Читать книгу Piekfyn Afrikaans Leesboek Graad 8 Eerste Addisionele Taal - Riens Vosloo - Страница 6

Die watermense

Оглавление

Linda Rode


Prelees – groepbespreking

 Kyk na die illustrasie. Waarheen spoel die water?

 Vertel wat jy weet van ’n riviermonding; daardie plek waar ’n rivier in die see uitmond.

 Hoekom kry mens so baie haaie en krokodille by die riviermonding?

Die verhaal

In ’n vallei, naby aan die plek waar ’n rivier in die see uitmond, het daar baie jare gelede ’n Xhosa-hoofman en sy mense gewoon. Tussen die riviermond en die see was ’n hoë roesrooierige kransmuur waarteen die branders met hoogwater donderend geslaan het.

“Bly weg daar van die krans af,” het die oudste ouma die kinders gewaarsku wanneer die skemer saans oor die vallei begin kruip. “Hulle sê die watermense met hulle bleek gesigte en hulle lang haartoue soos seegras en hulle slap hande soos robvinne kom sit saans daar teen die voet van die krans, veral as dit volmaan is. En oe, oe, oe, as jy in ’n waterman se oë kyk …!”

Maar die hoofman se enigste dogter het niks daarvan geglo nie.

Op ’n dag toe die son die aarde vuurwarm bak, glip sy stilletjies weg van die ander meisies, want sy was maar altyd ’n alleenkind, en dwaal op die strand en die rotse rond. Sy ryg vir haar ’n snoer van skuimwit skulpe. Sy sit lank en kyk na die bleekgroen water van Ulwandle, die see, en verbeel haar sy hoor sagte stemme wat sing en lok. Sy steek haar arms uit – ag, as sy maar soos die visse deur die seewater kon glip, wens sy. Koel sou dit wees, en lig sou sy deur die branders kantel en gly … Só droom sy die ure om.

“Siphokazi! Siphokazi!” Dis haar ma wat roep.

En “Si-pho-ka-zi! Si-pho-ka-zi!” weerklink dit op uit die vallei soos haar maats ook roep, want die skemer se kombers sak oor die wêreld. Toe sy onwillig omdraai om huis toe te gaan, sien sy in die laatlig, onder ’n vlak lagie water, drie ronde seegroen glaskraletjies in ’n rotspoel. Sy skep dit op, sy laat dit heen en weer in haar hand rol en hardloop huis toe om haar skat vir haar mense te gaan wys.

“Dis die watermense s’n, my kind. Hulle soek jou,” waarsku die oudste ouma, en die hoofman stamp sy kierie op die grond en sê: “Jy bly weg van die water. Kyk, dis byna volmaan!”

Maar die volgende aand teen skemer sluip Siphokazi weer weg en gaan wag by die rotsmuur, met haar voete in die vlak water. Sy rol die glinstergroen krale in haar hand rond en skiet dit ver oor die branders uit. Waar dit die water tref, glip die glimmende bolyf van ’n skraal jong waterman met lang hare en hande soos robvinne bokant die seevlak uit, en hy sing so mooi, so hartemooi in die soutwind, en hy lok haar, hy smeek haar om by hom te kom woon in sy grot van rooi koraal.

Siphokazi kyk in sy watergroen oë … en sy weet sy is verlore.

Maar “Siphokazi! Siphokazi!” roep haar mense waar die aandvure al brand.

En sy skeur haar weg en hardloop huis toe.

Daardie nag steek ’n geweldige storm op oor die see, die wind huil deur die vallei, en om die vure trek die mense hul komberse stywer om die skouers. En toe hoor hulle die dowwe knalle soos iets ysliks en swaars teen die kransmuur begin stamp.

Die dapperste manne gaan kyk en kom bibberend terug uit die stormnag. “Dis die watermense,” sê hulle. “Hulle het ’n reusevis gebring, so groot soos ’n boomstomp, wat met sy kop ’n gat dwarsdeur die kransmuur stamp!”

En die oudste ouma sê: “Dis oor Siphokazi.”

En hulle weet nie wat om te doen nie.

Voor die mense nog kan vlug, is die gat in die kransmuur so groot dat die seewater sissend en bruisend deurbars. En saam met die water stroom die watermense laggend en juigend deur land toe. Vooraan is die jong waterman. Hy kom raap Siphokazi in sy arms op en sy lag hoog en helder en hy swem met haar terug deur die gat na die dieptes van die see. Siphokazi is gelukkiger as ooit, want sy wou mos altyd soos ’n vis deur die water glip en gly.

Nou nog bars die see daar met hoogwater bruisend deur die groot gat in die rotsmuur, by die Plek van Geraas – eSikhaleni. Maar die watermense het nooit weer land toe gekom nie en die hoofman se dogter is nooit weer gesien nie. En Ulwandle – die see – bewaar die geheim.

Woordverklarings

hartemooi (so beautiful, it touches your heart) – so mooi, dit roer jou hart (let wel, dit is ’n nuutskepping van die oorverteller, nie ’n woord wat jy in ’n woordeboek sal vind nie)

hoogwater (high tide) – hoogste vlak wat die see bereik wanneer die gety inkom

koraal (coral) – rooi kalk van seepoliepe

rob (seal) – waterdier wat ook op land leef, het vinne en kan loop

sluip (steal away) – sag en ongemerk iewers heen gaan

Postlees: Beantwoord die onderstaande vrae in jou werkboek (pas leesstrategieë toe).
1.Beskryf die watermense se voorkoms.
2.Wat is die see se naam in hierdie verhaal?
3.Wat is die hoofman se dogter se naam?
4.Hoe voel die hoofman wanneer hy sy kierie stamp?
5.Wat beteken “eSikhaleni” in Afrikaans?
6.Wanneer kom sit die watermense teen die krans?
7.Wanneer het die hoofman se dogter op die waterman verlief geraak? Skryf die sin neer waarin ons dit lees.
8.Noem een saak in hierdie verhaal wat nie in die werklike lewe moontlik is nie.
9.Dink jy die hoofman se dogter was vir altyd gelukkig nadat die waterman haar saam met hom na die dieptes van die see toe geneem het (let op die vetgedrukte gedeelte)? Hoekom sê jy so?
10.Skryf in twee sinne watse lewensles ons hieruit leer.

Postaktiwiteit

 Meisies: Verbeel jou jy is die hoofman se dogter. Skryf ’n brief aan die hoofman om te sê jy is jammer/nie jammer nie dat jy ongehoorsaam was.

 Seuns: Verbeel jou jy is die waterman wat die hoofman se dogter na die dieptes van die see toe saamgeneem het. Skryf ’n brief aan die hoofman om te sê hoe dit met jou en sy dogter gaan.

Piekfyn Afrikaans Leesboek Graad 8 Eerste Addisionele Taal

Подняться наверх