Читать книгу Sarah du Pisanie Omnibus 7 - Sarah du Pisanie - Страница 11

8

Оглавление

Die ontspanningsklub lewe soos ’n miernes wat omgekeer is. Dit is vanaand die jaarlikse polisiedans en almal, letterlik almal op Walvisbaai, is vanaand hier.

Alet kyk nuuskierig om haar rond. Die saal is pragtig getooi. Palmtakke versier die mure en op een plek is ou lakens kunstig geverf en tussen die takke gedrapeer. ’n Pragtige woestyntoneel is op die lakens geverf. ’n Yslike kameel bekyk hulle uit die hoogte deur die palmtakke.

Tafels en stoele is teen die mure van die saal gerangskik met oorgenoeg ruimte in die middel vir die paartjies om te dans.

Alet lyk pragtig. Haar vollengte rok van spierwit organza vou wolkerig om haar en laat Gerhard, wat self baie deftig en aantreklik lyk, soos ’n hen om haar kloek.

Ongemerk hou sy die deur dop. Sy wonder of Louis ook vanaand sal kom.

Hul vriendskap het so mooi gevlot tot . . . tot verlede week. Soos opregte vriende kon hulle oor alles en nog wat gesels.

Hulle was besig om tee te drink een pouse, toe hy ongeërg sy koppie neersit.

“Sal jy volgende Vrydag saam met my na die polisiedansparty gaan?”

Sy het verras opgekyk, die teleurstelling stadig besig om haar te oormeester. Sy sou so graag wou, maar Gerhard het haar reeds gevra. Ag, hoekom het hy nie al eerder gevra nie?

“Ek het reeds vir Gerhard belowe om saam met hom te gaan . . .”

“Hm . . .” Louis het sy lepel soos ’n pen tussen sy vingers gevat en die patroontjie op die skinkbordlappie afgetrek. “Is daar ’n verhouding tussen julle?” Hy het stadig opgekyk in haar helderblou oë.

“Ek . . . sal nie sê daar is ’n verhouding nie. Dit is . . .”

Hy het haar ongeskik in die rede geval.

“Hoekom kan ’n vroumens nooit ’n direkte antwoord gee nie? Sê ja, of nee!”

Die bloed het vinnig in Alet se wange opgestoot.

“Moet ek verantwoording doen oor my privaat lewe ook?”

“Nee, juffrou, jy hoef nie.” Louis se stem was koud en sarkasties. “Dit is net . . . Jy kan ander mense baie hartseer en ongeluk bespaar deur eerlik te wees.”

Hy het woedend met sy vuis op die lessenaar geslaan dat die koppies in die pierings gerinkel het. “As jy die man wil hê . . . vat hom. Maar moenie skaam wees daaroor nie. Hoekom . . .” Hy het sy hande magteloos opgelig en toe by die deur uitgestorm, terwyl hy oor sy skouer gesis het: “Dit maak my woedend!”

Alet ken sy geskiedenis en het simpatie met hom; sy verstaan hoekom hy so optree. Maar dit gee hom darem ook nie die reg om ander mense links en regs te veroordeel en almal oor sy Elsa se kam te skeer nie . . .

Met ’n sinkende gevoel in haar binneste sien sy hoe Gerhard nou met Louis en Ilze aan die arm by die deur inkom. Hy lei hulle vriendelik en gasvry na hul tafel.

Louis groet styf en trek die stoel vir Ilze uit.

Die orkes het reeds begin speel en dit is dus nie vir Alet nodig om ’n geselsie te probeer aanknoop nie.

Die orkeslede is sommer plaaslike musikante. Die vrou met die bolla het weer haar plek agter die klavier ingeneem en daar het nog ander instrumente bygekom. Hulle kwyt hulle egter heel goed van hul taak en die paartjies dans heerlik.

Gerhard dans lig en lekker en Alet voel hoe al die ongemak en styfheid uit haar sypel. Gerhard hou haar besitlik vas en laat haar nie ’n oomblik uit sy gesigsveld nie.

