Читать книгу Sarah du Pisanie Omnibus 6 - Sarah du Pisanie - Страница 8

Оглавление

5

Elsa ontwyk vir Hermaans. Sy sorg dat sy klaar geëet het voordat hy by die vuurtjie kom. Sy hou haar baie doenig in haar wa en steek nie haar kop daar uit nie.

Sy sorg egter ook dat sy haar kakieklere aanhet sodat sy die een span osse kan vat.

Sy staan stil en wag voor by die span, die tou slap in haar hand terwyl sy die wêreld om haar ingedagte bekyk. Hermaans praat met Filemon in sy eie taal en sy kan die onbegrip op Filemon se gesig lees. Hy trek egter sy skouers gelate op en vat die tou van die voorste span osse.

Elsa raak later in die oggend bewus daarvan dat hulle wegbeweeg van die rivier af. Angstig wonder sy of dit vandag ’n baie lang skof gaan wees. Die watergate is seker maar skaars dieper in die binneland, so weg van die rivier af.

Haar skoene skaaf haar. Gister al het sy haar voete blase gestap. Moedig hou sy egter aan, want sy sal liewer op die warm sand morsdood neerslaan voordat sy erken dat sy nie opgewasse is vir hierdie taak nie.

Die son brand genadeloos op hulle neer. Die groot bome is nou ook meer yl versprei en nie so dig op mekaar soos langs die rivier nie.

Die woede kook en borrel in haar. Hermaans het op sy wa geklim en ry doodluiters asof hy geen bekommernis in die wêreld het nie. Sy kan mos nie help as hy sulke eenvoudige werksmense het wat skrik vir ’n vrou nie ... nou moet sy in die bloedige son stap en hy ry soos ’n groot indoena op die wa.

Die moegheid maak rooi kolle voor haar oë en kort-kort vee sy die sweet met haar voorarm uit haar gesig.

Die hele wêreld begin meteens voor haar beweeg, maar sy klou net stywer aan die tou vas. Haar voete brand soos vuur en elke tree wat sy gee, is ’n marteling. Sy is seker daarvan as sy nou haar skoene uittrek, dan kom die velle saam met die sokkies af.

Asof van ver hoor sy een van die Herero’s agter haar na Hermaans roep. Sy is te moeg om enigiets waar te neem of selfs net om te kyk. Sy konsentreer so goed sy kan op elke tree wat sy gee.

Die bome wieg van een kant na die ander en maak al die gras en klippe in die proses deurmekaar. Toe voel sy hoe die harde, klipperige aarde haar optel en ver weggooi. Soos ’n drenkeling klou sy aan die tou vas en sleep vir ’n tree of twee saam met die geduldige osse.

Weer word sy opgelig en sy wag gespanne dat die aarde haar in ’n ander rigting moet slinger. Maar dan kom alles tot stilstand en die vreeslike brand is ook nie meer so fel in haar voete nie.

Haar oë fladder stadig oop en sy kyk vas teen ’n blou geruite oppervlak. Sy konsentreer op die strepe voor haar en stadig kom ’n breë bors in fokus.

Hermaans vloek hard en stap vinnig met haar na haar wa. Hy sit haar versigtig op die smal bedjie neer en staan lomp na haar en kyk.

Toe draai hy om, tap water in haar bekertjie, gooi daarvan in sy hand uit en vee oor haar gesig.

Sy probeer regop sit, maar sak net weer dronk en deurmekaar terug teen die kussing.

Die sagtheid van die bedjie en die verligting om nie meer op haar brandende voete hoef te staan nie, maak dat sy haar oë wil sluit en net sag wegdommel.

’n Sterk arm stut haar van agter af en sy voel die beker koel teen haar lippe. Dorstig sluk sy en kyk dan stadig op, vas in Hermaans se bekommerde blougrys oë.

“Baie dankie ... ek sal nou ... nou reg wees.” Sy sit regop en probeer haar bene van die bed afswaai. “Kan ... kan ek net gou iets aan my voete doen ... dan sal ek weer die tou kom vat.”

Hermaans buk af en trek haar een skoen uit voordat sy kan keer.

Hy sê niks, kyk net stil na die rou voet waarop die waterblase wit en opgehewe vertoon. Van die blase het al stukkend geskaaf en die water loop vryelik uit die rou plekke.

