Читать книгу Sarah du Pisanie Omnibus 11 - Sarah du Pisanie - Страница 8

5

Оглавление

“Wie het dit gedoen?” Christa swaai verskrik om na waar die Kommandant skrikwekkend in die klaskamer se deur staan, haar voete stewig uitmekaar geplant. Onder haar arm knyp sy ’n yslike groot meelblik vas en in haar een hand het sy die twee pote van ’n groot rooibruin hoenderhaan in ’n vaste greep.

Die haan hang protesterend kop onderstebo maar hy kan op geen manier uit dié ysterkloue ontsnap nie. Die Kommandant lig die haan hoër en hy klap se vlerke sodat ’n wit meelwolk om hom hang.

Christa voel hoe die lag histeries in haar opstoot en sy byt haar kieste met mening vas. Haar ingewande begin skud as die hoenderhaan verontwaardig sy lang slap ooglede van onder probeer toemaak, asof hy so waardig moontlik in hierdie onwaardige posisie probeer lyk.

Om die borrelende lag in haar te bedwing kyk sy dus liewer na die kinders, maar hulle kan net sowel uit klip gekap wees. Daar is geen emosie van enige aard op hulle onskuldige gesigte te bespeur nie. Selfs klein Kurt vou sy armpies oor sy bors en kyk met ’n uitdrukkinglose blik na die Kommandant.

“Wie het dit gedoen?” Daar is nou ’n amper histeriese noot in die vrou se stem. Met elke woord pluk sy die hoenderhaan heen en weer sodat ’n nuwe meelwolk te voorskyn kom.

“Wat gaan hier aan?” Adolf kom staan langs Frau Maria en daar is nie ’n sweempie emosie op sy gesig nie.

Frau Maria gluur eers die kinders aan asof sy hulle in muise wil verander voordat sy woedend na Adolf draai. “Een van hierdie ongeskikte … niksnutse het die haan in die meelblik weggesteek. U moet sien hoe lyk my kombuis!”

Christa maan haarself tot kalmte en bid woordeloos dat niemand tog nou vir haar ’n vraag moet vra nie. Sy kan haar lag nie meer hou nie. Die haan protesteer aamborstig en klap met sy vlerke, maar die greep om sy pote verslap nie een sekonde nie.

“Was dit weer jy gewees, Carel?” Frau Maria pen hom met haar yskoue blik vas.

Christa staar voor haar op die grond en sukkel om die lag binne-in haar tot bedaring te bring. Want so seker as wat sy hier staan, as sy nou uitbars van die lag, sit sy vanaand op die stasie met al haar aardse besittings, of daar nou ’n trein is of nie.

Carel kyk verskrik na die ander en Kurt maak sy mond oop om iets te sê, maar Klaus klap hom so hard tussen die blaaie dat hy amper verstik. Kastig baie bedagsaam druk Klaus vinnig sy sakdoek voor Kurt se mond en vryf hom tussen sy blaaie.

Hier waar Christa skuins agter hulle staan, sien sy die helfte van Klaus se sakdoek is omtrent binne-in Kurt se mond en dat Klaus sy kakebeen met die ander hand vasklem sodat hy geen geluid kan uiter nie, al probeer hy ook.

“Dit is nie Carel nie, Frau Maria …” sê Niko vinnig.

Adolf kom staan voor in die klas en vou sy arms oor sy bors. “Die skuldige een beter praat, anders word almal gestraf.”

Christa kyk na die stil seunsgesigte en daar is ’n moederlike trots in haar hele houding. Sy weet dat hulle liewer almal saam gestraf sal word as wat hulle een sal uitlewer.

“Gustav!” Adolf draai na die seun en daar kom ’n geslote uitdrukking op sy gesig. “Wie het dit gedoen?”

“Ek weet nie, baron,” mompel hy kortaf sonder om Adolf in die oë te kyk.

