Читать книгу Die kinders eet viennas, maar 'n man kan nie relax nie - Nico Nel - Страница 6
ОглавлениеOns ontmoeting
A
Ek is Nico Nel. Ek het vir Uys van der Hoven in 1976 op Stellenbosch onderstebo ontmoet. Dit het so gebeur:
Ek was in Crozier-huis besig om myself te slyp vir die lewe. Crozier-huis was, wat motorkarre betref, baie anders as ander koshuise. In ander koshuise was vier uit elke tien karre van die studente gewoonlik stukkend, maar in Crozier-huis was dit op elke gegewe oomblik gewoonlik ag uit tien. Crozier-huis is soms Crozier-garage genoem, so het die stukkende karre daar rondgestaan.
Ek het nie ’n kar gehad soos ander studente nie en het besluit om ’n beach buggy te bou sodat ek ook darem ’n kar kon hê om aan te werk en nie te veel uit voel nie. Ek het ’n onderstel met ’n stuk Volkswagen nog bo-op vir vyftig rand gekoop en daaraan begin werk.
Ek het spesiale vergunning van die huiskomitee gehad om my buggy se enjin in die voorportaal aan mekaar te sit maar beslis nie in my kamer nie. Die verbod om in die kamer jou ryding se enjin uitmekaar te haal en dan weer, nadat jy die stukkende onderdele herstel het, aan mekaar te sit het sy ontstaan gehad uit onsmaaklike insidente terwyl en nadat Al Capone aan sy Dugatti-motorfiets se enjin in sy kamer gewerk het toe sy kamermaat, Koehetski, ook daar besig was met sy Fiat 2300 se enjin. (Dit was nie hulle regte name nie, maar omdat albei Italiaanse looks en Italiaanse voertuie gehad het waarmee hulle graag wou ry, is daardie byname aan hulle gegee.)
Die parte van die Dugatti en die Fiat het onverklaarbaar deurmekaar geraak en in die verkeerde enjin beland. Die gevolge was katastrofies. Ek onthou ’n lelike bakleiery en harde woorde. Ek dink Koehetski was bang dat hy dalk later sy Fiat sou moes kick-start en Al Capone dat sy Dugatti-motorfiets ’n dakliggie sou kry. Die blaam vir die verwarring is op mekaar en op die skouers van die skoonmakers geplaas en nie op Painter van Tollies nie.
Ons was juis almal daardie aand aan die studeer in Crozier-huis omdat dit intervarsity-tyd was. Dit is gewoonlik ’n lekker stil tyd in die biblioteke en in die koshuise om agterstallige studie in te haal. Ons het ook vermoed dat ons nie die volgende dag kans sou kry om te studeer nie omdat ons verwag het dat die ander studente baie sou raas.
Ek het ’n slag gehoor, maar my nie daaraan gesteur nie, so verdiep was ek in my studie. Ek het by een van my huismaats gehoor dit is ’n Volkswagen wat op die hoek gerol het. Ek het dadelik met my nommer 13-spanner opgespring juis omdat dit ’n Volkswagen was. Met ’n nommer 13 kan jy ’n Volkswagen se hele enjin uithaal. (’n Mens kan nie gedurende intervarsity van jou boeke af opspring vir elke kar wat voor jou koshuis rol nie, want dan gaan mens nooit geswot kry nie.)
Toe ek hoor dit is ’n Volkswagen, het ek vol hoop en verwagting uitgestorm om parte te gaan haal. Toe ek die musiek hoor, het my hoop opgevlam dat ek selfs ’n goeie radio sou kon herwin, maar toe ek die normale kreunlose sangstemme uit die onderstebo kar hoor, was ek ietwat onkant betrap en, moet ek maar eerlik byvoeg, ietwat teleurgesteld. Ek het besef ek sou moes onderhandel vir parte; dit was nie net vir gaan haal soos ek gehoop het nie.
Ek het ingekyk en twee vriendelike mense onderstebo sien hang. Een was Uys van der Hoven. Ons het, soos deur die insittendes versoek, die kar op die kant gedraai waar die wiele was aangesien hulle glo ’n bietjie gesukkel het om te ry met die kant wat nie wiele het nie. Ons het dit gedoen met die insittendes nog binne-in. Die bestuurder het ons bedank en ons beloof dat vir ons moeite hy weer die Volkswagen op die hoek van Andringastraat sou rol. (Daar was ’n ligte opflikkering in my gemoed, maar die belofte is nie gestand gedoen nie.)
Ons het agterna geskree die olie het uitgeloop terwyl die kar onderstebo gelê het.
Ek moes vrede maak met die gedagte dat ek nie op daardie intervarsity met my beach buggy sou ry nie. Ek vertel ’n ander keer van my beach buggy wat amper aan die Suid-Kaapse kus verdrink het, maar toe weer met liefde bygebring is met ’n mooi groot boerpampoen vir ’n sitplek. Dit was in sy tyd die enigste voertuig in Suid-Afrika met ’n eetbare sitplek.
B
Ek is Uys van der Hoven. Ek het vir Nico Nel in 1976 op Stellenbosch onderstebo ontmoet. Dit het so gebeur:
Ons was op Stellenbosch toe manne nog manne was. Ons het nie soos vandag se kinders in lugverkoelde restaurante met blommerangskikkings in die vensterbanke, mooi kelnerinne en tafeldoeke met lapservette landgoedwyne sit en drink nie. Ons moes met baie minder tevrede gewees het.