Stil kyk hy op in haar bruin oë en hou hulle etlike sekondes gevange voordat hy die ander skoen ook uittrek en dié voet bekyk.

“Ek het goed daar in my wa. Ek sal dit gou gaan haal.”

“Dis nie nodig nie, ek sal regkom!”

Hy antwoord haar nie, staan net op en klim met een swaai van sy lang bene van die wa af.

Elsa sak terug teen die kussing en lê met geslote oë. As haar kop net nie so vreeslik gepyn het nie, dan sou sy nog kans gesien het vir die res van die pad.

Sy raak weer van hom bewus toe hy saggies aan haar voet raak. “Dit gaan brand.”

Haar oë skiet vol trane toe hy die brandende goed aan die teer, stukkende plekke smeer.

Hy kyk bekommerd na haar, wat geen woord van pyn uiter nie. Hy sien die trane in die bruin oë opdam terwyl sy styf op haar tande byt.

“Jy moet vir eers nie ’n skoen aantrek nie. Hierdie stukkende plekke sal gouer gesond word as dit eers droog is.”

“Maar ek kan nie kaalvoet loop nie, hier is te veel dorings en die sand is te warm.”

“Ek sal nou daar vat, jy kan maar in die wa bly.”

“Nee ... nee, dit is nie reg nie. Dit is my plig en ek wil dit doen.”

“Ag, Koos, word tog ’n slag groot en luister as iemand met jou praat.”

“My naam is nie Koos nie.”

“Vir my sal jy altyd Koos bly.” Hy draai om en klim van die wa af.

Elsa sak terug op die bedjie. Sy is so moeg dat sy net nodig het om haar oë toe te maak om salig aan die slaap te raak.

Dit is al sterk skemer toe hulle eindelik uitspan. Elsa voel baie beter. Haar kop is nie meer so seer nie en op haar kaal voete stap sy na die kampplek om te gaan kos maak.

“Jy kon maar in die wa gebly het. Ek kan kos maak. Ek doen dit al jare self.”

Elsa sug. Hermaans sal in sy lewe nooit weer vir haar goed word nie. Maar miskien is dit beter so. Want van gisteraand af is sy vir hom bang ... en skaam.

Sy antwoord hom nie, gooi net water in die pot en skuif dit oor die vuur. Hermaans gluur haar aan, stap dan sonder ’n woord weg en los haar alleen by die vuur.

In doodse stilte maak sy kos en in stilte eet hulle klaar. Daarna staan hulle op om te gaan slaap.

“Ek sal weer van die goed aan jou voete kom smeer sodra jy hulle gewas het.”

“Ek sal dit self aansmeer as jy dit net vir my sal gee.”

Hy antwoord haar nie en sy stap hinkepink na haar wa. Sy was haar voete in die klein voetbadjie en wag maar geduldig vir hom, want hy sal hom tog nie aan haar protes steur nie.

Hy vra nie eens of hy maar kan inklim nie, trap net met sy lang bene bo-oor die rand en steek eers die lamp op voordat hy by haar kniel.

Versigtig smeer hy met sy groot hande die brandende goed aan haar voete tot haar vel ’n sieklike bruingeel kleur gevlek is.

Hy stut hom op sy een knie en kyk nie op nie, praat sommerso kop onderstebo. “Ons het vanmiddag van koers verander. Gewoonlik gaan ons met die rivier langs tot op Otjimbingwe. Maar ons gaan nou Tsoabis toe. Dit is waar die Duitse soldate se fort is, die Wilhelmsfeste. Ons sal môre so teen etenstyd se kant daar wees. Jy kan daar afklim om na jou geliefde te gaan soek.”

“Maar, meneer Potgieter, is dit nie ’n groot draai vir jou nie?”

“Dit is ’n draai, ek gaan net daar aan as ek vir hulle voorraad het, en hierdie keer het ek niks vir hulle nie ... Maar dit maak nie saak nie.”

“Ek ... sal betaal vir al die moeite.”

“Ag! Jy maak my siek!” Hy kap die botteltjie se prop in met sy plathand en staan vinnig op. “Sorg dat jou goed alles ingepak is. Ons moet ongelukkig môreaand daar slaap, want die volgende water is ver. Maar ons sal jou net by die fort aflaai en dan ’n entjie buitekant die fort uitspan vir die nag sodat ons vroeg oormôre kan ry.”

Elsa staar met groot oë na die tentflap wat agter hom toeswaai.

