Читать книгу Sarah du Pisanie Omnibus 7 - Sarah du Pisanie - Страница 8
5
ОглавлениеDie volgende middag daag Louis onverwags by die Venters se huis op.
Alet is besig om vir Martha Venter gerieflik te maak toe sy die kinders se vrolike, opgewonde groet hoor.
’n Botheid het in haar kom vasslaan. Wat kom soek hy hier? Kom hy kyk of sy nie dalk regtig agter die walglike, dronk Daan Venter aanloop nie? Sy ril liggies. Haar jammerte vir die arme oorwerkte, siek vrou is egter groter as haar vrees vir haar man.
“Kan meneer maar inkom, juffrou? Hy wil net gou vir Mamma kom dagsê.”
Martha is baie verleë oor die vername man wat haar in haar armoedige huisie besoek. Louis kom sit ewe tuis op die voetenent van die bed. Alet draai onseker rond en weet nie wat om te sê nie.
Louis maak egter of hy nie een van die twee se ongemak raaksien nie en gesels rustig, bedel selfs ’n koppie koffie by Truia.
Alet het kos saamgebring wat die kinders self vir aandete kan voorberei. Nadat sy verduidelik het wat hulle alles moet doen, groet sy gou vir Martha en belowe om weer die volgende dag te kom inloer.
“Jy kan sommer saam met my ry, Alet, ek moet ook nou gaan.”
Hy steek sy hand na Martha uit.
“Mevrou, belowe nou dat jy ons sal laat weet as jy hulp nodig het.”
Martha trek verleë haar hand uit syne.
“Dankie, meneer . . . Juffrou is so goed vir ons . . .” Die trane stroom vinnig oor die maer wange.
Louis maak ’n punt daarvan om te kom inloer wanneer hy weet Alet is daar. Daar kom nog kruideniersware en vleis aan en Alet vermoed maar dat hy daarvoor betaal.
Martha Venter sterk stadig maar seker aan. Alet neem vroegaand die kos oor of sien toe dat die groter kinders iets regmaak vir ete, maar sy sorg dat sy nie weer ná donker die sanderige paadjie tussen die duine deur aandurf na haar huisie toe nie.
Vir Daan Venter loop sy ook nie een keer by die huis raak nie. Sy vra nooit uit na hom nie en niemand praat ooit van hom nie.
Die eerste kwartaal snel vinnig ten einde. Alet weet nie wat om die kort vakansietjie met haarself aan te vang nie. Sy het darem al ’n hele paar van die ouers en selfs ’n paar van die ander jong mense op die dorp ontmoet, danksy Gerhard Steenkamp wat haar gereeld oor naweke kom uitneem.
Sy het die mooi Ilze Friedelingsdorf nog net die een keer saam met Louis by die ontspanningsklub gesien en toe ook nie weer nie. Sy vermoed maar dat sy terug is plaas toe.
Sy voel nog seer oor die lelike aantygings wat Louis gemaak het die nag toe Daan Venter haar langs die pad gekry het. Dit is net ondenkbaar dat hy ooit aan so ’n onregverdige aantyging plek in sy gedagtes kon gee. Dit krap aan haar. Selfs sy vriendelikheid van die afgelope tyd kan nie die seerplek heeltemal genees nie.
Wat dink hy regtig van haar? Sou hy glo sy is ’n meisie met losse sedes wat wegvlug van ’n verlede af . . . ’n onaangename verlede . . . of wat?
Vandag is ’n heerlike dag. Alet beleef haar eerste dag van oosteweer.
In die vroeë oggendure het sy wakker geword van die geloei van die wind om die huisie se hoeke. Verbaas het sy gelê en luister; dit was die eerste keer dat die wind in die nag begin waai het. Sy het later opgestaan om die venster toe te maak, want die wind het die gordyne gegryp en wild heen en weer gepluk.
Verbaas het sy ’n paar oomblikke by die oop venster gestaan. Die wind wat daar ingewaai het, was warm en nie koud soos wat sy gewoond is nie. Dit moet die oostewind wees waarvan tannie Grieta haar vertel het . . . die wind wat direk vanaf die woestyn waai.
