Читать книгу Sarah du Pisanie Omnibus 7 - Sarah du Pisanie - Страница 12

9

Оглавление

Die kinders lyk soos vaal spokies toe hulle op die plaas aankom. Hulle het agter op die bakkie gery en die seilwande van die kappie bied nie veel beskerming teen die droë stof wat in ’n digte wolk agter die wiele uitborrel nie.

Alet het voor tussen Louis en Martha gesit. Daar was toe op die ou end vir haar geen ander genade nie: sy moes maar net saamkom.

Die kinders kom nie eens die stof of die hitte agter nie. Hulle is heeltemal te uitgelate en die paar keer wat Louis stilgehou het, het hulle baldadig in die veld rondgehardloop.

Die sweet het in twee dun straaltjies teen Alet se slape afgeloop. Martha het ook kort-kort sweet afgevee, maar dit was van senuweeagtigheid.

Sy het tientalle kere vir Louis gevra of dit heeltemal reg is, of sy ma weet dat sy so baie kinders het, of hy baie seker is dat hulle nie in die pad sal wees nie . . .

Louis het vriendelik met Martha gesels en haar besware geduldig die een ná die ander uitgewis. Hy het met die kinders gekorswel en niemand het juis opgemerk dat hy nie veel met Alet gesels nie . . .

Hester Erlank is ’n ronde, mollige, moederlike mensie. Sy sien die motor aankom en kom op ’n drafstappie nader.

Sy moet op haar tone staan om haar arms om Louis se nek te kry. Hy druk haar vas en gee haar ’n klapsoen op haar mond.

Hester verwelkom almal met ’n soen wat hulle sommer dadelik laat tuis voel.

“Boeta, dra die kinders se goedjies na die twee stoep­kamers en dan kan Martha in die spaarkamer naaste aan hulle slaap. Alet se goedjies kom in die kamer langs myne.”

Twee rooi kolle slaan hoog op Martha se wangbene uit van opgewondenheid.

Die kinders is in ’n ommesientjie nêrens te sien nie. Louis roep laggend agter hulle aan: “Julle moet net nie te ver weggaan nie. Ek sal nou-nou vir julle die plaas gaan wys.”

“Kom binne, mense . . . ai, dit gaan lekker wees om die plaas weer te voel lewe! Ek wag al van twaalfuur af vir julle; julle is seker al dood van die honger.”

“Ons wil net gou die ergste stof afwas, Ma, en iets koels drink, dan sal ons kom eet.”

Hester neem die twee vroue al geselsend na hul kamers en wys hulle waar die badkamers is.

Alet staar verstom na die pragtige groot vertrekke met hul waardevolle oudhede. Alles is netjies en baie smaakvol en ’n stempel van welvaart is baie duidelik op alles afgedruk.

Die kos is heerlik en veral die kinders lê behoorlik weg. Hester straal en kloek soos ’n hen om al die kinders.

Die jongste Ventertjie, ’n pragtige meisietjie van vier met die groot naam van Hester Magrieta – wat deur almal sommer Kleintjie genoem word – is natuurlik tannie Hester se gunsteling.

“Wat van nog ’n bietjie melk vir julle kleingoed?” Hester tel die beker op en maak weer die kinders se glase vol.

“Ag, tannie Hester, kyk net hoe sak die ou ogies toe. Kom, Ouma se poppie, dan gaan sit Ouma jou gou in die bed . . .”

Sonder om haar aan enige van die ander te steur, tel Hester die kind op en gaan lê haar op die groot hemelbed met die spierwit deken neer.

In haar hart verwens Alet die selfsugtige, eiegeregtige, verwaande Louis omdat hy nie sy ma se hartewens bewaarheid deur vir haar haar eie kleinkinders te gee nie. Hy is mos veronreg. Hy kry mos alleen seer . . . Sy gee hom so ’n vuil kyk dat hy verskrik wonder wat hy nou skielik weer gesondig het.

Alet en Martha wil nie ná ete ’n bietjie gaan rus nie. Vir Alet, wat aan ’n wingerdplaas gewoond is, is hierdie Suidwes-plaas omtrent net so vreemd soos vir die Venters.

“Mamma, kom kyk net gou die groot hoenders met hul lang nekke.”

Alet en Martha stap saam met die kinders om na die “groot hoenders” te gaan kyk.

