Читать книгу Pieter-Dirk Uys: Weerklink van 'n wanklank - Pieter-Dirk Uys - Страница 12

Stel die toneel op

Оглавление

Dit het gekrap en gesuis, nog voor die kind se stemmetjie die hoogste C gevat het. Die naam van die ding was mos langspeelplaat, nie solus sewe of ’n 45 rpm-plaat met ekstra snitte nie, maar ’n regte LP wat meer as vyftig minute lank aaneen kan speel. Die seun met die sopraanstem was nie ’n lid van die Weense Seunskoor nie; dit was ek! Die plaat se kartonomslag met die titel Die Heer is my Herder het op die tafel gelê met Pietertjie Uys se gesiggie pragtig groot teen ’n blou agtergrond daarop.

Dit was eintlik nie Pa wat die begeleiding gedoen het nie. Dit was Ma. Helga Bassel het uitgehelp, want Hannes Uys was te besig om alles te doen: Hy moes afrig, hy moes organiseer, hy moes dit doen en hy moes dat doen. Toemaar, was Ma se kalmerende woorde, “I’ll do it.” Ek was meer ontspanne wanneer sy my begelei. Pa het altyd op my geskree. Ma het net geglimlag.

Die Uyse – ek, Ma, Pa en Tessa – sit tjoepstil met ons oë vasgenael op die grammofoon, ’n groot, blink donkerhoutkis wat ook die radio huisves en die parkeerplek is vir al Pa se kosbare, breekbare plate met klassieke musiek, ernstige opera en die gebruiklike gewyde oratoria. En nou ook Hannes Uys se Kindersang-kring!


My eerste toorkis, die grammofoon wat ek versigtig kon gebruik om na my eie 78 rpm-plaat Peter and the Wolf te luister. Die twee soplepels as begeleiding was opsioneel.

Wie sou kon dink dat langspeelplate in ons leeftyd iets van die verlede sou word? Dat dit sal plek maak vir die d-woord: digitaal? Maar in 1959 het dié moontlikheid nie bestaan nie. Beslis nie in Homesteadweg 10, Pinelands, daar waar die Uyse gewoon het nie.

Baie Afrikaanse wit mense het seker ’n spesiale plek waar ons veilig grootgeword het, waar ons drome as ambisies ontwaak het en waar ons lesse geleer het, soms op die harde manier. Vir sommige was dit ’n boereplaas; vir ander ’n Withuis. Vir ons was dit Sonskyn, ’n dubbelverdiepinghuisie met ’n grasdak soos dié wat jy dikwels in Britse rolprente sien. Die tuiste van Ma, Pa, Pieter, Tessa en Boeboe die kat, met Sannie in die buitekamer. Pa het die huis in 1949 gekoop, met geld wat hy by ’n ryk neef geleen het. Elke maand het hy dit uit sy salaris afbetaal, insluitend die wrede rente. Dié oom was sekerlik een van die rykste lede van die Afrikaner-Broederbond. Miskien was dit die begin van my afkeer van alles wat hy verteenwoordig het. Ek onthou die ongemaklike middagetes in die groot herehuis wanneer die Uyse in pakke en pêrels saam met hom en sy derde vrou aangesit het. Ons moes dankbaar wees en ons plek ken terwyl Pa homself oor en oor verneder om te wys hóé dankbaar hy is. Dit het my groot genot gegee om later die skuld en uitgawes van Sonskyn oor te neem. Maar hokaai, eers moet ons ’n hele paar oorvol riviere oorsteek.


1958: Die eerste LP as bewys van Pa se prestasies – Die Heer is my Herder met die Maria Callas van die koor op die omslag.


Dis Kersfees het in 1960 verskyn.

Ek kan nie onthou of ek senuweeagtig was om na die plate te luister nie. Die eerste plaat kon jy nie miskyk nie: Pietertjie Uys met sy engelglimlag, iets wat hy vinnig aangeleer en dikwels gebruik het. Die omslag van Dis Kersfees wys die hele kindersangkring saam op die kerk se balkon met die orrel met die silwer pype op die agtergrond, soos sipresse in ’n begraafplaas. Pa sit voor die orrel en maak asof hy speel. Ons kinders staan gevries, bekkies oop soos honger witogies, oulik en rein, want Liewe Jesus het ons dopgehou terwyl die Heilige Gees sy voet liggies stamp en die duiwel weghou …


Ons oefen in die sitkamer om Pa se klavier. Heel voor langs Tessa is klein Laurika Rauch.


