Читать книгу Sarah du Pisanie Omnibus 11 - Sarah du Pisanie - Страница 12

9

Оглавление

“Fräulein …?” Bernard staan in die deur. “Die baron wil jou in sy studeerkamer spreek.”

Christa kyk verbaas na Bernard en trek haar wenkbroue vraend op. Aan die uitdrukking op sy gesig kan sy sien hy is net so in die duister soos sy.

“Maar dit is al halfnege?” Christa staan op en trek haar rok reg en kam haar hare.

“Ek weet, Fräulein, maar hy kry darem ook nie gedurende die dag tyd om iets met jou te bespreek nie. Jy is die hele dag met die kinders besig.” Bernard voel dat hulle darem regverdig teenoor Adolf moet wees.

Haar hart klop wild as sy met die gang afstap. Sy is deesdae nes ’n bakvissie as hy in die nabyheid is. Haar lippe is droog en haar hart spring in haar keel en sy sien allerhande vergesigte as hy met daardie ernstige blou oë na haar kyk. Deesdae wil sy haar verbeel dat sy oë ’n teerheid uitstraal en dat hy ook glad nie meer so kwaai is met die kinders nie. Sy het hom al betrap dat hy half verlangend na die kinders staar … asof hy graag met hulle wil vriende wees, maar sy besef dat dit sommer haar hart is wat parte met haar speel.

Maar hy is beslis anders deesdae. Sy kan dit nie meer aan haarself ontken nie. Die eerste aand ná hy teruggekom het, het hulle soos gewoonlik in die eetkamer geëet. Toe hy klaar gedank het, het die kinders egter bly sit asof hulle dit vooraf afgespreek het. Hulle het smekend na haar gekyk. Sy weet dit gaan nie net oor die stukkie uit die Bybel wat sy voorlees nie, maar ook die lekker samehorigheid en om saam te kan sing.

Adolf het vraend na die kinders en toe na haar gekyk. Christa het bloedrooi gebloos en saggies in Gustav se oor gefluister: “Ek sal vir julle in die kamer kom lees.”

Gustav het vinnig na die ander gekyk en toe die moed bymekaar geskraap en na Adolf gedraai. “Sal baron omgee as Mutti vir ons aandgodsdiens hou?” Hy het dadelik weer voor hom op die tafel gekyk en hom voorberei om nee as antwoord te hoor.

Adolf het sy kop onbegrypend geskud omdat dit soveel moed moes verg om hom so ’n eenvoudige ding te vra. “Nee, glad nie, doen dit gerus,” het hy vriendelik ingestem en na Christa gekyk.

Toe Gustav die Bybel voor haar wou neersit, het sy dit vinnig in sy hande teruggedruk en gesê: “Gee dit vir die baron. Hy is die hoof van hierdie familie.” Sy het veiligheidshalwe nie in sy rigting gekyk nie. Adolf was beslis ongemaklik en het eers stotterend begin lees totdat die woorde tot hom deurgedring en dit bekend op sy tong kom lê het. Sy mooi stem het rustig op almal ingewerk. Toe hy klaar is, het hy ’n kort maar opregte gebed gebid en toe half skaam vir hulle gegrinnik. “Sing kan ek nie … een van julle sal dit moet insit. Mutti?” het hy tergend na haar kant toe gevra.

Die loflied in haar hart was op haar lippe. Teen die tweede versie het hy ook ingeval. Effe van die noot af, maar dit het heerlik saamgevloei en hulle tot ’n eenheid gebind.

Sy het onderlangs na hulle gekyk … haar twaalf manne! Die vreemde gedagte het trots in haar binneste nesgeskop en haar die laaste akkoorde laat uitjubel.

Voor die studeerkamerdeur vee sy die klammigheid van haar hande aan haar heupe af. Die senuweeagtigheid is weer terug in haar knieë as sy op sy bevel die deur oopstoot.

Hy is nie agter sy lessenaar nie en haar oë soek deur die vertrek. Hy sit op die rusbank en voor hom op die koffietafel is ’n skinkbord met ’n pot koffie en twee koppies.

“Kom sit … kom drink saam met my koffie.” Hy lig hom effens op totdat sy sit en beduie na die skinkbord. “Sal jy vir ons inskink?” Haar hande bewe liggies as sy syne vir hom aangee.

