Читать книгу Sarah du Pisanie Omnibus 7 - Sarah du Pisanie - Страница 5
2
ОглавлениеDie son skyn helder en vrolik op hierdie eerste dag van die eerste kwartaal van ’n splinternuwe jaar.
Alet is vroeg op. Sy sal graag die hoof wil ontmoet en eers ’n bietjie vertroud raak met haar klaskamer en die skooltjie voordat die kinders opdaag.
Sy sluit haar voordeur oop en met ’n ligte hart, opgewonde en vol energie vir die taak wat vir haar voorlê, stap sy na die skooltjie. Vergete is die naweek se eensaamheid en verlange. Dié het sy diep in die donkerste kamertjie onder in haar hart gebêre.
“Tant Grieta, moenie vir my kom preek nie! Ek het niks met die ou fossiel te doen nie . . . Moes ek nou hier sit en wag sodat ek haar op die stasie kon gaan haal? Gmpf . . . Seker nog die rooi tapyt vir haar ooprol en haar huis ook skoonmaak!”
Die verergde manstem trek deur die oop venster en skok Alet tot stilstand. Sy besef dadelik dat dit van haar is wat daar so kwaai gepraat word.
“Nee, Louis, maar jy kon darem net die ordentlikheid gehad het om vir my te vra om dit te doen, en buitendien . . .”
Die besef dring stadig tot Alet deur dat sy onbeskaamd onder die venster staan en afluister.
“Ag! Tant Grieta! Ek het nou regtig nie lus vir hierdie ou storie nie. Ek het destyds vir die Departement gesê ek wil nie weer ’n vroumens in my personeel hê nie. Die jong goedjies . . . hulle trou in elk geval met die eerste beste mansmens wat verbykom, en die oues . . . ag! Hulle is so verstok dat hulle nie eens met hulself kan klaarkom nie, wat nog te sê met die kinders . . . Hulle is versuur en hulle dink almal skuld hulle iets.”
“Louis . . . eendag . . . eendag gaan ek my liederlik vir jou vererg en daardie dag . . .”
’n Helder skaterlag bring Alet tot die werklikheid terug. Die rooi gloed wat stadig van haar nek af opstyg, kom skop nes hier hoog bo-op haar wangbene.
Wel! Geagte meneer Erlank . . . ek is nie oud of verstok nie en ek het baie beslis nie trouplanne nie . . . nie nou nie en beslis ook nie binne die eerste kwartaal nie. Haar gedagtes vorm ’n verwoede warboel – alles kook binne-in haar.
Soos ’n Nemesis staan sy in die kantoortjie se deur. Die netjiese rokkie met die fyn blou blompatroon hang sag en vroulik om die skraal figuurtjie. Haar digte blonde hare is in ’n netjiese rol agter haar kop vasgemaak. Sy lyk netjies en heeltemal bekwaam vir haar taak as opvoeder van die jeug.
Sonder om op ’n uitnodiging te wag, stap sy binne. Haar hande omklem die boektassie sodat haar kneukels wit deurskyn.
“Goeiemôre, meneer Erlank, ek is Alet Fourie.”
Louis Erlank kom stadig orent. Hy is lank, baie langer as sy, breedgeskouer en onmiskenbaar baie blootgestel aan die son. Sy vel is sonbruin en sy donker hare streep-streep verbleik deur die son. ’n Mens kry die indruk dat die son nog steeds daarin vasgevang is en kort-kort ligstraaltjies uitstuur.
Alet kyk hom waterpas in die oë. Haar ingehoue woede maak haar waarnemingsvermoë stadig. Dit duur etlike sekondes voordat sy besef dat meneer Erlank allesbehalwe ’n ou man naby aftree-ouderdom is. Hy is nog jonk, seker nie ouer as dertig nie, maar sy gesig is soos sy oë, hard en sinies.
Tant Grieta staan stil geskok. Haar ogies beweeg vinnig van die een na die ander. Sy besef dat Alet hul gesprek moes gehoor het. Sy sien die onderdrukte woede in haar oë en sonder om in Louis se rigting te kyk, skuifel sy vinnig by Alet verby en drafstap na haar huisie.
