Читать книгу Sarah du Pisanie Omnibus 6 - Sarah du Pisanie - Страница 5

Оглавление

2

Met nat vingers vee die misslierte deur Elsa se gesig en klou aan haar vas. Sy kan nie ver voor haar sien nie en sy wens sy kan die misgordyn so ’n bietjie oopskuif om meer van die doenigheid uit te maak.

Hermaans se growwe stem en nog growwer taal klink spookagtig agter die misnewels op. Elke nou en dan kom een van die werkers in haar gesigsveld en koes sy half agter die wa in.

Sy voel uiters ontuis in haar kakiebroek en -hemp en die hoedjie wat slap om haar gesig hang. Sy het haar hare plat agter haar kop vasgesteek en ’n wit lap omgebind voordat sy die hoedjie bo-oor getrek het. Sy wou met alle geweld die hare afsny, maar Herr Schultz het daar sy voet beslis neergesit. As sy dit doen, het hy gedreig, gaan hy haar nie ’n tree verder help nie.

Dit is nog taamlik donker. Die dag breek swaar deur die misgordyn en gee net ’n flouerige liggie af.

Herr Schultz het haar so ongeveer agtuur die aand, nadat sy met hom gesels het, kom opsoek. Hulle het in die sitkamertjie op die boonste verdieping gaan sit en gesels.

Lank en breedvoerig het hulle die planne bespreek. Later is hy daar weg om Hermaans Potgieter te gaan vra of hy bereid sou wees om ’n familielid van Gert Fourie saam te neem tot op Tsumeb, ’n jong seun! Om haar ’n redelike verskoning te gee om soveel moontlik in die wa te bly, het Herr Schultz vir Hermaans gesê dat die seun ’n bietjie probleme met sy gesondheid het en daarom nou na ’n droër klimaat moet gaan.

Hermaans het geen onraad gemerk nie, net die bier met een teug weggesluk en toe onpersoonlik sy kop geknik. “Ja, hy kan maar saamgaan. Die een wa is so te sê leeg. Ek het meer goed gebring as wat ek terugneem.”

“Wel, baie dankie. Wat sal dit kos? Die seun het nie baie geld by hom nie, maar Gert Fourie sal darem instaan as dit nie genoeg is nie.”

“Hoe oud is die mannetjie? Ek wil darem nie kind oppas langs die pad nie, veral nie as hy nog sieklik ook is nie.”

“Nee ... nee, dit sal nie nodig wees nie. Hy is al seker so sestien of sewentien, maar skraal en nie juis sterk nie. Dit sal baie gaaf wees as ons vir hom ’n bed agter in die wa kan laai, dan kan hy mos maar rus as dit nodig is.”

“Hy moet my net nie hinder nie. As hy sy kos saamneem, sal hy niks hoef by te dra nie, anders kan hy maar iets gee vir die kos.”

“Baie dankie, Hermaans. As jy vir my wys watter wa, dan laai ek sommer sy goedjies op en sorg dat daar kos en ’n bed inkom. Die arme kind sal nie weet wat om alles saam te neem nie. Lyk maar vir my taamlik verfynd en meisierig ... maar, nou ja! Dit is seker maar soos hulle deesdae daar in die Kaap lyk.”

Herr Schultz het net gesorg dat hy nie vir Hermaans in die oë kyk nie, anders sou die baardman sommer die skuldigheid op sy gesig kon lees.

Hermaans se growwe, bulderende lag het teen die plafon van die sitkamertjie vasgeslaan. “Ja-nee, oom Hein. Dit is ook maar goed dat hulle so af en toe gedwing word om in hierdie harde, ongetemde wêreld van ons te kom bly sodat ons weer van hulle mans kan maak. Ek sal sommer op pad met my opvoedingstaak begin.”

“Ag nee, Hermaans ...” het Herr Schultz vinnig gekeer. “Jy moet darem onthou die kêreltjie het longmoeilikheid of so iets ... Hy is nie baie sterk nie. Gee hom eers kans dat Suidwes se lekker vleis en mieliepap hom bietjie opbou, dat ons vars lug en warm sonskyn eers sy longe droogbrand, dan kan jy hom aanvat.”