Alet rem ongemaklik terug toe sy Louis se oë op hulle voel. Gerhard trek haar weer styf in sy arms vas en sy wang rus sag op haar hare. Sy sien Louis se siniese glimlag en spottende oë op haar. Sy is lus en dans nader en skop hom op sy skeen.

Louis bestee ongewoon baie aandag aan Ilze, en sy straal. Sy hang aan hom en Alet kry seer toe sy die liefde en aanbidding in die lang meisie se oë sien.

Alet en Ilze sit ’n rukkie later alleen by die tafeltjie. Die mans het verskoning gemaak om die aandlug op te soek. Alet leun moeg agteroor; hulle dans al amper ’n uur lank sonder ’n ruskansie.

“Is jy moeg?” Ilze lag. “Ek kan dans tot môreoggend toe . . . veral met Louis, hy dans so lig.”

Alet vee liggies met haar sakdoek oor haar voorkop.

“Ken julle mekaar al lank . . . jy en Louis?”

Ilze skuif vorentoe. “O, ja, seker al tien jaar. Ek was nog op skool toe ons daar langs hulle ingetrek het. Ek het hom nie baie gesien toe hy op universiteit was nie, maar ná Elsa se dood . . . Dit was ’n hele opskudding!” Sy kyk Alet verleë aan. “Ek praat te veel. Jy ken nie die storie nie . . . Louis praat nooit daaroor nie.”

“Ek ken die storie.” Alet sit haar sakdoekie weer in haar handsak.

Ilze lig haar wenkbroue. Die verbasing lê oop op haar gesig.

“In elk geval, ons gaan al omtrent vyf jaar lank uit en . . .”Sy bloos liggies. “Ek . . . ons wil juis nou op my verjaarsdag . . .” Sy lag half skuldig. “Ag, ek is so ’n ou kekkelbek. Ek het jou seker al vertel . . . en Louis gaan kwaad wees.”

’n Seer roering kriewel diep in Alet. Hy beskuldig haar van agterbaksheid, dat sy met ander mense se gevoelens speel, dat sy nie weet wat sy wil hê nie. Maar hoekom maak Ilze se woorde dan nou seerder as al sy beskuldigings?

Verlig sien Alet die mans aankom; sy sien nie kans vir nog meer van Ilze se ontboesemings nie.

Gerhard eis haar ook sommer dadelik op vir die volgende dans. Hy hou haar styf vas en fluister allerhande onsin in haar oor. Sy neem haar stilweg voor om ernstig met hom te gesels. Sy kan nie toelaat dat hy vir haar ’n ernstige gevoel ontwikkel wat nie wederkerig is nie.

Sy rem ’n bietjie los uit sy greep. As dit moet, sal sy dan maar liewer nie weer saam met hom uitgaan nie . . . dalk verwar dit hom en reken hy dat sy ook besig is om op hom verlief te raak.

Gerhard trek haar maar weer nader en gelate ontspan sy. Vanaand sal sy hom maar laat begaan. Hy geniet die aand soveel dat sy nie die moed het om hom te demp nie.

Sy pleit ná ’n rukkie om ’n bietjie te gaan rus. Laggend, met sy arm styf om haar, stap hulle terug na die tafel waar Louis en Ilze sit.

Gerhard skuif haar stoel in en hou dan sy hand na Ilze uit.

“Ilze, ons tweetjies het nog nie gedans nie. Louis kan solank my meisie oppas, want hulle onderwysers het geen stamina nie, ons dans hulle van hul voete af.”

Gerhard slaan vir Louis joviaal op die skouer en skater vir sy eie grappie.

“Jy moet mooi kyk na my meisie, en jy hou nie haar hand onder die tafel vas nie.”

Louis staar nors voor hom op die tafel. Alet kyk na die dansers en maak asof hy glad nie in die nabyheid is nie. Haar hele liggaam is egter gespanne, fyn ingestel op elke beweging van sy kant af.

Ná die eerste dans hou Gerhard vir Ilze op die baan en hulle dans laggend by hulle verby.