Sy staar na die flikkerliggie van die lamp en wonder bekommerd wat sy dalk môre alles by die fort gaan uitvind. Tsoabis is nie ver van Otjimbingwe af nie. Kurt was ook in die Wilhelmsfeste. Die ou fort is gebou op die roete van die hawe na die binneland om die onwettige smokkel en invoer van wapens te bekamp.

Kurt het haar so baie van die ou fort vertel dat dit vir haar heeltemal bekend lyk die volgende dag toe hulle daar aankom. Hy het alles so mooi beskryf dat sy glo sy selfs die binnekant sal eien as sy dit sien.

Opgewonde loer sy om haar rond. Die veld is nie vreeslik ruig nie, maar dit is mooi en sy kan glo dat dit baie goeie weiveld is. Dit is seker ook hoekom die inboorlingstamme so baklei om hierdie stukkie aarde.

Sy wens dat sy op ’n beter noot van Hermaans kon afskeid neem. Sy het gewoond geraak aan hom die afgelope agt of nege dae. Hulle kon eers saans so lekker gesels, totdat hy agtergekom het sy is ’n vrou. Sedert die aand na die leeu-episode praat hy nie eens die nodigste met haar nie.

Sy is hom tog baie dank verskuldig omdat sy saam met hom kon kom tot hier, en sy sal dit graag vir hom wil sê. Hy het haar vroegoggend al aangesê om die rokkie wat sy met soveel sorg gekies het, uit te trek en weer haar kakieklere – of soos hy dit noem, haar Koos-klere – aan te trek. Tot die hare moes onder die hoed ingedruk word.

Sy het hom onbegrypend aangestaar, maar die smeulende woede in sy oë en stem toe hy haar toesnou, het haar vinnig laat handel.

“Doen wat ek sê! Ek wil nie hê die hele Duitse mag moet dink ek het dae lank alleen saam met ’n vrou in die veld deurgebring nie. Laat hulle met hul eie oë sien hoe jy my bedrieg het, dan sal hulle verstaan hoe ek so ’n gek van myself kon maak.”

Sy het die haatlike kakieklere onmiddellik gaan aantrek. Haar voete is toegedraai in lappe en sy moes die skoene se veters oopryg sodat sy hulle daar kon inkry.

Luitenant Schlage is in beheer van die Wilhelmsfeste en kom hulle joviaal tegemoet toe hulle met haar wa deur die hek van die fort kom.

Hermaans het die ander drie waens buite die fort gelaat en Simon aangesê om saam met hulle te kom sodat hy later weer die wa kon uitvat.

“Hermaans, aarde! Ek is bly om jou te sien.” Die luitenant pomp omtrent Hermaans se arm af voordat hy omdraai en sy hand na Elsa uithou.

“Goeiemiddag, jongman. Ek is luitenant Schlage.”

Elsa steek haar hand na hom uit, maar ontwyk die oë wat haar nuuskierig betrag.

Hermaans kom nader en trek die hoed van haar kop af sodat die vlegsel agter haar rug afval.

“Dit, Hans, is nie ’n jongman nie, dit is ’n meisie en sy het my vyf dae lank vir die gek gehou!”

Elsa kan die onderdrukte woede in sy stem hoor. Hans kyk haar eers geskok aan, maar bars dan luidrugtig uit van die lag.

“Wel! Dit is die eerste persoon wat dit reggekry het om jou vyf dae lank om die bos te lei, Hermaans. Ek glo jy was woedend!”

Hy vat Elsa aan die arm en stap met haar aan na die fort. “Dit sal die moeite werd wees om hierdie storie te hoor, maar u het nog nie vir my u naam gesê nie, juffrou.”

“Elsa Fourie, luitenant.”

Die luitenant roep ’n paar bevele in Duits en hulle stap na ’n gerieflike sitkamer waar hy hulle gasvry nooi om te sit. Voordat hulle behoorlik sit, kom daar ’n man met glase en bier en heerlike koue lemoensap vir haar.

“Juffrou Fourie, ek brand om u storie te hoor, maar ek wil net gou vir Hermaans keer voordat hy weer verdwyn.”

Hy draai na Hermaans, wat vooroor buk en sy hoed langs hom op die vloer neersit. “Daar is ’n sakie wat ek dringend met jou moet bespreek, Hermaans. Ek is vreeslik bly dat jy hier aangekom het. Ons het darem vir jou ’n boodskap op Otjimbingwe gelaat ook. Sodra ons juffrou Fourie netnou gemaklik gemaak het, moet jy my asseblief in my kantoor kom sien.”