“Goed! Dan is dit almal van julle. Frau Maria, geen kos vir hulle vanmiddag of vanaand nie, tensy die skuldige een vorendag kom.” Udo se oë word groot maar hy byt op sy onderlip en kyk stip voor hom.

Daar heers ’n swanger stilte wanneer Adolf en die Kommandant weg is. Klaus haal versigtig die sakdoek uit Kurt se mond en tik hom liggies en vertroostend teen die wang.

Dan knak iets in Christa en vir geen geld in die wêreld kan sy die laggie wat oor haar lippe borrel, keer nie. Sy probeer dit met haar hand smoor en dit ontaard in ’n geroggel. Haar hele liggaam ruk soos sy sukkel om die skaterlag in bedwang te hou.

Adolf swaai vinnig om as hy die vreemde geluid deur die venster hoor en met ’n paar lang treë is hy langs haar. Van hierdie klomp seuns verwag hy enigiets. Hy vat haar stewig aan die skouer en skud haar liggies terwyl sy oë bekommerd oor haar gesig gaan.

Christa loer op in die bekommerde oë. Sy weet om nou te lag kan haar doodsvonnis wees en sy druk sommer haar hele vuis in haar mond om die histeriese gegiggel in haar te probeer keer.

Adolf kyk geskok na haar en daar is nou beslis afkeur in die plek van bekommernis. Hy vat haar stewig aan die arm en sleep-dra haar by die musiekkamer in en maak die deur agter hulle toe sodat die kinders hulle nie kan hoor nie.

“Jy lag!” sê hy ongelowig. “Jy makeer niks … jy lag!” Hy spoeg die woorde uit asof so iets heeltemal onmoontlik is.

Skaterlag oorval haar en die groen oë lewe van pret. “Staak dit onmiddellik!” Adolf is woedend. “Of … of ek sal genoodsaak wees om jou te klap!” Sy stem bewe maar Christa is nou by alle grense van versigtigheid verby.

“O, dit was die snaaksste ding wat ek nog gesien het! Die groot ou haan wat so spierwit gepoeier is.” Sy lag weer skaterend en hou behoorlik haar maag vas.

Sy hande knel om haar skouers en hy skud haar wild heen en weer. “Ek vind dit geensins amusant nie!”

“Ek … ek is jammer, baron.” Christa kry haarself met die grootste moeite onder beheer. “Ek kan myself nie help nie, as hierdie lag in my binneste kom kriewel … dan kan niks dit keer nie.”

Adolf kyk af in die ondeunde gesig. Iets vreemds, iets wat hom magteloos maak, stoot in hom op. Hy wil haar heen en weer skud … en tog wil hy haar teen hom vasdruk en saam met haar skaterlag. Hy is skielik heeltemal ontsenu en los haar so vinnig dat sy effens agteruit steier voordat hy wegstap.

Christa draal eers ’n bietjie buite rond om haarself ten volle onder beheer te kry voordat sy teruggaan klaskamer toe. Daar is ’n doodse stilte in die klas en die seunskinders hou haar nuuskierig dop. Daardie gesmoorde geluid voordat die baron haar hier uitgesleep het, het baie na ’n proeslag geklink, maar hulle is nie heeltemal seker nie.

Daar is ’n nuwe atmosfeer toe sy terug is in die klas. Dit is asof daar skielik ’n soort samehorigheid tussen hulle kom lê het … sommer so stil en sonder woorde.

Etenstyd stap Christa ongemaklik eetkamer toe. Sy is nie seker of sy saam met die kinders gestraf word nie. Daar is net een plek aan die lang tafel gedek en Christa wil net omdraai om haar straf saam met die kinders te gaan uitdien toe Bernard die stoel vir haar uittrek. “Juffrou kan maar hier sit. Die baron is Tsaobis toe.”

Christa kyk na die kos op haar bord. As sy tog net vir Udo en Kurt iets kan uitsmokkel … Die ander sal dit oorleef. Sy loer onderlangs na Bernard. Hy staar voor hom uit asof hy in ’n soutpilaar verander het en sy glad nie in dieselfde vertrek is nie.