Toe sy skool toe gaan, waai die wind nog met woeste geweld en alles is vuil en vol sand. Die klaskamer is drukkend warm en sy kan dit nie waag om ’n venster oop te maak nie. Die fyn stof wat deur elke gleufie en krakie sypel, vererger net die bedompigheid in die vertrek.
Twaalfuur gaan die wind skielik lê asof ’n reusehand dit meteens tot stilstand dwing.
Die kinders is vrolik en opgewek en skoene en kouse verdwyn baie vinnig in hul tasse.
Alet maak al die vensters oop en met verbasing besef sy dat daar nie eens ’n briesie oorgebly het van die kwaai windstorm van die oggend nie. Dit is stil en heerlik warm.
Die ou inwoners straal. Matte en kussings word buite uitgeskud en ’n bietjie in die son gelaat sodat hulle weer ’n slag kan droog word en lug kry.
Hulle vertel haar dat die wind weer vannag sal begin waai tot môremiddag twaalfuur toe. Dit hinder egter niemand nie. Die twaalf uur stilte en hitte is blykbaar vir hulle meer werd as die ongerief van die wind en die sand.
Alet luister elke dag met skaamte en verbasing na hierdie mense se lewensfilosofie. Hulle is met so min tevrede, so dankbaar vir klein dingetjies . . . dingetjies wat ander mense as hul reg beskou, en nie eens agterkom dat dit ’n gawe is nie.
In ’n koel somerrokkie, die goudblonde hare skoon gewas, gaan sy met ’n heerlike koue koeldrank op haar stoepie sit.
Die kort vakansie breek aan. Dit is Vrydag en die skole sluit vandag vroeër. Gerhard stuur vroegoggend ’n briefie skool toe. Hulle moet die heerlike dag benut en sy moet haar reghou – hulle gaan vanaand vleis braai in die duine. Hy sal haar ongeveer sesuur kom haal.
Louis gaan weer plaas toe. Hy het nog nie kom groet nie. Sy wonder of hy sal; sy het hom darem so omstreeks vieruur nog by sy huis gesien.
Gerhard kan sy oë nie van Alet afhou toe hy haar kom haal nie. Die wit rokkie met die fyn pienk rosiepatroon klok sag en vroulik om haar uit. Sy het wit sandale aangetrek, want as die vleisbraaiery in die duine is, sal kouse baie onprakties wees. ’n Pienk doekie, wat sy soos ’n band gevou het, is om haar hare gebind sodat die fyn haartjies om haar gesig, wat sag en krullerig is ná die was, in bedwang gehou kan word. Haar blonde hare glim soos goud in die laat middagson en hang soos ’n waterval agter haar rug tot ver onder haar skouers.
Gerhard se motor is vol laggende en skertsende jong mense toe hy haar kom oplaai. Rita en De Wet, ’n verloofde paartjie, en Ella en Flip wat al ’n jaar of twee getroud is, sit soos sardientjies agterin die groot motor ingedruk.
Gerhard hou galant vir haar die voorste deur oop sodat sy kan inklim. Sy kyk verbaas na die laggende klomp jong mense – wat sy al vroeër ontmoet het – wat so styf teen mekaar sit.
“Een van julle kan mos voor kom sit.” Die vier agter loer na mekaar en lag.
“Nou wie dink jy nou sal voor kom sit . . . Jy sien, as een voor sit, moet daar twee voor sit.”
Alet staar hulle eers onbegrypend aan. Toe sy egter hul tergende blikke na mekaar raaksien, raak sy aan die lag.
“Natuurlik, dat ek nou so dom kan wees.”
“Slim kind!” Flip sit sy arm beskermend om Ella se skouers.
“Ja, as ’n mens eers ’n paar is, dan druk al twee maar in waar voorheen net een kon ingaan.”
Gerhard skakel die motor aan.
“Ons moet net hoor of Louis met sy eie motor kom en of hy sommer saam met ons wil ry. Hier kan mos nog een voor inkom.”
Alles binne-in Alet word stil. Sy het nie verwag dat hy sou saamkom nie. Sy het gedink hy is haastig plaas toe.
Gerhard tik liggies aan Louis se deur en sonder om op ’n antwoord te wag, draai hy oop en stap in.
