Читать книгу Truitjie roer my nie - Schalk Bezuidenhout - Страница 5
Die begin
ОглавлениеEk haat die stereotipe dat komediante die funny guy in school was. Ongelukkig is dit in my geval waar. Ek was die clown in die klas. Ek sê altyd die humorgeen in my is ’n kombinasie van my ma en my pa. My pa is so skerp soos ’n lem, maar baie deadpan. My ma is weer baie animated, maar haar grappe is nie altyd so goed nie. Ek is waar hulle comedy powers ontmoet. Oftewel, ek dink graag so.
Ek is nog altyd mal oor Jim Carrey. Ek wil amper sê dat hy my gunstelingakteur van alle tye is. By die huis het ek altyd Jim Carrey se bekende karakter, Ace Ventura, nagemaak. Dan het my ma, wanneer ons by mense kuier of mense by ons, my altyd forseer om dit te doen. “Doen Ace Ventura vir die tannie! Ag toe man, Schalkie, jy doen dit so oulik!” Ek sou altyd protesteer, maar altyd verloor. As ek weer sien, staan ek voor ’n vreemde tannie en trek gesigte wat lyk soos ’n demoon wat uit die hel uit ontsnap en maak asof ek uit ’n renoster se hol uit kruip (dit gebeur in een van die Ace Ventura movies, net ingeval jy nou wonder waarvan ek praat). Die belangrikste vereiste vir ’n Ace Ventura impersonation is dat die gehoorlid al ’n Ace Ventura-fliek moes gesien het. Meeste van die tannies vir wie ek Ace Ventura nagemaak het, het nog nooit eers van Jim Carrey gehoor nie. Hulle het altyd vriendelik gesmile en stilletjies gedink: Arme Greta, haar kind is fokken mal.
Ek was (jy kan seker raai) ’n verfynde klein seuntjie. Ek is baie gespot en het baie kere ná skool by die huis aangekom en by my pa gehuil: “Die kinders by die skool noem my ’n moffie.” My pa se advies het nie veel gehelp nie. “Die volgende ou wat jou ’n moffie noem, slaan jy so hard as wat jy kan met jou vuis op die neus.” Thanks, Pa. Dan is ék die een wat uit Laerskool Kruinsig geskors word. My gesin is middelklas. Hulle het nie die lapa of eers die onder-dertiens se derde rugbyspanuniform geborg nie. Ek was nou nie juis ’n valuable asset vir die skool nie.
Ek sal nie sê my humorsin is gebore uit survival nie, maar een ding is seker: Boelies is gewoonlik nie baie snaaks nie. So as die snaakse outjie kom jy gewoonlik vinnig in hulle goeie boekies. Jy is die nar wat met die klap van ’n vinger sal perform en hulle sal entertain soos een of ander Middeleeuse hofnar wat vir die koning optree. As hy weier, word sy kop afgekap. Die boelies sou nou nie my kop afkap nie, maar sonder hulle goedkeuring was my sosiale status dood. As gevolg van jou snaakse maniertjies hou die meisies ook baie van jou. Dan is die boelies (met ander woorde die rugbyouens) baie nice, want as hulle lelik is met jou, hou jou mooi vriendinnetjies nie so baie van hulle nie. Niemand het my ooit as ’n bedreiging in die meisie-afdeling gesien nie. Ek was mos die drama-outjie en die redenaar en dié is mos almal moffies.
In die hoërskool het daar ’n wonderlike ding gebeur. Daar was ’n outjie (wat nou in Binnelanders is), Germandt Geldenhuys, wat ’n maandelikse nuusbulletin gedoen het tydens saalopening. Hy het dit 94.7 genoem en voor die bulletin het hy die Highveld Stereo-deuntjie gesing. Hy sou onderwysers, die cool kinders, kinders wat gedink het hulle is cool, die nuutste couples, almal uithaal. Ek was in graad 9 (standerd 7 vir die ouer lesers) toe Germandt in matriek was. Die kinders was MAL oor 94.7 en Germandt wou nie dat dit ’n natuurlike dood sterf wanneer hy die skool verlaat nie. Hy het my eendag ’n lift in sy vanilla Volla gegee en 94.7 aan my oorhandig. Dit was vir my ’n massiewe eer en ek het die verantwoordelikheid met trots aanvaar.