“Komaan, julle twee, julle het nou genoeg gerus!” Gerhard swaai vir Ilze hier voor hulle verby en verdwyn weer tussen die dansers in.

Louis staan op, hou sy hand na Alet uit. “Wil jy dans?”

Alet besef om te weier gaan net die ander twee nuuskierig maak. Sonder ’n woord staan sy op en skuif gespanne in sy arms in.

Sy maak foute en trap op sy tone. Sy voel hoe haar wange warm word en sy siniese laggie maak haar voete net nog meer dom en lomp.

“Geniet jy die aand?” Louis probeer gesellig wees, maar klink stroef en onvriendelik.

“O, ja, en jy?” Sy kyk nie na hom nie, bang dat hy die waarheid in haar oë sal sien en sal weet dat sy elke oomblik haat, want om hom so koud en onvriendelik hier by haar te hê maak haar oneindig seer. Selfs wanneer sy met Gerhard dans, wonder sy wat hy dink en waarvan hy haar gaan be-skuldig as Gerhard haar styf vashou en in haar oor praat.

“Jy kan maar ontspan, ek byt nie.”

Sy kyk vinnig op na hom. Haar hart klop onstuimig en stuur die bloed vinnig deur haar are, sodat haar brein die verkeerde boodskap na haar voete stuur en sy effens struikel.

Louis trek haar stywer teen hom vas. Sy leun liggies teen hom aan. Haar verstand weier om verdere hartseergedagtes te formuleer. ’n Heerlike gevoel van nabyheid en die wete dat dit in sy arms en teen sy bors is dat sy aanleun, gee vlerkies aan haar voete en hulle dans in stille harmonie verder.

Die tyd gaan staan vir haar stil. Hulle praat nie verder nie, dans net gemaklik saam op die maat van die stadige, slepende wals.

Die musiek kom tot ’n einde, maar hy laat haar nie gaan nie, hou haar net liggies om haar lyf vas en wag dat die orkes weer moet begin speel.

Laer af in die saal is Gerhard besig om ’n deuntjie te fluit terwyl hy en Ilze op sy musiek dans terwyl hulle vir die orkes wag om te begin speel. Die ander gaste geniet hierdie stukkie gekkespel terdeë en hou saam met Gerhard maat deur ritmies hande te klap. Ilze geniet die gekskeerdery. Sy lag en haar tande glim wit in die flou lig.

Louis sê niks hieroor nie, maar hy hou hulle met ’n ligte frons dop. Alet wens dat sy op hierdie oomblik sy gedagtes kan lees.

Sou dit hom irriteer dat Ilze so spontaan en opgewek in Gerhard se geselskap is? Meteens kry sy vir Ilze diep in haar hart jammer. Sy is van nature ’n spontane mens en hoeveel moes sy nie al inboet deur so geduldig al die jare vir Louis te wag nie? ’n Louis wat elke vrou verdink van ontrouheid. ’n Louis wat lank gelede opgehou het om oor nietighede te lag, wat nie meer die mooi in die klein dingetjies raaksien nie. Ilze pas baie beter by die joviale, vriendelike Gerhard wat die lewe glad nie so ernstig opneem nie.

Die musiek is nou ’n vinnige jakkalsdraf. Louis dans meesterlik en vandat sy meer ontspanne is, volg Alet hom perfek. Louis probeer nie weer om ’n geselsie aan te knoop nie.

Gerhard bring vir Ilze terug ná dié nommertjie en eis sommer dadelik weer vir Alet op.

Die moegheid bekruip Alet stadig en sy wens dat hulle nou maar kan huis toe gaan sodat sy in die bed kan kom.

Gerhard is egter uitgelate en glad nie lus vir huis toe gaan nie. Hy is ook die eerste om Ilze se uitnodiging vir koffie by haar oom se huis geesdriftig aan te neem.

’n Digte mis het buite toegesak en dit is koud en nat toe hulle uit die saal kom.

“Ag, Gerhard, kan jy my nie maar huis toe neem nie? Ek is regtig nou moeg en vaak.”

Gerhard hou galant vir haar die deur oop en soen haar liggies op die punt van haar neus toe sy wil inklim.

