Читать книгу Pieter-Dirk Uys: Weerklink van 'n wanklank - Pieter-Dirk Uys - Страница 11

Die rolverdeling

Оглавление

My pa, Hannes (Johannes Dirk Jacobus) Uys (9.12.1906 – 21.12.1990), en my ma, Helga Maria Bassel (2.7.1908 – 25.6.1969).

My suster, Tessa (Theresa Hannelore) Uys (geb. 11.8.1948).


LINKS NA REGS.

Susanna (Sannie) Abader (28.9.1918 – 25.7.2004), my Kaapse Vlakte-ma.

My ma se ma, my ouma Theresa Bassel (1.4.1880 – 24.10.1960).

My pa se ma, my ouma Gertruida Leonora (ant Gertie) Uys née Malan (22.9.1872 – 27.8.1964).

Die foto’s in dié boek het my gehelp om die storie binne te nooi. Die mense daarop se lyftaal vertel my meer as die name en verduidelikings wat soms agterop ’n kiekie gekrabbel is. Oë wat stip staar, gespanne glimlagte, gebalde vuiste en ongemaklik gedraaide voete verklap dikwels meer as wat die lede van die gesinsgroepering van moeder, vader en kinders sou wou hê. Spanning en verveeldheid het dikwels die bevel: “Glimlag, almal!” weerspreek. Soos stukkies van ’n legkaart het die foto’s op die eetkamertafel gelê. Soms is een hiernatoe geskuif en ’n ander daar geplaas, van kleintyd tot tienerjare, van goue kuif na bleskop-kaalkop. Elke hopie is belangriker as die vorige tot die volgende pakkie met sy storie reg lê. Benewens alles kon ek nie besluit waar om aan die sandkasteel te begin bou nie. Die buitemure? Die binneplein? Die gordyne? Die kat? Waar begin jy ’n sandkasteel bou? Dit moet wees met Sannie.

“Wat sou tog van ons geword het sonder ons meid?” was ’n refrein in die meeste wit huishoudings in daardie jare. Tessa en ek sou ons nie ’n lewe sonder Sannie kon voorstel nie. Sannie se stories alleen sou honderde bladsye kon vul, van die drama toe ons ’n verkleurmannetjie in haar bed gelos het tot die aande toe sy ons ge-babysit het wanneer Ma en Pa ’n film in die Pinewood Cinema gaan kyk het, waar films met subtitels vertoon is. Sannie het dit oorsese films genoem. Ek en Tessa sou in ons pajamas saam met Sannie en haar twee vriendinne wat ook in Pinelands gewerk het en gereeld kom inloer het aan die eetkamertafel sit. Ons het dominoes gespeel, nie rustig soos wit mense nie, maar met wilde opgewonde gille tussen die harde neerklap van die dominoes op die houttafel.

Ek vind toe tussen al die goeters ’n bladsy waarop ek in ’n kinderlike handskrif in 1961 aan myself geskryf het. (Nogal in Engels, dalk ’n teken dat dit amptelik was; Afrikaans was altyd die taal van genot en vreugde vir my.)

Herewith I wish it known that the period from 8 February has been unbearable – having to work all day and not being able to manage it. I worry about so many things. Doing cadets at school worries me because I’m scared my uniform won’t be clean enough and that I might do something wrong. I always see that my uniform is very clean. All my homework is terrible – there is never something to look forward to. Now Ma is sick, Oma [Bassel] also, and both in hospital. Pa is also unhappy and only Tessa understands what’s happening. Sannie is bedon***d, but strangely can be handled for a change. I worry about everything, about every possible stupid pointless unnecessary thing – just about everything. I can’t sleep because I worry so much about everything. It’s making me quite sick. Now the concerts lie ahead, also the work for the [school] bazaar and sport and I really don’t know how I can manage everything, but we must just see what happens and hope for the best. (Signed) Pieter Dirk Uys.

Ek besef nou eers werklik hoe diep die bang in my lewe geloop het, hoe ek my oor alles en nog wat bekommer het. Dit het amper 50 jaar geduur voor ek besluit het om die p-woord te gebruik om vrees te beveg: pret! En dat die geluid wat weerklink nie net ’n wanklank hoef te wees nie, maar dat dit ook ’n geproes van plesier kan wees. Elke sepie het sy sterre. Elke drama draai om die karakters se emosies. Elke komedie het ’n nar. Nou weet julle wie van die lede in die orkes was wat die concerto grosso van beskerming om my gespeel het.


Die adres wat ek as kind gegee het: Homesteadweg 10, Pinelands, Kaapstad, Suid-Afrika, Afrika, Die Wêreld, Heelal en Verder. My kamer is die een met die venster links bo.

Pieter-Dirk Uys: Weerklink van 'n wanklank

Подняться наверх