Met 94.7 het ek respek ervaar soos nog nooit vantevore nie. Skielik het ek ’n soort mag gehad. ’n Soort mag wat niemand anders gehad het nie. Fok rugby speel – ek kon die rugbyspelers embarrass! Voor die hele skool! Ek kon die hotste meisie in die skool verneder. Kinders het links en regs na my toe gekom, die nuutste skindernuus in my oor gefluister en my gesmeek om dit in die volgende 94.7 te gebruik. Die onderwysers was nie altyd so mal oor my nie. My pa was die adjunkhoof en onderwysers het dikwels in sy kantoor ingestorm en gekla oor my “onvanpaste” aanmerkings op die aantreeblad. My pa het sy skouers opgetrek en gesê: “Dit het niks met my te doen nie.”
Ek onthou ’n spesifieke oggend wat ek op die verhoog gestap het om ’n 94.7 te doen. As die kinders my sien opstap, het hulle al geweet wat kom. Die skool, al eenduisend-tweehonderd van hulle, cheer nog voor ek my mond oopgemaak het. Net voor ek my eerste skoot afvuur, hoor ek hoe een van die Lewensoriënteringonderwysers sê: “Iemand moet hierdie kind stop.”
Nou was ek ’n rockstar. Niks meer van hierdie moffie-moffie-kak nie.
Net ’n vinnige iets oor die woord “moffie”. Ek is die verste ding van ’n homophobe. Van my beste vriende is gay! (Grappie. Dis mos wat mense sê om enige soort haatspraak te justify. Maar net vir die rekord, van my beste vriende ís gay.) Om iemand ’n moffie te noem het vir my niks te doen met gay-wees nie. Ek bedoel, op laerskool het ons nie eers werklik verstaan wat gay is nie. Daar was een outjie wat twee mammas gehad het, maar ons het gedink dit is awesome. Deur vir ’n outjie te sê hy is ’n moffie, sê jy dat hy minder van ’n man/seun is as jy, met ander woorde minderwaardig. Daarom sê ek dat dit niks te doen het met homoseksualiteit nie. ’n Gay man is nie outomaties minder van ’n man nie. Om ’n moffie genoem te word maak seer, maak nie saak wie jy is nie. Dis ’n boelie se manier van sê: Jy kan niks aan my terugdoen nie al wil jy, want jy is ’n moffie. Ironies genoeg, baie van die boelies wat my op skool ’n moffie genoem het, is nou bouncers by gay clubs.
Ek het ’n paar jokes in daai nuusbulletins gedoen waarop ek nou nog trots is. Ook ’n paar waaroor ek spyt is. Ek sal jou laat besluit waaroor ek trots en waaroor ek spyt is.
Daar was ’n outjie, Riaan van Staden, wat baie kort was. In matriek het ek gesê dat ek mal is oor Riaan se diverse style, “want Riaan koop sy klere by Build-A-Bear; so een dag is hy ’n polisieman, dan ’n dokter, dan ’n brandweerman”.
Dan was daar ’n meisie, Johané Noble, wat gedink het sy is baie hotter as wat sy was. Sy het gedink elke ou probeer haar vry. Meanwhile wou hulle net haar huiswerk afskryf. In een van my 94.7-stories het ek gesê: “Hier is ’n storie oor een van die hotste meisies in die skool … SIT JOHANÉ! DIS NIE JY NIE!” Johané was in trane en haar ma het haar voor die eerste periode kom haal.
Ek het ook eenmaal gespot met ’n wiskundemeneer wat altyd slangvelskoene gedra het. Die joke was … wag, ek kan nie sy regte naam gebruik nie. Aangesien hy ’n wiskundemeneer was, kom ons noem hom Meneer X. Die joke was: “Hulle sê Meneer X raak so kwaad hy kan slange vang. Wel, Meneer X vang nie net slange nie. Hy vang hulle én dan maak hy cool skoene uit hulle uit!” Almal het hulle gat afgelag. Meneer X het ’n week later selfmoord gepleeg. Dit was obviously nie as gevolg van my onskuldige grappie nie, maar die kinders het beslis my siel uitgetrek daaroor: “Hey, Schalk, hoe voel dit om te weet dat jy Meneer X laat selfmoord pleeg het?” Ek het dit nooit ernstig opgeneem nie, maar ’n deel van my het altyd gewonder: Wat as Meneer X op die edge was en my joke het hom oorgestoot?