“Dit is nie hoenders nie, Martie; dit is ganse.” Martha draai laggend na Alet. “Sies tog, juffrou! Hulle is almal, behalwe die drie oudstes, wat ook maar baie klein was, op Walvisbaai gebore en . . . hulle was nog nooit weg met vakansie nie.”

Alet vryf oor Martie se blink haartjies. Sy verstaan baie goed wat Martha vir haar probeer sê. Iemand wat nog nie op Walvisbaai was nie, sal nie verstaan dat dit ’n woestyndorp is nie. ’n Mens kan jou nie indink aan ’n dorp sonder plantegroei of diere nie, met nie eens ’n distrik met plase waarheen die kinders in vakansietye kan gaan nie. Alledaagse dinge, soos hoenders, koeie, groot bome en gras, is iets wat hierdie kinders nie ken nie.

“Ja, Martha, ek sou dit nie verstaan het as ek nie self op Walvisbaai was nie. Hierdie alledaagse dinge is vir hulle ’n hele belewenis.”

Hester wag hulle op die stoep in met koffie.

“Kan ons nie so ’n entjie met die pad af stap nie?” Mar­tha lyk verbaas oor haar eie vrypostigheid, maar sy glimlag breed vir hulle.

“Dit is dan nog so warm, Martha . . .” Hester gooi ’n bietjie wal. “Sodra die son sak, kan ons almal gaan stap. Ek wil nie hê julle moet alleen gaan nie, want dan het ek niemand om mee te gesels nie en hierdie vakansie gaan ek vreeslik selfsugtig wees. Ek is uitgehonger vir geselskap.”

Hulle drie kuier rustig op die stoep. Die kinders kom kort-kort inloer om van nuwe ontdekkings te vertel.

Louis het ná die ete verdwyn en hulle het hom nog nie weer gesien nie. Hester het maar net gesug; haar hart gaan uit na haar kind wat elke vakansie so hard werk.

“Ek is so bekommerd oor my kind . . . Ek is nou haastig dat hy moet terugkom plaas toe. Hy kan nie die twee loopbane behartig nie.” Sy kyk ver oor die veld heen. “Die arme kind kan nie so aangaan nie. Hy werk hom morsdood hier op die plaas. Hy het so gehoop dat hulle ’n manspersoon sou stuur wat volgende jaar by hom kon oorneem sodat hy kan terugkom plaas toe.”

Sy kyk vinnig na Alet. “Ag, ek bedoel niks daarby nie, hartjie! Dit is mos maar . . . jy weet tog hoe Louis is. Hy sal meer gerus wees as hy weet hy gee die werk oor vir ’n ander man wat weet wat aangaan . . . hy is altyd so bekommerd oor die kinders.”

“Wil hy dan die onderwys heeltemal los, tannie Hester?”

“Ja, hy kan nie so aangaan nie. Hy het kennis gegee vir die einde van hierdie jaar. Dit is hoekom hy so graag ’n man daar wou hê, sodat hy hom kon touwys maak en . . . en dan met ’n geruste hart die werk kon afgee.” Sy sit haar koppie versigtig neer. “Hier is te veel werk, my kind. Die plaas is groot. Om die waarheid te sê, dit is eintlik twee plase wat aan mekaar grens. Hy kan nie al die werk vakansietye doen nie. Die voorman is nou wel hier, maar hy wil graag self ’n ogie oor alles hou.”

“Mamma!” Klein Martie en Andries is skoon uitasem. “Kom kyk tog gou die hondjies!”

Martha stap gewillig saam met die kinders.

Alet verstom haar aan die stil, skaam Martha wat so ontdooi hier op die plaas onder Hester se vrolike, vriendelike gees. Sy lyk jare jonger, gesond en vol lewenslus.

Hester staar hulle ook agterna. Dan glimlag sy vir Alet.

“Dit is darem ’n pragtige klompie kleingoed. Louis het my hul omstandighede net so kortliks vertel, maar ek was aangenaam verras vandag. Die kinders is pragtig opgevoed, ten spyte van die pa se swakheid. En Martha, sy is ’n wonderlike vrou . . . om in sulke omstandighede so ’n wonderwerk te kon verrig.”

“Ja, sy is, tannie Hester, en sy het net liefde nodig om tot ’n pragtige mens te ontluik. Sy is vreeslik onderdruk en sy moes haar so baie vir haar man skaam dat sy geen vrymoedigheid meer het nie.”

