Читать книгу Sarah du Pisanie Omnibus 11 - Sarah du Pisanie - Страница 9

6

Оглавление

“Fräulein! Fräulein!” Die slaapnewels wyk stadig.

“Fräulein!” Die stem raak dringender en Christa raak bewus van die geskud aan haar skouer.

Sy sit verskrik regop om in Gustav se bekommerde blou oë te kyk. “Dit is Kurt … hy is siek! Kom gou!” Christa spring op en hardloop agter Gustav aan sodat die lang wit nagrok om haar voete swiep.

Kurt was naar en sy beddegoed is alles bemors. Hy is spierwit bleek en as sy met haar hand teen sy voorkop druk, is hy gloeiend warm.

“Wat makeer, ou Kurtie?” Haar stem is sag en vertroostend, en die trane blink in sy ogies. Christa druk sy kop teen haar heup vas en vryf liggies oor die blonde haartjies. “Wat het hy geëet, Gustav?” vra sy en begin die lakens aftrek.

“Niks anders as ons nie,” sê Gustav bekommerd en kyk na Kurt wat soos ’n verkluimde hoender op die kaal matras sit. Klaus, Kurt se persoonlike beskermheer, kom staan langs Christa en help die beddegoed bymekaar kry. “Hy is al die afgelope paar dae nie lekker nie. Hy wil niks eet nie en wil net die heeltyd slaap.” Die bekommernis slaan deur in die jong seunstem.

“Hoekom het julle niks gesê nie? Ons kon mos vir hom medisyne gegee het …” sê Christa en druk weer met haar hand teen sy kop.

“Frau Maria gee vir almal kasterolie in as een van ons siek is,” verduidelik Klaus kortaf en verwag dat sy dit moet verstaan.

“My nek en my kop is seer,” kla Kurt en Christa byt bekommerd aan haar lip.

“Gustav, gaan roep die baron, asseblief.”

“Nou?” vra Gustav ongelowig. Christa knik en trek Kurt se slaaphempie op om te sien of hy nie dalk die een of ander kindersiekte onder lede het nie. “Maar hy sal mos nie nou kom nie, Fräulein!” Gustav is geskok dat sy so iets kan dink.

“Natuurlik sal hy kom, sy kind is dan siek …” Kurt se magie ruk op en Christa druk die potjie voor hom in. “Ek gaan hierdie vuil wasgoed in die waskamer sit. Gustav gee solank vir hom ’n bietjie water.”

Wanneer sy terugkom, lyk Kurt steeds bleek en pap, en Gustav het nog geen aanstaltes gemaak om die baron te gaan roep nie.

“Wag, ek sal hom na my kamer toe vat en vir hom iets gaan ingee. Gaan slaap julle maar,” sê sy en tel vir Kurt op haar heup.

“Wat gaan hier aan?” Adolf staan ten volle geklee in die deur en kyk hulle kwaai aan.

“Kurt is siek. Ek vat hom na my kamer toe sodat die ander kan slaap.” Christa voel soos een van die kinders onder sy kwaai blik.

Adolf trek egter vir Kurt uit haar arms en sit hom op die grond neer. “Gaan terug na jou bed toe!” sê hy kwaai. Kurt probeer wegskarrel maar Christa hou hom terug aan sy arm.

“Hy is siek, baron. Ek vat hom na my kamer toe om hom te gaan dokter.”

Sy praat sag maar duidelik en haar oë daag hom uit.

“Hy is nie jou verantwoordelikheid nie.” Adolf draai na Gustav en sy stem is koud. “Julle weet julle moet vir Frau Maria gaan roep.” Hy beduie met sy kop dat Gustav hierdie instruksie moet uitvoer. Gustav staan dadelik op om dit te doen maar Christa se woorde dra soveel outoriteit dat hy ongemaklik vassteek. Sy sit haar arm om Kurt en stuur hom deur se kant toe.

“Dit is nie nodig nie, Gustav. Ek kan dit self hanteer.” Sy stap by ’n verslae Adolf verby en sodra hulle in die gang is, buk sy af, tel vir Kurt op en stap so waardig moontlik na haar kamer.

Adolf, wat ’n paar oomblikke lank onkant gevang is, herwin sy outoritêre houding en met ’n paar lang treë is hy langs haar. Sy hand sluit om haar arm. “Wat probeer jy doen?” sis hy tussen saamgeklemde kake deur.

Christa kyk hom uit die hoogte aan en haar oë blits woedend na sy kant toe. “Ek gaan eers die kind versorg en dan kan ons rusie maak, waar hy nie by is nie.” Daar is ’n soort genoegdoening in haar as sy die magtelose frustrasie in Adolf waarneem.

“Ek wag vir jou, juffrou. In my studeerkamer,” beveel hy, kortasem van woede. Hy bly egter in die kamerdeur staan en wag totdat sy vir Kurt gemaklik gemaak en medisyne ingegee het. Christa trek die kombers oor Kurt se skouertjies en stap kop in die lug by hom verby. Sy moet effens teen hom skuur om by die deur uit te kom.