Interessant genoeg wou ek nooit ’n komediant word nie. Voor ons daarop ingaan, wil ek net gou fokus op die spelling van “interessant”. Vir watter juffrou ook al hierdie trick vir ons geleer het, is ek ewig dankbaar. Sy het ons geleer as ’n mens “interessant” spel, moet ’n mens altyd dink aan een rok, twee skoene – met ander woorde een r, twee s’e. Ek sal dit nooit vergeet nie.
Anyway, soos ek sê, ek wou nooit ’n komediant word nie. Drama was my passie sedert ouderdom agt. Ek het dramaklasse gedoen dat dit kak. My ma het my soms sesuur die oggend by tannie Tammy se huis afgelaai (die dramaklasse was in haar garage). In die winter was dit nog pikdonker wanneer my ma my daar aflaai en tannie Tammy se metaal-garagedeure het nou nie juis die hitte binnegehou nie. Van daar af het ek skool toe gestap. Hoewel ek ’n natuurlike talent vir komedie gehad het, wou ek altyd hê dat mense my ernstig moet opneem as ’n ware akteur. Ek het gedink iemand soos Jim Carrey is goed en als, maar dat niemand hom ernstig opneem nie. Ek besef nou dat dit ’n baie naïewe manier van dink was. Jim Carrey het hom later in sy loopbaan as ernstige akteur bewys in films soos The Truman Show, wat ek eers baie later in my lewe gesien het. Een van my gunsteling-Jim Carrey-films, waarin ek dink hy absoluut briljant is, is I Love You Phillip Morris. Baie mense wat ek van hierdie film vertel, het nog nooit eers daarvan gehoor nie. As jy een van daardie mense is, doen jouself ’n guns en kyk dit!
***
IETS WAT NIEMAND WEET NIE: Ek het direk ná matriek stand-up probeer. Net vir interessantheid. Een rok, twee skoene. Dit was by ’n plekkie in Melville met die naam Wish, deesdae bekend as Poppy’s, nou nog ’n bekende Maandagaand-stand-up venue vir comedians om nuwe materiaal te gaan uitprobeer.
Dit het nie goed gegaan nie. Ek het my skoolklere aangehad, want ek het vir een of ander rede gedink dit sal oulik wees. Ek het gepraat oor goed waarvan mense lankal vergeet het, soos wiskunde in die matriekeksamen. Ek het die helfte van my jokes vergeet. Mense het naderhand uit simpatie begin klap. Stand-up in die buitewêreld was baie anders as 94.7. Ek het daar en dan besluit dat stand-up comedy nie vir my was nie.
Met die idee van ’n ernstige akteur wees, is ek toe na die Universiteit van Kaapstad. Tot my teleurstelling het ek nie vir die Theatre & Performance-kursus ingekom nie. Die kursus neem net dertig studente per jaar. Ek kon dit nie glo nie! Ek was dan Meneer Drama in Kempton Park?! Ek was die outjie vir wie mense gesê het: “Moenie ons eendag vergeet wanneer jy ’n Oscar wen nie!” Ek het later besef dat elke persoon wat nie vir Theatre & Performance ingekom het nie, daai outjie of meisie in hulle dorp was.
In retrospect was my oudisie ook baie kak. Jy moes twee monoloë doen: ’n drama en ’n komedie. My dramastuk was ’n pa wat praat met sy dogtertjie wat besig is om te sterf aan kanker – iets wat nie verder buite my verwysingsraamwerk kon gewees het nie. My komediestuk was ’n dronk ou wat probeer pee en dan met sy penis begin praat – net ’n kak stuk.
