Читать книгу Sarah du Pisanie Omnibus 6 - Sarah du Pisanie - Страница 6

Оглавление

3

“Haai, Koos!” Hermaans bulder van die voorste wa af en Elsa draf vinnig om te gaan hoor wat hy wil hê.

Dit is ondraaglik warm en na die vierde dag op pad smag sy na ’n bad. Sy steel saans bietjies water uit haar drinkbalie om darem die ergste sweet en stof af te was. Saans as die osse klaar gesuip het, gaan was sy haar voete en hande by die watergate. Maar die water is die meeste van die tyd modderig, veral nadat die osse die wêreld ’n pappery getrap het.

“Ja, oom?”

“Klim op.” Hermaans beduie na die sitplek langs hom. “Ek gaan nou met die perd so ’n ent deur die veld ry en kyk of ek nie ’n bokkie kan plattrek nie. Kan jy lewer en vetderm oor die kole braai?”

“Ja, oom.” Elsa vergeet skoon van haar seunsrol en brei breedvoerig uit. “Ek kan die vetderm stop met die lewer en niertjies, of ons kan van die lewer stukkend sny en dit in die netvet toedraai. O! Dit is lekker! Oom het mos speserye hier.”

Hermaans bekyk haar ongelowig. “Het jou ma jou so geleer kook?”

“Ja, oom, my ma was baie sieklik en iemand moes kook.”

“O! Is dit hoekom ... Maar ek dink jou pa kon ook iets aan jou opvoeding gedoen het. Jy is darem baie fiefierig vir ’n seun.”

Elsa kyk kastig skaam weg.

“Wat doen jou pa, boer hy?”

“Nee, hy was ’n predikant.”

“O, behoede my! Dan het jy jou mos nou al opgetrek aan die kruise omdat ek so vloek.”

“Ons is Protestants, oom ... nie Katoliek nie.”

“Wat maak jy dan met ’n groot sondaar soos ek?”

“Ek bid maar vir oom.”

Hermaans gooi sy kop agteroor en sy harde lag weerklink ver oor die vlaktes.

Elsa vererg haar vir die lasterlike mens. “Ek sien daar regtig niks snaaks aan nie, oom.”

“Ou Koos, as jy vir my wil bid, sal jy die hele dag op jou knieë moet bly. Ek en die ou sendeling daar by ons is groot vriende, maar selfs hy het al moed opgegee.” Hy kyk haar tergend en opsommend aan. “Nee, maar nou kan ek darem verstaan hoekom jy so verfynd is.”

Elsa maak of sy hom nie hoor nie. “Wou oom gehad het ek moet saam gaan jag?”

“Nee dankie, ou Koos, ek sal maar liewer alleen gaan. Ek wou net vir jou sê dat daar by ons uitspanplek vanaand ’n lekker fontein met heerlike vars water is. Man, ek geniet altyd dié uitspanplek. Hier kan ’n mens ’n slag bad en die dae lange vuil stof afspoel.”

“O! Dit sal lekker wees!” Elsa sê dit sonder om te dink, maar dan slaan die skok lam op haar maag vas.

“Ja, ek het gedink jy sal daarvan hou. Ek sien hoe was jy saans voete en arms en nek in die modderwater. Ons skep net eers al die balies vol water voordat ons bad. Jy kan maar solank bad terwyl ek in die veld is.” Hy loer onderlangs na haar. “Want ek gaan my morsdood lag as jy met jou hoed op bad. Ek dink tog ek moet kom loer, want dit sal die moeite werd wees.”

Elsa glimlag verleë en trek haar hoed dieper oor haar kop. “Oom sal meer lag as oom my kop sien. Dit is hoekom ek so aan my ou hoedjie klou.”

Hermaans lag en mik goedig na haar hoed om dit af te pluk, maar sy is bedag daarop en ruk weg. Sy spring van die wa af en stap stadiger tot haar wa verbykom, met Hermaans se hartlike lag nog spottend in haar ore.

Kort daarna sien sy hom op sy perd verbyry, die veld in. Sy kyk hom peinsend agterna. Hy is ’n onverstaanbare soort mens. Hard en ru, ongetem en half wild, maar sy is seker daar skuil tog ’n sagte hart onder die ruwe uiterlike.

’n Mens moet liewer nie met hom kanse waag nie. Hy dink nog sy is ’n seun. Wat sal gebeur as hy agterkom sy is ’n vrou?