Adolf kyk geskok na haar nagrok. “Trek vir jou aan! Ek is nie een van die groot seuns wat jy met jou listigheid kan verlei nie …”

Christa draai woordeloos om en trek ’n kamerjas aan oor die vuil nagrok, wat merke van Kurt se ongesteldheid duidelik vertoon. Sy stap voor hom uit en gaan staan in sy studeerkamer en wag voor die lessenaar. In haar is genadiglik op hierdie oomblik net ’n yskoue woede. Sy is lankal nie meer bang vir hom nie.

“Sulke gedrag sal ek nie in my huis toelaat nie,” begin hy en sy sien hoe die woede hom sy hande in vuiste laat saamknel. “Dit is laakbaar en goedkoop. Gustav is ’n groot seun!”

“Laakbaar!” Christa ontplof skielik. “Is dit laakbaar om ’n siek seuntjie te help? Die seuns is net seuns … kinders! Hulle soek nie altyd iets boos en vuils in alles nie. Jou kind is siek!” Sy beduie met ’n skraal vinger onder sy neus. “Maar wat gee jy om? Hulle almal … Kurt inkluis, is mos net uitvaagsels, weeskinders vir wie daar in niemand se huis of hart plek is nie. Weerlose kinders op wie jy en die ou Kommandant al julle haat en frustrasie kan uithaal!”

Hy is skielik hier by haar en sy hande sluit om haar skouers en dan skud hy haar wild heen en weer. “Wat weet jy van my af? Jy gedra jou soos ’n slet! Jy dink ek weet nie wie jy is nie? Jy is daardie sleepsel waarmee Kurt hom destyds hier kom vermaak het. Jy het natuurlik gedink dit is hy wat hier in beheer is, dat jy jou verhouding met hom kan hervat … Dit is hoekom jy hierheen gekom het!” sê hy triomfantlik.

Christa is nou ook by alle grense van versigtigheid verby. Sy ruk haar wild uit sy greep los. “Dit was nie een van hierdie kinders se skuld dat daar ’n oorlog was nie. Hulle het ook nie gevra om weeskinders te wees nie. Nie eers ’n dier gooi sy kind weg soos wat jy maak nie. Buitendien het hulle liefde nodig, nie jou simpel dissipline nie!”

Hy staan dreigend nader en die aggressie in hom is oorweldigend. Christa retireer ’n entjie. Daar is ’n wit kring om sy mond. “Jou klein slet … julle is almal …”

Die klap klink soos ’n geweerskoot en Christa voel hoe gloei haar hand en sien met verbasing die rooi hou teen sy wang.

“Loop onder my oë uit, voordat ek beheer oor myself verloor!” sis hy afgemete. “Bernard sal jou môre stasie toe vat.” Hy stap tot by die deur en maak dit oop terwyl hy ingehoue wag dat sy moet uitgaan.

Haar bene dra haar outomaties terug kamer toe, terwyl haar verstand niks registreer nie. Christa gaan sit verslae langs die koorsige kind. Adolf se neerhalende woorde hang wreed om haar, hier in die stil vertrek waar net die kind se harde asemhaling hoorbaar is. Dit maak haar bewend van ontsteltenis. Sy sug diep. Dan het hy haar tog daardie eerste dag al herken!

Teen die volgende oggend is klein Kurt gloeiend van die koors. Sy spons die warm lyfie af maar dit help niks. Die vrees bekruip haar en kom sit wydsbeen op haar skouer. Kurt praat deurmekaar en dit is na Klaus wat hy in sy koorsdrome roep, nie na sy ma of pa nie. Christa wonder waar die kind se ma is, sy is seker dood! Geen vrou sou so ongevoelig wees nie. Maar niemand praat oor haar nie.

Christa gaan nie af vir ontbyt nie maar haal solank haar tasse af en begin haar goedjies inpak. Agtuur is daar ’n kloppie aan die deur. Bernard staan soos altyd kiertsregop voor die deur maar sy oë is troebel van bekommernis. Voordat Bernard nog iets kan sê, het sy haar arms om sy nek geslaan en haar kop teen sy skouer vasgedruk.

Haar skraal liggaam ruk liggies. “Hy is so siek, Bernard! Ek kan hom mos nie so hier los nie. Wie gaan na hom kyk?” snik sy.

Bernard kom vinnig die vertrek binne en maak die deur agter hom toe. Hy stap na die bed en kyk bekommerd af op die koorsige gesiggie.

“Die baron het aan die ontbyttafel gesê dat Fräulein teruggaan. Hy het geen rede verskaf nie en die kinders is hewig ontsteld. Hulle het gevra dat ek moet kom uitvind wat aangaan.”

Christa vertel kortliks en Bernard skud met sy kop in magtelose frustrasie.

