Читать книгу Sarah du Pisanie Omnibus 11 - Sarah du Pisanie - Страница 11

8

Оглавление

“Peter, kom sny jy liewer die brood, Udo is besig om dit in vier te deel …” lag Christa en Udo gee sonder enige kwade gevoelens die broodmes vir Peter.

“Hoeveel van hierdie wors moet ek nog insit?” Jurgen von Brandis is besig om ’n enorme pan vol wors te rol.

“Dit is genoeg!” keer Christa. “Julle is net elf seuns, ons gaan nie die hele Duitse ryk kos gee nie!”

“Ek sal eiers bak,” bied Carel aan en Niko staan ook nader.

“Nee, nie julle twee nie,” sê Christa beslis. “Julle bly weg van alles wat breekbaar is.” Hulle trek hulle skouers gelate op soos mense wat hulle eie beperkinge ken.

“Kurt …” Christa vou die kombers stywer om sy blaaie vas. “Kry jy nie koud nie?” Hy skud sy kop ontkennend. Hy sit op ’n stoel teenaan die tafel sodat hy niks van hierdie pret misloop nie.

“Nee, Fräulein, dit is lekker hier in die kombuis … ons … ons almal so bymekaar.” Kurt klink so tevrede met die lewe.

“Ja, dit is lekker,” sê Niko en kom staan nader aan Christa. “Veral nadat die ou baron weg is.”

“Ja, en die ou Kommandant!” voeg Carel by, die verligting in sy stem duidelik hoorbaar. Christa vee oor sy hare en druk ’n soen op sy kroontjie. As hy opkyk na haar, is daar soveel liefde en verering in sy blou oë dat dit aan goddelikheid grens.

Peter Strauss, wat altyd so stil en eenkant is dat ’n mens skoon van hom vergeet, het die afgelope week sedert Frau Maria weg is, ’n gedaanteverwisseling ondergaan. Hy praat nog steeds nie veel nie, maar vang stil-stil die onmoontlikste goed aan.

Adolf het toe self vir Frau Maria tot op Swakopmund geneem. Hy het vir Bernard gesê dat hy werk het om te doen daar en so twee weke uithuisig sal wees.

Hannie, Simon se vrou, het kom uithelp met die kosmaak en Bernard en Christa het Frau Maria se ander pligte onder hulle verdeel. Bernard doen inspeksie in die seuns se slaapkamer en sy … sy het sommer alles geword: nutsman, onderwyseres, verpleegster en ma.

Hannie kook heerlike boerekos en die seuns dink sy het direk uit die hemel geval. Maar om haar ’n blaaskansie te gee, het sy vanmiddag vir Hannie afgegee en sy en die seuns maak vanaand self kos.

“Gustav, jy en Johann en Heinz moet vir ons tafel dek.” Christa gee bevele terwyl sy die plaasbotter lekker dik op die vars bruinbrood smeer.

Gustav haal die eetgerei uit die laai en moet Christa effe opsy stoot om dit by te kom. “Staan soontoe,” sê hy laggend. “Ou Mutti!” voeg hy skalks by.

Christa glimlag met hom en daar is ’n blinkerigheid in haar oë as sy skielik haar arms om hom sit om hom ’n drukkie te gee.

“Dankie, Gustav … dit is die mooiste kompliment wat ek nog gekry het,” antwoord sy opreg.

Gustav lag en sit sy hande op haar skouers. Hy hou haar ’n entjie van hom af weg. “Maar Fräulein is ons Mutti! Jy is al ma wat ons nog het.”

Daar is iets vreemds, iets ernstigs in die kombuis as die ander kinders alles los waarmee hulle besig is en stil na Gustav en Christa kyk.

“Mutti …!” Klaus rol die woordjie op sy tong. “Dit is lekker om dit weer te sê.” Daar is soveel verlange in sy ou stemmetjie dat Christa vinnig nader staan en hom ook styf teen haar vasdruk.

Almal lag en praat nou gelyk en as Christa na Kurt loer wat stil eenkant sit, is daar ’n blink traan op sy wang. “En nou, ou Kurtie …?” vra sy teer en vee die traan van sy wang af.

“As … as Fräulein almal se Mutti is … dan gaan jy nie meer vir my lief wees nie,” snik hy en snuif liggies.