Hermaans knik en aanvaar die glas bier wat die luitenant al geselsend na hom uithou.

“Juffrou Fourie, ek sal bly wees as u vir my u hele verhaal sal vertel. Dit gaan vir ’n lang tyd die grootste nuus dwarsoor Suidwes wees. Dat iemand sowaar vir Hermaans Potgieter kon ore aansit!”

Elsa kyk nie na Hermaans nie, begin net sag haar storie van heel voor vertel. Gelukkig sien sy nie die betekenisvolle blikke wat die luitenant en Hermaans wissel nie, want haar oë is op haar hande wat styf inmekaargevou is.

“U wil dus nou na Kurt Strassen gaan soek?” Die luitenant byt ingedagte aan sy lip. “As ek mag vra, juffrou, wat het u in gedagte?”

“Ek weet nie presies nie, ek het gehoop dat u vir my meer inligting sou kon gee. Soos waarheen hy was toe hy vermis geraak het. Ek voel dit is darem ’n leidraad, ’n plek om te begin soek. Dit is tog nie so lank gelede nie. Dit kan uiters drie maande wees, want drie maande gelede het ek nog van hom ’n brief gehad wat op Otjimbingwe gepos is.”

Hermaans staan op en vat sy glas bier. “Ek gaan solank daar by die ander ouens gesels. Praat julle maar alleen.” Hy stap by die deur uit en skielik voel Elsa alleen en verlate. Sy kyk sy groot figuur agterna en moet die begeerte om op te spring en agter hom aan te hardloop met mening onderdruk. Hy is so groot en sterk, so manlik! As hy haar tog maar wou help om na Kurt te gaan soek.

Die luitenant sit stil voor hom en kyk. Hy weet nie wat om die arme kind te antwoord nie. Met die nuwe gegewens wat hy ontvang het, waaroor hy juis vir Hermaans wil spreek, weet hy net nie.

“Ag, luitenant, moet my asseblief nie wegstuur nie. Help my tog om vir Kurt op te spoor, want ek het die gevoel dat hy iewers in groot gevaar verkeer.”

“Maar ek weet regtig nie hoe om u te help nie, juffrou.”

“Almal is so ontwykend, ek kan dit nie verstaan nie. Ek bedoel ... hoekom soek niemand na hom nie?”

Die luitenant beskou haar deur vernoude oë. “Juffrou, u het tog hierdie hele storie vir Hermaans Potgieter vertel, het u nie?”

“Ja, ek het.”

“Wat het hy gesê?”

“As u nie omgee nie, luitenant, dan sal ek dit liewer nie herhaal nie. Hy het allerhande lelike en gemene aantygings gemaak net omdat hy kwaad was vir my. Ek voel dit het niks met die hele aangeleentheid te doen nie.”

“Wil u nie maar asseblief vir my sê wat hy gesê het nie?”

Sy sluk en kyk na haar hande. Die twee rooi kolle hoog op haar wangbene steek helder af teen die sonverbrande vel.

“Hy het gesê dat Kurt nie vermis word nie, maar dat hy gedros het.”

Die luitenant sit lank stil. Hy het nie die moed om in die groot bruin oë te kyk en die hartseer wat hy in haar stem hoor, daar te sien nie. Dit is duidelik dat sy hewig ontsteld is, maar hy kan aan niks dink om te sê wat haar sal kalmeer nie. Hy sal eers die saak met Hermaans moet bespreek voordat hy enige besluite neem.

Hermaans is een van hulle groot staatmakers hier bo in die noorde, indien nie die grootste nie. Hermaans ken die land en sy probleme soos die palm van sy hand en as hulle in ’n hoek vasgekeer voel, gaan soek hulle hom maar altyd op.

“Juffrou, het u vir u ’n rokkie saamgebring?”

Elsa kyk verbaas na hom. Sy verstaan nie die skielike frontverandering nie, maar knik bevestigend.

“Ek gaan u nou na ’n kamer toe neem, dan kan u lekker bad en mooi aantrek. Ek moet eers die saak met die ander offisiere gaan bespreek en dan kan ons verder gesels.”

’n Breë glimlag sprei oor haar gesig.

