Читать книгу Die kinders eet viennas, maar 'n man kan nie relax nie - Nico Nel - Страница 8
ОглавлениеDie Engelse apteker
Arnold se pa het vir hom as klein seuntjie mooi verduidelik dat as ’n hond op sy agterwêreld gaan sit en homself met sy voorbene vorentoe sleep, die hond waarskynlik wurms het. Die wurms se nete gaan sit daar agter en veroorsaak ’n vreeslike gejeuk. As die hond hom dan so voortsleep, word die nete versprei, wagtend op ’n nuwe gasheer.
Arnold het in die jare vyftig in die Noordweste grootgeword waar vreemde mense en die Engelse taal uitheemse goed was. Hulle het nie mense geken wat Engels kon praat nie; eers ná skool het hy in die Engels Spes-klas met sulke mense te doen gekry in die vorm van lektrises en professore. Vreemdelinge was skelms wat hulle op die een of ander manier wou inloop.
Op universiteit het hy sy kwalifikasies verwerf en ’n goeie werk in Kaapstad in die Goue Akker gekry. Hy het elke dag ’n driestukpak en ’n das gedra. Sy ouers was trots op hom. Hy het trein gery vanaf die noordelike voorstede, sy koerant elke dag goed deurgelees en in die algemeen was hy op pad na ’n suksesvolle professionele loopbaan. Die Engels het ’n bietjie gepla, maar hy het tog mooi reggekom daarmee.
Alles was perfek. Hy het goeie geld verdien, ’n pragtige meisie gehad en selfs ’n huisie gekoop met sy behuisingsubsidie wat hy moes benut – tot die dag dat hy simptome ontwikkel het wat hom oortuig het hy het wurms.
Sy simptome was aanvanklik matig. ’n Knypie en ’n ligte regskuif op ’n stoel se sitplek het die gewenste uitwerking gehad. Later moes hy die stoel se rand opsoek en dan knypend regskuif. Nog later het hy altyd kastig per ongeluk op ’n highlighter gaan sit en gewoonlik gelyktydig met ’n knyp en ’n hoesie op die highlighter geskuif vir verligting. Uiteindelik moes hy met sy rug teen ’n muur gaan staan en met een hand byvoorbeeld koerant lees terwyl sy hoppende broekspype verklap wat die ander hand besig is om te doen. Dit het erger en erger geraak, dermate dat Arnold nie meer behoorlik op sy werk kon konsentreer nie en konstant mure gesoek het om teen te gaan staan. Hy het voortdurend ’n koel swembad gevisualiseer waarin hy heeltemal alleen is sodat hy na hartelus kon krap soos hy wil.
Arnold het besef hy moet iets daadwerkliks doen ten einde permanente verligting te kry, maar hy was te skaam om ’n dokter te gaan spreek of om met enigiemand daaroor te beraadslaag. Hy kon homself met weersin voorstel hoe die ondersoek by die dokter sou verloop. Hy was klaar selfbewus om sy tong uit te steek en aaaa! te sê en dis aan die bokant.
Hy was desperaat en bang dat hy later soos die honde sou moes maak. Hy was verneder dat so iets hom moes oorkom en kwaad vir sy hond op skool waarby hy sekerlik moes aangesteek het. Hy móét wurmpille in die hande kry; dit is al uitweg, het hy vas geglo.
Hy het ’n apteek in die noordelike voorstede geïdentifiseer en ongeërg op ’n baie besige oggend daar ingestap en kastig onbelangstellend na die ware op die rakke begin kyk. Hy het gewonder waar hy dit sou vind waarvoor hy soek.
Hy gaan na die heel onderste punt van die laaste rak, waar hy hoop dat die produkte waarvan die naam met ’n “w” begin sal wees. ’n Wurm in Engels begin gelukkig darem ook met ’n “w”. Daar kry hy niks nie en hy verskuif na die rak waar die produkte wat met “h” begin uitgestal is. Hy wonder of hy vir die Engelse ekwivalent na die “a”-rak sal moet gaan.
“May I help you, sir?” hoor hy ’n fyn stemmetjie vra. Dit is die fynste, pragtigste gesiggie op die perfekste lyfie wat hy nog ooit gesien het, iets soos in die blaaiboeke (hy het later gehoor stadsmense praat van “tydskrifte”) wat hulle soms in die dokter se spreekkamer in die Noordweste gesien het.