“Nee man, sy sal!” Klaus vee broederlik oor Kurt se hare. “Ons is een groot familie en jy is die baba … en die baba word deur almal bederf.” Kurt glimlag tevrede en kyk na die ander, nou met ’n heeltemal nuwe lig in sy oë.

“Ons moet eintlik ’n pa ook gehad het. ’n Pa is lekker … my pa was!” sê Niko en draai vinnig om sodat die ander nie die nattigheid in sy oë moet sien nie.

“Wat van Bernard?” vra Udo en sy lippe pers opmekaar sodat sy wange uitbol. Hy kyk hulle uit die hoogte aan oor so ’n slim voorstel.

“Nee, man!” Carel skiet dié voorstel af. “Hy is te oud. Hy kan eerder die oupa wees, oupas is ook lekker!” gee hy toe.

Jurgen gaan staan kiertsregop met ’n kwaai frons op sy voorkop. “Wat van die baron?” vra hy koud en afsydig.

“Jy moet vir jou snaaks hou! ’n Mens maak nie sulke grappe nie!” Peter klap hom agter sy kop dat hy ’n paar treë vorentoe skuifel. Die ander ondersteun Peter luidkeels met allerhande aanmerkings wat glad nie vleiend teenoor die baron is nie.

Daar is ’n vreemde jammerte in Christa vir die arme eensame, verbitterde Adolf von Leipsig.

“Stefan, gaan kyk of die wors al gaar is, ons wil nie houtskool eet nie. Udo, dra asseblief die brood tafel toe. Carel, gaan haal vir ons tamaties, en Peter, kry die eiers dat ons dit gou kan bak.” Christa deel vinnig bevele uit om hierdie vreemde verlatenheid in haar binneste hok te slaan.

“Goed, Mutti!” antwoord hulle stuitig in ’n koor en so onbeplan word sy herdoop en met naam en al diep in elke seunshart gevestig.

Die week snel verby en dit is nog steeds met hierdie vreemde jammerte in haar hart vir die baron, dat sy eintlik seerkry as sy sien hoe die seuns die dae probeer verleng.

Hannie vind geleidelik haar voete en die seuns het haar behoorlik in die sak. Hulle hardloop tydig en ontydig by die kombuis in op soek na iets om te eet. Die gesprekke tussen die seuns en Hannie, wat geen Duits kan praat nie, is maar baie gebrekkig. Hulle beduie met handgebare, sodat Hannie hulle soms laggend met die vadoek by die deur uitboender, tot groot vermaak van die ander.

“Mutti, wat is ’n Apfeltorte in Afrikaans,” vra Udo terwyl hulle met wiskunde besig is.

“Ai, Udo, dink jy altyd aan kos?” lag Christa en vee oor sy hare.

Udo grinnik verleë. “Ek wil net vir Frau Hannie vra om vir ons een te maak, maar sy sal my nie verstaan nie.”

“Julle het vir Frau Hannie heeltemal in die sak,” sê sy, maar hulle kan sommer hoor dat sy niks verkeerds daarin sien nie. “Julle moet net onthou die baron is seker Maandag terug en dan sal hy wil sien dat hier nog steeds dieselfde dissipline gehandhaaf word as toe hy weg is.”

Gustav staan op en kom staan voor die klas. “Luister, ouens, ons het die baron belowe. Julle weet wat hy gesê het, dat hy Mutti sal terugstuur as hier nie dissipline is nie. As Mutti weggaan, kry ons weer iemand soos die Kommandant. As julle enige streke uithaal, sal ek self met julle afreken. Julle weet die baron gaan nooit terug op sy woord nie.”

Christa glimlag met Gustav maar daar is ’n beklemming in haar binneste. Sy het al vergeet van haar en Adolf se rusie en dit is nog glad nie uitgeklaar nie. Vandat Maria en Adolf weg is, heers hier soveel vrede dat dit amper ondenkbaar is om te dink dat alles weer gaan wees soos wat dit vroeër was.

“Mutti het nog nie vir my gesê wat is ’n Apfeltorte in Afrikaans nie,” hou Udo moedig vol wanneer Gustav gaan sit.