“Is hier nog ’n bietjie koffie vir ’n dors en moeë man?” Louis sak op die stoel neer. Hy lyk groot en sterk in sy plaasklere. Die stof en sweet verhoog sy manlikheid en Alet probeer oral kyk behalwe na hom.

“My arme kind! Dit is vir my vreeslik swaar dat jy elke vakansie so hard moet kom werk. Ek wens die jaar is al om.”

Louis leun met sy kop teen die muur.

“Ek wens ook so, ou Mams! Ek wens regtig so!”

“Ek gaan net gou vir jou warm koffie haal, hierdie koppie is al koud.” Hester verdwyn met die koffiekan die huis in.

Alet staar ver oor die veld heen. Die stilte tussen hulle raak ongemaklik.

“Jy kan nie dalk probeer om ’n bietjie vriendeliker te wees wanneer my ma in die nabyheid is nie? Sy is geweldig sensitief en sal dadelik agterkom dat daar iets skort. Buitendien, die kinders en Martha geniet dit so . . . dit behoort genoeg beloning vir jou opoffering te wees.”

Alet word ’n antwoord gespaar toe Hester vinnig by die deur uitkom met warm koffie.

“Wat van jou, Alet? Nog ’n bietjie?”

“Asseblief, tannie.” Sy sal nou ’n hele kan koffie uitdrink net om haar hande besig te hou, want die woede kook binne-in haar. Sy het lus en gooi hom met die warm koffie. Hy is die een wat allerhande etikette aan haar vasspeld . . . sy het hom nog nooit te na gekom nie. Nou kom maak hy asof sy die een is wat . . . wat ongemanierd is.

Louis verslind rustig twee koppies koffie en ’n berg be­skuit. Hy sit ’n rukkie net rustig agteroor toe hy klaar is. Daarna tel hy sy hoed op en druk gemaak kranklik sy hand op sy kruis toe hy opstaan.

“Wag, dat ek my maar gaan afsloof vir volk en vaderland.” Hy draai na Alet. “Kom stap saam kraal toe, dan wys ek vir jou die kalfies.”

Alet se oë blits op hom. Gebelg sien sy die flikkering in die bruin oë. Hy geniet dit! Die judas!

Sy het geen ander keuse nie as om op te staan en saam te stap. “Wil tannie Hester nie ook saamstap nie?”

“Ag nee, dankie, hartjie. Ek wil gou iets gaan maak vir aandete. Vanaand, as dit koeler is, kan ons ’n entjie met die pad langs stap.”

Alet sorg dat hulle goed buite hoorafstand is voordat sy hom takel. “Was dit nou nodig?”

Louis hou hom heeltemal ongeërg.

“Ek dink so! Wat dink jy sal my ma sê as sy moet weet jy is hier teen jou sin en dat jy my nie kan verdra nie, en dat jy my in jou hart verag?”

Die seer roer diep in Alet.

“Hoekom sê jy nie liewer dat jy my verag nie? Dit sal die hele waarheid wees.”

Alet byt haar kieste vas. Sy wonder wat hy sal sê as sy hom hier moet vertel dat haar onbetroubare, agterbakse hart haar lankal in die steek gelaat het, dat hy hom aan die kant van die vyand geskaar het. Want al wat met hom in hierdie stadium verkeerd is, is dat hy siek is . . . siek van die liefde! ’n Ongevraagde, voor-op-die-wa liefde vir hierdie egoïstiese, verwaande, foutsoekerige man.

“En buitendien, jy het haar tog seker vertel van jou kollega se swak reputasie . . . Dat sy al die mans binne tref­afstand verlei . . . en wanneer sy die saak nie meer kan hanteer nie . . . wanneer dit vir haar te warm word, dan vlug sy.” Die sarkasme drup uit haar stem.

“Nee, ek het nie! Ek dra nie stories aan nie en ek luister nie na skinderstories omtrent ander mense nie.”

“Foei tog! Hoe edel! Wel, ék luister daarna en as ek nie genoeg weet nie, dan trék ek dit uit hulle uit. Ek verplig hulle om my die laaste krieseltjie sappige skindernuus te vertel. Ek dreig hulle, ek pers hulle af en ek skep ’n sadistiese behae daarin . . .” Sy krom haar vingers soos ’n roofdier en sper haar oë oop terwyl sy probeer om die genot wat sy veronderstel is om daaruit te put, na hom uit te straal.

Louis gooi sy kop agteroor en skater dit uit van die lag.