Louis Erlank stap om die lessenaar en steek sy hand na haar uit.
“Goeiemôre, juffrou!” Sy stem is styf en onvriendelik.
Die stilte rek tussen hulle. Koppig weier Alet om enigiets verder te sê. Van mans en veral ongeskikte mans het sy nou net mooi genoeg gehad.
Louis beskou haar op en af. Dit het hy darem nie verwag nie; hy was werklik onder die indruk dat sy ’n oujongnooi moet wees. Wie anders sal bereid wees om van die Kaap af hier, aan die uithoek van die land, te kom skoolhou?
“Hmm . . .” Hy maak ongemaklik keel skoon.
“Kom ek wys jou waar jou klaskamer is . . .” Hy haak ’n sleutel agter die deur af, staan effens opsy sodat sy kan verbykom en stap dan met lang treë voor haar uit na haar klaskamer.
Dit is die vertrek verste van die kantoor af. Die kantoor is met ’n middeldeur aan die ander vertrek verbind, waar ’n skoonmaker besig is om uit te vee en af te stof.
Louis sluit die klaskamer oop en stap na die venster om dit vir haar op te maak.
“Die skool begin eers om agtuur, juffrou, die skoonmaker sal nou-nou hier kom uitvee en afstof.”
“Baie dankie . . .” Alet klink styf en onvriendelik. “Ek weet ek is vroeg, maar ek wou net graag met die omgewing bekend raak voordat die ouers en kinders opdaag.”
Louis draai ongemaklik rond. Hy besef dat sy hulle gehoor het. Hy wil graag ’n bietjie vriendeliker wees en haar laat tuis voel, maar die ongemak maak hom stug.
“Hm . . . ek . . . ek gaan maar eers terug kantoor toe, daar is ’n paar dingetjies wat dringende aandag nodig het . . . Indien jy iets nodig het . . . kom spreek my maar . . .”
Alet kners op haar tande. Onbeskofte buffel! Sy verwerdig haar nie eers om hom te antwoord nie. Hy mag nou wel die hoof wees, maar dit gee hom nog geen reg om te veroordeel en etikette op mense te plak nog voordat hy hulle ontmoet het nie. Sy sal haar werk doen, en hy sal haar nooit oor enigiets hoef aan te spreek nie, maar dit is ook al . . . sy sal nie een tree beweeg om in sy guns te probeer kom nie.
Driftig stap sy na die klaskamer langsaan, kry ’n stoflap by die skoonmaker en begin self haar klaskamer skoonmaak. Sy keer die laaie om en stof dit uit voordat sy haar persoonlike goedjies daarin pak.
Die kinders kom streep-streep aan. Hulle lag en gesels en speel buite op die oop vlakte asof dit die heerlikste speelterrein is. Drie ma’s met nuwelingetjies wat vanjaar hul skoolloopbaan gaan begin, kom geselsend agter die kinders aangestap.
Die nuwelinge bestaan uit twee meisietjies en ’n ernstige donkerkopseuntjie wat sommer dadelik diep in Alet se hart kruip.
Ansie en Johani is die twee meisietjies. Ansie is ’n stil, skaam kind, maar Johani, ’n pragtige kind met lang blonde haartjies en diepblou ogies, is ’n regte klein kekkelbekkie. Alet kan haar lag nie hou vir al die oumensstorietjies waarmee die kleinding so spontaan vorendag kom nie. Haar ma is nie meer jonk nie, seker al een of twee jaar aan die verkeerde kant van veertig, maar Johani het beslis haar vrolike geaardheid geërf.
“Juffrou, dit is my laatlam . . . my ander twee kinders is al groot, my oudste dogter is verlede jaar al getroud . . . Sy gaan vir jou grys hare gee . . . hierdie witte!” Sy lag terwyl sy liefdevol oor die witblonde haartjies vryf. “Jy sal haar moet kortvat . . .” Sy buk oor na Alet se kant toe en fluister saggies agter haar hand sodat net Alet kan hoor: “Net nie te erg nie . . . hoor! Sy is darem nog my baba . . .” Met ’n vrolike knipoog laat sy die klein laatlam, wat al klaar heerlik aan die stry is met Ansie, in haar sorg.