’n Paar minute later kom hulle geselsend by die deur uit. Louis het ’n ligblou oopnekhemp aan en ’n trui in dieselfde kleur swaai liggies in sy hand. Hy sluit sy deur toe en kom klim voor langs Alet in.
Alet is dankbaar vir die raserige klomp hier agter in die motor, sodat niemand haar ongemak sien nie. Die twee mans is groot en sy sit styf tussen hulle ingedruk. Louis se arm druk warm en intiem teen haar. Wanneer hy hom effens draai om die ander agterin die motor beter te kan sien, kan sy sy gespierde been teen hare voel.
Alet staar ademloos na die pragtige, bruin-pienk duine, die grootsheid daarvan roer diep in haar. Alles is so abstrak en eindeloos dat sy net in stille bewondering daarna kan staar.
Die pad is sleg en vol los sand. Twee keer moet die mans uitklim en die motor deur die los sand stoot. Die stotery is blykbaar deel van die pret, want dit word onder luide gelag en geraas gedoen. Sodra die motor deur die sand is, spring hulle soos veterane in en is baie trots op hul prestasie.
Nog vier ander jong mense is reeds by die vleisbraaiplek in die droë loop van die Kuisebrivier. ’n Paar soutbosse verbreek die kaalheid van die woestyn deur in ’n lang, vaal, groen ry al met die loop van die rivier langs te groei.
Die sand is heerlik sag en koel en Alet is dankbaar dat sy nie kouse aangetrek het nie. Almal se skoene en kouse word dadelik uitgetrek en uitgelate jaag hulle mekaar.
Hulle klouter teen die groot duine uit, net om uitgeput bo te lê en rus en dan met ’n paar lang treë teen die duine af te hardloop.
Die vuur is vroeg al opgemaak en heerlike gemmerbier, wat Gerhard se ma ingepak het, word baie vinnig verslind deur die vroue. Die mans drink bier en die heerlike hopsreuk gee aan hierdie woestyn-vleisbraaiery sy eie bekoring.
Gerhard gryp Alet se hand en klim met haar teen die duin uit. Halfpad teen die duin op gaan sy uitgeput lê. Die los sand maak dat sy omtrent niks vorder nie, en vir elke tree wat sy gee, gly sy twee terug.
“Kom, ou groot sleg!” Gerhard sleepdra haar teen die duin op. “Jy is al drie maande op Walvisbaai en jy kan nog nie eens duinklim nie . . . Swak, juffrou!”
“Sjoe! Ek dink nie duine is gemaak om uit te klim nie,” kerm sy.
“Nou waarvoor is die woestyn dan gemaak . . . hm . . . ou juffrou slim?”
“Seker net vir kamele . . . maar baie beslis nie vir my nie.”
Bo-op die duin trek Alet haar asem diep in. Die wye panorama van die Namibwoestyn in die laaste strale van die son laat haar ’n paar oomblikke absoluut sprakeloos. So ver as wat die oog kan sien, vou die een duin in die ander en wissel die kleure nie veel nie . . . nie veel meer as twee skakerings nie.
“O, Gerhard! Maar dit is mooi! Hiervoor sal ek weer en weer hierdie marteltog teen die duin uit verduur.”
Gerhard sit sy arm besitlik om haar dun middeltjie en druk haar teen hom vas.
Waar Louis onder lui teen die omgevalle houtstomp leun, sien hy die intieme gebaar.
Die ondergaande son blink op haar lang hare, sy beduie met ’n skraal arm iets . . . hy sien die wit van haar bene en voete toe sy en Gerhard vinnig teen die duin af hardloop. Hy hoor haar vrolike lag en toe hulle nader kom, sien hy die besitlike lig in Gerhard se oë.
Hy kom vinnig orent en hou hom doenig by die vuur. ’n Vreemde, verlate gevoel neem skielik van hom besit en hy kan dit met die beste wil ter wêreld nie nou ontleed nie.
