Читать книгу Sarah du Pisanie Omnibus 7 - Sarah du Pisanie - Страница 10

7

Оглавление

’n Warm gevoel van tuis wees vou soos ’n sagte, wollerige kombers om Alet.

Die dorp is nog maar sy sanderige oninteressante self, met sy wind en sy houthuisies, maar iets het sommerso sonder toestemming diep in haar siel kom kruip.

Dit is vir haar heerlik om terug te wees. Die kinders hang soos vinke aan haar by die skool. Van skoolwerk daardie eerste oggend kan sy maar vergeet.

Louis is vriendelik en bedagsaam en kort-kort betrap sy sy oë peinsend op haar, wat haar hart wild aan die bons sit.

Sy is die oggend sommer van die stasie af skool toe, hulle het net haar tasse by die huis gaan besorg.

Die middag is sy nog besig om haar eerste tas uit te pak, toe die Venters kom kuier. Martha groet skaam, maar die bly liggie om Alet weer te sien, kan sy nie uit haar oë hou nie.

“Ai, juffrou, ons het so na juffrou verlang!”

“Ek het na julle ook verlang, Martha . . . en ek dink regtig jy kan maar vir my Alet sê . . . ons ken mekaar mos nou al lank genoeg.”

“Nee, ek kan darem nie sommer vir juffrou so op juffrou se naam noem nie . . .” Sy lyk verleë. Die kinders drom almal om haar saam, opgewonde dat sy die geskenk aan Alet moet oorhandig.

“Ons het vir juffrou ’n ietsie gebring . . .” Sy hou huiwerig ’n koekblik na Alet uit.

Alet neem die blik by haar en loer gemaak nuuskierig binne-in.

’n Groot pienk koek glimlag met sy kersie-oë vir haar.

“Ag, Martha, hoe pragtig! Het jy dit self gebak?”

“Ja, juffrou.”

Alet sit die blik neer en soen haar liggies op die wang.

“Baie, baie dankie, maar dit is so ’n groot koek, ek sal dit nooit alleen opgeëet kry nie. Ek gaan nou vir ons lekker tee maak en dan kan julle my help eet.”

Die kleintjies kom sit soet op die vloer by Martha se stoel.

“Hoe gaan dit verder met julle, Martha? Julle lyk almal so goed en gesond.”

“Juffrou, ons het nuwe klere . . .” Klein Martie draai pronkerig rond in haar nuwe bont rokkie.

“Maar dit is pragtig, Martie!” Nou eers merk Alet dat elkeen van die sewe kinders iets nuuts aanhet, al is dit net nuwe strikke in die hare. Weer eens bewonder sy die skynbaar ongeletterde Martha se insig.

Martha, wat nie veel boekgeleerdheid het nie, maak haar kinders met soveel begrip groot dat enige sielkundige verstom sal wees. Hierdie eenvoudige gebaar om aan elkeen iets nuuts te gee, ongeag die gehalte of geldwaarde daarvan – net sodat die kind weet hy of sy is nie vergeet nie – is nie iets wat geleerdheid ’n mens kan gee nie. Dis ’n stukkie insig uit die hart.

“En jy, Martha . . . wat het jy vir jouself gekoop?” Alet beskou haar belangstellend. Martha vang die liefde en opregte belangstelling wat die jong meisie na haar uitstraal soos ’n wintersonnetjie se strale op. Dit gloei deur haar en laat haar ontdooi soos nog nooit tevore nie.

“My beurt kom een van die dae, juffrou . . . die kinders het so baie nodig gehad. Maar juffrou weet mos seker dat meneer Erlank vir my ’n werkie by die ontspanningsklub gekry het. Ek gaan werk net soggens . . . ek gaan net kyk dat die skoonmakers netjies werk en dat alles reg is . . . etenstyd is ek weer by die huis. En die ekstra geld is baie welkom.”

“Nee, ek het nie geweet nie, Martha, maar dit is wonderlike nuus.”

