Читать книгу Sarah du Pisanie Omnibus 11 - Sarah du Pisanie - Страница 7

4

Оглавление

Christa skud haar laken driftig uit. Die hele bed is vol suikerkorrels en te laat besef sy dat sy nou alles op die mat uitgeskud het. Môre is haar naam natuurlik ook in die swart boek, dink sy grimmig.

Die afgelope week was geen piekniek nie. Die frustrasie in haar dreig om kookpunt te bereik. Die kinders is moedswillig en tart haar tot satwordens toe.

Sy sug diep, soos ’n ou vrou, en klim vies terug in die bed. Die tweede aand van haar verblyf hier was daar ’n dooie molslang in haar bed. Sy het dit eenvoudig aan die stert gevat en deur die oop venster geslinger en skielik gewens dat Adolf von Leipsig van hul streke uitvind sodat hy hulle velle kan aftrek.

Gustav is die belhamel! Hy koggel haar voortdurend en die ander het vir hom ’n onheilige respek. As sy hóm net kan beïnvloed, sal die ander soos mak lammetjies volg. Al wat sy nou probeer doen, is om Gustav toe te gooi onder die werk sodat hy hom nie kan roer nie. Sy het gelukkig die eerste dag al sy swak plekkie ontdek: hy is besonder intelligent en raak baie gou geïnteresseerd in iets nuuts.

Sy vou haar arms onder haar kop en staar na die blink sterre in die helder maanverligte hemelruim. Hierdie kinders het soveel liefde nodig, en haar hart smeek om dit vir hulle te gee. Maar as sy dit waag, sal Adolf haar sowaar terugstuur en nog iemand soos Frau Maria aanstel.

Frau Maria bring haar swart boekie vir Adolf twee keer per week, Maandae en Donderdae, en nooit word van een van die seuns ’n verduideliking gevra nie. Haar bloed kook behoorlik as sy net aan die nare vroumens dink wat soveel genot daaruit put om die kinders te straf.

Wat haar die meeste grief, is die feit dat klein Kurt von Leipsig geen voorkeurbehandeling van sy eie vader kry nie. Hy bly saam met die ander seuns in die slaapsaal en word saam met hulle gestraf. Adolf is heeltemal onbetrokke teenoor die kind en dit ontstel haar nog meer as die Kommandant se swart boek. Die ander kinders het darem herinneringe aan liefdevolle ouers, maar hy het niks!

Hier is ook nie ’n mevrou Von Leipsig nie en nog minder iemand anders wat sy kan uitvra oor Kurt se ma. Christa pof haar kussing op en draai op haar ander sy. Dit lyk darem of die seuns se poetse nou begin afneem. Sy lewer nooit kommentaar daarop nie, en dit wil voorkom of haar stilswye hulle moedeloos maak, dink sy tevrede, veral omdat sy hulle nie by Adolf verkla nie.

Sy het egter te gou gerus geraak. Sy voel die onheil aan toe sy die volgende oggend vir ontbyt by die eetkamerdeur instap. Dit is behoorlik tasbaar en die spanning knoop op haar maag saam. Sy onthou van die suiker in haar bed en glimlag liefies vir hulle. Hulle misgis hulle as hulle dink sy gaan iets sê, besluit sy selfvoldaan.

“Goeiemôre, baron, goeiemôre kinders,” groet sy vriendelik. Die kinders knik net soos wat die baron altyd doen. Hy wag tot sy sit en tik op die tafel om ’n tafelgebed af te rammel.

Christa tel haar servet niksvermoedend op en dan stol die bloed behoorlik in haar are.

’n Vet, pap, pienk geitjie lê met groot uitpeuloë vir haar en kyk. Hy wikkel sy pap lyf effens en wil lomp-lomp wegstap.

Die seuns loer onderlangs vir mekaar. Dit is ’n nuwe een. Dit het hulle nog nie voorheen gewaag nie, en dit voor Adolf von Leipsig! Christa sien tussen haar wimpers deur hoe Adolf stip na hulle kyk en liggies frons, maar hy sit te ver om duidelik te sien wat aangaan.