“Ag! Baie dankie, luitenant. Ek het geweet u sal my kan help. Ek het geweet dat die ander Duitse offisiere net so dierbaar soos my Kurt sal wees.”

Hy neem haar na ’n kamer en vra vir Simon om een van haar trommels van die wa af te haal. Daarna stap hy na die groot lokaal waar Hermaans en van die ander offisiere rustig staan en bier drink.

Hy wink vir die groot man en hulle gaan sit eenkant by ’n tafeltjie waar hulle ongehinderd kan gesels.

“Wat stel jy voor, Hermaans?”

“Ek weet waaragtig nie. Ek weet nie wat ek van die vroumens moet dink nie. Ek is bang dit is die een of ander set van hulle twee en dat sy nog steeds besig is om my om die bos te lei.”

“Dit kan wees ... maar ek weet darem nie. Dit is vir Kurt die heel veiligste om vermis te wees. Hulle sou dan ’n ander naam gebruik het. Daar is natuurlik heeltemal nuwe verwikkelinge ook, Hermaans.”

“Is dit so?”

“Ja. Dit is hoekom ons so naarstiglik na jou soek. ’n Herero-bende is weer besig om in ’n sterk groep die wêreld hier om die Waterberge te terroriseer. Daar is sprake dat die leier ’n wit man is.”

“’n Wit man?”

“Ja! En sy strategie is dieselfde as dié wat Kurt Strassen destyds gebruik het toe hy die groep Afrikaners aangevoer het, kort nadat hy gedros het. Met die gegewens wat die vrou vandag vir ons gegee het, is ek oortuig daarvan dat dit Kurt Strassen is.”

Hermaans kyk in sy glas en skud die bier sodat dit ’n wit skuimrandjie teen die glas maak.

“Vir ’n volle jaar was dit doodstil. Ek het regtig gehoop dat hy iewers sy moses teëgekom het.”

“Ja, ek dink ons het maar almal so gehoop. Dit is nie lekker om teen een van jou makkers oorlog te maak nie.”

“Luister, Hans, wat dink jy van die vroumens se storie? Klink dit nie vir jou ook verdag nie? Ek bedoel, hoekom sal Kurt Strassen die vrou laat uitkom om met hom te kom trou en haar dan nie op Swakopmund gaan haal nie?”

“Soos ek vir Strassen ken, is hy weer besig met die een of ander onderduimse ding. Het sy nie dalk ryk familie nie?”

“Sy sê mos sy het ’n oom hier op Tsumeb. Ek ken vir Gert Fourie. ’n Snaakse soort mens ... so kop in die bos. Iets lyk met hom nie pluis nie, maar jy kan ook nie jou vinger op iets lê wat hy verkeerd doen nie. Volgens haar is hy en Kurt vriende.”

“En haar ouers, Hermaans? Het sy miskien vir jou iets van hulle vertel?”

“Net dat haar pa ’n predikant was, maar hulle is albei dood. Hulle was ook arm, sy het nie eens geld gehad om hiernatoe te kom nie, Kurt het dit vir haar gestuur.”

“Nou slaan dit my nog meer dronk. Hy sou so iets vir geld doen. Maar ’n arm meisie ... ek glo nie!”

Hans drink ingedagte sy bier, sy blou oë ernstig op Hermaans. “Ek sal haar natuurlik nie kan toelaat om die wilde land in te vaar met een of twee Herero’s nie – en veral nie om te gaan soek na daardie sleg ding nie.”

“Ek hoop nie jy het dit eens oorweeg nie, Hans.”

“Nee, maar ek is bly as jy ook so dink. Jy wil haar nie maar saamneem tot by haar oom nie? Wat maak ek met haar?”

“Nee dankie, Hans. Sy is nou jou verantwoordelikheid. Kurt Strassen was een van jou manskappe.”

“Al wat ek kan doen, is om haar môre saam met die patrollie na die sendelingpaar op Okahandja te stuur, waar sy kan vertoef totdat ons ander reëlings vir haar kan tref.”

“Ja, ek dink dit sal die beste wees.”

Hermaans staan op en vat sy hoed. Hy slaan dit hard teen sy been sodat die stofwalms daaruit trek.

“Jy ry tog eers môre. Ons sien jou dus vanaand vir ete en ’n paar biere, of hoe?”