Dit is al ses jaar dat Elsa dood is. Elsa, sy blonde meisietjie, wat so baie na Alet gelyk het. Hulle was nog bloedjonk. Hy het al twee jaar onderwys gegee toe sy op Usakos kom skoolhou het. Van die eerste dag af het hy niemand anders meer raakgesien nie. Hulle was so gelukkig . . . ongeduldig dat die jaar moes omgaan sodat hulle kon trou. Die lewe is in ure gemeet . . . hulle kon beplan, stry, liefhê . . . alles in die bestek van minute.
Louis stap weg van die laggende, geselsende mense om hom.
Soveel jare al bêre hy sy hartseer en verlange. En net deur haar daar bo op die duin te sien staan . . . iets in haar houding, die blink lig op haar hare . . . het meteens al die skanse afgebreek.
Die stokkie knak tussen sy vingers. Dit was ook so teen die laat skemerte wat hulle hom kom sê het . . . dat sy dood is.
Sy was op pad . . . weg van hom af, saam met Dawid Brand . . . Dawid Brand van alle mense. Louis skud sy kop asof hy dit nou, ná ses jaar, nog nie kan glo nie.
Hul goed was ingepak. Die tasse klere en selfs van haar bruidsuitset . . . het gestrooi oor die stowwerige sandpad gelê.
Louis gaan sit teen die skuinste van ’n duin en laat die sand ingedagte deur sy vingers gly.
Die brief wat hy eers die volgende dag in die posbus gekry het, het verduidelik van hul onsterflike liefde . . . hare en Dawid s’n.
As dit iemand anders was, kon hy dit nog verwerk het . . . maar Dawid, Dawid het meestal nie ’n vaste werk gehad nie, net rugby gespeel en gedrink . . . Sjarmant, ’n regte losbol, maar . . . elke meisie kon tog darem seker deur hom sien: ’n swakkeling, niks anders nie.
Louis staar verlate voor hom uit. Hy roep weer die ou hartseer en verlange op. Hy probeer haar gesig voor hom sien, haar groot, blou oë met die lang wimpers, die fyn sproetjies oor die brug van haar neus . . . maar dit is twee hartseer blou oë en lang hare wat soos goud in die sonlig blink wat voor sy eie, bekende prentjie inskuif.
Hy staan stadig op. Hy probeer weer die verlatenheid ervaar wat hy nog al die jare voel wanneer hy aan Elsa dink, maar dit bly hom ontwyk. Dit is soos ’n dowwe foto waarna jy kyk en kyk en dit eers naby en dan ver hou, maar niks wil die beeld duideliker maak nie.
Met ’n skok besef hy dat die verlange lankal verdwyn het en net ’n wantroue oorgebly het, ’n wantroue in veral jong meisies met blou oë en goudblonde hare.
Diep ingedagte stap hy terug na die vuurtjie. Die son is heeltemal onder en die skemerte daal vinnig oor die stil woestyn.
Die klomp om die vuur lag vrolik en opgewek. Gerhard het sy ghitaar waarop hy allerhande lawwe liedjies tokkel terwyl die mans met oorgawe saamsing.
“Kom, Louis, jy is ’n bier agter.” ’n Botteltjie bier word in sy hand gedruk.
Louis skud die bedruktheid van hom af en lag vrolik saam met die ander.
Alet hou hom onderlangs dop. Hy lyk so anders, soveel jonger wanneer hy so sorgloos en gelukkig is. Sy wonder of hy sy laste afgeskud het vir hierdie aand . . . dalk daar agter die duin gaan begrawe het. Miskien is dit die feit dat hy vir die vakansie weer plaas toe gaan wat hom so vrolik maak, want dan sien hy mos weer vir Ilze.
Die skaapribbetjie lê sissend op die kole. Lang stukke wors krul gesellig op en bak goudbruin met sissende geluidjies wat almal watertand daarna laat staar.
Piet Lategan en Theo Burger het hulself amptelik aangestel as die vleisbraaiers. Met ’n gespog en grootpratery word die ander van die roosters af weggekeer.
“Julle kan solank gaan ellierous speel sodat ons die vleis in vrede kan braai.” Piet kap wild met sy vurk na Gerhard wat vir die soveelste keer probeer om ’n stukkie wors in die hande te kry.
“Ai, man! Ons is honger; geen mens kan op so ’n honger maag rondhardloop nie.”