So natuurlik en onopsigtelik moontlik, sit Christa haar servet bo-oor die geitjie. Sy neem vir haar ’n snytjie brood en smeer dit doodluiters met botter asof niks op aarde verkeerd is nie.

Gustav grinnik van oor tot oor en die terggees in Christa neem oor. Sy het darem ook saam met broers grootgeword en buitendien is sy nie ’n lid van die gepoeierde Duitse aristokrasie nie.

Tydsaam smeer sy haar stukkie brood en maak of sy nie bewus is van die nuuskierige blikke wat die ander seuns na hulle kant toe gooi nie.

Christa se tydsberekening is perfek. Sy wag totdat Gustav ’n netjiese holte aan die een kant van sy bord pap uitgeëet het en die melk ’n lekker groot wit dam vorm. Haar hand beweeg amper ongemerk as sy die servet met geitjie en al optel. Haar gewrig maak net ’n ligte beweging voordat sy die servet op haar skoot neersit.

Dit was foutloos, ’n meesterstuk! Die geitjie se rug en koppie steek net-net bokant die melk in die wit papbord uit. Hy knip sy groot oë en probeer uitklim. Sy dwarsvoete soek-soek na ’n vastrapplek, maar die bord is te glad en uiteindelik gee hy die stryd gewonne en baai hom behaaglik in die louwarm melk, soos ’n miniatuurkrokodilletjie in die son.

Christa moet haar kieste vasbyt om nie skaterend te lag vir die ongeloof op Gustav se gesig nie. Hy loer vinnig in Adolf se rigting wat hulle met ’n frons op sy voorkop dophou en sy oë op ’n skrefie trek om beter te kan sien wat aangaan. Gustav is dus genoodsaak om van die pap te skep en te eet om nie nou ’n duiwel wakker te maak wat nog slaap nie.

Christa sien hoe hy gril as hy na die pienk akkedis aan die ander kant van sy papbord kyk. Hy moet ’n paar keer sluk om die pap afgesluk te kry. Stefan, wat langs Gustav sit, druk sy servet vinnig oor sy mond en smoor sy lagbui in ’n aangesitte hoesie. Udo se ronde gesiggie vertrek spasties en ’n spiertjie spring wild aan die kant van sy mond sonder dat ’n geluid oor sy lippe klink.

Christa eet salig voort asof daar op hierdie aarde nog nooit ’n probleem was nie. Sy glimlag liefies met Adolf wat weer fronsend in hulle rigting kyk.

Adolf sal sy hele erfporsie daarop verwed dat iets aan die onderpunt van die tafel broei, maar hy kan niks sien waarop hy kan reageer nie. Hy gaan dis voort met eet en daar roer ’n saadjie respek in sy binneste. Hierdie klomp seuns sal haar nie ’n oomblik lank met rus laat nie, selfs nie eers die oggend toe hy die dooie molslang voor haar venster opgetel het nie.

Adolf probeer Bernard, styf en korrek teen die muur, se aandag trek. Dan moet hy sy oë vinnig knip. Hy skud sy kop in ongeloof. As dit nie absoluut verregaande was nie, sou hy kon sweer Bernard se liggaam skud liggies van ingehoue lag.

Sodra Gustav opmerk dat Adolf weer op sy kos konsentreer, draai hy hom baie effens skuins en kyk met smekende oë na Bernard.

Bernard kom formeel nader en neem Gustav se bord voor hom weg, maar daar is geen teken van enige emosie op sy gesig nie. Christa hou haar asem op in vrees dat hy nou die bord vir Adolf gaan wys, want dan is sy in net soveel moeilikheid as Gustav. Sy blaas haar asem stadig uit as Bernard die borde op mekaar pak asof hy van niks bewus is nie.

Daar is ’n vreemde, eerbiedige atmosfeer in die klaskamer. Nóg Christa nóg Gustav maak enige opmerking, maar hierdie ronde het sy loshande gewen en almal weet dit. Die vernedering maak dat Gustav se verstand oortyd werk om sy verlore aansien te herwin en dit besef Christa alte goed. Teen nege-uur ry Adolf se motor by die hekke uit en onmiddellik verdwyn die laaste druppel rustigheid soos mis voor die son.