Ek het vir my ouers gesê ek stel nie belang in enige ander universiteit nie. Ek het ’n paar mense in die bedryf gevra watter universiteit die beste is om drama by te swot, en almal het gesê UCT. Ek sou ’n jaar se algemene BA doen met drama as hoofvak, weer aansoek doen vir die kursus, en as ek dan weer nie inkom nie, net aangaan met BA Drama, wat frustrerend was. Eerstens was daar net een praktiese klas per week. In hierdie klas moes ons een van die vier elemente wees: aarde, vuur, wind of water. Ek gaan jou, die leser, net gou ’n oomblik gee om jou oë toe te maak en dit te imagine …
Kak, nè? Dink net hoe ek gevoel het! Ek moes dit actually doen!
Die res was teoreties. Om dit nog erger te maak, het jy al hierdie ekstra vakke gehad wat fokkol te doen het met dit wat jy eendag wil doen, soos sosiologie en Engels. Daar was ’n wit ou in my sosiologieklas wat ’n tradisioneel swart naam gehad het en hy het gedink dit maak hom die een of ander wit Nelson Mandela. Hy het altyd pretensieuse kak kwytgeraak wat ek nie eers kan onthou nie. Ek het dit duidelik uitgeblok.
In daardie jaar se BA swot het ek stand-up comedy herontdek. Of moet ek eerder sê “ontdek”? (Dis nie asof my eerste poging tot comedy geklassifiseer kan word as stand-up nie.) In 2011 het ek stand-up comedy ontdek asof ek dit nooit vantevore geken het nie. Ek moes op een of ander manier op die verhoog kom. Aangesien ’n mens nie net by enige teatergroep se toneelstuk kan instap nie, moes ek ’n ander manier vind. Eendag sit ek in ’n kakboring teorieklas en ’n derdejaar met ’n groot afro stap in. Richard September was sy naam. Baie mense sal hom nou ken as ’n bekende akteur by kunstefeeste. Richard het ons vertel van ’n show wat deur ’n ander derdejaarstudent, Dean Kriel, saamgestel word. Dit was komedie en mense kon kom oudisie met wat ook al hulle wou.
Die Theatre & Performance-studente het dadelik hulle oë gerol. Hulle was veels te besig om ekstras te wees in daardie jaar se dramaskool-weergawe van Romeo and Juliet. Ek was in! Enigiets om my te laat vergeet van die rivierstroom wat ek elke Donderdag moes namaak. Ek het gaan oudisie met vyf minute se stand-up. Dit was steeds nie great nie. Ek onthou ’n kak joke oor Tafelberg en hippies. Dean het my gehelp om my eerste vyf minute te skryf. Ek het dit self geskryf, Dean het my net leiding gegee. Maar die oomblik toe my brein geclick het hoe om stand-up te skryf, het dit geclick. Nou was ek ’n comedian. Dean het daai tyd elke Dinsdag by Purple Turtle in Langstraat se comedy nights gewerk vir ’n ekstra sakgeldjie. Hy het vir Mum-z, die comedian wat die gig organise, gevra of ek ’n spot kan kry. Ek tel daai aand as my eerste gig. Dit het baie goed gegaan.
Uiteindelik het ek ’n derdejaar- Theatre & Performance-student gevind na wie ek baie opgekyk het en hy het my gehelp om vir my tweede oudisie beter stukke te kies. Met my tweede probeerslag het ek ingekom. Ek glo definitief dat alles vir ’n rede gebeur. Om te dink … Die feit dat ek nie vir Theatre & Performance ingekom het nie, was een van die grootste teleurstellings van my lewe, maar as ek die eerste keer ingekom het, sou ek heel waarskynlik nooit stand-up ontdek het nie.
Vir die volgende vier jaar het ek my intensiewe acting-kursus en my stand-up comedy-loopbaan gejuggle. Dit was moeilik, maar die moeite werd.
Erns sê: Ek het Schalk se ma gevra vir ’n paar items of dokumente uit sy jeug, wat dalk toe al iets van sy komedietalent gewys het. Sy het my ’n geel lêer in die hand gestop met interessante items:
’n Graad 7-taak van Schalk toe hy in Laerskool Kruinsig was en iets moes skryf oor homself, sy pa en sy ma:
Ek is al ’n groot seun en ’n komediant van formaat! Ek het nie ’n meisie nie maar wel baie grappies. Ek kan ’n klas van twee-en-dertig kinders laat lag en vir vier-en-twintig uur aanmekaar wakker bly. Ek kyk (nes my pa) tien minute van elke kanaal op DStv elke dag. Ek lees die Skottel en die Heat. Ek wens dat dag baie langer as nag was en dat ek so slim soos my pa was. Ek benodig my vriende, kos en baie energie!