“Dankie, dit sal lekker wees. Ons moet nog gesels oor die Herero-bende en sy leier. Ek sal vanaand al die gegewens kom kry.”

Hermaans stap uit en beveel Simon om Elsa se goed agter uit die wa te laai. Elsa sien hulle deur haar venster en draf vinnig nader.

“Meneer Potgieter!”

Hy kyk gesteurd om. Die bekoorlike jong vrou in haar spierwit rokkie slaan vir ’n oomblik sy asem skoon weg, sodat hy net stil na haar staan en kyk, vreemd ontroer deur haar vroulike voorkoms.

“Ek wil darem eers groet ... en baie dankie sê. Ek ... Gaan jy nou ry?”

Hermaans kyk stil na haar toe sy haar hand ophou om vir Simon te keer toe hy haar bagasie wil uitlaai.

“Kan ek vir jou nog ’n groot guns vra? Sal jy nie asseblief vir my die twee groot trommels met my bruidsuitset saamneem tot by my oom nie? Sodra ek vir Kurt gekry het, sal ons dit daar gaan haal. Dit ... sal nou net in die pad wees.”

“Ja, goed. Dit maak nie aan my saak nie. Wys maar net vir Simon wat jy alles hier wil aflaai. Ek sal vanaand groet, ek kom hier eet.” Hy draai om en stap vinnig by die fort se hek uit.

“Simon, net daardie klein trommeltjie, asseblief. Die een sak is al daar binne. Die ander goed kan maar alles hier bly.”

Ingedagte stap sy terug na die gebou en gaan klop aan die luitenant se deur.

“Kom binne, juffrou.”

Elsa gaan sit styf en regop op die stoel. Haar hele toekoms is in hierdie man se hande.

“Juffrou, ja ... ek vrees ek het slegte nuus vir u. Ek het ongelukkig nie soveel manskappe dat ek ’n paar kan afstaan om u te help nie, en ek kan nie toelaat dat u alleen, met net ’n paar Herero’s as geleide, hierdie woeste, wilde land ingaan nie.”

Groot, blink trane loop stadig oor haar wange. “Asseblief, luitenant. Gee my net een manskap, dan kan ek en hy en ’n paar Herero’s mos na Kurt gaan soek.”

“Dit is te gevaarlik, juffrou. Ons het reeds weer berig gekry van bendes wat moor en plunder hier in die Waterberge.”

“Nou wat stel u voor moet ek doen? Ek het nie eens geld om terug te gaan Kaap toe nie.”

“Daar gaan môre ’n patrollie Okahandja toe. Hulle sal u saamneem tot by sendeling Goldschmidt en sy vrou. Hulle sal vir u verdere reëlings tref.”

Elsa staan verwese op en stap stil na haar kamer. Sy staan nou met haar rug teen die spreekwoordelike muur. Sy weet nie een tree vorentoe nie. Almal is so ontwykend en min bekommerd oor Kurt. Sy kan dit eenvoudig nie verstaan nie.

Sy byt ingedagte aan haar lip. Sy kry gedurig die gevoel dat Kurt in gevaar is, maar sy sal uitvind wat aangaan. Sy is baie seker hier is die een of ander ongerymdheid aan die gang.

Magtelose trane loop ongehinderd oor haar wange en sy kap desperaat met haar vuis teen die muur.

Dit is al sterk skemer toe Elsa vir Hermaans op sy perd by die fort se hek sien inkom.

As sy hom tog net kan oorreed om haar saam te neem Tsumeb toe, na oom Gert toe. By oom Gert sal sy regkom, hy sal haar help soek na Kurt.

Sy weet egter dat dit ’n onbegonne taak sal wees. Hy kon haar nie gou genoeg aflaai nie. Hy het spesiaal ’n draai gery omdat hy nie kans sien daarvoor dat sy ’n paar dae langer in sy geselskap moet wees nie.

Die teleurstelling is rou in haar. Sy het tog so gehoop dat sy hier hulp sou kry.

Een van die manskappe klop liggies aan haar deur en kondig aan dat die luitenant vir haar wag vir aandete.

Haar hare blink sag in die lamplig en weerkaats blink strepe in die donkerbruin weelde. Sy het dit vanaand laat los hang en die wit rokkie met die lae halsie laat haar baie fyn en vroulik lyk. Haar voete is nog baie seer en teer en sy het twee sagte wit pantoffels met dun sole uit haar trommel gehaal. Gelukkig is die rokkie lank sodat niemand die skoene sommer sal opmerk nie.