Hermaans het belang in die gesprek verloor en opgestaan. Herr Schultz het saam met hom gestap om die waens te inspekteer.

’n Ouerige wa het agter die ander gestaan. Hermaans het daar ingeloer. Dit was leeg, maar vuil en stowwerig.

“Ek sal môre ’n paar sakke suiker hier moet inlaai, maar so teen namiddag behoort ons klaar te wees, oom Hein, dan kan jy maar die seun se goed bring. Hy moet net baie vroeg hier wees, want ons wil Donderdagoggend so teen vyfuur ry.”

Herr Schultz het Elsa aangesê om die volgende dag maar in haar kamer te bly en al die reëlings aan hom oor te laat. Hoe minder mense haar sien, hoe beter. Hy het ook onderneem om, as sy eers weg is, vir kaptein Göring te gaan sê sodat hy nie dalk onrustig raak oor haar nie.

Hy het kos gekoop en ook ’n bekertjie, ’n bord en ’n klein blink keteltjie. Uit sy buitekamer het hy ’n kampbedjie gaan haal en agter in die wa gaan opslaan.

Elsa het vir hom geld gegee om vir haar ’n kussing en twee komberse te koop. Sy het ook aangedring op twee lakens. Herr Schultz het haar ernstig gemaan om die lakens die eerste paar dae maar weg te steek, dit sal Hermaans net onnodig agterdogtig maak. Hy moet onder geen omstandighede agterkom dat sy ’n vrou is voordat hulle minstens twee dae weg is van Swakopmund af nie.

Al Elsa se bagasie is in die donkerte van die nag agter op die wa gelaai. Herr Schultz was bekommerd dat die ander onraad sou merk. ’n Seun het nie soveel bagasie nie.

Gelukkig was daar oorgenoeg plek en Elsa kon dus heelwat kos ook inlaai. Sy sal maar langs die pad weer koop. Hulle behoort darem by handelsposte verby te gaan.

Die osse is klaar ingespan en Elsa sit stil en gespanne agter in die wa op die bedjie. Sy sal haar maar eers soveel moontlik in die wa verskans.

Hermaans se groot liggaam verdonker die opening van die watent toe hy sy bebaarde gesig vorentoe buig en inloer. “O! Jy is darem hier. Ek dag jy het jou verslaap.”

Gelukkig is dit donker en kan hy nie baie goed sien nie. Elsa sit verskrik regop op die bedjie, seker daarvan dat hy haar hart kan hoor klop.

“Môre, jong! Wat is jou naam?”

“Hmmm. Kosie, oom!” Elsa vee die klammigheid van haar hande teen haar kakiebroek af en kyk hom reguit aan. “Kosie Fourie, oom.”

Hermaans se oë trek op skrefies. Dit is regtig ’n vreeslik verfynde ou seuntjie. Dan praat hy nog met so ’n pieperige, hees stemmetjie ook. Hy lig sy wenkbrou en sonder om ’n woord verder met haar te praat, stap hy al bulderend na die voorste wa. Die konvooi kom in beweging.

Elsa sak van skone senuweeagtigheid agteroor op die bedjie. Die geskommel van die wa maak haar egter geleidelik rustiger, sodat sy selfs ’n bietjie insluimer.

Die mis is lankal weg toe sy wakker word. Die hitte begin ondraaglik word.

’n Vlieg zoem lui in die watent rond en gaan sit met klam, taai pootjies op Elsa se arm. Sy waai lusteloos na die rusverstoorder en sluit dan weer haar oë.

Sy wens sy kan uitklim en ’n entjie langs die wa stap, maar dit sal nie wenslik wees nie. Hulle is nog te naby aan Swakopmund. Hermaans sal haar sommer in die waspore terugjaag as hy uitvind.

Sy gaan sit agter by die watent se opening, maar die warm luggie wat daar inwaai, bring nie veel verligting nie.

