Читать книгу Sarah du Pisanie Omnibus 6 - Sarah du Pisanie - Страница 10

Оглавление

7

Elsa gil lank en deurdringend. Toe kom die lewe stadig terug in haar verskrikte liggaam en sy byt en kap met haar vuiste. Haar ontvoerder is egter veel sterker as sy en sy weet dat haar gespartel en gegil nutteloos is.

Die aanvaller druk haar styf teen hom aan sodat sy omtrent nie kan beweeg nie. Sy klou benoud aan die saal voor haar vas, want die perd jaag in dolle vaart deur bosse en onder bome deur.

Sy verslap later sodat haar liggaam ritmies saam met die perd kan beweeg, want sy sal nooit die verskriklike gestamp kan uithou nie.

Dit is al heeltemal donker toe die perd oorslaan in ’n stadige draffie. Sy maak haar oë oop, maar in die donkerte kan sy eers niks om haar herken nie. Haar oë fynkam die aanvallers, maar hulle is nog gemasker en sy kan nie een van hulle eien nie.

Die vrees klou aan haar. Die man wat haar vashou, is in swart geklee en het swart handskoene aan, maar die ander aanvallers het nie handskoene aan nie en dit is swart hande wat onder die hemde uitsteek.

Die gedagte dat sy in die hande van een van Jonker Afrikaner se bendes geval het, maak haar lam van vrees.

Haar trane het lankal opgedroog en met droë oë staar sy om haar heen. Die perde kom tot stilstand en Elsa kan hoë rotswande om hulle uitmaak. Hulle moet iewers in ’n sloep of kloof wees, want hulle is nêrens tussen berge uit nie.

Een van die aanvallers skree iets in ’n taal wat sy nie verstaan nie, maar wat vir haar na ’n inheemse taal klink.

Haar ontvoerder gee haar aan vir een van die ander en klim dan van sy perd af. Hy vat haar hard aan haar arm en begin met haar aanstap, die donkerte in.

Sy rem terug en begin wild ruk, maar hy voel dit blykbaar nie eens nie, want hy sleep haar ongeërg agter hom aan. Hulle stap om ’n rotspunt en begin teen kranse uitklim.

Ongeveer vyftien minute lank sleep-dra die gemaskerde man haar teen die rotse uit, dan staan hulle in die opening van ’n soort skuiling. ’n Rots hang laag oor ’n diep uitholling met rotswande aan weerskante. Binne brand ’n klein vuurtjie wat spookskaduwees teen die rotswand gooi.

’n Skraal man, ook in swart geklee, sit stil langs die vuur, sy oë op skrefies getrek terwyl hy kyk in haar rigting.

Elsa kom verskrik tot stilstand en staar om haar heen. Haar oë rus eindelik op die stil figuur langs die vuur.

Die skraal man praat in dieselfde vreemde taal en haar aanvaller los haar arm, draai om en verdwyn in die skaduwees.

Die skraal man staan op en loop na haar toe. Vlak voor haar kom hy tot stilstand en Elsa trek haar asem skerp in, want dit is Kurt Strassen wat hier voor haar staan.

“Kurt!”

“Hallo, Elsa!”

“Wat ... hoekom?”

“Kom sit hier by die vuur en drink eers ’n bietjie koffie.”

Sy rem verskrik terug toe hy sy hande na haar uitsteek. Nou walg die bleekblou oë haar en die vrees knyp haar keel styf toe.

“Is jy dan nie bly om my te sien nie, Elsa?”

Elsa stap swygend nader aan die vuur en sak op ’n klip neer, haar oë vreesbevange op sy eens geliefde gelaat.

“Ek is jammer dat ek jou nie op Swakopmund kon kom haal nie. Ek is opgehou en sou volgende week daarheen kon gaan. Maar ... ek is so dankbaar dat jy uit jou eie ’n plan gemaak het en tog gekom het.”

“En as ek nie gekom het nie, Kurt?”

“Ek sê mos dat ek jou dan volgende week in Swakopmund sou kom haal het.”

Hy praat net té vinnig en té glad na Elsa se sin. Skielik onthou sy alles wat Hermaans van hom gesê het. Die kaptein en die luitenant se stilswye en onderlangse kyke kom lê helder voor haar en in al die verwarring van die afgelope tyd sien sy eensklaps ’n nuwe patroon.

“Hoekom het jy nie gekom nie? Jy het geweet ek is vreemd en sal nie weet wat om te doen nie. Jy het mos geweet op watter dag die skip sou aankom.”