Die fontein is louter vreugde. Die water is blink en suiwer en dit borrel en raas. Elsa help later om die balies vol te maak sodat die Herero’s kan klaarkry en sy kan bad voordat Hermaans terugkom.

Die Herero’s dra die balies terug na die waens en verdwyn dan met die osse, wat laer af ’n suipplek het.

Sy het die stywe band al in die wa losgemaak en die hemp hang los oor haar broek. Sy gaan sowaar probeer om haar hare ook te was, al moet sy dit net so nat onder haar hoed indruk.

’n Skoon hemp word netjies op die gras by haar handdoek neergesit. Sy verkeer in ’n doodse vrees dat Hermaans skielik op haar sal afkom. Sy gaan dus maar haar hemp aanhou solank sy bad, en daarna kan sy die skone aantrek.

Die water is koel en heerlik verfrissend om haar heupe toe sy diep instap en op die gladde klippe neersak. Die kakiehemp bol soos dit wind skep en bo-op die water dryf.

Vinnig was sy haar hare, wat sy uit die hoed uitgedop het. Die skuimbolle staan om haar kop. Sy spoel dit af en druk die ergste water uit voordat sy vinnig en deeglik bad.

Sy leun oor, neem haar handdoek en vryf haar hare met vinnige hale om dit darem effe droog te kry.

Geskok klem sy die handdoek in haar hande vas, gryp dan wild na haar hoed en bondel haar hare daaronder in toe sy die harde geklap van perdepote hoor. Sy knoop die hemp vinnig met dom vingers vas en pluk die kakiebroek sommer oor haar nat lyf aan. Toe sak sy op die gras neer en begin vinnig haar skoene aantrek.

“Wragtig! Jy bad toe met jou hoed op.” Hermaans lag ongelowig.

Elsa voel die verligting deur haar spoel omdat hy nou eers hier aankom. Sy lag hoog en senuweeagtig.

“Nee, oom is net te laat. Ek het my kop lekker gewas, maar darem weer betyds my hoed opgekry.”

Sy wens hy wil loop sodat sy kan opstaan en na haar wa kan gaan. Sy het geen verskansing vir haar vroulike kurwes onder die nat hemp nie. Sy sit dus inmekaargevou en peuter met haar skoene.

Dit is stil agter haar en sy kyk stadig om. Hermaans het gaan sit en vinnig sy groot stewels van sy voete afgetrek. Elsa sit vasgenael op een plek. Sy kan nie waag om op te staan nie. Die nat hemp klou aan haar vas en die droë hemp lê buite haar bereik. As sy dit net hier gehad het, kon sy dit half voor haar gehou het vir ekstra beskerming.

“Ou Koos, sal jy nie asseblief gou vir my ’n handdoek in my wa gaan haal nie?”

“Ja ... ja, seker!”

Hermaans kyk verbaas na haar waar sy nog stil op een plek sit en peuter met haar skoene. Iets lyk vir hom nie heeltemal reg nie, maar hy weet nie mooi wat nie. Hy skud sy kop liggies en onbegrypend.

Sy hou hom fyn dop. Toe hy sy hemp oor sy kop trek, spring sy vinnig op, gryp haar droë hemp en sonder om om te kyk, verdwyn sy agter die rots in.

Hermaans dink nie verder aan die snaakse mannetjie nie. Hy bad luidrugtig en blaas proesend terwyl hy tussendeur ’n Duitse deuntjie met volle oorgawe sing.

Elsa stap haastig na haar wa. Sy bind eers die lap weer stewig om haar bors en trek die droë hemp aan. Sy trek ’n skoon kakiebroek aan en besef dat sy nie tyd het om met haar hare te sukkel nie. Sy draai dit op en steek dit bo-op haar kop vas voordat sy weer die hoed daaroor trek.

Sy hardloop na Hermaans se wa, gryp die handdoek en draf so vinnig as wat sy kan na die fontein toe.

Van ver af hoor sy hom al. “Koos ... bring die handdoek!” Die paar woorde is goed gekruie met vloekwoorde. Elsa het lus en druk haar ore toe.

“Ek kom, oom!”

Sy hou die handdoek om die rots, maar kom nie agter die rots uit nie.

“Bring vir my die ding, man. Is jy dan simpel! Hoe moet ek dit nou daar in die hande kry?”

“Ek is haastig, oom, ek moet na die kos gaan kyk.”

Sy gooi die handdoek so ver sy kan en nael terug vuur toe.