Gustav raak uittartend en die ander kinders kraai van genot. Die ongeduld kriewel in Christa. Sy maan haarself tot kalmte en roep die jammerte vir die arme weeskinders in haar binneste op, sonder veel sukses.

Teen elfuur het sy ’n kloppende hoofpyn en haar laaste bietjie geduld is besig om deur te skaaf.

“Gustav!” Christa moet diep asemhaal om nie op hom te skree nie. “As jy net sal luister en hierdie kinderagtigheid staak, sal jy verstaan. Jy is doodeenvoudig moedswillig! Jy is ’n hoogs intelligente kind wat so ’n eenvoudige wiskundeprobleem binne sekondes behoort op te los … maar jy luister nie na ’n woord wat ek sê nie.”

“Ek is nie van plan om my tyd te mors nie.” Gustav is nou openlik astrant. “Hoe gouer ons almal kan teruggaan Duitsland toe, des te beter. Wie wil in elk geval op hierdie afgeleë, verlate plek bly?”

“Skaam jou, Gustav!” Christa is geskok. “Die baron is so goed vir julle. Julle leef hier in absolute luuksheid. Hy doen soveel vir julle …” Sy beduie met haar hand om die klas en die musiekkamers in te sluit.

“Hy doen ons nie ’n guns nie!” Gustav se mond trek smalend. “Ons het nie gevra om hier te wees nie. Ons het almal geld, enigeen sou ons versorg het. Buitendien gee hy niks vir ons om nie! Hy is net vol van sy eie ou haat! Ons … ons bestaan nie eers vir hom nie!” Gustav se stem breek effens en Christa wens dat sy hom styf teen haar kan vasdruk.

“Dit … dit is darem nie waar nie, Gustav …” Christa probeer onhandig paai, want haar hart stem honderd persent saam met Gustav. “Julle is tog baie beter af hier as in ’n staatsweeshuis …?”

“Beter af?” Gustav snork sarkasties. “Geen weeshuis kan so erg wees nie. Dáár sal ’n mens darem seker geregtig wees om asem te haal.” Daar is ’n ongetemde opstandigheid in Gustav wat ’n moederlike vrees in Christa ontketen. Hy staan op en stap by die deur uit sonder om weer in haar rigting te kyk.

Christa roep hom nie terug nie. Hy sal hierdie woede eers uit sy gestel moet kry. Sy draai na die klas wat haar stil aankyk en haar woordeloos uitdaag om ’n standpunt in te neem. Vir hulle sien sy egter kans. In Gustav is daar iets wat haar bang maak … sy’s bang dat iemand dit tog gaan regkry om hom heeltemal te breek.

“Ek dink ons moet vandag ’n bietjie sing!” sê sy op die ingewing van die oomblik, moeg vir hierdie voortdurende kragte meet met die seuns. “Kom, kom ons gaan musiekkamer toe.”

Christa staan verwonderd na die seuns en kyk wanneer hulle die eerste liedjie sing. Hulle het soos handomkeer verander. Hulle oë blink van lewenslus en hulle stemme is suiwer en klankryk … hulle hele wese lewe!

Sy kan haar self skop dat sy nie vroeër met die sang begin het nie. Die seuns het al hulle frustrasies en kwaadwilligheid buite die musiekkamer gelos en is nou soos klei in haar hande.

Haar bewondering groei soos hulle die een liedjie na die ander sing. Sy sal wat wil gee om die volledige Abendruhe-koor te kon hoor. Dit moes sy oorsprong in die hemel gehad het.

Skielik bly die kinders tjoepstil en almal kyk met groot oë na die deur. Adolf staan oordonderend met sy arms hoog oor sy bors gevou en daar is ’n ontsierlike frons op sy voorkop. “Gaan terug klas toe!” beveel hy en die kinders val behoorlik oor hulle voete om onder sy streng oë uit te kom. “Net ’n oomblik, Fräulein,” keer hy as sy agter hulle wil aanstap.