Martha glimlag breed. “Ja, juffrou, dit is baie welkom. Saam met die pensioen wat ons kry, is dit genoeg en kan ek vir my en die kinders ’n slag iets nuuts koop.”

Die jammerte vir hierdie moedige vrou wel in Alet op. Met hoe min is sy tog nie tevrede nie! Vir die eerste keer in haar lewe het sy ook geld waarmee sy haar en die kinders kan bederf.

Alet skink vir die kleintjies koeldrank en sny vir hulle dik snye van die pienk koek.

’n Ligte kloppie aan die voordeur laat die vrolike gesels skielik opdroog.

Alet maan haar onstuimige hart tot stilte toe sy Louis in die oop deur sien.

Ongeërg nooi sy hom in . . . asof dit gereeld gebeur dat hy sommer ongenooid by haar kom tee drink.

“Middag, Martha.” Louis steek sy hand na haar uit.

“Goeiemiddag, meneer Erlank . . .” Martha stryk verleë haar rok glad oor haar maer bene.

“Hoe gaan dit met die werk? Is dit nie baie harde werk vir jou nie?”

Martha lag spontaan. “Te swaar? Ai, meneer Erlank, ek het nog nooit in my lewe so min gewerk soos daar nie!”

“En julle?” Louis sluit die kinders almal by hierdie benaming in. “Is julle bly die skool het weer begin?”

“Ja, meneer!” Dit is Truia wat spontaan antwoord. “Ons is bly, want nou is juffrou terug . . . ons het verlang.”

“Ek dink ons moenie vir juffrou weer toelaat om met vakansie te gaan nie . . . of wat sê julle?”

Alet gee vir Louis sy tee aan en hou die suiker na hom uit. “Wil jy ook ’n stukkie van die heerlike koek hê? Martha het my so bederf.”

Louis kyk skepties na die helderkleurige koek, maar toe hy Martha se benoude oë sien, dring hy joviaal daarop aan.

“Maar natuurlik! Dit is dan waarvoor ek gekom het . . .Ek het vir Martha met die koekblik hier sien inkom, en dit is toe dat ek vir myself sê: Kyk, Louis, in daardie blik is koek. Jy beter sorg dat jy daar kom, anders kry jy niks nie . . . dan eet daardie juffrou van jou alles alleen op en . . .” Sy oë vonkel ondeund. “Sy is reeds so vet . . .”

Martha bloos van lekkerkry, en Alet lag ongelowig terwyl sy oor haar skraal heupe vryf.

“Ek sal nie stry nie, want my ma het my hierdie vakansie so bederf. Dit was net melk en vrugte, koekies en room en . . . ag, alles wat lekker is.”

“O, ek wens ons kan ook eendag met vakansie gaan!” Die versugting kom diep uit Truia se kinderhart.

Alet voel die trane agter haar oë brand. As dit net nie so ver was nie, kon sy vir Truia en Willem een vakansie saamgeneem het na haar ouers se plaas toe.

Sy druk Truia se hand saggies waar sy langs haar op die rusbank sit.

“Jong, ’n mens weet nooit . . . Voordat jy dit besef, gaan julle dalk eendag met vakansie.”

Louis beskou hulle peinsend.

“Ek sal julle sê wat . . . Met die komende kort vakansie gaan julle almal saam met my plaas toe. Ons het ’n enorme huis op die plaas en my ma sal verskriklik bly wees om weer ’n slag ’n huis vol mense te hê.”

Die kinders staar hom oopmond aan en Martha laat haar kop sak terwyl sy senuweeagtig met haar sakdoekie speel.

“Ek . . . ek weet darem nie, meneer . . . Ons . . . ons is so ’n klomp en ek . . .”

“Ag, Maaaa . . .” Soos ’n koor protesteer die kinders.

“Ek . . .” Martha raak verbouereerd. “Ek ken nie eens meneer se ma nie en die kinders . . . hulle kan maar ’n handvol wees.”

