrak hang. As ’n mens so ’n kontrepsie ’n boekrak kan noem.

Die oorvol rakke lyk asof hulle aanmekaar getimmer is deur iemand wat meer van letterkunde as van houtwerk weet. Ek probeer die titels van ’n ry gehawende slapbandboeke in die swak lig lees. Herken sommige van die skrywers se name, al het ek nog nie hulle boeke gelees nie: Tolstoi en Flaubert, Ernest Hemingway en James Joyce en Scott Fitzgerald … maar daar is baie van wie ek nog nooit gehoor het nie: Durrell en Fowles en Updike … Dis onmoontlik dat iemand van Pierre se ouderdom al soveel boeke gelees het. Dis sommer net ’n gesnoef, soos my ouma Plaasdam sou sê.

Simon en Pierre sit op die vloer langs die hoëtroustel, elkeen met ’n bier in die hand, en gesels oor die army. Hulle het heeltemal van my vergeet. En hoe langer ek na hulle simpel army-stories luister, hoe vieser word ek. Nie vir hulle nie, maar vir myself. Vir wat staan ek nie op en gaan stap in die tuin nie?

My ma sê jy moet nooit vir ’n man wys dat hy jou verveel nie. Hy sal jou nooit vergewe nie. Maar wat sou Simon en Pierre doen as hulle ’n uur lank moes luister hoe ek en Dalena oor lipstiffie of naelpolitoer gesels?

Ek draai my kop om na die plakkate teen die mure te kyk. Nie die gewones wat jy in ’n seunskind se kamer verwag, van popsterre of prikkelpoppe met sterre op hulle kaal tieties uit tydskrifte soos Scope nie. Bokant die bed is ’n prent van Beethoven, langsaan ’n onbekende swart man met ’n gebalde vuis, langsaan ’n soldaat wat agteroor val, asof hy geskiet word, bo-oor die woord Why? in groot, swart letters.

The Dark Side of the Moon speel oor die luidsprekers, maar hulle hoor dit skaars. PT instructors … korporaal … basic training …Awol … grens toe … Swapo …Ek vang hier en daar ’n woord, maar ek verkies om na Pink Floyd te luister. Wat my die meeste irriteer, is dat hulle sê hulle háát die army. Hoe de hel kan jy so lank gesels oor iets wat jy háát?

“… tussen die MPLA en die FNLA,” sê Pierre. “En natuurlik Jonas Savimbi se Unita.”

Nou luister ek, want ek het onlangs ’n artikel oor Angola in Huisgenoot gelees. Die swart mense baklei en die wit mense vlug. Dit maak my bang.

“Dit klink of dit maar beroerd gaan,” sê Simon en vat ’n sluk bier. “Die Portugese kan nie vinnig genoeg padgee nie. Dieselfde storie as laas jaar in Mosambiek.”

Dit klink of hy dieselfde artikel as ek gelees het.

“Maar ek verstaan dit nie.” Simon staar na die bierbottel in sy hand. “Ek dog die swartes sou ’n moerse paartie hou oor die wit base uiteindelik weg is. Is dit dan nie wat hulle wou hê nie? Nou lyk dit of hulle mekaar wil uitmoor.”

“Dis politiek, ou pêl,” sê Pierre. “Jy kan tog nie verwag hulle moet almal eners dink net oor hulle swart is nie?”

“Nee, natuurlik nie, maar … is hulle dan nie moeg van baklei nie? Dis soos ’n klomp kinders wat ’n koek present kry. Plaas dat hulle dit mooi gelykop verdeel, baklei hulle tot daar niks van die koek oorbly nie.”

“Ek dink nie jy kan onafhanklikheid as ’n present sien nie.” Pierre glimlag, maar net sy een mondhoek beweeg boontoe. “Of swart mense as ’n klomp kinders nie.”

“Aag, okay, ou liberal!” lag my broer. “Jy weet wat ek bedoel.”

“Jy moet onthou die wit mense in Afrika het nog altyd ’n beleid van divide and rule gevolg. Kenyatta van Kenia sê die wittes bid eintlik dat die swartes moet aanhou baklei, sodat die wittes kan aanhou om baas te speel.”