“Ons móét ’n dokter kry, Bernard. Hy is baie siek!” Christa kyk pleitend na Bernard terwyl haar hand weer op die kind se voorkop rus.

“Ek sal gaan kyk watter medisyne daar is.” Bernard maak of hy nie die nood in haar stem hoor nie.

“Bernard, dit is nie ’n gewone verkoue of maagaandoening nie. Hierdie kind is siek! Hoekom glo julle my nie?”

“Wat … wat sê die baron?” vra hy sonder om haar in die oë te kyk.

“Medisyne gaan nie help nie. Ons moet weet wat hy makeer. Ek sal self vir die baron gaan sê om ’n dokter te kry as jy dit nie wil doen nie.” Haar hart klop soos ’n voorhamer in haar borskas. Aan die uitdrukking op Bernard se gesig kan sy sien dat hy min hoop het dat sy iets sal regkry.

“Ek kan nie verstaan dat ’n mens so harteloos kan wees teenoor jou eie kind nie,” wonder sy hardop. “Bloed is tog dikker as water en ’n mens se eie kind …”

Bernard kyk verbaas na haar. “Maar Kurt is nie die baron se kind nie! Het Fräulein dit nie geweet nie?”

Christa gaap hom oopmond aan en sak verslae op die kant van die bed neer. Haar oë is so groot soos pierings. “Wie … wie se kind is hy dan?” vra sy sag, amper fluisterend.

“Sy broer s’n. Eintlik sy halfbroer, Kurt.”

Christa is sprakeloos. Dan moet Kurt al getroud gewees het toe sy hom destyds op Swakopmund ontmoet het. Geen wonder Adolf dink sy is ’n slegte vrou nie, flits dit geskok deur haar verstand.

Bernard sug soos ’n ou man. “’n Mens kan die baron nie kwalik neem dat hy so oor klein Kurt voel nie. Hy … e … hy het al baie swaar gehad en die kind … die kind herinner hom gedurig aan daardie tyd en … en aan haar.”

“Bernard …” Christa vat hom aan die arm en haar oë is smekend. “Vertel my asseblief die hele storie sodat ek nie nog onwaarhede kwytraak nie,” pleit sy.

“Die baron was nooit so nie! Hy is ’n vriendelike, goeie mens. Hy was altyd vol lewenslus en gereed om almal te help. Sy eie ma is dood toe hy nog baie klein was en sy pa is toe weer getroud, toe hy omtrent klein Kurt se ouderdom was. Hy en sy halfbroer verskil heelwat. Seker sewe of agt jaar. Hulle was goeie vriende en sy stiefma was baie lief vir hom. Hy was so verdraagsaam met Kurt en het hom vreeslik bederf. Die ou baron en Kurt se ma moes hom gereeld vermaan.”

Christa sit gespanne vorentoe om alles woord vir woord in te neem.

“Frau Von Leipsig, Kurt se ma, was ’n pragtige mens. Sy het baie mooi gesing en was een van die bekendste sangers in Duitsland en die hele Europa. Op haar aandrang het die ou baron die skool op Abendruhe gebou waar begaafde seuns musiekopleiding kon ontvang. Hulle is baie streng gekeur en dit was net die room van Duitsland wat die voorreg gehad het om daar te studeer. Die kinders het van jongs af, ses, sewe jaar afhangende van hulle talent, reeds die skool bygewoon.

“Sy het dit seker maar vir Kurt gedoen. Hy het baie mooi gesing en sy ma was vreeslik trots op hom. Adolf het geen sinnigheid daarvoor gehad nie, ook nie juis talent nie.”

Bernard haal ’n slag diep asem soos een wat nie gewoond is om so baie te praat nie, en Christa hoop dat hy tog nie nou ophou voordat sy die hele verhaal gehoor het nie.

“Frau Von Leipsig is oorlede toe Kurt seker so sestien jaar oud was. Die ou baron het steeds die skool onderhou, maar was voortdurend op soek na goed opgeleide personeel. Toe kom daar ’n nuwe onderwyseres op Abendruhe aan. Sy het vioollesse gegee. Fräulein Karla. ’n Pragtige dingetjie met lang blonde hare en groot helderblou oë. Meneer Adolf was van die eerste dag af smoorverlief op haar en het dit geensins probeer wegsteek nie. Meneer Kurt was toe al in die weermag en hy het haar eers ontmoet toe sy en meneer Adolf al verloof was.”

Bernard sug, en Christa besef dat hy net so swaar aan hierdie las dra as Adolf self. “Toe kom kuier meneer Kurt. Aantreklik en sjarmant in sy uniform.” Christa kyk voor haar op die grond. Haar hart pyn … sy onthou presies hoe aantreklik hy was in daardie uniform.

“As … as iemand tog maar liewer vir meneer Adolf gesê het dat die twee op mekaar verlief geraak het, sou hy dit kon verwerk het. Dit … dit was egter twee weke voor hulle troue dat hy hulle in mekaar se arms betrap het en toe … toe was sy alreeds swanger met klein Kurt.” Bernard se stem klink so hartseer en gepynig. Dit vind weerklank in Christa en op hierdie oomblik is daar net een groot oorheersende gevoel van jammerte in haar binneste.