Alet se spannetjie bestaan uit twintig van die sewe-en-dertig kinders. Sy het al die kinders van sub A tot standerd twee. Die res is in meneer Erlank se klas.
Vir die opening van die nuwe kwartaal kom al die kinders in een klaskamer bymekaar. Die kleintjies sit sommer op die vloer. Behalwe die drie ma’s wat die nuwelinge gebring het, is daar geen ander ouers nie.
Alet is dankbaar toe die opening verby is.
Sy is maar taamlik senuweeagtig, want dit is die eerste keer dat sy so ’n verskeidenheid klasse het; dit gaan ’n geweldige aanpassing vir haar wees, en met ’n ongeskikte, onvriendelike skoolhoof, by wie sy beslis nie sal gaan aanklop om hulp nie, gaan dit glad nie kinderspeletjies wees nie.
Die kinders is nog vol vakansiegees en dit gaan bitter moeilik om hulle stil te hou. Hulle is propvol gesels oor die heerlikhede wat die vakansie gebeur het en dit borrel sommer oor.
Alet lees hul name uit die register voor en doen haar bes om elkeen dadelik te onthou. Die kleingoed voel egter met hul fyn waarnemingsvermoë dadelik haar vreemdheid aan en buit dit ook terdeë uit.
“Juffrou, Johani slaan vir Ansie!” Dit is ook al wat Ansie nodig het en sy huil dat jy haar kleintongetjie kan sien.
Alet probeer vinnig troos. Die dun plankmure is nie juis ’n beskerming teen so ’n basuingeskal nie.
Dirkie, die ander nuweling, het ook nie aanmoediging nodig nie en sit ’n duet saam met Ansie in.
Johani verdedig haar standpunt luidkeels.
“Ansie het my potlood gevat . . . en dit is my nuwe potlood, Ma het dit net gister vir my gekoop . . . en . . .”
Alet raak verbouereerd. Sy druk Dirkie se koppie teen haar vas terwyl sy vir Ansie met die ander hand vashou. Die res van die klas kies kant en dit is ’n Babelse lawaai.
“Wat gaan hier aan?” Alet skrik groter as die kinders.
Louis staan in die deur met ’n gesig soos ’n donderwolk.
“Stil! Almal van julle! Elkeen op sy plek.” Jy kan ’n speld hoor val, selfs Ansie en Dirkie vergeet om te snik.
Louis maak die twee kleintjies, wat nog steeds aan Alet vasklou, beslis los.
“Julle twee ook.” Sy stem is nie meer so streng nie, maar dit dra genoeg gesag om hulle stil op hulle plekke te kry.
“Juffrou, ek sal jou graag vir ’n oomblik in my kantoor wil spreek.” Hy draai na die klas. “Julle sit doodstil . . . nie ’n woord van julle nie. Verstaan?”
“Maar, oom Louis . . . Ansie het my potlood . . . my nuwe potlood . . .”
Alet voel die histerie in haar opstoot. Die klein Johani het geen respek vir die gelaaide atmosfeer nie. Die groter kinders staar haar verskrik aan. Alet stap voor Louis uit, te bang om om te kyk.
“Johani!” Alet kan sweer dat sy stem vol lag is, maar sy sal nou nie haar maand se salaris daarop verwed nie.
“Jy moet net soet wees . . . jy is nou groot, en as ’n mens eers in die skool is en juffrou of ek sê vir jou iets, dan luister jy en jy praat nie teë nie.”
“Ja, oom Louis, maar . . .”
“Dit is nou genoeg, almal doodstil totdat ek terugkom.”
Alet staan stil en regop in die kantoor vir hom en wag.
“Juffrou!” Louis se stem is kil en onvriendelik. “Hoe lank gee jy al onderwys . . .”