“My ma is regtig lief vir kinders. Ek is haar enigste en sy wou altyd so graag ’n huis vol kinders hê. Buitendien neem ons mos vir juffrou ook saam. Sy kan jou help om die kinders op te pas as jy bang is hulle raak weg daar op die plaas.”

Alet staar hom verbaas aan. Sy het nie gedink dat sy ingesluit is by hierdie uitnodiging nie.

Martha glimlag deur die trane wat stadig in haar oë opdam.

“As juffrou saamgaan . . . dan sal ek baie graag wil gaan, want dan . . . dan sal dit nie so vreemd wees nie. Ek . . . ek is maar skaam . . . en bang vir vreemde mense.”

“Jippie!” Truia en Willem vlieg op en gryp hul ma om die nek terwyl hulle haar heen en weer sus.

“O, Mamma, kan ons regtig gaan? Almal! Mamma gaan mos saam?”

“O, meneer!” Truia sak op sy stoel se leuning neer en druk ’n soen teen sy kop.

Alet staar die kinders verstom aan. Kan dit die skaam, skugter Ventertjies wees wat sowaar hul meneer soen van pure opgewondenheid? Sy wil nog protesteer en sê sy kan nie saamgaan nie, maar op hierdie oomblik sien sy nie kans om ’n druppel water op hierdie opgewonde vuurtjie te gooi nie.

Martha loer versigtig na haar.

“Juffrou? Juffrou gaan mos saam?”

Alet vermy Louis se oë. Sy staan op om die koppies bymekaar te maak. Kop onderstebo antwoord sy.

“Ek sal maar saamgaan . . . netnou laat raak julle een van my kinders weg.” Sy knyp vir Martie aan die wang. “En sê nou net dit is ou Mart . . . dan gaan ek mos baie, baie kwaad wees.”

Martie kraai van plesier. Die kinders lag en praat tegelyk. Hulle drom om hul ma saam en vra die onsinnigste vrae oor die plaas.

Alet kyk stadig op, vas in Louis se bruin oë, wat haar stil dophou. Dan glimlag hy stadig.

“Jy sal dit geniet. My ma is ’n regte ou bederwer.”

Sy glimlag terug. “Dit is ’n verligting, want as sy so ’n ou brombeer moes wees soos haar seun, dan sou ek nie graag wou gaan nie.”

Die kinders eis hul aandag en Louis moet sy storie ken om almal se vrae te beantwoord.

Martha staan stil-stil op en begin die koppies in die kombuis was. Alet neem die vadoek en droog af, terwyl Louis die kinders besig hou.

“Juffrou, ons het mos nou vir juffrou in ’n ding ingedwing . . .”

Sy kyk nie na Alet nie, maar Alet kan die kommer in haar stem hoor.

“Ag, nooit, Martha. Ek dink dit sal heerlik wees op die plaas. Ek weet reeds nie wat om die kort vakansies te doen nie, want ek kan mos nie huis toe gaan nie.” Sy hou haar baie besig met die wegpak van die koppies sodat Martha nie die onsekerheid in haar oë moet sien en dalk van besluit verander nie.

Martha sug van verligting en Alet besluit gelate dat sy baie meer as dit kan opoffer om vir die Ventertjies ’n lekker vakansie te verseker.

As sy baie eerlik met haarself wil wees, moet sy erken dat sy self baie graag sal wil gaan. Maar die opgewondenheid hier binne-in haar maak haar bang . . . bang dat sy weer gaan seerkry.

Die Venters is kort daarna weg, opgewonde en uitgelate. Alet glimlag toe sy hulle agterna kyk.

“Foei tog! Hulle sal dit nooit kan hou tot die einde van die kwartaal nie.”

“Ek is vreeslik dankbaar dat jy ingestem het om saam te kom, anders sou Martha nooit ingestem het om te gaan nie.”

“Dit sal jou leer om nie dinge op die ingewing van die oomblik te besluit nie . . . As jy my vroegtydig gewaarsku het, kon ek vir Martha voor die tyd so ’n bietjie bearbei het, dan het jy nie nodig gehad om my ook saam te sleep nie.”