Sy sit haar servet op haar skoot en laat val die twee hoenderboudjies daarin.

Wanneer die bediende haar bord wil wegneem, keer sy hom. “Is … is daar nie miskien nog hoender nie, ek is so honger vandag …” Sy glimlag stroopsoet vir hom. Hy knik en verdwyn deur die kombuisdeur.

Bernard gee geruisloos ’n treetjie nader en Christa vou ongemerk die servet toe en skuif haar bene dieper onder die tafel in. Haar hart klop wild en onstuimig. As Bernard haar by Adolf moet gaan verkla! Hy sal nie verantwoordelik wees vir sy dade nie, daarvan is sy oortuig.

“Fräulein …” Sy stem is saggies hier by haar oor. “Die silwerbak met die deksel …” Hy beduie na ’n skottel op die buffet. “Ek sal dit ongemerk in u kamer kan kry. Frau Maria gaan jou dophou.”

Christa kyk vinnig na hom en die ongeloof staan in groot vet letters oor haar hele gesig geskryf. Stadig bedaar die wilde hartklopping in haar kuiltjie as sy in Bernard se vriendelike blou-grys oë kyk wat sy ernstige voorkoms heeltemal weerspreek.

Sy glimlag en die trane blink onverwags in haar oë. “Jy is ’n engel, Bernard!” fluister sy sameswerend. Hy gaan haal die silwerskottel en kom sit dit binne haar bereik. Dan gaan staan hy weer teen die muur, hierdie keer ’n bietjie nader aan die kombuisdeur sodat hy ’n beter uitsig daardie kant toe kan hê.

Die bediende bring haar kos en sodra hy weer uit is, skep sy dit vinnig in die bak. Die porsie op haar skoot sit sy ook daarin plus nog gebraaide aartappels, ’n piesang en ’n appel.

Frau Maria kom staan wantrouig in die eetkamerdeur as Christa klaar geëet het. Haar oë val byna uit haar kop van ongeloof toe Christa met leë hande en ’n grinnik op haar gesig by die deur uitstap.

’n Kwartier later is daar ’n kloppie aan die deur en Bernard glip vinnig by die kamer in met die bak in sy hande. Hy het nog twee appels iewers in die hande gekry, maar dit is al … vir elf honger seuns!

“Ai, Bernard!” Christa vou haar hande om syne as sy die skottel by hom oorneem. “Baie dankie! Ek besef nou eers dat jy maar nog altyd daar was vir hulle. Dit is hoekom hulle jou nooit poetse bak nie.”

“Arme kinders!” sug hy en loer vinnig oor sy skouer. “Ek moet baie versigtig wees dat Frau Maria en die ander nie agterkom hoe ek voel nie. Die baron sal my sommer terugstuur en dan het die kinders niemand nie.” Sy hele houding raak gespanne by die gedagte daaraan.

“Fräulein moet die kos uitskep sodat ek die bak kan terugvat.” Christa keer sommer alles uit in ’n vrugtebak op die skryftafel en druk die skottel in Bernard se hande. Hy sluip saggies by die kamer uit. Christa draai die bak in ’n klein handdoekie toe en gooi ’n rok oor haar arm asof sy dit wil gaan stryk. Sy stap in die gang af, haar ore gespits vir enige voetstappe verder af in die gang.

Sy kyk vinnig oor haar skouer voordat sy by die seuns se slaapvertrek inglip en sit die bondeltjie vinnig neer. “Julle moet dit deel … kyk dat Kurt en Udo iets kry,” fluister sy en verdwyn weer net so vinnig. Sy weet dat Stefan, wat die naaste aan haar was, haar sou gehoor het.

Dié aand is Adolf weer aan tafel en van nog ’n stukkie kos uitsmokkel, is daar geen sprake nie. Arme kinders! ween haar hart. Daardie ou bietjie kos het seker nie eers die grootste honger gestil nie.