Dit is warm en benoud en die sweet loop in dun straaltjies onder haar hoed uit. Sy het ’n linneband styf om haar bors gebind om die vroulike rondings minder opsigtelik te maak. Nou voel dit of die stywe band elke druppel krag stadig uit haar druk en haar hygend en kortasem laat.

Sy hoor Hermaans se harde stem iets skree en loer versigtig agter by die tent uit.

Aan die linkerkant is die wêreld kaal en bar en net die rooibruin sand van die duine gee kleur aan die eentonige toneel. Elsa loer versigtig verder uit. Sy is in die heel laaste wa en kan ’n bietjie meer vrymoedig raak.

Aan die regterkant staan hier en daar ’n groot boom wat heerlike koeltekolle maak. Elsa leun nog verder uit om die omgewing beter te bekyk. Toe die ossewa oor ’n bultjie stamp, sien sy die droë loop van ’n rivier. Dit moet seker die Swakoprivier wees waarvan hulle gepraat het. Hulle trek dus al met die rivier langs die binneland in.

Sy kyk gefassineerd na die droë rivierbedding en wonder in haar enigheid waar die diere water suip.

Herr Schultz het haar gisteraand vertel dat die transportryers nie graag in die reëntyd trek nie. Hulle val maklik vas en word soms dae lank deur die riviere voorgekeer. Die reëntyd in die binneland begin om en by Oktober, November en hou aan tot Februarie en soms selfs tot Maart.

Elsa weet nie wat op die oomblik die sterkste aan haar knaag nie – die honger of die hitte. Sy is rasend honger. Hulle trek al heeldag en die son is besig om stadig na die weste af te sak.

Die ossewaens kom na baie gehô! en geha! eindelik tot stilstand. Sy weet nie wat nou van haar verwag word nie en sit maar stil agter in die wa.

Dit is bedrywig en rumoerig buite en Elsa neem aan dat hulle uitspan vir die nag. Sy wens dit was al ’n bietjie later en donkerder.

Hermaans se bonkige figuur verskyn skielik in die opening. “Komaan, kêrel! Moenie vir my sê jy lê nog die hele dag en slaap nie. Vrek jy nie van die hitte hier in die watent nie? Kom, klim uit, ons span uit vir die nag.”

Hermaans se stem is vriendelik en plaerig. Die verfynde seunskind amuseer hom.

Elsa klim stram uit en rek haar arms en bene behaaglik uit toe sy hom om die wa sien verdwyn.

Sy stap stil aan na waar Hermaans besig is om hout op ’n hoop te gooi sodat hy kan vuurmaak.

Die groot gat syferwater trek Elsa se aandag en sy sien hoe die Herero’s die osse daarheen lei.

Sy wens vuriglik dat sy haar arms en gesig in die koel water kan was. Sy voel so taai en sweterig, en die water blink so aanloklik. Met ’n ligte suggie dink sy aan ’n skuimende bad waarin jy kan wegsak tot onder jou ken.

“Koos!”

Elsa staar stil na die watergat en kyk nie eens om nie.

’n Klippie tref haar hard op die sitvlak en sy spring verskrik om.

Hermaans lag hard en beduie dat sy moet nader kom. “Hoe lyk dit vir my jy is nog doof ook?”

Elsa kyk vinnig weg sodat hy nie die skrik in haar oë moet sien nie. Sy het skoon vergeet dat haar naam veronderstel is om Kosie te wees.

Sy kom gedienstig nader. “Ja, oom ... Kan ek help?”

“Kan jy vuurmaak?”

“Ja, oom.”

Elsa is ineens dankbaar oor haar armoedige kinderjare, want dit het sy darem al baie gedoen. Hulle was male sonder tal saam met haar pa na die omliggende dorpe en plase waar hy moes gaan preek en het dikwels sommer in die veld geslaap.

Sy pak fyn grassies en dun houtjies onder voordat sy van die groter stompe kruis en dwars oor die fyngoed pak. Verleë staan sy op. Sy het nooit daaraan gedink om vuurhoutjies ook in haar sak te steek nie.