“Iets het in meneer Adolf doodgegaan. Hy het so hard en verbitterd geword en alles wat enigsins met die skool te doen gehad het, het hy verag. So … so asof hy daardie deel van Abendruhe heeltemal uit sy lewe wou sny.”

“En Kurt en die … e . . Karla … waar is hulle nou? Hoekom is hy dan hier?” vra Christa en beduie met haar kop na klein Kurt.

“Dood! Die oorlog het meneer Kurt se lewe geëis en Karla is dood met sy geboorte.”

“Ag, Bernard, hoe vreeslik!” Die trane loop ongehinderd oor Christa se wange en Bernard kom sit eenkant op die bed en vryf saggies oor Kurt se warm handjie.

“Ja … die oorlog het baie geëis. Al hierdie kinders se ouers en die ou baron ook … alles wat vir ons dierbaar was. Abendruhe is so verwoes dat ons nie daar kon aanbly nie. Die kinders was reeds so ontwrig en almal het gevoel dat … dat dit beter sou wees dat die kinders hierheen kom solank hulle die skool restoureer. Dit sal seker ’n paar jaar neem voordat ons kan teruggaan.”

Christa laat sak haar kop in haar hande. As sy net nie so haastig was met haar oordeel nie, dan kon sy hier aangebly het om liefde en begrip uit te deel aan hierdie oorlog-suf mense wat reeds hulle kwota van pyn en lyding gehad het. Arme Adolf! ween haar hart.

Bernard stap stil by die kamer uit en kom ’n rukkie later met ’n bottel medisyne terug. Christa kyk daarna maar skud dan haar kop liggies. “Sal jy ’n bietjie hier by hom bly, Bernard? Ek moet die baron gaan sien.”

Hy knik en sy stap vinnig die gang af voordat haar moed haar begewe. Haar maagspiere trek op ’n knop as sy aan die deur klop, maar daar is geen antwoord nie. Sy draai bekommerd om en stap deur na die kinders se slaapvertrek om uit te vind of een van hulle weet waar die baron is.

Hulle is egter nie daar nie, maar wel in die klaskamer, besig met leeswerk. Almal spring op en kom drom om haar saam as sy in die deur verskyn. Hulle probeer almal gelyk praat en Gustav druk hulle weg en kom staan voor haar. “Fräulein, die baron sê u gaan terug …?” sê-vra hy bekommerd.

Christa knik woordeloos en Heinz druk vorentoe. “Fräulein, is dit oor ons … omdat ons so stout is?” die trane spring in Christa se oë en sy maak albei haar arms oop en druk ’n bondel van die seuns wat die naaste aan haar staan, styf teen haar vas.

“Nee! Nee, dit is nie oor julle nie. Dit is iets wat ek self gedoen het,” sê sy gesmoord.

“Dink … dink die baron Fräulein kan nie die dissipline handhaaf nie?” vra Peter bekommerd.

Christa laat gaan van die seuns en trek vir Peter nader. Sy haal sy bril af en soek na haar sakdoek in haar sak. “Nee, ou Peter! Ek foeter julle dan sommer self, hoe sal ek nou nie dissipline kan handhaaf nie.” Sy vryf die bril skoon en sit dit weer op sy oë. Sy probeer opgewek lyk, maar die trane sit vlak agter haar oë.

“Hoe … hoe gaan dit met Kurt, Fräulein?” vra Klaus bekommerd. Christa vee oor haar gesig en die bekommernis is sommer weer ’n deel van haar. “Hy is baie siek …” sê sy sag, sonder om die kinders valse hoop te gee. Die kinders staar geskok na haar. “Ons … ons sal ’n dokter moet kry. Weet een van julle waar die baron is?” vra sy.

“Ons sal hom gaan soek …” Gustav neem oor en van die seuns hardloop in verskillende rigtings.

Bernard is stil en bekommerd as sy terugkom kamer toe. Die kind haal hortend asem en hy gloei soos ’n kool vuur. Bernard is onwillig om Christa alleen met die siek kind te los, maar sy ander pligte moet ook gedoen word.

Skaars vyf minute later is Klaus daar. “Die baron is op pad, Fräulein. Hy was by die stalle.” Hy praat met haar maar sy oë bly onafgebroke op Kurt gerig.

“Dankie, ou Klaus. Kom sit ’n bietjie hier by hom sodat ek die baron kan gaan sien.” Sy stap vinnig uit as Klaus langs Kurt kom sit en sy warm handjie in syne vat.

Christa klop hard aan die studeerkamerdeur. “Binne!” Sy lig haar ken en gaan staan so waardig moontlik voor die lessenaar. Haar oë kyk by hom verby en sy hou haar stem koud en onpersoonlik.