Wanneer hy wil opstaan, keer Christa hom vinnig met ’n smekende stem. “Baron … kan die kinders nie maar iets kry om te eet nie? Hulle kan tog nie heeldag sonder kos bly nie,” pleit sy.

Sy oë flits na haar kant toe wanneer hy omdraai en haar vol in die gesig kyk. “Juffrou Van Graan, ek wysig nooit ooit ’n besluit nie. Jy sal nie die dissipline hier kom deurmekaar krap nie. Is dit duidelik?”

“Nee, dit is nie!” Christa se humeur vat vlam. “Dit was ’n groot straf vir so ’n klein oortredinkie! Die ou Kommandant het geen sin vir humor nie; sy is ’n regte ou tiran wat ’n sadistiese behae daaruit put om die seuns te straf. Arme Kurt is nog ’n baba. Hy is net vyf jaar oud en jy … jy is nie die naam van pa werd nie!”

As Christa die woede in Adolf se oë sien blits, besef sy dat sy hopeloos te ver gegaan het. Sy swaai dus vinnig om en stap so waardig moontlik weg sonder om weer om te kyk.

Adolf, wat nog nooit so deur een van sy werksmense aangespreek is nie, is totaal en al tot stomheid geskok. Die Kommandant! Hy soek in sy verstarde gedagtes rond, wie kan dit wees? Dan tref dit hom dat dit van Frau Maria is wat sy moet praat. Vir die eerste keer in jare kriewel daar onverwags ’n laggie in sy binneste. Die kinders moes haar die naam gegee het … nogal heel gepas!

Hy draai om en stap studeerkamer toe. “Kurt!” Hy spreek die naam hardop uit. Sy dink Kurt is sy kind. “Gmf!” snork hy verontwaardig. Hy probeer dit ignoreer maar dit krap aan hom. Dink sy werklik so min van hom dat hy sy eie kind sal misken?

Christa gaan loer by die seuns in en hulle oë is vol verwagting. “Die baron was aan tafel,” fluister sy sag en weet dat hulle sal verstaan. Udo se ou gesiggie val en hy is behoorlik bleek van die honger. Kurt kyk smekend na haar en Christa druk sy blonde kop teen haar heup vas.

Sy kyk na die stil seunsgesigte en lig dan haar ken beslis. “Gustav …” Gustav staan nader maar dan verander Christa van plan. “Nee, wag! Johann, kom jy en Heinz saam met my.”

“Ek sal kom, Fräulein,” bied Gustav aan, baie gewillig as hy besef wat nou in haar kop aangaan.

“Nee, liewer nie jy nie, Gustav! Jy is in bevel hier en jy sal in groot moeilikheid wees as ons uitgevang word. Hou jy die ander stil. Vat eerder kussings en handdoeke en sit dit onder Johann en Heinz se lakens dat dit lyk asof hulle slaap. Die Kommandant gaan nou-nou kom kyk of julle slaap,” gee Christa instruksies.

“Ek gaan saam.” Peter kan nie behoorlik deur sy vuil bril sien nie, maar hy is gewillig en baie beslis.

“Goed, kom!” Christa en die drie seuns sluip agter om die huis. By die kombuis is alles donker. Christa fluister saggies in Peter se oor. “Hou die Kommandant se venster dop. As jy onraad vermoed, miaau soos ’n kat.” Sy druk hom agter die groot struik neer en vryf oor sy hare.

Die agterdeur is egter gegrendel en Christa kyk moedeloos na die teleurgestelde seuns.

“Sy doen dit altyd as ons gestraf word,” fluister Johann. “Sy grendel die deur van binne-af en gaan dan by die voordeur uit.”

“Wag hier!” Christa druk die seuns plat dat hulle teen die muur sit en draf om na die sydeur waar hulle uitgekom het.

Sy beweeg suutjies en vinnig. Regoor Adolf se studeerkamer stap sy stadiger en so waardig moontlik, ingeval hy haar betrap. Elke teug asem klink vir haar soos donderweer. Sy kom ongesiens in die kombuis, lig die grendel en dan glip die seuns geluidloos na binne.