Louis lag heerlik, sy bruin oë vol terglus.

“Miskien is dit net andersom. Dalk het ek die Venters genooi om jóú op die plaas te kry.”

Hy wag nie op ’n antwoord nie, maar draf die treetjies twee-twee af en met ’n vrolike wuif verdwyn hy om die hoek.

Ingedagte kyk Alet hom agterna. Hy het soveel verander. Hy is vriendeliker en meer genaakbaar. Sy wonder of hy darem al sy vooroordeel teenoor haar afgeskud het. Sy haal haar skouers onwillekeurig op. As hy maar net weet dat sy ’n soortgelyke ervaring as hy gehad het . . . Maar sy het nie haar vertroue in die mensdom verloor net omdat een man haar sleg behandel het nie.

Gerhard kom die aand kuier. Netjies uitgevat, sy donker hare blink en krullerig. Hy is opreg bly om haar te sien.

“Mensig, meisiekind! Ek het darem nie geweet ’n maand kan so lank wees nie.” Hy druk haar ’n oomblik styf teen hom vas en soen haar onverwags vol op die mond. “Jy gaan nie weer één vakansie weg nie!”

“Ek dink nie my ouers sal vreeslik baie van so ’n reëling hou nie.”

“Het jy toe lekker gekuier?”

Hy gaan sit op die rusbank en trek haar langs hom neer.

“Kom sit hier langs my en vergeet van koffie of tee; ek wil net vir jou hier naby my hê.”

Die erns in sy stem maak Alet bang. Sy wil hom nie seermaak nie, want sy weet hoe seer ’n mens kan kry. Sy sal hierdie gevoel wat hy blykbaar besig is om vir haar te ontwikkel, baie gou in die kiem moet smoor.

Sy skuif op en begin lig en alledaags gesels. Sy vertel van die plaas en die wingerde wat nou net bruin stokkies is en dat ’n mens nie kan glo dat daar oor ses maande al druiwe aan kan wees nie. Sy vertel van haar ouers en haar broer, van die berge en die pragtige natuurtonele, van die opvoerings . . . en sommer allerhande onsinnighede. Bang vir die stiltes wanneer sy oë smagtend op haar rus, praat sy meer as wat sy normaalweg sou.

“Ek gaan vir ons ’n bietjie tee maak. Dis al amper tienuur en ek het my keel nou kurkdroog gesels.”

Gerhard is stiller en diep ingedagte terwyl hulle tee drink. Hy staan ook sommer kort daarna op om te loop. By die deur neem hy haar onverwags in sy arms.

“Meisiekind! Ek het vreeslik na jou verlang.” Sy lippe skuif warm en besitlik oor hare. Sy is kragteloos in sy greep en staan stil in sy arms.

“Het jy darem so ’n bietjie na my ook verlang?” Sy stem is teer terwyl hy die hare liggies uit haar gesig vee.

“Ek . . . ek het na jou verlang, Gerhard. Ek het na julle almal verlang, maar . . . ek wil nie hê jy moet seerkry nie. Ek . . .”

“Is ek te haastig vir jou?” Hy los haar teësinnig. “Ons sal weer gesels. Intussen sal ek so baie vir jou kom kuier dat jy later glad nie sonder my sal kan klaarkom nie.”

Hy lê sy vinger liggies op haar lippe toe sy wil praat en fluister: “Nag, mooiste!”

Hy trek die deur saggies agter hom toe.

Lank staan Alet in die stil, donker gang. Sy druk haar kop liggies teen die houtmuur.

Hoekom is die lewe so onverstaanbaar? Pieter wou haar nie hê nie . . . sy wil nie vir Gerhard hê nie, maar Gerhard wil haar hê en sy . . .? Sy weet nie wat sy wil hê nie!

Sarah du Pisanie Omnibus 7

Подняться наверх