“Baie goed, juffrou Fourie. Ek dink jy moes liewer drama op universiteit gestudeer het.”

“Dit is nie nodig nie, meneer Erlank. Al wat ek op hierdie oomblik nodig het, is ’n blitskursus in ‘Hoe om jou skoolhoof te vermoor’ .”

Weer eens klink Louis se skaterlag oor die stil werf.

Hester loer by die agterdeur uit en ’n stil, beterweterige laggie kom lê om haar lippe. Sy neurie ’n vrolike deuntjie terwyl sy die meel van die rak afhaal om vir die kinders pannekoek vir aandete te bak . . .

Die paadjie na die kraal word nouer en Louis vat haar liggies aan die elmboog om haar voor hom uit te stuur. Sy ruk haar arm vererg los.

“Ek laat nie enige man toe om aan my te klóú nie, meneer Erlank . . . Dit is mos die woord wat jy so graag gebruik.”

Louis haal gelate sy skouers op.

“Maak soos jy wil. Ek wou maar net manierlik wees. Ek het geen begeerte om aan jou te . . . klou nie. Ek is nogal kieskeurig aan wie ek vat en aan wie nie.”

Alet voel soos ’n drakie; sy is seker daarvan die stoom trek by haar neus en ore uit so kwaad is sy.

Die pragtige kalfies met hul slap oortjies laat Alet egter gou haar gramskap teenoor hul baas vergeet. Hulle kom vriendelik nader en probeer om aan haar vingers te suig.

Louis laat haar ’n rukkie alleen by die kalfies. Die kinders het hulle egter gesien en die vier ouer kinders kom soos warrelwinde aangehardloop.

“Ag, juffrou, is hulle nie te pragtig nie?”

“Juffrou moet dat hulle aan juffrou se vinger suig.”

“Wanneer gaan hulle na hul mammas toe, juffrou?”

Alet lag en trek Truia se arm deur hare.

“Julle praat almal gelyk. Ek dink meneer is nou besig met die koeie. Hulle melk nou en dan los hulle so ’n bietjie melk vir die kalfies. Sodra hulle die koeie uitkeer, dan gaan drink die kalfies.”

Dit is ook nie lank nie of die eerste koeie kom in die kraal in. Hulle gaan staan rustig en herkou en bulk ’n paar keer. Die kalfies ken dadelik hul eie ma’s en storm op hulle af, die kort stertjies soos waaiertjies agter hulle.

Die ou Afrikanerkalfies word met groot liefde deur hul ma’s gelek, maar kalf se kind is baie meer geïnteresseerd in sy kos as in sy bad.

Die kinders hou vir Alet by die kraal besig met hul honderd-en-een vrae. Die skemerte het al sag oor die stil, pragtige plaas gedaal, toe staan hulle nog daar.

Die kinders is behoorlik onder hul voete toe hulle terugstap huis toe. Alet sorg dat daar minstens twee van die kinders tussen haar en Louis is, sodat hy nie weer aan haar hoef te raak nie.

Die kinders kan hul oë nie glo toe hulle aansit vir aand­ete nie. Die ete bestaan uit ’n berg pannekoek en ’n yslike beker melk. Daar is nog koue vleis en brood ook, maar daarna kyk die kinders nie eens nie.

Ná die ete gaan haal Hester die groot Familiebybel van die rak af en gee dit vir Louis aan. Hy kyk fronsend na haar, maak die Bybel oop en lees ’n kort stukkie. Nadat hy die Bybel toegemaak het, sit hy ’n paar oomblikke met sy hande stil daarop, voordat hy sy kop buig en ’n kort gebed doen.

Hester se oë is onnatuurlik blink en Alet wonder stilweg of dit ook dalk een van die dinge is wat Louis langs die pad verleer het . . . toe hy so besig was om homself te vind.

Louis kyk skielik in Alet se oë wat nog peinsend op hom rus. “Toe, Alet, speel jy vir ons op die klavier, dan sing ons ’n paar liedjies.”

Alet staan sonder teëstribbeling op en maak die klavier oop. Haar vingers gly liggies oor die klawers. Die klavier se klank is helder en suiwer, asof dit gereeld bespeel word. Nuuskierig wonder sy of dit Hester of Louis is wat dit gebruik.

Hulle sing ’n paar hallelujaliedere, maar die kinders is doodmoeg en word ook sommer ná die derde liedjie deur Hester bed toe gestuur.