Pappa is nog bloedjonk en die vriendelikste pa ooit! (Al is hy ’n onnie.) Hy het elke geskiedenisboek in Suid-Afrika en ’n lang humeur. Hy kan by elke spoedlokval verbyglip en nog steeds laat wees vir skool. Hy kyk elke dag tien minute van elke kanaal op DStv. Hy lees net die pryse van produkte in die winkels. Hy wens dat hy kon maerder wees en dat ek so slim soos hy kan wees. Hy benodig malvalekkers, DStv en sy dieetmelkskommels!
Mamma is nog jonger as Pappa en het elke maand ’n ander haarkleur! Sy het baie geheime en ’n goeie humorsin. Sy kan my én my pa roep deur net een naam te sê. Sy kyk nuus, nuus en nuus. Sy lees enigiets waarop sy haar hande kan lê. Sy wens die nuus op SABC2 het vier-en-twintig uur ’n dag gewys. Sy benodig geheime wat sy van my kan weerhou, ’n flukse man en ’n soete seun!
Erns sê: Dit is vir my opvallend dat Schalk reeds hier ’n duidelike talent vir die skryf van komedie toon – veral met hoe elke paragraaf gestruktureer is en die herhaling van sekere temas. Dit is ’n tipe bloudruk vir wat later sou volg – of dalk overthink ek net ’n skoolopstel … Hy skep vandag, amper vyftien jaar later, steeds gereeld materiaal uit sy ouerhuis of grootworddorp, Kempton Park.
’n Gelamineerde drukstuk van East Rand Mall met die Groot Vyf (en ’n seekoei) met Schalk se geboortedatum – 22 April 1992 – en ’n uitleg van sy drie doopname:
Pieter:
Van die Griekse naam “Peter”, betekenis “rots, fondasie”. ’n Liefhebber van geregtigheid. Hy is baie spesiaal. Hy het ’n kragtige sin vir regverdigheid. Kan altyd feite van fiksie onderskei. Maak goed gebruik van sy tyd. Maak ander baie gelukkig. Aanvaar niks behalwe die beste nie. Die groep is bly oor sy teenwoordigheid. Hy is lief vir oorvloed. (Erns sê: Ja, ek dink Schalk kan oorvloed waardeer, maar hy lewe nie uitspattig nie – kyk maar net na al die hospice-winkel-truitjies en ander klere wat hy dra. Dis nie om cool te wees nie, hy hou net regtig daarvan, en hy kan nogal sy sente omdraai.)
Hendrik:
Van die Oud-Germaanse naam “Heimerich”, betekenis “meester van sy gebied”. In staat om ’n vergewensgesinde persoon te wees. Hy het ’n skitterende persoonlikheid. Iemand wat lief is vir diere. Is ’n vyand van ongeregtigheid. Kan gou sy besluite neem. Bekend vir sy aantreklikheid. Wil gedurig sy deel hê. Hy weet wat dit is om te verloor. Sy glimlag sal enige persoon bly maak. (Erns sê: Schalk wil baie graag elke persoon bly maak wat na sy stand-up-komedie kom kyk. Indien iemand in die voorste ry sit wat nie lag nie – of nie bly genoeg lyk nie – spits hy hom gewoonlik toe op daardie persoon. Dit raak vir hom ’n persoonlike uitdaging, en meestal kry hy dit reg om daardie persoon te laat lag. Maar soms ook nie. Dit pla hom dan ná die show, maar dan herinner ek hom daaraan dat daar baie dinge is waaroor ’n mens nie beheer het nie. En of jou grappies ’n spesifieke persoon gaan laat lag, is helaas buite ’n mens se beheer.)