Jy kon naweeksaande met R1.00 (een rand) Tollies toe gegaan het. Daarmee kon jy twee biere (20 sent elk), een bottel Tas (35 sent), en een pakkie slaptjips by Vuil Sakkie koop op pad terug koshuis toe. As dit twaalfuur raak en Painter maak Tollies toe, is die klomp wat nog daar sit, gewoonlik gelaai met nog Tas tot so halftwee toe. Breek halftwee aan, is die manne skreeuend honger. Die bakkery in Birdstraat se brood is eers van halfvyf af gaar. (Jy koop die brood deur die venster van een van die helpers met die wit klere en die wit mussie vir dubbel die prys van ’n brood. Hy neem dan sekerlik die kontant vir die baas van die bakkery, wat dit opskryf en die geld in die kleinkas gooi om die volgende dag gebank te word sodat die transaksie vir belastingdoeleindes nie verlore gaan nie.)
As jy nie kan wag tot halfvyf toe nie, het die manne maar al die akkerbome nageloop en hulle hande in die gate ingedruk en eekhorinkies gevang om in Jonkershoek te gaan braai. Die manne was geoefen vir dié soort ding, want hulle het gereeld wettig kreef gevang en aan die hotelle soos Lanserac en Devon Valley geskenk as hulle bydrae tot die samelewing. (Hierdie lot het darem nie net gespeel nie, en het soms Sondae in die biblioteek ingebreek om te gaan swot, aangesien dit Sondae gesluit was.)
Die lot manne het eendag vir Oom Bun vertel van die eekhoring-braaiery. Hoewel hy altyd die wêreldse geduld met sy studente gehad het, het hy hom vir hulle vererg en, ongewoon aan Oom Bun, hulle uitgetrap. Op sy goedige manier het hy gesê: “Ag nee magtig, keggels, julle kan mos nie dit doen nie. Watse tipe mense is julle?” Een wou nog antwoord “Honger studente”, toe Oom Bun as ’n nagedagte vra: “Maar hoe smaak ’n eekhoring?” Toe kom die antwoord: “Baie soos Maltese poedel, Oom Bun.” Ja, manne was toe nog manne.
Ek en SW de Bruin was een aand in die dorp. Toe Painter toesluit, het ons niks oorgehad om ons dieper die nag in te dra nie. Ons wou ook nie gaan braai het nie. SW het aan my verduidelik dat sy Volkswagen, wat hy by sy oom op Kroonstad gekry het, kan boomklim. Ek was liggelowig totdat SW dit bewys het. Die Volkswagen het ’n ronde buffertjie voor. Die akkerboom het ’n stam wat skuins in die grond ingaan na die wortels toe. SW se Volkswagen het so ’n aanlopie geneem en dan kon die Volla boomklim. Sy voorwieletjies hang in die lug met die buffertjie hoog teen die stam.
Die Volkswagen het ’n radio gehad maar nie speakers nie. SW het soggens voor klas een van ’n huismaat se speakers van sy hi-fi afgeskroef, en aan die Volla se radio gekoppel. Die hopeloos te groot speaker lê sommer agter in die dog box. Dit het ’n pragtige klank gehad.
Ná die geboomklimmery het SW beweer die Volkswagen kan ook in ’n eenrigting voor Luigi’s ry. Ek het dit geglo, maar SW wou dit desondanks bewys. Ons is toe daar op in die eenrigting, verby “Die Stal”, links op die hoek by Anita se flat en toe weer regs by die H.B. Thom-teater. Net daar moes die Volla se wieletjies ingevou het of iets, want dit het na my kant toe omgerol tot op sy dak.
Ons albei was dadelik baie besorg oor ons huismaat se speaker, want hy was bekend daarvoor dat hy kon vuisslaan. SW het die radio begin stel en vir my gesê ons toets net gou of die speaker nie iets oorgekom het nie. Ons het toe die speaker goed getoets. Dit was ’n mooi song en ons het begin saamsing.
Later het ons voete buite om die kar gesien en koppe wat inloer. Ons was onderstebo en as hulle afbuk en inkyk, is hulle ook onderstebo; so kyk ons mekaar eintlik heeltemal korrek vierkantig in die oë. Een van die pare voete en een van die koppe was Nico Nel s’n.
Ons het hulle gevra of hulle nie asseblief die kar op die kant kan draai waar die wiele is nie, want ons sukkel so ’n bietjie om te ry soos die kar nou is. Hulle het skynbaar dadelik verstaan, want enige mens met ’n bietjie verstand kon sien dat die Volla nie kan ry soos hy was nie.
Hulle het dit gedoen en ons het dankbaar vir hulle gewuif ná ’n belofte om hom weer op die volgende hoek te rol. Met die wegry het iemand geskree: “Onthou, van die olie het uitgeloop!” Ons het olie ingegooi en is huis toe sonder om ’n braaidingetjie te soek.
Die volgende oggend het ons gesien ons Samaritane moes definitief deur die slaap of baie moeg geswot gewees het, want hulle het die kar na die gesonde kant toe op sy wiele gerol. SW het gesê dis OK, want ten minste is die kar nou weer simmetries.