Читать книгу Truitjie roer my nie - Schalk Bezuidenhout - Страница 10
Die begin, deur Erns
ОглавлениеIn April 2015 was ek ’n lid van die Fiësta-paneel, wat shows by al die groot Afrikaanse kunstefeeste bywoon en beoordeel vir die jaarlikse Fiëstas, ’n spoggeleentheid wat op kykNET uitgesaai word.
Ek is ’n bietjie van ’n paneeldier. Hoewel ek vergaderings meestal vervelig vind, geniet ek ’n stukkie eerlike kunskritiek, en die oud-Huisgenoot-joernalis binne my hou van ’n brokkie skinder oor teaterproduksies en akteurs agter geslote deure.
Ek het al in paneelvergaderings gesit waar trane – van sowel lag as huil – en soms amper bloed gevloei het. “The emotions run so high because the stakes are so low,” het iemand gesê oor kantoorpolitiek in die wandelgange van die akademie. So is dit ook soms met panele. Iemand, wie se naam ek nie sal noem nie, het op ’n keer tydens ’n paneelvergadering by ’n kunstefees ’n produksie, wat ek ook nou nie by die naam sal noem nie, beskryf as “benede Godshaat”. Ek kan nie aan ’n ander frase dink wat meer verwerplik is nie.
Hoewel die Fiësta-paneel streng gesproke nie vergaderings het nie – almal kyk debuutproduksies by die verskillende feeste en stem dan later anoniem – word daar baie oor produksies gesels. As paneel kloek ons ook nogal dikwels saam na venues om produksies te kyk met ons gratis toegangskaarte.
Die Fiësta-paneel is een van die fees-gigs met die beste perks: gratis reis, verblyf, etes en kaartjies na van die beste – en soms helaas goorste – nuwe shows by die groot kunstefeeste regoor die land.
Wat wel erg is van die Fiëstas – en ek weet jy kan nou vir my vra: “Brêg jy of kla jy?” – is dat ’n mens elke dag so baie shows kyk. Soms pak ons sommer vier shows ’n dag in, soms naby aan dertig produksies binne ’n week. Jy raak later oorgestimuleer, moeg, selfs gatvol.
So het ek gevoel een Sondagaand so net voor agtuur, vroeg in April, by die KKNK: gatvol. Ek was by die ATKV Neelsie-teater en het gekyk na my lysie shows wat voorlê: Schalk Bezuidenhout Lewendig was volgende aan die beurt. ’n Stand-up-komedievertoning. Ek het onthou dat ek vroeër die dag by die Sarie-feesvenue ’n A1-plakkaat teen ’n lamppaal gesien het van ’n jong outjie met krulhare, ’n snor en ’n kleurvolle truitjie. Ek het net so skrams van die poster kennis geneem, en my gedagtes was: Wie’s hierdie? Hy lyk baie jonk. Hy lyk ’n bietjie soos die Boere-weergawe van Borat.
As paneellid van die Fiëstas moet jy by al die debuutproduksies uitkom, maar soms weet jy voor jou siel ’n produksie staan nie ’n kans om daardie gesogte beeldjie te wen nie. Sommige genres val deur die krake, of pas nie in ’n spesifieke kategorie nie. Stand-up-komedie is beslis so ’n voorbeeld.
Die res van die Fiësta-paneel was op pad om Nicola Hanekom se produksie In glas te gaan kyk – party paneellede vir ’n tweede keer. Panele LOVE Nicola Hanekom se werk. En hoekom nie? Dis immers veelbekroonde, intense en selfs grensverskuiwende teater. Ek kon egter later in die week ook na In glas gaan kyk, en het voor ’n keuse gestaan: Ek kon nou teruggaan hotel toe (ek het nog ’n Weg-artikel gehad om klaar te maak oor ’n vaart op ’n plesierboot), iewers anders iets gaan eet en ’n glas wyn drink, of in hierdie tentjie langs die Neelsie-teater gaan sit en na ’n onbekende Afrikaanse stand-up-komediant kyk.