“Gaan help jy eers die kinders om gebad te kom, Martha. Ek en Alet sal afdek.” Hester organiseer almal.

Hulle neem net die skottelgoed kombuis toe en Hester wil niks hoor van skottelgoed was nie. Daar is oorgenoeg hulp op die plaas en dit is iets wat maar tot môreoggend kan wag.

Alet is self moeg, maar etiket vereis darem dat sy ’n rukkie by haar gasvrou op die stoep moet gaan sit en gesels.

Dit is heerlik koel op die stoep. Die veld is stil en rustig met net die krieke se geskril om die nagstilte te versteur. Veraf blaf ’n hond.

“Die veld is droog, nè, Ma? Dit sal vanjaar vroeg moet reën en baie reën, anders gaan ons swaarkry. Die beeste lewe omtrent net van voer.”

“Daar steek die afgelope paar weke kort-kort wolkies op. Dit is mos darem ’n goeie teken. Ons hou maar duim vas dat die gaste vir ons reën gebring het.”

“Ja, ons hoop maar so. As dit net reën, sal daar nie so baie werk wees nie.”

Hester sug.

“Ja, my kind. Ek weet die werk is baie . . . en ek hou nie daarvan dat jy elke vakansie so hard moet werk nie. ’n Mens moet die een of ander tyd rus.”

Louis lag saggies.

“Ma se ou seuntjie is darem nog groot en sterk. Hy kan nog hou tot die end van die jaar toe.” Hy loer in die donker na Alet. “Die probleme daar in Walvisbaai is egter baie meer aftakelend vir die gees as die droogte hier op die plaas.”

“Ai, my kind, dit was so onnodig dat jy ooit hier moes weggaan. Dit was onnodig dat jy gaan onderwys gee het. Jou pa het maar net op ’n universiteitsloopbaan aangedring sodat jy altyd iets kon hê om op terug te val as die boerdery die dag nie meer betalend is nie.” Sy sug diep. “Maar jy weet dit tog . . . destyds toe jy die eerste keer hier op Usakos gaan onderwys gee het, toe het Pappa nog gelewe en toe al het julle besluit dit sou net vir een jaar wees. Ek het destyds vir jou gesê weghardloop sal nie help nie.”

Sy bly verskrik stil toe sy besef dat hulle ’n gas in die geselskap het.

“Ekskuus tog, Alet! Jy is ook so stil. Ek wil darem nie ons familiegeraamtes nou uit die kas haal nie.”

“Ma kan maar praat. Sy ken die storie.”

“Werklik!” Hester klink bly verras. “Dit is die eerste mens vir wie jy die storie vertel het . . . nè, boeta!”

Alet sit geskok op haar stoel. Die donkerte maak dat sy nie die uitdrukking op Louis se gesig kan sien nie.

Louis steek sy pyp op en suig kalm en rustig daaraan voordat hy antwoord: “Ja . . . die eerste een.”

Alet weet nie wat om van sy vreemde antwoord te dink nie. Sy skud haar kop effens om van haar magteloosheid ontslae te raak. Louis is in elk geval bo haar vuurmaakplek, sy sal hom nooit verstaan nie. Sy is seker sy verstand werk andersom as ander mense s’n.

Alet probeer ’n gaap agter haar hand wegsteek. Martha het lankal gaan inkruip. Die verandering van lug het hulle behoorlik gevang.

“Ek dink ek moet ook gaan slaap. Dit was ’n lang dag.”

Hester glimlag sag op na haar, en hou haar hand na Alet uit.

“Nag, hartjie. Alles wat jy nodig het, is in jou kamer. Lekker slaap!”

“Nag, tannie Hester.” Alet buig vooroor en soen haar liggies op haar voorkop. “Lekker slaap.”

“Goeienag, Louis . . .”

Louis vang haar hand toe sy by hom verbykom. “Nag, hartjie!” Hy hou haar teë. “Sê jy nie vir my ook ordentlik nag nie?”

Alet voel asof sy in die aarde kan wegsink toe sy tannie Hester se ingenome glimlag in die flou skynsel van die maan opmerk. “Nag, Louis.”

Sy buk vooroor en draai haar lyf sodat tannie Hester nie kan sien wat gebeur nie, en byt hom geniepsig op sy wang.

Louis se sagte laggie bly in haar ore lank nadat sy haar lamp doodgeblaas het.

Sarah du Pisanie Omnibus 7

Подняться наверх