“Hmmm ... oom ... Kan ek net gou oom se vuurhoutjies leen?”

“O! Jy rook nie skelm nie? Ek moet sê, dis die eerste klong van jou ouderdom wat ek sien wat nie skelm rook nie.” Hermaans buk by die vuur en steek die grassies aan die brand. Die vuurtonge lek vrolik aan die droë gras en sprei dan gulsig na die fyn stokkies.

Elsa kry haar ketel in die wa en tap dit vol water uit die balie wat agter aan die wa vasgemaak is.

Hermaans lag bulderend toe sy met haar blink nuwe keteltjie daar aankom.

“Ag nee, Koos, los maar tog die popspelery vir die meisiekinders. Gaan kyk, agter aan my wa hang daar ’n ordentlike ketel.”

Elsa stap vinnig na die wa toe. Sy veronderstel dit moet die voorste een wees. ’n Ketel en ’n pot met swartgebrande bome hang langs mekaar agter aan die wa.

Sy haak hulle af en breek haar nael in die proses. Sy het haar naels nogal mooi kort geknip, maar haar hande lyk skielik vir haar baie wit en fyntjies. Sy sorg dat daar van die swart roet van die ketel aan haar hande kom en vryf dit ongemerk in sodat Hermaans nie die witheid daarvan moet opmerk nie.

Sy skuif die driepoot oor die vuur en hang die ketel daaraan op.

Hermaans is nêrens te sien nie. Elsa loer vinnig om haar rond en kyk waarheen sy kan verdwyn, want sy was vandag nog nooit van daardie wa af nie. Sy sien die Herero’s almal in die loop van die rivier by die water en Hermaans het hier na haar linkerkant verdwyn.

Vinnig stap sy in die teenoorgestelde rigting.

Hermaans is al by die vuur, besig om ’n ribbetjie te sout, toe sy terugkom.

“Ek kan dit vir oom doen, as oom wil?”

Hy glimlag dankbaar en hou die vleis na haar uit. “Kan jy dan kos maak, Koos?”

“Ja, oom.”

“Het jy ander broers?”

“Nee, oom, ek het nie broers of susters nie, ek is al kind.”

“O!”

Die woordjie spreek boekdele en Elsa kyk verleë weg. Dit is ook maar goed sy is nie regtig ’n seun nie, want hierdie grote lummel sal ’n jong seun vir ewig aan ’n minderwaardigheidsgevoel laat ly met sy sarkastiese laggie en snaakse opmerkings.

“Moet ek die vleis braai of moet ek dit vir oom in die pot kook? Ek het aartappels en wortels daar in my wa.”

“Kan jy sulke kos kook?” Hermaans beskou haar ongelowig.

Elsa knik net en sorg dat sy hom so min moontlik in die oë kyk.

“Nou toe, ou Koos, dit sal lekker wees. Ek kan net vleis braai en ’n ou raak moeg daarvoor.”

Elsa sit die vleis in die pot en gaan haal die aartappels en wortels in haar wa.

Die geur van die kos hang watertandlekker in die lug. Die Herero’s het laer af vir hulle ’n kampie gemaak en hulle stemme kan nou en dan rustig op die aandluggie gehoor word.

Hermaans het ’n bottel drank agter uit sy wa gaan haal en ’n paar diep teue daarvan gedrink. Hy hou die bottel na Elsa uit.

“Wil jy ’n dop hê?” Hy kyk haar stil aan, kap dan die bottel se prop met sy plathand in en bêre dit weer in die wa voordat sy kan antwoord.

“Seker nie! As jy nie eens rook nie ...” Hy kom sit met sy rug teen die boomstam en strek sy bene ver voor hom uit. Hy trek die riempiestoeltjie onder sy arm in en leun gemaklik daarop.

Die son is nou al heeltemal onder en Elsa sorg dat sy so diep moontlik in die skemerkolle bly. Gelukkig het Herr Schultz die mansklere baie ruim gekoop sodat sy haar vroulike kurwes goed kan wegsteek.

