Читать книгу Sarah du Pisanie Omnibus 11 - Sarah du Pisanie - Страница 13

10

Оглавление

“Mutti! Mutti! Kyk vir Peter!” gil Kurt benoud.

“Ai, Peter! Hou op!” lag Christa en slaan speels na hom. Hy het in albei sy hande pendorings tussen vingers vasgegryp en voer gemaak boks-oefeninge op Kurt uit.

Peter skuif vinnig agter Christa in as Kurt padgee en maak hom gemaklik teen haar tuis. Te laat besef Kurt dat hy sy plek langs Christa verloor het. “Ag, sies, Peter, man! Dit is my plek daardie!” kla hy nou tranerig

Peter maak of hy hom nie hoor nie en Christa lag oor die vindingrykheid van Peter se plan. Sy kan nie altyd Kurt se gevegte vir hom veg nie; hy sal nooit groot word nie.

Gustav en Heinz sit voor op die bankie en dryf die donkies met soveel trots aan, ’n mens sal dink hulle is op ’n strydwa. Die son trek al water teen die tyd dat hulle op die werf stilhou. “Toe, manne, julle sal moet spring om betyds klaar te wees vir ete!” maan sy die seuns as hulle van die wa aftuimel.

“Kan ons maar varkie-aand hê, Mutti?” vra Udo hoopvol. “Ons het heeldag geswem, ons hoef tog nie nog te bad ook nie.”

Christa oorweeg dit ’n paar oomblikke lank en gee dan vinnig toe. “Nee, julle hoef nie te bad nie, die dam se water was mooi skoon.” Die kinders hardloop skertsend weg en in haar hart is daar ’n groot dankbaarheid. Hulle is so gelukkig deesdae! Sy het darem iets bereik die afgelope paar maande. Dit is amper ondenkbaar om te dink dat sy al ’n hele kwartaal hier is.

Die kort vakansie het soos ’n berg voor almal gelê. Die kinders het stiller en stiller geword en sy was self nie gelukkig om hulle hier so alleen te los nie. Dit was eers toe sy aangebied het om te bly en sy die verligting op Adolf se gesig gesien het, dat sy besef het dit was vir hom ’n yslike probleem waarmee hy geen raad geweet het nie.

Daar is deesdae ’n rustige kameraadskap tussen haar en Adolf. Sy het sy kantoorwerk vir hom klaargemaak en gaan loer nog gereeld saans by hom in. Soms is daar ’n briefie of ’n ding wat sy kan tik en verder help sy hom met sy liasseerwerk. Sy weet sy bluf niemand nie, nie eers haarself nie. Dit is vir haar heerlik om daar in die beknoptheid van die studeerkamer alleen saam met hom te wees.

Hy bring darem ook sy kant en sorg dat daar altyd iets is wat sy kan doen, hoe onbenullig ook al. Sy hoef dus nie selfbewus te wees om daar aan te meld nie. Dit laat in elk geval haar hart warm klop en net die gedagte dat dit vir hom ook aangenaam is as sy daar is, laat haar wange bloedrooi verkleur.

Die etery in die kombuis oor naweke het nou ’n vaste instelling geword. As Adolf tuis is, eet hy saam met hulle daar. Die kinders het hulle vrees vir hom verloor en gesels heel gemaklik met hom. Dit is net … daardie kameraadskap en innigheid ontbreek nog.

Sy en die kinders was vandag op ’n piekniek en hulle het in die groot sementdam geswem. Hulle sal seker vanaand vroeg al vaak wees na die vars buitelug. Sy het so gehoop dat Adolf sou saamkom. Hy was egter afgetrokke en sy het die indruk gekry dat hy alleen wou wees en die stilte, sonder die kinders, wou geniet.

Hy is baie weg van die plaas af. Die kinders geniet dit natuurlik vreeslik. Dit is net … sy verlang na hom wanneer hy so lank weg is! Sy sien altyd daarna uit dat hy moet terugkom. Dan verdwyn al die onrustigheid en verlatenheid in haar en is die kring weer volmaak.

Christa bad en borsel haar rooibruin hare tot dit glinster. Sy laat dit vanaand los op haar skouers hang. Sy trek ’n liggroen rokkie aan wat haar skraal lyfie komplementeer en haar baie vroulik laat lyk.

Hulle is almal gelyktydig by die eetkamerdeur. Die seuns stap stil en ordelik in en Christa met klein Kurt aan die hand volg rustig agterna. Sy is al amper by die tafel voordat sy die vrou aan die bopunt van die tafel, aan Adolf se regterkant, opmerk.