“Nou wil jy altemit op ’n vol maag rondhardloop? Moenie stuitig wees nie. Jy weet baie goed, ou Gerhard, as jou maag vol is, dan is jy net soos ’n luislang, dan wil jy net slaap.”
Gerhard lag en trek vir Alet aan haar hand op.
“Nou toe, kom ons gaan speel soos soet seuntjies en meisietjies.”
Alet ken nie eintlik die speletjie nie. Sy word egter gou ingelig. Almal verduidelik tegelyk sodat sy in elk geval nie juis veel kan verstaan nie. Al wat vir haar duidelik is, is dat sy in die een of ander stadium moet weghardloop en dan sal die man wat voor staan haar probeer vang.
Die speletjie ontaard tot ’n lawwe spul en Alet weet nie wanneer laas sy iets so intens geniet het nie.
Die mans het hul broekspype opgerol sodat hulle vinniger kan beweeg.
Dit is donker en niemand kan sien as die vroue dalk hul rokke ’n bietjie hoër lig om vinniger weg te kom as wat kuisheid voorskrywe nie. Kort-kort flits ’n wit knie in die maanskyn, maar daar is nie tyd vir loer nie, want die mans se eer is op die spel en die meisie moet so gou moontlik aangekeer word.
Alet is gereed vir hulle. Sy was van kleindag af so rats en so vinnig soos ’n vlakhaas. Toe sy besef sy moet hardloop, toe hardloop sy . . .
Haar rug trek hol toe sy die vinnige voetval agter haar hoor, maar sy bly voor. Die vroue gil en juig en die mans skreeu dreigemente en moedig hul geslagsgenoot aan. Om die duin se punt en al teen die voet van die buurduin langs bly sy voor.
Twee sterk hande kry haar eindelik om haar middel beet en hulle rol oor die sand.
Sy lag en hyg na asem. Om en om rol hulle teen die voet van die duin af. Die twee sterk hande bly egter stewig om haar middel, te bang sy kom los en dan begin die stryd weer van voor af.
Uitasem kom hulle tot stilstand. Louis se laggende gesig is omtrent ’n handbreedte van haar af. Sy lag op in sy gesig, vol pret en terglus.
“Jy het nie geweet . . . ek kan . . . kan vir jou weghardloop nie, nè?” Haar asem kom hortend tussen die lagbuie deur. Sy staar op na hom waar sy op haar rug lê, sy arms nog steeds om haar.
Louis kyk af in haar laggende gesiggie so naby aan syne. Hy sê niks . . . om die eenvoudige rede dat hy aan niks kan dink om te sê nie. Hy sien net die blink oë in die maanskyn, die vol mond, en hy voel die sagte, warm liggaampie onder sy arm.
Die glimlag verdwyn stadig van haar gesig af. Sy kyk hom met groot oë aan en probeer deur die donkerte die uitdrukking in sy oë peil. Sy probeer die stil, geslote gesig wat hier oor haar buig, in haar gedagtes vaslê. Sy wil weet wat hy dink . . . wat hy voel . . . of sy hart ook so wild klop soos hare.
Sy kop sak laer af totdat sy lippe sag en warm op hare rus.
“Waar is julle?” Die ander klomp kom laggend om die duin gehardloop om die res van die wedloop dop te hou.
Louis staan stadig op en trek haar aan haar hand op. Hy hou haar hand vas terwyl hulle stadig in die rigting van die ander begin stap.
Sy stem klink heeltemal normaal toe hy die ander vrolik toeroep: “Sy het nie ver gekom nie. Ek is net ’n bietjie oud, anders het ek haar gouer in die hande gekry.”
Alet wens sy kan aan iets dink om te sê, maar soos ’n moedswillige kind ontwyk alle spitsvondige antwoorde haar.
Die vroue is in elk geval baie trots op haar, omdat sy so ver kon wegkom, en hulle juig haar luidkeels toe. Die vleisbraaiers roep hard na hulle en beveel hul kos onbeskeie aan.
Nog steeds met haar hand styf in syne toegevou, stap hulle aan vuur toe. Stadig en tydsaam los hy haar hand toe hulle in die ligkring van die vuur kom.
