Читать книгу Pieter-Dirk Uys: Weerklink van 'n wanklank - Pieter-Dirk Uys - Страница 6
In die voorportaal
Оглавление“Suid-Afrika behoort aan almal wat daarin woon, verenig in ons verskeidenheid.”
– Die aanhef tot die Suid-Afrikaanse Grondwet
Ek het besluit om al die foto’s in dié boek in swart en wit te druk omdat ek weet dat lesers se verbeelding dit sal inkleur – en omdat ek in ’n swart en wit land grootgeword het waar “slegs blankes” my lewe oorheers het, weerspieël dit een van die wegwysers in my lewe.
Ek sit op die rotse by Bloubergstrand en kyk oor die see na Robbeneiland. Tafelberg is daar, soos altyd, soos deur my ganse lewe, maar is tog met elke kyk anders. Soos ’n toneelstuk voor ’n nuwe gehoor, lyk die berg keer op keer nuut, vars en opdringerig, klipkaal in die son of toegetrek onder wolke. Dis die oomblik wat soos ’n weggooistelling op ’n T-hemp klink: die eerste dag van die res van my lewe – 11 Februarie 1990 – die presiese oomblik toe die voormalige gevangene 466/64, Nelson R Mandela, ná 27 jaar die laaste treë na vryheid deur die hekke van die Victor Verster-gevangenis (nou die Drakenstein Korrektiewe Sentrum) gestap het, hand aan hand met sy vrou, Winnie.
Die bekendste persoon in die wêreld sou binnekort my president word, demokraties verkies deur die burgers van my land. Op daardie dag het hy my bevry uit my persoonlike tronk van vooroordeel en vrees en op 27 April 1994 het ek vir die eerste keer in my lewe wettiglik saam met almal – absoluut álmal in die land – in ’n tou gestaan. Terselfdertyd het my loopbaan as politieke satirikus oornag, saam met apartheid, tot ’n skielike einde gekom. Maar net vir ’n paar dae. Nelson Mandela se sin vir humor het my aangespoor om te bly soek na die mock in democracy en die con in reconciliation.
Daarom begin ek my storie agter sodat mý groot trek almal kan vermaak en verlig met die wete dat daar wel ’n gelukkige einde wag. Só sal julle die kleiner wegwysers op my pad herken wat my saggies in ’n sekere rigting gestuur het, sowel as die groot rooi waarskuwingstekens van dood, vrees, terreur en glorie wat my gedwing het om ’n ander rigting in te slaan.
Dit was net deur ’n proses van onthou, naslaan en opgrawe dat ek my grootwordjare in ’n mynveld van agterdog en vrees kon herroep en kon sien hoe dit my karakter en persoonlikheid gevorm het. Om dié proses en energie op die verhoog oor te dra, is moeiliker as om enige van die tagtig-plus skelms, skarminkels en skepsels wat ek tot dusver losgelaat het, te speel. Ek is nie ’n maklike karakter nie.