“Mooiste, jy gaan dit nie regtig aan my doen nie! Die nag is nog jonk. Ons sal nie lank draai nie, dan neem ek jou huis toe. Reg so?” Alet lag. Gerhard het ’n bietjie meer gedrink as wat seker nodig was en dit sal nie help om nou met hom te redeneer nie.

Louis beskou die intieme toneeltjie fronsend waar hy by sy voertuig staan.

Sy sê daar is nie juis ’n verhouding tussen hulle nie, maar hoekom laat sy hom toe om haar te druk en te soen? Watter soort vrou is sy dan?

Ilze se oom en tante is vir die naweek Swakopmund toe en sy het die hele huis tot haar beskikking. Sy trek haar skoene uit en beweeg op haar kouse deur die huis. Sy is vrolik en opgewek. Alet voel soos ’n ou vrou terwyl sy Ilze se onuitputlike energie beskou.

Louis maak vir Ilze by hom op die bank plek. Sy skuif behaaglik langs hom in en lê ’n oomblik lank haar kop speels op sy skouer.

Alet drink haar koffie in stilte. Gerhard sit vir hulle ’n plaat op die grammofoon en hy neurie lustig saam, onbewus van die stilte tussen Louis en Alet.

Gerhard neem later Alet se leë koppie by haar en kom sit op haar stoel se leuning.

“Wil jy gaan slaap, ou blommetjie?”

Alet knik en soek na haar handsakkie.

“Nou toe, kom dat ek jou in die bed gaan sit.”

Alet kyk vererg na hom terwyl die bloed warm in haar wange opstoot.

“Ai, Gerhard . . .” Sy vang Louis se donker blik, vol sinis­me, op haar.

Gerhard lag heerlik. Die baie bier wat hy vanaand gedrink het, maak dat hy nie so sensitief is vir die atmosfeer nie.

“My apie! Pappa is gewoond daaraan om klein, moeë meisietjies in die bed te sit. Ek doen dit al jare . . .” Hy druk haar skouer en soen haar op haar hare. “Kom ek gaan wys vir jou hoe goed ek dit kan doen . . . As jy mooi soet is, vertel ek nog vir jou ’n storie ook.”

Alet staan vinnig op voordat Gerhard nog onsinnighede kwytraak, want Louis se frons verdiep nou onheilspellend.

“Jy praat darem ’n klomp bog, Gerhard. Kom ons gaan slaap.”

“Dit is wat ek wil hoor, my poppie! Kom . . .” Hy knipoog breed vir ’n woedende Louis. “Toe, kom ons gaan slaap.”

Alet voel asof sy in die aarde kan wegsink. Gerhard, wat vroeër getroud was, beskou dit as ’n heel onskuldige grappie, maar op hierdie oomblik val dit heeltemal plat.

Louis en Ilze se geskokte gesigte maak dat sy bloos en oor haar woorde struikel toe sy hulle ’n goeie nag toewens.

“Nee, Gerhard, ek gaan jou baie beslis nie nou innooi vir nog koffie nie. Baie dankie vir die aand, maar nou is ek moeg en vaak.”

Gerhard druk teleurgesteld ’n soentjie op haar voorkop. Hy is nog glad nie lus om te gaan slaap nie en die feit dat hy haar heelaand terwyl hulle gedans het, in sy arms gehou het, maak hom onwillig om haar sommer te laat gaan.

Alet sien egter nie vanaand kans om nog met hom te redeneer nie. Sy glip vinnig by die deur in en druk dit in ’n verbaasde Gerhard se gesig toe.

Gerhard se sagte laggie is hoorbaar deur die toe deur. “Nag, mooiste! Ek sien jou môre.”

Verlig hoor sy sy motor vertrek. As Louis darem nog sy motor hier moes sien wanneer hy huis toe kom, sal hy haar verdink van allerhande boosheid.

Dit help nie juis dat sy so vinnig van Gerhard ontslae geraak het nie, want Louis verdink haar in elk geval van allerhande onkuisheid. Sy gesig is soos ’n donderwolk toe sy Maandagoggend by die skool kom.