“Jy bedoel …” Simon sluk ingedagte aan sy bier. “Die wit mense gee pad, maar die divide and rule gaan aan?”

“So iets. Maar ek dink ons eie regering gaan meer doen as om net te bid.” Pierre se heserige stem het ’n onheilspellende klank bygekry. “Ons ouens was nog altyd beter met baklei as met bid.”

Simon kyk hom fronsend aan, sy mond oop asof hy iets wil vra, maar nie die moed het om dit te doen nie.

“Ek dink hulle gaan die army instuur,” sê Pierre sonder om na Simon te kyk, sy swart oë op sy bierbottel.

“In Angola in?” Simon se gesig is die ene ongeloof, sy stem hoog van verbasing. “Nooit!”

“Hoekom nie? Die army is klaar op die grens. Hulle moet dit net oorsteek. Die soldate, die wapens, alles is daar. Dink jy hulle sal die versoeking kan weerstaan?”

“Maar …” Simon lag senuweeagtig. “Hoe sal ons weet wie se kant om te kies?”

“Maak dit saak?” Pierre haal sy skouers op en lag saam met my broer. “Divide and rule?”

Simon fluit sag deur sy tande. Hy lyk nie meer so ongelowig nie. Ek voel skielik grensloos geïrriteerd. Toe ek sug – heelwat harder as wat ek bedoel het – kyk Pierre verbaas op, asof hy nou eers onthou dat daar nog iemand saam met hulle in die kamer is.

“Jy’s verveeld met ons army-stories.” Dis ’n stelling, nie ’n vraag nie.

“Wel …” Ek is meteens dankbaar dat die kamer so donker is, want ek kan voel ek is al weer aan die bloos. “Ek’s bly ek hoef nie army toe te gaan nie …”

“Waaroor wil jy gesels?”

Spot hy met my?

“Met háár kan jy oor boeke gesels,” sê my broer. “Sy lees baie meer as ek.”

“Maar nie naastenby so baie soos jy nie,” skerm ek haastig en beduie met my hand na die oorvol boekrak.

“Baie van daai boeke behoort aan my ma en pa.” Hy sluk die laaste bietjie bier uit die bottel. “Al daai outydse ouens. Ek hou meer van moderne skrywers. En jy?”

“Nee … ek weet nie … solank die boek lekker lees …”

Nou klink ek presies soos ek gevrees het. Soos ’n idioot in standerd drie. My verstand verander in ’n kar met ’n pap battery. Ek pomp die petrolpedaal so al wat ek kan, soos ek al vir Ma sien maak het, wanhopig om ’n geluid voort te bring. Maar daar is niks behalwe ’n doodse stilte tussen my ore nie. Pierre glimlag, dié keer met albei mondhoeke, maar die een is steeds hoër as die ander.

“Is jy lus vir fliek vanaand?” vra my broer en red my van verdere vernedering. “Pierre ken die Portugees van die kafee langs die Plaza. Hy kan vir ons ’n spesiale home movie laat kry.”

“Spesiale?” vra ek versigtig.

“Ongesensor,” sê Pierre.

“Ek weet nie …” Hy bedoel tog seker nie een van die vuil flieks waaroor ons vroeër vanmiddag in die kar gesels het nie? “Watse fliek?”

“Moenie worry nie,” sê Pierre. “Ons sal niks kry wat ’n skoolmeisie laat bloos nie.”

En ek bloos wéér.

“Kan ek vir Dalena nooi?” vra ek op die ingewing van die oomblik.

“Hoe gaan sy hier kom?” vra my broer.

“Sy sal ’n plan maak.” Al moet sy haar pa se kar steel en self hierheen ry. Dalena sal nie so ’n kans deur haar vingers laat glip nie. Sy’s nie so lafhartig soos ek nie. “Sy kan mos maar vannag by ons op die plaas oorbly? Dan kan ons haar more terugneem?”

“Wie’s Dalena?” wil Pierre weet.

“Mart se kamermaat,” sê Simon. “Sy’s glo ’n seksbom.”

“Ek het nooit só gesê nie!”

“Wel, jy’t gesê sy’s sexy.”