Ek het op laasgenoemde besluit. (Ek vang myself soms uit dat ek aan ander moontlike uitkomste dink – hoewel dit ’n futiele oefening is. Wat sou gebeur het of nie gebeur het as ek nie vir Schalk sien optree het daardie aand nie?)
Ek het die tent binnegestap en was bly om ’n paar lede van die KKNK se Kanna-paneel – onder andere Deon Maas en Danie Marais – ook daar te sien sit. As daar nou twee mense is wie se opinies ek geniet – waarskynlik omdat hulle albei op sulke radikaal verskillende maniere passievol is oor hul standpunte – is dit Deon en Danie s’n.
Ek gaan sit toe by hulle, ’n minuut voor die vertoning begin. Die tent het ’n baie klein verhogie gehad. Daar was seker so vyftig mense – glad nie sleg vir ’n stand-up-debuutproduksie by die fees nie.
’n Vrouestem het vir Schalk aangekondig: “Dames en here, ek hoop u is vanaand hier om uself te geniet! Schalk Bezuidenhout is ’n jong opkomende komediant wat vanjaar by die KKNK in sy eerste Afrikaanse eenmanvertoning debuteer. Hy is jonk, funky, snaaks en die bonus – hy is Afrikaans! Skakel asseblief u selfone af, sit agteroor en verwelkom op die verhoog … Schalk Bezuidenhout!”
Schalk het op die verhoog verskyn – hy het nou vir my selfs meer na Borat as Borat self gelyk. Toe sê hy: “Ma kan maar gaan sit.” Niemand het verwag sy ma staan agter die verhoog nie. Maar daar stap sy uit en gaan sit lekker voor. Net ’n rêrig cool ma sal so iets saam met haar seun doen.
Daar is wel ook uncool ma’s wat sulke goed doen, moet ek dadelik toegee. Soos ma’s wat hul telge in kindersterretjies wil inboender en hulself onmisbaar maak in die komplekse dinamika van ondersteuningsbasis én genadelose narsissistiese slawedrywer … Maar sy ma het nie na só iemand gelyk nie, en Schalk was darem al uit die skool, hoewel hy vir my nog nie heeltemal mondig gelyk het nie. Ek sou eers ná die show uitvind hy’s maar twee-en-twintig jaar oud.
Laat ek net gou iets bieg, voor ek vertel van Schalk se show. Op daardie Sondagaand in April 2015 was ek nie juis ’n groot fan óf kenner van stand-up-komedie nie. Ek het gehou van Eddie Izzard en het al ’n keer een van sy shows op VHS gekyk (vir millennials: Dit was ’n formaat waarin mens flieks kon kyk op ’n TV vóór DVD’s, wat ook reeds aan die uitsterf is noudat ons almal so lekker kan Netflix en Showmax).
Wat plaaslike komediante betref, het ek al ’n show of twee van Nik Rabinowitz en Marc Lottering gekyk, maar nie veel meer nie. Ek het geweet Trevor Noah is die ou van die Cell C-advertensie wat nou begin naam maak in Amerika, maar ek het tot in daardie stadium nog nooit ’n show of DVD van hom gesien nie. My Afrikaanse blootstelling aan stand-up-komedie het begin en geëindig by Casper de Vries – ek is ’n reuse-Casper-fan, al sedert my studentejare.
’n Minuut nadat Schalk begin het met sy vertoning, het ek begin verstik van die lag – ek wou amper op ’n kol hoor of iemand naby my die Heimlich-maneuver kon uitvoer. Langs my het vreemde snikgeluide ook uit Deon Maas en Danie Marais se monde ontsnap. Ek dink ek het laas so hardop geskater toe ek een aand alleen na die eerste The Hangover-fliek gaan kyk het. Of dalk die keer in Artscape toe Casper de Vries tydens sy Broeders Ancestors in ’n absurde oomblik een van die Oostenrykse gruwelpa Josef Fritzl se arme kinders in die kelder nageboots het.