“Ek weet, Elsa-lief! Maar ek sê mos nou vir jou, ek is verhinder deur omstandighede. Ek kan ongelukkig nie vir jou vertel wat dit is nie, dit is hoogs geheim, maar vertrou my net.”

Hy oorhandig ’n bekertjie koffie aan haar en sy neem dit by hom en drink dit dorstig uit.

“Hoekom al die geheimsinnigheid? Hoekom kon jy my dan nie net by Hermaans se waens kom haal het nie? Hoekom al hierdie drama!”

“Hermaans sou jou nooit laat gaan nie, nie as hy weet jy behoort aan my nie. Hy haat my soos gif en ek het ’n vermoede dat dit die rede is hoekom hy jou saamgebring het. Hy sou dit vir geen ander vrou doen nie.”

’n Smalende trekkie krul om Kurt se mond. “Maar hy het natuurlik gedink hy het ’n houvas op my as hy my verloofde in sy mag het.”

Hy lag hard en lelik en die behoedsaamheid kom lê vas om Elsa se hart. Kurt weet dus nie dat sy haar op Hermaans se wa verskuil het nie. Sy sal dit ook nie vir hom vertel nie.

“Hoe het jy geweet ek is daar?”

“Ons weet alles, my liefling! My manne het my al die nuus vertel nog voordat julle op Tsoabis was.”

’n Fyn glimlaggie plooi om Kurt se mond. “Maar Hermaans Potgieter moenie dink hy is met ’n gek deurmekaar nie. Hy het natuurlik gedink ons sal eers by die Waterberge toeslaan.”

Hy lag weer hard sodat die klank teen die rotswande vasslaan. “Maar hierdie keer het ek hom met toe oë gevang.”

“Kurt, wat is aan die gang?”

Hy skuif tot teen haar en slaan sy arm om haar skouer. Sy druk dit egter vererg weg.

“Elsa, liefling! Jy het my nog nie eens ordentlik gegroet nie.”

“Ek dink jy is my eers ’n verduideliking verskuldig, Kurt!”

“Dit sal moet wag tot later.”

“Andy!” Kurt roep gedemp en omtrent onmiddellik verskyn die man wat haar voor op sy perd gehad het.

“Dit is Andy ... Anderson, Elsa. Andy verstaan nie Afrikaans nie, jy sal moet Engels praat, want hy is van Sweedse afkoms.”

Elsa sê geen woord nie. Sy kyk stip na die groot blonde man en ’n ligte rilling trek deur haar liggaam. Sy gesig is grof en nors en sy kan die wellus in sy oë sien.

Kurt druk hard op haar skouer en praat weer gedemp in Afrikaans. “Moet hom nie kwaad maak nie. Groet vriendelik. Hy kan woedend word en dan is hy nie verantwoordelik vir sy dade nie.”

Elsa staan regop en haar oë blits in die flou skynsel van die vuurtjie.

“Ek sal vriendelik wees met wie ek wil, Kurt Strassen, en ek sê nog jy is my ’n verduideliking verskuldig vir hierdie barbaarse maniere van jou. Wat is jou plan met my? Want as jy dink dat ek nou met jou sal trou, is jy baie laat, meneertjie!”

Kurt staan skielik voor haar. Sy oë is yskoud. “Jy sal doen wat ek sê. Verstaan my mooi!”

Hy draai sy rug op haar en begin in die vreemde taal met Andy gesels.

Andy praat driftig terwyl hy sy groot hande oop- en toemaak, en die vrees kom lê vlak in Elsa en druk haar versmorend vas.

Sy kyk angsbevange van Andy na Kurt, wat haar skerp aankyk en dan sy voorkop op ’n plooi trek. ’n Sarkastiese, smalende laggie plooi om sy lippe.

Hy beduie vir Andy om te loop en stap dan afgemete op haar af en vat haar ru aan die skouers. “Andy sê dat jy en Hermaans Potgieter ’n yslike vryery daar alleen in die veld aangehad het.”

Sy klap sy hande vererg weg. “Wat traak dit jou?”

“Jy is aan my verloof – verstaan ons mekaar?”

“Nee, ons verstaan mekaar glad nie. Ek is nie aan jou verloof nie. Ek was nog nooit aan jou verloof nie, want ek het nog nooit eens ’n ring van jou gedra nie.”

“Ons was privaat verloof.”

“Wel, ons is nie meer privaat verloof nie.”

Hy gryp haar aan haar skouers en skud haar wild heen en weer.

