Читать книгу Piekfyn Afrikaans Leesboek Graad 8 Eerste Addisionele Taal - Riens Vosloo - Страница 12
Die reis
ОглавлениеBarry Hough
Prelees – groepbespreking
Bespreek die volgende met ’n maat:
Ken jy iemand wat hakkel of stotter?
Hoe, dink jy, tree mense op teenoor mense/kinders wat hakkel?
Hoe behoort ’n mens op te tree?
Kyk na die illustrasie en voorspel wie die hoofkarakters in die verhaal is.
Voorspel wat die betekenis van die titel is. Waarna kan die “reis” moontlik verwys? Dink aan ’n letterlike reis en ’n figuurlike reis. (Raadpleeg ook ’n woordeboek, indien nodig.)
Gesels oor die bekroonde film The king’s speech – wat het julle die meeste aangeraak?
Die verhaal
“Hoekom hakkel jy nie as jy skree nie?”vra Thembi hom waar hulle pouse op die bank onder die peperboom met sy fyn blommetjies sit. Sy draai haar gesig weg van Johan sodat sy lippe aan haar dun vlegseltjies met die krale raak.
“Ek soen nie ’n seun wat hakkel nie. And do we really want to spoil a lovely friendship by complicating it?” Haar lippe trek en hy kan sien sy probeer hard om nie te glimlag nie.
“M-m-maar dis d-diskriminasie,” lag hy. En tog klem sy vuiste sodat sy naels in sy palms insny. “Ek h-hakkel ook nie as ek sing nie.”
“Die lewe is nie ’n musical nie. Wanneer jy vir my kan fluister sonder om te hakkel, whisper sweet nothings, dan kan jy my soen.” Thembi vou Johan se vuis oop en druk sy hand saggies.
Die klok lui.
Gedurende Wiskunde ruik hy nog steeds die soet geur van Thembi se vlegsels en haar wreedheid krap aan hom. Hy begryp dit nie.
Toe sy by die skool gekom het, was hy van die begin af vriendelik teenoor haar, al het sy hom eers gewantrou. Haar ouers het ver weg gewoon en sy was ’n kosganger. Hy het haar eensaamheid aangevoel en sy ouers gevra om haar een Sondag vir middagete te nooi. Thembi en sy ma het goed klaargekom en sy het ’n gereelde besoeker geword.
Hy het sy ore oopgehou. Niemand het rêrig nare dinge gesê nie. Maar die uitdrukking in die ander se oë het erger gekwets. En dis dié stil “taal” wat hy eerste leer lees het – vandat hy geweet het sy manier van praat maak hom anders as ander kinders.
Dit was sy begrip vir hierdie taal wat hom na aan Thembi en beskermd teenoor haar laat voel het. Nie dat Thembi eintlik ooit beskerming nodig gehad het nie. Sy was bekkig, skerp. En deesdae is sy voorsitter van die debatsvereniging. Hoewel haar Afrikaans soms bietjie skeef uitkom, is haar Engelse uitspraak volmaak.
En Thembi is slim, veral in Wetenskap en Biologie. Sy wil ’n dokter word, soos haar pa. Sy wil dinge dóén, nie net praat nie. Van politici hou sy nie. “Hulle is almal word pedlars,” sê sy. “En woorde is goedkoop. Hulle praat almal ’n gat in die kop.”
Tog het Johan haar betrap op die dag van president Mandela se inhuldiging. Hy en Thembi en ’n paar maats het by sy huis TV gekyk. Thembi het lekker saamgelag oor die snaakse hooftooisels en uithangmodes – oor Marike de Klerk wat ’n bietjie soos Meryl Streep in Out of Africa lyk, en oor Mandela se dogter wat so onder haar groot-groot hoed wegkruip.
Johan het saamgeskerts hoewel sy aandag meer vasgevang is deur die sprekers. Hulle praat almal seepglad, het hy gedink. Die mense wat kommentaar lewer, en die imbongi wat so singpraat.
Maar toe Die Stem en Nkosi Sikelel’ iAfrika speel en die kanonsaluut opklink en die vliegtuie verbyvlieg terwyl Mandela met sy hoed op sy bors staan, loer Johan vir Thembi en sien hoe sy trane afvee. Hy stamp aan haar. “Ek dag hulle’s almal w-word pedlars.”
“Suka!” sê sy vir hom en maak ’n vee-gebaar met haar hand. Later is haar enigste verweer: “You also shed a tear, Boertjie.”
Die voorlaaste periode is Engels. Terwyl Miss Cooke voortteem oor die voortreflikhede van Shakespeare se Romeo and Juliet en hoe eietyds Shakespeare eintlik bly, beland ’n nota op Johan se lessenaar.
See you on the rugby field after school.
Thembi xxx
Hy probeer haar aandag trek, maar sy luister aandagtig na Miss Cooke. Gedurende die laaste periode kry hy ook nie met haar gepraat nie.
Maar ná skool wag sy vir hom op die rugbyveld. Toe hy by haar kom, sê sy: “As jy kan skree sonder om te hakkel, kan jy praat én fluister sonder om te hakkel. Ek het ’n plan. Ek begin by die een stel pale en jy by die ander. Dan loop ons na mekaar toe. Jy skree vir my sodat ek jou kan hoor. En hoe nader jy aan my kom, hoe sagter praat jy. Later sal jy kan fluister.”
Johan ontplof. “Julle kan almal in julle hel in vlieg!” skree hy. “Dink jy ek probeer nie al jare nie? Spraakterapeute en sielkundiges. Vandat ek só hoog is. Oor die foon sukkel ek. Met mondelinge. Die kinders het vir my gelag. Altyd vir my gekyk of ek dom is. Die familie het altyd raad gegee. ‘Maak hom skrik. Sit klippe in sy mond. Laat hom sing.’ Ek is keelvol! En nou jý!”