Die konsertprogram van die uitvoering in Bellville se NG kerksaal op Saterdag 19 Augustus 1961.

Pa het altyd trots en tevrede gelyk wanneer hy na die vrug van sy arbeid, dissipline en aandrang op perfeksie geluister het. Ma het aandagtiger gesit en luister met haar effens skewe glimlaggie, versigtig om nie krities te wees nie. Daar het dikwels verkeerde note in Pa se begeleiding opgeduik en ons kinders het lustig vals gesing. Maar dit was die eerste keer dat ’n Afrikaanse kinderkoor geestelike liedere uit Boheme (vandag deel van die Tsjeggiese Republiek), Duitsland, Oostenryk, Nederland, Pole, Portugal en Brittanje aangepak het – in Afrikaans, vertaal deur oom Hannes Uys en begelei deur oom Hannes Uys. En is dit ’n stukkie Mozart daardie? Wat van die ander oulike liedjie? Is dit Latyns wat ek daar hoor? En Duits! Maggies! Alles met oom Hannes Uys as dirigent. Verbeel jou!


Nog ’n konsert, dié keer met orkesinstrumente, voor die Epworth-musiekvereniging.


Pa se koor vir grootmense in die NG kerk, Parow.

Pa se stories het my verbeelding laat vlamvat en alles het altyd in kleur in my gedagtes afgespeel, al was die meeste films in my kleintyd in swart en wit. Soos die baie avonture van Hannes en sy twee susters, Hannie en Anna, veral die keer toe hulle hulle sakgeld bymekaargesit en hulle streng gelowige ma genooi het om saam bioskoop toe te gaan vir die middagvertoning. Gertie Uys was ’n teenstander van sulke goddelose invloede en vir haar was die bioskoop die voorportaal van die hel, maar die kinders was so oulik dat sy nie kon nee sê nie.

Sy het seker gebid dat die dominee haar nie sien nie en het dwarsdeur die cowboy-fliek gesit en sug. Maar die serial was ’n ander storie! Ten spyte van haar afkeer en haar morele standaarde, het sy daarna die kinders elke week teruggestuur met streng instruksies om te gaan kyk hoe daardie onwelvoeglike vervolgverhaal ontplooi.

Om te verduidelik waarom hy so lekker jazz uit die klavier kon toor, het Pa ons vertel van die danse waar hy en sy orkes tydens sy studentejare aan die Universiteit van Kaapstad gespeel het. Ons was baie beïndruk, hoewel ons nooit uitgevind het of hy ooit sy graad gekry het nie. Hy het ook vertel hoe hy in die vroeë 1930’s per skip Engeland toe is en daar ’n filmkontrak aangebied is deur niemand minder as Ivor Novello nie! Of was dit Noël Coward? Miskien albei. Dit maak nie saak nie.


Pa se jazz-orkes.

Die groot jammerte was dat sy ma haar voet neergesit en haar seun beveel het om dadelik huis toe te kom. Hoeveel keer het hy my nie daaraan herinner dat hy sy film- en toneelloopbaan prysgegee het om ’n gesin te hê nie? Veral net voor ’n openingsaand. Sy talent vir stories vertel en die manier waarop hy hulle altyd vars gehou het, het bewys dat hy ’n goeie akteur sou gewees het.


Die Uys-gesin van die Paarl in 1912: Tielman Marais en Gertie Malan Uys met Johanna (Hannie) langs haar pa, klein Anna op die stoeltjie en Hannes, die enigste seun, op die hobbelperd.

Ons het ’n tyddeelplot in die Paarl. Dis in die begraafplaas langs die Bergrivier. Die meeste van die familie is al daar. ’n Grafsteen vir Hannes Uys en Helga Bassel. Pa se ouers, Tielman en Gertie. Sy suster, Anna. Sal ek en Tessa ook eendag daar spook? Wie weet? Pa se pa was ’n ingenieur in die Paarl gedurende die Eerste Wêreldoorlog, dalk een van die eerstes. Hy’t ’n motorfiets gehad en het met sy seuntjie agterop op die gruispaaie na die plase gery waar hy dorsmasjiene – toe ’n nuwigheid – reggemaak het.

Die Uyse het ook, volgens Pa, die eerste kar in die Paarl gehad: ’n Maxwell. Hulle’t langs die Toringkerk gewoon waar klein Hannes op 12 begin het om elke Sondag die diens op die groot orrel te begelei. Sy bene kon nog nie die pedale bereik nie en sussie Anna moes hulle op die regte noot met die hand afdruk.