“Dit is my tweede jaar, meneer Erlank; ek het verlede jaar ’n standerd twee-klas gehad.”
“Jy het dus nog geen ondervinding van kindertuinklasse nie?”
“Nee, meneer.”
“Juffrou!” Louis se stem drup van sarkasme. “Mag ek jou vra hoekom jy hiernatoe gekom het?”
Alet se hele houding raak geslote, sy kyk hom vas in die oë sonder om ’n woord te sê.
“Dit is nie so ’n onbillike vraag as wat jy dink nie, juffrou! Geen regdenkende jong meisie sal haar sonder rede hier op die uithoek van die aarde onder die stof en sand kom begrawe nie.” Louis skuif ’n paar papiere op die lessenaar netjies reg. “Ek het verwag dat jy al met pensioen moes gewees het, en dus nêrens anders ’n pos kon kry nie . . . daarom dat jy hiernatoe gekom het . . . Ek was blykbaar verkeerd.”
“Blykbaar, meneer Erlank.” Alet klink heel onskuldig.
“Wel! Daar moet ’n rede voor wees . . .” Louis slaan driftig op die lessenaar. “Ek laat my nie vertel dat ’n mens so iets onbesonne sal aanvang sonder ’n baie goeie rede nie.”
Alet antwoord nie . . . staar net stil voor haar uit, en dit maak hom woedend.
“As jy wil teruggaan, juffrou . . . as jy besef jy het ’n fout begaan, dan moet jy my nou sê sodat ek vandag nog met die Departement in verbinding kan tree en hulle dadelik iemand anders kan stuur. Ons kan nie wag tot die middel van die jaar en dan die kinders in die steek laat nie.”
Sy lig haar kop beslis op, maar vou ongemerk haar arms om haar maag om die bewing te probeer keer.
“Ek is nie van plan om die kinders in die steek te laat nie, meneer Erlank.”
“Juffrou!” Louis se stem is sarkasties geduldig. “Ek hoop jy verstaan my reg . . . dit is nie dat ek dink jy sal dit doen omdat jy van swak inbors is nie, maar Walvisbaai is nie ’n plek vir ’n jongmeisie nie. Hier is feitlik geen ongetroude jong mense nie . . . Hier . . . hier is niks wat ’n mens kan doen om die tyd vir jouself interessant te maak nie . . .” Louis buk oor die lessenaar, sy stem sissend sag. “Hier is geen . . . wel, omtrent geen hubare mans nie . . .”
“Ek verstaan, meneer Erlank . . . Ek is egter steeds nie van plan om halfpad tou op te gooi nie.”
“Goed . . . juffrou! Jy is baie slim en baie koppig . . . Jy wil hier bly . . . mooi! Maar . . . jy gaan jou kant bring, dit belowe ek jou . . . moenie dink ek gaan jou verskoon omdat jy ’n vrou is nie.”
Alet sê nie ’n woord nie, maar wat sy in haar hart dink, is onheilspellend bitter en swart.
“Dit is al, juffrou, en gaan probéér asseblief om jou klas te beheer! Ek kan nie werk met so ’n chaos langs my nie.”
Alet sluk swaar aan die krapperigheid in haar keel. Sy haal ’n paar keer diep asem voordat sy weer by haar klaskamer ingaan. Die kinders is stil en beskou haar ondersoekend. Hulle is vir haar jammer, want dit is seker nie eens vir ’n juffrou lekker om kantoor toe te gaan nie.
“Nou ja, ek dink ons het nou almal kennis gemaak. En weet julle wat dink ek nog . . . ek dink nie ons gaan vandag op hierdie eerste dag van die kwartaal al met lesse begin nie . . . ek gaan vir julle een van die mooiste stories lees.”
Haar soet stem hou die kinders asemloos gevange en hulle sug van genoegdoening toe Aspoestertjie met die prins wegry en die stiefsusters die gelukkige paartjie jaloers agterna moes staan en kyk.