“U wou my sien, baron,” sê sy en wens haarself geluk dat haar stem so normaal klink.

“Wel, ja … eintlik is ek vreeslik verleë.” Sy kyk vraend na hom en sien dat hy werklik verleë is, selfs skaam.

“Ek voel gemeen om so iets van jou te vra. Jy doen alreeds tien mense se werk. Jy … jy kan nie dalk tik nie?”

Christa glimlag breed en die groen oë vonkel ondeund. “Ja, toevallig kan ek. Ek is seker ’n bietjie verroes. Wil u hê ek moet vir u ’n brief tik?”

“Dit is eintlik meer as ’n brief. Dit is ’n verslag en dit is taamlik lank,” verduidelik hy skugter.

“Ek sal dit met graagte doen,” bied sy aan, en hoekom daar so ’n skielike opgewondenheid in haar binneste is, kan sy nie verklaar nie.

“Gaan dit nie te veel vir jou wees nie? Jy is dan nog saans besig met die seuns ook,” vra hy.

“Nee wat, ek gaan loer net so halftien by hulle in om seker te maak hulle is in die bed en dat hulle ligte af is.”

“Dit kan ek doen,” bied hy joviaal aan. Christa wil protesteer want die seuns sal niks daarvan hou as hy hulle moet kom nagsê nie. Sy glimlag stilletjies. Dit het sommer vanself so gekom dat sy hulle saans almal nag soen. Maar sy swyg liewer wyslik. Hy lyk deesdae dikwels soos ’n hondjie wat verwag om getroetel te word en dan ’n skop op die maag kry.

“Wil u hê ek moet sommer nou begin?” vra sy en hoop van harte dat dit dringende werk is. Dit is baie, baie lekker om so naby aan hom te wees in die intieme atmosfeer van die studeerkamer.

“Is dit nie nou al te laat nie?”

Christa hoor egter die hoop en verwagting in sy stem. “Nee, wat, glad nie. Ek gaan slaap nie voor elfuur nie. Dit is maar eensaam so sonder geselskap,” sê sy sonder om te dink en bloos bloedrooi as hy instemmend knik.

“Ja … ja, ek weet wat jy bedoel,” sê hy met ’n skewe laggie.

Christa ervaar skielik ’n begeerte om hom, soos die seuns, vas te hou en ’n soentjie op sy voorkop te druk. Hy lyk so eensaam en alleen. Sy het darem die seuns om mee te gesels, maar niemand soek hom ooit op nie.

Adolf redeneer nie verder nie en aanvaar dankbaar haar aanbod. Hy gaan haal ’n pak papiere en wys haar waar die tikmasjien is. Dit is ellelange verslae oor al hul besighede in Suidwes-Afrika en Christa sug van verligting as sy dadelik besef dat dit weke se werk is.

Haar vingers is maar stram aan die begin maar algaande gaan dit beter. Sy raak heeltemal verdiep in die werk en is net vaagweg van Adolf hier skuins agter haar bewus.

Halftien staan Adolf op. “Wat moet ek alles doen? Moet ek net kyk of hulle almal in die bed is en die lig afsit?”

Christa kyk glimlaggend op na hom en dit maak iets teers in hom wakker … iets wat hy gedink het nie meer in sy lewe bestaan nie.

“Vra vir Kurtie of hy by die toilet was en vir Udo of hy sy tande geborsel het,” sê sy met ’n ondeunde vonkel in haar oë. Hy grinnik en stap uit. Christa druk met haar hand op haar bors. Sy is bang haar hart spring by haar keel uit. Dit was so ’n natuurlike gesprek, soos tussen ou vriende, dink sy.

Sy onderdruk die vreemde opgewondenheid in haar met mening. Hy weet wie sy is en dink niks van haar nie … hoe op aarde sy so simpel kon wees om op hom te gaan staan en verlief raak, kan sy glad nie verstaan nie. Dit is iets wat sy wortels en tak sal moet uitroei voordat dit saadskiet, besluit sy vasbeslote.

As Adolf terugkom, is daar weer daardie ondeunde vonkel in sy oë. “Kurt was by die toilet maar Udo het nie sy tande geborsel nie.” Christa grinnik en knik terwyl haar vingers steeds oor die toetse gly.