“As ek my sonde nie ontsien nie ... dan foeter ek jou!” bulder Hermaans agter haar aan.

Die Herero’s het die bok al klaar afgeslag toe sy by die vuur kom. Die lewer en niertjies, asook die netvet en vetderm lê netjies in ’n skotteltjie wat eenkant op die boomstomp neergesit is.

Behendig werk haar skraal hande. Sy maak alles netjies skoon en sny dan die lewer in klein blokkies.

Sy sien vir Hermaans na sy wa stap en roep agter hom aan: “Oom moet sommer die kruie en goed saambring.”

Hy kom sit die kruie en ander speserye by haar neer en stap toe af na die osse om te kyk of alles daar reg is vir die nag.

Die gestopte vetderm lê sissend op die kole en stuur ’n watertandgeur die lug in, wat Hermaans al van ver af ruik. Gedagtig aan sy geweldige aptyt het sy roosterkoeke gemaak en ook die res van die lewer stukkend gesny en in die netvet gestop.

Hy kom sak lui agter haar teen die boomstam neer. “Hmmm ... dit ruik lekker! Jy moes eerder ’n vrou gewees het, ou Koos. Dit is darem ’n vermorsing dat ’n man so lekker kan kook.”

“As oom se ma vir oom geleer het, kon oom self sulke lekker kos gemaak het.”

“Jy weet, ou Koos, al wat vir my vreeslik snaaks is, is dat jou ma so ’n opgepiepte seuntjie soos jy so ver alleen laat kom.”

“My ma is vyf jaar gelede dood. My pa ook ... drie maande gelede.”

Hermaans knik met sy kop en sy oë is sag en bejammerend op haar. “My ma is ook dood toe ek nog ’n klein seuntjie was ... sommer nog ’n baba.”

“Lewe oom se pa nog?”

“Ja, maar hy is maar wild, jong! Dit is dié dat sy vyf seuns nie veel beter is nie. Vloek en drink! Party dae raak dit vir my te veel. Dan moet jy darem weet hoe erg is dit.”

Elsa kyk hom bejammerend aan en Hermaans kyk ongemaklik weg. Meteens ontstel die seun se groot bruin oë hom. Hy betrap hom kort-kort dat hy van sy vloekwoorde insluk net omdat die klein bog hom altyd so ernstig aankyk as hy sulke woorde gebruik. Vandat die outjie hom vanmiddag vertel het dat sy pa ’n predikant was, verstaan hy hom ook beter.

“Nou moet jy vir ons van daardie kos aangee, ou Koos, ek vergaan van die lus. Dit ruik darem lekker!”

Elsa hoop sy bord hoog op en gee dit vir hom aan. Hy eet in doodse stilte, maar sy kry ’n lekker warm gevoel toe sy sien hoe hy dit geniet en hoe gou die kos in sy bord minder word.

Hy vee sy mond met die agterkant van sy hand af en kyk waarderend na haar. “Is daar nog?”

Sy staan op en gaan haal sy bord. Hermaans sit lui agteroor en kyk na die skraal figuur wat gebukkend oor die rooster staan. Die verpiepte klein bog kan darem lekker kos maak, dit sal hy erken.

’n Sliert van haar lang hare het bo losgekom uit die knippie en hang effentjies onder die hoed uit.

Hermaans leun vorentoe en kyk na die snaakse ding agter haar nek. Hy dink eers dit is ’n wurm of iets wat op haar hemp se kraag sit, maar dan sien hy dit is ’n stringetjie hare.

Hy knip sy oë en kyk weer. Die mannetjie het dan gesê hy het glad nie hare nie, en wat loer dan nou daar onder die hoed uit?

Hy ontvang die bord sonder om kommentaar te lewer oor die hare wat onder haar hoed uithang en eet smaaklik klaar. Onbewus van die verraaier agter haar rug, staan sy weer op om sy bord by hom te neem en vir hom koffie aan te gee. Die haarsliertjie het verder losgeskud en hang tot onder haar skouers.

Hermaans beskou haar aandagtig. Skielik is die rede vir haar skaamheid en skugterheid vir hom so helder soos daglig. Dit is g’n seun nie, dit is ’n meisiekind!

Hy onderdruk die skielike woede in hom. Hy sal graag wil sien wat haar plan is. Hy maan homself tot kalmte, want hy het baie lus om haar storm te loop en te konfronteer.

Sy is natuurlik ook glad nie sewentien nie. Vir ’n vrou kan sy heelwat ouer wees. Hoekom sou sy so ’n ding aanvang? Wat is haar doel?