Onseker draai Alet in haar klas rond toe die kinders uit is vir pouse. Sy weet nie of sy veronderstel is om iewers te gaan tee drink nie. Sy sal in elk geval liewer sterf van die dors as om self te gaan ondersoek instel.
“Juffrou . . . meneer sê juffrou moet kom tee drink in die kantoor.”
“Dankie, Elias, ek kom.” Sy draai onnodig in die klaskamer rond sodat die teedrinktyd tot die minimum beperk is.
Die tee is onsmaaklik en die gebarste koppies en nerfaf pierings doen niks om dit aangenamer te maak nie. In doodse stilte drink sy haar tee. Louis is besig om vorms in te vul en sy sit styf en regop aan die ander kant van die lessenaar.
Stilweg neem Alet haar voor om van môre af self die tee te maak. As sy dan die tee in so ’n gelaaide atmosfeer moet inwurg, dan kan dit darem ’n aantrekliker en smaakliker koppie tee wees.
“Dankie, meneer Erlank . . . As jy my sal verskoon, ek het nog ’n paar dingetjies wat ek in my klaskamer moet gaan doen.”
Louis kyk half gesteurd op.
“Dit is reg, juffrou. Ek sal bly wees as ek jou ná skool ’n paar oomblikke kan spreek. Daar is ’n paar dingetjies wat ons moet bespreek.”
Die dag verloop sonder verdere voorvalle. Alet laat die kinders verf en dit hou hulle die res van die dag stil en gelukkig. Sy gebruik die tyd om die kinders onderlangs dop te hou en op te som.
Die grootste gedeelte van die klas is doodnormale, gesonde, lewenslustige kinders wat sy, as sy ’n opsomming moet maak, beslis sal klassifiseer onder kinders wat uit goeie, gemiddelde huise kom. Daar is ’n paar wat armoedig lyk, hul kleertjies is dun gewas maar skoon en netjies. Hierdie kinders is bleek en maer. Ongemerk gaan Alet hul name weer in die register na en merk verbaas op dat al vier dieselfde van het.
Alleen in ’n bank sit ’n mooi donkerkoppie. Sy is netjies en haar klere is van ’n goeie gehalte en baie smaakvol. Welvarendheid staan in hoofletters oor die meisietjie geskryf. Marinda Steenkamp. Alet wonder wie haar ouers is. Sy is blykbaar nie juis gewoond om met die ander kinders te meng nie. Die kinders behandel haar met baie respek, maar min warmte.
Diep in haar hart verwens sy die ongeskikte Louis Erlank. Sy sou so graag die kinders met hom wou bespreek sodat sy elkeen se agtergrond kan leer ken. Sy neem haar egter voor om vanmiddag vir tant Grieta uit te vra oor die kinders.
Louis is ’n bietjie minder stug toe sy hom die middag ná skool gaan spreek. Hy verduidelik haar verpligtinge, bespreek die werk kort en saaklik met haar en stel voor dat sy haar probleme asseblief met hom sal kom bespreek.
Gmpf! Alet snork innerlik. Sy háár probleme met hóm bespreek . . . sy bespreek dit liewer met Elias, die skoonmaker!
Tannie Grieta is baie meer behulpsaam.
“Marinda Steenkamp? Foei tog! Dit is eintlik ’n tragiese geval. Haar ma is so twee jaar gelede dood in ’n ongeluk. Haar ouma bly nou hier by hulle . . . Hulle is skatryk mense, hoor! Gerhard het die skeepsredery hier . . . maar die arme kind . . . sy is eensaam.”
Tannie Grieta gooi eers nog koffie in voordat sy haar gesprek hervat.
“Hulle bly so half buite die dorp . . . Hulle besit die enigste steenhuis in die dorp, met die gevolg dat die kind nooit juis ander maats het nie . . . en die ergste van alles . . . die ou ouma! Ag, nou ja, ek skinder nou nie . . . dit is net . . . Sy is so half . . . jy weet, so . . . dink ons is te agterlik vir haar!”
“En die Venters, tannie Grieta? Daar is vier in my klas. Een in sub B, een in standerd een en ’n tweeling in standerd twee . . . Is hulle almal broers en susters?”
