Читать книгу Die kinders eet viennas, maar 'n man kan nie relax nie - Nico Nel - Страница 7

Оглавление

Jag in Klapmuts

Ons het ’n vriend Deon wat baie lief is vir jag. Hy is goed daarmee en kán ’n bok bekruip. Hulle sê dit het menige keer al gebeur dat hy ’n entjie agteruit moes kruip om die geweer tussen hom en die bok in te kry. Hy kon ook vreeslike lang en ver skote skiet op plekke waar ’n mens nie ’n bok kan bekruip nie, maar het later opgehou daarmee toe sy voet beseer is en hy effens mank begin loop het. Hy kon nou nie meer so vinnig stap soos vroeër nie, met die gevolg dat die bok al vrot was as hy daarby aankom.

Ons vriend Deon se Jennie neem nie meer boodskappe vir hom as hy op jag was nie, want nadat hy sy stowwerige jagbagasie in die portaal neer laat plof het en hy bel vir Sakkie terug, sal Deon eenvoudig sy bagasie weer optel, Jennie ’n totsienssoentjie en ’n drukkie gee en vertel hoe lief hy vir haar is en op sy volgende jagtog vertrek. Dan het hy nog nie eers die honde en die kinders hallo of totsiens gesê nie. Jennie voel voortdurend sy kom tweede, maar Deon ontken dit heftig. Jennie het altyd, voor hierdie dag waarvan ons julle wil vertel, dit baie duidelik gemaak dat wat haar betref en in teenstelling met Deon se ongebalanseerde prioriteite, Deon heel eerste in háár lewe is.

’n Jagtery is mos ’n heuglike gebeurtenis waartydens ou vriendskapsbande weer gesmee word, waar lang stories vertel word en waar lekker saam gekuier word – net die mans. Ons wil julle nie nou vertel van so ’n gewone jagtery en alles wat daarop gebeur nie, want dit is stories op hulle eie waarvan duisende jagters julle kan vertel. Al wat nou belangrik is om van so ’n jagtery te weet, is dat dit baie lekker is en dat aan die einde van die somer ’n mens ’n ongekende hunkering na so ’n lekker jag kry. Jy kan nie meer wag vir die veld, die skote, die gelag en die sorgvryheid nie. Jy wens die winter wil kom sodat jy jou tasse kan pak. Jou geweer is al drie keer skoongemaak. Dieselfde lus het eenkeer ons vriend Deon oorval, net in heeltemal die oortreffende trap. Sy hele wese het aan die einde van die somer begin smag na ’n jag, maar dit was nog te warm.

Deon, wat in Somerset-Wes woon, bel toe vir Gert wat êrens in die Agter-Paarl boer en verneem van hom of daar dan nie dalk tog ietsie op sy plaas is wat hy en sy pel Koos kan kom jag nie. Gert, wat nog nooit sy plaas as ’n jagplaas gesien het nie omdat hy met druiwe en beeste boer, is oorbluf, maar met ’n vernuftige stukkie dinkwerk in ’n ietwat muwwe brein val dit hom by van ’n klompie tarentale wat eintlik op sy buurman se koringplaas loop maar wat tog van tyd tot tyd deur die draad kom en geweldige skade aanrig aan sy weiding. (Presies hóé kon Gert nooit sê nie.) Hy en Deon besluit daar en dan dat hulle eintlik geen keuse het as om die tarentale uit selfverdediging te skiet nie. Die goed is ’n absolute pes en dit is onverklaarbaar dat sulke skademakers toegelaat word om te bly leef. Gert sal vreeslik dankbaar wees as Deon en sy pel hulle sal kom skiet. Ná ’n bietjie oorweging dui Deon aan dat hulle tog bereid is om vir Gert die guns te doen.

Om by Gert se plaas uit te kom, moet Deon en Koos deur Klapmuts ry. Dit is ’n heerlike someroggend op hierdie pragtige kraakvars Saterdag. Deon het vir Jennie verduidelik dat hy nie kan gras sny of die honde was nie, want hy moet vir Gert op die plaas gaan help met die uitroei van ongediertes en dat sy jagvernuf die oorweging is waarom Gert nou juis vir hom genader het. Koos gaan saam om met die beplanning te help en veral om Gert se honde in toom te hou, sy weet mos Koos het so ’n slag met honde, want kyk hoe mooi sit hy en Sarie se Maltese op hulle agterbene soos Koos vir hulle geleer het. Jennie onthou dat hulle boerboel eenkeer sy been teen Koos se kuit gelig het, maar sê niks nie.

Die opgewondenheid en die afwagting is groot. Dit was ’n lang jaglose somer en Deon en Koos is vroeg op. Omdat hulle eintlik nie voëljagters is nie, het hulle maar hulle trippel-twee en dertig-nul-ses ingepak en gedink Jennie gaan in elk geval die tarentale fyn kook. Daar is nie tyd vir kos inpak of ontbyt eet nie, so haastig is ons vriende om by die jagveld uit te kom. Hulle vat sommer heelwat geld saam en dan koop hulle vir hulle iets langs die pad.

