Читать книгу Sarah du Pisanie Omnibus 11 - Sarah du Pisanie - Страница 4

1

Оглавление

Net die aanhoor van die man se naam stoot die bloed dofrooi in Christa van Graan se wange op. Die vernedering van vier jaar gelede kennelik nog ’n deel van haar.

“Jy sal steeds aan my moet verslag lewer, juffrou Van Graan. Presies dieselfde reëls geld as vroeër.” Jan Oelofse se stem klink onnatuurlik geduldig en Christa kan die selftevredenheid daarin hoor.

“Dit is maar net asof een van ons klaskamers ’n entjie verder verskuif. Dis al! Jy sal gereeld jou verslae moet instuur en ons sal daar kom inspeksie hou. Ek sal self jou werk evalueer en kontroleer.” Sy stemtoon is heeltyd op een toonhoogte en dit laat haar dink aan ’n brommer wat knaend teen ’n toe ruit vasvlieg.

“Maar ek wil nie gaan nie, meneer Oelofse! Ek stel eerlikwaar nie belang nie.” Christa hark haar gedagtes soos herfsblare bymekaar en probeer iets konstruktiefs en intelligents kwytraak voordat sy in hierdie strik gevang word.

Jan Oelofse kyk haar geskok aan. “Nie gaan nie?” Hy fluister die woorde ongelowig uit. “Maar het jy nie gehoor wat ek sê nie? Baron Von Leipsig het sy versoek persóónlik aan die onderwysdepartement gerig … en hulle het in my skool die regte applikant vir die pos gekry.” Hy kan glad nie begryp dat sy die groot eer wat haar te beurt val, nie kan waardeer nie. “Die ander onderwysers sal wat wil gee vir so ’n voorreg!”

“Laat een van hulle dan gaan … asseblief, meneer Oelofse!” Christa smeek nou openlik en die groen oë raak mistig.

“Die departement het jou aanbeveel, juffrou Van Graan! Een van my onderwyseresse!” Hy stoot sy maer borsie effens uit, asof hy persoonlik daarvoor verantwoordelik is. Sy vaalbruin oë lyk onnatuurlik groot deur die dik bril. “Jy is die enigste een wat kwalifiseer vir die vereistes wat die baron stel,” gee hy onwillig die rede vir die vreeslike eer wat haar te beurt val.

“Maar … maar hoekom?” Christa hou haar skraal hande effens in die lug in ’n magtelose gebaar. Sy kyk na die besliste trek om sy mond en besef met ’n sinkende gevoel in haar binneste dat sy nooit vandag haar man teen Oelofse sal kan staan nie. Vir hom is die eer te groot! Dat een van sy onderwyseresse gekeur kon word vir so ’n fantastiese geleentheid is net te veel vir sy verwaande ego! “Kan … kan juffrou Hettie nie maar gaan nie?” wend sy ’n laaste wanhopige poging aan.

“Juffrou Van Graan, verstaan my nou mooi. Jy is Duits ten volle magtig, want jou moeder is Duits. Jy praat vlot Afrikaans want jou vader is Afrikaans.” Hy klink soos ’n pa wat iets in ’n kleuter se kop probeer kry en daar is ’n simpel, verdraagsame glimlaggie om sy mond.

“Is daar dan nie ’n Duitse onderwyser wat beter sal kwalifiseer nie? Meeste van hulle praat goed Afrikaans, veral nou, ná die oorlog, is hier tog baie Duitse onderwysers …”

Jan Oelofse sug ongeduldig. “Ek sal dit ’n laaste keer alles aan jou verduidelik. Die kinders is oorlogwesies wat van Duitsland af hier na Suidwes-Afrika toe gebring is. Hulle was almal in ’n seunskool waar hulle spesiale onderrig in musiek, veral sang, gekry het …”

Christa kyk hom met magtelose frustrasie in haar binneste aan terwyl hy steeds eentonig voortdreun.

“Die skool is heeltemal verwoes in die oorlog. Alles moet nou van die grond af opgebou word. Dit sal moontlik ’n jaar of twee neem om dit te voltooi. Intussen het baron Von Leipsig besluit om hulle hierheen te bring. Daar is ongeveer tien seuns. Hulle het almal beide hulle ouers verloor en het geen ander heenkome daar anderkant nie. Die kinders kom uit goeie huise en is finansieel goed versorg. Dit sal wreed wees om hulle in weeshuise te sit.”

Christa vee die rooibruin hare uit haar gesig en sy voel moeg en oud as sy besef dat sy geen keuse gaan hê nie.