Hy groet haar styf en formeel en gaan direk na sy klaskamer.

Alet is hartseer en miserabel. Sy wil nie hê dat hy sulke dinge van haar moet dink nie. Skielik is dit baie belangrik dat hy ’n goeie dunk van haar moet hê. Die lawwe Gerhard met sy verspotte praatjies! Hy sou dit nooit gesê het as hy nie so baie bier agter die blad gehad het nie.

Sy sug liggies. Vir Gerhard kan ’n mens ook nie kwaad word nie. Hy het so ’n spontane geaardheid. Hy sien in min dinge kwaad en verwag dieselfde van ander. Sy is seker daarvan dat hy nie eens agtergekom het dat die ander sy dubbelsinnige ou grappie vir iets anders as ’n grap opgeneem het nie . . .

Die kinders is lui ná die naweek en Alet sukkel om hulle aan die gang te kry.

“Ja, Martie, wat is dit? Verstaan jy nie die somme nie?”

“Nee, juffrou, dit is nie die somme nie, ek wil sommer vir juffrou iets vertel.”

Alet sug. Sy weet uit ondervinding dat dit die beste is om hulle maar te laat vertel en klaarkry.

“Nou goed, Martie, wat is dit?”

“Juffrou, my ma het gister vir ons ’n tas gekoop . . . ’n grote! Ons gaan ons klere daarin pak wanneer ons plaas toe gaan . . . en, juffrou, Mamma sê dit is nog net soveel slapies soos wat ek vingers het . . .”

’n Lam gevoel styg stadig tot op die krop van Alet se maag. Sy het skoon vergeet . . . Sou Louis nog van die uitnodiging onthou? As dit sommer ’n belofte op die ingewing van die oomblik was en Louis dit nie meer onthou nie, gaan die kinders bitter teleurgesteld wees.

“Regtig, Martie? Watter kleur is dit?”

“ ’n Bruine, juffrou . . . en, juffrou, Mamma het vir ons nuwe rokke gemaak . . . elkeen twee . . . en . . .” Die blink kinderogies straal van verwagting.

Alet knip die trane vinnig weg. Louis Erlank, praat sy saggies met haarself, al kan ek en jy nie een oomblik lank in vrede saamleef nie, sal jy hierdie kinders nie kan teleurstel nie.

Sy besef dat sy met hom sal moet praat, hom daaraan sal moet herinner dat hy die Venters plaas toe genooi het. Maar hoe? Sal hy nie dalk dink sy wil haarself op hom afdwing nie?

Sy sal in elk geval ’n verskoning op die laaste oomblik aan Martha moet opdis, want sy sien nie kans om nou meer saam te gaan nie; sy sal wag totdat Martha nie meer kan kop uittrek nie. Maar vir Louis sal sy nou al die versekering gee dat sy nie meer gaan nie.

Honderde sinne word die volgende paar minute geformuleer en weer verwerp. Sy sal die saak pouse met hom moet bespreek.

Die kantoor is leeg toe sy ingaan om tee te maak. Sy vee die koppies uit en staan en wag, met haar rug na die deur, vir die water om te kook.

Die skrik spring in haar toe twee sterk hande haar van agter beetkry en ’n warm soen in haar nek druk.

Haar eerste gedagte is aan Louis. Wat sal hom nou makeer? Dit is egter in Gerhard se laggende gesig wat sy vaskyk.

“Gerhard! Wat maak jy hier?” Sy probeer loskom uit sy arms, maar hy draai om en druk ’n besitlike soen op haar lippe.

“Ek sal bly wees as julle ’n ander plek sal soek vir jul . . . jul vryery.” Louis blits die woorde uit.

Alet is lam van die skok. Gerhard het haar heeltemal onverhoeds betrap. Sy weet nie wat hom makeer nie . . . is hy dan nou heeltemal gek? Sy rem agtertoe.

“Los my, asseblief, Gerhard. Wat het jy hier kom soek?”