Haar wange is blosend en Hermaans kyk skerper na haar. Met haar gesondheid skeel ook niks. Hy het nog nie een keer gesien dat sy kortasem of uitgeput is nie.

“Jy sê jou oom bly op Tsumeb. Wat is sy naam nou weer?”

“Gert Fourie.”

“Is dit jou pa se broer?”

“Nee, sy neef.”

Hermaans probeer haar toets. Hy ken vir Gert Fourie baie goed. “Wat is sy vrou se naam nou weer? Ek kan nooit haar naam onthou nie.”

“Meidrie! Dit is nogal vir my so ’n oulike naam. Sy is op die derde Mei gebore, vandaar die naam.”

“Dis reg! Ek het geweet sy het ’n snaakse naam.”

Hermaans beskou haar peinsend. Sy ken dus vir Gert Fourie. Dalk is sy regtig familie van hom.

Hy sal baie graag wil weet wat sy in hierdie woeste, ongetemde land wil kom doen as dit nie oor gesondheidsprobleme gaan nie.

Sy oë raak peinsend. Haar ouers is albei dood. Maar sy behoort tog iewers ander familie as die sluwe, gladde Gert Fourie te hê wat na haar kan omsien.

Vir die eerste keer sien hy hoe wit en skraal haar hande is. Hy dink aan vanmiddag toe hy haar gevra het om die handdoek te bring. Die lag stoot sommerso vanself na bo en sy gesig vertrek in ’n diep plooi.

“Lag ... oom vir my?” Elsa vee verleë oor haar gesig.

“Nee, ek dink sommer aan ’n grappie. Maar ek kan dit nie vir jou vertel nie, dit is ’n grootmensgrappie.”

Elsa sê niks verder nie, want sy het ’n baie goeie idee van die soort grappie wat dit sal wees, en kyk net blosend weg. Sy gooi die orige koffie uit die ketel. Dit val sissend in die gloeiende kole en stuur ’n vaalgrys rokie wolkerig die lug in.

“Is jy dan al vaak?”

“Hmmm.” Elsa knik haar kop.

“Nee, man, sit dat ons nog kan gesels. Ek is vanaand niks vaak nie.” Hermaans stop weer sy pyp en teug diep daaraan sodat die rook in ’n spiraaltjie uitborrel.

Elsa staar gefassineerd na die rook. Hermaans hou die pyp na haar uit. “Probeer! Ek dink jy is nou groot genoeg om ’n dampie te maak.”

Sy skud haar kop en die haarsliert agter haar rug waai liggies heen en weer. “Nee, ek wil liewer nie. Netnou ... netnou word ek siek. My pa het vertel hoe siek hy was die eerste keer toe hy gerook het.”

Hy rook eers rustig sy pyp klaar voordat hy opstaan en die stof van sy broek afslaan.

“Nag, Koos.”

“Nag, oom.”

Elsa stap vinnig na haar wa. In die wa haal sy die hoed af en skud haar hare los sodat dit sag op haar skouers val. Dan borsel sy dit goed uit.

Sy lees gewoonlik saans eers haar Bybel en bid klaar sodat sy die lamp kan doodblaas voordat sy in die donker uittrek. Sy is bang dat Hermaans haar silhoeët teen die seiltent sal sien.

Die wit nagrokkie hang sag om die vol vroulike postuurtjie toe sy die stywe band om haar bors met ’n sug van verligting losmaak.

Die blos lê warm op haar wange toe sy dink aan die ongemaklike posisie waarin sy vanmiddag daar by die fontein was.

As sy net weet dat sy Hermaans kan vertrou, sal dit tog maar beter wees om vir hom te sê sy is ’n vrou. Maar hy is so rof en ru. Sy is bang vir hom ... bang vir wat hy aan ’n vrou kan doen.

Vir ’n jong seun is hy ’n heeltemal skaflike reisgenoot; as hy tog net nie so wil vloek en lelik praat nie. Die borsel verstil in haar hand. Hy vloek tog die afgelope dag of wat minder en vanaand het hy dit amper nie een keer gedoen nie. Sy moet net aanhou bid vir hom. Die Here kan van hom ook ’n baie bruikbare mens vir sy koninkryk maak.

Hermaans loop ’n draai deur die veld en gaan sit stil onder ’n boom, diep in die skaduwees waar hy “Kosie” se wa mooi in sig het.

