Читать книгу Pieter-Dirk Uys: Weerklink van 'n wanklank - Pieter-Dirk Uys - Страница 8
Soek nat sand
ОглавлениеMy nuutste sandkasteel het ’n naam gekort en het met ’n Engelse titel begin. The Echo of a Noise. Die weerklink van ’n wanklank. Maar wat beteken dit? Is ek die weerklink van ’n wanklank uit die verlede? ’n Gister-gees wat vasklou aan die wrak van ’n politieke passasierskip wat in 1994 op die rotse van verandering geloop het? Of is ek die eggo van daardie gister se rommeling wat homself slim herskep vir die toekoms? Ja, dit alles en nog meer. In Afrikaans, my moedertaal, het al dié dinge my nog nader aan die hart gelê. Maar wat moet dit wees? ’n Satiriese revue? Kan dit in boekvorm betekenis vind? Of is dit net nog ’n outobiografiese Groot Trek die bekende onbekende in?
Ek het reeds twee memoires uitgegee. Die eerste was Elections & Erections – A Memoir of Fear and Fun in 2002 deur Zebra Press gepubliseer. Verkiesings was toe deel van die proses van grootword in die wit paradys genaamd Suid-Afrika, en die “ereksie-seksie” het gehandel oor ’n nuwe virus waarvoor daar destyds nog nie ’n teenmiddel was nie. Apartheid was die eerste virus wat ek in my lewe moes beveg; MIV die tweede. In 2005 was Between the Devil and the Deep – a Memoir of Acting and Reacting op die rakke. Dié keer was die fokus op my lewe in die teater – die skryf, vervaardiging en opvoering van dramas in die twee wêrelde wat my lewe vorm, die afsonderlike ontwikkeling van gister en die ongebonde vryhede van vandag.
Natuurlik het my musikale gesin hoofrolle in albei beklee. My pa, Hannes Uys, en my ma, Helga Bassel, hand aan hand met Mozart, Schumann en Chopin, asook twee oumas, een ’n Afrikaanse matriarg en die ander ’n gemütliche Deutsche Oma. Daar was een oupa wat ek vaagweg onthou en ’n suster – Tessa – wat die Jin tot my Jang geword het, die begeleiding vir my lied. Saam het ons gebang en baljaar, baklei en gebraai in ons ineengevlegte kultuurkoeksister van Afrikaans, Engels en Duits.
Ek wou nie die paadjie deur die mynveld vol herinneringe loop nie, maar soos alte dikwels wanneer jy iets beplan, gebeur die teenoorgestelde. Ná die verkenningsreis deur foto’s, familiealbums, briewe en bedoelinge, het ek begin skryf oor twee mense wat my vertelling ongenooid binnegesluip het. Die een is ’n kleurryke, komplekse, soms misterieuse man – my pa. Ons verhouding was ingewikkeld en verward. Ons het gedurig gebots. Dán was ons maats, dán was ons in ’n skermutseling met mekaar. Die ander is ’n vrou – parmantig, teer en wys. Nie my ma nie. Sannie Abader het saam met ons geleef, onder die banier van huishulp en wat-sou-ons-sonder-haar-doen. “Die Uyse se meid.” Sy het dekades van haar lewe met ons gedeel en het ’n onherroeplike invloed op my ontwikkeling as jong mens gehad, eers as Pietertjie Uys en later as Suid-Afrikaner. Hierdie twee mense het na vore getree uit die magdom byspelers wat my ondersteun en help sin maak het van die wanklanke in my lewe.
Ek het met opset besluit om hierdie reis sonder die Tannie aan te pak. Evita Bezuidenhout is vir so lank my alter ego dat sommige mense dink ek kan niks anders doen nie. Ek sal nie stry nie. Die gans wat die goue eiers lê, sal nie sommer in die pot beland nie. Maar daar is ander geluide wat deur my lewe eggo. Musiek is nooit ’n wanklank nie; dis eerder die klankbaan van my lewe. Dit is my eerste inspirasie. As ek die regte musiek in my kop kan speel om die perfekte atmosfeer te skep, is enige storie moontlik – en welkom. Vir dié sage kies ek die werke van Brahms, Schumann, Scarlatti en Liszt met hier en daar ’n lied deur Mimi Coertse. Ek het deur die jare ontsaglik baie klassieke musiek leer ken, maar kan selde my vinger op die naam van die komponis of die stuk lê. Dis die storie van my lewe en bewys dat die sambreel van ’n bietjie kennis jou in ’n stortreën kan droog hou. Dis in musiek dat die asem van die lewe weerklink. Die een kan nie sonder die ander bestaan nie.
Maar dié sandkasteel het nie plek vir die bekendste wit vrou in Suid-Afrika nie. Sy en haar geleende diamante is nie welkom in dié toring nie en sy sal hulle nie hier flits om die oog van die ridders van die Orde van Amandla op hulle wit perde (of in hulle nuwe Mercedesse) te vang nie. Dit is PDU sonder die grimering! Sonder enige rekwisiete, vals wimpers of hoë hakke om agter weg te kruip. Die eggo’s wat ek hier laat hoor, sal vir die eerste keer gehoor word. Laat ek dus eers vriendelik mevrou Bezuidenhout afhandel.