Schalk:
Van die Germaanse naam “Godschalk”, betekenis “dienaar van God”. Hy is vreesloos in gevaar. Hy kom altyd eerste. Besef dat almal liefde nodig het. Al die kinders bewonder hom. Hy strewe na sukses. Sy eerlikheid is prysenswaardig. Hy hou van rustigheid. Sal sy laaste vir jou gee. Hy is tuis op enige plek. (Erns sê: Uhm, nee … Schalk is nooit tuis op ’n strand of enige plek buite in die reën nie. Maar die meeste ander goed in hierdie paragraaf is in die kol. Hy is gelowig, hy kom gewoonlik eerste in alles wat hy doen, die kinders is mal oor hom, en hy is ’n baie eerlike mens. Wag … hy hou van rustigheid?! Hoegenaamd nie, Schalk doen nie rustig nie – hy is altyd aan die gang, sy gedagtes werk oortyd, hy is geweldig passievol en dalk selfs ’n bietjie verslaaf aan sy roeping as komediant en akteur. Wanneer hy wel rustig doen, kyk hy graag series op Netflix of hy wyk uit na ’n wildreservaat in Gauteng, waar hy soms op ’n stil weeksaand die enigste gas is …)
Kommentaar uit ’n sielkundige se verslag oor aanlegtoetse:
(Erns sê: Ek vermoed sy ma het dit per ongeluk in die geel lêer vergeet. Dit sal onsportief wees om enige van sy punte te verklap, maar hy was sterk aanwesig in die “Superieur”-kategorie …)
“Demonstreer goeie konsentrasie en deursetting. Schalk presteer die beste in die sub-toets ‘Patroonvoltooiing’ wat dui op ’n besonder goeie visuele waarneming, konkrete redenering met behulp van figure en konsentrasievermoë.
“Hy presteer die swakste in die sub-toets ‘Ontbrekende Dele’, wat dui op ’n ondergemiddelde vermoë om tussen essensiële en nie-essensiële inligting te onderskei.”
***
Uittreksels en notas uit Schalk se 94.7-bulletins in Hoërskool Jeugland:
Hallo julle. In vandag se 94.7 is daar ietsie vir almal. As jy van nuus hou, dis hier. As jy van lag jou, ek gaan jou kry. As jy van mooi mense hou, hier’s ek!
In couple-nuus: Meisies wat lei [sic] aan anorexia het ’n nuwe metode ontdek en dis om Wesley Barnard se status updates op Facebook te lees, want as dit jou nie laat opgooi nie … Party couples sê “ek’s lief vir jou” deur vir mekaar goed te koop of dit fisies te sê; Wesley Barnard en Francis Collatz sê dit vir mekaar deur hul status updates op Facebook. Tussen hulle twee se status updates sê hulle meer “bokkie” as ’n driejarige in die Wildtuin!
In couple-nuus: Ryno van der Bank en Christene van Aswegen het amptelik verklaar hulle is saam. Ryno sê hy gaan sy bes probeer om haar te ondersteun in als wat sy doen, spesifiek die ballet. En Ryno weet as hy haar seermaak sal Christene se pa ’n balletdans met hom doen naamlik The Nutcracker!
Almal mooi volgens temas aangetrek. Net jammer die onderwysers het nie ook opgedress nie. As hulle moes, wie sou die beste by elke tema pas?
Boeremusiek-tema: Juffrou Brümmer. Haar Afrikaans laat Boere soos souties lyk en net ’n Boervrou kan sulke klein blokkies fudge maak en R1,80 daarvoor charge.
Reggae-tema: Juffrou van Dorp. Weet nie hoekom nie. Gee kuns. Laid-back. Raak nooit kwaad en skree nooit. Peace.
Hip-hop-tema: Meneer Romijn. Die rede is … het jy al ’n rapper sonder ’n selfoon gesien? Nee!
Rock-tema: Juffrou Letsie Pretorius. Want wat’s meer rock ’n roll as skree, Coke en sigarette?