Ek het onmiddellik besef dat Schalk ’n rare talent is en dat sy komedie-aanslag vars en nuut was. Hy het baie stories vertel van sy skooldae, soos toe die rugbykinders (op skool praat hulle mos van “RAPPIE”) hom ’n moffie genoem het omdat hy in die skaakspan was. Sy grappie oor hoe ’n lugwaardin waarskynlik sou praat tydens seks – in daardie selfde afgemete, robotagtige stem waarmee die veiligheidsinstruksies gedoen word – was vir my histeries snaaks. En sy storie oor hoe dit was om in die skoolkoor te sing – veral wanneer die tipiese Afrika-liedjie aan die beurt kom – was vol vlymskerp sosiale kommentaar oor stereotipes in ons samelewing.
Hy het in die vertoning vertel hy studeer finalejaar drama by UCT en het ook die draak gesteek met die fakulteit, veral wanneer dit by interpretive dance kom. Hy het met die hulp van ’n Adele-liedjie gewys hoe jy eintlik van enige handeling ’n interpretive dance kan maak – selfs iets so alledaags soos koffie maak.
Maar die heel snaaksste – en in daardie stadium wildste – grap wat ek in ’n lang tyd gehoor het, was toe Schalk lostrek en die volgende oor Steve Hofmeyr kwytraak: “Steve Hofmeyr is nie Afrikaans nie … hy is super-Afrikaans … Steve Hofmeyr is só fokken Afrikaans, hy kom melktert.” Die gehoor het eers kollektief na hul asem gesnak, en toe uitgebars van die lag.
Dit het my getref hoe vars en energiek sy stand-up-komedie was – en dat hy sy materiaal vreesloos gelewer het.
Schalk se vertoning daardie Sondagaand by die ATKV-tent langs die Neelsie-teater het my heeltemal verras en was loshande een van my feeshoogtepunte. ’n Mens kan maklik – veral as jy ’n onbeskaamde feesbees soos ek is – soms in ’n groef beland en jaar na jaar dieselfde tipe vertonings by kunstefeeste sien. Maar hier was iets heeltemal nuut en feesgangers was gou aan die praat oor hierdie jong, talentvolle komediant.
Die Kanna-paneel het ook so gevoel en ek was glad nie verbaas nie toe Schalk ’n nominasie ontvang vir die gesogte Slurpie-Kanna vir die Beste Opkomende Kunstenaar by die KKNK.
Gewoonlik is die nominasies in hierdie kategorie binne die eksklusiewe domein van ernstige jong regisseurs, akteurs of klassieke musici. Dit was die eerste keer dat ’n jong stand-up-komediant hiervoor genomineer was.
Maar ek het ’n gut feel gehad dat Schalk die Kanna sal wen, veral omdat ek kon sien hoe die Kanna-paneel sy vertoning geniet het. Op 10 Mei 2015 is Schalk toe by die Diamant Estate buite die Paarl met dié Kanna bekroon.
“Schalk laat my verstaan hoe ’n hele nuwe generasie Afrikaanssprekendes dink. Hy’s nie bang om die heilige koeie skrik te maak en te melk nie,” het Deon Maas later gesê.
***
In April daardie jaar, 2015, kort ná die KKNK, moes ek ’n bachelor’s-partytjie vir ’n goeie vriend reël. Dit was die tweede keer wat ek een moes reël, en die vorige keer was ek nie eens die best man nie …
Ek het lank hieroor gewik en geweeg. Ek het die Duitse klub by Roodehek in die Tuine bespreek, omdat daar ’n ouskool-kegelbaan is en my vriend baie daarvan hou. Maar ek wou darem nie net ’n venue voorsien het nie … daar moes darem ’n bietjie vermaak ook wees.
In my universiteitsdae by die destydse UPE (deesdae NMU) het ek dit baie geniet om shows te reël. Ek het ’n Afrikaanse vereniging, Kapi’Taal (ek het destyds gedink dit is baie oulike woordspel), gestig en begin om shows te reël vir kunstenaars soos Koos Kombuis, Gert Vlok Nel, Anton Goosen en David Kramer.