Sy gaan staan kop onderstebo soos ’n kind wat verbrou het. “Sang is ’n deel van musiek en dit word in die namiddae beoefen. Ek het werklik gedink dat u so ’n eenvoudige reëling sou verstaan. Klaarblyklik het ek my misgis,” sê hy sarkasties. Christa sug moedeloos maar antwoord hom nie, want dit sal tog geen doel dien nie.

“Ja, baron!” Sy lig haar ken en stap by hom verby. Hy kyk haar stil en fronsend agterna en volg haar dan met lang treë wanneer sy by die klaskamer ingaan. Hy gaan staan in die deur en sy oë soek deur die klas.

“Waar is Gustav?” vra hy kwaai asof hy verwag dat sy hom in haar roksak wegsteek.

Die kinders kyk smekend na haar en Christa haal diep asem. “Ek het hom gestuur om plante te gaan versamel by die dam. Peter, gaan roep hom asseblief! Ek sal hom na u toe stuur sodra hy terug is,” sê sy styf en onpersoonlik.

Peter maak sy ruggie hol as hy by die baron verbyskuif en drafstap af dam toe. Adolf draai om en sonder ’n verdere woord stap hy weg.

Dit is maklik tien minute later dat Christa vir Peter en Gustav sien aankom. Daar is ’n geslotenheid oor Gustav se gesig as hy inkom en hy kan haar nie in die oë kyk nie. Peter moes hom vertel het dat sy hom nie by die baron verkla het nie.

“Die baron wil jou spreek, Gustav,” sê sy doodgewoon asof daar vandag geen onderonsie was nie. Gustav knik en stap stil by die deur uit, al die aggressie uit sy houding uit.

Asof dit die keerpunt was, neem die poetse geleidelik af. Gustav, hoewel stil, is ook nie meer so uittartend nie. Haar waaksaamheid verslap geleidelik wanneer die volgende tien dae sonder voorvalle verloop. Maar dat sy nie leer nie, gaan haar verstand te bowe! Sy is mos darem al lank genoeg ’n onderwyseres dat sy moet weet, wanneer jy op jou gerusste is, slaan hulle weer toe.

Hoekom sy so bang is vir ’n muis, kon sy nog nooit verklaar nie. Niks anders maak haar so vreesbevange nie. Dis toe sy niksvermoedend een oggend haar tassie op die tafel tel en dit oopmaak, dat die vaal veldmuis verskrik oor haar hand spring en tussen haar voete deur skarrel.

Sy gil hoog en onvroulik. Die verskrikte muis skrik egter net so groot en probeer teen haar been ophardloop. Die tweede gil klink nog skerper en toe sy haar kom kry, staan sy bo-op die stoel, haar oë wild en verskrik.

Die kinders het nie so ’n reaksie verwag nie. Hulle staar haar geskok en met groot oë aan. Sy het dan al die ander ongediertes en goggas so maklik gehanteer, selfs die geitjie in Gustav se pap gegooi.

Die muis maak ’n laaste draai en skarrel vinnig by die deur uit. Dan eers is daar genoeg lewe in haar om so waardig as moontlik van die stoel af te klim.

“Wie se werk was dit?” Sy is skaam-kwaad dat sy haar waardigheid so kon verloor, maar hierdie sinneloosheid het nou lank genoeg aangehou. Sy kyk kwaai na die geslote gesigte en die woede neem genadiglik in haar oor.

“Ek wil weet wie dit gedoen het …” sis sy afgemete en daar is ’n wit kring om haar mond.

Gustav kom lui op sy voete en stap slenterend vorentoe. Hy probeer om sy verlore aansien te herwin, alhoewel hy nie naastenby meer die genot van vroeër daaruit put nie.

“Is dit jou werk, Gustav?” Woede meng met teleurstelling in haar binneste. Sy het gedink hy het verander!

“En wat as dit is …?” vra hy en probeer weer sy ou uittartende self wees.

“Kom hier!” beveel sy en haar moed wil-wil haar begewe as hy met ’n breë grinnik vorentoe kom en vir die res van die klas knipoog.

Sy moet op haar tone staan om die rottang van die kas af te haal en daar is ’n onderdrukte gegiggel in die klas wat die woede soos ’n golf in haar rondstoot.