“Sê vir haar sy’s welkom.” Die keer glimlag Pierre so skeef soos my oupa Visdam nadat hy sy eerste beroerte-aanval oorleef het. “Sê vir haar sy’s baie welkom.”

“Hoekom het jy nie vir my gesê jou broer is so ’n dish nie?” wil Dalena weet die oomblik toe ek my oë oopmaak.

Sy lê op haar maag in die ander bed in my kamer, ken in die hand, asof sy al ure wag dat ek wakker word.

Ek maak my oë dadelik weer toe. Die lig is te skerp en haar stem te diep. Gewoonlik hou ek van Dalena se seunstem, maar vanoggend wens ek sy was ’n hoëtroustel sodat ek die basklank kon uitdoof. Ek het te laat in die bed gekom, ná ek te veel bier gedrink het om vir Simon en Pierre te probeer imponeer. Iets klop in my kop, aanhoudend, en my hare ruik die ene rook.

“Hei, jy kan nie nou verder slaap nie,” fluister sy dringend.

“Hoekom nie?” fluister ek met toe oë.

“Ek het ’n belangrike saak om met jou te bespreek.”

Ek voel hoe ’n kussing my teen die kop tref. Spelerig, maar hard genoeg dat ek my oë oopmaak. Ek weet wanneer ek verloor het.

“Wat’s dit, Dalena?”

“Vertel my meer oor jou broer.”

Ek gooi die kussing terug na haar kop toe.

“Hy’s gevaarlik. Hy rook en hy drink en hy breek meisies se harte by die dosyne. Wat wil jy nóg weet?”

“Klink onweerstaanbaar.” Dalena glimlag haar skaamtelose breë glimlag.

“Hoe’t jy van die fliek gehou?”

“Ek kan niks daarvan onthou nie,” sê sy. “Dit was onmoontlik om te konsentreer met jou broer wat so naby my sit.”

“Môre, môre.” My ma steek haar kop by die kamerdeur in. “Ek het vir julle koffie en beskuit gebring.”

Ma het haar Japannese kamerjas aan, die een wat sy ’n kimono noem. Eendag wil sy nog die Ooste sien, sê sy altyd. (En Rusland en Egipte.) Sy bring nie gewoonlik vir my koffie in die bed nie, maar sy hou daarvan om my maats te beïndruk. Sy dra ook nie elke dag die kimono nie.

“Dankie, tannie, dit gaan heerlik smaak!” sê Dalena in haar soetste stem en spring op om die skinkbord, met ’n gehekelde lappie so styf soos karton gestysel, by Ma oor te neem.

Ma glimlag dankbaar. “Het julle ’n lekker aand gehad?”

“Ons het ’n goeie fliek gesien. The Graduate. Het Ma al daarvan gehoor?”

“Met Dustin Hoffman?” Ma gaan fliek maar min deesdae, maar sy hap nogtans gulsig aan elke brokkie skindernuus oor die sterre van Hollywood in haar geliefde tydskrifte. “Hy’s darem so kort en vaal! Ek weet ek’s outyds, maar ek hou nog daarvan dat ’n leading man moet lyk soos ’n leading man!”

“Soos Clark Gable of Rock Hudson,” mompel ek met my mond vol beskuit.

“Soos Clark Gable of Rock Hudson,” stem Ma ernstig saam.

Die oomblik toe Ma se blinkblou kimono om die kamerdeur verdwyn, spring Dalena weer op en kom sit kruisbeen op my bed, amper bo-op my.

“Sê my nou reguit, Mart,” sê sy dringend. “Sê my of jy dink ek het ’n kans.”

“Vir wat?”

Ek suig die kofiie uit ’n deurweekte stuk beskuit en steek my hand uit om die radio op die bedkassie aan te skakel. Dis die eerste keer dat ek my kamermaat kan terg, en ek moet erken dis ’n aangename gevoel.