“Kurt is baie siek! Sal u asseblief ’n dokter kry om hom te kom ondersoek,” vra sy kortaf.

“Hy het sekerlik net iets verkeerds geëet. Sê Frau Maria moet hom iets ingee.” Hy gaan met sy werk aan asof die saak afgehandel is.

“Sal u dan asseblief self na hom kom kyk, sodat ek nie sy dood op my gewete hoef te hê nie?”

“Ag, juffrou, staak tog die melodrama. Dit gaan niks aan my besluit verander nie,” antwoord hy neerhalend. Christa draai woedend om en die magteloosheid vou soos ’n kombers om haar as sy by sy kantoor uitstap.

Skielik neem sy ’n besluit. Beslis stap sy terug na die klaskamer en skryf ’n briefie terwyl die kinders haar woordeloos dophou.

“Gustav, gaan gee asseblief vir Lukas hierdie nota. Hy moet dit dringend vir die dokter op Tsoabis gaan gee.”

Die kinders vra nie verder uit nie en Christa voel effe verlig toe sy, kort ná sy terug is in haar kamer, sien hoe Lukas haastig te perd by die hek uitry.

Christa spons die koorsige liggaampie af en gee vir hom nog medisyne in, maar die koors wil net nie breek nie. Haar tasse staan halfgepak maar op hierdie oomblik dink sy nie eers daaraan om daarmee klaar te maak nie.

Sy is jammer dat sy vir Klaus weer laat teruggaan het klaskamer toe. Een van hulle sal by haar moet kom sit sodat sy hulp kan hê. Sy is bang! Bang vir die koors wat hierdie klein ou seuntjie so laat ly en sy lewensdraad so maklik kan afknip.

Na ’n rukkie sluimer hy ’n oomblikkie in en sy hardloop so vinnig as wat sy kan klaskamer toe en roep vir Klaus. Sy sou graag eerder vir Gustav daar wou hê, maar dis beter dat hy die ander stil hou.

Sodra Klaus weer langs Kurt op die bed plek inneem, stap sy af kombuis toe. Sy sal ’n koorsstroop gaan kook wat haar ma altyd vir hulle gemaak het. Sy gee egter eers duidelike instruksies. “Jy roep as iets verkeerd is, Klaus, al skree jy ook die gebou se dak af. Ek gaan net gou ander medisyne kry.”

Frau Maria gluur haar aan wanneer sy die kombuis binnekom en is heeltemal onwillig om aan enige van haar versoeke gehoor te gee. Christa swaai om en stap vasbeslote studeerkamer toe, al moet sy hom met ’n hamer teen sy kop slaan …

“Fräulein, Fräulein!” Klaus se gille weergalm deur die huis. Christa verloor haar een skoen en haar bene is tot by die knieë kaal as sy haar rok hoog oplig om vinniger te kan hardloop. Oral in die huis gaan deure oop, maar sy het nou net een doel voor oë en dit is om by Kurt te kom.

“Fräulein!” Klaus se vreesbevange stem laat haar voel of sy stilstaan. Sy storm by die kamer in en is vaagweg bewus van ander mense langs Kurt se bed. Haar oë is egter net op die kind self gerig, op sy liggaampie wat spasties ruk en weer slap word.

“Stuipe!” Die woordjie ontsnap tussen haar lippe deur en hang soos onweer in die lug.

“Koue water! Tap koue water in die bad!” Sy gee instruksies aan niemand in besonder nie en lig Kurt se kop op, steek haar vinger in sy mond en rem sy tong uit. Hy byt haar vingers maar sy is nie eers bewus daarvan nie.

“Help my!” gil sy oor haar skouer. “Trek sy klere uit!” Alles is flitse, losstaande sinne, mense sonder gesigte. Iemand is langs haar en twee sterk hande skeur die nagklere van die stuiptrekkende kind af. Sy probeer hom optel maar hy ruk en bewe in haar arms en dan vat dieselfde paar hande die kind by haar en hou hom stewig vas. Adolf kyk verslae na haar en wag soos ’n kind op verdere instruksies.

“Badkamer!” Hulle beweeg langs mekaar, haar hande ondersteun die kind se kop.

Daar is nog net ’n lekseltjie water in die bad en dit lyk of Bernard die water met brute geweld uit die kraan wil pers.

Christa beduie dat Adolf sy arms moet laat sak sodat Kurt in die bad kan lê. Sy skep handjies vol water en gooi dit oor die koorsige liggaampie. Adolf ondersteun die kind se kop met die een hand en met die ander help hy om water oor die kind te spat.

Bernard kry ’n oomblik van helderheid in sy geskokte toestand en hou sy hand onder die kraan sodat die water op die kind se rukkende lyfie kan spuit.

Stadig bedaar die wilde stuiptrekkings. Die ogies hou op met rol en staar moeg en smekend in Christa se rigting. Sy lig die kind uit die water en druk die nat lyfie styf teen haar vas terwyl groot trane onbeskaamd oor haar wange rol.