Net daar slaan Arnold heeltemal toe en sê: “Yes, perfume for my mother.”
’n Deernis ontsluit in Blaaiboekgesiggie se oë waarop sy hom na die parfuumtoonbank lei en sy die parfuums op haar pols begin spuit. Hy moet dan die sagte, leliewit, Engelse armpie beruik en ’n kort Engelse resensietjie gee van die betrokke parfuum terwyl hy deurentyd simptomaties baie deeglik aan sy wurm-toestand herinner word.
Die langste resensie was iets soos: “Mmmm, nice.”
Sy kan nie elke nuwe parfuummonster op dieselfde plek op haar arm spuit nie en doen dit elke keer ’n bietjie hoër teen die mooi armpie op. Dit spoor Arnold aan om die betrokke parfuum af te skiet met: “Not so nice.” Hy besef sy moet die een of ander tyd by haar kieliebakkies eindig, wat hom nogal op ’n snaakse manier interesseer, maar sy simptome raak al hoe erger sodat dit hom noop om elke keer dat sy haar rug draai om nog ’n monstertjie te gaan haal, teen een van die rakke sy broekspype te laat wip. Hy vergeet die rakke is nie solied nie. ’n Klein witkopdogtertjie fluister iets in haar mooi moeder se ore en dié lei die kind vinnig weg terwyl sy bly omkyk en iets prewel.
Arnold sien nie kans om verder so aan te gaan nie en koop maar ’n bottel duur parfuum. Hy besluit om dit vir sy meisie te gee, maar weet nog nie hoe hy vir haar gaan verduidelik hoe dit gekom het dat hy dit gekoop het nie.
Hy is besig om desperaat te raak. Hy spandeer dae in apteke om vas te stel waar werk ’n manlike, Afrikaanssprekende apteker. Soos klokslag duik ’n vroulike kollega van die apteker tussen hulle op en vra hom waarmee sy kan help. So het hy later ses bottels hoofpynpille, ag buisies sonbrandolie, nog vier bottels parfuum en sewe weggooikameratjies in sy nuwe huisie.
Hy is nou oortuig dat sy wurm intussen aangeteel het na ’n kolonie wurms wat hy in hom ronddra. Hy soen niemand nie uit vrees dat hy hulle sal aansteek, en koop nog twaalf Jockey-onderbroeke en gooi die oues met die gate in weg.
By die boerekoöperasie gaan koop hy vir sy denkbeeldige hond wurmpille, bestudeer die pamfletjie en besluit dat, aangesien die medisyne nie in die hond se sisteem opgeneem word nie, hy dit maar kan drink. Dit bring absoluut geen verligting nie. Hy is nou baie na aan trane.
Die min kere dat hy snags slaap, droom hy van skolliebendes wat hom vasdruk en terpentyn smeer daar waar dit brand. Beangs skrik hy wakker en hardloop badkamer toe.
Sy lewe is aan skerwe. Hy isoleer homself sosiaal en soms sit hy selfs siekverlof in. Sy professie begin daaronder ly.
As dit dan nie wurms is nie, moet dit iets anders wees. So het dit dan gekom dat hy een siekverlofdag in sy bed gelê en blaai het in ’n blaaiboek. Asof daar neonligte rondom die advertensie was, het dit uit die bladsy uitgetroon: As jy aambeie het, is Anusol-salf die antwoord. Arnold het geweet dat slegs apteke dit aanhou, want die advertensie het duidelik gemeld: Vra jou apteker. Die boerekoöperasie sou nie hierdie keer help nie. Hy het vlugtig gewonder of resiesperde nie dalk ook aambeie kry nie, want hy het partykeer gevoel om vinnig aan die hardloop te raak. Hy was oortuig dat die bobbejane in Dutoitskloof dit wel kry, want in daardie stadium het hy van agter gevoel soos sommige van hulle lyk.