Sy is lig en beslis van Duitse afkoms. Haar blou oë is groot en rond en Christa het skielik lus om die vrou se blonde hare wat tot op haar skouers hang, aan te raak, want dit lyk so syerig en pas by haar fyn bou.

Die vreemde vrou kyk die seuns angstig aan en sodra sy vir klein Kurt by Christa opmerk, bly haar oë vasgenael op hom.

Kurt is egter min beïndruk. Hy kyk nie eers na haar kant toe nie maar trek sy stoel uit en gaan sit.

Adolf wag tot almal sit en daar ’n doodse stilte heers. “Seuns, dit is Fräulein Burmeister. Sy is van Duitsland en dit sal nie help dat ek julle nou aan haar voorstel nie, sy sal nooit julle almal se name onthou nie. Ons doen dit later.”

Christa knik liggies vir die blonde vroutjie as Adolf haar aan haar bekendstel. Daar is egter ’n koue onbetrokke uitdrukking op haar gesig en dit voel skielik vir Christa of daar iets vreemds en onheilspellends in die atmosfeer dreig. Wie is sy? wonder sy benoud. Is sy dalk ’n spesiale vriendin van Adolf? Die gedagte maak haar benoud en wil haar verwurg.

Sy probeer Bernard se blik vang om te kyk of hy nie dalk meer lig op hierdie saak kan werp nie. Bernard is duidelik ontstig en kyk oral behalwe na haar.

Die stilte wat gedurende die eerste dae ná haar aankoms oorheers het, is vanaand weer aan die tafel, so asof die kinders ook die vreemde atmosfeer aanvoel. Sy kan glad nie die uitdrukking op Adolf se gesig of sy houding peil nie en probeer nie eers om dit te ontleed nie.

Daar is ’n merkbare verligting onder die seuns as die ete verby is en hulle van die tafel mag opstaan. Christa het gemengde gevoelens. Sy wil graag naby Adolf wees en sal die gewerkery in die studeerkamer mis, maar sy weet dat hy nie vanaand daarmee sal aangaan nie en ook geen behoefte aan haar geselskap sal hê nie.

Sy stap traag af met die gang, glad nie lus vir haar eie geselskap nie, en ’n ongetemde jaloesie wat vir haar onbekend is, gloei in haar binneste. Adolf se hand sluit skielik om haar arm en hou haar teë. “Christa, kom drink jy nie saam koffie nie?” vra hy en sy stem klink so gemoedelik asof hulle beste vriende is.

Sy frons liggies as sy opkyk in sy oë. Sy blik is pleitend en hy probeer dringend vir haar iets deursein. Sy kan dit egter nie verstaan nie en staar net dom na hom. Sy hand sluit vaster om haar arm totdat die vreemde vrou by die sitkamer in is, dan fluister hy in haar oor: “Asseblief! En noem my op my naam!”

Hy stuur haar voor hom by die sitkamer in, sy hand nog steeds om haar arm sodat sy nie kan weier nie. Christa stap soos ’n slaapwandelaar saam met hom en gaan sit op die bank waarheen hy haar lei.

Die vrou frons liggies as sy na hulle kyk en gaan sak in die gemakstoel aan die oorkant van die bank neer en vou haar mooi, netjiese bene oormekaar.

Adolf kom sit langs Christa op die bank en dit verwar haar nog meer. Sy hou haar blik op haar skoot sodat die vrou nie die onbegrip daarin moet raaksien nie. Adolf probeer iets aan haar oordra en sy sal elke sintuig moet inspan om te weet wat hy wil hê sy moet doen. As dit nie so verregaande was nie, sou sy gedink het hy soek beskerming by haar teen hierdie vrou.

“Christa …” Adolf laat val onverwags die bom in haar skoot. “Dit is Karla, Kurt se ma!”

Dit gons in Christa se verstand en sy is seker sy staar die vrou nou oopmond aan. Iets klink nou baie verkeerd. Haar verstand wil nie die feite registreer nie. Intussen kan sy die dringendheid in Adolf se blou oë nie miskyk nie. Sy staar dus net geskok na Adolf en dan na Karla, nie in staat om enigiets te sê nie.

“Ja …” Adolf frons liggies. “Ek weet jy het gedink sy is dood. Ons het die storie maar altyd vertel om Kurt se ontwil. Ek het net nie daaraan gedink om jou reg te help nie. Om die waarheid te sê, dit is ’n deel van ons lewe wat ek in Duitsland agtergelaat het. Ek dink nie meer daaraan nie.”