“Ek het net kom groet, mooiste! Ek moet onverwags vir ’n week weggaan. Jy moenie te veel verlang nie.”

Hy los haar en steek sy hand na Louis uit, heeltemal onaangeraak deur Louis se woedende oë en houding.

“Tot siens, Louis. Ek gaan vir ’n week of tien dae Windhoek toe. Jy moet mooi kyk na my meisie. Moenie haar te hard laat werk nie. Wanneer ek terugkom, moet sy fiks en vol energie wees, want dan wil ek haar ’n spesiale . . . ’n baie spesiale vraag vra waaroor sy baie goed sal moet nadink.”

Hy buk skielik af en soen haar weer vol op die mond.

“Tot siens, meisiekind, en jy mag maar na my verlang.”

Alles het so vinnig gebeur dat Alet net geskok na die deur kan staar waardeur hy vinnig verdwyn het.

“Juffrou Fourie!” Louis se stem sny soos ’n mes.

Alet se kop hang. Sy sien nie kans om Louis in die oë te kyk nie. Sy het lus en draai die moedswillige Gerhard se nek vir hom om.

“As ek met jou praat, juffrou, kan jy gerus die moeite doen om my in die oë te kyk.”

Stadig lig Alet haar oë. Sy bruines blits woedend in die verdwaasde bloues.

“Ek sal nie duld dat julle van die skool, van alle plekke, jul vryplek maak nie.” Hy staan met een beweging reg voor haar. “As jy geen skaamte het nie, wel, ek het! Ek ag my skool se naam hoog, baie hoog!”

Alet sê geen woord ter verdediging nie en dit maak Louis net meer woedend.

“Watter soort mens is jy? Ek het in ’n stadium gedink . . .dat jy anders is.” Hy wurg die woorde uit.

Alet het lus en sit haar arms om sy lyf en druk hom teen haar vas, styf vas . . . totdat al die haat en vooroordeel en wantroue uit hom gesypel het. Arme, ongelukkige mens! Hy treiter homself met sy haat.

Louis gryp haar aan haar boarms en skud haar.

“Ek sal dit nie toelaat nie . . . verstaan my mooi! Ek sal nie toelaat dat jy jou sleg gedra voor hierdie kinders en vir hulle ’n swak voorbeeld stel nie.”

Trane sypel stadig onder Alet se toegeknypte ooglede deur.

Louis staak sy geskud en los haar arms. Sy sak willoos in die stoel neer en druk haar gesig in haar hande.

Die woede in Louis wil nie bedaar nie; nie eens by die aanskoue van die blink trane wat op die lessenaar drup nie.

Hoekom moet die vroue in sy lewe altyd met ’n losbol deurmekaar raak? Hoekom kan hulle nie ook sterkte van karakter openbaar en hulle nie deur so ’n persoon laat meesleep nie?

“Jy moes lankal gehuil het. Nou is dit te laat! Jy moes al gehuil het toe jy daardie outjie in die Kaap, wat so lief vir jou was, in die steek gelaat het . . .”

Alet staar hom verbaas aan. Wat weet hy van ’n “outjie in die Kaap”? Sy het nog nooit van Pieter gepraat nie. Dit is seker maar . . . Sy gee die stryd gewonne, want sy woede bars weer oor haar los.

“As jy en Gerhard mekaar wil hê, om liefdeswil, vat mekaar dan, maar onthou net: Walvisbaai is ’n klein plekkie; dit is nie Kaapstad of Paarl of watter ander plek ook al nie. Hier weet almal alles van mekaar af. Moenie dink dat julle julle sleg kan gedra en niemand gaan daarvan weet nie.” Hy soek na woorde, want die woede maak hom stomp. “Kry julle nie snags genoeg van ’n geklouery aan mekaar nie? Moet julle dit nog hier in die skool voor die kinders ook kom doen?”

Alet staan stadig op en probeer verby hom druk om na haar klaskamer te gaan.

Hy versper egter haar weg.

“Verstaan ons mekaar baie mooi, juffrou Fourie? Nie hier nie en ook nie in die openbaar waar jy jouself belaglik maak voor hierdie kinders se ouers nie, want dan sal ek genoodsaak wees om die Departement hiervan in kennis te stel.”