Sy swaai om en kyk hulle een vir een stip in die oë. “Ek het nou oorgenoeg van hierdie kinderagtigheid gehad. Julle gaan nie op hierdie manier van my ontslae raak nie. Hoe gouer julle dit in julle koppe kry, hoe gouer kan ons met ons werk aangaan. Ek doen dit nie vir myself nie, ek doen dit vir julle! Dit is geen plesier nie, dit kan ek julle verseker.” Sy is bleek en haar asem is hortend.

Heinz von Eckenberger staan ook nou op en kom vorentoe. “Dit was my werk, Fräulein,” sê hy, baie seker van homself.

“Dit was ek gewees, Fräulein.” Johann Enke wil ook deel van hierdie teëstribbeling wees en kom staan langs die ander twee.

Christa kners op haar tande. Hulle is van die oudstes. Peter Strauss is ook in hulle groep, maar hy is so stil en eenkant, hulle moet hom altyd eers wakker skud voordat hy by is. Sy sien hoe Heinz ongemerk na Peter wink en hy kyk half verbaas na hulle deur sy vuil bril. Hy staan op en kom staan ook in die kring en Christa het ’n vermoede dat hy nie eers seker is waaroor dit alles gaan nie. Hy het lankal reeds belangstelling in die bedrywigheid verloor.

Gustav grynslag selfversekerd en kyk haar uit die hoogte aan. Die ander staan ook nader om haar te ontsenu en te intimideer.

“Nou goed, as dit al vier van julle is, dan buk julle almal,” sê sy beslis. Gustav is amper ’n kop langer as sy, maar haar woede gee haar moed en krag.

Sy vat hom agter die nek en druk sy kop met mening af. “Vat jou enkels!” beveel sy kortaf.

Hy grinnik sag en met groot vertoon vat hy sy enkels vas terwyl hy vir die ander gesigte trek sodat hulle skaterend lag.

Christa bid vir krag soos Simson van ouds. Voordat Gustav mooi besef wat aangaan, looi sy hom drie vinnige houe op sy sitvlak. Sy sien die ongeloof in sy oë as hy regop kom. Hy weet baie goed dat hy nou sal moet maak asof hy niks gevoel het nie, want anders gaan hy hierdie rondte ook verloor.

“Baie dankie, Fräulein!” Hy buig galant na haar kant toe, maar sy asem is net te kort om natuurlik te wees en die ander seuns besef dit alte goed.

Christa wag nie vir verdere reaksie nie. Sy druk Heinz se kop af en looi hom drie houe en dan vat sy Johann voordat die woede kan skiet gee. Johann se oë rek groot as die eerste hou val en hy loer verskrik om. As hulle saam met Gustav wil grootmeneer speel, moet hulle bereid wees om saam met hom gestraf te word. Sy het nou genoeg gehad.

Arme ou Peter se oë lyk soos ’n uil s’n as sy hom agter sy nek vat en sy kop afdruk. Die drie wat hy egter kry, sal skaars ’n roering op die Richterskaal veroorsaak.

Adolf von Leipsig staar verstom na die skouspel en beweeg vinnig weg van die venster sodat hulle hom nie moet raaksien nie. Hy draai om en stap diep ingedagte weg. Dit moes iets vreesliks gewees het wat haar aangespoor het tot soveel hardhandigheid. Daar is ’n vreemde respek in sy binneste. Sy kom nooit by hom kla nie en verdedig net altyd die kinders.

Hy trek sy skouers op as hy besef in watter rigting sy gedagtes loop. Dit kan hom min skeel as die kinders haar verdryf. Hy sal nie ’n oomblik se slaap daaroor verloor nie. As hulle wil teruggaan Duitsland toe, kan hulle dit met die grootste liefde doen … dit sal deur hulle eie toedoen wees. Die skool op Abendruhe het vir hom nog net ongeluk en hartseer gebring en daarmee saam die kind wat hom gedurig daaraan herinner.

Hy sug swaar. Soos meermale in sy lewe, het die noodlot dinge uit sy hande geneem en het hy geen sê in die hele saak gehad nie.

Sarah du Pisanie Omnibus 11

Подняться наверх