Adolf kyk verleë na haar. Hy het regtig nie gedink die kind is so siek nie. Kurt kon doodgegaan het! Die verwyt vreet in sy binneste en hy kan haar nie nou in die oë kyk nie. “Ek … ek sal dadelik die dokter gaan haal,” stel hy ongemaklik voor.

“Ek het hom reeds laat kom. Ek het vir Lukas gestuur,” sê sy stil. Sy lê Kurt op die bed neer en droog hom af. Klaus is nêrens te sien nie. Bernard staan handewringend eenkant en van sy kenmerkende stywe houding is daar vandag geen sprake nie.

“Bernard, sal jy asseblief vir hom ander nagklere gaan haal? En … stel tog die kinders gerus. Arme Klaus het hom nou uit sy wese uit geskrik.”

Adolf draai ongemaklik rond. Hy weet nie wat om te doen of te sê nie, maar hy weet net hy wil haar nie nou alleen los nie. Hy gaan staan dus eenkant, half weggesteek agter die deur.

“Fräulein?” ’n Bang stemmetjie laat hulle na die deur kyk. Klaus se blonde haartjies is deurmekaar en die skrik lê oop en bloot in die groot blou oë. “Is … is hy dood, Fräulein?” begin hy onbeheersd snik.

Christa hou haar arms na hom toe uit en soos ’n bang kind kom staan hy styf teen haar.

“Nee, Klausie, hy is nie dood nie.” Sy gee hom ’n groot druk. “Hy het net ’n aanval gehad.”

“Dit is alles my skuld!” snik Klaus. “Hy het wakker geword en toe sê ek vir hom dat Fräulein weggaan en toe … toe word hy so snaaks …”

Adolf, wat nog steeds half verlore op die agtergrond staan, kyk verstom na die jong seun, al twaalf jaar oud, wat sy arms om Christa slaan terwyl sy hom liggies heen en weer sus.

“Shh! Dit is nie jou skuld nie. Dit is niemand se skuld nie. Hy het koorsstuipe gekry.” Sy paai hom saggies en vryf die blonde haartjies teer agtertoe en druk ’n soen op sy sproetneus.

Bernard kom die kamer binne met skoon nagklere en Christa maak haar arms om Klaus los. “Kom, help vir my, dan trek ons vir hom skoon nagklere aan. Die dokter sal nou hier wees en dan sal hy sommer gou gesond word.”

Klaus staan gewillig nader, dankbaar om iets vir Kurt te kan doen. Hy snuif en vee sy neus aan sy hempsmou af. Die tipiese seunsgebaar maak iets sags in Adolf wakker. Foei tog! Sy is reg, hulle ís nog net kinders. Hulle is al só ontwrig in hulle ou kort lewetjies en dan hou hy hulle verantwoordelik vir Karla en Kurt se sondes! dink hy skaam.

Daar is ’n beweging by die deur en dan loer die ander seunsgesigte verskrik na binne. Adolf staan onbewustelik nog ’n treetjie terug sodat hulle hom nie moet sien nie.

“Fräulein … Hoe gaan dit met hom? Ons het Klaus gehoor gil en toe ons hier kom, het … het hy so snaaks … gelyk.” Sy stem breek effens.

“Hy is baie beter, Gustav. Kom in en kom kyk self,” nooi sy vriendelik en staan opsy sodat hulle langs Kurt se bed kan staan.

Toe eers raak Gustav bewus van Adolf te teenwoordigheid en dadelik verstyf hy. Daardie kenmerkende ongemaklike stilte is skielik weer in die vertrek en Christa draai vinnig om. Adolf staan nog steeds doodstil hier skuins agter haar. Sy het eerlikwaar gedink hy is al uit.

“Eks- … ekskuus, baron!” stotter Gustav. “Ons … ons wou net sien hoe … hoe dit met Kurt gaan. Ons sal dadelik gaan.” Gustav druk die kinders deur se kant toe om hulle uit te kry.

Adolf wil hulle keer, maar die stugheid van jare maak dat hy geen woord kan uiter nie. Hy frons en dit ontstel die kinders nog meer. Voordat Christa kan keer, is hulle almal, Klaus inkluis, uit by die deur.

Christa kyk verwytend na Adolf en sug moedeloos. Sal niks hom ooit weer menslik kan maak nie? wonder sy swaarmoedig. Adolf sien die verwyt in haar oë en wil homself verdedig, maar lig dan net sy hande in ’n moedelose gebaar en stap vinnig by die deur uit.

Hy gaan sit diep ingedagte agter sy lessenaar. Daar het vandag in ’n kort tydjie soveel dinge met hom gebeur. Hy het soveel emosies ervaar! Die jare rol terug en hy beleef weer daardie tyd vyf, ses jaar gelede. Die ontnugtering, die vreeslike teleurstelling en eensaamheid. Die groot alleenheid in hom wat hom sou verswelg.