“Ja, hartjie, en dit is nog nie al nie; in Louis se klas is nog twee en daar is ’n kleintjie by die huis ook.”
“Hulle . . .” Alet weet amper nie hoe om dit te stel nie. “Hulle lyk so armoedig, tannie . . . so anders as die ander kinders . . . Is . . . is hulle maar net arm of is daar ander probleme ook . . .? Die kinders is so sku, kan ’n mens nie juis in die oë kyk nie . . . Ag, tannie weet mos wat ek bedoel . . .so . . . so asof hulle baie blootgestel kan wees aan die een of ander skande . . .”
Tannie Grieta beskou haar skewekop.
“Jy weet, kind, jy is baie wyser en meer volwasse as wat ’n mens van ’n jong mens van jou jare verwag . . . om te dink dat jy in een oggend soveel kon raaksien.” Sy stryk ingedagte die lappie op die tafeltjie gelyk.
“Ja . . . hartjie . . . daardie arme vrou en kinders ly vreeslik swaar. Hul ou pa . . . hy is sommer ’n swakkeling . . . verdien ’n karige salarissie as spoorwegwerker en dié drink hy omtrent alles uit. Die arme vrou leef altyd in ’n doodse vrees as sy weet hy het geld. Hy het haar en die kinders al so geslaan dat die bure moes gaan help.”
Alet sug. Sy voel die magtelose woede in haar kriewel. Sy kan dit nie verdra om kinders te sien ly onder ouers wat nie die naam ouer werd is nie. Sy het self in ’n goeie huis vol vreugde en vrede grootgeword, met ’n oorvloed liefde en aardse skatte. Haar ouers het egter hul nederigheid behou en soos hul aardse rykdom toegeneem het, het hul lof teenoor hul Skepper net meer en meer geword.
Alet durf die middag maar weer die sanderige paadjie na die winkels aan. Sy koop koppies, ’n teepotjie en al die ander benodigdhede om van die volgende dag af ’n aantreklike koppie tee by die skool te geniet. ’n Skinkbordjie en ’n netjiese lappie voltooi die aankope.
Met die intrapslag die volgende oggend, gee sy vir Elias opdrag om net die primus aan te steek en water te kook, sy sal self die tee kom maak.
Louis sê niks daaroor nie. Daar is net ’n blink liggie van waardering in sy oë toe sy die netjiese skinkbordjie tussen hulle op die lessenaar neersit.
Hy skuif sy papiere opsy en drink rustig saam met haar tee. Hy probeer selfs om ’n gesprekkie met haar aan te knoop. “Is jy oorspronklik van die Paarl, juffrou?”
“Ja, meneer.”
“Boer jou ouers daar . . . of . . .”
“Ja, my ouers boer daar, meneer Erlank.”
Alet beantwoord sy beleefde vrae styf en kortaf. Die gesprek droog sommerso saam met die laaste bietjie tee op.
Alet som die kinders vinnig op en laat sit die “probleempies” maar voor in die klas sodat sy ’n ogie oor hulle kan hou en sy nie ’n herhaling van die eerste oggend sal hê nie. Klein Johani moet eintlik op Alet se skoot sit, as dit ’n maatstaf is.
Sy kan egter nooit regtig vir die blondekop-duiweltjie kwaad word nie. Sy is so spontaan en kan die koddigste stories op haar oumensmaniertjies opdis. Sy is voor op die wa en kan vreeslik koppig raak, maar net so vinnig van front verander, opspring en haar arms om Alet se nek slaan en haar met ’n taai druksoentjie beloon . . . party dae sommer net “omdat dit die mooiste storie is wat ek nog ooit gehoor het”.
Alet maak ’n punt daarvan om die Ventertjies nooit te laat voel dat hulle anders is as die ander kinders nie. Hulle ontdooi stadig maar seker. Dit is vir haar ’n groot geskenk elke keer wanneer een van hulle die hand spontaan opsteek om ’n vraag te beantwoord. Sy moedig hulle aan om ook spontaan te gesels. Sy voel dat sy stadig besig is om hul eie identiteit aan hulle terug te gee.