Die blou oë, nog mistig van die trane, blits na hom.

“O, jy maak my siek . . . met jou sieklike brein en jou . . . jou haat in die mensdom . . . net omdat . . .” Sy stik in haar woede.

“Omdat wat, juffrou Fourie?”

“Net omdat ’n ou meisietjie jou in die steek gelaat het. Nou verdink jy al wat vrou is van slegtheid en onkuisheid. Jy . . . jy kan gerus ’n slag voor jou eie deur vee. Jy wat ’n mooi, vriendelike meisie nou al ses jaar lank aan ’n lyntjie hou – seker om haar op te voed, te leer om saam met so ’n suurknol . . . haatvervulde mens soos jy te lewe. Maar jy dink nie daaraan dat haar beste jare verbygaan nie!”

Louis druk die kantoor se deur toe, stap dan beslis op haar af en druk haar terug in die stoel.

“Sit! Ek nou wil ek weet by wie jy hierdie stories hoor!”

“Dit traak jou nie. Jy vorm jou eie opinie omtrent my. Jy verdink my van alles wat sleg en onstabiel is . . . en dit traak jou nie waar ek dit gehoor het nie of wie dit vir my vertel het nie. Ek . . .” ’n Snik glip onverhoeds uit.

“Ek dink nog steeds jy moet jou kop laat ondersoek, want jy is geestelik siek!”

Sy staan beslis op. Vergete is al haar noukeurige woorde en sinne van vroeër die oggend.

“Daar is iets anders wat ek met jou moet bespreek.” Haar rug is styf en regop en sy staar hom onbevrees aan. “Die Venters het jou swak grappie van ’n vakansie op die plaas ernstig opgeneem. Hulle het nuwe klere en ’n tas gekry . . .” ’n Skraal wit vingertjie beduie onder sy neus. “Jy gaan hulle nie teleurstel nie, meneer die godjie wat alles en almal hiet en gebied! Jy gaan hulle plaas toe neem en jy gaan sorg dat Martha Venter gaan . . . sonder my!”

Sy draai vinnig om, net om hom weer voor haar te kry.

“O nee, juffrou! Jy het vir Martha Venter belowe om saam te gaan en jy gaan saam! Al moet ek jou vasbind en self op die bakkie laai.” Sy woedende oë maan haar tot swye. “Ek is nie van jou stoffasie gemaak nie, juffrou Fourie. Ek vlug nie weg van my beloftes af nie en ek verbreek hulle ook nie . . . nooit nie!”

“Wat presies bedoel jy?”

“Net dat dit darem baie snaaks is dat ’n jong meisie Walvisbaai toe vlug. Hoekom? Iemand wat so ’n liefdesbetuiging voor in ’n boek vir jou kon skryf, wat vir jou waaragtig lief was . . . was hy skielik nie meer goed genoeg nie . . . nadat jy hom eers so laat verstaan het? Het hy dalk moeg geword vir jou kat-en-muisspeletjie, of het sake dalk te warm geword vir jou daar, jou kaperjolle dalk . . .”

Die klap klink soos ’n geweerskoot in die kantoortjie.

“Hoe durf jy? Jou sieklike . . . wantrouige . . .”

Louis vryf sy wang. Sy gesig is spierwit en sy bruin oë lewe soos vuur.

Sy stap beslis by hom verby, klap die deur hard agter haar toe en loop bewend na haar klaskamer toe.

Sy vertrou haar eie stem nie, want haar hele liggaam ruk. Sy sit die kinders aan die werk en staar lank stil voor haar uit.

Ná ’n ruk soek sy in haar laai na ’n stukkie skryfpapier en tel haar pen op om haar bedanking vir die einde van die jaar in te dien. Haar gedagtes is net gedeeltelik by wat sy doen, haar verstand werk koorsagtig aan die groot probleem van die kort vakansie wat net tien dae ver is.

Sarah du Pisanie Omnibus 7

Подняться наверх