Hy vryf oor sy oë as Kurt se gestalte helder in sy geestesoog opgetower word. Laggend en met geen bekommernis in hierdie wêreld nie. Hy het van die een meisie na ’n ander geswerf, almal meestal van redelik ongure karakter. Meisies wat daarna blatant kom eise stel het om hul stilswye te koop. En Kurt het doodeenvoudig voortgegaan met sy lewe asof niks gebeur het nie … dit terwyl hulle klein Kurt alleen op Abendruhe moes grootmaak!

En sy, Christa van Graan, was een van hulle … so het hy destyds gedink. Daar was net iets aan haar … haar oë, haar houding? Iets het hom egter dadelik laat besef wie sy is. Skielik pas sy glad nie in daardie kategorie in nie. Sy is heeltemal anders … so, so edel en mooi van binne. Sy gee liefde met soveel oorgawe en oortuiging aan hierdie klomp weeskinders wat haar siel uittrek en haar teen die mure moet uitdryf.

Hy vryf ongemaklik oor sy oë. Die trane het oor haar wange gerol toe sy klein Kurt uit die bad getel en sy nat liggaampie styf teen haar vasgedruk het. Hy vee onwillekeurig oor sy wang waar sy hom gisteraand geklap het. Het hy hom nie dalk baie lelik misgis nie? Miskien …

Daar is ’n ligte kloppie aan sy deur en op sy bevel kom al die seuns, met Gustav vooraan, sy kantoor binne. Die ander skuil agter die groot seun en Adolf sien die vrees op sy gesig.

“Baron …” Gustav lek oor sy droë lippe. “Dit … dit gaan oor Fräulein …!”

Adolf frons liggies, en Gustav gaan vinnig voort. “Dit is alles ons skuld. Fräulein verkla ons nooit by u nie. Ons het al vreeslike goed aangevang want … want ons … wou gehad het sy moet teruggaan. Ons wil nie meer hê sy moet weggaan nie. Ons … weet nie waaroor baron vir haar kwaad is nie, maar … maar ons weet dit sal ons skuld wees. Dit is ek wat haar laas nag gaan roep het toe Kurtie siek geword het. Ek het geweet ek moet vir Frau Maria gaan roep maar …” Gustav laat sak sy kop, skielik skaam oor sy stortvloed woorde.

“Maar Frau Maria gee sommer vir almal kasterolie as een van ons siek is,” help Heinz vir Gustav.

“En … en dit is ek wat die haan in die meelblik gesit het,” sê Carel, sy groot blou oë vol selfverwyt.

“Ja, baron … en ek het hom gehelp,” voeg Niko by en kruip veiligheidshalwe agter Gustav weg.

Adolf kyk ongelowig na die seuns wat, ongeag die straf wat hulle kan kry, haar so vreesloos kom verdedig.

“Sy kán dissipline handhaaf, baron … regtig! Sy foeter ons self,” sê Johann en vryf sy sitvlak. “En sy slaan soos ’n man!”

Adolf vee vinnig oor sy mond want hy het eensklaps lus om kliphard vir die kinders se stories te lag. As hy nie self gesien het hoe looi sy hulle nie, sou hy dit nooit geglo het nie.

“Sy kry ons kort-kort terug, baron. Sy doen dit net op haar eie manier. Die oggend wat ek die geitjie onder haar servet gesit het … het sy dit in my bord pap gegooi!” Gustav ril liggies en Adolf moet sy kieste met mening vasbyt.

Hy haal diep asem en kyk die seuns een vir een deur. “So waaroor is hierdie boetedoening?” vra hy en probeer sy stem so onbetrokke moontlik hou.

“Ons … ons wil u mooi vra om haar nie weg te stuur nie,” pleit Gustav en kyk voor hom op die grond.

“Ons … ons sal baie soet wees, baron, ons belowe!” Udo steek sy vinger in sy mond en hou dit dan in die lug, soos hulle altyd maak as hulle iets ernstigs sweer.

Adolf kyk na die horlosie teen die muur en sug van verligting as hy sien daar is vir hom ’n uitkomkans. “Dit is nou te laat. Die trein is al weg en daar is nie ’n trein voor oor twee dae nie,” antwoord hy en sy stem klink glad nie so kwaai soos gewoonlik nie.

“Kan … kan sy dan maar bly … vir ewig!” vra Stefan en sy tweelingbroer kyk hom met dieselfde smekende uitdrukking aan.

“Wel … aangesien julle nou vir my vertel het wie die eintlike sondaars is, kan ons haar nog ’n kans gee. Onthou, net één misstap van julle …!” Maar die kinders is so bang vir hom dat hulle nie eers die tergende klank in sy stem hoor nie. Hulle knik net gedwee en Gustav du hulle vinnig deur se kant toe en beduie met sy vinger op sy mond dat hulle nie nou aan die vreugde in hul binneste moet uiting gee nie.