“Appeltert! Dit klink byna dieselfde.” Sy herhaal dit ’n paar keer en laat hulle dit agter haar aan sê.

Udo moes die boodskap mooi duidelik by Hannie gekry het want vieruur is daar twee groot appelterte by die koffie en al wat Duitsertjie is se oë blink.

“Mutti, dit is mos Vrydag.” Heinz hap eers aan ’n stuk appeltert en kou dit met genot voordat hy aangaan. “Gaan ons vanaand weer self kos maak?”

“Ja, goed,” is Christa dadelik inskiklik. Dit sal hulle laaste kans wees weer voor die baron terugkom. “Maar eers moet ons vandag ’n bietjie langer musiek oefen. Ek het julle ingeskryf vir die talentfees volgende kwartaal.”

“En as Mutti moet weggaan?” vra Johann. “Sê nou maar net dit is wat hy in hierdie tyd op Swakopmund gedoen het … dat hy ’n ander onderwyser gesoek het!” Christa weet dat hierdie gedagte hom al lankal moet hinder.

Christa wil nie eers aan die moontlikheid dink nie, veral nie nadat sy oë so sag en vriendelik was nie. “Ag, Johann, dan is julle darem al ingeoefen en kan die nuwe onderwyser net aangaan.”

Kurt se ogies rek groot en hy skuif vinnig nader aan haar. “Mutti moenie weggaan nie.” Sy lippie begin bewe.

Sy vryf oor sy hare en klink vrolik en opgewek. “Ons gaan beslis nie ’n bobbejaan agter die bult haal nie. Vat julle koppies en borde self kombuis toe, dan gaan oefen ons. Sê sommer vir Frau Hannie sy kan maar huis toe gaan, ons sal self vanaand kos maak.” Hulle moet so gou moontlik van hierdie morbiede gedagtes vergeet.

Die seuns sing en speel al hul vrese en bekommernisse, al die opgekropte energie uit hulle uit. Dit is dus ’n vrolike en uitgelate klompie kinders wat die aand in die kombuis saamdrom. Daar is ’n groot bak pasta en die seuns snuif behaaglik in die lug. Gustav en Peter maak slaai en Christa sny laggend van die stukke kleiner as dit soos ganskos lyk. Sy maak gou souskluitjies ook, want aan soetgoed kry hulle tog nooit genoeg nie.

Heinz kom met ’n beker melk die kombuis binne en hou dit na haar toe uit. Hy begin met sy mooi stem ’n vrolike Duitse drinkliedjie sing en swaai die beker melk heen en weer op die ritme daarvan. Gou sing die ander vrolik saam. Christa wat voor die stoof besig is, hou vir hulle tyd met die houtlepel. Kort-kort onderbreek sy die tydhouery om eers ’n souskluitjie om te draai.

Adolf is moeg en vuil as hy voor die deur stilhou. Oral brand lig in die huis maar niemand kom uit om hom te ontmoet nie. Iesegrimmig wonder hy of nie eers een van die bediendes die motor gehoor het nie. Dit is eers wanneer hy die voordeur oopstoot dat hy besef hoekom niemand hom gehoor het nie. ’n Vrolike, lawaaierige gesingery klink van die kombuis se kant af op en hy stap verbaas nader. Die middeldeur staan oop en hy hoor een van die seuns hard en luidrugtig lag.

“Mutti lyk soos een van die vrouens wat bier in die bierhuise bedien,” sê Stefan. Die seuns skater dit uit van die lag en dan is dit klein Kurt wat hard praat om bokant die ander gehoor te kan word. “Wys vir ons hoe dans hulle … toe, asseblief, Mutti.”

“Wag eers!” keer sy vrolik en sy klink nes een van hulle. “Die souskluitjies gaan brand!”

Adolf beweeg nader sodat hy ’n beter uitsig op die kombuis kan hê, maar nog ver genoeg sodat die donkerte hom verskans. Die seuns koek almal om haar saam voor die stoof. Die lang tafel in die kombuis is gedek. Hy kyk hoe die seuns waarderend snuif en oor haar skouer loer as sy die groot bak souskluitjies optel.

