Читать книгу Piekfyn Afrikaans Leesboek Graad 8 Eerste Addisionele Taal - Riens Vosloo - Страница 9
Die boomkinders
ОглавлениеLinda Rode
Prelees – groepbespreking
Hierdie verhaal word onder die Masai in Kenia vertel. Daar is baie volksverhale oor kinders wat op ongewone maniere aan ouers gegee word en later, wanneer die ouers iets verkeerd doen, weggeneem word. In die Russiese verhaal “Sneeukind” word die dogtertjie ’n sneeupop. In “Die kalbaskinders”, wat in Tanzanië vertel word, word die kinders kalbasse.
Die medisyneman in hierdie verhaal is ’n eeu oue tradisie in Afrika. Daar word soms verkeerdelik en eintlik beledigend na medisynemanne of -vroue as “toordokters” verwys. Hulle is glad nie towenaars nie maar dokters wat van kruie en ander natuurmiddels gebruik maak om siektes te bestry. Party van hulle kan ook spirituele advies gee omdat baie van hulle ook wyse mense is wat die menslike psige verstaan.
Die verhaal
Op ’n dag sit ’n vrou en kralewerk doen in die son. Sy sit langbeen en soek al die rooi, blou en groen kraletjies uit vir ’n snoer. “Ag, ek het nie eens ’n man nie,” sug sy, “maar ek wil so graag kinders hê. Baie kinders, vir wie ek pap kan maak, kinders met wie ek kan speel en handeklap en liedjies sing, kinders wat jong mense word. Meisiekinders wat water gaan haal by die rivier en saans my koeie kan melk en my kan help om ons huis met gras en modder en beesmis dig te maak, en lenige, dapper seuns wat bedags met ’n lang spies in die hand sal uitgaan om my beeste op te pas sodat ek ’n ryk vrou word.”
Toe pak sy haar kralewerk weg in ’n leersakkie. Daarna loop sy ver oor die grasvlakte en met ’n steil paadjie op na die wyse ou medisyneman wat hoog teen die berg sy blyplek het.
“Wat moet ek tog doen om baie kinders te hê?” vra sy uitasem toe sy bo kom, en sy gee die ou man ’n kalbas dikmelk wat sy saamgebring het.
Die medisyneman slurp gretig uit die kalbas. Hy vee sy mond af. Toe sê hy: “Loop na die naaste wildevyeboom, een met vrugte aan. Klim in die boom, pluk ’n groot bak vol wildevye, gaan sit dit in jou huis op die vloer. Dan loop jy ver in die veld in, en net ná sononder kom jy terug huis toe.”
Die vrou maak so, sy doen alles net so. Net voor skemer kom sy terug uit die veld en van ver af hoor sy baie kinderstemme wat lag en liedjies sing. “Ons mamma!” roep die kinders al van ver af en hardloop haar tegemoet. Die seuns het die beeste al kraal toe gebring en die meisies het haar hut uitgevee en water gaan haal by die rivier.
“Oe-loe-loe-loe!” juig die vrou en maak ’n groot vuur vir ’n yslike pot pap. Haar kinders word groter by die dag. Die vrou het alles wat sy wil hê. Bedags gaan kuier sy ver, by ander vrouens se woonplekke en saans wanneer sy terugkom, is al die werk op die werf gedoen.
Maar op ’n dag toe sy bietjie vroeër huis toe kom, is die potte nog nie vol water nie, en die seuns het die beeste nog nie in die doringkraal gejaag vir die nag nie. En sy is moeg geloop en vies. “Julle is ondankbare kinders,” raas die vrou. En toe glip dit uit haar mond: “Mens kan sommer sien julle is nie regte mensekinders nie, julle is sommer net boomkinders!”
Die kinders bly doodstil. Hulle kyk ver oor die skemer veld uit, en al die lag is weg uit hulle oë.
Toe die vrou die volgende oggend opstaan, is die kinders se slaapplekke leeg. Sy soek verniet na hul spore op die werf. Die nagwind het dit doodgevee.
“Oe, oe, tog,” huil die vrou. “Wat het ek nou gedoen? Dis vreeslik, so stil en alleen.” En sy loop weer ver oor die grasvlakte en sy vat weer die bergpaadjie na die medisyneman toe.
Maar die wyse ou man skud sy kop. “Nee, ek kan jou nie help nie. Jy het die kinders beledig.”
“Dan sal ek maar gaan kyk of hulle nie dalk by die wildevy is nie,” sê die vrou treurig. Sy gaan haal eers weer ’n groot pot by die huis en loop veldin na die naaste wildevyeboom. Miskien kry sy haar kinders weer, soos die eerste keer.
Maar nee, elke vy wat sy wil pluk, kry skielik twee donker oë wat haar so verwytend aanstaar dat sy haar hand terugruk en bewend uit die boom klim. Toe sy huis toe loop, druk die leë pot swaar op haar kop. Maar haar hart voel nog swaarder, want dis nog leër as die pot.
Postlees: Beantwoord die onderstaande vrae in jou werkboek (pas leesstrategieë toe). | |
1. | Hoe word die mense in hierdie verhaal se huise waterdig gemaak? |
2. | Wie pas die beeste op? Skryf net die regte antwoord neer: dapper soldate met spiese / meisies / ou vroue / seuns. |
3. | Waarom noem die vrou die kinders juis “boomkinders” en nie byvoorbeeld net “stout kinders” nie? |
4. | Die enkele Afrikaanse woord vir “into the field” kom in hierdie verhaal voor. Skryf dit neer. |
5. | Hoe weet ons hierdie verhaal speel in Afrika af? |
6. | Skryf die Afrikaanse woord in hierdie verhaal neer vir “traditional healer”. |
7. | Skryf in een sin die lewensles neer wat ons uit hierdie verhaal leer. |
8. | Noem twee dinge wat in hierdie verhaal gebeur wat nie in die werklike lewe moontlik is nie. |
9. | Som die vrou se karakter in drie sinne op. |
10. | In hierdie verhaal se laaste paragraaf kom ’n simbool voor. Wat simboliseer wat? |
11. | Waarvan is die krale in die eerste paragraaf ’n simbool? |
12. | Het die vrou indirek ook die medisyneman beledig toe sy die kinders “boomkinders” genoem het? Waarom sê jy so? |
Postaktiwiteit
Die volgende sinne verskyn nie in dieselfde volgorde as in die verhaal nie. Herskryf dit in die regte volgorde.
Die vrou neem vir die medisyneman ’n kalbas dikmelk.
“Dan sal ek maar gaan kyk of hulle nie dalk by die wildevy is nie.”
Die kinders staar met donker oë uit die vyeboom na die vrou.
“Ons mamma!” roep die kinders.
“Julle is sommer net boomkinders!”
“Klim in die boom, pluk ’n groot bak vol wildevye.”