Hy wil seker maak of sy ’n vrou is. Dalk is dit ’n eksentrieke ou seuntjie wat sy hare lank laat groei. Maar vanmiddag daar by die fontein ... iets wás anders en snaaks aan hom, maar hy kan nie dink wat dit was nie. Hy het nie baie mooi opgelet nie.

Hy sien hoe sy die watent oopskuif en vir ’n oomblikkie in die helder maanskyn staan en diep teue van die koel aandlug inasem. Haar hare hang lank en los om haar skouers en deur die wit nagrokkie kan hy die vroulike rondings baie duidelik sien.

Iets sags en teers trek saam in Hermaans, maar dit slaan sommer oor in woede.

Die klein merrie! Om hom so te bedrieg! Wat gaan hy nou met haar maak? Omdraai sal hy waaragtig nie. Hulle is halfpad Otjimbingwe toe. Hy sal haar daar by die sendelingpaar aflaai, of sommer by die fort, dit is wat hy sal doen. Hy gee nie ’n flenter om wat die mense van hom gaan dink nie, hy het haar nie saamgenooi nie.

Hy sien hoe sy omdraai en hoe die donkerte van die watent haar insluk.

Die nag is vir hom lank en warm. Die groot bruin oë van Koos – hy wonder wat haar regte naam is – spook by hom. Hy sien in sy verbeelding die sagte vroulike liggaam in die dowwe lig van die maan en dit maak hom vaagweg onrustig, soos wanneer die tromme van Namas in die verte gehoor word, eentonig, onheilspellend!

“Komaan! Opstaan!” Hermaans se harde stem dreun deur die stil kamp.

Die Herero’s kom vaak aangeslenter. “Ai! Die maan skyn nog!”

“Komaan! Komaan! Julle word nie betaal om te lê en slaap tot die son uitkom nie.”

Die nag se slapeloosheid het Hermaans iesegrimmig en humeurig gemaak.

Elsa spring op en trek haastig aan. Sy hardloop na die vuurtjie wat al gesellig brand. Die groot pot word oor die vlammetjies gestoot sodat die vleis wat gisteraand oorgebly het, kan warm word. Die koffiewater kook en sy maak gou vir hulle koffie.

Hermaans help die Herero’s inspan en Elsa stap eers terug na haar wa om ’n bietjie daar reg te trek totdat Hermaans klaar is.

Ongemerk het die kosmakery op haar skouers geval. Hulle eet soggens ’n groot ontbyt omdat hulle nie weer kos maak voor die aand nie.

Sy hoor Hermaans se harde stem, los alles en drafstap terug vuur toe. Sy wag maar altyd soggens eers vir hom. Dit is soos sy grootgeword het – ’n mens eet saam!

Sy kom verbaas tot stilstand. Hermaans is besig om die ketel in die vuur leeg te maak en die laaste bietjie koffie val sissend in die warm kole. Die gegrom van die Herero’s se honde vertel dat hy klaar geëet het en die orige vleis vir hulle gegee het.

Hy kyk nie in haar rigting nie, maar gee die pot en die ketel vir een van die Herero’s om aan die wa te gaan hang.

Elsa draai verbaas om. Wat sou in hom gevaar het? Gisteraand was hy nog vriendelik en vol gesels. Hy weet tog sy wag altyd vir hom om te kom eet, sy eet nooit alleen nie. Hy is vanoggend egter in ’n vieslike bui en sy bly vredesonthalwe liewer stil en gaan klim in haar wa.

Die hongerpyne vreet aan haar. Sy het van die droëperskes geëet en selfs beskuit in die water gedruk, maar dit het aaklig gesmaak.

Die dag is vir haar oneindig lank. Sy sien Hermaans net van ver af en bly maar in die wa.

Hulle span gelukkig vroeg uit. Blykbaar is die volgende water so ver weg dat hulle dit nie voor donker sal haal nie. Sy talm onnodig lank in haar wa, maar toe die stilte oor die kamp daal, gaan maak sy solank vuur. Hermaans is nêrens te sien nie. Miskien het hy weer gaan jag.

In die wa waarin die kos gebêre word, kom sy op ’n halwe sak rys af. Die vleis prut reeds stadig in die driebeenpot en sodra dit lekker sag is, gaan sy van die rys in die vleissous gooi. Dit smaak heerlik saam met aartappels en uie, wat sommer in dieselfde pot gekook word.