“Haal jou smerige hande van my af, verstaan jy my? En jy raak nooit weer aan my nie, jou lae vuilgoed! Jy, wat my belieg en bedrieg het – en dan hét jy uit die leër gedros!”

Kurt klap haar hard teen haar wang en sy steier verskrik agteruit.

“Jy sal jou woorde tel as jy met my praat. Ek is nie jou voetvel nie.”

Sy vryf haar wang terwyl die blink trane stadig oor haar wange rol.

“As jy dit dan so verkies, dan is jy van nou af my gevangene.”

“Kurt, hoekom het jy my laat uitkom Suidwes toe? As ek dit net kan verstaan!”

Kurt lag lelik. “Baie beslis nie om met jou te trou nie, my duifie! Ek het ander planne vir jou. Ek is nou éérs dankbaar dat ek jou betyds van Hermaans Potgieter gered het, voordat hy al my planne kon deurmekaarkrap. Ek het darem gedink dat jy beter sedelike norme handhaaf, maar ek was blykbaar verkeerd.”

Hy draai weg en beduie oor sy skouer. “Andy, gee vir haar kos en dan maak jy haar hande en voete vas. Ons waag geen kanse met haar nie.”

Die kos word dik in haar keel, maar sy wurg dit af. Sy moet sorg dat sy genoeg krag het as sy dit skielik nodig kry.

Van uitputting raak sy later aan die slaap, maar die harde grond pynig haar moeë liggaam.

Haar oë is dik en haar kop seer toe die warm Suidwes-son haar die volgende oggend wakker maak.

Vir Kurt sien sy nog kans, maar vir Andy het sy ’n doodse vrees. Hy sal haar keel maklik afsny as iemand hom net aansê om dit te doen en die manier waarop hy haar met sy bleek, dooie oë aanstaar, gee haar koue rillings.

Buiten Kurt en Andy is daar ses gewapende Herero’s.

Hulle kruip die hele dag daar in die berge weg en teen die volgende aand vertrek hulle baie stil en behoedsaam. Een van die Herero’s is vooruit om eers die wêreld te gaan bespied.

Elsa se hande is weer vasgemaak en ’n vuil lap is in haar mond gedruk. Sy voel of sy enige oomblik kan versmoor. Kurt het haar voor op sy perd getel. Hulle ry onverpoos dwarsdeur die stil, donker nag.

Van uitputting knik Elsa se kop kort-kort. Sy wens dat dit liewer Hermaans is wat hier agter haar sit, Hermaans se arms wat om haar gaan, en met ’n teer uitdrukking in haar oë onthou sy hoe hy haar skielik gesoen het toe sy teen hom aangeleun het.

O! Hermaans, asseblief, kom help my. Ek weet jy sal kom ... Maak tog net gou. Hierdie gebed en smeking bly die hele tyd in haar hart.

Die son breek in die ooste met vaal strepe deur die donkerte en stoot die swart gordyn stadig opsy.

Die perde is baie moeg en Elsa kry hulle uit haar hart jammer. Sy weet presies hoe dit voel om so verskriklik moeg te wees.

Hulle saal die perde vir omtrent ’n uur af en laat hulle water suip. Maar Elsa kan aanvoel hoe onrustig die manne is. Hulle sit stil in ’n kring en bespied die wêreld.

Sy sit in die middel van die kring. Die mans staar die veld in met hul rûe na haar toe. Sy onderdruk ’n histeriese giggel, want dit laat haar dink aan die vroteier-speletjie uit haar kinderdae.

Kurt het haar net toegelaat om water te drink en ’n stukkie horingoue brood te eet voordat hulle weer haar mond wil toestop met die nare ou lap.

“Asseblief, Kurt, dit is mos nie nodig om my mond toe te bind nie. Hier is tog niemand naby wat sal hoor as ek skree nie.”

Hy ruk haar aan haar skouers. “Stil! Hier gee ek die bevele.”

Elsa staar hom stil aan met die lap in haar mond. Is dit die man vir wie sy duisend myl ver gekom het om hom as haar bruidegom te neem? Kan dit dieselfde Kurt wees wat soveel liefde en toegeneentheid in haar hart kom wakker maak het?

Nou eers verstaan sy hoe Hermaans met soveel oortuiging kon sê dat hy sommer ’n uitvaagsel is.

Hulle praat gewoonlik in die vreemde Afrikataal wat sy nie verstaan nie, maar wat sy wel uit hul houding kan agterkom, is dat hulle vlug vir die Schutztruppe en ook vir Hermaans, dat hulle ’n bende is wat in die Waterberge skuil en dat dit is waarheen hulle nou op pad is.