“Ek … e … ek dink jy moet maar gaan inloer. Hulle is nou heeltemal ontwrig omdat jy nie daar was nie. Hulle dink seker ek het jou ’n pak slae gegee of weggejaag …” Sy hoor weer die vreemde hartseer in sy stem, maar die ongeloof oor sy woorde oorheers haar rasionele denke. Sy staan dus vinnig op en stap by die deur uit sodat sy hom nie oopmond sal aangaap nie.

’n Mens sal dink sy is uit die dode opgewek so bly is die kinders om haar te sien. Hulle kom drom om haar saam en almal praat gelyk, en Christa weet dat nie een van hulle die moed gehad het om Adolf te vra waar sy is nie.

Sy verduidelik vinnig en hulle gaan kruip tevrede terug in die bed. Daar is egter ’n groot dankbaarheid in haar hart. Hulle het net tyd nodig. Hy sal nog die kinders se liefde wen. Dit was net hy wat sy houding moes verander. Sy moet meer moeite doen om hom en die kinders bymekaar uit te bring, besluit sy.

Hulle werk in stilte voort tot amper elfuur maar dan staan Adolf beslis op. “Jy moet gaan slaap … Mutti!”

Christa bloos bloedrooi. “Ek kan nog ’n rukkie aangaan. Ek gee nie om nie.”

“Ja, maar ek gee om. Ek kan nie bekostig dat jy môre vaal en vaak lyk nie. Daardie klomp manne van jou het niks nodig om jou om hulle pinkie te draai nie. Hulle sal toeslaan sodra hulle sien dat jy moeg en afgerem is.” Sy weet hy terg haar en haar hart klop swaar aan hierdie ongevraagde liefde wat haar so stil-stil bekruip het.

Christa kan die volgende dag nie wag dat dit moet aand word sodat sy weer saam met hom in die studeerkamer kan gaan werk nie.

Hulle werk stil-stil saam en op die kop halftien staan hy op en stap uit. Wanneer hy terugkom, is daar ’n skewe glimlaggie om sy mond en die blou oë dans van ondeundheid.

“Udo se tande is geborsel, maar Kurt was nie by die toilet nie. Gustav het toestemming gevra om nog te leer in die klaskamer.”

Christa glimlag en kan aan niks dink om te sê nie. As hy haar met daardie mooi blou oë van hom aankyk, slaan haar hart skoon bollemakiesie.

“Ek het hom toestemming gegee. Is dit reg so?” vra hy. Sy knik en die kuiltjie in haar wang laat haar jonk en onskuldig lyk.

Die week vlieg verby en die kinders is tog kriewelrig omdat sy nie meer saans vir hulle kom nag sê nie. Vanaand is dit Vrydagaand en dan mag hulle ’n bietjie later opbly. Die kinders loer afwagtend na haar en Hannie. Sy weet hulle wil weer self kos maak vanaand.

Sy skraap dus al haar moed bymekaar. Sy sal Adolf vra of hulle nie maar vanaand iets saam met die kinders kan doen nie. Net na middagete gaan klop sy aan sy deur. Hy kyk op en daar is sowaar ’n bly liggie in sy oë as hy haar in die deur sien staan.

“Baron … ek wil vir u ’n guns vra. Dit is Vrydag.”

Sy gesig val effens maar dadelik glimlag hy bemoedigend. “Nee, dit is alles in die haak, jy hoef nie vanaand te kom tik nie.”

“Dit is nie dít nie, baron. Dit is die seuns! Hier is nie ander afleiding vir hulle nie. Kan … kan ons nie vanaand iets doen wat hulle kan besig hou nie? Speletjies of … of ’n konsert? En … mag ons maar vanaand weer self kos maak. Hulle geniet dit so en dan kan Hannie ook tyd met haar gesin deurbring.” Sy rammel alles af voordat haar moed haar weer begewe.

Hy frons liggies en dadelik is die senuweeagtigheid terug in Christa se binneste. Sy frommel die sakdoekie in haar hande op. “As … as u nie wil nie, dan is dit reg.” Sy draai om en wil uitgaan, maar hy staan vinnig op en loop om die lessenaar.

“Moet nie altyd maak asof ek julle alles misgun nie!” Hy klink vies en Christa kyk verbaas na hom. “Natuurlik kan julle self kos maak. Ek wil net nie hê ons moet jou so oorlaai nie. Ek kan nog personeel aanstel.”