Adolf voel soos die bose ou paaiboelie van die Swartwoud. Die kinders is doodbang vir hom en dit is alles deur sy eie toedoen. Hy het skielik ’n vreemde behoefte om ook sy arms om hulle te sit en hulle styf teen hom vas te druk, soos sy vroeër gedoen het.

Gustav stuur die kinders klaskamer toe en sluip dan saggies na Christa se kamer. “Fräulein …” Hy loer eers vinnig oor sy skouer voordat hy by die deur inglip.

“Is die dokter al hier?” vra Christa en die bekommernis is nog steeds in haar stem.

“Ek weet nie, Fräulein, ons was by die baron …”

“Hoekom?” vra sy afgetrokke. Kurt oorheers al haar gedagtes.

“Ons het vir die baron gaan sê dat dit alles ons skuld was … en dat hy nie vir Fräulein moet wegstuur nie.” Gustav kyk skaam na sy voete.

“En …?” Christa se stem is sarkasties. Hy sou hulle tog net met ’n afjak weggestuur het.

“Hy … hy sê die trein is al weg en Fräulein kan bly … dan moet ons net soet wees.” Gustav gaan vinnig voort wanneer dit vir hom lyk asof Christa hom dalk nie glo nie. “En … hy het nie eers met ons geraas oor alles wat ons gedoen het nie …”

“Het julle tog nie al julle sondes loop staan en uitblaker nie?” vra Christa ongelowig.

“Ons moes! Ons het gedink hy stuur vir Fräulein weg omdat Fräulein nie die nodige dissipline kan handhaaf nie. Ons weet mos hoe belangrik dit vir hom is.”

Christa trek hom nader en slaan haar arm om sy een skouer. “Julle is so dierbaar,” sê sy met ’n snik in haar stem.

Adolf en die dokter kom by die oop deur in en Gustav kyk verskrik op. Hy het die baron nou net belowe hulle sal nie weer oortree nie en nou het hy dit al klaar weer gedoen.

Christa sien hoe verbouereerd hy is en stuur hom deur se kant toe. “Laat hulle maar buite speel, Gustav. Hulle is te bekommerd oor Kurt, hulle sal in elk geval niks inneem nie,” sê sy so natuurlik moontlik.

Christa staan gespanne en wag dat die dokter vir Kurt ondersoek. “Longontsteking!” diagnoseer hy en loer oor sy bril na haar. “Ek dink dit sal die beste wees as ek hom saamneem hospitaal toe.”

“Ag, nee!” Christa praat voordat sy dink. “Hy gaan bang wees, so op sy eie. Kan … kan hy nie maar hier bly nie?”

Die dokter glimlag en kyk na Adolf. “En wat sê die pa?” vra hy. “Die kind sal goed opgepas moet word.”

“Die baron is nie sy vader nie, dokter. Kurt is sy broerskind,” verduidelik Christa stil en loer skrams na Adolf, asof sy nou weet wat die waarheid is en dat sy jammer is.

Sy sien die verbasing op sy gesig en die bloed stoot dofrooi in haar wange op. Hy kyk vraend na haar, maar sy laat sak haar kop in skaamte. Sy het al weer haar grense oorskry.

“As ons baie mooi na hom kyk, kan hy dan maar bly?” vra Adolf nederig en voel verleë oor die dankbaarheid wat uit haar oë straal wanneer sy vinnig opkyk.

“Goed dan! Julle sal baie mooi oor hom moet waak. Hy mag nie weer so ’n aanval kry nie. Julle sal die koors moet afhou.” Hy gee vir Kurt ’n inspuiting en los medisyne langs sy bed.

Adolf stap saam met die dokter na buite en Christa sit nog ’n rukkie by Kurt totdat hy in ’n rustige slaap wegdommel. Sy kam haar hare en stap af klaskamer toe. Sy wil net die kinders gaan gerusstel. Maar daar is geen sterfling nie en dit is toe sy omdraai dat sy haar trompop teen Adolf vasloop.

Sy hande gaan instinktief uit en sluit om haar skouerknoppe. Hulle voel hard en gespierd deur haar dun rokkie.

Christa kyk vinnig op in die blou oë wat haar nou so nederig, so verskonend aankyk. “Ek wou kom kyk wat maak die kinders,” sê sy gesmoord. Skielik is alles wat hy haar laas nag toegesnou het weer koggelend in haar gedagtes en dit maak ’n verlate seer in haar binneste wakker.

“Hulle speel daar onder by die dam.” Adolf se stem is sag. “E … juffrou …” Adolf wil haar om verskoning vra, maar Christa draai vinnig onder sy hande uit en stap terug. Hoekom sy nabyheid en die wete dat hy nog al die jare so ’n lae dunk van haar het, haar skielik so ontstel, kan sy nie verklaar nie. Sy sal dit later bepeins want nou is sy te moeg om enigiets te probeer ontleed.

Sarah du Pisanie Omnibus 11

Подняться наверх