“Jy kan seker nou maar jou hoed afhaal, ou Koos. Die maan brand nie ’n ou se kop nie.”

Elsa maak of sy hom nie hoor nie, staan net vinnig op en gaan roer in die pot.

“Watse verspotte lapding het jy onder die hoed op?” Hy trek sy oë op skrefies om beter te kan sien. “Of is dit nou mode dat die mans kopdoeke dra soos die Herero-vrouens?”

“Oom sien ... ek was baie siek en ... toe moes hulle al my hare afsny. Nou ...” Sy lag senuweeagtig en kyk kamstig skaam weg. “Nou lyk dit so lelik ... Ek is te skaam om so met die kaal kop te loop.”

“Nou vir wat sit jy dan nie net die hoed op nie? Hoekom nou nog ’n lap ook om jou kop draai? Nee, man! Haal af die ding. Dit is net ons hier in die veld.”

“Ek is bang die wind waai my hoed af en dan lag oom vir my.”

“Ons het baie beter dinge om oor te lag as ’n outjie se kaal kop. Moenie simpel wees nie, man, haal af die ding.”

Elsa voel die histerie in haar opstoot. As hy nou moet uitvind, sal hy haar waaragtig terugstuur. Hy sal haar op sy perd terugvat as dit nie anders kan nie.

Sy proe aan die kos en kyk ongeërg na hom. “Dit smaak goed, oom, ons kan nou-nou eet.”

“Jy moet dat die son daardie kaal kop van jou in die hande kry, man. Dan moet jy sien hoe groei daardie hare. ’n Mens se hare sal nooit groei as dit so toegedraai word nie. Dit is die simpelste ding wat ek nog gehoor het.”

“Ek sal een van die dae die lap afhaal. Ek wil darem net eers vir oom beter leer ken ... Ek ... is maar baie skaam.”

Hermaans skud sy kop ongelowig. Hy het vier broers en sy pa lewe ook nog. Hulle is al sonder ’n ma vandat hy twee jaar oud is. So iets soos skaamheid ken hulle nie. My aarde! Hulle swem dan sommer poedelnakend. Nou is die klein japsnoet sowaar skaam oor sy hare!

“Nee kyk, ek dink hier in Suidwes gaan ons jou meer dinge gee as net jou gesondheid,” praat Hermaans in sy pyp.

Elsa skep vir hom kos uit en Hermaans kyk fronsend na die hopie kos in die middel van die bord.

“Ek hoop nie dit is al wat ek gaan kry nie, Koos? Ek is honger, man!”

“Daar is baie, oom.”

“Nou skep dan, kêrel, of is jy daarvoor ook te skaam?”

Elsa vererg haar en skep die blikbord so vol dat sy die kos teen die rande met die lepel moet keer, anders loop dit oor. Sy dra die bord versigtig tot by Hermaans, wat ’n bietjie meer regop sit en breed glimlag.

“Ha! Dit lyk beter.”

Elsa trek haar skouers gelate op en skep vir haar soveel kos in as wat sy aanvanklik vir Hermaans ingeskep het.

Hy beduie met sy vurk na haar bord en praat met sy mond vol kos.

“Jy kan maar meer inskep ... dit is nie sleg nie!” Hy lag vir sy eie grappie en Elsa kyk gefassineerd na sy tong wat geoefend die kos in sy oop mond hou sonder dat ’n krieseltjie uitval.

Hulle eet in stilte verder. Hermaans hou sy bord na haar uit vir nog en Elsa sien met verwondering hoe hy nog ’n bord kos met gemak wegpak. Hy drink nog twee bekers koffie en sit dan gemaklik agteroor om sy pyp rustig te rook.

“Wil jy vir my sê dit is al wat jy gaan eet?” Die ongeloof staan op sy gesig geskryf.

“Ek ... ek sal een van die dae weer beter eet, oom. Dit is die hitte wat my so ... so moeg en sonder eetlus maak.”