Luitenant Schlage staan vinnig en militêr regop toe sy die vertrek inkom. Hermaans bly sit egter agteroor met sy glas bier en beweeg nie. Sy oë is stil en opsommend op haar. Hy wonder of die wit rok nou bedoel is om die luitenant te beïndruk.

Die heerlike ete is vir Elsa ’n koningsmaal na die dae lange transportkos en sy laat behoorlik reg daaraan geskied.

Na ete sak hulle weer in die gemakstoele van die ontspanningslokaal neer en die mans voer ’n onstuimige gesprek in Duits, waarvan Elsa baie min verstaan.

Sy sit en speel ingedagte met haar sakdoek. Hermaans hou haar onderlangs dop. Dit is darem jammer dat sy deurmekaar is met Kurt Strassen. Hy wil niks te doen hê met dié vent nie.

Luitenant Schlage beduie laggend iets aan Hermaans, staan op en stap na sy kantoor om iets te gaan haal.

“Meneer Potgieter, ek wil ook maar tot siens sê en gaan slaap.” Sy kyk op en haar oë hou syne gespanne gevange. “Ek ... ek kan nie dalk maar saam met jou ry tot op Tsumeb nie?”

Hermaans lag sarkasties. “Jy het dus nie reggekom by die luitenant nie?”

Sy skud verwese haar kop.

“Nou wat wil jy by jou oom gaan maak?”

“Hy sal my help om na Kurt te gaan soek.”

“Nee, ou Koos! Ek is jammer. Ek dink ek het my deel gedoen. Jy het jou aan my opgedwing en ek het jou ongedeerd hier kom aflaai. As jy ’n man was, sou ek jou net daar in die veld gelos het.”

’n Verlate glimlaggie plooi stadig om haar mond. “Ek wonder ... Ek dink jy hou jou sommer so kwaai – jy sal my nie regtig sommer in die veld los nie.”

“Jy dink so! Wel, laat ek jou waarsku, moet dit liewer nooit weer probeer nie. Ek sal jou net daar los en dan kan die leeus en die slange jou opvreet.”

Sy hoor die vreemde, teer klankie in sy stem en kyk verbaas na hom. Sy groot blou oë met die rookgrys skynsel is sag en vol terg.

Verleë voel sy die blos in haar wange opstoot. Sy dink aan die kere toe sy hom styf om die lyf vasgegryp en aan hom vasgeklou het toe die gevaar gedreig het.

Sy oë speel saggies oor haar rooi gesiggie en onbewus vee hy oor sy swart baard.

Dan glimlag hy stadig. “Ja, ou Koos, hierdie bebaarde aap is tot alles in staat, moet hom nooit uitdaag nie.”

“Meneer Potgieter, wat skuld ek jou vir die saamry hiernatoe?”

Hy skud sy kop stadig heen en weer, sy oë sag op die geboë hoof. “Niks! Jy het mos vir ons kos gekook. Nogal deksels lekker, moet ek sê!”

Meteens brand die trane agter haar ooglede. Sy wens sy kan aan iets dink om te sê. Hoekom is sy dan nou so hartseer, en dit oor een halfgebakte komplimentjie van hom!

“Kan ek nie maar saamry nie, dan kook ek weer vir jou?” Sy kyk smekend na hom.

Hermaans staan op en hou sy hand na haar toe uit.

“Kom ek stap saam met jou na jou kamer toe sodat jy kan gaan slaap. En die antwoord, ou Koos, is nee!”

Sy stap stil langs hom. Hy sien hoe sy nog effens hink.

“Hoe gaan dit met jou voete?”

Sy kyk verbaas na hom. Die donkerte in die gang maak dat sy nie sy gesig goed kan sien nie. Sy stem klink so sag en hees – so anders!

“Hulle is nog ’n bietjie seer.” Sy lig haar roksoom effens. “Ek het glad vanaand my pantoffeltjies aan ... Kyk!”

Hy glimlag skeefweg.

Sy kom voor haar deur tot stilstand en kyk in die skemerdonker na hom op.

“Wel, meneer ... Hermaans. Ek wil net vir jou sê baie, baie dankie. Dit was tog dierbaar van jou om my nie in die veld te los nie. En ook vir die kere wat jy ... jy my beskerm het. Die dag met die slang.”