Pa het sy stories oor en oor vertel en elke keer ’n ander afdraai gevat waar nóg groter wonders en verrassings op ons gewag het. Veral die een waar hulle drie in die droë rivierbedding onder in die dorp gespeel het en amper dood is. Amper, ja, maar die detail was altyd ’n variasie op die tema. ’n Vloedgolf het soos ’n tsoenami op hulle afgekom en die water het soos donderweer gerammel. Of ontplof soos Vesuvius. Of dit het gevoel of die wêreld vergaan. Maar hulle het elke keer net betyds ontsnap.

Ons het hom altyd gevra om hierdie storie vir ons vriende te vertel, net om te sien hoe dit dié keer gaan eindig. Sy manier van aanlas en uitbrei was ’n talent waarvan ek iets geërf het. Slim borduursels kan aanleiding gee tot ’n War and Peace, of die erfenis van ene William Shakespeare.

Ek was van vroeg af bewus van Uncle Jack. Pa het dikwels gepraat van sy beste vriend met wie hy ’n woonstel gedeel het. Hy het meermale gesê dat dit ’n wonderlike tyd in sy lewe was, dat hulle twee baie opwindende dinge gedoen het. Gereis. Gelag. Gelukkig was. Saam. Dan het Ma net aanhou brei, met dieselfde belangstellende glimlag waarmee sy altyd stories oor Uncle Jack aangehoor het. Pa se herinneringe aan hulle vriendskap en hoe wonderlik dit was en hoe verpletter hy was toe sy beste vriend skielik oorlede is, het Uncle Jack die vyfde lid van ons gesin gemaak.


Die passie waarmee Pa vir my klavierlesse gegee het, het net nie gewerk nie. Ek was te lui. Hy’t belangstelling verloor, maar het altyd gesê: “Jy sal dit eendag berou.” Hy was reg.


Hannie, Anna, Uncle Jack en hond.

Nou kyk ek na die vergete ou foto’s, nie net dié een nie, en die emosies wat hulle uitbeeld. Dit wys ’n jong Hannes saam met die ouer Jack en ’n vriendskap wat nou vir my baie sin maak. Sou ons ooit sonder verleentheid of doekies omdraai oor daardie deel van Pa se lewe kon gepraat het? Oor ’n liefde wat toe, uit vrees vir ’n wanklank, nie ’n geluid mag gemaak het nie sodat daar vandag geen weerklank is nie.

Ek kyk nou met bewondering terug na Pa se intense betrokkenheid by sy musiek, veral by sy kore wat liedere gesing het wat nooit vantevore in die NG Kerk gehoor is nie, waar destyds slegs gewyde musiek in ’n voorgeskrewe styl toegelaat is. Hannes Uys het gelowiges omvou met die allerpragtigste koorsang in verskillende stemme met woorde wat hulle kon verstaan, vertaal uit ’n magdom tale om hulle Afrikaanse God te verheerlik.

Ek het eers later besef dat Pa die verbode musiek van Katolieke komponiste aangepas en die propaganda van die Roomse Gevaar herskep het tot mooi Afrikaanse gesange oor liefde en hoop. As die kerkgangers maar net besef het dat dit duiwelse musiek was wat nou in hulle Calvinistiese tempels weergalm het! Dit was dus goed dat daardie liedere op plate vasgevang is sodat ouers hulle kinders kon prys en Pa sy sukses kon vier – en Ma haar kop kon knik met haar effens skewe glimlaggie.


Die Bassel-kinders in Charlottenburg, Berlyn: Maria, Helga en Gerhardt.

Ma se pa, Bertoldt Bassel.

Die grootste verloëning in my lewe is die waarhede rakende my moeder. Ek sê “waarhede”, want daar is verskillende weergawes van elke storie. Ek sal nooit weet watter een die naaste aan die waarheid is nie. Helga Bassel se lewe is gehul in geheimenis en bly vir my duister. Ek het van die flenterstukkies aanmekaargeflans, maar daar is gapings wat ek met my verbeelding moes invul. Haar grootwordjare en jeug in Duitsland is vir ons geanker in die storie van die dood van Maria, haar ouer suster. Het sy aan griep gesterf? Was dit masels? Soms is breinvliesontsteking genoem. En waar is sy begrawe? Ek kon Marlene Dietrich se graf in Berlyn besoek, maar weet tot vandag toe nie waar om te begin soek na meine Tante Maria se rusplek nie.


Helga Bassel plat in die sneeu in haar geboorteland, Duitsland.

Helga Bassel en haar verloofde, dr. Franz Michels.

