Читать книгу Die kinders eet viennas, maar 'n man kan nie relax nie - Nico Nel - Страница 4

Оглавление

Voorwoord

Iemand, diep onder die indruk van sy eie gebrek aan produktiwiteit, het nou die dag vir ons voorgestel dat ons ons stories te boek stel. Ons albei se eerste reaksie was dat ons dit nie kan doen nie omdat ons in ’n erge mate aan writer’s block ly. Die spreker was dadelik gevat met die opmerking: “Maar nie een van julle het al ooit iets geskryf nie, hoe kan julle daaraan ly?”, waarop ons hom daarop gewys het dat juis die feit dat ons nog nooit iets kon skryf nie, onteenseglik bewys hoe erg ons dit onder lede het.

As dit nie vir hierdie verskriklike aanval van writer’s block was nie, iets wat ons albei al vanaf ons kinderdae onder lede het, sou ons al lankal iets geskryf en gepubliseer het. Selfs op skool en veral in eksamentye het die “block” erg toegeslaan en ons soms uitgeslaan.

Die ander gevaarlike sindroom, soortgelyk aan writer’s block, is die learner’s block. Die simptome manifesteer, afhangende van die akuutheid daarvan, in ’n verterende lus om te gaan fliek, potlode skerp te maak, jou boeke van groot na klein te rangskik, of ’n studierooster uit te werk. Gewoonlik wys laasgenoemde dat jy reeds drie maande tevore moes begin swot het net om die basiese onder die knie te kry. Hierdie agterstand het gewoonlik ontstaan weens die breaks wat jy geneem het. Die eerste een was nadat jy ’n topstudent geïdentifiseer het en haar oortuig het dat jy, weens jou gesinsprobleme nie die klasse kon bywoon nie en nou haar notas nodig het. Die tweede (’n bietjie langer): nadat jy die notas in ontvangs geneem het en jy haar handskrif ontsyfer én verstaan het, en die derde (’n baie lang break) nadat jy fotostate met ’n sak tweesentstukke gemaak het. Die maak van die fotostate neem soms langer as om die klasse self te loop.

Soos hulle sê: “Goed gefotostateer is klaar geleer.” In teenstelling met die fotogeniese breine op die kampus het ons, kan jy maar sê, fotostatiese breine gehad.

Dit was altyd ’n groot skok om, twee dae voor die eksamen wanneer jy die notas begin bestudeer het, te besef dat die outeur daarvan ’n blou highlighter gebruik het om die heel belangrikste gedeeltes te aksentueer, met die gevolg dat al daardie gedeeltes op jou fotostate swart en onleesbaar is. Die gevolg was dat ons net die onbelangrike gedeeltes goed geken het.

Ons albei moes ook van kleins af veg teen die onkunde en minagting waarmee ons oningeligte onderwysers ons toestand, wat soort-gelyk was aan hiperaktiwiteit, behandel het. Nes in die geval van hiperaktiwiteit het niemand voorheen van hierdie toestand geweet nie en het hulle dit uit onkunde beskou as stoutheid. Hulle sal seker vandag bitter spyt wees as hulle moet weet dat ons dit nie kon help nie en hulle toe erg snedig met ons was. Gelukkig het die moderne wetenskap intussen so ontwikkel dat dit vandag geïdentifiseer en kinders behandel kan word sonder om geslaan te word.

Lance Armstrong se oorwinning oor sy kankertoestand en sy prestasies daarna het ons, aangesien ons nie fietsryers is nie en nie fietse het nie, maar andersins alles het, aangespoor om liewer nou ’n boek aan te durf voordat hierdie stories vir die nageslag verlore is.

Ons hoop dat hierdie boek julle van julle readers’ block sal genees, veral julle wat altyd beweer julle lees nie fiksie of ander boeke vir ontspanning by die huis nie, want julle daaglikse lewens by die werk bestaan uit die lees van dokumente, of julle word in julle werk of by die skool op allerhande maniere genoeg met skrif gekonfronteer. Of julle sê julle wil liewers kwaliteittyd met die gesin deurbring. Dis alles maar net verskonings om ’n vuur vir ’n braai aan te steek, of TV te kyk of te kuier. Ja, ons ken julle soort. Julle sal nou begin lees.

Ons wil dankie sê en erkenning gee aan almal wat stories vir ons vertel het, veral professor Ferdinand Deist vir sy Karoo-ondervinding en professor Helmut Wicht vir sy Lambertsbaaise belewenisse. Aan Anton Muller van Vleesbaai – dankie vir jou opgestane spook.

As iets vir julle bekend lyk maar dit is nie heeltemal soos julle dit onthou of aan ons vertel het nie: onthou, ’n goeie storie hoef nie heeltemal waar of feitelik korrek te wees nie (ag, dit is ’n ou cliché maar tog so waar). Ons het soms sommer stories saamgegooi, ander gebruik as inspirasie of sommer nuwes uitgedink net om aan julle ’n aangename leeservaring te bied.

Ons oorwoë siening, ten slotte, is dat sodra humor vulgêr, kru, vuil, onder die belt en Godslasterlik is, dit die onvermoë van die humoris, skrywer, dramaturg of spreker demonstreer om werklik oorspronklik snaaks te wees. Om terug te val op vulgariteite, godslasterlikheid en kruhede demonstreer ’n armheid van kreatiewe humoristiese denke.

Daarenteen kan selfsensuur soms ’n goeie storie vernietig en is dit nodig om soms by hoë uitsondering effe kras woorde te gebruik, of na iets aards te verwys, veral as dit funksioneel binne die konteks is. Ons probeer dit vermy, maar soms is ’n storie nie “vertaalbaar” uit die kras spreektaal in sosiaal meer aanvaarbare taal nie en kan ’n beskrywing van ’n gebeurtenis nie tot sy reg kom sonder ’n werklike weergawe van dit wat inderdaad gebeur het nie.

Hierdie boek is geskik vir alle ouderdomme en daarop is ons trots. Julle kan dit vir julle kinders en kleinkinders gee om te lees. Ons kinders en jong mense moet leer wat goeie humor is en hoe om dit te skep en oor te dra, of hulle dit vertel, skryf of opvoer. Hulle moet dit veral lees en intellektueel verteer. Daar is geen meriete daarin om as grootmense oor iets te lag of skurwe grappe te koester as ons kinders dit nie saam met ons kan geniet en ook daaroor kan lag nie.

Dit is die enigste manier om ’n nageslag van skeppende, humoristiese en vrydenkende individue te bou wat ons Afrikaanse humortradisie sal voortsit.

Geniet dit.

Nico en Uys

Die kinders eet viennas, maar 'n man kan nie relax nie

Подняться наверх