Hermaans kan die blink van trane in die groot bruin oë sien. Alles binne-in hom kom tot stilstand. ’n Week, lam gevoel neem van hom besit. Hy weet nie wat om vir haar te sê nie. Een gedagte oorheers sy hele denke. Sy sal weer sag en warm wees as hy haar in sy arms toevou – haar lippe sal sag onder syne bewe ...

Asof uit ’n droom skrik hy tot die hede terug toe sy met haar hande sag teen sy bors druk, haar liggies op haar tone strek en hom sag op sy lippe soen.

Hy het al sy wilskrag nodig om haar nie styf in sy arms te trek nie. Maar hy onthou die vorige keer toe hy dit gedoen het, en die harde klap wat sy hom gegee het. Die skelwoorde – jou bebaarde aap – klink nog helder in sy ore. Hy staan doodstil, styf en gespanne.

Elsa staan verleë terug.

“Voorspoedige reis! En jy moet versigtig wees ... Die luitenant sê daar is gewapende bendes.”

’n Verlate snikkie ruk los, sy draai vinnig die deur oop en stoot dit sag in die verbaasde Hermaans se gesig toe.

Lank sit sy stil op haar bed. Sy haal later haar Bybeltjie uit en met gevoel lees sy die bekende woorde. Asof die rus en vrede daarvan stadig in haar siel inkruip, raak sy later heeltemal kalm.

Een woord slaan egter soos ’n refrein vas. Volharding! Volharding!

’n Fyn glimlaggie kom stadig oor haar gesig. Dan trek sy die wit rokkie uit en trek weer haar kakieklere aan. Die wit pantoffeltjies het dun sooltjies, hulle sal lekker sag loop en sy hou hulle dus maar aan.

Versigtig loer sy by haar venster uit. Sy sien vir Simon geduldig onder die boom by Hermaans se perd sit en wag. By hom sal sy nie verbykom nie.

Sy pak haar trommeltjie in en stap sluip-sluip na buite. Ongeërg gaan staan sy by Simon.

“Ag, Simon, ek het besluit om maar die klein trommeltjie ook saam met die wa te laat gaan. Sal jy dit nie gou vir my kom haal en in die wa gaan sit nie?”

“Ja, seker, juffrou.”

Sy stap voor hom uit en gee vir hom die trommel terwyl sy woordeloos bid dat die luitenant of Hermaans hom nie moet sien nie.

Hy verdwyn egter deur die hek sonder dat iemand dit opmerk. Sy wag ’n minuut of twee, toe gryp sy haar sak en sluip teen die muur langs.

Die hekwag behoort nie te weet dat sy ’n meisie is nie. Hy was nog nie vandag in die kaserne nie. Vriendelik groet sy hom met ’n wuif van die hand en beduie dat sy nie Duits verstaan nie. Hy maak glimlaggend vir haar die hek oop en stoot weer die swaar balk agter haar toe.

Verskuil agter ’n groot boom staan sy stil langs die muur van die fort totdat sy Simon sien terugkom. Sy draf so onopsigtelik moontlik na haar wa.

Die kiste en trommels skuif sy só dat sy maklik verskuil onder die bed kan lê. Sy gooi die bedjie se matrassie onder die bed en trek met groot gesukkel die swaar trommels en kiste voor die bedjie.

Sy sorg dat water, droëperskes en beskuit byderhand is.

Eers toe sy laatnag perdepote en Hermaans se vrolike Duitse deuntjie hoor, kruip sy in haar skuilplek in.

Dit is net een dag se trek van Tsoabis tot by Otjimbingwe, het sy vandag uit die manne se praat verstaan. Sy sal môre heeldag moet wegkruip totdat hulle anderkant Otjimbingwe is, anders laai Hermaans haar daar af.

Al die spanning van die afgelope paar uur het haar verlaat en sy voel lig en vry. Sy wonder of dit is omdat sy nou ’n trappie nader aan Kurt is ... op pad na hom toe. Maar dit is asof sy nie meer sy gesig so helder voor haar kan oproep nie, want ’n groot bebaarde gesig waaruit twee kwaai blougrys oë vir haar kyk, skuif kort-kort voor haar bekende prentjie in.

Toe sy eindelik wegdommel, slaap sy heerlik en rustig, ten spyte van die bedompigheid onder die bed.

Sarah du Pisanie Omnibus 6

Подняться наверх