Soms het iemand iets laat val oor hulle geskiedenis, gewoonlik Oma Bassel. Dit was gewoonlik getemper deur haar fantasieë wat die reuk van naakte vrees en vlug omskep het in stories van warmte en geluk. Oma Bassel se kamer het altyd na die appels geruik wat in ’n bak op die ronde tafel voor die venster in die son gelê het. Haar toorgoed was die unieke smake van haar Duitse kombuis: Pfefferkuchen, Wiener Schnitzel en Apfelstrudel. Ons FAK-liedjies om die kampvuur is soms oorweldig deur haar Duitse stories wat sy met wysies en danspassies vertel het.

Dan is daar die paar keer, wat helder in my geheue is, wanneer sy en Ma voor die vuurherd in die sitkamer in Pinelands gesit het, albei besig om iets te brei wat deel sou word van ’n geel trui vir my twaalfde verjaarsdag op 28 September. Oma Bassel het dan begin om ’n gedig van Rilke saggies op te sê en haar dogter het saamgefluister. Sonder om na mekaar te kyk het hulle gedemp die geliefde Duitse woorde gesê wat hulle gedagtes na ’n ver plek neem, ’n plek wat deur vlamme en vrees tot niet gemaak is. Ek het in my tienerjare gehoop dat ek hulle liefde vir die digkuns sou kon deel, maar dit is op skool en later op universiteit brutaal versmoor. Ek is bitter spyt daaroor.


Helga Bassel en Hannes Uys maak musiek in ons musiekkamer. Saans daardie tyd was Pietertjie en Tessatjie al vas aan die slaap in hulle kamers op die boonste verdieping, gesus deur die beskermengele se sang.

Helga Bassel was ’n beter pianis as Hannes Uys, selfs al was sy musikaliteit buitengewoon. Sy het geduldig haar ervaring en tegniek met haar man gedeel en hom aangespoor om ’n konsertstuk vir twee klaviere aan te pak. Dan het hy die note oor en oor geoefen terwyl hy sweet van inspanning, en woorde uiter wat ons ’n taai klap sou besorg het as ons hulle gebruik het.

Die opwindendste van alles was natuurlik die eerste keer dat “ons” plaat oor die radio gespeel is. Daar sit ons almal in ’n kring van afwagting: ek kruisbeen op die mat, Tessa op ’n stinkhoutstoeltjie, Ma al breiend, Pa wagtend. Albei oumas was ook daar om saam hande te klap. Almal se aandag is op die stuk wynrooi materiaal waaragter die luidspreker skuil en tjoepstil sy asem ophou tot die knoppie op die radio gedruk word.

Ons en die ganse wêreld sit en wag dat die SAUK se gong agtuur slaan. Boeboe kom uit die kombuis en lek sy snoet ná sy aandete. Sannie is op sy hakke, afdroogdoek in die hand, en staan in die gang buite die kombuis sodat sy ook Master se koorsang kan geniet.

Ja, dít is dalk die perfekte manier om hierdie Groot Trek te begin. Met musiek. Pa se musiek, en ek wat Pa se woorde sing. Pietertjie Uys, dertien jaar oud met ’n stem wat nog nie gebreek het nie. Met sy klein wêreld buite die deur nog plat soos die Groot Boek wat sê dis nie plat nie en sy tuisland wat in vyftig skakerings van monochroom gekleur is. Met Eau de Bang as die kenmerkende parfuum van die lewe.

Die radiostem kondig aan:

En nou gaan ons luister na die oulike stemmetjie van Pietertjie Uys. Hy is van Pinelands in Kaapstad, en hy word hier op die klavier begelei deur sy vader, Hannes Uys. Pietertjie Uys sing nou “Maria se Wiegelied” deur Max Reger.

Ek sit op ’n kroegstoeltjie en luister na my kinderstem. My lippe beweeg nou nog saam met die woorde:

Maria sit met rosekrans en wieg haar Jesuskind

Deur die blare liggies waai die warme somerwind

So helder sing daarbo ’n voëljie in die lug so blou

Slaap kindjie soetjies

Sluimer nou …

Die stemmetjie rits boontoe tot by die hoogste noot. Ek hoor hoe die gehoor bewonderend na hulle asem snak. Ek trek my swart mussie oor my kaalkop. Net my gesig steek uit om te wys wie ek is; die res is geklee in ’n swart broek en swart T-hemp, jare gelede gekoop in New York se teaterdistrik. Voorop is die woorde “ALMOST FAMOUS”.

Dis tyd om te praat.

Pieter-Dirk Uys: Weerklink van 'n wanklank

Подняться наверх