“Ek voel . . . en dit is my eerlike mening . . .” begin Louis belangrik ’n toespraak lewer, “. . . dat dit die juffrou se plig is om vir my kos aan te gee en my te bedien, soos wat dit ’n verloorder betaam. En in elk geval het ons die braaiwerk gedoen – ons verdien dit om agteroor te sit!”
’n Luide protes van die vroue word gou oorheers deur die mans se toejuiging. Volgens hulle het hulle almal as wenners uit die stryd getree.
Die mans soek vir hulle gemaklike plekke uit, en die vroue het geen ander keuse nie as om vir hulle kos in te skep en aan te dra.
Aangesien daar meer mans as vroue is, moet Alet vir Gerhard én Louis bedien.
Met groot vertoon dra sy vir hulle borde vleis en toebroodjies aan. Sy gaan staan gemaak beskeie en wag om te hoor of haar here en meesters nie nog iets benodig nie.
Die twee groot lummels skaam hulle nie in die minste nie en bestel nog vleis met meer vet en selfs nog toebroodjies.
Alet neem haar bord kos en gaan sit tussen Louis en Gerhard waar hulle vir haar plek gemaak het.
Die vleis is heerlik en die braaiers straal toe Alet hulle met die heuningkwas bykom.
Almal is lui en versadig nadat hulle die ete afgesluit het met heerlike koffie wat hulle op die vuurtjie gemaak het.
Arme Gerhard word egter geen genade betoon nie. Die ghitaar word in sy hande gedruk en hy moet maar eenvoudig speel.
“Kom ons sing.” Ella se voorstel word sonder enige teenvoorstel aanvaar en Gerhard kry van alle kante versoeke.
Die ander skuif nader en kom in ’n kringetjie om Gerhard sit.
Vrolik klink hul stemme oor die stil, verlate woestyn. Die liedjies wat vrolik en lig begin, word meer en meer nostalgies. Alet se mooi stem klink soet en helder bo die ander uit.
“Jy sing so mooi, Alet . . . het jy sanglesse geneem?” Ella se belangstelling is so opreg dat Alet maar net skaam kan antwoord.
“Ja, van my laerskooldae af . . . Ek het ook klavierlesse geneem. Dit was eintlik my groot liefde.”
“Wel, dan is jy mos die een wat ons nodig het om so af en toe op troues en goed te sing.”
Luide gelag begroet De Wet se woorde.
“Troues en goed is natuurlik hul troue oor twee maande,” spel Flip met groot gebare uit.
“Toe, Alet, dit is jou beurt om te sê wat ons moet sing.” Gerhard se oë is sag en bewonderend op haar. Hy wens dat hier iemand anders was wat ghitaar kan speel, sodat hy nader aan haar kan sit. Hy hou niks daarvan dat Louis so naby haar sit nie . . . veral nie hier in die donker nie.
“Ai, meisiekind, ons het mos nie sulke goed soos moerbeibome hier nie . . . hoe kan ’n mens dan nou jou nooientjie daar gaan soek?” kla Flip.
“Toe maar, ou Flippeman, dan sing ons sommer My nooientjie lief in die soutbos,” doen Piet aan die hand.
Alet voel ’n sterk hand van agter sag om haar middel kruip en haar liggies agtertoe trek, totdat sy styf teen ’n breë skouer rus. Haar hart fladder onstuimig toe sy afkyk en die breë, plat vingers met die netjiese, kortgeknipte naels herken. Haar stem weifel ’n oomblik op die hoë noot. Ongeërg sing sy die liedjie klaar, bang dat die ander die wilde bonsing van haar hart in haar keel sal sien.
Sy ontspan sag teen hom, veilig in die wete dat die ander niks sal merk in die donker nie.
Die vuurtjie is haas uitgebrand en die kole gloei dofrooi in die flou skynsel van die maan.
Alet voel die moegheid, hartseer en frustrasie van die afgelope kwartaal stadig uit haar wegsypel. Net die wete dat hy nog hier is, dat hy haar liggies teen hom vashou, dat sy oë haar al heelaand volg, maak haar rustig. Sy is bang sy word wakker en dit is net ’n droom . . . miskien was dit netnou daar op die duin ook ’n droom, toe sy lippe ’n oomblik lank sag en baie teer op hare gerus het.