Hulle is genoodsaak om ’n kers op te steek. In die spens sit hulle dit op die vloer neer. Hulle sny ’n paar broodrolletjies en smeer dit, maar te veel van een ding kan hulle ook nie vat nie. Die ou Kommandant tel seker saans die hoeveelheid brood wat oor is, dink sy grimmig. Hulle maak sommer van alles wat hulle kan kry, bymekaar. Vrugte, rosyntjies, koue vleis, droë perskes en twee bottels ingemaakte vrugte, wat hulle van agter die ander kosvoorraad opdiep. Johann wat kennis van hierdie soort van ding het, het sy kussingsloop saamgebring en die goed word vinnig ingepak.

Christa stuur die seuns uit met die kos en fluister vir oulaas voordat sy die deur grendel: “Moenie eet voordat die Kommandant daar was nie.”

Sy ruim alles op. Vryf met haar hand in die donker oor die tafel om ’n verdwaalde krummel af te vee en maak baie seker dat alles presies op hulle plekke is. Selfs die vuurhoutjie wat sy gebruik het, word in haar roksak gedruk en die kers weer op sy plek gesit.

By die middeldeur loer sy eers versigtig na buite. Die ligstreep is nog steeds onder die studeerkamer se deur. Alles is doodstil en Christa probeer so saggies moontlik verbysluip. Haar hele wese is ingestel op die ligstreep en die skrik slaan yskoud in haar vas as sy skielik trompop in iemand vasloop.

Dit is egter Bernard se kort stewige figuur hier voor haar en haar asem bly sommer in haar keel vassit, die vrees verlam haar ledemate.

Bernard se hand sluit om haar arm en voordat sy mooi besef wat aangaan, het hy haar omgeswaai sodat sy weer op pad is kombuis toe en hy sy kort treetjies by hare aanpas.

“Ag, ek is verskriklik jammer, Fräulein …” sê hy effens gedemp maar darem so dat Adolf wat nou lewensgroot by die venster in die studeerkamerdeur staan, dit kan hoor. “Ek het skoon vergeet om vars water in u kamer te sit. U kan maar teruggaan. Ek sal dit gou vir u gaan haal.” Bernard se stem klink effens uit die hoogte, soos iemand wat ’n fout begaan het, maar dit darem nie heeltemal wil erken nie.

“Ag, dit is regtig nie so erg nie, Bernard. Ek is gewoond om dinge vir myself te doen, ek is mos ook maar van die werkersklas,” sê sy ook gedemp en maak of sy glad nie van die persoon hier agter hulle bewus is nie.

Sy kan aanvoel hoe Bernard ontspan, maar hy stap saam met haar kombuis toe en stoot die deur vir haar oop. Christa sien hoe hy ongemerk oor sy skouer loer voordat hy die deur agter hom toemaak en vir haar knipoog. “Het julle iets uitgekry?” fluister hy.

Christa knik en Bernard gooi vir haar water in ’n glas en loer terselfdertyd vinnig deur die vertrek om te kyk of alles reg is.

Wanneer hulle uitkom, staan Adolf nog steeds by die venster en Christa knik liggies vir hom. “Goeienag, baron.” Hy antwoord haar nie maar daar is ’n selfgenoegsame grynslag op sy gesig.

In haar hart is daar ’n yslike stuk tevredenheid omdat sy hom kon fnuik. Hy dink natuurlik nou dat Bernard haar planne gedwarsboom het … die simpel ding!

Die volgende oggend aan die ontbyttafel is daar iets kameraadskapliks tussen Christa en die seuns. Die seuns is ook glad nie so honger as wat Adolf gedink het hulle sou wees nie. Hy frons gevaarlik. Dit lyk vir hom hy gaan met die juffrou meer probleme hê as met die kinders, dink hy vies.

Sarah du Pisanie Omnibus 11

Подняться наверх