Gewoonlik op ’n dinee gaan als goed tot dit by die slow dance kom, dan sê iemand iets wat die hele aand spoil. Drie dinge om nie tydens ’n slow dance te sê nie:
1. Vir almal: “Ek wil hê die band moet hierdie liedjie op ons troue speel.”
2. Vir die seuns: “Is hierdie ’n boud of ’n rol?”
3. Vir die meisies: “Hey kyk, daar staan my pa!”
Schalk se eie verwerking van Jack Parow se “Cooler as ekke” (Rango was die skoolsnoepie se naam):
jy dink jy’s cooler as ekke
want ek dra net skinny jeans en jy dra kortbroeke
jy dink jy’s cooler as ekke
want jy’s heeltyd in die gym en ek lees goeie boeke
jy dink jy’s cooler as ek
want jy’t ’n plakkaat van Schalk Burger bo jou bed
jy dink jy’s cooler as ekke
want jy dink dis spiere maar dis eintlik net vet
jy luister Hofmeyr
ek luister Pink Floyd
ek kyk TV
jy spuit steroid
ek’s MK
jy’s kykNET
jy’s SABC1
ek’s M-Net
ek’s die ou met die classic swart Beetle
jy lees die Vrouekeur en die People
jy dra make-up
dit steek weg al jou puisies
jou naam is Tiger Woods
want jy cheat op al jou meisies
ek’s iets
jy’s niks’ie
ek’s realiteit
jy’s fiksie
my girls is ordentlik
jou girls is los
ek hang uit by rock shows
jy hang uit by die Dros
jy’s stadig soos die helpers daar by Rango
jy’t die IK van ’n halwe m-m-mango
jy dink net aan rugby cuz rugby flippen rocks
maar almal wens net vir een dag sonder jocks
Nog notas: In politieke nuus: Jacob Zuma, beter bekend as Jay-Z, is aangewys as die nuwe president van die ANC. Hy sê dat as hy president van Suid-Afrika word, sal sy eerste taak wees om Rango se pryse af te bring. Go Zuma!
Julle weet ons skool is baie betrokke by gemeenskapsprojekte. Ek’t een gestig. Ek vra dat julle almal R5 sal bring om by te dra tot die fonds. Dis die BPBC-fonds. Bigger Pants for Boksburg Children. Om die lewe vir ons almal makliker te maak.
Dié van julle wat nie Hoërskool Kempton se groentjiekonsert gaan kyk het nie: dit was nogal oulik. Maar hulle het ons nogal erg uitgehaal deur te sê: “By Jeugland stap jy in met ’n tas en uit met ’n pram.” Dis egter glad nie die geval by Hoërskool Kempton nie, waar jy instap met ’n tas en uitstap met ’n kleuterskool.
Dis al van my kant af. Ek’s Schalk Bezuidenhout vir 94.7. Geniet jou naweek, Jeugland. Oor en uit.
Erns sê: Ek hou van die skrywer James Hillman se “acorn theory”, wat rofweg daarop neerkom dat elke mens met ’n ingebore roeping die wêreld inkom en die potensiaal van meet af aanwesig is en hopelik gerealiseer word, net soos ’n klein akker reeds al die moontlikhede van ’n reuse-eikeboom besit. By baie mense en veral kunstenaars is hierdie potensiaal reeds vroeg sigbaar. Hillman skryf in sy boek The Soul’s Code hoe die beroemde Spaanse stiervegter Manolete (1917-1947) ’n tingerige, bang kind was wat van agter sy ma se rokpante geloer het vir die kinders wat hom gespot het. Hillman reken daardie rokpant was die eerste doek waarmee hy hom beskerm het teen dreigende gevaar – iets wat hy jare later in die stierarena met ’n rooi doek sou doen, ten aanskoue van duisende aanhangers. Behalwe dat Schalk nogal ’n bietjie soos ’n matador lyk – of dalk is dit net my herinnering aan hom in ’n advertensieveldtog vir Mochachos – dink ek hierdie 94.7-tekste was die eintlike plek waar sy komedietalent begin ontspring het. En net soos in sy stand-up nou is sommige grappe flou, maar nou is ek hier om dit uit te wys.
Dit is nou sowat tien jaar later en hy is weer besig met nuussatire, maar dié keer as nuusanker vir Die ware naarheid op kykNET. Nou het hy ’n veel groter gehoor as die skoolkinders en onderwysers wat op Jeugland se aantreeblad na hom geluister het …