Jan Oelofse trommel met sy vingers op die lessenaar. “Die kinders moet onderrig word in Duits maar terselfdertyd ook Afrikaans aanleer. Die belangrikste is dat hulle weer met musieklesse begin. Die skool waar hulle was, was ’n eksklusiewe privaat musiekskool. Hulle moet ten minste in klavier, viool en sang onderrig ontvang, totdat die baron verdere reëlings kan tref.”

Hy kyk na Christa se onwillige gesiggie en frons gevaarlik. “Ongelukkig is jy die enigste een in Suidwes-Afrika met hierdie kwalifikasies wat nog nie getroud is nie. Ek is baie trots op jou … baie, baie trots!” probeer hy haar paai.

Christa lig haar hande moedeloos in die lug en sug soos ’n ou vrou. As dit net nie Adolf von Leipsig was nie! Sy sou hierdie kans met albei hande aangegryp het. Dit moet heerlik wees om op ’n rustige plaas, weg van alles, net tien kinders te kan onderrig. Musiek is ’n wesenlike deel van haar, soos die lug wat sy inasem. Dit sou louter vreugde gewees het.

Die hele opset klink vir haar logies. Tien weeskinders wat reeds deur die oorlog ontwrig is, het nie nou nog ander probleme ook nodig nie. ’n Groot, rustige plaas is die beste medisyne vir ’n gewonde gees. As dit tog net nie Adolf von Leipsig was nie!

“Meneer Oelofse … dit is nie dat ek onwillig is nie … dit is net … ek sien nie kans om te gaan nie … dis om persoonlike redes …”

“Persoonlike probleme is nie die onderwysdepartement se verantwoordelikheid nie, juffrou! Ons as skool is nie so verleë oor al jou wonderlike kwalifikasies nie … moet dus nie jou hand oorspeel nie. Hierdie is ’n bevel! As jy nie hiervoor kans sien nie, het ek geen keuse as om jou te vra om te bedank nie.”

Christa kyk hom verslae aan. Sy is tog ’n baie goeie onderwyseres en het nog nooit lyf weggesteek nie. Hoe kan hy so wreed wees?

Sy stem raak meer gemoedelik en sagter. “Baron Von Leipsig het nog altyd ’n oop hand vir die gemeenskap en in besonder vir die skool gehad. Dit is die eerste keer dat hy iets van ons terugverwag. Ek vra jou dus mooi om die saak ernstig te heroorweeg.”

Christa staan op en verlatenheid sak oor haar toe. Sy kan nie bekostig om haar pos te verloor nie. Hierdie is haar wêreld … haar mense! Haar ouers boer op Gobabis en hulle is ’n groot gesin … sy kan nie ook nog by die huis gaan sit nie. Hulle het almal so hard gehelp om haar hierdie geleentheid te gee om te gaan studeer … sy kan dit nie aan hulle doen nie.

Sy knik gelate haar kop en kyk voor haar op die grond sodat hy nie die trane in haar oë moet sien nie.

Oelofse sug sag van verligting. “Ek is bly dat jy ons situasie insien, juffrou Van Graan. Jou salaris sal omtrent verdubbel en inwoning op die plaas is gratis. Tydens skoolvakansies het jy natuurlik verlof, tensy die baron ander reëlings met jou tref. Hy sal jou natuurlik addisioneel daarvoor vergoed.”

Christa kyk hom moedeloos aan. Dit gaan nie help om verder met hom te probeer redeneer nie. Ongelukkig is sy die enigste een met die vereiste kwalifikasies en hulle het die baron ’n onderwyseres belowe! Sy is seker daarvan hulle sal haar op die plaas kry, al moet hulle haar ook vasketting en in ’n possak op die trein laai. Sy draai om en wil uitloop, maar hy keer haar vinnig.

“Juffrou … die baron verwag jou Maandag op die plaas. Die kinders het al gedurende die Desembervakansie aangekom en die baron wil hê hul onderrig moet saam met die gewone skole begin.”

Sy lek oor haar droë lippe. Binne-in haar is daar ’n yskoue woede. Sy het lus en gooi die inkpot oor sy kop uit. Die kruiperige ou ding! dink sy vies.

Oelofse hou ’n koevert na haar uit. “Die treinkaartjie en ’n ekstra maand se salaris indien daar dalk goedjies is wat jy wil koop voordat jy gaan. Jy … e … jy moet onthou, daar is nie ’n winkel naby nie.”

Hy ontwyk die onstuimige oë. “Die trein vertrek Sondagaand en die mense van Ruigte sal jou Maandagoggend op die halte, Friederichsfelde, kry.”

Die frustrasie vou versmorend om haar toe. Alles word eenvoudig vir haar gereël, sonder dat sy enige sê in die saak het. Sy is net ’n stuk toerusting om die baron se masjiene glad te laat loop. Sy vat die koevert vinnig en stap by die deur uit.