“Wys eers vir ons, toe Mutti!” ’n Paar seuns soebat gelyktydig. Christa lag en sit die bak in die oond. Sy kom vat Gustav se hande en die ander seuns maak ’n kring rondom hulle. Almal sing nou saam en klap hande.

“Kom, Gustav! Drie na hierdie kant toe en een, twee drie na hierdie kant toe.” Sy sing die woorde op die maat van die musiek. “Een, twee, drie en dan al in die rondte … al in die rondte.” Sy spring op en af en Gustav se voete volg outomaties. Vrolik dans hulle al om die lang tafel en weer terug. Haar oë blink. Gustav gooi sy kop agteroor en lag skaterend terwyl die ander uit volle bors sing.

Dit is eers as Christa uitasem tot stilstand kom dat Adolf weer van homself bewus raak. ’n Paar minute lank was hy ’n deel van die uitbundige vrolikheid! Was dit hy wat haar hande vasgevat en al om die tafel gedans het.

Hy gee vinnig pad. Hy kan nie nou hulle pret bederf met sy teenwoordigheid nie. Skielik voel hy so alleen en uitgesluit. Hy gaan haal sy tas wat hy in die voorportaal gelaat het en stap na sy kamer toe. Hy bad en trek skoon aan en draai so lank moontlik om hulle kans te gee om klaar te eet.

Hy gaan staan stil voor die venster. Hy probeer weer die haat en bitterheid van vroeër oproep, enigiets om hom weer rigting te gee. Hy kan mos nie die afgelope ses jaar net so afskud asof dit niks aan hom gedoen het nie. Kurt het destyds alles wat vir hom heilig was, gegryp en besoedel en dit toe onverskillig eenkant toe gegooi toe hy nie meer daarin belanggestel het nie. Hy probeer die seer en eensaamheid van daardie tyd onthou. Hy wíl weer die pyn en woede ervaar.

Maar alles in hom is stil en rustig. Die bitterheid in hom voel dof en ver, asof dit nooit ’n deel van hom was nie. ’n Sug ontsnap diep onder uit die donker hoeke van sy siel. Dit laat hom lig en bevry voel … amper uitbundig! Hy wens hy kon saam met haar en die kinders vrolik sing en dans.

Adolf grinnik liggies as hy aan die uitdrukking op die kinders se gesigte dink indien hy dit sou waag om so iets te doen. Snaaks genoeg, maak die gedagte seerder as wat dit snaaks is.

Uiteindelik jaag die hongerte hom terug kombuis toe. Hy gaan staan stil in die kombuisdeur. Hier het beslis ’n paar veranderinge plaasgevind vandat hy weg is. Die seuns hou mekaar se hande vas en voor haar lê ’n oop Bybel. Saam sit hulle met gebuigde hoofde terwyl sy met haar mooi stem vir hulle bid.

Adolf staan vasgevang in die heiligheid van die oomblik. Sy pas so perfek in hierdie rol, net soos in al die ander rolle waarin hy haar op die mees onverwagte oomblikke aantref.

Hulle laat los nie mekaar se hande wanneer sy klaar is nie. Haar stem is sag en eerbiedig as sy die “Onse Vader” begin sing en dan val die seunstemme harmonieus in by haar.

Hoendervel slaan knopperig op sy arms uit wanneer die suiwer stemme die donker skuilhoeke van sy siel binnedring en alles helderwit verlig. Dit vlek sy innerlike oop en dit laat hom beskaamd en verleë oor soveel bitterheid en haat.

“A-ha-ha-ha-men!” sing hulle hoog en suiwer. ’n Paar oomblikke lank is daar ’n gewyde stilte nadat die laaste note weggesterf het.

“Toe, manne, afdek en skottelgoed was. Julle weet wie se beurt dit is. Dit is ons ooreenkoms met Frau Hannie.”

Hulle lag vrolik terwyl hulle afdek en Adolf kan sommer sien dat dit nie die eerste keer is dat hulle so iets doen nie. Gustav kom met ’n stapel borde verby en dadelik verstyf hy as hy Adolf in die deur sien. Die ander voel sy teenwoordigheid ook aan en Christa kyk verbaas op.

Sy gestalte is groot en oordonderend maar tog dierbaar bekend. Haar hart klop wild en onstuimig en ’n ongekende blydskap kom skop nes in haar binneste.

