Читать книгу Pieter-Dirk Uys: Weerklink van 'n wanklank - Pieter-Dirk Uys - Страница 10

Bring die nar te voorskyn

Оглавление

“Uys dons false eyelashes and presidents listen.” Só skryf die Los Angeles Times in 2004, ’n bewys dat sy bestaan hoewel daar nie werklik iemand soos Evita Bezuidenhout is nie. Ek kry sommer lekker as ek dink dat, ná amper veertig jaar se baljaar op hoë hakke, dié skepping van my verbeelding ’n legende is. Dit was geensins die plan nie. In die vroeë 1980’s was sy net nog ’n karakter in ’n konsert, sonder naam, een in ’n koor van politieke aikonas. Sommige was gebaseer op vlees en bloed, ander slim vermom om binne die raamwerk van wet en orde te bly, want almal het steeds in sensuur geglo, iets wat meer geslaagd was as wat enigiemand ooit kon voorspel het.

Anargie was my enigste uitweg – seksuele verwarring, sosiale stereotipering, etniese kleurgewing, alles met ’n tikkie onwelvoeglikheid, godslastering en kulturele terrorisme. Met ander woorde, enigiets waarvan die ooms en tannies (en my pa) nie gehou het nie. Dit het gehelp dat dié banket opgedis is deur ’n bekende sosiale vlinder in elegante hofskoene wat haar gaste herinner aan ’n gevreesde skoonma, ’n kwaai onderwyseres of dalk hulself. Die feit dat dit in daardie jare van beheer en reguleer onwettig was vir mans om vroueklere te dra, het gesorg dat ekstra adrenalien in die gehoor se are bruis. Ek het nooit kans gehad om te toets hoe dit ’n akteur se werk raak nie, maar het dié beperking nogtans geesdriftig uitgebuit.

Uit ’n praktiese oogpunt het akteurs ’n verkleurmannetjieagtige talent om elke foefie en truuk in hulle boek van geheime te gebruik en hulle stemme, gesigsuitdrukkings en vermomming in te span om in ’n karakter te verdwyn. Die teatergrimering waarmee ons op dramaskool moes werk, was in buise wat soos vet sigare gelyk het en elke skakering was genommer om hier te verhelder en daar skadu te skep voordat donker en lig met ’n versigtige laag poeier ingeskakeer is. Dit het ure gevat terwyl ons soos gediertes onder die dik verhooggrimering sweet. Ek onthou nog hoe ek my soos Laurence Olivier se Mahdi in die rolprent Khartoum opgemaak het, met ’n donker vel, woeste blik onder ’n paar vals wimpers en ’n wit handdoek om my kop gedraai. Toe kom die sexy, verlepte oë van Marlene Dietrich met haar sorgvuldig ingekleurde wondrooi lippe. Wangbene is uit die niet opgetower. Ek het opgetree met vals neuse, kort hare, lang hare, vlegsels, snorre, baarde, littekens en sproete. Net omdat ek kon, het ek my oë ingekleur dat hulle soos katoë lyk en my vol rooi lippe in die spieël soos die Italiaanse filmster teen my kamermuur getuit.

Evita Bezuidenhout het haar naam by twee mense gekry. In 1978 het die redakteur van die Sunday Express my gevra om ’n weeklikse rubriek te skryf om die mallemeule van die Inligtingskandaal se politiek met humor uiteen te sit. Nuusberigte moes destyds, in die dae voor twiets en televisieflitse, op koerantvoorblaaie staatmaak en dié is dikwels gesensor. Toe skep ek ’n Afrikaanse dame wat een keer ’n maand by ’n opskop in Pretoria haar geliefde Nasionale Party verheerlik met flou, lomp lof. Die redakteur het my ingeroep. “Hoe is dit dat jy wegkom met sulke dinge wat ek nie eens op die voorblad kan plaas nie?” het hy gestoom. “Daardie vrou is waarlik die Evita van Pretoria.” Dit was die tyd van die musiekblyspel oor die lewe van ene Evita Perón. Ek het ’n biografie van dié merkwaardige monster gelees en daar en dan die bloudruk vir my eie ikoon gekry.


Die Suid-Afrikaanse ambassadeur in die onafhanklike swart tuisland van Bapetikosweti (1981-1993).