Christa haal diep asem. Adolf het geen benul hoeveel van die storie sy ken nie en probeer haar nou inlig. Maar sy neem niks in nie. Al wat kloppend in haar binneste lê, is die wete dat hierdie vrou en Adolf eens verloof was en dat sy lewe! Sy is nie dood nie!

Die vrou is besig om ’n denkbeeldige kreukel uit haar rok te vee en kyk nie op nie.

“Maar hoekom …” Christa kan haarself nie keer nie. Die hele storie raak nou te kompleks. Hoekom verkondig dat sy dood is as sy nie is nie. Hoekom haar kind alleen na hierdie verafgeleë land stuur as sy daar is om hom te versorg? maal die vrae deur haar verwarde verstand.

Karla lig haar kop en daar is trane in die blou oë. “Dit was alles so deurmekaar destyds. Kurt was oorlog toe en ek het nie kans gesien om die kind alleen groot te maak nie. Ek … ek was so ontwrig en dit het my jare geneem om weer my voete te vind. Te laat het ek besef watter vreeslike fout ek gemaak het,” snik sy saggies en druk ’n fyn sakdoekie teen haar oë.

Die jammerte borrel soos ’n fontein in Christa op. Sy buk vooroor en sit haar hand op Karla s’n. “Siestog! Dit moes vreeslik gewees het!”

Die vrou kyk egter smekend na Adolf, asof dit hy is wat so simpatiek reageer. “O, Adolf! Sal jy my ooit kan vergewe? Nog voor Kurt se geboorte het ek al besef watter vreeslike fout ek begaan het,” snik sy.

Christa kyk ongemaklik na Adolf en wens dat sy kan wegkom. Maar daar is iets so pleitends in sy oë dat sy net nie kan opstaan en die twee alleen laat nie.

“Dit was vreeslik! Nadat ek hom afgegee het, was my arms so leeg! Ek soek nog elke dag sy ou gesiggie in die kinders wat ek sien. Ek … ek kon vanaand nie my oë glo toe ek hom van aangesig tot aangesig aanskou het nie.”

Sy loer onder haar wimpers deur na Christa om te sien watter effek hierdie stukkie melodrama op haar het. Maar Christa se gedagtes is by klein Kurt wat so ontwrig en rondgeslinger is en tot dusver maar bitter min liefde ontvang het.

Christa sit regop en kyk haar peinsend aan. “Hoekom … hoekom het u hom dan nie opgesoek toe u tot verhaal gekom het nie? Ek meen, Kurt is al vyf jaar oud!” sê sy onbegrypend.

Christa vang haar beslis onkant. Sy loer vinnig onder haar wimpers deur na Adolf. Hy sit met sy arms oor sy bors gevou en wag op haar antwoord, geensins van plan om haar op enige manier tot hulp te snel nie.

Die vrou soek ’n paar oomblikke lank na woorde en laat sak haar gesig in haar hande. Wanneer sy eindelik weer opkyk, verander sy die onderwerp. “Het … het jy geweet dat ek en Adolf verloof was?” vra sy en daar is ’n triomfantlike trek op haar gesig.

Christa is dankbaar dat sy dié deel van die verhaal ken, anders sou sy nou die een gewees het wat na woorde moes soek. “Ja, ek het geweet.” Haar stemtoon is kil en onpersoonlik. “Ek kan net nie begryp dat u sy broer bo hom verkies het nie. Ek het ook vir Kurt geken …”

Sy sien die ongeloof op Karla se gesig en as sy onderlangs na Adolf loer, is daar ’n uitdrukking van verbasing en ook dankbaarheid op sy aantreklike gesig.

Die vrou is ’n oomblik lank heeltemal ontsenu as sy sien hoe Adolf na Christa kyk. Sy laat sak haar blik en sy probeer nederig klink. “Ja, ek was so dom. Ek het dit eers besef toe dit reeds te laat was. Niemand … niemand is soos hy nie!”

“Wat is jou planne, Karla?” vra Adolf kortaf.

“Ek … ek het geen planne nie. Ek wou net ’n slag my kind sien en hom in my arms vashou!” pleit sy.

“Wil jy nou sommer in sy lewe instap en die liefdevolle moeder kom speel?” vra Adolf skepties.

“Maar hy is my kind!” Daar is ’n selfvoldaanheid in haar stem, soos iemand wat die troefkaart in sy hand het.

“Jy weet natuurlik dat my pa niks aan die noodlot oorgelaat het nie. Hy het altyd baie deeglike werk gedoen, Karla. Hy het Kurt wettiglik aangeneem –” begin Adolf, maar Karla val hom vinnig in die rede.