In haar klaskamer gaan sit sy by die lessenaar en sukkel om hierdie ongetemde gevoelens tot bedaring te bring. Von Leipsig! Die klank van die woord teister haar en bring weer al die nare emosies na vore. Sy laat sak haar kop in haar hande. Die rooibruin hare is effens deurmekaar en pas by die wilde onstuimigheid in haar binneste.

Stadig bedaar die ergste opstandigheid. Sy is darem ook nie heeltemal redelik teenoor ou Oelofse nie. Hy weet nie van haar ontmoeting destyds met die baron nie.

Christa lig haar kop en kyk met oë wat niks raaksien nie deur die venster. Sy orden doelbewus haar gedagtes.

Die Von Leipsigs is so deel van Swakopmund soos die see en die woestyn. Vandat sy kan onthou, het hulle sekere tye van die jaar vanuit Duitsland kom besoek aflê om na hul sakebelange om te sien. Hulle huis is ’n pragtige, imposante woning aan die kant van die dorp en is in ’n ou Duitse styl gebou met houtpanele en torinkies.

Die meeste van die besighede op Swakopmund behoort aan hulle of hulle het daar ’n groot aandeel in. Onder meer behoort die skeepsredery aan hulle en volgens gerugte het hulle ’n reuse-aandeel in die diamantbedryf te Lüderitzbuch.

Sy het as kind hier op Swakopmund skoolgegaan en het ou baron Von Leipsig net een of twee keer gesien. Hy was ’n waardige ou heer, met vlaswit hare en helderblou oë. Die familie was soos koninklikes! As hulle in die dorp was, het almal op aandag gestaan gereed om hulle te bedien, want die meeste dorpenaars was op die een of ander manier van hulle afhanklik.

Sy het egter nie die ander mense se bewondering gedeel nie. So min het sy belanggestel, dat sy nie eens geweet het dat daar nog twee seuns in die Von Leipsig-familie was nie.

Christa besef dat sy hierdie kanker in haar sal moet uitsny en sy draai doelbewus haar gedagtes terug … na vier jaar gelede. Dit was Junie … Junie 1941. In Europa het daar ’n oorlog gewoed. Vir hulle hier was dit ver en onwerklik. Soms was daar op Walvisbaai, hul buurdorp, bote geanker met soldate in vreemde uniforms wat hulle daaraan herinner het.

Haar ontmoeting met Kurt von Leipsig speel weer voor haar geestesoog af. Die oostewind het met brute geweld gewaai en sy het kop onderstebo aangedraf winkel toe. Tot sy trompop in die aantreklike Duitse offisier vasgeloop het.

Hy het haar val laggend gekeer en sy hande was warm en stewig op haar skouerknoppe. Hy het sy arm om haar skouers geslaan en met haar by die naaste winkel ingehardloop.

Sy blou oë was helder en vol pret. Vir die eerste keer in haar lewe was sy innig dankbaar dat sy Duits vlot kon praat.

Dit was die eerste van ’n hele paar ontmoetings. Hy moes van die een skip na ’n ander oorklim en was dus ’n maand lank op Swakopmund. Dit was egter eers na die derde ontmoeting dat sy besef het hy is ’n Von Leipsig.

Sy was aangetrokke tot hom ongeag die feit dat sy geweet het hy is soos ’n skip wat in haar lewe verbyvaar. Sy ervaar sommer weer die hartseer en verlange wat haar bekruip het toe die naderende afskeid ’n werklikheid begin word het. Sy skip was al in die hawe en hy sou oor twee dae vertrek.

Hy was so opreg! Daar was ’n teerheid en sagtheid in sy hande en oë wanneer hy met haar gepraat en aan haar geruik het. Hulle het die aand ver langs die see gaan stap en op die ingewing van die oomblik het Kurt haar gevra om saam met hom huis toe te gaan.

Agterna het sy dikwels gewonder hoekom hy dit gedoen het. Was hy onder die indruk dat hulle alleen sou wees? Sy het toe darem al geweet dat sy broer die ou baron Von Leipsig se plek op Swakopmund ingeneem het. Hy was juis op daardie tydstip weer hier om te kom sien of die Von Leipsig-skatte nog veilig was.

Sy het teëgestribbel. “Kan ons nie maar liewer na ’n restaurant of my kamer gaan nie? Ek … ek sal ontuis voel, ek ken nie jou broer nie!”

Kurt het net gelag en haar arm gevat. “Ou Adolf is nie by die huis nie. Hy moet vanaand een van sy vele verpligtinge nakom. Ek weet nie wat nie, maar dit sal tot laat aanhou.”