’n Vinnige vrywaring: “Afrikaanse vereniging” klink dalk soos ’n voorloper vir Afriforum se jeugvleuel of iets … dit was glad nie die geval nie. Kapi’Taal was ’n frontorganisasie om binne die universiteitstrukture lekker konserte op kampus te reël.
Toe ek dus, byna vyftien jaar later, vermaak by ’n bachelor’s moes reël, wou ek weer ’n slag my impresario-skoentjies aantrek. My vriend is ’n groot aanhanger van die mondfluitjiespeler Lonesome Dave Ferguson en ek het vir Dave genader om by die partytjie te kom optree. Toe die kommunikasie tussen my en Dave egter begin sloer het, het ek besluit om ook vir Schalk Bezuidenhout te nader. Nie een van die gaste by die bachelor’s het hom sien optree by die KKNK nie, en ek het gedink dit sal dalk meer pret wees as ’n lewensmoeë ontkleedanseres van Table View of Oekraïne.
Sy fooi was aanvanklik ’n bietjie styf vir twintig ouens – of dalk spesifiek vir die joernaliste onder ons – wat ’n bachelor’s by ’n kegelbaan gaan bywoon. Maar ek en Schalk kon gelukkig vinnig oor Facebook Messenger ’n fooi onderhandel wat vir ons albei gewerk het.
Hy het daardie middag by die Duitse klub in sy Toyota Auris opgedaag en ons het die eerste keer in persoon ontmoet. Behalwe dat hy steeds baie soos ’n Boere-Borat gelyk het, het hy my ook laat dink aan die portier in die Wes Anderson-fliek The Grand Budapest Hotel.
Schalk het vriendelik gegroet, maar was duidelik op sy senuwees oor hierdie effens aweregse optrede in ’n klein venue voor skaars twintig mense. Hy het gevra of hy voor Dave Ferguson kon optree, want stand-up werk beter vóór musiek.
Die vertoning was ’n groot sukses en hy het baie van dieselfde Afrikaanse materiaal gedoen as by die KKNK. Ná die tyd het ek vir hom ’n Jägerschnitzel bestel en voor sy vertrek het ons in die parkeerterrein gestaan en gesels. Hy het half versigtig gevra of ek dalk met hom wil saamwerk vorentoe, want hy het gehou van my humorsin en dat my admin nogal together is. (In daardie stadium wou ek hom nie teleurstel met die bekentenis dat ek maar ’n daaglikse stryd met admin voer nie …)
Ek het dadelik besef dat dit beslis pret kan wees, veral omdat dit nie net admin sal behels nie, maar ook dat ek as ’n tipe klankbord vir ’n jong en talentvolle komediant gaan dien en dalk ook vorentoe saam met hom aan materiaal kan werk. Ek het toe reeds sewe jaar by die reistydskrif Weg gewerk en het gevoel dat ek op vyf-en-dertig by ’n tipe kruispad is en moet begin kyk na nuwe geleenthede, al is dit net op ’n vryskutbasis.
Maar ek moes eers in Spanje gaan stap vir veertig dae. Ek het iewers in die lug met die in-flight wi-fi tussen Doha en Parys op pad na die Camino nog vir Schalk ’n boodskap op Facebook gestuur. Dit het intussen bekend geraak dat hy weke lank in Trevor Noah se voorprogram gaan optree by die Teatro in Montecasino.
Op 25 Junie, meer as ses weke later, het ek vir hom nog ’n boodskap gestuur: “Jis Schalk, raait, ek is terug van die Camino in Spanje, dit was moerse awesome, ek het donners ver gestap en my kop is oop en vol idees. Wow, dit lyk of dinge absoluut befok gaan met jou daar in Jozi. En moerse geluk met die Kanna-toekenning, dit is welverdiend en ek is baie bly vir jou. Baie sterkte met vanaand se show, ek glo dit gaan ’n hit wees. Ek wens ek kon daar wees vanaand, maar hierdie is my eerste week terug by die werk en ek kon nie so gou na my vakansie afkry nie. Wanneer is jy weer terug in die Kaap?”
Dit was die begin van ’n opwindende nuwe avontuur …