“Nee!” Christa keer vinnig. “Dit … dit is glad nie moeite nie. Ons geniet dit! Veral die seuns, hulle help so fluks.”

“Ja, ek het gesien, die aand toe ek van Swakopmund af teruggekom het. Hulle was so vrolik en uitbundig.” Daar is ’n verlange in sy stem wat sy nie kan ignoreer nie.

Christa verloor skielik al haar vrees vir hom en sit haar hand ingedagte op sy arm. “Hulle is skaam vir jou, dis al. Hulle bars skoon uit hulle nate uit … en dit is goed vir ’n kind.”

“Ja, ek het dit ook opgemerk. Ek was daar voordat julle begin eet het … toe julle gedans het. Ek wou nie julle pret bederf nie … ek het toe maar eers gaan bad.”

Christa het lus om te huil. Die arme, eensame mens wat met sy hartseer en haat almal in sy lewe verstoot het en nou nie weet hoe om toenadering te soek nie.

Sy glimlag met hom. “Dan maak ons dit ’n vaste reëling. Elke Vrydag- en Saterdagaand. Dan kan Hannie daardie aande afkry.” Sy draai vinnig om sodat hy nie die trane in haar oë moet sien nie en stap weg. Adolf kyk haar stil met ’n half verwarde uitdrukking op sy gesig agterna.

Hannie soen sommer vir Christa wanneer sy vir haar van die nuwe reëlings kom vertel. “Ag, dankie, Christa, kind. Daar is ’n hoendergereg wat jy net in die oond kan steek. In die spens is appelterte vir die kinders.” Sy haal haar voorskoot af en stap agterdeur toe.

“Jy bederf die kinders, Hannie!” Christa probeer kwaai klink, maar Hannie kan die goedkeuring in haar stem hoor.

“Hulle is so dierbaar! Arme ou Udo’tjie is altyd honger!” verweer sy haar met ’n laggie.

Christa gaan roep die seuns bymekaar. Party studeer en die ander oefen in die musiekkamer. “Ons gaan vanaand konsert hou! Gustav, jy moet alles reël. Ná ete in die sitkamer.” Die kinders koek om haar saam. Hulle lag en beraam planne en die opgewondenheid is tasbaar in die lug.

“Ons maak weer self kos ook.” Christa lag as die kinders hardop juig. “Ons mag nou elke Vrydag- en Saterdagaand self kos maak.”

Die kinders se uitgelatenheid in die kombuis is dié aand effe meer gedemp maar niks minder intens nie. Niemand verwag dat Adolf homself so sal verneder om ’n deel van hierdie pret te wil wees nie.

Peter, wat die room vir die appelterte moet klop, smeer ’n streep room op Klaus se bolip sodat dit soos ’n yslike dik wit snor lyk.

“Peter!” raas Christa. “Jy is so stil en jy doen die meeste kattekwaad!” Peter klop egter ywerig aan die room asof dit nie met hom is wat daar geraas word nie. Klaus vee die room met sy vinger af en lek dit met ’n klap van sy lippe af.

“Is julle klaar tafel gedek?” vra Christa oor haar skouer. Heinz skud die groot tafeldoek uit en hou dit oop soos ’n bulvegter se mantel en Carel laat hom nie twee keer nooi nie. Hy storm in die oop tafeldoek in, met sy hande soos horings teen sy kop.

“Carel en Niko!” raas Christa.

“Wat maak ek?” vra Niko onskuldig hier agter haar.

Christa loer eers weer vinnig oor haar skouer en lag dan. “As Carel kwaad doen, is jy gewoonlik ook by.” Niko neem geen aanstoot nie, skuif net nader aan haar en loer in die kastrol terwyl hy behaaglik in die lug snuif.

Adolf staan doodstil in die deur. Hy wil ook deel van hierdie plesier wees. Hulle lyk so gesellig en huislik, so gelukkig bymekaar dat dit hier binne-in hom dofweg pyn.

“Mutti, kan ek die bak uitlek?” Klaus het die bak waarin die room geklop was, gekonfiskeer.

“Nee, die bak is myne …” kla Kurt.

“Vir wat?” Klaus hou die bak buite Kurt se bereik.