Miskien was dit blote nuuskierigheid om die pragtige ou huis van binne te sien wat haar laat instem het.

Die huis was binne nog mooier as van buite. Persiese matte en marmerbeelde. Koperbakke en handgeweefde muurbehangsels het haar soos ’n kleuter oopmond daarna laat staar.

Kurt was galant en tuis in al hierdie weelde, en haar hart het swaar geklop van verliefdheid. ’n Verliefdheid wat nooit enige bestaansreg gehad het nie. Kurt was vriendelik en sjarmant, maar hy het nooit laat blyk dat hy enigsins iets méér verwag as net ’n doodgewone vriendskap nie.

Hulle het koffie gedrink en iewers het sagte musiek gespeel. Kurt het soos ’n heer voor haar gebuig en sy het in sy arms ingeskuif en op die hartseer melodie het hulle twee alleen in die groot sitkamer gedans. Die vertrek was verlig met kerse wat in die een hoek gebrand het en die hele atmosfeer was romanties en idillies.

Skielik was alles helder verlig. Sy moes haar oë ’n paar keer knip voordat sy besef het iemand het die vertrek se hooflig aangeskakel.

Adolf von Leipsig het soos die god van Wraak in die deur gestaan met sy arms streng oor sy bors gevou, sy stem kil en veroordelend.

“Wat dink jy doen jy?” het hy die woorde kortaf uitgespoeg. Kurt se kop het regop geruk en hy het Adolf uitdagend probeer aankyk, maar Christa was reg langs hom en kon die onsekerheid en vrees in sy oë sien.

“Uit!” Hy het met sy hand na die voordeur beduie. “Hierdie is nie ’n plek vir jou en jou soort meisies nie!” Hy het hulle vreesloos en afkeurend aangestaar.

Kurt het haar trui wat op die bank gelê het, opgetel, en oor haar skouers gehang. “Kom, Schätzchen!” Het hy gesê sonder om sy broer te antwoord.

Christa het geskok na Kurt en toe na Adolf gekyk. Hoe kon hy toelaat dat sy eie broer so met hom praat, sonder dat hy homself of vir haar verdedig, het sy gewonder. Sy het onbegrypend na Adolf gestaar toe sy saam met Kurt uitstap.

Adolf se hand het onverwags soos ’n klamp om haar arm gevou. “Ons moet mekaar mooi verstaan op hierdie punt, juffrou! Julle soort is baie gou om julle te laat verlei sodat julle later met eise by die Von Leipsigs kan opdaag. Daardie stroompie het nou opgedroog! As jy jou nie kan gedra nie, gaan die Von Leipsigs nie daarvoor betaal nie.” Sy woorde was sissend van walging.

Christa se oë het geblits en sy het haar vierkantig voor hom ingeplant.

“Maak ’n nota in jou dik kop … baron Von Leipsig!” Haar stem was yskoud van woede. “My naam is Christa van Graan! Ek het niks … ek herhaal, niks van jou of enige ander Von Leipsig nodig nie.”

Kurt het haar aan die arm gevat en haar behoorlik by die deur uitgesleep. Hy het in stilte saam met haar gestap tot by haar kamer en geen woord van verduideliking of verskoning geuiter nie. Christa weet tot vandag toe nie of dit jammerte of teleurstelling was wat haar so absoluut platgeslaan het nie.

Kurt het sy arms om haar gesit en haar innig gesoen en styf teen hom vasgedruk voordat hy stil omgedraai en weggestap het.

Daardie aand het daar egter ’n bitter woede en haat teenoor Adolf von Leipsig in haar hart kom lê. As sy net sy naam hoor of hom iewers op ’n afstand sien, het dit kolkend na die oppervlak gedring.

Adolf is kort na Kurt ook weg uit Swakopmund en het net met tussenposes kom besoek aflê. Sedertdien het sy hard probeer om hom uit haar gedagtes te dwing.

Christa kom stadig na die hede terug. Adolf von Leipsig sal haar onmoontlik herken. Hy sal nooit eens haar naam onthou nie. Sy weet net nie hoe sy die veragting wat sy teenoor hom voel, gaan wegsteek nie. Dit sal sommer op haar hele gesig geskryf staan.

Sy druk haar hande teen haar gloeiende wange as die vernedering weer soos ’n vloedgolf deur haar vloei. Dat hy dit werklik van haar kon dink en dit nog so blatant in haar gesig vir haar kon uitspel? Dat Kurt kon omdraai en niks sê nie …

Sy sug en staan soos ’n ou vrou op. Die Von Leipsigs is gode in hul eie oë … ’n ander se gevoelens en lewe het vir hulle geen betekenis nie.

Sarah du Pisanie Omnibus 11

Подняться наверх