In die Waterberge is daar dwarsdeur die jaar water en baie weiding. Dit is ook baie moeilik vir die troepe om hulle daar te kom uithaal.

Kurt is half ingedagte en praat met Andy Engels in plaas van die vreemde Afrikataal.

“Potgieter ken hierdie wêreld soos die palm van sy hand. Hier sal ons met oop oë moet slaap. As ons net daardie Boesman van hom van die gras af kan maak – maar daardie mannetjie het twintig oë.”

’n Ysige gevoel pak Elsa beet en sy prewel woordeloos. Asseblief, Hermaans, kom tog gou. Ou Kao, ek het jou nou baie nodig. Kom tog, Kao!

Die perde is nog ver van uitgerus, toe saal hulle al weer op. Baie versigtig beweeg hulle al nader aan die berge, wat stadiger donkerder van kleur word.

Die moegheid maak Elsa heeltemal gevoelloos en sonder gedagtes staar sy stil voor haar uit. Die toue sny diep in die sagte vel in en die lap in haar mond verwurg haar byna.

Sy sien hoe gespanne Kurt en Andy is. Hulle sit regop, fluisterend, ore gespits vir elke vreemde beweging of geluid in die veld. In haar hart kry sy lekker dat hulle ook ’n sweempie van vrees ken.

Dit is al sterk skemer toe hulle eindelik by die Waterberge kom.

Twee van die Herero’s bly agter om die nou ingang waardeur hulle ry te bewaak en die res van hulle beweeg verder die berge in.

Elsa weet nie in watter rigting hulle ry nie. Hulle maak soveel kort draaitjies dat sy alle begrip van rigting verloor het.

“Ons sal maar vannag hier slaap. Ons kan nie nog verder tot by die kamp nie.” Kurt hou sy perd in en die ander klim dankbaar van hul s’n af.

Andy rek hom uit en antwoord in Engels: “Ja, wat! Hier is ons net so veilig, veral met die twee wagte by die ingang. As hulle waarskuwing kom, kan ons in elk geval baie ver weg wees voordat iemand ons hier kan betrap.”

Weer kry Elsa net kans om te eet, maar darem ook hierdie keer om koffie te drink, voordat sy vasgemaak en die lap weer in haar mond gedruk word.

Sy stut haar rug teen ’n rots en skuif later verder af tot sy op haar sy lê sodat sy ’n bietjie kan probeer slaap.

Sy moes seker ingesluimer het, want sy skrik wakker van iets vreemds. Sy is gespanne en luister. Stadig dring dit tot haar deur dat dit die swaar, hortende asemhaling van ’n mens hier naby haar gesig is.

Stadig maak sy haar oë oop en sien Andy se groot liggaam omtrent ’n halwe tree van haar af.

Sy laat haar ooglede sak en probeer so rustig moontlik asemhaal, al wil haar hart by haar keel uitspring van vrees. Sy loer benoud tussen skrefies-ooglede deur. Andy skuif stadig nader en dan rus sy groot hande warm op haar heup en hy vryf dit liggies.

Die lap in haar mond maak dat sy geen geluid kan uiter nie. Verskrik kyk sy vas in sy walglike gesig wat digby hare is, en wat sy in sy oë sien, maak haar magteloos en bewend van skrik.

Sy probeer wild orent beur, maar haar vasgebinde hande bemoeilik die taak en Andy pen haar met gemak op die grond vas met sy groot hande wat strelend oor haar liggaam gaan.

Met skrik besef sy dat hulle twee alleen by die dooie vuurtjie is. Kurt is nêrens te sien nie. Sy rol en wriemel en skop met haar vasgebinde voete na hom, maar hy lag net saggies en sy gesig met die drie dae oue baardstoppels kom vinnig nader aan hare.

Vrees maak haar onverskrokke en sy kap na sy gesig met haar kop, maar hy ruk sy gesig vinnig weg en druk haar dan met sadistiese genot nog stywer vas.

Alles word swart om haar, maar dan voel sy hoe hy van haar af weggeruk word en sy sien vir Kurt voor haar staan. Hy is kleiner as Andy, maar pluk hom met soveel geweld dat Andy dwarsoor die uitgebrande vuurtjie val.

“Ek sal jou vermoor! Raak net weer aan haar! Jy weet wat die ooreenkoms was. Hatjikuma het gesê sy moet ongeskonde wees!”

Elsa staar hom stil aan. Die vrees maak haar dom. Kurt se vreemde woorde wil nie tot haar verstand deurdring nie.