Hy sien Thembi wil haar hand na hom uitsteek maar sy huiwer, sê sag: “Dink jy ék weet nie hoe dit voel nie?” Sy draai om en loop weg.
Toe sy deur die hek is en om die hoek verdwyn, brul Johan en gooi klippe teen die pale.
Die volgende dag is dit hy wat ’n briefie aanstuur.
Ná skool wag Thembi op die rugbyveld.
In die weke wat volg, is sy stem dikwels hees. Niemand behalwe hy en Thembi weet waarom nie.
Toe die peperboom vol rooi trossies staan, begin hulle nie meer by die pale nie en Johan skree nie meer nie. Hy praat net hard. Soms raak hy so opgewonde oor sy vordering dat hy begin stotter. Dan keer Thembi hom. En net soms raak hy moedeloos omdat hulle so ver het om na mekaar te reis, en omdat dit so lank neem.
En toe, een middag kort voor die einde van die kwartaal, loop hulle so na mekaar toe. Hulle is so naby aan mekaar dat Johan al moet fluister.
Hy bly skielik staan. Sy kan die peperment in sy asem ruik. Hulle glimlag. Toe bars hulle al twee uit van die lag. Hulle skree en hardloop arms in die lug rond.
Toe hulle moeg is, loop hy weer tot bý haar. Hy fluister uitasem. Toe hy oorleun na haar, draai Thembi haar kop nie weer weg nie.
Woordverklarings
beskermend (protective) – om te beskut/behoed
besoeker (visitor) – iemand wat kom kuier/na jou toe kom
debatsvereniging (debating society) – groep mense wat deelneem aan ’n openbare bespreking
diskriminasie (discrimination) – om onregverdige onderskeid te tref tussen mense
fluister (whisper) – om sag te praat
gekwets (hurt) – emosioneel seergemaak
gewantrou (distrusted) – nie vertrou nie
hakkel (stutter/stammer) – stotter/stamel
inhuldiging (inauguration) – ’n owerheidspersoon in sy/haar amp bevestig
imbongi (praise singer) – pryssanger
keelvol (fed up) – om te veel van iets te kry (figuurlik)
kosganger (boarder; someone living in a boarding school) – iemand wat in ’n koshuis woon
moedeloos (despondent) – sonder moed
ontplof (explode) – uitmekaar bars
oorleun (leaning over) – na een kant toe staan
pouse (break) – rustyd/speeltyd (by skool)
seepglad (very smoothly) – baie glad/sonder moeite
spraakterapeut (speech therapist) – iemand wat mense help om (beter) te praat
uitasem (breathless) – sonder asem/moeg
uithangmodes (fashionable clothing) – byderwetse klere
verweer (defense) – om te beskerm
vlegseltjies (plaits/braids) – hare oormekaar gestring in vaste patroon
voorlaaste (penultimate/second last) – net voor die laaste/tweede laaste
voortreflikhede (excellent skills) – vaardighede
vordering (progress) – vooruitgang
wreedheid (cruelty) – onmenslikheid
Tydens lees:
Let op die volgende (maak aantekeninge in jou werkboek):
Wanneer die leser vir die eerste keer agterkom dat een van die karakters hakkel.
Al die tekens dat die seun hakkel.
Die verhouding tussen die twee karakters.
Hoe die twee karakters van mekaar verskil.
Hoe lyk die ruimte (plek) waar die verhaal afspeel?
Die gebruik van Engels. Is dit funksioneel?
Die oomblik dat die seun “ontplof”.
Postlees: Beantwoord die onderstaande vrae in jou werkboek (pas leesstrategieë toe). | |
1. | Lees die eerste drie paragrawe in die verhaal en beantwoord die volgende vrae: |
a) | Watter twee goed kon Johan doen sonder om te hakkel? |
b) | Skryf twee opeenvolgende Engelse woorde uit bogenoemde uittreksel neer wat sê dat hulle ’n baie spesiale verhouding het. |
c) | Hoekom, dink jy, het Thembi so dikwels Engels in die verhaal gepraat? |
d) | Wat moes Johan eers doen voordat Thembi hom sou soen? |
e) | Die woord “diskriminasie” beteken dat Thembi hom onregverdig behandel het. Voel jy dat Thembi diskrimineer? Sê JA of NEE en gee ’n rede vir jou antwoord. |
2. | Hoe het Johan teenoor Thembi opgetree toe sy nuut by die skool aangekom het? |
3. | Johan, Thembi en ’n paar maats het die inhuldiging van president Mandela op TV gekyk. |
a) | Waaroor het hulle saamgelag? |
b) | Wanneer het hulle ’n traan gestort? |
4. | Beskryf kortliks watter plan Thembi gehad het om vir Johan te help. |
5. | Waarom het Johan kwaad geraak toe hy Thembi se plan hoor? |
6. | Hoekom, dink jy, het Thembi sag gesê: “Dink jy ék weet nie hoe dit voel nie?” |
7. | Wat dink jy het in Johan se briefie gestaan? |
8. | Johan is opgewonde oor sy vordering (progress), maar noem dat die reis na mekaar so lank neem. |
a) | Van watter reis praat Johan? |
b) | Hoe weet die leser dat Thembi uiteindelik vir Johan toegelaat het om haar te soen? |
Postaktiwiteit (verryking)
Skryf VYF wenke neer wat ’n mens kan doen om ’n leerder wat hakkel, te help. OF
Skryf VYF wenke neer wat die klasmaats in gedagte moet hou as hulle hoor ’n leerder hakkel of stotter.