“Die ou baron is dood en ek is sy naaste familie.” Karla is beslis nou meer uitdagend. Adolf kyk peinsend na haar en ’n bondel vrees kom lê op die krop van Christa se maag. Hy sal toelaat dat Kurt na haar toe gaan. Daar is geen bande wat hom en die kind aan mekaar bind nie. Hulle kan dit mos nie doen nie, nie aan ou Kurtie nie! Hulle kan nie nóú, nadat hy uiteindelik stabiliteit in sy lewe gevind het, alles weer kom ontwrig nie.

“Adolf …” Christa draai pleitend na hom. “Julle kan nie nou, uit die bloute, vir Kurt sê sy ma leef nog nie. Hy het grootgeword met die idee dat sy dood is. Sy lewe is alreeds so ontwrig. Hy begin nou eers weer ’n heel mensie word.” Sy het haar hande op sy arm gesit en soebat hom nou met haar hele wese.

Karla kyk vererg na Christa. “Maar ék is sy moeder! Hy is mý kind en hy het die reg om dit te weet. Te weet dat ek hom liefhet …!”

Christa draai om na haar en ’n snaakse gevoel van weersin stoot in haar op. Is hierdie vrou werklik eerlik en opreg? Is dit werklik vir Kurt wat sy wil hê of is dit Kurt se oom wat die aantrekkingskrag is?

Karla kom kniel voor Adolf en huil kliphard. “Jy sal nooit so wreed wees om te weier dat ek my kind kan sien nie … nè, my lief?”

Adolf kyk fronsend oor haar kop na Christa. Maar in Christa het daar ’n oerdrang kop uitgesteek en sy veg nou soos ’n dier vir haar kleintjie.

“Ek sê nie jy mag hom nie sien nie. Ek sê net julle kan nie die nuus sommer so aan hom meedeel nie. Gee hom kans om jou te leer ken en wen sy liefde, dan sal dit vir hom makliker wees. In hierdie stadium is jy vir hom ’n vreemdeling wat sy gelukkige klein wêreldjie kom bedreig. As jy nou skielik vir hom moet sê jy is sy ma en jy vat hom weg van alles wat bekend en dierbaar is … hy … hy sal dit nie kan verwerk nie. Hulle het swaar genoeg gehad!” Christa se stem breek effens en sy sit dringend vorentoe op die bank.

Adolf frons gevaarlik as Karla haar vingers deur syne vleg. “Asseblief, Dolfie … gee my hierdie kans om my kind te leer ken. Om hom te leer om vir my ook lief te wees. Om hom te leer dat ek sy mamma is en dat ek hom liewer as my eie lewe het,” smeek sy.

“Ek weet nie, Karla. Jy gaan alles hier ontwrig. Ons het nie die personeel om nog gaste ook te ontvang nie. Christa doen alreeds so baie.”

“Ek sal nie ’n oorlas wees nie, Adolf. Laat my bly, ek smeek jou. Laat my toe om hom lief te hê … om hom te wys wat dit is om ’n eie moeder te hê.”

Christa walg van die vrou se woorde want dit wat sy sê, vind geen aanklank by die uitdrukking in haar oë nie.

Adolf kyk vraend na Christa en sy kan sien dat hy glad nie gediend is met hierdie idee nie. Vies wonder sy of hy liewer die arme Kurt aan ’n wildvreemde vrou wil uitlewer. ’n Vrou wat hy van geen kant af ken nie en hom net weer in eensaamheid gaan dompel. Hierdie vrou met haar koue blou oë is tot geen liefde in staat nie.

“Ek gaan vir ons koffie haal,” sê Christa en stap vinnig kombuis toe voordat Adolf haar kan keer. Sy berei die skinkbord voor en vra vir Bernard om dit in te neem. Sy het geen begeerte om verder in hulle geselskap te wees nie.

Verslae gaan sit sy op die kant van haar bed. Adolf se groot liefde is hier! Vol lewe en vasbeslote om Adolf weer in te palm, al moet sy ook vir Kurt gebruik om daardie doel te bereik.

Hoekom noem sy haarself Burmeister, hoekom is sy nie Von Leipsig nie? wonder Christa. Kan ’n ma werklik vyf jaar lank wegbly voordat jy jou kind kom opsoek? Kan ’n mens se lewe werklik so deurmekaar raak dat jy bereid is om jou kind af te gee … weg te gee soos ’n klein hondjie? Christa skud haar kop heen en weer. Dit klink nie vir haar moontlik nie, maar ’n ander mens se boeke is duister om te lees. Sy was nog nie in so ’n situasie nie, sy moet liewer nie oordeel nie.