Versigtig skuif sy die pot van die vlamme af en stoot net ’n paar kooltjies onder hom in. Die rys moet baie stadig kook sodat dit los kan uitdy.

Die son is besig om lang skaduwees oor die grasvlaktes te gooi en die heerlike vars reuk van die veld roep haar. Sy trek haar hoedjie dieper oor haar kop en stap al met die droë loop van die rivier langs.

Onder ’n groot boom wat lang skaduwees in die rivierbedding gooi, gaan sy sit. Haar gedagtes is ’n warboel van emosies. Die afgelope paar dae lewe sy van uur tot uur. Haar grootste taak is om Hermaans onder die indruk te hou dat sy ’n seun is.

Met ’n skok besef sy dat sy sowaar besig is om van haar oorspronklike probleem te vergeet. Die hongerpyne op haar maag laat haar egter van haar kos onthou en sy staan op en stap terug na die kamp.

Sy wonder darem wat het vanoggend met Hermaans aangegaan. Hy was nog nooit so nie! Hy het tog geweet sy het nog nie geëet nie.

So diep ingedagte is sy dat sy nie die slang voor haar sien nie. Eers toe die kop sissend bak trek hier voor haar, kom sy verskrik tot stilstand.

Lam geskrik staar sy na die aaklige dierasie met sy tongetjie wat in en uit beweeg. Die kop bewe en trek dan agtertoe. Elsa gil hoog en hard en druk haar gesig in haar hande.

’n Skoot klap oorverdowend digby haar en sy sien tussen haar vingers deur hoe die slang stadig opvou en krullend op die grond rondspartel.

Die lewe kom stadig in haar terug. Sy hardloop verskrik in die rigting van waar die skoot gekom het, net om haar vas te loop in Hermaans se groot liggaam.

Hy gryp wild na haar. Die vrees maak haar gedagteloos en sy klou vreesbevange aan hom vas, haar arms styf om die groot liggaam.

Hermaans kyk na die verskrikte mensie wat so styf aan hom vasklou en sy arms gaan beskermend om haar.

Sy huil hard en histeries en besef nie eens dat hy haar hoed van haar kop aftrek en die haarnaalde losmaak nie. Eers toe haar hare sag op haar skouers val, kyk sy verskrik op in die blougrys oë.

Sy staar geskok na hom, die slang en die skrik heeltemal vergete voor die nuwe dreigende gevaar.

Hy maak haar arms stadig om sy lyf los en kyk af in haar verwese gesig.

“Ek moes jou gelos het. Iemand wat ander mense bedrieg, is nie werd om gered te word nie.”

“Oom ... ek kan alles verduidelik.”

“Moenie vir my oom sê nie! Julle ... julle dink mos dat omdat julle van die Kaap af kom, julle ons arme eenvoudige Suidwesters kan gebruik en rondstoot soos dit julle pas. Lieg en bedrieg!”

“Asseblief ... ek het nie gelieg nie.”

“O, nie? Dan is jy seker ’n seun, nè?”

Hy gryp haar wild voor die bors en ruk haar hemp met een haal oop. Hy sien die wit opgebinde lyfie vir ’n breukdeel van ’n sekonde voordat sy wild haar hemp voor bymekaargryp.

“Dit ...” Sy staan verskrik agteruit. “Dit was al wat nie waar was nie. Ek ...”

“Wat is jou naam dan? Hè, ou Koos!”

“Elsa ... Elsa Fourie.”

“O! Jy is darem ’n Fourie.”

“Ek kan alles verduidelik, oom.” Hermaans staan dreigend nader en sy retireer ’n entjie. “E ... meneer Potgieter.”

“Ja, meneer vir jou, juffrou Fourie, of is dit dalk mevrou?”

“Ek is nie getroud nie.”

“Wel, praat! Wat wil jy hê? Wat kom soek jy hier? Hoekom het jy my bedrieg ... hoekom was jy nie eerlik nie?” Hermaans is nou buite homself van woede. “As julle dink ... jy en daardie skelm oom van jou, dat julle my gaan afpers, moet julle nog ’n keer dink. Hermaans Potgieter is nie onder ’n kalkoen uitgebroei nie. En as jy dink jy kom soek hier ’n man – wel, los my uit, ek sal nie met ’n tang aan so ... so ’n bedriegster raak nie.”

Elsa val hom in die rede, haar bloed self besig om stadig maar seker kookpunt te bereik. “Meneer Potgieter, ek dink dit sal beter wees as u my ’n kans gee om te verduidelik voordat u allerhande aantygings maak.”