Marinda Steenkamp draai graag in die klas rond wanneer die ander kinders al huis toe is. Sodra sy en Alet alleen is, kan die pragtige kind spontaan en lekker gesels. Alet voel die kind se eensaamheid aan en nooi haar om smiddae vir haar te kom kuier en van haar pragtige prenteboeke te kom deurkyk.
Groot is haar verbasing toe Marinda omtrent twee weke later een middag aan haar deur klop. Sy het nie gedink dat die kind se ouma dit sou toelaat nie.
Marinda kuier die hele middag. Sy kwetter soos ’n voëltjie en Alet kan nie glo dat dit dieselfde ingetoë kind is wat bedags so stil soos ’n muis alleen in haar bank sit nie.
“Juffrou weet . . . my ouma sê ek moet tog nie naby die Venters sit nie . . . Sy sê hulle het dalk goggas op hul koppe en dan klim dit op my ook.”
Alet gooi eers vir hulle koeldrank in en gaan dan weer langs haar sit.
“ ’n Mens kan nie sulke dinge sê nie, Marinda. Die Venters is net arm, maar hul kleertjies is baie skoon en hul haartjies altyd skoon gewas.”
Marinda kyk met groot bruin oë na Alet, vasgevang in die erns van haar stem.
“Liewe Jesus het al die mense gemaak en Hy is vir hulle net so lief soos vir jou . . . en as ’n mens van iemand anders iets sê wat nie mooi is nie, maak jy Liewe Jesus se hartjie baie, baie seer.”
“My ouma vertel ook vir my van Liewe Jesus, maar sy het nog nie gesê dat sy hartjie sal seer word oor die Venters nie.”
“Vra vanaand vir jou ouma, sy sal vir jou vertel . . . alle mense is eenders in Liewe Jesus, vir Hom maak dit nie saak of ons arm of ryk is nie.”
Marinda blaai deur die pragtige prenteboeke, maar kom kort-kort Alet se geselskap opsoek. Alet kan sien dat die arme kind geweldig behoefte het aan geselskap. ’n Diep jammerte vir die pragtige meisietjie wat so sonder ’n ma moet grootword, wel in haar op.
Dit is knap ná vyfuur toe Marinda se pa aan die deur klop. Hy is nog jonk, seker nie veel ouer as Louis Erlank nie. ’n Netjiese, baie aantreklike jong wewenaar.
“Goeiemiddag, ek is Gerhard Steenkamp.” Hy steek sy hand na haar uit en kyk diep in haar oë.
“Aangename kennis, ek is Alet Fourie . . .” Alet probeer skaam haar hand uit syne trek, maar hy is baie onwillig om dit te los.
Alet het nie die moed om Gerhard Steenkamp te nooi vir koffie nie, al is sy omtrent negentig persent seker dat hy so ’n uitnodiging sou aanvaar het. Hier in die vreemde dorp, met ’n baie onsimpatieke skoolhoof, is sy te bang om enigiets te waag . . .
Sy sien hulle op die stoepie weg. Gerhard help sy dogter in die motor en wuif liggies vir haar tot siens. Ingedagte kyk sy hulle agterna. Gerhard se motor is die modernste en weelderigste een wat sy nog hier op Walvisbaai gesien het. Louis het ’n ou bakkie waarmee hy seker baie op die plaas rondry, want dit is vol krapmerke en het so hier en daar ’n duik.
Met ’n diep frons op sy voorkop het Louis Gerhard se motor voor Alet se huisie sien stilhou. Sonder enige gewetenswroeging gaan hy voor sy venster staan om die afskeid dop te hou. Hy sien hoe Alet met ’n vriendelike glimlag die aantreklike Gerhard toewuif. Sy gesig trek in ’n siniese plooi terwyl hy sag met homself praat.
“Ja, juffroutjie . . . as dit nie binne die eerste kwartaal is nie, dan beslis nog voor die einde van die jaar.”