In my eerste eenmansvertoning, Adapt or Dye, het my Evita in ’n pienk tabberd verskyn, met ’n pelsjas en groot Marie du Toit-hoed bo-op ’n serp wat versigtig soos ’n tulband om haar kop gedraai is. Oornag het dié gesig bekend geword en was sy die teiken van ’n geskinder en gesis. Ek het gou besef dat ek met haar gladde bek baie verder kan gaan in my kritiek op die samelewing, juis omdat sy aan “die vyand” se kant was. Daar was net een voorskrif: Moet nooit nulle bylas vir effek nie. Hou so na moontlik aan die waarheid; minder Van der Merwe-grappe en meer Botha-aanhalings. Toe Barry Hough my een aand tydens ’n onderhoud vir Rapport in die voorportaal van die Markteater vra wat Evita se van is, sien ek ’n plakkaat teen die muur agter hom. Dit was vir The Seagull met Aletta Bezuidenhout. “Bezuidenhout,” het ek geantwoord, asof dit algemene kennis is.


Evita ontmoet Nelson Mandela by ’n ANC-saamtrek in Retreat net voor die 1994-verkiesing. Sy, geklee in haar oranje, blanje, blou Voortrekkerrok, het vir hom ’n bak koeksisters gegee. (Foto: Benny Gool)

Tannie Evita is gebore as ’n karikatuur van ’n tipiese volksmoeder, maar soos haar beroemdheid uitgekring het, het almal gou besef dat daar meer in Evita steek as ’n tradisionele tannie. Sy is ’n vrou met ’n opinie, elegant en modern, wat nie net in parfuum, haarkappers of supermarkte belangstel nie. Het sy kinders? Wat is haar politiek? Wat dink sy hiervan? En daarvan? Die media was verbaas oor haar humor, gemeng met ’n tikkie boerewysheid. Ná amper veertig jaar van babbel en blerts, het sy meer as genoeg opinies oor gister, vandag en môre om ure lank te praat. My grootste verpligting teenoor haar is om ’n dieet te volg sodat die vroue in die gehoor ’n vrou sien en die mans vergeet van die man in die rok.

Die feit dat Evita nie van my gehou het nie, was ’n bonus. Sy kon na my verwys as ’n skandvlek op die volk, ’n man wat vroueklere dra. Om nie te praat van die vieslike dinge wat hy op die verhoog oor haar en die regering kwytraak nie! Sy het glad nie ’n sin vir humor nie en verstaan doodeenvoudig nie ironie nie, wat haar nog meer herkenbaar maak, nie net in Suid-Afrika nie, maar waar sy ook al in die wêreld optree. Die meeste van ons het al met so ’n skepsel te doen gehad. Soos vir haar naamgenoot in Argentinië, is dit ook nie nodig om ’n traan vir haar te stort nie.


Evita met Aartsbiskop Desmond Tutu. Hy noem haar Ousie!

Noudat sy in haar tagtigs is (sy sal altyd tien jaar ouer as ek wees), is mevrou Bezuidenhout ’n lid van die ANC en kook sy versoeningsetes in Luthuli-huis waar sy almal op dieet geplaas het. Haar drie kleinkinders (nieblank) is haar inspirasie en die rede waarom sy glo dat ons moet onthou waar ons vandaan kom sodat ons saam die toekoms kan vier – iets wat sy met oorgawe vir almal vertel. Sy het ook my enigste mondstuk geword om die state of the nation te kritiseer sonder om ’n vloed van verwoede #haatspraak te ontketen. Ek probeer om nie ’n wit mond te wees wat swart optrede afbreek nie. Die gebruiklike reaksie op wit kritiek is om dit geïrriteerd as wit geraas af te maak. Wanneer dit van Evita kom, styg dit egter bo die gedruis uit. Dan wil die burgers saamspeel. Hoe kan jy aanstoot gee as jy nie bestaan nie?


1994: Evita en Cyril Ramaphosa vang vis in die ou Noord-Transvaal.

Nelson Mandela het haar altyd geniet. Indien daar een goeie rede vir haar bestaan was, was dit haar vermoë om hom te laat lag. Ek is dikwels na fondsinsamelings en etes genooi om vir my vyftien minute van roem op hoë hakke die nuutste oppergode op die Olimpus van mag te vermaak – Oprah, Bill Clinton en Koningin Beatrix van Nederland. Een aand het Evita en Madiba ’n oomblik langs mekaar op die rooi tapyt gestaan. Deur saamgeperste lippe het ek gefluister: “President Mandela? Every time you see me, I’m dressed as Evita Bezuidenhout.” Hy’t met ’n glimlag geantwoord: “Don’t worry, Pieter, I know you’re inside.”’


Evita groet vir Nelson Mandela by FW de Klerk se 70ste verjaardagdinee met FW en Elita de Klerk en Desmond Tutu op die agtergrond.

Pieter-Dirk Uys: Weerklink van 'n wanklank

Подняться наверх