“Dink jy daar’s ’n kans, al is dit hoe klein …”

Sy vorder nie verder nie, want Niel en Liefie storm gillend by die kamer in. Niel hou sy arms beskermend oor sy kop gevou terwyl Liefie gefrustreerd na sy hare gryp. Eers toe Liefie hom onder die arms kielie en hy sy hande laggend laat sak, sien ek dat hy een van daardie lang, outydse sanitêre doeke op sy kop vasgemaak het, die lusse aan weerskante om sy ore gehaak. Ek vang Dalena se oog en ons stem woordeloos saam dat ons nie vir so ’n kinderagtige grappie gaan lag nie.

Maar ek sukkel om my gesig ernstig te hou. Waar het hy die ding in die hande gekry? Ma het tog lankal daardie operasie gehad en Liefie …

“Mart, sê vir Niel hy moet grootword!” skreeu Liefie toe Niel haar hande vasgryp.

“Niel, Liefie sê jy moet grootword!”

Dalena gee die stryd gewonne en begin lag langs my. Niel draai sy kop selfvoldaan na ons toe, sy aandag ’n oomblik afgelei, en Liefie ruk die sanitêre doek so hardhandig van sy hare af dat dit lyk asof sy ore ook in die slag gaan bly. Hy gil soos ’n moordslagoffer in ’n swak rolprent en vlug laggend by die kamer uit.

“Mansmense!” Liefie sak uitasem op die bed oorkant my en Dalena neer. Sy hou die doek soos ’n trofee vas. Ek kan steeds nie glo dat my klein sussie die eienaar van hierdie vreemde voorwerp kan wees nie. “As hulle maar weet wat dit is om ’n vrou te wees …”

Ek begin ook hulpeloos lag.

“Maar Liefie, daai ding is mos myle te groot vir jou.

“Ek weet,” sê sy afgehaal. “Maar Ma sê ek is te klein vir daai goed wat jy indruk …”

“Maar weet Ma dan nie van die nuwe soort wat jy vasplak nie?”

“Liefie!” roep Simon iewers in die huis. Liefie en Dalena ruk albei regop.

“Hy’t gesê ek kan saamry as hy die Sondagkoerante gaan koop,” sê Liefie voordat sy verdwyn. “Ciao!”

Die sanitêre doek bly soos ’n lelike, gestrande skip op die bed lê.

“Sy dink vanoggend weer sy speel in ’n Italiaanse fliek,” sê ek vir Dalena.

“Hoekom het hy nie vir mý gevra om saam te ry nie?” wil Dalena weet.

Ek draai die radio harder en neurie Sorrow saam met David Bowie. Sy seun se naam is Zowie, sê Simon, Zowie Bowie. Dit sou nogal sports wees om so ’n naam te hê, meen Simon, veral in die army. Sappeur Zowie Bowie.

“Hy’t my seker nie eens raakgesien nie!”

“Dis nogal moeilik om jou mis te kyk, Dalena,” troos ek. “Jy’s nie juis ’n skaam viooltjie nie.”

“Miskien hou hy van skaam viooltjies!”

“As jy my vra, hou hy van enigiets wat rok dra, veral ná drie maande in die army.”

Sy val agteroor, met ’n sug wat klink asof dit uit die diepste deel van haar maag kom, en vou haar hande agter haar kop.

“Luister, Dalena,” sê ek met my oë op haar kaal bene, “ek wil nou nie vir jou preek nie …”

“Moenie.”

“Maar ek moet jou waarsku …” Ek weet nie hoe om dit te sê sonder om simpel te klink nie. Vinnig, dink ek, so vinnig as moontlik. “Moenie-dat-my-broer-jou-misbruik-nie.”

“Wat bedoel jy?”

Haar mond bewe soos sy stry teen ’n glimlag.

“Jy weet goed wat ek bedoel.”

“Ek gee nie om wát jou broer met my doen nie, Mart!” Die glimlag span van oor tot oor. Ons is terug in ons gewone rolverdeling. Dalena die terger en ek die getergde. “Dis die eerste keer na juffrou Lourens se broer dat ek hierdie kriewelrige gevoel in my lyf kry.”

“Wáár in jou lyf?” vra ek wantrouig.

Maar sy lag net. En ek voel asof ek ’n motor aan die gang gestoot het, met groot moeite, en nou moet agterbly terwyl die insittendes vir my wegry.

Die dinge van ’n kind

Подняться наверх