Sy droog haar hande aan haar voorskoot af en stuur die kinders ongemerk na die opwaskamer toe. Adolf sien dit met ’n verlate seerkry raak. Sy is al weer bereid om namens hulle in die spervuur te wees. Hy wil iets sê om hulle gerus te stel maar kan geen woorde vind nie.

Gustav bly rondstaan ná die ander kinders verdwyn het. Hy sien natuurlik nie kans om Christa alleen in die leeuhok te los nie, som Adolf die situasie op.

“Ons … ruim alles weer op,” probeer hy ongemaklik aan Adolf verduidelik. “Frau Hannie is bly as ons die aand self kos maak. Dan kan sy ’n bietjie tyd by haar eie gesin deurbring …” Gustav stotter soos ’n vryersklong en Adolf kry hom uit sy hart uit jammer.

Adolf glimlag gerusstellend met hom en kyk dan smekend na Christa. “Ek het vandag nog niks geëet nie. Hier … hier is nie dalk iets oor nie?” vra hy vriendelik en kry skaam vir die verbaasde uitdrukking op Christa en Gustav se gesigte.

“Daar is nog, maar dit is al koud. U kan daar binne wag dan maak ek gou vir u iets anders,” stotter sy.

“Nee, dit is goed genoeg!” Adolf wag nie vir hulle om hom weer teë te gaan nie maar gaan sit by die tafel. Gustav se oë is groot soos papborde. Hy kry eerste lewe en gaan haal gou vir Adolf skoon eetgerei.

Christa skep vir hom van die orige pasta en souskluitjies in en Adolf smeer solank vir hom ’n sny brood met dik botter op, waarvan hy groot happe vat. Christa kan sien dat hy óf hierdie eenvoudige maal terdeë geniet óf dood is van die honger.

“Sit asseblief!” Adolf beduie na die stoel. “Ek kan nie so opkyk nie.”

Sy gaan sit ongemaklik eenkant en teken met haar vinger patroontjies op die tafeldoek. Uit die opwasplek is dit net die geklingel van skottelgoed wat hoorbaar is.

“Ons is klaar, Mutti … e … Fräulein. Ek sal die kinders laat bad,” rapporteer Gustav en Christa kan die verligting in sy stem hoor dat hulle uit die kombuis kan wegkom.

Daar heers ’n doodse stilte wanneer die kinders uit is en dit is net die geskraap van eetgerei wat hoorbaar is. Hy hou sy bord uit vir nog van die souskluitjies en Christa se hart swel van trots as sy sy bord weer vol skep.

“Waar is Bernard?” vra Adolf onverwags.

“Hy … e … hy voel nie gesond nie en ek het gesê hy kan maar vroeg gaan lê.” Christa ontwyk sy oë en sy besef dat sy al weer by sy reëlings ingemeng het.

“Wie kyk dan saans na die seuns?” vra Adolf en frons liggies.

“Ek gaan loer in as hulle klaar gebad het. Bernard is oud, baron,” maak sy vinnig verskoning. “Ek doen dit graag, dit is nie moeite nie.”

Hy lewer nie kommentaar daarop nie maar eet eers klaar en vee dan tydsaam sy mond met die servet af. Daar is ’n glinstering in sy oë as hy uiteindelik reageer. “Dit was baie lekker, dankie, Mutti.”

Sy loer vinnig na hom. In die verlede sou sy geweet het dat hy die aanspreekvorm nie goedkeur nie, maar vanaand is hy so anders dat sy heeltemal verward is.

“Hulle … hulle mis ’n moeder. Dit … dit kan tog nie kwaad doen nie, kan dit? Ek meen, dit is nie dat hulle dink ek is hulle moeder nie. Dit is net vir hulle lekker om die woordjie weer te kan sê. Hulle toon tog steeds die nodige respek.”

Hy kyk stil na haar en daardie snaakse, amper hartseer trek is weer in sy oë. Dit maak haar verleë en ongemaklik.

“Ek het ook nie gedink dat hulle jou nié respekteer nie. Ek … ek het eintlik niks daarmee bedoel nie,” antwoord hy en sug liggies as hy opstaan.

Sarah du Pisanie Omnibus 11

Подняться наверх