Читать книгу Die kinders eet viennas, maar 'n man kan nie relax nie - Nico Nel - Страница 5
ОглавлениеDie titel van hierdie boek
Ons wil graag hulde bring aan al die vaders van die volk, veral hulle wat in die tye toe dit swaar met die mense gegaan het, deurgedruk het. Daardie hoofde van huishoudings wat, ongeag uiters moeilike omstandighede, hulle vrouens en veral hulle kinders bo alles gestel het. Ons wil hulle eer en bedank vir hulle harde werk, liefde en getrouheid. Manne, julle is die speen waaraan die nasie suig.
Hulle is die hoeksteen van gesinne. Hulle het hulle lewens gegee om hulle kinders van net die beste te voorsien. In onmoontlike omstandighede was hulle daar vir hulle gesinne. Die onbesonge helde van die volk.
Dankie, julle is die hartklop van die volk. Ons eer julle en bedank julle vir die voedingsaar wat julle verskaf.
Hulle sal hulself ontsê van luukshede, van die allerbeste en dit vir hulle kinders gee as belegging in die kinders se toekoms.
Een aand, toenterjare gelede, het twee baie moeë manne by Soutrivier op die trein geklim. Dit was baie duidelik dat hulle ’n moordende, uitmergelende dag van stoomlokomotiewe herstel agter die rug gehad het. In daardie jare het die manne der manne van die spoorweë in Soutrivier gewerk. Dit was die plek waar die hardste handearbeid denkbaar verrig is. Die manne wat daar gewerk het moes fisiek baie sterk en tegnies baie bekwaam gewees het. (Die Sout van Soutrivier.)
Hulle was geklee in oorpakke wat sommige mense “vuil” sou noem. Dit was nie vuil nie, net vol ghries, olie en roet. ’n Mens kon sien dat hulle ná die skof hulle hande en gesigte gewas het, maar nie daarin kon slaag om die swart uit al die groewe en plooitjies te kry nie. ’n Soort inherente vaalheid was oor hulle wat mens nie presies kon plaas nie. Hulle was netjies, dog nie skoon nie, amper iets soos ’n kaalvoet rugbyspannetjie met wit broekies op ’n reëndag.
Hulle het tam die trein ingeklim, hulle kostrommels op die rakkie bo neergesit en op die oorkantste sitplek neergeplof. Hulle het net na iets gesit en staar wat hulle nie gesien het nie, omdat hulle te moeg was. Toe draai die een na die ander toe en met ’n sug deurtrek van moegheid sê hy:
“Die kinders eet viennas, maar ’n man kan nie relax nie.”
Dit was so mooi, so treffend, so alles beskrywend en opsommend van hulle omstandighede en hulle ingesteldheid jeens diegene na aan hulle, dat ons dit in die titel van hierdie boek wil verewig. Dis ’n saluut aan hulle.