“Hmmm.” Hermaans skuif agteroor en Elsa kan aan sy hele houding sien dat hy in ’n gesellige bui is, lus vir gesels.

“Dit moes ’n kwaai siekte gewees het wat jou so uitgeteer het. Hoe oud is jy nou?”

“Tw- ...” Elsa begin skielik hewig te hoes en vat eers ’n slukkie water voordat sy weer praat. “Sewentien, oom.”

Sy het amper in ’n onbewaakte oomblik haar regte ouderdom gesê. Sy is reeds twee en twintig en al lankal hubaar – dit is ook een van die redes hoekom sy so haastig is dat sy en Kurt getroud moet kom. Die ander meisies van haar ouderdom is lankal getroud.

“Het jy al ’n meisie?”

“Nee, oom.”

“Ek het darem gedink julle kan dit doen ... ’n nooi aankeer! Dit lyk vir my al wat daardie klomp laventelhaantjies onder in die Kaap doen, is vry.”

Elsa voel die warm blos in haar wange opstoot. Sy wens hy wil die onsinnige vrae nou los, maar sy kan aan geen verskoning dink om na haar wa te gaan nie. Buitendien, die heerlike aandluggie is ’n lafenis na die versengende hitte vandag agter in die wa.

“Is oom getroud?” Sy besef dat dit baie beter sal wees om hom aan die praat te hou.

Hermaans lag sy bulderende lag. “Nee, ou Koos. Hier is mos nie vrouens in hierdie land van ons nie. Hulle sal in elk geval nie na Hermaans Potgieter kyk nie, want hier is te veel ander netjiese Duitse offisiertjies wat al die fynere puntjies van hofmakery ken.”

“Meneer Schultz sê vir my dat oom ’n plaas het en dat oom nou die transportryery gaan los om te boer?”

“Ja, ou Koosman, dit is iets waarna ek al jare uitsien. Maar ons het nie genoeg geld gehad nie. Die transportryery was baie betalend, want ek het altyd velle en ivoor ingeneem en dan sommer vir die handelaars goed teruggebring.”

Elsa hoor die versugting in sy stem en sy besef dat die boerdery ’n wesenlike deel van hom is, sy asemhaling, sy hartklop, en dat hy op die drumpel staan van ’n droom wat bewaarheid gaan word.

“Dan moet oom maar vir oom ’n vrou soek ... Ek bedoel, dit sal mos nie lekker wees so alleen op die plaas nie.”

“Daar is ’n weduweetjie op Otjiwarongo, oulike dingetjie! Sy het drie kinders, maar ek is nie baie erg oor die kinders nie ... hulle is te groot vir hulle skoene, en onmoontlik!”

“Ag, oom sal hulle gou regkry. Hulle sê mos ’n kind is ’n baie buigsame ding.”

“Jy het nogal baie wysheid vir so ’n jong seun.”

Elsa staan op en sit die borde bymekaar. Sy gooi van die warm water in die ketel daaroor en spoel dit liggies uit. Sy sal dit môreoggend gou by die watergat gaan was.

Hermaans staan stram op en rek hom lui uit. “Nou toe, kom ons gaan loop ’n draai en gaan slaap.”

Die skok slaan Elsa vir ’n oomblik tot stomheid. Sy sien hoe Hermaans vir haar wag en aan die manier waarop hy met sy knope vroetel, is daar geen onsekerheid oor wat sy “loop ’n draai” beteken nie.

“Nee dankie ... ek sal ... ek wil nie gaan nie.”

Hermaans lag en verdwyn in die donkerte.

Elsa stap vinnig na haar wa en wag totdat sy nie meer ’n enkele geluidjie hoor nie, voordat sy haar uittrek en in die bed klim.

Die verligting om van die knellende band om haar bors ontslae te raak, is ’n hemelse gevoel en sy sug diep van pure genot.

Hulle is teen donker al weer op en aan die gang en Elsa kan verstaan wat Herr Schultz bedoel het toe hy gesê het dat Hermaans vinnig trek. Sy is seker daarvan dat hy baie vinniger as enige van die ander transportryers reis.