“Ag, Klausie, gee maar vir hom die bak, hy is tog klein …” sê Christa, maar toe sy opkyk, sien sy die selfvoldane uitdrukking op Kurt se gesig, wat haar vinnig van besluit laat verander. “Sit die bak op die tafel neer dan kan al twee van julle dit uitlek.”

Bernard kom by die agterdeur in en Adolf wat nog steeds diep in die skemerte staan, verstom hom aan die vrypostigheid waarmee die kinders hom bejeën. “Jy kon mos maar die aand afgevat het, Bernard,” sê Christa. “Ons het mos vir jou gesê ons maak vanaand self kos. Ons eet sommer in die kombuis.”

“Ja, die kinders het vir my gesê, maar die baron sal tog nie hier eet nie. Ek sal hom daar binne moet bedien.”

Christa kyk vinnig na Bernard. Adolf kan aan die uitdrukking op haar gesig sien dat sy nooit daaraan gedink het nie en dit vlei hom in ’n mate. “Ek sal hom gaan vra of hy nie saam met ons hier wil eet nie. Gaan rus jy maar, Bernard. Hoe voel die ou been?”

“Seer, Christa, kind, baie seer! Die rumatiek vreet my nou op,” kla hy somber.

Die seuns kom drom om hom saam en Gustav vryf Bernard tussen sy blaaie waar die ou spiere knopperig saamtrek. Heinz kom vat die eetgerei uit Bernard se hande uit. “Ek sal gou vir die baron binne gaan dek. Ons sal hom sommer self bedien.”

“Gmf!” snork Bernard verontwaardig. “Sal ek nou een van julle daarmee vertrou? Julle is glads te onmoontlik!”

“Haai, Bernard!” protesteer hulle luidkeels en kastig vreeslik verontwaardig.

Adolf stoot die deur wyer oop en kom in. Daar is ’n warm gevoel in sy binneste. Sy het aangebied om hom te vra om saam met hulle te eet, juig sy hart.

“Is ek betyds vir ete? Ek weet nie presies hoe laat word etes in die kombuis voorgesit nie,” sê hy sedig.

Christa se hart gaan so wild te kere dat sy nie eers aan iets kan dink om te sê nie. Sy het lus en soen vir Stefan as hy heel natuurlik reageer. “Ons gaan nou eet, baron. Maar ’n ou moet skottelgoed was as jy hier binne wil eet.”

Adolf kyk eers verbaas na die kind en dan gooi hy sy kop agteroor en lag skaterend. Christa en die ander kinders kyk half verdwaas na hom en dan begin hulle rukkerig saamlag.

Heinz gaan dek nog ’n plek en Bernard vryf aan sy seer skouer. “Wel, baie dankie … dan gaan lê ek maar weer,” groet hy en stap mank-mank deur toe.

“Ons sal vir jou kos bring, Bernard,” bied Stefan besorg aan en Jurgen knik instemmend. Adolf kyk na die liefdevolle hande wat vir Bernard tot by die deur help. Hulle is werklik dierbare kinders. Dit word vir hom elke dag duideliker dat ou Bernard op sy eie manier vir ’n lang, lang tyd hulle enigste anker was.

Christa beland langs Adolf waar hy aan die kop van die tafel inskuif en na sy hartlike lagbui is dit asof die kinders ook minder gespanne is. Goeie maniere is so ’n deel van hierdie kinders se opvoeding dat nie een van hulle dit eers oorweeg om luidrugtig of lawaaierig te wees nie. Dit word dus net ’n heerlike, ontspanne ete.

Udo hou sy bord vir die derde keer uit vir nog ’n stukkie appeltert. Christa maak hierdie porsie kleiner en vryf liefderik oor sy wang. Adolf hou ewe astrant sy bord ook uit vir nog ’n stukkie en knipoog ondeund vir Udo as sy porsie groter is.

“Baron hoef nie regtig skottelgoed te was nie,” sê Klaus as hulle opstaan. “Ons sal self was. Mutti kan ook maar daar binne gaan sit.”

Gustav gooi die koffiekan wat op die klaargedekte skinkbordjie staan, vol, en hou die skinkbord na Adolf uit. Hy neem dit by hom asof hy dit elke dag doen en glimlag vir Christa. “Nou toe, kom. ’n Mens kry nie elke dag so ’n aanbod nie.” Hy staan terug sodat sy eerste by die deur kan uitgaan. Christa voel of sy op ’n sagte wit wolk loop. Die geluk in haar word so oorweldigend dat dit haar hele wese vul.