Arnold het die saak bepeins. Hierdie keer is hy, wat die apteek betref, baie beter af, want hy ken ten minste die produk se naam. Hy kan selfs in Engels dit gaan koop. Hy hoef niks te verduidelik of in lang gesprekke betrokke te raak nie, hy vra net Anusol en klaar. (Hy het nogal gedink dat as hy daardie eerste dag, voor Blaaiboekgesiggie hom onderskep het, al na die “a”-rak gegaan het, was sy lyding miskien lankal verby.) Sy grootste vrees is altyd die lang, ongemaklike verduidelikings wat hy glo die assistente hom gaan vra of indringende navrae wat hulle oor sy toestand gaan rig. Hy wil dit glad nie hê nie; daarom is hy so dankbaar dat hy presies weet waarna hy soek. Hy besluit om ’n apteek met baie klante te kies, want hy wil ook nie in ’n leë apteek instap nie met ses pragtige, nuuskierige assistente wat almal kyk presies wat hy kom koop. Hulle staan mos gewoonlik daar rond en as een van hulle jou help, dan volg die ander uit verveeldheid die hele transaksie. Hy sal ook sorg dat hy genoeg geld by hom het sodat absoluut niks kan skeef loop nie.
So is Arnold terug na die volste apteek waaraan hy kan dink, die een in die Goue Akker.
By die deur steek hy vas en sien met genoeë dat dit binne lekker besig is. Hy let op dat almal haastig is en dat hulle hulle nie aan hom steur nie. Hy stap selfvoldaan in en dink dat die geluk werklik vandag aan sy kant is toe ’n bejaarde vroulike apteker hom nader en in ’n effe onvanpaste harde stem vra: “May I assist you, sir? Is there anything in particular that you are looking for?” Hy is bly dat dit nie Blaaiboekgesiggie is nie, hoewel hy baie desperaat is en selfs by haar dit sou gekoop het.
Hy buk vooroor en sê gedemp: “Yes, I want Anusol.” Hy wil dit darem ook nie uitbasuin vir die hele apteek om te hoor nie, ingeval daar iemand is wat ook die advertensie gesien het.
“Follow me, sir,” sê sy en begin aanstap dieper die apteek in. Arnold is dankbaar, want niemand anders in die apteek het gehoor wat hy gevra het nie; hy is op pad na ’n diskrete, konfidensiële en private herstel. Sy dae en nagte van hel sal binnekort verby wees.
Die volgende oomblik steek die dame wat hom help, vas, draai haar om, kyk hom in die oë en vra: “Sir, what size do you want?” Arnold dink dat ’n small dalk te min gaan wees, gedagtig aan die akuutheid van sy toestand, en vir ’n large het hy dalk nie genoeg geld nie en hy is darem ook nie heeltemal ’n Dutoitskloof-bobbejaan nie, al voel dit so. Hy dink hy is veilig deur te sê: “Medium.”
Die dame is ook merkbaar effe uit die veld geslaan en sê: “No, sir, what size shoe do you wear?”
Arnold is nou heeltemal verbyster en amper stom geslaan. Duisende gedagtes flits deur sy brein. Waarvoor hy gevrees het, gebeur: die lang gesprek. Kan dit wees dat sy skoene al die tyd te klein was en sy simptome veroorsaak het? Is dit moontlik dat ’n drukkende skoen so ’n gejeuk kan veroorsaak? Hou die grootte van sy voete ook verband met die grootte buis salf wat sy vir hom gaan gee, soos hy al van voetgroottes met betrekking tot ander sake gehoor het?
Hy wil beslis nie redeneer oor die saak nie en sal later verder daaroor gaan nalees. Dit is darem ongelooflik wat die wetenskap nie alles nog gaan uitvind nie, dink hy.
Toe antwoord hy maar: “Size eight and a half.”
“Sorry,” sê sy, “please speak a bit louder.”
Hy herhaal sy voetgrootte en die dame stap aan tot voor die rak met die innersoles. (Dit is die goed wat sommige mense aan die binnekante van hulle skoene sit vir ’n verskeidenheid voetkwale, het hy later uitgevind.)
Nou is Arnold presies in die situasie waarin hy nie wou gewees het nie. Klaarblyklik is daar ’n groot misverstand tussen hom en die ou dowe Engelse apteker.
Hy buig toe nader aan haar as die vorige keer en sê: “No, I am looking for Anusol.”
Sy sê in haar welluidende stem wat deur die gedempte atmosfeer in die apteek ten aanhore van almal weergalm: “O, Anusol Ointment for haemorrhoids, why didn’t you say so?”
Onder die oë van ’n aanstarende massa mense sê Arnold: “Never mind,” en verlaat die apteek.