Sy vleg haar hare en steek dit baie stewig bo-op haar kop vas voordat sy haar hoed opsit. Dit is al klaar ’n verligting om nie meer die warm doek om haar kop te hê nie.

Gedurende die oggend klim sy uit en stap in die spore agter die wa aan. Dit is heerlik om die vars lug diep in haar longe te trek en teen die tyd dat sy weer op die wa klim, is sy lekker moeg en verwelkom die smal kampbedjie haar vriendelik.

Hermaans skree iets van voor af, maar sy maak maar of sy nie hoor nie en wuif net vir hom.

Sy was hierdie keer daarop bedag dat hulle nie vir middagete uitspan nie, en het van die oggendkoffie in ’n leë bottel gegooi sodat sy darem deur die dag beskuit kan eet.

Vandag span hulle nog later uit as gister en dit is al sterk skemer toe hulle begin vuurmaak.

Daar is nog vars vleis wat sy hierdie keer met ’n lang sous kook en sy maak ’n pot pap daarby.

Hermaans eet net soos die vorige aand heerlik aan die kos wat sy gemaak het en sit dan rustig agteroor om te gesels. “Ek sien jy het die doek afgehaal. Haal die hoed af dat ek kan sien hoe lyk jou kop.”

Die skrik spring lam in Elsa op. As sy tog net kan uithou tot môreaand! Môre sal hy nie meer omdraai nie, want dan het hulle al ’n derde van die pad na Otjimbingwe afgelê. As sy net eers daar kan kom, sodat sy meer inligting omtrent Kurt kan inwin.

Sy kyk beangs na Hermaans. Hy lyk so groot en woes. Wat gaan gebeur as hy uitvind sy is ’n vrou? Hoe veilig gaan sy wees?

Herr Schultz het vir haar ’n geweer ook onder die kampbedjie ingeskuif. Sy besluit vinnig om dit in die vervolg liewer gerieflik naby haar te hou. Sy sal haarself verdedig tot op die laaste. Hy ken nie hierdie Fourie nie, sy kan skiet!

“Nee, oom ... Ek wil nie.”

“Jy is darem snaaks. Ek is mos ’n groot man, ek sal mos nie vir jou lag nie. Maar dit was net ’n voorstel. Ek sal jou nie dwing nie, ek is darem nie so barbaars nie.”

Elsa maak vroegaand verskoning en gaan kruip in haar warm, bedompige wa in. Sy sien hom nog ’n rukkie by die vuur sit, diep ingedagte, suigend aan sy pyp. Heelwat later sien sy hom die vuur doodmaak en na sy wa stap.

Sy verwens haarself. Sy moes haar hare afgesny het. As sy net iemand het om haar te help, dan doen sy dit sommer nou.

Dit sal vir haar veiligheid die heel beste wees om haar as seun voor te doen tot sy by oom Gert-hulle kom.

Sy krap in haar sak, maar die enigste skêr is seker diep in een van haar trommels ingepak.

Die volgende dag bly sy so ver moontlik uit Hermaans se pad.

Dié aand is daar ’n rumoerigheid by die Herero’s se kamp en Hermaans stap met sy geweer af om te gaan kyk wat daar aangaan.

Elsa sit versteen toe sy ’n skoot hoor klap. Die vrees maak haar lam. Sy kan omtrent nie beweeg nie en staar grootoog die donkerte in.

Hermaans verskyn stil in die ligkring van die vuur en sit sy geweer teen die boom neer asof niks gebeur het nie.

“Wat ... wat was dit?”

Hermaans kyk verbaas na haar en sien die skrik op haar gesig. Hy gooi vir hom nog koffie in en kyk ongeduldig na haar. “’n Pofadder!” Hy frons. “Moet net nie vir my sê jy is nog bang vir ’n slang ook nie.”

Elsa antwoord hom nie, maar staar hom verskrik aan.

“Ag nee, my magtig, kêrel! ’n Man kan mos darem nie vir sulke goed bang wees nie. Wat gaan jy maak as die Namas of Jonker Afrikaner en sy bendes ons aanval? Dan veg jy mens teen mens!”