Toe hulle deur Klapmuts ry, begin die honger aan hulle knaag. Hulle weet van die Klapmuts Hotel vanuit ’n ander hoek, maar lei af dat daar sekerlik ook ontbyt bedien sal word. Elkeen bestel ’n volle Klapmuts-ontbyt. Daar is nie tyd vir vrugtesappies, joghurt-muesli en ander lakseermiddels nie, hulle gaan straight vir die wors, vleis en eiers. Deon wonder hardop of ’n witwyntjie nie goed sal smaak saam met die varkworsies nie. Koos bewonder Deon se genialiteit en merk self slim op dat ’n rooietjie ook sal werk. Saam met die eerste eier en varkworsie is dit ’n vars, koue wittetjie en saam met die tweede eier drink hulle toe op Koos se voorstel ’n rooi Bon Esperance. Saam met ontbyt gaan koffie en dit was nie vir Deon en Koos ’n te groot sprong om die koffie ’n Ierse klappie te gee nie. Toe die tweede eiertjie sak, toe is dit tienuur en Klapmuts se kroeg maak oop. Die suur wyn en die stroopsoet koffie skree vir ’n lekker whiskytjie met soda net om die palette skoon te maak.

Baie goeie mense met heelwat kennis van diamante het daardie tyd mekaar op Klapmuts ontmoet. Die manne van die Suid-Kaap en die Karoo het nie lus gehad om die stad in te ry nie, en al het hulle, sou hulle definitief nie die manne van die Weskus daar gekry het nie, want dié was nogal meer skugter vir baie mense, verkeer en hysers. Die plattelanders het besef Klapmuts is die plek om mekaar te kry. Saterdae was die dae wat niemand gewerk het nie en dan het almal Klapmuts toe gery om te gesels oor nuwe motors, nuwe woonwaens en sommer baie ander nuwe dinge. Tienuur kry hulle mekaar daar, dan bewonder hulle die pragtige knipmesse en pype, gesels ’n bietjie saggies oor ’n onbekende onderwerp en dan weer hard oor die lekker weer en die mooi blomme hierdie jaar in Namakwaland.

Toe hulle dié Saterdag daar kom, toe wag Deon en Koos vir hulle. Deon is ’n prokureur en hy herken dadelik van sy ou kliënte (hoewel hulle gewoonlik agter sy rug in die beskuldigdebank staan) en hulle vir hom. Dit is ’n blye weersiens. Almal het hoeka nou die dag aan die ander gedink en ag, mens moet darem meer moeite doen om mekaar meer te sien. Die Weskusmanne sê as hulle min van Deon sien, gaan dit goed met hulle.

Dit is ’n geselsery wat afgewissel word met pyltjies en pool, want van die Karoo en Suid-Kaap se manne het toevallig baie kontant by hulle wat later in die Weskusmanne se sakke beland. Suid-Kaap en die Karoo probeer nou om die geld terug te wen en Deon en Koos sit hand by aan weerskante van die draad. Deon wen toe ook goed en druk sommer die bolling vyftigrandnote in sy hemp se bosak. Dit skyn mooi rooi deur die dun kakiehempie.

Skielik raak dit sommer middagete en daar word oor en weer genooi. Klapmuts se steak en tjips is altyd lekker. So skuif ons twee vriende weer terug eetkamer toe, maar tóé kuier hulle sommer lekker, want daar is niks verkeerd met ’n wyntjie saam met jou middagete nie, inteendeel, dit word in die Boland deur slim professore en dokters aangemoedig.

Toe dit vieruur raak, besef ons vriende hulle sal nou moet opskud, anders kry hulle nie ’n jag in nie. Gelukkig is dit somer en die dae lank. Gert se buurman se tarentale is seker besig om hom te vernietig, en ’n intense, deernisvolle verlange na Gert wel in hulle op. Hulle besluit om dadelik te ry.

’n Entjie van die hotel af is ’n netjiese huisie met ’n rooi dakkie en ’n goed versorgde tuintjie. In die tuintjie stap die mooiste rooi hoenderhenne met ’n trotse, groot rooi haan tussen hulle. Hy blink rooibruin in die middagson en sy houding is trots en regop, amper uitdagend. Mens kan die besitlikheid oor die henne in sy oë sien. Sy kam en lelle is dieprooi en wapper in die middagluggie. Hy skrop vir iets in die harde grond en kyk dan met een oog wat hy dalk losgeskrop het en met die ander of die henne gesien het hoe diep hy in die kleikors ingeskrop het met sy kragtige naels en sterk bobene, ingeval een van hulle dalk ’n bietjie wil afsak grond toe en hurk in sensuele, verleidelike oorgawe. Deon sê hy dink dit was die half hardegat houding van die haan wat Koos se aandag moes getrek het, want toe hy nog nader kom aan die bakkie, sien hy Koos se trippel-twee se loop kom oor die bakkie se kap en die skoot klap. Dit is ’n netjiese skoot, want teen die middag is Koos se beef wat hy vroegoggend gehad het heeltemal weg. Die haan ontplof net daar waar hy staan en leef nie verder nie.