Wat gaan hy met haar doen? In sy woede het hy vergeet om in die vreemde Afrikataal te praat. Wat beteken dit alles?

Met groot oë staar sy die donker nag in. Sy is te bang om weer in te sluimer. Wat gaan van haar word?

Hermaans is alleen, hy sal nooit hier inkom nie. Wie sê hy sal haar wil kom red? Kao sal vir hom sê dat dit Kurt is wat haar ontvoer het, en hy sal net dink dat sy nou is waar sy wou wees en dat dit goed met haar gaan.

Kurt sit stil op wag, sy rug teen die rots en sy geweer oor sy lang bene. Elsa sien hoe hy met uitdrukkinglose oë in haar rigting kyk en dan weer na Andy, wat nou snorkend ’n ent van hulle af lê en slaap.

Sy vrees hom nou net soveel as vir Andy. Hy is beredeneerd, koel en moorddadig. Hy sal haar – die meisie aan wie hy hom verloof het – koelbloedig vermoor as dit moet.

Hy het haar met voorbedagte rade laat uitkom Suidwes toe, betaal vir haar reiskaartjie, alles. Maar hoekom? Dit raak vir Elsa ’n tergende geheim. Hy wil haar vir iets anders gebruik, iets wat te doen het met Hatjikuma en met die feit dat sy nog ongeskonde moet wees.

Stadig knik Kurt se kop en Elsa weet dat die vier en twintig uur in die saal ook besig is om sy tol van hom te eis.

’n Jakkals tjank naby hulle. Dadelik is Kurt helder wakker en hy vat sy geweer se kolf vas.

Elsa sluit haar oë en probeer om ’n rukkie te slaap solank Kurt op wag is. Hy probeer blykbaar om haar ongeskonde by iemand met die naam Hatjikuma te kry, maar Andy sal sy kans afwag.

Ag! Hermaans! Die versugting is sommer weer daar. Asseblief, kom tog gou, voordat dit te laat is.

In die twee weke wat sy saam met Hermaans op die pad was, was sy nie een oomblik vir hom bang nie. Hy is soveel groter en ruwer, hy het minder geleerdheid en verfyndheid as Kurt of selfs die stugge, bot Andy, maar hy is ’n goeie man.

Haar oë word sag toe sy aan die kaalgeskeerde gesig dink. Hy het werklik sy baard afgeskeer omdat sy hom uitgeskel het vir ’n bebaarde aap.

Kurt se kop sak stadig op sy bors en aan die reëlmatige beweging van sy skouers kan sy sien dat hy slaap. Hy slaap egter so lig dat die geringste beweging of geluid hom dadelik sal wakker maak.

Die vrees slaan trillend in haar op en haar hele liggaam bewe liggies toe sy ’n sagte aanraking van agter op haar hande voel. Sy probeer die vasgebinde hande effens wegtrek, maar dan word dit stewig vasgevat. Die verligting dat dit nie ’n slang is nie oorheers alle ander gedagtes.

Sy lig haar kop baie stadig en loer versigtig oor haar skouer. Sy probeer om so min as wat sy kan te beweeg, sodat sy nie vir Kurt wakker maak nie.

Sy sien ’n bruin arm om die rots en ’n growwe handjie vol fyn plooitjies vroetel baie versigtig met die toue.

Die dankbaarheid golf oor haar. Iemand is besig om haar te help. Dalk is dit een van Hermaans se helpers ... of Kao! Natuurlik, dit is niemand anders as Kao nie! Daardie geplooide hande kan aan net een mens behoort.

Versigtig skuif sy ondertoe sodat die bruin plooihande meer beweegruimte het om te werk, maar dadelik sit Kurt regop. “Wat makeer jou?”

Sy maak of sy net van lê verander het en hou haar oë toe. Sy sien deur haar wimpers hoe Kurt opstaan en versigtig nader kom. Sy konsentreer hard om so rustig en egalig moontlik asem te haal.

Kurt kom staan by haar en kyk af na haar. Elsa voel nie meer die growwe handjies agter haar nie, maar sy bid dat Kao vinnig moet padgee sodat Kurt hom nie sien nie.

Kurt is gewetenloos. Hy sal vir Kao summier doodskiet. Hy wag buitendien net sy kans af om dit te doen, want Hermaans en Kao is vir hom ’n bedreiging.

Hy staan lank na haar en kyk en stap dan bokant haar om en kom weer versigtig af ondertoe om agter die rots te kom loer.

Sarah du Pisanie Omnibus 6

Подняться наверх