Sy arm span ’n bietjie stywer om haar middel en sy stem word sagter hier by haar oor toe hulle die mooi ou liefdesliedjie se laaste note sing.
Die ander lag en skerts en stel nog liedjies voor, maar Alet is stil, bang dat hierdie oomblik sal verbygaan; bang dat hulle moet teruggaan, want dan gaan hy plaas toe . . . na Ilze toe.
Sy voel sy wang teen haar hare en ’n gevoel wat sy nog nooit ondervind het of op hierdie oomblik kan verklaar nie, vloei stadig en behaaglik deur haar.
Gerhard sit die ghitaar neer.
“Ons moet huis kry, ouens . . . Ek is nie ’n onderwyser nie; môre is vir my ’n werksdag.”
Die ander staan traag op en begin die vleisrooster en ander goed in die motors laai.
Hulle gaan sit weer styf teen mekaar in die beknopte ruimte van die motor.
Alet en Louis is albei vreemd stil. Die vier agter in die motor is egter uitgelate en glad nie lus vir gaan slaap nie. Hulle lag en gesels aanmekaar. Gerhard is sy joviale self en korswel saam en niemand merk op dat hulle twee nie juis baie spraaksaam is nie.
Louis se arm rus gemaklik agterop die leuning van die sitplek. Alet voel hoe sy vingers liggies oor ’n paar los haartjies streel voordat hy dieper in haar hare vroetel en die syagtigheid stadig deur sy vingers laat gly.
Met ’n ligte suggie leun sy baie effentjies teen hom aan. Sy kan die hitte van sy liggaam deur sy hemp voel en dit maak ’n ligte, onrustige bewing in haar binneste wakker.
“Wanneer ry jy, Louis?” Gerhard kyk nie na hom nie, maar hou sy oë op die pad.
“Môreoggend baie vroeg. Ek het my mos laat ompraat om vanaand eers vleis te braai. Ek sal die dag daar naby die plaas moet groet . . . die vakansie is kort en daar is so baie om te doen.”
’n Vreemde verlatenheid spoel oor Alet. Louis se hand het onder haar hare sag teen haar nek kom rus. Sy moet die begeerte om haar wang vir ’n oomblik op sy hand te laat rus, met mag en mening onderdruk.
Alet nooi almal vir ’n laaste koppie koffie. Almal is maar te gretig om die aandjie nog ’n bietjie te rek. Gerhard kan ongelukkig nie bly nie, aangesien hy nog die een en ander te doen het voordat hy kan gaan slaap.
Die ander vertoef nie lank nie. Hul koppies is nog nie behoorlik koud nie, toe stap hulle terug na hul onderskeie woonplekke toe. Met die arms styf om mekaar en vol skerts, verdwyn hulle in die donkerte.
Alet en Louis bly alleen op die stoep agter.
“Ek moet ook sommer tot siens sê; ek ry môre baie vroeg.” Alet steek haar hand na hom uit.
“Tot siens, Louis. Ek hoop jy geniet jou vakansie . . . en dat . . .”
“Dit sal nie veel van ’n vakansie wees nie. Ek moet draad span en dit is ’n rugbreker . . . glo my!”
Hy hou nog steeds haar hand styf in syne toegevou. Sy probeer verleë om sy greep te breek, maar hy trek haar stadig nader.
“Jy kan my darem seker beter tot siens sê as dit?”
Sy lippe rus sag en warm op hare. Haar gesig is warm, en trane brand agter haar ooglede.
Sy wens sy kon hom plaas . . . hierdie moedswillige mansmens, wat haar skoolhoof is. Een oomblik kan hy sulke kwetsende dinge sê en dan kan hy weer sag en dierbaar wees . . .
Sy stem is ongewoon grof en hees toe hy weer praat.
“Jy moet mooi na jouself kyk.” Hy buk vooroor en soen haar liggies op die punt van haar neus voordat hy haar hande los en ligvoets die trappies af draf, terwyl die donkerte hom vinnig insluk.