Die skoot trek baie mense se aandag. Die Plattelanders kom op die stoep uitgestap en sien dadelik met kennersoë wat aan die gang is. Die eienaar van die haan kom uit sy huis gestorm en besef ook dadelik wat aangaan. Hy is briesend en kom met mening op Deon en Koos af. Hy gee sulke lang treë en sy oë spoeg vuur. Sy netjies gestrykte blou oorpak se broekspype bewe en hy druk sy hoed op sy kop vas.

Hy steek voor Deon vas en skree met sy vars, dranklose asem soos dié van ’n jong kalfie in sy gesig: “Julle suipgatte sit heeldag in die bar en nou skiet julle ’n mens se hoenders! Het julle nie respek vir ’n ander man se goed nie!” ’n Mens kan sien die man is heeltemal buite homself van woede.

Deon sê hy kon nie stry nie en haal toe maar ’n vyftigrandnoot uit sy hemp se bosak en klap dit in die hand waarmee die man besig is om vir hom onder die neus te beduie. Net toe verskyn Koos se geweerloop weer oor die dakkie se kap en toe die skoot klap – toe bars ’n hen oop. Deon sê niks en klap nog vyftig rand in die man se hand. Die man is nog hard aan die protesteer, toe klap die derde skoot en nog ’n hen spat aan flarde. Toe beland nog vyftig rand in die eienaar se hand. Nog ’n skoot, nog vyftig rand, nog ’n skoot, nog vyftig rand; en so gaan dit aan terwyl die eienaar net die besigheid staan en gadeslaan met ’n oop mond en ’n oop hand waarin die vyftigrande ná elke skoot beland.

Skielik is Koos se geweer stil en dit lyk of die eienaar dubbelspeltennis kyk, so vinnig kyk hy na Koos en bekommerd terug na die troppie oorblywende hoenders. Toe die laaste een om die huis se hoek verdwyn, kyk hy terug na Koos.

Die eienaar merk toe op: “Bly julle net hier teen die bakkie staan, dan keer ek weer die hoendertjies agter om die huis.” So gesê, so gemaak. Die hoenders, wat toe teruggejaag is, word een vir een geskiet, maar nou help Deon met die dertig-nul-ses. Die Plattelanders juig ná elke skoot as dit ’n netjiese skoot is. Selfs die polisie, wat later opdaag en die afwesigheid van enige vorm van misdaad dadelik op ’n polisiekundige wyse identifiseer, klap statig hande as dit byvoorbeeld ’n kolskoot in die hardloop is. Die eienaar is amper fanaties om al die henne in die skutters se skootvakke te kry, en toe een hen dit regkry om weg te hardloop, hol die eienaar haar in, duik haar plat, snou haar iets toe van selfsugtigheid en bring haar terug vir die teregstelling. Vooroorgebuk met oopgespreide arms probeer hy soos ’n swakgeleerde skaaphond die hoenders op ’n hoop hou. Deon moet hom later vra om die hoenders ’n meer sportiewe kans te gee. Dit veroorsaak ’n bekommerde trekkie op die man se gesig. Een of twee sal dalk wegkom.

Toe al die hoenders nie meer staan nie, maak Deon en die eienaar gou-gou boeke op. Die rooi vyftigrandnote uit sy bosak skyn mooi deur die eienaar se ligblou hempsak. Die eienaar gooi drie streepsakke sonder vergoeding op die transaksie in om te toon dat sy sakevernuf ondergeskik is aan sy morele norme. Hy laai met ’n baie breë glimlag die drie streepsakke hoenders agter op die bakkie.

Toe vertrek Deon en Koos huis toe. Dit is nie meer nodig om na Gert toe te gaan nie, want die prooi was reeds op die bakkie. Die eienaar, sy vrou en kinders en die gemoedelike bos Plattelanders op die stoep wuif hulle totsiens. Gert sal homself maar teen die tarentaalmonsters moet verdedig. Die Weskussers skree vir Deon hulle hoop nie hulle sien hom gou weer nie. Gert en die gevaar waarin hy verkeer, is totaal en al vergete.

So sewe-uur die aand gee ’n laggende, singende Deon en Koos baie tevrede die drie streepsakke vir Jennie en sê sy kan maar begin pluk. Hulle vertel haar hoe ’n uiters gelukkige vrou sy is, want hoender is baie lekkerder as tarentaal.

Deon sê hy lê nou agste by Jennie ná die kinders, die honde en die katte.

Die kinders eet viennas, maar 'n man kan nie relax nie

Подняться наверх