Die kinders borrel oor van opgewondenheid oor die konsert en Christa lig vir Adolf oor die res van die aand se program in as hulle die sitkamer binnestap. Hy knik tevrede, sit die skinkbord neer en gaan sit diep agteroor in ’n gemakstoel, soos ’n ou getroude man, en wag dat sy hom moet bedien.

Die seuns was die skottelgoed in ’n rekordtyd en dit is skaars ’n halfuur later dat hulle, almal netjies aangetrek met platgekamde hare, by die sitkamer inkom.

Adolf sit diep beïndruk en luister na hul suiwer stemme en die meesterlike vertolkings van hul musiekstukke op klavier en viool. Hulle is voorwaar geseënd met buitengewone talent, besef hy. Geen wonder sy pa het soveel moeite gedoen om die skool aan die gang te hou nie.

Dan staan klein Kurt ewe kordaat op en kom staan met Klaus se viool voor Adolf. Hy buig galant soos die ander gemaak het en sit die viool onder sy ken en tel die strykstok op.

Christa se gesig straal van verbasing en Adolf sien hoe die seuns dit geniet. Hy speel sy kort stukkie suiwer en korrek en Christa klap ywerig hande. Wanneer hy by haar verbystap, druk sy hom styf teen haar vas. “Waar het jy dit geleer?” vra sy opreg verras en die ander seuns lag heerlik.

“Johann het hom geleer, Mutti,” sê Peter. “Ons wou jou verras en … die konsert vanaand was die ideale geleentheid!”

“Dit was pragtig! Julle almal was wonderlik!” sê Christa trots. “Kom ons sing vir die baron nog van julle liedere,” nooi Christa om die aand ’n bietjie uit te rek. Sy laat hulle sommer alles wat hulle ken, sing as sy sien dat Adolf dit werklik geniet.

Sy sug tevrede as hulle klaar is en Gustav die kinders badkamer toe jaag. “Dit was pragtig, Gustav. Kom kombuis toe sodra julle klaar gebad is. Ek maak vir julle warmsjokolade.”

Adolf staan op en stap saam met haar kombuis toe, asof dit so hoort. Haar hande is klam en bewerig oor sy nabyheid. Sy troetel dit diep in haar hart as een van haar kosbaarste kleinode.

Hy gaan sit eenkant op die tafel en hou al haar bewegings dop en dit maak haar lomp en senuweeagtig. Sy gaan staan by die melk sodat dit nie moet oorkook nie, maar ook om liewer so ver moontlik van hom af weg te kom.

Wanneer sy die bekers uithaal en op die tafel uitpak, hou sy een in haar hand op. “Wil u ook hê?”

Hy knik. “My naam is Adolf. Dit … dit voel so verkeerd as julle altyd vir my sê baron. Die seuns noem jou Mutti! Is dit omdat julle bang is vir my?” vra hy, maar sy kan hoor hy terg haar.

“Ek … ek sal nie sê bang nie. Die seuns het meer respek vir jou as vir my,” antwoord sy sonder om op te kyk.

“Dalk is hulle liewer vir jou!” Sy kyk vinnig op en sien die glimlag om sy mond en weet dat hy haar wil uitlok om iets te sê. Hy vang haar hand en trek haar nader sodat sy voor hom staan. “Ek is ’n nare mens, nè, Christa? Ek sal nooit julle liefde kan wen nie. Die seuns vrees my en jy …” Hy klink so eensaam en verlate. Die trane blink in haar oë as sy haar vingers deur syne strengel.

“Gee hulle net ’n kans. Hulle ontdooi al klaar. Hulle is nog bang. Alles wat hulle liefgehad het, het hulle verloor. Hulle is vreeslik ontwrig … maar geen mens is bestand teen liefde nie. Gee hulle net jou liefde en hulle sal spontaan hulle s’n gee.”

“Werk dit oral so … met alle mense?” vra hy tergend, maar voor sy kan antwoord, kom die seuns met hulle kamerjasse aan by die deur ingehardloop.

Adolf los haar hand en Christa voel hoe die bloed in haar wange opstoot as hy haar onderlangs sit en dophou terwyl sy die melk in die bekers gooi.

Sarah du Pisanie Omnibus 11

Подняться наверх