Haar hemp se knope het Hermaans almal afgeruk en sy klou krampagtig aan die hemp voor haar bors.

“Verduidelik! Wat kan jy verduidelik? Nog meer leuens uitdink!”

Elsa draai om en stap terug na die wa. Hermaans is met amper dadelik by haar. Hy ruk haar wild aan die arm tot stilstand.

Sy oë blits vuur. “Dit sal ’n baie goeie verduideliking moet wees, juffrou Fourie. Jy besef nie wat jy aangevang het nie. Weet jy hoe bygelowig is hierdie Herero’s ... Weet jy dat hulle maklik sal dros en my net so in die veld sal los met al vier hierdie waens?”

“Maar hoekom sal hulle dros?”

“Hulle sal doodverskrik wees as die seun skielik ’n meisie geword het. Hulle sal glo dit is die een of ander toordery of dat jy ’n god of ’n ding is.”

“Maar ...”

“Ek wag vir jou by die vuur. Maar dit sal ’n goeie verduideliking moet wees, vroumens! Ek los jou waaragtig net hier in die veld, want ek sal nie toelaat dat jy al my planne kom deurmekaarkrap en dit oor ’n onbenulligheid nie.”

Elsa wonder verleë wanneer hy uitgevind het dat sy ’n vrou is. Dit is natuurlik hoekom hy vanoggend in so ’n slegte bui was. Skaam wonder sy of hy haar tog gistermiddag by die fontein gesien het. Sy druk haar hande teen haar warm wange en staan besluiteloos in die wa.

Hermaans sit stil aan sy pyp en suig toe sy aankom.

Sy het die knellende band om haar bors afgehaal en vir haar ’n ander hemp aangetrek. Haar hare hang in ’n dik vlegsel agter haar rug.

Vir die eerste keer in dae voel sy weer soos ’n mens en sy sien sommer vir Hermaans ook kans. Sy sal nog beter voel as sy uit hierdie harde kakieklere kan kom.

Hermaans sien haar aankom. Hy sien die dik, mooi hare en die sagte, vroulike rondings van haar jong liggaam. Dit maak hom weer ongemaklik en onrustig.

Sy gaan sit op die riempiestoeltjie en wag dat hy eerste moet praat.

“Wel, ek wag!”

Sy kyk nie na hom nie. Praat net sag en sonder emosie, haar oë voor haar op die stadige, lui vlammetjies van die vuurtjie.

Hermaans se pyp gaan dood in sy hand, die ongeloof duidelik op sy gesig en in sy gespanne houding.

“Het ek reg gehoor? Sê jy jy is verloof aan Kurt Strassen?”

“Ja, oom – ek bedoel, meneer Potgieter. Ek het drie maande gelede nog van hom ’n brief gehad wat op Otjimbingwe gepos is. Maar die kaptein op Swakopmund sê dat hy vermis word. Wat my die meeste hinder, is dat niemand vir my kan sê waar hy laas was nie ... op watter sending hy was toe hy vermis geraak het nie. Dit wil ek nou probeer uitvind op Otjimbingwe.”

“Jy mors jou tyd. As jy my op Swakopmund al gevra het, sou ek jou kon gesê het.”

“Wat ... wat bedoel jy?”

“Kurt Strassen is nie vermis nie, hy het gedros uit die leër!”

“Dit is nie waar nie!” Die trane skiet in Elsa se oë. “Hoe durf jy sulke gemene dinge sê! Hoe weet jy dit? Jy was nog nooit in die leër nie.”

Hermaans trek sy skouers ongeërg op. “Jy kan my glo of jy hoef nie, dit hang van jou af.”

“Dit is nie waar nie ... hoor jy! Ek sal dit nooit van Kurt glo nie. Jy ... jy sê sommer hierdie dinge omdat ... omdat jy kwaad is vir my.”

“Buiten dat hy ’n droster is, is hy sommer ’n uitvaagsel ook.”

Elsa spring woedend orent en storm op hom af. Sy kap wild met haar vuiste teen sy bors.

“Dit is nie waar nie! Dit glo ek nie! Jy is gemeen, hoor jy! Gemeen!”

Hy vang haar hande en druk haar ru van hom af weg.

“Luister, ek sê nou vir jou, Kurt Strassen is die skelmste jakkals in Suidwes ... en ek wonder of jy veel beter is. Dit lyk nie vir my so nie. Jy kan net so lekker lieg en planne uitdink soos hy. Ek dink julle verdien mekaar.”