Elsa draai vinnig om en skink vir haar ook nog koffie. Sy beweeg dieper die skaduwees in sodat hy nie kan sien hoe bewe haar hande nie. Haar hare staan regop en haar rug trek hol as sy dink aan alles wat dalk hier in die donkerte kan skuil.

Sy sluk ’n paar keer voordat sy so normaal moontlik met hom begin gesels.

“Het die inboorlinge al vir oom-hulle aangeval op een van die togte?”

“Ja, twee keer al.”

“Wat maak oom-hulle dan?”

“My manne is gewapen. Ons skuil maar so goed ons kan en skiet dat ons bars!”

“Het ... oom al mense verloor met so ’n aanval?”

“Nog nie. Maar ek het ’n Boesman wat gewoonlik vooruit gaan en die wêreld verken. Albei kere kon hy ons voor die tyd waarsku. Dan het ons maar die waens so goed moontlik versteek en agter hulle stelling ingeneem. Een keer het ons tussen die rotse weggekruip.”

“Saam met oom Gert was daar ’n jong luitenant van die Schutztruppe by ons. Hy het ons ook baie van hierdie skermutselinge vertel.”

“Onder in die Kaap?”

“Ja, oom Gert het beeste afgebring om daar te verkoop en luitenant Strassen het saamgekom om hulle te beskerm teen aanvalle.”

“Wat was die man se van?”

“Strassen ... luitenant Strassen!”

“Luitenant Strassen ... dit was nie dalk Kurt Strassen nie?”

“Ja, ja ... ek dink dit was ’n Kurt Strassen.” Elsa dwing haar tot absolute kalmte en speel ongeërg met ’n paar klippies wat sy van die een hand na die ander oorgooi.

Hy antwoord haar nie, sit net doodstil na haar en kyk. Sy kyk stadig op in die peinsende blougrys oë.

Sy hou haar stem ongeërg en lig, maar haar keel is stram van spanning. “Ken oom hom?”

Hermaans antwoord haar nie dadelik nie en toe hy praat, is dit met ’n teenvraag. “Wanneer het jy hom ontmoet?”

Sy dink kastig diep. “Hmmm ... so ... seker so ’n jaar gelede!”

“Het jy hom goed geken?”

“Wel, hy en oom Gert het twee maande daar by ons gebly. Hy is ’n baie interessante man ... kon vreeslik lekker gesels oor alles hier in Suidwes.”

“Hmm ... en jy het natuurlik aan sy lippe gehang. Jy het natuurlik toe besluit dat jy eendag net so wonderlik soos Kurt Strassen wil wees.”

Elsa lag senuweeagtig en speel met haar klippies sonder om weer na hom te kyk. Sy trek haar skouers ongeërg op. “Wel, ja! Dit het alles so avontuurlik gelyk, ek het nogal daarna uitgesien om Suidwes toe te kom.”

Hermaans lag lank en bulderend.

“Jy! Ag! Moet nou nie laat ek lag nie! Die avontuurlikste ding wat jy sal kan doen, is om Kurt Strassen se skoene vir hom skoon te maak.”

Elsa ignoreer sy aanmerking en vra meer dringend: “Waar is hy nou? Is hy nie ook dalk daar in die noorde nie? Hy het vir ons vertel dat hy op Otjimbingwe gestasioneer is.”

“Ja, dit was die laaste wat ek ook van hom gehoor het. Maar ek wil tog nie vanaand oor Kurt Strassen gesels nie. Hou maar jou heldeverering nog so ’n bietjie. Dit kan jou nie kwaad doen nie.”

Elsa staar hom onbegrypend aan met ’n hart wat benoud klop. Sy besef dat sy net sy agterdog sal wek as sy verder probeer uitvra.

Hermaans is vreemd stil en ingedagte. Hy sit nog so ’n paar minute, kap dan sy pyp uit en stap na sy wa.

Sarah du Pisanie Omnibus 6

Подняться наверх