Karla is die volgende oggend nie aan die ontbyttafel nie. Christa draai ná ontbyt al om die huis met die seuns om Karla ’n kans te gee om by hulle aan te sluit sodat sy Kurt beter kan leer ken. Die vakansie is al amper op ’n einde en as die skool eers weer begin, gaan sy veel minder tyd hê.

Christa is ongelukkig en hartseer. Adolf was afsydig aan tafel, asof hy haar kwalik neem omdat Karla nog hier is. Hy was baie beslis nie ten gunste van die voorstel dat sy hier moet bly en Kurt eers beter leer ken nie. Christa is in twee geskeur! Sy sal self ook graag wil hê dat Karla haar ry moet kry. Hulle kan mos nie ou Kurtie sommer so laat gaan nie … hy sal vreeslik ontsteld wees!

“Kom ons gaan stap, Mutti!” neul Klaus en Christa kyk moedeloos na die huis waar daar nog geen teken van Karla is nie.

“Goed!” Sy neem vinnig ’n besluit. “Gaan kry solank vir julle hoede. Ek gaan net gou vir die baron sê ons gaan ’n ent stap.” Christa draai om en stap vinnig terug huis toe.

Sy klop liggies aan die studeerkamerdeur en hy klink moeg en kortaf as hy haar gebied om in te kom. “Baron, ons … ek en die seuns gaan stap. Ons het vir juffrou Karla gewag, maar sy is blykbaar nog nie op nie en die seuns raak kriewelrig.”

“My naam is Adolf,” sê hy kortaf en vroetel met los velle papier op sy lessenaar.

Christa wil hom nie in so ’n bui alleen los nie. Sy wil haar arms om hom sit en hom liggies sus. “E … Hoekom noem sy haarself juffrou Burmeister en nie mevrou Von Leipsig nie?” vra Christa op die ingewing van die oomblik in die hoop dat hy vir haar sal sê hoekom hy so ongedurig lyk.

Hy bly ’n oomblik stil en sug swaar. “Omdat sy en Kurt nie getroud was nie.” Christa gaap hom verslae aan. Hy sê niks verder nie en kap vies met sy vuis op die tafel.

“Ek wil haar nie hier hê nie! Sy gaan alles kom omkrap en nou het jy met hierdie simpel idee vorendag gekom!” beskuldig hy haar.

Christa kyk vererg na hom. “Nou wat wil jy maak? Sommer vir Kurt op ’n skinkbord aan haar oorhandig en weer sy hele lewe ontwrig? Of haar net wegstuur? Onthou … sy is sy ma!” Christa se stem is nou meer pleitend. “Ons kan dit nie wegredeneer nie. Dalk is sy opreg, ons maak almal foute …”

“Gmf!” snork Adolf geïrriteerd. “Die geld wat my pa haar gegee het, is natuurlik op. Sy soek geld en niks anders nie!”

Christa stap om die lessenaar en sit haar hand op sy skouer, sonder om te dink. Hy lyk so moedeloos en … en bang! “Adolf, ek verstaan hoe jy voel. Maar sy is dalk werklik jammer … kan jy haar nie maar vergewe nie?”

Hy kap weer met sy vuis op die tafel. “Nee! Sy sal nie weer die voorreg hê om my seer te maak nie. Nooit weer nie! Buitendien …” Hy bly skielik stil en laat sak sy kop in sy hande.

Christa staan verleë met haar hand op sy skouer. Sy voel oneindig jammer vir dié groot man wat nou so uitgelewer is aan die weë van sy liefde.

“Is … is daar iets wat ek vir jou kan doen?” vra sy met die wêreld se deernis in haar stem.

“Los haar, dat sy die kind vat en net wegkom, ver weg, waar ek haar nooit weer hoef te sien nie,” antwoord hy gesmoord.

Christa staan geskok terug. “Maar … maar jy kan nie! Hy is net ’n ou seuntjie! Ons kan hom nie nou in die steek laat nie. Ons is al wat hy het,” soebat sy.

Hy sug soos ’n ou man. “Ja, gaan stap julle maar …” Daar is soveel matelose frustrasie in sy hele houding dat die trane warm agter haar ooglede brand.

“Adolf …” Sy sit haar hand terug op sy skouer. “Moenie daarteen veg nie. As jy nog lief is vir haar, laat jouself toe om te wees. Sy het berou, vergewe haar. Ons maak almal foute … die een of ander tyd.”

Sarah du Pisanie Omnibus 11

Подняться наверх