Elsa spring op en hardloop na haar wa waar sy snikkend op die bedjie neerval.

Die lewe het skielik donker geword om haar. Waar gaan sy tog in hierdie uitgestrekte land vir Kurt kry? Haar dierbare, saggeaarde, vriendelike Kurt, wat hierdie bullebak met sy woeste swart baard nou wil verkleineer en verneder.

Hermaans skep vir hom van die heerlike kos in en eet twee borde vol op. Hy dink ongemaklik daaraan dat Elsa vanoggend ook nie geëet het nie. Dit was van skone befoeterdheid dat hy die kos vir die honde gegee het. Hy wou haar darem net laat verstaan dat niemand Hermaans Potgieter vir die gek hou en daarmee wegkom nie.

Hy skink vir hom nog ’n beker koffie in en loer onderlangs na haar watent, waar dit nog steeds donker is. Sy het vandag nog nie eens ’n koppie koffie gehad nie. Hy het al gesien dat sy besonder lief is vir koffie, want sy drink altyd twee bekertjies kort na mekaar.

Hy voel weer haar sagte liggaam in sy arms toe sy vir die slang geskrik het. Iets diep binne-in hom woel om uit te kom, soek erkenning, maar die lewe het hom eensaam en bot gemaak. Hy weet nie wat dit is nie.

Met ’n lang stok skuif hy nog ’n paar kooltjies onder die pot in en stap na sy wa. Sy sal wel kom eet as sy sien hy is nie meer daar nie.

Lank hou hy die vuur vanuit sy watent dop, maar sy kom nie uit nie.

Stram van die inmekaarsit, staan hy later op en gaan skep vir haar ’n bord kos in. Hy skink ook die bekertjie vol koffie en stap na haar wa.

Sy dwaal in haar wa rond. Sy is rasend honger, maar sy vergaan liewer voor sy nog ’n stukkie van sy kos eet. Dit is nog net drie dae, dan is hulle op Otjimbingwe en daar sal sy weer vir haar kos koop. Intussen sal sy maar van die droëperskes en beskuit moet lewe.

Sy krap onder die bedjie tot sy haar blink keteltjie raakvat en staan dan op. Sy het nog koffie en suiker van haar eie. Nou gaan sy vir haarself koffie maak. Sy het mos daardie vuur gemaak.

Rats spring sy van die wa af en toe sy omdraai, staan Hermaans langs haar. Die bord kos en beker koffie lyk klein in sy groot hande en hy hou dit lomp na haar toe uit. “Hier is vir jou kos en ’n bietjie koffie.”

“Ek wil nie eet nie.”

“Jy het vandag nog niks geëet of gedrink nie.”

“Ek weet. Jy gee mos liewer die kos vir die honde.” Sy druk by hom verby. “Ek het nie op jou kom teer nie, meneer Potgieter. Ek sal my eie koffie gaan maak en ek het nog beskuit wat my aan die lewe sal hou tot op Otjimbingwe.”

Sy kyk na die groot man wat so verleë met die bord kos en die bekertjie koffie in sy hande staan. ’n Verdwaalde hartseer glimlaggie trek om haar mondhoeke. Sy steek haar hand uit om die bekertjie te vat en haar vingers raak vir ’n oomblik baie liggies aan syne.

“Dankie.” Sy sit die bekertjie teen haar lippe en drink dorstig die geurige koffie uit sonder om asem te skep.

’n Groot skaamte oormeester vir Hermaans. Sy lyk so jonk en weerloos en hy gun haar nie eens die bietjie kos nie. Sy maak vir hulle kos en hy het in sy lewe nog nie so lekker geëet soos op hierdie tog nie.

Toe sy klaar is, gaan haal hy die ketel en maak weer die bekertjie vol.

Stadig kyk sy op in die stil, peinsende oë wat haar ernstig betrag. “Dankie. Ek sal dié na die wa toe neem en ’n paar beskuite daarmee saam eet.”

Hy sit die ketel neer, draai om en vat die beker uit haar hande. Hy druk haar sag in die stoeltjie agter haar neer en sit die bord kos op haar skoot.

“Eet jou kos! Jy kan nie van beskuit lewe nie. Netnou word jy siek en ... dan sit ek weer met die ellende!”

Hy draai om en stap na sy wa terwyl Elsa hom met ernstige oë agternakyk.

Sarah du Pisanie Omnibus 6

Подняться наверх